Regte Lied Verkeerde Kant | World Challenge

Regte Lied Verkeerde Kant

David WilkersonDecember 21, 2009

Israel was in ‘n hopelose penarie. Hulle was vasgekeer, met die Rooi See voor hulle en die berge aan hulle linker en regter kant. ‘n Woedende Farao en sy ysterwaens het van agter af op hulle afgestorm.

Dit is ‘n baie bekende storie, een wat jy al jou hele kerklewe gehoor het. Die kinders van Israel was deur God in ‘n verskriklike krisis ingelei waar hulle omring was deur ‘n wrede vyand. Ongelooflik soos dit mag lyk, het die Here sy volk doelbewus tot in hierdie netelige posisie gelei. Ek glo hierdie storie is van groot belang vir die kerk vandag en inderdaad vir hierdie tydstip in die geskiedenis.

Israel was skynbaar hulpeloos vasgekeer. En dit het paniek deur die hele laer van Israel gestuur. Vrouens en kinders het gehuil en het rondom vaders en grootouers bymekaargekom. ‘n Groep ontstoke ouderlinge het op Moses afgestorm en hom beskuldig, “Was daar nie genoeg grafte in Egipte nie? Jy het ons hiernatoe gesleep om te sterf. Ons het jou in Egipte gesê om ons uit te los. Dit was vir ons beter om slawe vir Farao te wees as om in hierdie miserabele woestyn te sterf!”

Ek wonder of Moses enige oomblik van benoude twyfel in daardie uur gehad het. Ek sien hom op sy knieë val en uitroep, “Here, wat gaan aan? Hoe is dit moontlik dat hierdie u wil vir ons is?” Dit lyk of God Moses berispe het, “Moses: Wat roep jy na My?” (Exodus 14:15).

God het wonderbaarlik in daardie donker oomblik ‘n wonderwerk van verlossing bewerk. Skielik was die winde so sterk opgewek dat dit die see in twee verdeel het. Met daardie wonderlike ontsnappingsroete voor hulle, het die mense op droë grond deur die see geloop. Toe Farao en sy leër probeer volg het, het die golwe omgetuimel en hulle het in die bruisende water verdrink.

“So het die HERE dan dié dag uit die hand van die Egiptenaars verlos. En Israel het die Egiptenaars dood gesien aan die kant van die see. Ook het Israel die magtige daad gesien wat die HERE aan die Egiptenaars verrig het. Toe het die volk die HERE gevrees en geglo in die HERE en aan Moses, sy kneg” (Exodus 14:30–31).

Ek moedig jou aan om te let die volgende woorde in hierdie gedeelte, want dit is die hart van my boodskap: Toe “Israel die magtige daad gesien wat die HERE aan die Egiptenaars verrig het...Toe het Moses en die kinders van Israel hierdie lied tot eer van die HERE gesing” (Exodus 14:31–15:1).

Toe die Israeliete sien wat gebeur het, het hulle hulle tamboeryne uitgehaal en ‘n heerlike lied van lof aan God begin sing: “Ek wil sing tot eer van die HERE, want Hy is hoog verhewe...Die HERE is my krag en my psalm, en Hy het my tot heil geword. Hy is my God, Hom sal ek roem...O HERE, wie is soos U onder die gode? Wie is soos U, verheerlik in heiligheid, gedug in roemryke dade, een wat wonders doen?” (Exodus 15:1–2, 11).

Dit was die regte lied, maar God se volk het dit op die verkeerde kant gesing.

Die Israeliete se lied van oorwinning was nie op die regte kant gesing nie — dit is, die beproewingskant — van die Rooi See. In plaas daarvan, het hulle dit gesing nadat hulle God se krag gesien werk het — nadat hulle verlossing gekom het. “Toe het Moses en die kinders van Israel hierdie lied tot eer van die HERE gesing” (Exodus 15:1, kursief myne).

