Ses Redes Waarom Gebed Nie Verhoor Word Nie! | World Challenge

Ses Redes Waarom Gebed Nie Verhoor Word Nie!

David WilkersonNovember 1, 1981

Die duiwel se finale strategie om gelowiges te mislei, is om hulle te laat twyfel aan die getrouheid van God in die beantwoording van gebed. Satan wil hê dat ons glo dat God sy ore gesluit het vir ons uitroepe en ons op ons eie gelos het om dinge vir ons self uit te werk.

Ek glo die grootste tragedie in die kerk van Jesus Christus is dat so min mense vandag in die krag van effektiewe gebed glo. Sonder die bedoeling om te laster, kan menigte van God se mense gehoor word waar hulle kla, "Ek bid, maar kry geen antwoorde nie. Ek het al so lank en so hard gebid sonder enige resultate. Al wat ek wil sien is 'n paar bewyse dat God dinge verander. Dinge gaan normaalweg aan - niks gebeur nie. Hoe lank moet ek wag?" Hulle besoek nie meer die binnekamer nie, omdat hulle glo dat hulle petisies en gebede iewers verlore geraak het by die troon. Ander is verseker dat slegs die Daniël, Dawid en Elia tipes hulle gebede na God toe kan deurkry.

In alle eerlikheid moet ons erken dat baie van God se heiliges met hierdie gedagtes stry - "As God se oor oop is vir my gebede en ek getrou bid, hoekom is daar dan so min bewyse van Sy antwoorde?" Is daar een besondere gebed wat u al so lank gebid het, en tot nou toe nie beantwoord is nie? Het selfs jare verby gegaan en nog steeds wag u, hoop u en wonder?

Kom ons wees versigtig om nie soos Job God aan te kla van traagheid en onbekommerdheid oor ons behoeftes en petisies nie. Job het gekla, "Ek roep na U om hulp, maar U antwoord my nie. Hier staan ek, maar U steur U nie aan my nie" (Job 30:20).

Sy visie van God se grootheid was troebel as gevolg van sy onmiddelike probleme, met die gevolg dat hy God aangekla het dat Hy hom vergeet het. God het hom ernstig daaroor bestraf.

Dit is tyd dat ons Christene ernstig kyk na die redes waarom ons gebede verwerp word. Ons kan daaraan skuldig wees dat ons God aankla dat Hy ons verwaarloos, terwyl ons eie optrede daarvoor verantwoordelik is. Laat my toe om ses van die baie redes waarom ons gebede nie beantwoord word nie, te noem.

Ons is nie vry om na willekeur te bid vir wat ook al ons selfsugtige gemoed uitdink nie. Ons is nie vry om in Sy teenwoordigheid te kom en ons eenvoudige idees te lug, of om onsamehangend en deurmekaar te praat nie. As God al ons petisies sonder diskresie teken, sal die uiteinde wees dat Hy sy heerlikheid weggee.

Daar is 'n wet van gebed! Dit is 'n wet wat bedoel is om armsalige, selfgesentreerde gebede uit te skakel - terwyl ter selfde tyd dit moontlik te maak vir eerlike soekers om met vrymoedigheid te vra. Met ander woorde, ons kan bid vir net wat ons wil, solank dit binne Sy wil is.

".omdat Hy ons gebede verhoor as ons enige iets volgens Sy wil vra." (1 Johannes 5:14).

Die dissipels het nie gebid volgens God se wil nie, hulle het gebid met wraaksug. Hulle het God dan ook so versoek, "Here, wil U hê ons moet vuur uit die hemel afroep om hulle te verteer. Maar Hy het omgedraai en hulle skerp tereggewys." (Lukas 9:54,55).

In sy hartseer het Job vir God gevra om sy lewe weg te neem. Wat as God so 'n gebed sou beantwoord het? Sodanige gebed was die teenoorgestelde van God se wil. Die Woord waarsku, "Moet nie dat jou lippe haastig wees om 'n saak voor die Here te uiter nie."

