Owerspel, Uitruil van Vroue, Kullery & Egskeiding | World Challenge

Owerspel, Uitruil van Vroue, Kullery & Egskeiding

David WilkersonSeptember 1, 1977

Daar is ‘n blitsoorlog in die media gemik op die vernietiging van die Christelike huisgesin. Satan is op die punt om alle huwelike te vernietig, om elke Christelike paartjie te laat opbreek en die Godgegewe konsep van “getrou tot die dood ons skei” te verwoes.

Televisie- en tydskrifskrywers het ‘n meedoënlose aanval op die outydse idee van “getrou wees aan mekaar” begin. Hulle stel voor dat elke huwelik ‘n “buite-egtelike verhouding” nodig het en dat die huwelik gesonder kan wees met ‘n bietjie kullery op die kant. Hulle wil ons laat glo dat almal ‘n bietjie kul, dat dit normaal is om verskeur te wees tussen twee minnaars. Owerspel, vroue uitruil en kullery is nou so algemeen, dat ons nie eens meer ‘n oog daarvoor verroer nie. Die druk om te kul word sterker onder Christene ook.

Hoe op aarde kan God die wyse oorsien waarop soveel Christene nou hulle maats verwerp met skeiding van tafel en bed en egskeiding? Christene by die duisende, insluitend ‘n klomp bedienaars, loop weg na egskeidingshowe en versaak hulle troubeloftes sodat hulle met iemand anders kan aangaan. Egskeiding is nou nie sondiger as om op die straat te spuug nie.

Diegene wat opgee, praat van onversoenbaar wees, dat die huwelik nie herstel kan word nie, dat alle liefde weg is, dat dit erger vir hulle en die kinders sal wees as hulle deurdruk. Hulle wil nie hulle persoonlikhede onderdruk nie. Dikwels is dit wel die geval. Op ‘n paar geleenthede is egskeiding onvermydelik. Maar, volgens my waarnemings, gaan nege uit die tien geskeide mense reeds uit met iemand anders kort na, en selfs tydens die egskeiding. Die egskeiding is ‘n manier om ‘n ou minnaar te verwerp vir ‘n nuwe een. En so dikwels is die tweede huwelik nie beter nie. Ek het al baie mense beraad wat bely het dat hulle tweede en derde huwelike selfs erger was as die eerste. Mense wat op pad is om te skei, behoort raad in te win en ander wat daardie roete geneem het ‘n paar vrae daaroor te vra. Slegs ‘n paar is regtig die tweede keer gelukkig. Gewoonlik, is dit om soos om van die braaipan na die vuur te spring. Egskeiding is ‘n doodloopstraat – en lewe met ‘n ander maat verskaf selde blywende blydskap en vrede. Wanneer twee geskeide mense met mekaar trou, is dit gewoonlik ‘n vereniging tussen twee verloorders. Hulle bring ‘n klomp onopgeloste probleme na hulle tweede huwelik.

Egskeiding en hertrou is nie die ware plan van God nie en slegs diegene wat onskuldige slagoffers is, vind ‘n mate van geluk in ‘n ander verbintenis. Daar is geleenthede waarop ‘n mens ‘n egskeiding nie kon vermy nie en dan hertrou binne die wil van God. Maar, selfs dan, moet beide maats ekstra hard werk en bid om hulle liefde en blydskap te handhaaf. Maar, daar is uitsonderings op die reël.

Wat ‘n verskriklike skande dat so baie Christene wat sê dat Christus kan genees en dat God gebed verhoor, Hom nie kan aanvaar of glo vir herstel van hulle huwelike nie. Ek is oortuig dat as twee mense regtig wil hê die huwelik moet werk, en hulle wil nie heimlik iemand anders hê nie, is die situasie selde hopeloos.

My hart breek om te sien hoeveel pragtige huisgesinne verbrokkel. Dit is skrikwekkend om te sien dat paartjies opbreek, selfs al lyk dit asof hulle so goed by mekaar pas. Ons beleef tans ‘n oorvloed van skeidings van bed en tafel en egskeidings onder Christenpare. En al die “kenners” ondersoek die probleem en probeer uitvind waarom een in elke twee huwelike nou in mislukking eindig.

