Regtig? | World Challenge

Regtig?

Gary WilkersonNovember 18, 2019

Die Beloftes van God Is Bo Ons Begrip

Die groot beloftes wat God vir ons deur Jesus gegee het, is bo enigiets wat ‘n mens kan dink of jou kan voorstel. Hy het ons van knegskap en slawerny aan sonde bevry. Hy het ons langs Homself in hemelse plekke laat sit. Hy het aan ons ons identiteit in Hom gegee. As hierdie verstommende beloftes nie ons vertroue versterk nie, is daar iets verkeerd met ons siening van God. Dit beteken ons sien nie sy heerlikheid so volkome en duidelik soos ons moet nie.

Is dit waar vir jou? As jou werklikheid anders is as wat God belowe het, is daar ‘n probleem. Jy is vry, maar jy sondig steeds; jy is nie langer onder Satan se heerskappy nie, maar jy voel vasgevang; jy het die gedagtes van Christus, maar jy is dikwels moedeloos.

Wanneer ek in die versoeking kom om moedeloos te voel, wend ek my tot ‘n sekere Bybelgedeelte wat my gees verkwik: “...die kinders van Israel het gesug en geweeklaag vanweë die slawerny. En hulle geroep om hulp oor hulle slawerny het opgeklim tot God. En God het hulle gekerm gehoor” (Exodus 2:23-24, AFR53). Dit is ongelooflik om te dink dat God ons hart se roepstem hoor. Die volgende vers gaan selfs verder en versterk ons bemoediging: “En God het die kinders van Israel aangesien, en God het hulle geken(2:25, my beklemtoning).

God ken die presiese tyd om ter wille van sy volk op te tree. Hy sien die dilemma wat die Israeliete beleef het: uitputting, nederlaag, die verlies van alle hoop dat hulle ooit verlos sou word. Wat Israel nie geweet het nie, was dat hulle op die randjie van ‘n deurbraak was. Soms, wanneer ons die naaste aan vryheid is, is dit die oomblik wat ons vyand kies om ‘n vloedstroom teen ons los te laat. Satan weet sy tyd is kort en wanneer hy sien dat ons naby ons deurbraak kom, fokus hy weer sy woede teen ons. Dit is ironies dat hoe nader Israel aan vryheid was, hoe moeiliker het dit vir hulle geword om te hoop.

Die eerste geslag Israeliete wat in Egipte in slawerny was, het die heerlike werklikheid van God se beloftes geken. Dinge was anders vir die geslag waarvan ons in Exodus 23 lees, ‘n volk wat slegs slawerny geken het. Hulle het ‘n donker stamboom van meer as 400 jaar van slawerny gehad en nie een van hulle kon die werklikheid van God se Abrahamitiese verbond met hulle voorstel nie.

Ek dank God dat Hy hulle roepstem gehoor het. Watter ontsaglike bemoediging bied hierdie storie vir enige volgeling van Christus wat ‘n slawerny beleef wat hulle dink nooit sal eindig nie. Miskien het jy uitgeroep, maar jy voel jy word nie verhoor nie. Jy het berading ontvang, maar dit het nie gewerk nie. Moenie bang wees om soos die Israeliete uit te roep nie: “En hulle geroep om hulp oor hulle slawerny het opgeklim tot God. En God het hulle gekerm gehoor” (Exodus 2:23-24).

Soms is ons so moedeloos dat ons roepstem al is wat ons het.

Jy hoef nie een of ander komplekse teologie te bid vir God om op jou te reageer nie. Al wat dit verg, is jou hart se eenvoudige roepstem, “Here, ek roep U aan om te help. Ek weet nie wat anders om te doen nie. U Woord belowe aan my verlossing van my vyande, verlossing van my sonde en triomferende oorwinning in Christus. Waarom sien ek nie enige van hierdie beloftes in my lewe manifesteer nie? Ek is op die punt om hoop te verloor.”

Hier is wat gebeur wanneer jy na Hom uitroep: “En God het hulle gekerm gehoor, en God het gedink aan” (Exodus 2:24). Die Hebreeuse woord hier vir “gedink” beteken om na die voorpunt van die gedagtes te bring. Dit is nie asof God vergeet het van sy verbond met Abraham waarin Hy belowe het om vir Israel ‘n land van hulle eie te gee, ‘n land wat oorloop van melk en heuning, menigtes kinders en om van hulle ‘n seën vir ander nasies te maak nie. Toe God “gedink” het, beteken dit Hy was op die punt om die werklikheid van sy beloftes na die voorpunt van hulle lewens te bring. Sy begeertes vir hulle was op die punt om geopenbaar te word.

Hierdie gedeelte sê, “God ... geken” (2:24-25). Wat presies het God geken? Hy het sy volk se pyn geken en geweet hoe ver sy beloftes vir hulle was om tasbare werklikhede te wees. Vir God, was dit egter reeds ‘n werklikheid. Selfs hoewel Israel in slawerny was, was God se werklikhede binne hulle bereik.

Dieselfde is waar vir ons vandag. Neem die wonderlike eienskappe van onvoorwaardelike liefde in 1 Korinthiërs 13, wat vir enigeen van ons onmoontlik voorkom om te bereik. “Die liefde is lankmoedig en vriendelik; die liefde is nie jaloers nie; die liefde praat nie groot nie, is nie opgeblase nie, handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, word nie verbitterd nie, reken die kwaad nie toe nie, is nie bly oor die ongeregtigheid nie, maar is bly saam met die waarheid. Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles” (1 Korinthiërs 13:4-7).

