Sal God Ooit My Gebed Verhoor? | World Challenge

Sal God Ooit My Gebed Verhoor?

David WilkersonNovember 1, 1979

Het jy al ooit daardie vraag gevra? Is daar een besondere saak waaroor jy nou al vir ‘n lang tyd bid, met geen skynbare verhoring in sig nie? Is daar tye wanneer jy wonder of die antwoord ooit sal kom? Het jy eerlikwaar alles gedoen wat jy weet om te doen? Het jy voldoen aan alle vereistes van gebed? Het jy geween, gevas, en God vurig met ware geloof gesmeek? – En tog lyk dit of niks gebeur nie? As jy ja moet antwoord op al die bogenoemde vrae, is jy in goeie geselskap. Jy is nie een of ander vreemde soort of Christen wat getugtig word deur die Here nie. Die uitgestelde verhoring op gebed is een van die mees algemene belewenisse wat gedeel word deur selfs die heiligste van God se kinders.

Ek dank God vir bedienaars en leraars wat geloof verkondig. Ek ook! Dank God vir leraars wat my siel in beroering bring om wonderwerke en die verhoring van al my gebede te verwag. Miskien het die kerk so geloofloos en ongelowig geword dat God op ons moet losbreek met ‘n nuwe en vars openbaring van Sy magtige beloftes. Daar is baie nuwe leerstellinge vandag oor “Die regte belydenis maak.” Ook, word God se kinders aangemoedig om positief te dink en al die beloftes van God as werklikheid te verklaar. Ons word aangesê om onsself te reinig van alle verborge wrokke – ons verkeerde dinge reg te maak, selfs terug tot in ons kindskap. Dit word deesdae verkondig dat die meeste van ons onverhoorde gebede, ons voortslepende ongesteldhede, ons onvermoë om God te beweeg om ons eie  onthalwe, ‘n direkte gevolg is van ons geloof wanaanwend. Soos een geloofsleraar dit stel, “Geloof is soos ‘n kraan; jy kan dit oop of toe draai.”

Dit klink alles so eenvoudig. Het jy ‘n finansiële wonderwerk in jou lewe nodig? Reinig jou lewe, word ons vertel, van al die struikelblokke, wrokke en ongeloof – bely dat jy reeds die antwoord deur geloof ontvang het, en dit sal joune wees. Wil jy hê daardie geskeide man moet terugkeer vir versoening? Bely dit – verbeel jou dit gebeur – skep ‘n beeld in jou gedagtes van ‘n pragtige reünie – en dit is alles joune. Is daar iemand wat jy liefhet by die deur van die dood? Gee dan vir God kennis dat jy nie nee vir ‘n antwoord sal aanvaar nie; herinner Hom aan Sy beloftes; bely genesing – en dit sal gebeur, so word dit verkondig. En as jou gebed nie verhoor word nie; as die man maande aaneen wegbly; as die siek geliefde sterf; as die finansiële behoeftes verander in ‘n krisis – word gemaak asof alles jou skuld is. Iewers langs die pad, het jy toegelaat dat ‘n negatiewe gedagte die kanaal blokkeer. Of, jy het ‘n boesemsonde of ‘n onoorgegewe wrok. Jou belydenis was onskriftuurlik of onopreg. Een geloofsleraar het geskryf, “As jy nie die resultate gekry het wat ek gekry het nie, doen jy nie alles wat ek gedoen het nie.

Ek skerts nie. Ek glo God verhoor gebed

O, hoe glo ek dit! Maar my kantoor ontvang tragiese briewe van opregte Christene wat totaal verward en moedeloos is omdat dit lyk asof hulle nie al hierdie nuwe gebed-en-geloof formules kan laat werk nie. “Wat is verkeerd met my?” skryf een bekommerde dame. “Ek ondersoek my hart en het alle sondes bely. Ek het demoniese magte gebind met die Woord van God. Ek het gevas; Ek het die beloftes bely – tog, is ek nie verhoor nie. Ek moet geestelik blind wees of ek doen alles verkeerd.”