Gewoonlik kul mans en vrouens mekaar omdat hulle nie meer met mekaar kommunikeer nie, of omdat uit uitmekaar gegroei het. Dit is nie altyd die geval vandag nie. Ek beraad ‘n aantal mans en vroue wat sê dat hulle regtig ernstig verlief is op hulle maats, dat hulle ook goed kommunikeer, dat hulle seksuele vervulling met mekaar geniet, maar vasgevang raak in ‘n geheime betrokkendheid op die kant. Hulle kan my geen rede gee waarom hulle hul na iemand anders wend nie, behalwe om te sê, “Dit het net gebeur. Ons was saamgegooi, ons het met mekaar begin deel, saam gewerk, en ons het mekaar net begin respekteer. Ek het die een wat ek getrou het lief, maar ek het so groot respek vir ....”

Daar is ‘n groot verskil tussen die “swinger” en die berouvolle owerspeler.

Die “swinger” het ‘n verhouding en steek dit weg. Hy spog daarmee, geniet elke oomblik van sy geheime aantrekking, en hy toon geen teken van skuldgevoelens of droefheid nie. Hy is gewillig om die risiko te neem om uitgevang te word. Hy speel ‘n Russiese roulette speletjie van begeerte – geheime ontmoetingsplekke, gedempte telefoonoproepe, “besigheidsreise,” gekodeerde notas en groete, en ‘n eindelose string leuens en misleiding. Hy gaan kerk toe en tree op asof hy heeltemal heilig en rein is – en hy skud alle veroordeling van die Heilige Gees af. Hy is oorgegee aan ‘n leuen, oortuig sy buite-egtelike verhouding is anders, en dat God sy behoefte verstaan om by iemand anders te wees. Die vrou wat kul, speel dieselfde speletjie, maar gewoonlik oorkompenseer sy vir haar skuldgevoelens deur ekstra vriendelik en liefdevol teenoor haar man te wees.

Dit is heeltemal ‘n ander ding vir ‘n man of vrou om as ‘n onbewuste, onwillige slagoffer in Satan se strik vasgevang te raak. Hierdie berouvolle man of vrou verag die kompromie, huil oor skuldgevoelens en bid heeltyd vir krag om te oorwin. Daar is ‘n gevoel van skande omdat die Heilige Gees bedroef word. Daar is ‘n vrees vir openbaarmaking, maar meer as dit, ‘n vrees om kinders en vriende seer te maak. Terwyl die kullende “swinger” dit wat hy doen regverdig, roep hierdie berouvolle owerspeler uit vanuit die dieptes van sy siel, “O God, verlos my van die strik van Satan. Vul my met U heiligheid. Reinig my. Maak my vry. Laat my nooit U heilige Naam oneer aandoen nie.”

‘n Man wat onlangs betrap is in ‘n gekompromitteerde situasie, het vir my gesê, “Ek wed jou amper elke man of vrou was al in die arms van ‘n ander persoon sedert hulle getroud is. Ek dink nie daar is iemand wat nie een of ander man of vrou in die geheim gesoen het nie.”

‘n Ander bekommerde man het vir my gesê, “Ek dink net nie daar is deesdae enige werklike gelukkige huwelike oor nie. Almal sukkel en dit is waarom so baie mense iemand anders soek om mee te praat. Hulle wil verstaan word. Die vrou wil hê iemand moet vir haar sê sy is steeds aantreklik, sy wil teerheid hê. Hy wil vrede en stilte hê en ‘n bietjie meer opwinding en romanse. Al hierdie mans en vroue wat rondgaan met soveel behoefte is tydbomme. Dit eindig op in ‘n verhouding.”

Ek glo Jesus vergewe berouvolle owerspelers. Hy laat niemand toe om klippe of beskuldigings rond te gooi teen iemand wat op heter daad met owerspel betrap is nie – as daardie persoon berouvol was en gewillig is om te “gaan en sondig nie meer nie.”

Ek het ‘n evangelis ontmoet op ‘n vliegtuigrit van Toronto na Dallas. Hierdie welbekende broer het oorkant my gesit en een skemerkelkie na ‘n ander gedrink. Ek het opgespring, langs hom gekniel en hom met ware Christelike liefde bestraf. Hy was geskok. Ek het belowe om nooit sy owerspel en drinkery openbaar te maak nie as hy die vrou en die bottel sou laat staan, huistoe gaan na sy vrou, en God om hulp vra. Hy het gehuil en my bedank vir my begrip en vergifnis.