Daniël het op die regte manier gebid. Eers het hy na die Skrif toe gegaan en na die wil van God gesoek. Nadat hy 'n duidelike rigting en sekerheid oor God se wil gekry het, het hy teruggekeer na God se troon met 'n geweldige versekering. "Daarom het ek my na die Here God gewend in gebed en smeking." (Daniël 9:3).

Ons weet te veel oor wat ons wil hê en te min oor wat Hy wil hê.

"As julle bid ontvang jule nie, omdat julle verkeerd bid: julle wil net julle selfsugtige begeertes bevredig" (Jakobus 4:3).

God sal geen gebed beantwoord wat tot ons eer bydra of ons versoekings ondersteun nie. In die eerste plek, God beantwoord nie die gebede van 'n persoon wat sondige begeertes in sy of haar hart vertroetel nie. Alle beantwoording is afhanklik van die verwydering van boosheid, sondige begeertes en boesemsondes uit ons harte.

"As daar sonde in my hart was, sou die Here nie geluister het nie." (Psalm 66:18).

Die toets om te bepaal of ons versoek gebaseer is op sondige begeertes is baie eenvoudig. Hoe ons vertragings en weierings hanteer is die leidraad. Gebede wat op sondige begeertes gebaseer is, vereis haastige antwoorde. Wanneer die begerige hart nie die verlangde ding vinnig ontvang nie, dan kerm en skree dit, dit gaan in 'n beswyming en word flou - of dit breek uit in 'n tydperk van murmurering en geklaag, en dit kla God uiteindelik aan van doofheid.

"Waarom vas ons, maar U sien dit nie," (Jesaja 58:3).

Die begerige hart kan nie God se heerlikheid sien in sy weierings en vertragings nie. Tog, het God nie meer heerlikheid gekry deur Christus se gebed om gered te word van die dood, indien moontlik, te weier nie? Ek sidder om te dink waar ons vandag sou gewees het as God nie daardie versoek geweier het nie.

God, in sy geregtigheid, is verplig om ons gebede te weier of te vertraag totdat ons gebede skoongemaak is van alle selfsugtigheid en begeertes.

Kan dit wees dat daar 'n eenvoudige rede is waarom meeste van ons gebede verhinder word? Kan dit die effek wees van ons aanhoudende flirtasie met begeertes en boesemsondes? Het ons vergeet dat slegs dié met skoon hande en suiwer harte hulle voete op Sy heilige grond sal sit? Slegs die totale verlating van 'n troetelsonde sal die hekke van die hemel oop gooi en seëninge ontsluit.

In plaas daarvan om toe te gee, hardloop ons van raadgewer na raadgewer - en probeer ons hulp vind om met raadeloosheid, leegheid en rusteloosheid te help. Maar alles is verniet omdat ons sonde en begeertes nog nie uitgeruk is nie. Sonde is die wortel van al ons probleme. Vrede kom slegs wanneer ons oorgee en alle begeertes en geheime sondes versaak.

Ons gaan na God toe asof Hy 'n ryk familielid is wat ons onderhou en vir ons alles gee waarom ons bedel, terwyl ons self nie 'n hand lig om te help nie. Ons lig ons hande na God in gebed, en sit dit dan in ons sakke.

Ons verwag dat ons gebede God aan die werk sal sit vir ons, terwyl ons ledig sit en by onsself dink, "Hy het al die krag; Ek het niks, daarom sal ek stil staan en Hom die werk laat doen."

Dit klink na goeie teologie, maar dit is nie. God wil geen ledige bedelaars by Sy deur hê nie. God wil ons nie eers toelaat om vrygewig te wees teenoor die op aarde wat weier om te werk nie.

"Toe ons nog by julle was, het ons vir julle uitdruklik gesê: As iemand nie wil werk nie moet hy ook nie eet nie." (2 Tessalonisense 3:10).

