Sewe Duisend Het Nie Gebuig Nie | World Challenge

Sewe Duisend Het Nie Gebuig Nie

David WilkersonApril 23, 2001

Ek wil jou na die berg Horeb in Israel neem, na ‘n donker grot. Binne-in die grot sit ‘n eensame profeet van God. Hierdie goddelike man is nou al bejaard, waarskynlik in sy tagtigs. En hy voel eensaam. Hy het totaal en al moed verloor met die samelewing.

Omtrent veertig dae tevore, het die profeet God gesmeek om hom dood te maak. Hy was oortuig, “Hierdie nasie is te ver heen. En die kerk het onherstelbaar afvallig geword. Elke leier is ‘n marionet van die duiwel. Herlewing is nou eenvoudig onmoontlik. Daar is geen hoop meer oor nie. Here, ek het genoeg gehad. Neem asseblief my lewe” (sien 1 Konings 19:4).

Wie was hierdie profeet? Dit was die heilige Elia. En hy het in so ‘n wanhopige toestand beland binne enkele ure nadat hy die grootste oorwinning van sy lewenslange bediening beleef het.

Jy onthou die storie. Op die berg Karmel, het Elia 850 valse profete getrotseer in ‘n lewe-of-dood kragmeting oor wie se God sou seëvier. Omtrent 450 van hierdie profete het die heidense god Baäl gedien; die ander 400 was priesters van die afgodsbosse wat deur die bose Koningin Isébel geplant is. Soos dit gebeur het in ‘n demoniese ritueel, het die Baäl profete begin deur te dans en te huil om hulle god te probeer wakker maak. Toe die waansinnigheid uiteindelik opgehou het, het die profete vreeslik gelê en bloei, totaal uitgeput.

Toe het Elia nader gekom vir sy beurt. Hy het eenvoudig tot die Here geroep en oombliklik het ‘n bonatuurlike vuur uit die hemel neergedaal. Die verswelgende ontploffing van hitte het beide die profeet se offer en die twaalf kruike water, wat hy daaroor gegiet het, verteer. Dit het selfs die klippe van die altaar verteer.

Wat ‘n verstommende vertoon van God se almagtige krag. Die valse profete het gesidder voor hierdie gesig. En selfs die afvallige Israeliete wat teenwoordig was, het almal op hulle knieë geval en uitgeroep, “Die HERE, Hy is God, die HERE, Hy is God” (1 Konings 18:39).

Elia het toe al 850 profete doodgemaak. Skielik was herlewing terug in Israel. Die ontwaking waarvoor Elia gebid het, het uiteindelik plaasgevind – of so het hy gedink: “Dit is God se uur. Dit is die begin van die herlewing waaroor ek so lank gepreek het.”

Elia was so vol energie, dat hy oor vyf-en-twintig myl terug na die hoofstad Jisreël toe, skoon vir Koning Agab se strydwa weggehardloop het. Sy gedagtes moes seker vol opwindende dinge gewees het: “Wie kan staan teen wat God vandag gedoen het? Hierdie nasie se sensuele, goddelose regering moet ineenstort. En Isébel is volgende. Sy mag dalk op hierdie oomblik terugjaag na haar afgodiese vader in Sidon. Daar is egter geen twyfel nie, sy het gehoor van die vuur uit die hemel en sy wil die Heilige Gees se reiniging ontsnap. Hierdie moet die grootste oomblik in Israel se geskiedenis wees!”

Elia was oortuig dat die mense nou na hom sou luister. Ek glo hy was vasbeslote om reguit na die verlate tempel te gaan om die suiwer aanbidding in Jisreël te herstel. Maar voor hy selfs naby die stad gekom het, was hy aangespreek deur ‘n boodskapper van Isébel. Die koningin het gedreig, “Mag die gode so doen en so daaraan toedoen – sekerlik sal ek môre sulke tyd jou siel maak soos die siel van een van hulle” (1 Konings 19:2). Sy het vir Elia vertel, “Jy het een dag om te lewe, profeet, voor ek jou doodmaak op dieselfde manier wat jy my priesters doodgemaak het.”