Twee weke later, het hy sy vrou verlaat, weggeloop saam met sy jong sekretaresse, en voortgegaan met sy drinkende, owerspelige weë. Die man reis en preek steeds – en leef in sonde. Maar die ergste van alles, hy pronk met sy owerspel. Hy spog, “Ek doen hierdie soort ding sedert ek my bekeer het. Dit het voorheen gebeur. Dit is alles reg. Ek het hierdie groot fisiese behoeftes. God is met my – Hy verstaan.”

Nee! Nooit! God verstaan nie daardie soort godslastering nie. Ons moet elke afvallige broer en suster in Christus herstel, as hulle hulle bekeer en gewillig is om hulle weë te verander. Maar, ons moet nooit diegene wat pronk met hulle seksuele afwykings koester en vertroos nie.

Ek en al my bedienaarsvriende is nie verhewe bo versoeking tot ontrouheid nie. Selfs herders van ons grootste kerke, ons mees gerespekteerde evangeliste, die heiligste van God se dienaars, is almal in staat tot ‘n eskapade. Satan is vasbeslote om “die uitverkorenes van God” te mislei. En, ons moet oppas as ons dink ons staan, dat ons nie val nie. In ‘n oomblik van swakheid, kan enige Christen oorgee aan die bekoring van iemand anders se sjarme. Maar dit hoef nie so te wees nie. Christus het die krag om ons getrou te hou. As ons dit wil hê, is daar genoeg krag en moed vir ons beskikbaar om alle versoekings te weerstaan. Die belangrikste van alles, ons moet die blote gedagte aan owerspel en hoerery haat. Ons moet dit beskou as ‘n kanker wat alles vernietig wat heilig is.

Ek het soveel regverdige verontwaardiging vir die duiwel se poging om Christelike huwelike te vernietig, dat ek my in die probleem wil begewe met beide arms swaaiend. Laat ons ophou met al die gelieg en speletjies speel en by die kern van die probleem uitkom. As jy probleme in jou huwelike het, beter jy goed luister. Wat ek te sê het, het slegs betrekking op ware volgelinge van Jesus.

Ek het God eendag in gebed gevra waarom so baie bedienaars – waarom so baie skynbaar goddelike mense, insluitend evangeliste, herders, sleutelgemeentelede – hulle vroue verlaat en verlief raak op iemand anders. Waarom skei hulle en leef hulle in owerspel? Waarom verloor menigte duisende Christene moed met hulle huwelike – skei en gee op?

Die antwoord? Selfbevrediging, eerder as om die heerlikheid en geregtigheid van die Vader te soek. Jesus het gesê,

“Hy wat uit homself spreek, soek sy eie eer; maar Hy wat die eer soek van dié Een wat Hom gestuur het, Hy is waaragtig en daar is geen ongeregtigheid in Hom nie” (Johannes 7:18).

Die opgeeërs soek nie slegs die eer van God nie! Hulle is nie verteer met ‘n begeerte om Hom alleen te behaag nie. Nee! Hulle verkies hulle eie eer – hulle eie bevrediging. Jesus het in wese gesê,

“Jy sou getrou bly aan jou huweliksbeloftes, daar sou geen begeerte wees om owerspel te pleeg en om te skei nie – daar sou geen ongeregtigheid in jou wees nie, as jy werklik My eer alleen gesoek het.”

Deesdae gaan alles oor my en myne! My tevredenheid! My groei en ontwikkeling! My behoefte vir vervulling! My eensaamheid! My frustrasie en leegheid! My verlange na iemand wat werklik verstaan. Dit is alles selfgesentreerd. Dit is alles gefokus op die behoeftes van die mens se eie self. Wat God dink, is nou sekondêr. Wat eer aan God bring, is nou onderwerp aan wat geluk vir die individu bring. Geen die tweede myl meer loop nie. Geen terugkeer na die eerste liefde ná berou en verandering meer nie. Geen strewe meer nie. Geen verwerping van self meer nie! Geen gevoel vir die ander persoon se behoeftes meer nie! Geen eenkant skuif van die selfsugtige behoeftes meer nie – dit is alles “Gee vir my wat ek nodig het om gelukkig te wees – maak nie saak wat dit kos nie.”