Nietemin, die mense het vir mekaar gesê, “Wat ‘n groot getuienis! Dink daaraan. Daar sal van hierdie wonderwerk gepraat word deur die heidene en die goddeloses van die wêreld. Hulle sal weet dat God almagtig is!” “Die volke het dit gehoor, hulle het gesidder...Toe is die stamhoofde van Edom verskrik, bewing het die magtiges van Moab aangegryp. Al die inwoners van Kanaän het gebewe” (Exodus 15:14–15).

Hoe veilig en magtig moes God se volk in daardie oomblik gevoel het. Hulle het gesing van hoe hulle van toe af gevrees en gerespekteer sou word. Dit was asof hulle gesê het, “Dit is ‘n kragtige getuienis. Ons kan daarin roem dat God ons uit ‘n totaal hopelose situasie verlos het. Almal sal weet dat die Here in sy wonderlike krag en mag saam met ons is.”

Hierdie getuienis was egter nie die Israeliete s’n nie. Dit was slegs God s’n. Die Here het gesê, “En Ek wil My verheerlik aan Farao en sy hele leërmag...En die Egiptenaars sal weet dat Ek die HERE is” (Exodus 14:17–18). God het gemaak dat Egipte sy krag erken het. In die tussentyd, het Israel hulle toets gedruip. Net Moses het ‘n reg gehad om te sing aan die oorwinningskant van hulle penarie. Eenvoudig gestel, die mense het die regte lied aan die verkeerde kant gesing. Hulle het ‘n getuienis van God se verlossing gehad, maar geen getuienis van vertroue in Hom nie.

Sien jy? Hierdie lied — die lied van geloof — was ‘n lied wat God verlang het om te hoor aan hulle beproewingskant. Enigiemand kan sing nadat die oorwinning behaal is. Selfs die grootste twyfelaars kan ‘n vreugdevolle lied sing nadat God ‘n deurbraak bewerkstellig het. Maar so ‘n lied is nie ‘n getuienis van geloof nie.

Die groot behoefte in die huidige uur is Christene wat geleer het om die lied van verlossing aan die beproewingskant van die moeilikheid te sing.

Gideon het net ‘n klein weermag van 300 man gehad, maar tog het hy in geloof geskreeu voor die oorlog. Hoe moes die Here nie verlang het dat ‘n Gideon verrys in daardie vreesbevange laer by die Rooi See nie. Hy sou almal kon herinner aan die Here se getrouheid aan hulle in die verlede. Jy sien, so ver as dit van die Here afhang, is die tyd om staande te bly, juis in die donkerste oomblik. Dit is wanneer alles hopeloos lyk, wanneer dit lyk of daar geen uitweg is nie, wanneer God alleen kan red en verlos. Israel se penarie by die Rooi See was deur God bedoel as ‘n leerervaring, ‘n oomblik om hulle geloof op te bou. Geloof word nie andersins getoets wanneer alles glad verloop nie.

As Israel tog maar die wonderwerke wat God vir hulle in Egipte gedoen het, onthou het. As hulle tog maar vertrou het op sy woord, dat Hy hulle in sy arms sou dra soos ‘n vader sy kind dra. As net ‘n paar van hulle tog maar ‘n aanbiddingslied begin sing het, dieselfde lied wat hulle later aan die verkeerde kant gesing het. As die volk tog net op die Here vertrou het en geroep het, “Hy is my sterkte! My God sal triomfeer. Wie is daar soos U, o Here?” Sê vir my, wat sou gebeur?

Hulle sou ‘n sterk, blywende geloof in God gevestig het — ‘n geloof wat getoets en beproef was deur die vuur van hulle penarie. Hulle geloof sou so onwrikbaar uitgekom het dat dit hulle sou dra deur elke swaarkry van die woestynreis wat voorgelê het. Hulle sou ‘n fondament van geloof gehad het om op te bou. En met verloop van tyd, sou hulle geleer het om God met vertroue in alle omstandighede te prys, met ‘n geloof wat so sterk is dat die hel sou sidder.

Maar Israel het nie gesing nie. In plaas daarvan, was hulle dikmond. Hulle het gemurmureer en gekla. En hulle het God van verwaarlosing beskuldig. En hulle het al hulle vertroue in sy liefde en sorg vir hulle verloor.