Binne vier-en-twintig uur van sy ontsaglike oorwinning op die berg Karmel, was Elia terug in die wildernis, bewend onder ‘n besembos. In sy gedagtes, het alles in sy gesig ontplof. En oornag, het al sy hoop vir ‘n herlewing verdwyn.

Veertig dae later vind ons Elia waar hy op sy eie in ‘n grot in die berg woon. Die Hebreeuse woord wat gebruik word vir woon beteken “om te stop of te bly.” Dit impliseer ook ‘n betekenis van “om te kla of om ‘n wrok te hou.” Waarskynlik het Elia besluit, “Dit is alles verby, klaarpraat. As ‘n wonderbaarlike vuur uit die hemel nie ‘n afvallige volk kan motiveer nie, kan niks nie.”

Dan vertel die Bybel vir ons, “En kyk, die woord van die HERE het tot hom gekom en vir hom gesê: Wat maak jy hier, Elia?” (1 Konings 19:9). Dit was God se manier van sê, “Wat pla jou, Elia? Waarom die woede? Wat is jou klagte?”

Skielik het die profeet sy opgekropte hart oopgemaak: “Ek het baie geywer vir die HERE, die God van die leërskare; want die kinders van Israel het u verbond verlaat, u altare afgebreek en u profete met die swaard gedood, sodat ek alleen oorgebly het, en hulle soek my lewe om dit weg te neem” (1 Konings 19:10).

Baie van dit wat Elia gesê het, was waar. God se volk was in ‘n treurige toestand. Boosheid was aan die orde van die dag in Israel. En ware profete was beswadder en hulle woorde bespot. Tog, ten spyte van al hierdie dinge, het Elia getrou gebly. Hy was heeltemal toegewy aan God se saak en het ywerig vir herlewing gebid. Maar hy was verkeerd om te dink dat hy alleen die Here se las gedra het.

Ek glo nie Elia was trots toe hy in wese die volgende gesê het nie, “Ek is die enigste oorblywende prediker, wat sonde haat en God vrees in hierdie nasie.” Na my mening, was Elia doodeenvoudig oorval deur eensaamheid. Ek glo hy het bedoel, “Here, as ander so ywerig soos ek is vir U, waar is hulle? Ek sien niemand teen sonde uitroep soos ek nie.”

Trouens, baie biddende mense is dikwels enkelinge. En baie min is groot sosialiseerders of gesellige persone. Waarom nie? Enigeen wat met die Here in gebed worstel, deel die las van sy hart. Hulle begin sien soos wat God sien. En hulle is in staat om die ware toestand van God se mense raak te sien. Hulle word ontnugter deur alle vlees en dwaasheid wat hulle in sy huis sien. En dit dryf hulle om op hulle aangesigte te val en te bid soos Elia, met ‘n gebroke hart vol kommer.

As jy ‘n mens van gebed is, het jy seker al net so eensaam gevoel soos Elia. Miskien treur jy ook oor jou nasie, veral die nimmereindigende rivier van bloed wat Amerika vergiet deur aborsie. Miskien roep jy uit, net soos Amos, “Here, laat my nie gemaklik terugsit, terwyl so ‘n groot slawerny steeds in U kerk bestaan nie.” Miskien wonder jy, net soos Elia, “Waar is die goddelike leiers en gebroke herders? Waar is diegene wat steeds glo in heiligheid in plaas van vleeslike metodes? Ek voel soos ‘n uit-pas-uit fanatikus. Asseblief, Here, bring my in gemeenskap met ander wat dieselfde dinge sien as wat ek sien.”

Dink nou aan Elia, alleen in daardie grot. Hy moes oorweldig gevoel het met uiterste eensaamheid. Toe het ‘n sagte, kalm stem na hom gekom en weer gevra, “Wat maak jy hier, Elia?” (1 Konings 19:13). Weereens het Elia geantwoord, “Ek alleen [het] oorgebly... en hulle soek my lewe om dit weg te neem” (1 Konings 19:14).