Glo my, daar is duisende verwarde Christene oral in hierdie land wat hulleself veroordeel omdat hulle nie ‘n antwoord op ‘n desperate gebed kan kry nie. Hulle weet God se Woord is waar, dat nie een enkele belofte kan teleurstel nie, dat God getrou is aan alle geslagte, dat Hy goed is, en dat Hy wil hê Sy kinders moet antwoorde op hulle gebed kry. Vir hulle, egter, is daar daardie een gebed wat onverhoor bly – onbepaald. Daarom blameer hulle hulleself. Hulle luister na die kasette van leraars en predikers wat so kragtig en positief praat oor al die antwoorde wat hulle kry as gevolg van hulle geloof. En hulle hoor die getuienisse van ander wat ‘n formule uitgewerk het en nou alles ontvang wat hulle van God gevra het. Toe het hulle na hulle eie hopeloosheid gekyk en veroordeeld gevoel.

Laat my my siel voor jou ontbloot oor hierdie saak van onverhoorde gebede.

Eerstens, ek respekteer en het al die leraars en bedienaars van geloof en positeiwe belydenisse lief. Hulle is groot manne en vroue van God. Ons het ernstig nodig om herinner te word aan die krag van geloof en die regte denkwyses. Dit is alles baie skriftuurlik, en diegene wat sulke lering weerstaan of ontken, het waarskynlik nog nooit tyd gemaak om te hoor wat werklik verkondig word nie. Maar daar is een groot probleem. Die gelooftrein ry met volle spoed op wiele wat nie gebalanseer is nie. En as dit aanhou ry in die rigting waarheen dit nou gaan, sonder balans, sal dit op ‘n syspoor gaan en baie vertrouende mense sal seerkry. Sommige verloor reeds moed omdat hulle onder die slawerny van lering van geloof gekom het wat voorstel dat alle onverhoorde gebede ‘n gevolg is van menslike fout. Met ander woorde, as dit nie vir jou gewerk het nie – het jy iets verkeerds gedoen – so hou aan om dit te doen totdat jy dit regkry.

Net so min as wat jy jou geloof slegs kan voed op selfdienende beloftes van genesing, rykdom, sukses en voorspoed, net so min kan jy gesond en sterk word deur slegs nageregte te eet. Geloof kom deur “die hele Woord” te hoor – nie net uitgesoekte gedeeltes nie.

Wat van Bybelwaarhede wat praat van lyding wat gehoorsaamheid leer? Net soos Jesus, leer ons gehoorsaamheid deur die dinge wat ons ly (Hebreërs 5:8). Daar is soveel skrifte oor lyding as wat daar is oor geloof.

Ons geloof behoort nie bang te wees om Bybelgedeeltes te ondersoek wat handel oor God se vertragings, Sy seisoene van stilte, en selfs Sy soewereiniteit nie – wanneer Hy optree sonder om die mens ‘n verduideliking te gee.

Petrus het gewaarsku dat geloof nie alleen moet staan nie. Hy het gesê, “Voeg by julle geloof die deug, kennis, selfbeheersing, geduld, ens.” Geloof sonder geduld en deug en selfbeheersing word selfgesentreerd en ongebalanseerd.

Alle siektes word nie veroorsaak deur demone of bose geeste nie. Die meeste word veroorsaak deur ‘n gebrek aan selfbeheersing, brassery en slegte gewoontes. Hierdie opgeblase geslag wat winde opbreek, stop hulleself vol met berge gemorskos, nageregte en giftige drinkgoed – dan, wanneer die liggaam verswak en getref word met siekte, hardloop ons paniekerig na God se Woord vir ‘n vinnige kuur. Ons sal enigiets doen om genees te word – behalwe om selfbeheersing en matigheid toe te pas. En selfs alhoewel God, in Sy genade, dikwels ons genotsugtige maniere oorsien en ons liggame genees, moet ons ‘n bietjie selfbeheersing voeg by ons geloof.

Daar is tye in die Bybel waar God nie kon, of nie verhoor het nie – maak nie saak hoeveel keer daarvoor gevra is nie – maak nie saak hoe groot die geloof of hoe positief die belydenis was nie. Paulus was nie verlos van die verdrukking wat hom geteister het nie, hoewel hy ywerig om verhoring gebid het. “Hieroor ek die Here drie maal gebid, dat hy van my sou wyk...” (2 Korinthiërs 12:7-10).

