Pyn, Lyding en Verwarring | World Challenge

Pyn, Lyding en Verwarring

David WilkersonMay 1, 1981

Die afgelope maande het ek ‘n sinkende gevoel binne-in my gehad, ‘n gevoel dat ons hele samelewing buite beheer spin. Daar is ‘n vreemde soort verwarring oral in die land.

Daar is ‘n knaende gevoel van binne dat niemand (nie ons President, of ons kongres, of ons howe) kan verander wat aan die gebeur is nie. Ten spyte van die optimisme van die President, lyk dit of nie een van ons iets kan doen om inflasie, werkloosheid of misdaad te verander nie.

Die egskeidingsyfer lyk of dit buite beheer spin. Nou skei selfs van ons bekendste bedienaars. Dit word ‘n nasionale plaag! Dit lyk of niemand immuun is nie. Dit vernietig die gevoel van sekuriteit, omdat dit lyk asof ons samelewing uitrafel en in duie stort.

Ons kinders gaan mal! Tien miljoen van hulle is slagoffers van gebroke huise. Hulle is kwaad en bitter en voel verwerp en daarom gaan hulle mal met partytjies, seks, dwelms en alkohol. Daar was onlangs tye dat ek gedink het dit is heeltemal hopeloos – dat ons reeds ons jongmense verloor het. 82% drink; 52% is op dwelms, dagga; promisku seks is oral. Die enigste hoop is dat God groter is as hulle probleme.

Jy kyk na die gemors of televisie, die onsedelikheid van ons nasies en jy wonder of dit te laat is! Het ons reeds alle sin van sedelikheid en ordentlikheid verloor?

Die ergste deel is dat die chaos en verwarring nou onder ons geledere is. ‘n Groot aantal baie goddelike mense ly. Siekte, pes, egskeiding, depressie: dit alles tref nou God se kinders. Mense wat die regte belydenis gehad het, wat geloof beoefen het en wat God baie liefhet kan nie verstaan waarom hulle en hulle families siek is nie. Kanker slaan toe! Werkloosheid tref! Die rekeninge hoop op! Baie raak op die ou end verward, voel hulpeloos en wonder wat hulle getref het. Sommige blameer hulleself vir gebrek aan geloof, of hulle sal lewe met skuldgevoelens en neem aan dat sonde die oorsaak is.

Ek het onlangs die hartseerste belewenis gehad. My dogter het ‘n groot kanker uit haar maag laat verwyder. My vrou was in ‘n psigiatriese inrigting geplaas vir behandeling. Dit alles het gebeur direk nadat ek ‘n belofte gemaak het om terug te gaan strate toe – onmiddellik na ‘n nuwe belofte vir ‘n lewe van heiligheid en geloof! Alles het so goed gegaan. My gesin was gesond; my vrou was aan my sy; God het nuwe waarheid aan my geopenbaar; en ek het ‘n kragtige las gehad vir verlore siele!

Toe was dit asof die bodem uitgeval het. Ek het hulpeloos gevoel! Dinge buite my beheer het gebeur en binne een week, was daar algehele verwarring en chaos in my lewe. In daardie verwarring, het God vir my ‘n boodskap gestuur – een wat my gedra en gewys het wat dit alles beteken. Laat my dit met jou deel.

Dit is die boodskap wat Christus vir sy dissipels gegee het net voor Hy gevange geneem is deur die priesters in die tuin.

“Toe sê Jesus vir hulle: Julle sal almal in hierdie nag aanstoot neem aan My, want daar is geskrywe: Ek sal die herder slaan, en die skape van die kudde sal verstrooi word...” (Matthéüs 26:31,32).

In die oorspronklike teks lees dit,

“Julle sal almal in hierdie nag verward wees oor My...”