Daar is niks onskriftuurlik omtrent die bysit van sweet by jou trane nie. Neem, byvoorbeeld, die saak om te bid vir oorwinning oor 'n geheime sondige begeerte wat in die hart bly draal. Vra jy doodeenvoudig net vir God om dit wonderbaarlik weg te neem en sit dan stil en hoop dat dit op sy eie sal doodgaan? Geen sonde in 'n mens se hart is al ooit oorwin sonder die samewerking van jou eie hand nie, net soos in die geval van Josua. Die hele nag lank het hy neergeboë en klaend oor Israel se nederlaag op die grond gelê. God het hom op sy voete getel en gesê, "Staan op. Hoekom lê jy met jou gesig in die grond? Israel het gesondig en my verbond wat Ek hulle opgelê het, verbreek.. Staan op, reinig die volk." (Joshua 7: 10-13).

God het alle reg om ons van ons knieë af te wek en te sê, "Hoekom lui rondsit en wag vir 'n wonderwerk? Het Ek julle nie beveel om te vlug van die eerste verskyning van boosheid nie? Jy moet meer doen as net om te bid teen jou begeertes, jy word beveel om daarvan af weg te hardloop. Jy mag nie rus alvorens jy alles gedoen het wat jou beveel is nie."

Ons kan nie heeldag aangaan om te lewe en toe te gee aan ons begeertes en boosheid nie en dan daardie aand na die binnekamer toe te hardloop en te bid vir 'n wonderwerk van verlossing nie.

Boesemsondes veroorsaak dat ons grond verloor in gebed met God, omdat eiesinninge sonde ons dan in werklikheid skaar aan die kant van die duiwel. Een van God se name is "Openbaarder van geheime" (Daniël 2:47). Hy moet die weggesteekte sonde wat in die donker is aan die lig bring, maak nie saak hoe heilig die een is wat dit probeer wegsteek nie. Hoe meer die uiterstes waartoe 'n mens gaan om die sonde weg te steek, soveel sekerder sal God dit aan die lig bring. Die pad is nooit oop vir boesem sondes nie.

"U sien ons oortredings raak, U bring die sondes wat ons wou wegsteek aan die lig." (Psalm 90:8).

God sal Sy eie eer beskerm bo die reputasies van dié wat in die geheim sondig. God het Dawid se sondes aan die lig gebring om sodoende Sy eie eer voor goddelose mense te kon behou. En Dawid, wat so jaloers was op sy eie goeie naam en reputasie, staan selfs vandag nog voor ons oë en bely nog steeds - elke keer as ons omtrent hom in die Skrifte lees.

Nee - God sal ons nie toelaat om van gesteelde water te drink, en dan probeer om van sy heilige fontein te drink nie. Nie net sal ons boesemsonde ons uitvind nie, dit sal God se beste vir ons verhoed en 'n vloedgolf van wanhoop, twyfel en vrees voortbring.

Moenie God blameer omdat Hy nie na jou gebede luister nie, jy luister nie na sy oproep om gehoorsaamheid nie. Die uiteinde sal wees dat jy God belaster en Hom beskuldig van nalatigheid, terwyl jy self al die tyd die skuldige is.

Christus sal nie met enige een onderhandel wat 'n wraaksugtige en onvergewensgesinde gees het nie. Ons word beveel, "Hou dan op met elke vorm van kwaad, met alle bedrog, huigelary, jaloesie en kwaadpratery. Soos pasgebore kindertjies smag na melk, moet julle smag na die suiwer geestelike melk," (1 Petrus 2:1,2).

Christus sal nie eers kommunikeer met 'n twisgierige en onvergewensgesinde persoon nie. God se wet rakende gebed is duidelik betreffende hierdie saak, "Ek wil hê dat die mans by elke plek van samekoms met 'n skoon gewete hande in gebed tot God moet ophef, vry van onmin en twis." (1 Timoteus 2:8). Deur nie die sondes wat teen ons gepleeg word te vergewe nie, maak ons dit onmoontlik vir God om ons te vergewe en te seën. Hy het ons beveel om te bid, "Vergeef ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe."