God wil die werk van genade eers in Paulus sien vervul word. Hy wou nie toelaat dat Sy kind opgeblase sou word van hoogmoed nie. Hy sou nie juig oor ‘n verlossing nie – maar leer hoe God se krag gebruik kon word in tye van swakheid. Maar kyk wat het dit in Paulus gewerk, wat bewys God was reg om nie sy versoek te verhoor nie:

“Baie liewer sal ek dus in my swakhede roem, sodat die krag van Christus in my kan woon. Daarom het ek behae in swakhede, in mishandelinge, in node, in vervolginge, in benoudhede, om Christus wil. Want as ek swak is, dan is ek sterk” (2 Korinthiërs 12:9,10).

Het Paulus geloof kortgekom? Vol negatiewe gedagtes? Verkeerde belydenisse? Waarom het Paulus nie die boodskap verkondig wat ons so baie hoor vandag nie – “Jy hoef nie ongesteldhede, armoede, benoudhede en lyding te verduur nie. Jy hoef nie te sukkel met noodsaaklikhede of swakhede nie. Eis jou oorwinning op oor al die lyding en pyn...”

Paulus wou meer as genesing, meer as sukses, meer as verlossing van stekerige dorings hê – hy wou Christus hê! Paulus sou liewer ly as om God te probeer oorheers. Dit is waarom hy kon uitroep, “Ek juig in my huidige situasie – God is aan die werk in my deur alles wat ek ly. In en deur dit alles, weet ek my huidige lyding kan nie vergelyk word met die heerlikheid wat op my wag nie.”

Ons misbruik ons verhoring

Ons word ondankbaar en ons verander dikwels ons verlossing in ‘n ramp. Dit is wat met Hiskia gebeur het. God het ‘n profeet gestuur om hom te waarsku hy moes gereed maak om te sterf en het gesê, “Jy sal sterf, en nie leef nie.” Hiskia het geween, hom bekeer en God gesmeek vir ‘n bykomstige vyftien jaar. God het sy gebed verhoor. Hy was ‘n nuwe kans op die lewe gegee. In die heel eerste jaar van sy uitstel, het hy ‘n kompromie gemaak, en Israel ontbloot voor die vyandige konings. Hy het ellende op sy familie en sy land gebring.

Daar is ander kere waarop God geweier het om ons gebedsversoeke te verhoor, omdat Hy ‘n “beter weg het.” Hy sal wel verhoor, maar ons sal dit nie so beskou nie. Ons sal dit sien as verwerping – maar, deur dit alles heen, sal God Sy volmaakte wil doen. Jy sal hierdie beginsel aan die werk sien toe Israel in ballingskap geneem is na die land van die Chaldeërs. “Wat ‘n ramp,” het hulle geroep. “God het ons gebede verwerp; ons is steeds verlate. God luister nie meer na ons nie.” Diegene wat in Jerusalem agtergelaat is, het opgeblase geword deur te dink God het hulle gebed verhoor en hulle geseën deur hulle toe te laat om te bly. Maar diegene wat agtergebly het, was heeltemal vernietig deur die swaard, hongersnood en peste – todat hulle heeltemal omgekom het (Jeremia 24:10).

Maar diegene wat in ballingskap geneem is, was gesê, “So sal Ek ten goede aansien die ballinge van Juda wat Ek uit hierdie plek na die land van die Chaldeërs weggestuur het” (Jeremia 24:5). Hulle het nooit besef God is aan die werk nie, besig om ‘n oorblyfsel te beskerm, maar diegene wat “gered was deur lyding” het teruggekeer na die land.