Jesus se dissipels het nie ‘n woord van hierdie waarskuwing verstaan nie! Hulle het nie die vaagste benul gehad van wat op die punt was om te gebeur nie. Dit was die belangrikste boodskap wat hulle ooit sou kon ontvang en hulle het dit nie verstaan nie! Hierdie einste nag sou die eerste wees van ‘n drie-dae drama wat die belangrikste dae in die geskiedenis sou word. ‘n Wêreldveranderende gebeurtenis was aan die kom! God was op die punt om die wêreld van alle sonde te verlos deur Sy Seun Jesus. ‘n Fontein van vergifnis en reiniging was op die punt om oopgemaak te word en sou binnekort stroom na die hele mensdom. Die dissipels en die hele wêreld was op die rand van die heerlikste, mees vreugdevolle gebeurtenis ooit!

Jesus wat dit alles geweet het, het nie ‘n nag van gejuig, verwagting of lofsange en glorie voorspel nie. Waarom nie? Waarom kon hulle nie hierdie nag in blydskap deurbring op die aand van die oorwinning van die kerk van Jesus Christus nie? In plaas daarvan, het Jesus ‘n nag van chaos en verwarring vir elke dissipel voorspel. Hy het gesê, “Almal van julle – elkeen van julle – sal verward wees as gevolg van My – vanaand!”

Hierdie Christus-geleerde, wonderwerkende manne van geloof was op die punt om in ‘n uur van chaos gedompel te word! Al die geloof in die wêreld kon hulle nie red van hierdie nag van verwarring nie!

Hulle sou hulle sin van rigting verloor! Hulle hele leidingstelsel sal lyk of dit hulle faal! Hulle sou op die ou end verlore voel en rondhardloop asof hulle geen Herder het nie!

“Ek sal die herder slaan...”

Wat ‘n verskriklike oomblik! Die vorige nag, het hulle onder die sterre gesit op die Olyfberg; hulle het pragtige gesange gesing. Jesus was daar in hule midde en het die waarheid aan hulle geopenbaar. Hulle het die warmte en gloed van Sy teenwoordigheid gevoel. Skielik, in een nag, het dit gelyk of dit alles verby was! Die vyand het inbeweeg en, vir ‘n rukkie, het dit gelyk of hy in beheer was.

Veronderstel jy was daar die nag waarop alles buite beheer gespin het en ongekende verwarring veroorsaak is. Dit was ‘n pragtige, kalm, sterverligte nag in die Tuin van Getsémané. Die vaak dissipels was vertroos deur die geluid van voorbidding wat vanaf hulle Meester se lippe gekom het. (My pa se gebede het my ook so vertroos.)

Visualiseer Judas, een van hulle eie mense, wat daardie bende gelei het. Hulle het die Meester omsingel; hulle het geskreeu, “Indringer! Maak Hom dood! Vermoor die Mens! Weg met Hom! Kind van Satan!”

Hierdie dissipels het met afsku gekyk hoe die Fariseërs en priesters Hom weggesleep het soos ‘n hulpelose krimineel. Dit was ‘n onuitstaanbare gesig vir hulle om te aanskou! Hulle het gesien hoe Jesus dieselfde mense uit die tempel met die sweep geslaan het. Jesus het sonder om te skroom hulle adders, skynheiliges en kinders van die duiwel genoem! Hulle het geweet Jesus het eenkeer op ‘n ander geleentheid bonatuurlik voor hulle verdwyn. In hulle harte moes hulle uitgeroep het, “Roep ‘n leërskare engele af, Meester! Ontsnap weer ‘n keer! Moenie dat hierdie skynheiliges U rondsleep soos ‘n dief nie!”

Die dissipels was angsbevange! Dit het so vinnig gebeur! Hulle was nie geprogrammeer vir moeilikheid en swaarkry nie! Hulle het al Sy leringe oor wonderwerke, mag oor duiwels sowel as van bid en ontvang gememoriseer en beoefen! Hulle het hemelhoë geloof beleef toe duiwels uitgedryf is, toe wonderwerke gebeur het, toe menigtes gevoed was en toe alle behoeftes voorsien is deur geloof.