Is daar wraak teenoor 'n ander wat in jou hart smeul? Moenie daarna kyk asof jy 'n reg het om jouself daarin te verlustig nie. God neem sulke dinge baie ernstig op. Al die rusies en dispute tussen Christen broers en susters moet die Here se hart baie seermaak, meer as al die sondes van die goddeloses. Geen wonder ons gebede word verhoed nie - ons het so 'n obsessie met ons eie seer gevoelens en waar ander ons mishandel het.

Daar is ook 'n kwaadaardige wantroue wat besig is om te verskyn in gelowige kringe. Jaloesie, onbarmhartigheid, verbitterdheid - en 'n gees van wraaksug, alles in God se naam. Ons moet nie wonder as God die hemelpoorte vir ons sluit, totdat ons geleer het om lief te hê en te vergewe nie. Ja, selfs die wat ons die meeste seergemaak het. Kry hierdie "Jona" van jou skip af en die storm sal bedaar.

Hy wat min van gebed verwag, sal nie veel krag en outoriteit daarvan ontvang nie. Wanneer ons die mag van gebed bevraagteken, verloor ons dit. Die duiwel probeer ons beroof van hoop deur dit te laat lyk asof gebed nie meer effektief is nie.

Hoe slim is Satan tog deur ons met leuens en onnodige vrese te bedrieg. Toe Jakob die valse nuus gebring is dat Josef doodgemaak is, het dit hom siek gemaak van wanhoop, al was dit net 'n leuen. Josef het gelewe en het voorspoed geniet, terwyl sy vader al die tyd getreur het - deur die leuen te glo. So is Satan vandag besig om ons met leuens te bedrieg.

Ongelowige vrees beroof gelowiges van vreugde en vertroue in God. God hoor nie alle gebede nie - Hy hoor slegs gelowige gebed. Gebed is die enigste wapen wat ons het teen die vurige donkerte van die vyand. Die wapen moet gebruik word in groot vertroue, of anders het ons geen ander verdediging teen Satan se leuens nie. God se reputasie is op die spel.

Ons tekort aan geduld is bewys genoeg dat ons nie veel verwag van gebed nie. Ons verlaat die binnekamer van gebed, gereed om ons weg deur te strompel - en ons sal selfs geskok wees sou God ons antwoord.

Ons dink God het ons nie gehoor nie omdat ons geen bewys van die antwoord sien nie. Maar hiervan kan jy seker wees - hoe langer 'n gebed vertraag word, soveel te meer sal dit perfek wees wanneer dit voortkom. Net so, hoe dieper die stilte, hoe duideliker die antwoord.

Abraham het gebid vir 'n kind, en God het geantwoord. Maar, hoeveel jaar het verby gegaan voordat hy die kind in sy arms gehou het? Elke gelowige gebed word gehoor die oomblik wat dit gebid word, maar God besluit om op Sy eie manier en op Sy eie tyd te antwoord. In tussen verwag God van ons om ons te verbly in die naakte belofte en fees te vier in die hoop, terwyl ons wag vir die volbringing van Sy belofte. En Hy verpak sy weiering in pakkies van soete liefde, om ons te verhoed om in depressie te verval.

Die enigste persoon aan wie ons terme voorlê is aan die persoon wat ons nie vertrou nie. Die wat ons vertrou los ons aan hulle self oor om te doen wat reg is. Dit kom alles neer op 'n tekort aan vertroue.

Die gelowige siel sal nadat hy sy hart blootgelê het in gebed aan die Here, homself oorgee aan die getrouheid, goedheid en wysheid van God. Die ware gelowige sal die vorming van die antwoorde oorlaat aan God se genade. Op watter wyse God ook al besluit om te antwoord, die gelowige sal dit verwelkom.

Dawid het ywerig gebid vir sy huishouding, en het toe alles aan God se verbond toevertrou - "God het my koningskap goed gevestig, Hy het aan my 'n verbond vir altyd gegee." (2 Samuel 23:5).