Sommige van my gebede is nog nie verhoor nie

Die Bybel sê, “Eerlike belydenis is goed vir die siel.” Ek bely teenoor jou dat ek nog nie verhoor is op twee gebede waarvoor ek al jarelank bid nie. Reeds hoor ek iemand sê, “Broer Dave, moenie dit doen nie! Dit is negatief! Dit is ‘n verkeerde belydenis. Geen wonder jy het nog nie daardie twee verhoor gekry nie!” Ek is meer geamuseerd as gekwets deur sulke kommentaar. Ek weier om die werklikheid te ignoreer. Die werklikheid is dat ek reeds ernstig gebid het oor hierdie twee sake – ek het elke belofte in die Bybel in besit geneem – ek het vertroue daarin dat God in staat is om enigiets te doen – ek het my geseënde Here berg-verskuiwende geloof gegee! Maar, die jare gaan verby en ek is nog nie verhoor nie. Duisende van my gebede is verhoor. Ek sien verhoring van my gebede elke dag van my lewe. God doen die bonatuurlike om my onthalwe, in elke faset van my lewe. Maar steeds, daardie twee gebede is nog nie verhoor nie.

Ek sal die kenners op gebed en geloof laat probeer om die redes vir hierdie onverhoorde gebede te analiseer – maar, sover dit my aangaan, is ek nie ‘n bietjie bekommerd daaroor nie. Ek is deur al die selfveroordeling daarvan. Ek het heeltemal genoeg gehad daarvan om myself daarvoor te blameer dat ek nie verhoor was toe ek dit wou hê nie. God bring ‘n balans in my geloof! My positiewe belydenis word herlei in die regte rigting. En, o die blydskap van die vryheid wanneer jou geloof in God nie langer afhang van net verhoor word nie. Wat ‘n vryheid wanneer jou geloof slegs op Jesus fokus en om Sy heilige karakter te verkry.

Sal my gebede ooit verhoor word?

Ek glo in Heilige Gees tydsberekening. In God se eie tyd, sal al ons gebede verhoor word – op een of ander manier. Die probleem is, ons is bang om ons gebede aan die Heilige Gees se soeklig te onderwerp. Sommige van ons gebede moet gereinig word. Party van ons geloof word wanaangewend op versoeke wat nie volwasse is nie. Ons is oortuig dat as ons versoek “in ooreenstemming met Sy wil is, behoort ons dit te kry.” Ons weet bloot nie hoe om te bid, “Laat U wil geskied” nie! Ons wil nie soseer Sy wil hê as daardie dinge toegelaat deur Sy wil nie. Die enigste toets wat ons van ons gebede vereis, is redelik selfgesentreerd: “Kan ek dit kry in God se katalogus van dinge toegelaat?” Daarom soek ons deur God se Woord en lê slim al die redes uit waarom ons ‘n sekere seën en verhoring gegun moet word. Ons pas die beloftes by ons spesifieke versoeke aan. Wanneer ons oortuig is ons het ‘n goeie saak en genoeg beloftes bymekaargemaak, marsjeer ons met vrymoedigheid in die teenwoordigheid van God in, so asof ons sê, “Here, ek het ‘n klinkklare saak – op geen manier kan U my afkeur nie. Ek het my geloof nagegaan. Ek het U Woord oor die saak. Ek het alles volgens plan gedoen. Dit is myne! Ek eis dit op! Op hierdie oomblik!”

Is dit al waaroor geloof gaan? Bloot ‘n stuk gereedskap om voordele en beloftes uit God te kry?

‘n Uitdaging vir Sy getrouheid? ‘n Toets van Sy Woord? ‘n Sleutel om God se seënkamer oop te sluit? Dit lyk vir my ons marsjeer in God se troonkamer in met ons geloofsvlae wapperend, gewapen met ‘n arsenaal beloftes, gereed om met geweld alles op te eis wat ons toekom. In die tussentyd, verbeel ons dat ons goedkeurende Vader ons gelukwens omdat ons die geheim van geloof ontrafel het en ons die reg tot die skatte van die hemel gee.

Totdat God ons begeertes en ambisies herstruktureer, sal ons voortgaan om ons kosbare geloof te mors op geskape dinge eerder as op die Skepper. Hoe lafhartig en korrup word ons geloof wanneer dit net gebruik word om dinge te verkry. Wat ‘n tragedie as ons daarin sou roem dat ons geloof vir ons ‘n nuwe kar, ‘n vliegtuig, ‘n finansiële meevaller, ‘n nuwe huis, ens., verkry het.