Maar hulle geloof was nooit getoets deur ‘n nag van chaos en verwarring nie. Hulle het geriefshalwe al Sy waarskuwings oor lyding en pyn uitgesluit. Hulle wou niks te doen hê met die waarskuwings oor die verdrukkinge van die heiliges – oor vervolging nie. Hulle het daarvan gehou toe hulle vertel is dat hulle die mag gehad het om die woord te verkondig – om in die hemel en op aarde los te maak en vas te bind! Maar hulle wou Hom nie die volgende hoor sê nie, “Verloën jouself. Verloor jou lewe. Verkoop en gee aan die armes. In hierdie wêreld sal jy vervolging hê – beproewing deur geloof – beproewing deur vuur. Verdra swaarkry.”

Petrus was die groot man van geloof in hulle midde. Hy was immers die enigste een onder hulle wat op water geloop het!

Hy was die dissipel wat nie geglo het in lyding of in kruise nie! Jesus het probeer om Sy dissipels vir ‘n tyd van lyding en pyn voor te berei, maar Petrus wou niks van daardie negatiewe denke weet nie.

“Van toe af het Jesus begin om sy dissipels te toon dat Hy...moes ly, en gedood...word...Toe neem Petrus Hom opsy en begin Hom bestraf en sê: Mag God dit verhoed, Here, dit sal U nooit oorkom nie!” (Matthéüs 16:21,22).

Verbeel jou hierdie dissipel Jesus bestraf en sê, “U hoef nie te ly nie! Meester, eis U eie beloftes op! Laat my ‘n woord van geloof spreek en U red van die pyn en lyding.”

Ek het gehoor hoe opregte mense van God vandag met dieselfde misleide geloof en ywer as Petrus voor gemeentes staan en hulle bestraf vir hulle gebrek aan geloof. Hulle skree hardop:

“Jy hoef nie te ly nie! As jy ly, is dit slegs omdat jy geen geloof het nie! Raak ontslae van jou negatiewe gedagtes en woorde, en gaan op jou pad gelukkig en voorspoedig, sonder pyn en lyding.”

Ek is oortuig dat as Christus in die gehoor gesit en hierdie soort prediking moes aanhoor, sou Hy opgestaan en dieselfde dinge uitgeroep het wat Hy vir Petrus gesê het: “Stop! Bly stil! Wat jy sê is vir My aanstootlik. Jy preek wat uit die mens is en nie uit God nie!” Petrus was ‘n opregte man van geloof en krag, maar Hy het nie die dieper waarhede van die Gees geken nie. Dit was ook Petrus wat gesê het, “

“Al sal almal ook aanstoot aan U neem, ek sal nooit aanstoot neem nie” (Matthéüs 26:33).

Luister na Petrus se teologie. “Nie ek nie, Here – geen pyn, geen lyding, geen verwarring vir my nie. My geloof sal my deur alles dra. Ek ken my geestelike regte. Ek glo God. Ek laat net nie lyding of pyn in my lewe toe nie.”

Maar wie se geloof was die eerste om te verkrummel toe die druk van verwarring gekom het daardie nag? Petrus s’n! So gaan dit met baie wat ek vandag ken. Hulle gaan rond en roem in hulle groot geloof en hoe hulle alle siekte en pyn oorwin het. Maar laat kanker toeslaan, laat verwarring en swaarkry tref en hulle sal in volslae ellende beland. Hulle raak verward met dit alles! Hulle het geen alternatief nie maar blameer dit op ‘n boesemsonde of ‘n gebrek aan geloof.

Gedurende hierdie nag sou selfs die Seun van God ‘n tyd van verwarring en chaos binnegaan! Dinge sou so pynlik en so verwarrend word, dat Hy op die ou end sou uitroep, “Vader, waar is U? Waarom het U My verlaat?”

Nie net het hulle ‘n tyd van verwarring beleef nie, maar hulle sou uitmekaargejaag word soos verlate skape.

“En die skape van die kudde sal verstrooi word” (Matthéüs 26:31).