Is hierdie manifestasies van liefde ‘n werklikheid in ons lewens? Nie een van ons lewe dit volkome uit nie, maar ons weet dat ons deur genade in staat is om al hierdie uitdrukkings van liefde te openbaar. Daarom, is ons roepstem tot God, “Here, maak dit ‘n werklikheid in my lewe. Dit is u belofte aan my!”

Dit behoort die roepstem te wees van elkeen wat moedeloos is met hulle situasie: “Here, dit is u belofte aan my!”

Jesus se eerste belofte aan ons is oorvloedige lewe. “Ek het gekom, dat hulle lewe en oorvloed kan hê” (Johannes 10:10). Dit beteken oorvloedige lewe, strome van lewende water wat oor die rivierwal van ons siele vloei. Is hierdie soort oorvloedige lewe vir jou ‘n werklikheid? Indien nie, behoort jy uit te roep, “Here, hoor my siel se roepstem! U belowe dit aan my. Asseblief, ontstop dit wat ook al u vloei van oorvloedige lewe opdam. Ontkurk dit en laat dit los in my lewe!”

Sy tweede belofte is heerskappy oor sonde, Satan en die dood. Hulle heers nie langer oor ons nie want Jesus heers nou. “Want die sonde sal oor julle nie heers nie; want julle is nie onder die wet nie, maar onder die genade” (Romeine 6:14). Hy het die krag van sy Gees in ons harte geplaas, vir ons oorwinning oor sonde gegee en ons gevul met vreugdevolle krag.

“Daarom, neem die volle wapenrusting van God op, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle alles volbring het, staande kan bly” (Efésiërs 6:13). God rus ons toe om elke vurige pyl wat die vyand teen ons skiet te blus. Nou, ons geloof verminder nie wanneer Satan vir ons sê, “Jy wandel nie in ware liefde nie, jy beleef nie oorwinning oor sonde nie, jy loop nie oor met strome van lewende water nie.” Die werk van die Heilige Gees stel ons in staat om te sê, “Hy het my heilig, onberispelik en foutloos voor Hom gemaak. Ek is onafskeidbaar van sy liefde. Daarom is ek meer as ‘n oorwinnaar teen enige wapen wat Satan teen my uitprobeer.”

Wat God gedoen het om die kinders van Israel uit Egipte te lei, wil Hy ook met hierdie geslag doen.

Selfs toe Israel in slawerny was, was die Abrahamitiese verbond vir hulle in plek. Net so vandag, maak dit nie saak met watter soort slawerny jy sukkel nie, die nuwe verbond is vir jou in plek. God se stroom van seën vir jou is so uiters oorvloedig dat dit amper belaglik is om aan te dink. Paulus sê die Here het die mag “om te doen ver bo alles wat ons bid of dink, volgens die krag wat in ons werk” (Efésiërs 3:20). Met ander woorde, as ons aan al God se nuwe verbond beloftes aan ons dink, behoort ons reaksie te wees, “Regtig? Sjoe!”

Waarom is die oorvloedige lewe dus nie ‘n werklikheid vir baie Christene nie? Dit is nie omdat God seëninge van ons weerhou nie. Jesus het dit duidelik gemaak in die Bergpredikasie: “Of watter mens is daar onder julle wat, as sy seun hom brood vra, aan hom ’n klip sal gee; en as hy ’n vis vra, aan hom ’n slang sal gee? As julle wat sleg is, dan weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemele is, goeie dinge gee aan die wat Hom bid!” (Matthéüs 7:9-11).

Die probleem is dat die meeste van ons nie glo dat die oorvloedige lewe die norm vir die Christelike lewe is nie. Ons beskou daardie beloftes en sê, “Belowe God werklik daardie dinge aan my? Kom nou, regtig?” Wanneer ons dit doen, plaas ons onsself terug in gebondenheid onder ‘n soort verstandelike slawerny. Ons herken nie die duiwel se stem wat ons oortuig, “Jy kan dit nie bereik nie. God het dit nie letterlik bedoel nie. Dink jy werklik dat jy dit kan kry? Regtig?”

Dit is tragies dat baie Christene oortuig word, “Ek verdien nie om alles te hê wat God belowe nie. Dit is te goed om waar te wees vir iemand soos ek. Ek is net bly om gered en vry te wees van sonde, om elke nou en dan ‘n bietjie blydskap te hê. Ek hoef nie een of ander uiters geseënde Christen te wees nie.”

Dit is nie genoeg nie! Waarom nie? Dit is minder as wat God sê Hy vir ons wil hê. Die beloftes van God is nie net hoë aspirasies nie; dit is hoeksteen werklikhede vir elke gelowige. Dit was altyd en sal altyd wees. Ons beleef voortdurende konflikte in hierdie lewe, maar ons is nie in ‘n stryd wat ons nooit sal wen nie. Ons is bedoel om elke oorwinning wat Hy belowe het, te hê.

Is jy steeds onder een of ander ‘n verstandelike slawerny? Het jy opgehou om in die beloftes van God te glo? Moenie dat die vyand jou beroof van jou verwagting van wat God kan doen nie. Die Here se beloftes is nie ‘n vraagteken nie, maar ‘n uitroepteken. Dit is ons werklikheid. Het Hy regtig gesê dat jy vry kan wees? Dat oorvloedige lewe jou werklikheid is? Dat jy ‘n oorwinnaar in Chistus is? Regtig? Ja, Hy het – regtig!

Download PDF