Geloof is ‘n vorm van gedagte – hoewel positiewe, goddelike gedagte. Maar Jesus het ons gewaarsku om nie eens ‘n bietjie te dink aan materiële dinge nie. “Net heidene soek hierdie dinge.” Hoe duidelik is Jesus oor hierdie saak as Hy sê, “Daarom...Moenie julle kwel oor jul lewe – wat julle sal eet en wat julle sal drink nie; of oor jul liggaam – wat julle sal aantrek nie...want julle hemelse Vader weet dat julle al hierdie dinge nodig het” (Matthéüs 6:25,32).

Selfs die goddelose is soms voorspoedig – en dit kan nie gesê word dat geloof dit veroorsaak het nie. God laat Sy liefde en seën reën op die regverdiges sowel as die onregverdiges. Wys vir my ‘n voorspoedige Christen, en ek sal vir jou ‘n sondaar wys wat voorspoediger is.

Ek verag die idee van Christene onderrig om geloof te gebruik om voorspoedig of meer suksesvol te wees.

Dit is inteenstelling met die nederige Nasaréner wat ‘n beroep op Sy volgelinge gedoen het om alles te verkoop en aan die armes te gee. Hy het gewaarsku teen skure bou en het die verterende honger vir wêreldse goedere verag. Hy het geen tyd gehad vir diegene wat skatte hier op aarde bymekaargemaak het nie. Hy het onderrig dat Sy kinders nie verstringel moet raak in die verleiding van rykdom nie, maar dat geloof moet veroorsaak dat ons ons liefdes op dinge daarbo plaas.

Hoe kan dit wees dat met al die lering wat ons vandag het oor geloof, Jesus sou sê, “...maar as die Seun van die mens kom, sal Hy wel die geloof of die aarde vind?” (Lukas 18:8). Kan dit wees dat Jesus die hedendaagse tipe geloof glad nie as geloof beskou nie? Is ons sogenaamde geloof so selfdienend, dat dit ‘n gruwel vir die Here geword het? Dit maak nie saak hoeveel Skrifte aangehaal word om dit te ondersteun nie, selfdienende geloof is ‘n verdraaiing van die waarheid.

Vergelyk baie van die materialistiese geloof wat so heersend is vandag met die geloof beskryf in Hebreërs 11! Die dinge waarop gehoop was deur hierdie groot manne en vroue van God, kon nie gemeet word teen enige wêreldse standaarde nie. Die substansie wat hulle gesoek het, was nie geld, huise, sukses, of ‘n pynlose lewe nie. Hulle het hulle geloof uitgeoefen om God se goedkeuring vir hulle lewens te kry. Abel se geloof het net gefokus op geregtigheid, en God het dit vir hom gegee. Henog se geloof was so Godgesentreerd, dat hy in die hemel opgeneem is. Sy geloof het net een enkele motief gehad – om God te ken en te behaag. Geloof vir Noag het beteken “met vrees beweeg” om voor te berei vir die komende oordeel. Hoe sou daardie man ween as hy ooit die waansin van materialisme wat ons geslag vasgryp, kon sien.

Abraham het sy geloof uitgeoefen deur homself aan te hou herinner dat hy ‘n vreemdeling was op hierdie aarde. Sy seënverbond op hierdie aarde het slegs ‘n tent voortgebring om te woon, omdat hy al sy geloof in daardie stad geplaas het waarvan die bouer en maker God was.

Sommiges wat ‘n reputasie gehad het dat hulle groot geloof gehad het, het “nie die belofte verkry nie” (Hebreërs 11:39). Diegene wat die “belofte verkry” het, het hulle geloof gebruik om geregtigheid te doen, om krag in tye van swakheid te ontvang, en om die vyand op die vlug te laat slaan.

Het sommige van hulle nie in geloof geleef nie? Het God geweier om party van hulle gebed te verhoor?

Immers, nie al hierdie gebeds- en geloofskrygers was verlos nie. Nie almal het geleef om te sien dat hulle gebede verhoor word nie. Nie almal was pyn, lyding en selfs die dood gespaar nie. Sommige was gemartel; ander was in twee gesaag, het alleen, verdruk en geteister rondgedwaal (Hebreërs 11:36-39).