Jy mag vra, “Hoe kan enigeen sing van verlossing wanneer hulle so swaargekry het soos Israel?

Sommige lesers mag sê, “Dit is nie natuurlik om in sulke omstandighede te sing nie. Ons is net menslik. As ons in Israel se skoene was, sou ons op dieselfde manier gereageer het. Ons sou vreesbevange uitgeroep het. Dit is net natuurlik om aan jou familie, jou huweliksmaat en kinders te dink wanneer jy so ‘n beproewing beleef.”

Laat daar geen misverstand wees nie: Ons God is ‘n teer, liefdevolle Vader. Daar is ‘n tyd om te ween en uiting te gee aan ons vrese. En huidiglik is baie in die liggaam van Christus oorweldig deur vrese vir die toekoms en vrese oor hoe hulle dit gaan oorleef. As ‘n pastoor van ‘n gemeente vir meer as twintig jaar, neem ek dit nie ligtelik op nie. Dikwels het ek gebid, “Here, vereis U dat u mense juig wanneer hulle werkloos is en hulle huise verloor? Hulle is wanhoping omdat hulle ly. Hulle voel nie na sing nie. Kan U hulle nie ‘n bietjie skiet gee nie?”

Regdeur die evangelies sien ons hoe die Here die dissipels bestraf het vir hulle ongeloof en gesê het, “Waar is julle geloof?” Dit is ‘n toneel wat ons oor en oor sien afspeel. Tog, glo ek dat die Here nie vir Moses bestraf het toe Hy vir hom gesê het, “Waarom roep jy na My?” nie. Inteendeel, God was nie ingenome met die volk se beledigings nie. Hulle het gesinspeel dat Hy sou toelaat dat hulle kinders deur die vyand verslind sou word. En Hy het beledig gevoel oor hulle beskuldigings.

“En julle kindertjies van wie julle gesê het: Hulle sal ‘n buit word! en julle kinders wat vandag geen goed of kwaad weet nie — húlle sal daar inkom en aan hulle sal Ek dit gee, en húlle sal dit in besit neem” (Deuteronómium 1:39).

Wanneer ons swaarkry en ly, moet ons natuurlik tot die Here uitroep. Wanneer ons beangs is oor ons situasie, moet ons bid, “Here, help!” Ons moet al ons seerkry en teleurstellings na Hom bring, want Hy begeer om ons te hoor. Dan, nadat ons ons harte voor Hom uitgestort het, verlang Hy dat ons in geloof opstaan, ons probleem aanspreek en verklaar, “Ek kan niks op my eie doen nie. God is my sterkte. Ek gaan stil staan en die verlossing van die Here sien.”

Israel het ‘n lied van oorwinning na hulle verlossing gesing. Tog, het hulle nie met geloof gesing nie, maar met verligting. Dit was ‘n lied sonder ‘n fondament van vertroue. Dit was drie dae later by hulle volgende penarie geopenbaar toe Israel teruggekeer het na hulle ou weë van twyfel en vrees.

Geliefde, ons het ‘n teer, liefdevolle Vader wat aangeraak word deur ons gevoelens van swakheid. Selfs Jesus het in sy lydensuur geween; Hy ken jou pyn eerstehands. En Hy het sy Heilige Gees gestuur om ons te vertroos met hoop en vrede wat Hy tot ons siele spreek.

Die wêreld vereis van ons ‘n lied te midde van ons moeilikste tye.

“By die riviere van Babel, daar het ons gesit, ook geween as ons aan Sion dink. Aan die wilgerbome wat daarin is, het ons ons siters opgehang. Want daar het hulle wat ons as gevangenes weggevoer het, van ons die woorde van ‘n lied gevra en hulle wat ons verdruk het, vreugde, deur te sê: Sing vir ons ‘n Sionslied. Hoe sou ons die lied van die HERE kan sing in ‘n vreemde land?” (Psalm 137:1–4).