Dié wat aan God voorskryf hoe en wat om te antwoord, beperk die Heilige een van Israel. Omdat God nie die antwoord by die voordeur gaan inbring nie, is hulle nie bewus dat Hy deur die agterdeur inkom nie. Maar God sal nie gebonde gehou word aan tyd, manier of metode van antwoord nie. Hy sal altyd baie meer doen, oneindig meer as waarvoor ons vra of selfs dink om voor te vra. Hy sal antwoord met gesondheid, of genade wat beter as gesondheid is. Hy sal liefde stuur, of iets wat verder gaan as dit. Hy sal dit verskaf, of selfs iets groter doen.

Hy verlang slegs dat ons ons versoeke in Sy kragtige arms laat, alles waaroor ons besorg is op Hom stort, en voortgaan om in vrede en reinheid te wag vir Sy hulp. Hoe tragies om so 'n magtige God te hê, maar so min geloof in Hom.

Niks meer van, "Is Hy bekwaam" nie? Weg met sulke lastering! Hoe moet dit nie die oor van ons Almagtige God pynig nie. "Kan Hy vergewe? Kan Hy genees? Kan Hy 'n werk vir my doen?" Weg met sulke ongeloof! Kom eerder na Hom toe "soos na 'n getroue Skepper toe." Toe Hanna in geloof haar versoek deurgebid het, het sy "opgestaan van haar knieë af om te gaan eet, en haar gesig was nie meer hartseer nie."

  • Wanneer jy neerslagtig is en Satan in jou oor fluister dat God jou vergeet het, stop sy mond hiermee -

"Duiwel - dit is nie God wat my vergeet het nie, maar dit is ek. Ek het al sy vorige seëninge vergeet, anders sou ek nie nou Sy getrouheid bevraagteken het nie."

Jy sien, geloof moet 'n goeie geheue hê. Ons harde en vinnige woorde is die resultaat van ons wat Sy verlede se voordele vergeet het. Saam met Dawid moet ons bid:

"My grootste smart is dat die Here nie handel soos voorheen nie. Ek wil dink aan die dade van die Here, ja ek wil dink aan U wonderdade van vroeër." (Psalm 77:10,11).

  • Verwerp daardie geheime fluistering fluistering in die siel wat sê, "Die antwoord sal so lank vertraag word, ek sal dit nie geniet as dit sou kom nie."

Jy kan skuldig wees aan geestelike muitery deur God nie te vertrou om op die geskikste tyd te antwoord nie. Jy kan seker wees dat wanneer die antwoord kom, dat dit sal kom op 'n manier en 'n tyd wat dit ten volle geniet kan word. As dit waarvoor jy gebid het nie die moeite werd is om voor te wag nie, dan is dit nie werd om voor te vra nie.

  • Hou op om te bekommer oor die ontvangs," en leer om op Hom staat te maak.

God mor of kla nooit oor die krag van Sy vyande nie, maar eerder oor die ongeduld van Sy eie mense. Hoe breek ongeloof nie Sy hart nie, met so baie wat wonder of hulle Hom moet liefhê, of Hom moet verlaat.

God wil hê dat ons op Sy liefde moet staatmaak. Liefde is die prinsiep waarvandaan Hy gereeld optree en waarvan Hy nooit afwyk nie. Wanneer Hy met Sy wenkbrou frons, met sy lippe bestraf, of met Sy hand slaan, selfs deur dit alles, brand Sy hart met liefde en al sy gedagtes rakende ons is van vrede en goedheid.

Alle geveinsdheid lê in wantroue En die siel wat nie op God kan vertrou nie, kan nie vir lank getrou wees aan God nie. Wanneer ons eers begin om Sy getrouheid te bevraagteken, begin ons op ons eie vernuf staatmaak en leef net vir ons self. Soos die terug gevalle kinders van Israel sê ons, "Kom maak vir ons 'n god dat hy ons kan lei. Hierdie man Moses het nou wel vir ons uit Egipte laat wegtrek, maar ons weet nie wat van hom geword het nie." (Eksodus 32:1).