Hierdie keer het God hom geantwoord, “Jy is nie alleen nie, Elia. Binnekort sal jy my dienaar Hásael tegemoet gaan. Ek wil hê jy moet hom salf as koning oor Aram. En daar is goddelike Jehu, wat jy as koning oor Israel moet aanstel. Daar is ook die jong profeet Elisa, wat saam met jou sal bedien.”

Laastens, het die Here vir Elia gesê (soos vertaal is uit die oorspronklike Hebreeus deur Helen Spurrell), “Maar Ek sal sewe duisend in Israel laat oorbly, al die knieë wat nie voor Baäl gekniel en elke mond wat hom nie gesoen het nie” (1 Konings 19:18). God het in wese gesê, “Ek het 7,000 weggesteektes, Elia, manne en vroue wat nie toegegee het aan die gees van hierdie tyd nie. Hulle groei in my Gees. En hulle deel dieselfde las as jy.”

Onder hierdie 7,000 was daar 100 ware profete weggesteek in grotte deur goddelike Obádja. Obádja was ‘n hoë rangse goewerneur wat in bose Koning Agab se huishouding gedien het. Hy het die 100 profete weggesteek in twee grotte, vyftig op ‘n slag en het hulle lewend gehou met brood en water. Duidelik moes Elia geweet het van hierdie goddelike manne. En hy het ook geweet van Miga, ‘n goddelike profeet wat deur Agab in die tronk gestop is, omdat hy harde dinge oor hom geprofeteer het (sien 1 Konings 22:8). Tog, selfs al het Elia van hierdie manne geweet, was hy steeds oorval met eensaamheid in sy roeping.

God het ook ‘n weggesteekte oorblyfsel in hierdie geslag, wat nie voor die afgode van hierdie eeu gebuig het nie. Om hierdie konsep meer volledig te begryp, moet ons kyk wat met Israel in Elia se tyd gebeur het.

Baäl aanbidding het ontstaan by die Toring van Babel, onder Nimrod. Hierdie goddelose man het verklaar, “Laat ons vir ons ‘n naam maak” (Génesis 11:4). Daarom was Babel gebou as ‘n monument vir menslike sukses en prestasie. Bo-op was ‘n sterrewag, waar astroloë die hemelliggame gevolg het. Hierdie trotse volk het letterlik “na die sterre gereik.”

In Elia se tyd, het die god Baäl kamtig vir sy aanbidders sukses, roem en voorspoed verskaf. Diegene wat die afgod se voete gesoen het, het vervulling in elke gebied van materialisme en sensualiteit gesoek. Wie was hierdie Baäl aanbidders? Hulle was God se uitverkore mense, afvallige aanbidders van Jehova. Soos ek, mag jy wonder hoe God se mense aangetrek kon word deur sulke blatante afgodery.

In die eerste plek, was hierdie mense reeds deur God geoordeel, omdat hulle voorspoed vurig begeer het. Hulle moes na Egipte vlug waar hulle armoede, honger en haweloosheid beleef het. Daar het hulle gesien hoe Baäl se volgelinge materieel geseënd was. En hulle het geredeneer, “Ons het oorvloed van kos in Jerusalem gehad, terwyl ons voor ons afgode gebuig het. Ons was toe geseënd en suksesvol, met geen lyding nie. Maar sedert ons opgehou het om hierdie afgode te dien, het ons net swaarkry beleef. Laat ons teruggaan daarna om wierook te brand en drankoffers voor die koningin van die hemel te bring. Dan sal ons miskien weer die dinge kry wat ons wil hê” (sien Jeremia 44:16-19).

God se volk het geval onder ‘n kragtige verleiding van ‘n “sukses-evangelie.” ‘n Gees van gierigheid en hebsug het hulle vasgevang, sodat hulle lewens nou gesentreer was rondom rykdom en erkenning. Natuurlik is daar niks verkeerd om suksesvol te wees nie, maar slegs as jy dinge op God se manier doen: aan Christus vashou, getrou tiendes gee en jou onderwerp aan sy wil. Maar in Israel, was daar ‘n onheilige mengsel: die mense het voor Jehova gekniel, omdat hulle sy oordeel gevrees het, maar hulle het egter ook materiële dinge begeer.