Hierdie Psalm beskryf Israel se gevangenskap deur die Babiloniërs. Op hierdie stadium het God se volk alles verloor, insluitende hulle tuisland. Nou wou hulle ontvoerders die liedere van oorwinning, waarvoor die Israeliete bekend was, hoor. “Sing vir ons! Speel vir ons julle welbekende liedere. Ons het gehoor van die groot oorwinningsliedere wat julle vir God sing. Sing dit vir ons.”

Geliefde, die wêreld verlang steeds ‘n oorwinningslied van God se mense. Dit word bedoel as ‘n uitdaging vir ons. Wat hulle regtig wil weet is die volgende, “Hoe gaan jy in hierdie huidige krisis reageer? Ons het gehoor dat jou God getrou en almagtig is. En nou is jy in ‘n verskriklike moeilike posisie. So, gaan jy ophou sing? Of gaan jy jou God vertrou in tye soos hierdie? Voor jy in hierdie situasie beland het, het jy gesing van sy getrouheid. Was dit ‘n leuen? Waarom nie nou nie? Het jou God verander? Het jy toe fabels gesing? Was jou liedere van verlossing eenvoudig ‘n kinderfantasie? Of hou jou geloof stand wanneer daar moeilike tye kom?”

Ek glo nie hierdie vereiste was slegs spottenderwys gemaak nie. Ek glo die Babiloniërs wou ‘n getuienis hoor. Hulle eie geloof het hulle leeg, droog en hopeloos gelaat. Ons weet uit God se Woord dat daar geen vrede vir die goddelose is nie. En die wêreld wil vrede hê net soos ons.

‘n Onlangse tydskrif het die volgende hoofopskrif gehad: “New York City — Party Every Night!” Inderdaad, elke naweek in Time Square kan mens skaars beweeg weens die massas van mense wat kom om partytjie te hou. In die laat ure van die nag, teen 2 of 3 vm., begin die gekerm. Desperate uitroepe kom van die strate en openbaar daardie partytjiegangers se ware angs. Die geluid is spookagtig en onmiskenbaar: Dit is die menslike siel wat weeklag van leegheid en hopeloosheid.

Terwyl ek hierdie Psalm lees, glo ek die Babiloniërs was net so desperaat. Hulle het gehoor van die God van Israel, hierdie God wat wonderwerke doen, wat vir sy volk gesorg het, wat vir hulle ‘n sterk toring van veiligheid was. Hierdie ontvoerders wou die ware getuienis vir hulleself hoor. Ek hoor hulle amper pleit: “Sing asseblief hierdie gelukkige liedere wat julle in Sion gesing het. Wys ons ‘n God wat die krag het om hoop in donker tye te verskaf. As Hy julle God is, waarom ween julle nou? Waar is julle vrede en vreugde? Waar is sy sterkte ter wille van julle?”

Die Babiloniërs het nodig gehad om te sien hoe God se volk ‘n oowinningslied sing te midde van hulle donkerste uur. Hulle het begeer om ‘n getuienis te sien wat vrede tot hulle harte kon spreek maak nie saak wat nie. Ek verbeel my hulle sê, “Julle kon vir ons ‘n wonderwerk wys, maar dit sou nie saak maak nie. Ons gee nie om oor kreupeles wat loop of blindes se oë wat oopgaan nie. Ons wil net mense sien wie se God ‘n ware bron van vrede is wanneer alles verkeerd loop. Dit is die wonderwerk wat ons nodig het.”

“U sal ‘n standvastige gesindheid in volle vrede bewaar, want hulle vertrou op U” (Jesaja 26:3). Geliefde dit is dieselfde wonderwerk, die bonatuurlike wonder, wat die wêreld vandag wil sien.

Die gevange Israeliete was ‘n jammerlike getuienis van God se getrouheid.

Die Israeliete wat in kettingboeie in Babel gesit het, het geweier om te sing. Dit is duidelik dat hulle niks uit hulle belewenis geleer het nie. Elke beproewing waardeur hulle gegaan het, was verniet. Al die waarskuwings, profesieë en boodskappe van hoop van die Here, was op hulle gemors.