Kyk nou na ons Here se klein kuddetjie. Petrus het in die heuwels rondgedwaal, geween en homself veroordeel vir mislukte geloof. Die res het na die woestyn en platteland gevlug. Hulle het die woorde van Jesus vergeet –

“Moenie vrees nie, klein kuddetjie, want julle Vader het ’n welbehae daarin gehad om aan julle die koninkryk te gee” (Lukas 12:32).

Hulle was op die drumpel van ‘n nuwe openbaring van innerlike krag en heerlikheid, maar al wat hulle kon sien, was die verskriklike dinge wat met hulle gebeur het. Geen wonderwerke nou nie! Almal het die geestelike pyn gevoel! Hulle het gely! Hulle was verward! Hulle kon nie die teenwoordigheid van die Here voel nie! Die hemele het soos koper gevoel! Hulle het moed verloor! Maria Magdalena het na hulle aangehardloop gekom terwyl hulle getreur en gehuil het. Sy het gesê, “Hy leef! Hy is steeds ons Herder!” Maar hulle het haar nie geglo nie!

Waarom sou God al hierdie verwarring, vrees, chaos, lyding en pyn toelaat? Die dissipels het immers nie gesondig of die Here verlaat nie. Hulle geloof was daardie tyd eg! Hulle het niks gedoen om al die pyn te verdien nie! Ek voel seker hulle het op die ou end hulleself geblameer vir wat aan die gebeur was.

“Ons moes iets verkeerds gedoen het! Ons geloof moes te swak gewees het. Ons moes die prys betaal vir sonde in ons lewens.”

Maar dis nie so nie! God het elke oomblik, elke gebeurtenis toegelaat! Dit was alles deel van Sy meesterplan!

En dit was nie toegelaat om hulle bloot ‘n les te leer nie. God het nie die redes verduidelik nie. Hy het nie probeer om hulle op te voed oor een of ander verborge waarheid nie. Hy het nie probeer om hulle te beproef nie. Hy het bloot Sy eie wil uitgevoer. Hoe dikwels dink ons lyding en pyn is om ons ‘n les te leer. Ons sê, “Wel, ek hoop Hy wys gou vir my wat ek veronderstel is om uit al hierdie dinge te leer, sodat ek daarmee kan klaarkry...” As ons in die hospitaal beland, dink ons dit is God se manier om ons sover te kry om teenoor iemand te getuig. Ons probeer ons lyding verduidelik, met die hoop dat ons God se manier van dinge doen kan regverdig.

Daar hoef geen ander rede te wees vir jou verwarring, pyn en lyding nie as dat dit God is wat vir jou dinge op Sy eie manier uitwerk. Dit is dikwels die soewereine werk van God wat ‘n meesterplan ontvou wat slegs aan Homself bekend is. Deur alle lyding van God se kinders, is God aan die werk! Die wonderwerk kom gou ná die verwarring!

Bestudeer jou Bybel, en jy sal dieselfde patrone ontdek in die lewens van al God se kinders. In die een geval na ‘n ander, wanneer God sy belofte begin vervul, sal dit lyk of die dak eers inmekaarval!

Dink aan Daniël en die drie Hebreeuse jongmanne. Hulle het hulleself oorgegee aan ‘n lewe van heiligheid en afsondering van die wêreld en al sy plesiere. Daniël het homself toegewy aan ‘n lewe van gebed, trane en voorbidding. Maar wat het dit vir Daniël en die drie Hebreeuse jongmanne gebring? Verwarring net voor oorwinning!

Jy gaan nie van die binnekamer af na een of ander bergtop oorwinning nie. Jy gaan na die leeu se lêplek. Jy gaan nie van heiligmaking na ‘n lewe van slegs gemak en seëninge nie. Hulle teologie was nie bang vir pyn en lyding nie omdat hulle geweet het dit lei altyd daartoe dat God sy wil kry! Deur leeus en rooiwarm vuuroonde na God se volmaakte wil.