Ons het so trots en selfgesentreerd geword. Daardie hoogmoed is so sterk vandag, dat baie paartjies saam met mekaar bestaan – in ‘n lewende hel – net omdat hulle te trots is om te skei. En, as een van die maats wel wegloop, is die ander geen gewoonlik slegs in hulle eer gekrenk. Wanneer sy wegloop, is sy trots seergemaak omdat hy dink mense sal dink hy is ‘n mislukking. Wat ‘n skande! Weg met al hierdie stinkende trots. Weg met bekommerd wees oor wat ander mense sal sê! Ons behoort op ons knieë te val en God te vra om ons te vergewe omdat ons dit ooit oorweeg het om weg te stap van ons huwelike af.

Ja, mans kul. Hulle verlaat hulle vrouens. Sommige mans is homoseksuele en egskeiding mag die enigste uitweg wees. Vroue raak moeg en loop weg. Hulle val vir iemand anders en loop weg. Hulle trek in hulle eie woonstelle in en probeer om dit op hulle eie te maak. Maar die werklike tragedie is dat 95% van al hierdie dwaasheid gestop kan word! Die meeste egskeidings moes nooit gebeur het nie. Die meeste daarvan wat oorweeg word behoort gestop te word.

Hoe? Laat ons by jou begin, meneer. As jy steeds lief is vir daardie vrou en nie betrokke is in ‘n geheime verhouding nie; as jy gewillig is om te verander en die man te wees wat God wil hê jy moet wees; as jy wil hê jou huwelik moet bly bestaan; as jy al jou boesemsondes laat staan het – sonder jou dan af met die Here en maak reg met Hom! Jou probleem is nie werklik jou vrou nie; dit is jou swak verhouding met jou Saligmaker! En jy, Mevrou, ek glo nie God sal die verskoning aanvaar dat “Jy hom net nie meer liefhet nie.” Jy mag dalk jou eerste liefde iewers verloor het in al die pyn en seerkry. Maar God sê,

“Onthou dan hoe jy dit ontvang en gehoor het, en bewaar dit en bekeer jou” (Openbaring 3:3).

Julle tweede liefde vir mekaar kan groter as die eerste wees. Daar is ‘n eerste en ‘n tweede liefde, en die tweede is altyd beter. Niks is dood as ons ‘n kreatiewe God dien nie.

Kul jy! Is jy verlief op iemand anders? Indien nie, sonder jou af met God en herstel jou kommunikasielyne. Jou eerste liefde vir Jesus het verlore geraak en dit is waarom alles in jou lewe uit fokus is.

Jy hoet nie by ‘n berader te gaan sit en die verlede op te haal nie. Julle beide moet julleself verneder en afsonderlik voor God gaan en vra vir ‘n hernude liefde vir Jesus en ‘n nuwe gevoel van Sy heiligheid en geregtigheid. Jy herstel nie verhoudings bloot om daaroor te praat nie. Nee! Jy bid dit alles uit todat daar niks oor is behalwe ‘n wil om God te gehoorsaam nie. En, God het gesê,

“Want Ek haat egskeiding, sê die HERE... wees nie ontrou nie” (Maleági 2:16).

God haat dit – jy moet dit ook haat. En as jou huwelik werklik hopeloos is, nadat jy alles volbring het – staan dan stil en laat Hy al die skuiwe maak.

Neem enige twee pragtige mense, man en vrou. Plaas hulle reg voor die gemeente, omring deur wenende, biddende heiliges. Laat hulle saam met die ander sing, preek, bid en aanbid. Maar, as daardie twee hulle standaarde laat daal, as hulle oorgee aan genot, as hulle owerspelers word voor die oë van God, is sy ‘n prostituut en hy ‘n hoereerder. Al die gepraat in tale sal niks verander nie. En as hulle aanhou om met hulle sonde te spog, dit weg te steek en aangaan asof niemand dit ooit sal weet of sal uitvind nie, as hulle geen skande het nie – pasop! God sal hulle openbaar maak en ‘n skouspel van hulle maak. God sal hulle uiteindelik voor almal openbaar maak. As God se kinders maar net twee kragtige belotes sou opeis, sal owerspel en egskeiding vermy word:

“Aan Hom nou wat magtig is om julle van struikeling te bewaar en julle sonder gebrek voor sy heerlikheid te stel met gejuig” (Judas 24).

“Want geen ding sal by God onmoontlik wees nie” (Lukas 1:37).

Download PDF