Daarom het die Babiloniërs teleurgesteld weggeloop. Hulle moes vir hulleself gesê het, “Hierdie Israeliete verskil nie van ons nie. Hulle is veronderstel om ‘n magtige God te hê, maar dit is duidelik dat Hy nie vir hulle vreugde in moeilike tye kan gee nie. Wat is die nut daarvan om so ‘n God te soek? Daar is eenvoudig geen hoop op hierdie aarde nie. Wanneer moeilike tye kom, verval hierdie Israeliete in wanhoop net soos ons.”

Geliefde, hierdie wêreld reageer nie op mooi preke nie. Kerkprogramme sal hulle nie aanraak nie. Selfs genesings het min impak, aangesien daar soveel “wonderwerk medisyne” in hulle leeftyd ontwikkel is. Hulle het hartomlynings, ledemate wat weer vasgewerk is, hart-, oog-, lewer- en longoorplantings gesien, genesings wat inderdaad deur God se wysheid moontlik gemaak is.

Waarna die wêreld smag, is om ‘n Christen te sien wat ernstig beproef word — iemand wat in die moeilikheid is, met sy rug teen die muur, met geen uitweg nie — tog sing hy. Hierdie Christen verbly homself en vertrou op sy God. Hy kla nie oor sy situasie nie. Hy sing liewer van die Here se getrouheid. Hy vertrou nie op ‘n mens of op sy omstandighede nie, maar op God.

Dit is die wonderwerk wat die verlorenes sal red: die wonderwerk van vrede in donker tye. Waarom? Die wêreld en goddeloses is ook in ‘n moeilike posisie en hulle wil hoop hê.

Ons vertwyfelinge moet die doodskoot gegee word tydens ons beproewings, anders sal ons bevestigde murmureerders word

Liedere van oorwinning wat na die oorwinning gesing word, is nie ware gesange van geloof nie. Waarom nie? Ons twyfel word nie deur ons belewenis ‘n doodskoot gegee nie. Jy sien, wanneer ons ‘n oorwinnende verlossing beleef, dan het ons ‘n tydelike opwelling van danksegging. Ons is van nature bly, omdat God ter wille van ons genadiglik opgetree het, ten spyte van ons twyfel. Wat gebeur dan egter met ons twyfel? Dit sink net dieper in ons harte in.

Liewe heilige, die feit van die saak is, dat God ons na ons huidige situasie gelei het. Jy word omring deur hindernisse van alle kante, met ‘n vyand wat skynbaar vinnig nader kom. En soos Moses, mag jy sê, “Here, U het my getrou gelei my lewe lank. Maar ek verstaan nie waardeur ek nou gaan nie. Die toekoms lyk so donker.”

Tans leef ons in ‘n tyd van chaos wat die wêreld nie voorheen gesien het nie. En Satan gebruik hierdie vrees om talle te teister. Te midde van hierdie tyd, roep die Here sy mense en sê, “Hoe gaan jy hierdie dinge hanteer? Gaan jy my beloftes glo, ten spyte van alle ander dinge wat rondom jou aangaan? Sal jy My vertrou ten spyte van jou diepste vrese?”

Om dit te doen, moet ons ons gedagtes op die Here hou. “U sal ‘n standvastige gesindheid in volle vrede bewaar, want hulle vertrou op U” (Jesaja 26:3). Ons wil moet hierby betrokke wees. Dit maak nie saak hoe ongelooflik donker ons situasie word nie, iets van geloof moet in ons opstaan en sê, “Nee, duiwel. Nee, wêreld. Ek sal vertrou op die Een wat my elke keer getrou verlos het.”

Dit is wanneer volmaakte vrede kom. Dit word voorsien deur die Here self wat bly is oor ons vertroue in Hom. Dan, wanneer chaos orals heers, sal ons lewens spreek van die kragtige boodskap van sy blydskap. Hy het ons ‘n lied gegee om vir die wêreld te sing: “Die Here is getrou. Hy dra sy mense deur!”

Download PDF

DAILY ENCOURAGEMENT IN YOUR INBOX

Sign up now to receive our Daily Devotional or E-newsletter.

SUBSCRIBE