Jy kan nie met God omgaan as jy nie op Hom staatmaak nie.

  • Wanneer jy terneergedruk is, mag jy kreun," maar jy mag nie kla nie.

Hoe kan liefde vir God bewaar word in die harte van die wat kla? Die Woord noem dit 'stry met God'. Wat `n onnosele persoon wat dit durf waag om fout te vind met God - Hy sal so `n persoon uitdaag om sy hand op sy mond te lê, of anders deur bitterheid verteer te word.

Die Heilige Gees in ons kreun, met daardie onuitspreeklike taal van die hemel wat bid volgens die perfekte wil van God. Maar die vleeslike gerommel wat voortvloei uit die hart van die ontnugterde gelowige is gif. Gemor het 'n hele nasie uit die Beloofde Land gehou, en dit hou vandag menigtes weg van die seën van God. Kreun as jy moet, maar God verbied dat jy mor en kla.

  • Hulle wat in geloof vra gaan voort om te dank in geloof.

"Sy woorde is soos silwer wat oor en oor in 'n oond gesuiwer is." (Psalm 12:6).

God sal nie toelaat dat 'n leuenaar of 'n verbreker van geloftes in Sy teenwoordigheid kom of sy voete sit op Sy Heilige grond nie. Hoe kan ons dan ooit tot die gevolgtrekking kom dat so 'n Heilige God ooit Sy woord teenoor ons sal breek? God het vir Homself 'n naam op aarde gemaak - 'n naam van 'Ewige Getrouheid'. Hoe meer ons dit glo, hoe minder bekommerd sal ons siele wees. In dieselfde mate wat daar geloof in die hart is, is daar ook vrede.

"Julle krag lê in stil wees en vertroue hê" (Jesaja 30:15).

God se beloftes is soos ys op 'n bevrore meer - wat Hy sê ons gewig sal dra. Die gelowige gaan uit op die ys met moed; die ongelowige met vrees dat dit onder hom sou breek en hom spartelend los.

  • Moet nooit, ooit twyfel omdat jy nie huidiglik van God hoor nie.

As God vertraag, dan is dit bloot omdat jou versoek meer rente ontvang in God se bank van seën. So versekerd was die heiliges van God dat Hy getrou is aan Sy beloftes, dat hulle hulle daarin verbly het, selfs voor hulle enige bewyse daarvan gesien het. Hulle het vrolik voortgegaan asof hulle alreeds ontvang het. God wil dat ons in lofprysing betaal voordat ons die beloftes verkry.

Die Heilige Gees staan ons in gebed by - en is Hý nie welkom by die troon nie? Sal die Vader die Gees iets weier? Nooit! Daardie gekreun in jou siel is niks minder as God self nie - en God sal Homself nie weier nie.

Heiliges van God - ons alleen is die verloorders as ons nie teruggaan om te waak en te bid nie. Ons word koud, sinlik en speels wanneer ons die binnekamer van gebed vermy. Wat 'n hartseer ontwaking sal dit vir hulle wees wat roekeloos geheime wrokke teenoor die Here herberg omdat hulle gebede nie beantwoord word nie, maar wat al die tyd self traag is. Ons is nie effektief of vurig nie. Ons sluit onsself nie in gebed saam met Hom toe nie. Ons het nog nie ons boesemsondes eenkant gesit nie. Ons bid meestal om dit vir ons eie begeertes te gebruik. Ons is materialisties, lui, ongelowig, vol twyfel - en dan wonder ons hoekom word ons gebede nie beantwoord nie.

Wanneer Christus terugkom, sal Hy nie geloof op die aarde vind nie, tensy ons teruggaan na ons binnekamers en ons afsonder met God en Sy Woord.

Tyd is min: die dag van die Here is op hande. Moet ons dan nie des te meer waak en bid nie?

Download PDF