Hulle was groot manne en vroue van geloof wat wrede bespottings, slae en tronkstraf gely het. Hulle was nie verdruk en geteister weens gebrek aan geloof of ‘n verkeerde belydenis nie – óf omdat hulle ‘n wrok of kwaadwilligheid gekoester het nie. Kon manne van geloof nie meer te voorskyn gebring het as bokvelle vir hulle rûe nie? Kon hulle uitgestyg het in geloof om daardie een groot belofte op te eis dat geen plaag naby hulle tente sou kom nie?

O, my dierbare vriend, die wêreld was hierdie heiliges nie werd nie, omdat hulle die soort geloof gehad het wat elke eis van die vlees verpletter het. Hulle geloof het een fokus gehad; hulle het al die seëninge van God beskou as ewig en geestelik, eerder as aards en nou.

Ja, ek weet die geloofhoofstuk sluit af met, “Omdat God iets beters oor ons beskik het” (Hebreërs 11:40). Maar hoe sal ons daardie beter dinge beskryf wat God voorberei het vir diegene wat vandag geloof het? Beter gesondheidsvoordele? Beter bokvelle? Beter finansiële reëlings? Beter tye van gemak en voorspoed? Beter ouderdomsvoordele? Groter skure, vol van alles wat ons nodig het om in styl af te tree?

Nee! God het vir ons beter in Sy eniggebore Seun gegee.

Hy het na die aarde toe gekom as ‘n mens om vir ons ‘n selfs groter, doelgerigte geloof te wys – en dit is, “om die wil van die Vader te doen.” Ons behoort meer tyd deur te bring om van Jesus te leer as om te probeer om iets uit Hom te kry. Ons behoort nie te bid dat God dinge vir ons maak gebeur nie – maar met ons.

Diegene wat so geoefen is in hulle geloof vir genesing, vir finansiële seëninge, vir oplossings op probleme – behoort, in plaas daarvan, al hulle geloof daarop te fokus om die “rus in Christus” te verkry. Daar is ‘n geloof wat nie rus in verhoorde gebed nie, maar in die wete dat ons Here sal doen wat reg is vir ons.

Moenie bekommerd wees oor of God “Ja!” of “Nee!” sê op jou versoek nie. Moenie terneergedruk raak wanneer die antwoord nie in sig is nie. Hou op dink aan formules en metodes vir geloof. Dra net elke gebed op aan Jesus en gaan aan met jou besigheid met vertroue. Hy sal nie een oomblik te vroeg of te laat wees om te verhoor nie. En as die antwoord wat ons soek nie kom nie, laat ons in ons harte sê, “Hy is al wat ek nodig het. As ek meer nodig het, sal Hy dit nie weerhou nie. Hy sal dit op Sy tyd, op Sy manier doen en as Hy nie aan my versoek voldoen nie, moet Hy ‘n volmaakte rede hê om dit nie te doen nie. Dit maak nie saak wat gebeur nie, ek sal altyd geloof in Sy getrouheid hê.

Mag God ons bewaar dat ons geloof nie die skepsel eerder as die Skepper dien nie.

God vergewe ons as ons meer besorg is oor gebede verhoor kry as om totale onderwerping aan Christus alleen te leer. Ons leer nie gehoorsaamheid deur die dinge wat ons kry nie, maar deur die dinge wat ons ly. Is jy gewillig om gehoorsaamheid te leer deur ‘n bietjie langer te ly met wat lyk soos onverhoorde gebed? Sal jy rus in Sy liefde terwyl jy geduldig wag op die belofte, nadat jy die hele wil van die Vader gedoen het?

Laat jou teologie eenkant staan en keer terug na eenvoud. Geloof is ‘n gawe, nie ‘n diploma nie. Geloof behoort nie ‘n las of ‘n legkaart te wees nie. Hoe meer kinderlik dit is, hoe beter werk dit. Jy het geen seminaar of handboek nodig nie – jy het geen gids nodig nie. Die Heilige Gees sal jou nader aan Jesus lei – wat die Woord is – deur wie geloof kom.

Download PDF