  • Dink aan Elia. God het hom ‘n heerlike belofte gegee van ‘n geestelike ontwaking in die land, van ‘n uitstorting van oorvloedige reën, en van ‘n nuwe dag van oorwinning vir God se kinders. Agab en Isébel sou omvergewerp word. Maar kyk na al die verwarring wat uitgebreek het nadat die belofte gegee is. Isébel het sy lewe bedreig en hom na ‘n wegkruipplek in die berge gejaag. Bose magte het die profete van God doodgemaak. Die land het in goddeloosheid en droogte gebly. Die Woord van die Here het soos ‘n leuen gelyk! Kan jy jou indink hoe verward Elia moes wees? “Watter soort verhoring van gebed is hierdie? Ek is alleen agtergelaat! Waar is die Here? Het Sy belofte teleurgestel?”

En die hele tyd was God besig om die storm van die eeu op te bou! Die verwarring sou gou verbygaan en die verhoring sou kom.

  • Christus het vir Sy dissipels ‘n belofte gegee wat hulle deur al die verwarring en pyn sou dra, maar hulle was te hartseer om dit te onthou. Hy het vir hulle gesê:

“Maar nadat Ek opgestaan het, sal Ek voor julle uit na Galiléa gaan” (Matthéüs 26:32).

Met ander woorde, “Moenie dit alles probeer uitpluis nie. Moenie die tyd van verwarring bevraagteken nie. Dit is nie jou skuld nie; dit is nie jou stryd nie. God is aan die werk! Wanneer dit alles verby is, sal Ek steeds voor julle uitgaan. Julle Herder sal steeds daar wees.” Verstaan jy dit was tussen Christus en Sy Hemelse Vader? Dit was nie eens die dissipels se drama nie. Hulle was geaffekteer deur die werking van God in iemand anders se lewe. My vrou het ‘n skuldgevoel ontwikkel omdat sy gedink het sy het kanker aan ons dogter oorgedra. Sy het God se werk in Debbie se lewe geag as haar eie. Ek het myself veroordeel as gevolg van my vrou se stryd. Maar God het vir my gewys dat hoewel ek ook ly, is Hy besig om iets in haar te doen. Daarom het ek opgehou om myself te veroordeel en het haar aan God se bewaring oorgegee. Wat God in diegene naby aan ons doen, bring sekerlik verwarring en pyn. Maar God wil hê ons moet Hom vertrou om ons deur alles te lei. Ons moenie oorweldig word deur smart weens die pyn en lyding van ander nie. Ons moet omgee, meegevoel hê en liefhê – maar dan moet ons dit oorgee aan ‘n liefdevolle Vader.

Dit maak nie saak hoe die dissipels gevoel het nie, maak nie saak hoe deurmekaar dinge gelyk het nie – God was altyd in beheer! Dit is waaroor hierdie openbaring van Christus gaan. In jou mees pynlike, verwarrende uur, stop en sê, “God het alles onder beheer.”

Ja, egskeiding is buite beheer. Pornografie en louwarmheid neem toe. Die regering en wêreldleiers is verward. Dit lyk asof ons wêreld buite beheer spin. Maar dit is die leidraad waarvoor ons gewag het! Christus is op die punt om te kom! Ons is op die rand van ‘n nuwe wêreld.

Laat ons nie die doel van dit alles mis nie. God doen Sy ding. Ons Herder gee steeds leiding! En ons lyding en pyn sal plek maak vir ‘n geloof wat nooit sal faal nie. Dit sal ‘n geloof wees wat getoets is, soos goud, in die vuur van verdrukking.

Onthou, die moeilikste deel van geloof is die laaste halfuur, net voor die oorwinning kom.

Laastens, moet nooit verward wees oor verwarring nie! Dit gebeur soms met die beste van God se kinders. Maar die verwarring is dikwels God se manier om ‘n geloof uit ons te roep, gebaseer op slegs een waarheid:

God sal doen wat reg is vir al sy kinders – op Sy tyd – op Sy eie manier!

Download PDF