Huidiglik woed dieselfde gees van Baäl in ons nasie. Op Wall Street, voor die V.S. Aandelebeurs, sien ons die beeld van hierdie heidense god. Dit is ‘n brons standbeeld van ‘n groot bul, wat ‘n “bulmark” verteenwoordig: toenemende voorspoed, groot rykdom en roem en menslike prestasie. Dit is die afgod voor wie  ons nasie buig.

Dink daaraan: ‘n mens word beskou as suksesvol as hy miljoene versamel. Hy mag genoeg geld hê om die res van sy lewe in gemak te lewe. Miskien het hy selfs ‘n sekere mate van erkenning bereik. Ek sê vir jou, dit maak nie saak of sy huwelik faal, of hy met prostitute omgaan en of hy onskuldige mense ruïneer in sy strewe na roem, mag en rykdom nie. Volgens die wêreld se standaarde, sal hy steeds beoordeel word as die toonbeeld van sukses.

Wat ‘n verwarde, onderstebo uitkyk op sukses. Tog is daar miljoene wat steeds daarna streef.  Ons hele nasie vra, “Wie wil ‘n miljoenêr word?” met die begeerte om skielik ryk te word.

In kerke oor die hele Amerika, is dieselfde verleidende Baälgees aan die werk. Menigtes van gelowiges word gedryf deur die dringende begeerte om baie ryk te word. Met die gevolg, dat hulle meegesleur word deur ‘n lewe van oordadigheid en bodemlose putte van skuld.

Hierdie gees het ook ‘n skewe uitkyk op sukses, soortgelyk aan die wêreld s’n. Toe ‘n Pinksterbeweging onlangs ‘n seminaar in Kanada vir “suksesvolle herders,” gehou het, was dit gestipuleer, dat slegs bedienaars met gemeentes van ten minste 1,000 dit mag bywoon. Waarskynlik was groot getalle hulle enigste maatstaf van sukses.

Ek het iets soortgelyks gesien toe ek vir die eerste keer begin werk het met bendes en verslaafdes in New York. Ek was voorgestel aan ‘n welbekende evangelis, wat ‘n kruistog by ‘n plaaslike gemeente gehou het. Wat daardie man my vertel het, het my geskok. Hy het gesê, “As jy dit nie maak teen die tyd wat jy vyftig is nie, sal jy dit nooit groot maak nie. Ek het vyf jaar oor om dit te maak. Huidiglik werk ek aan ‘n TV reeks, wat dalk my laaste kans is om hierdie doel te bereik.”

Ek was stomgeslaan. Wat het hy bedoel, om “dit te maak”? Wou hy een of ander roem hê? Vir my, het “maak dit” beteken om genoeg geld te maak om die elektrisiteitsrekening by Teen Challenge Center te betaal. Of dit het beteken om nog ‘n verslaafde te vind wat wou hê Jesus moet hom verlos.

Te dikwels meet ons sukses in die bediening deur hoe groot ‘n kerk is of hoe groot sy begroting is. As jy die gemiddelde Christen vra om te beskryf hoe God hom geseën het, sal hy waarskynlik antwoord, “Die Here het vir my ‘n nuwe kar, ‘n lekker huis en ‘n goeie inkomste gegee.” Eens sou dieselfde persoon egter antwoord, “God het my geseën met ‘n las vir gebed en ‘n vars visie vir verlore siele. Hy het my honger na Hom nuut gemaak.”

Jesus beskryf hoe sulke gelowiges louwarm geword het: “Dit is hulle wat die woord hoor...en die sorge van hierdie wêreld en die verleiding van die rykdom en die begeerlikhede in verband met die ander dinge kom in en verstik die woord, en dit word onvrugbaar” (Markus 4:18-19). Eenvoudig gestel, enigiets, wat inmeng met ons wandel met Jesus, is sonde. As ons toelaat dat iets in ons harte indring — ‘n strewe na sukses, geld of lof — sal dit ons op ons knieë voor Baäl bring. Ons geestelike oë sal verblind word. En ons harte sal koud word en nie meer ywerig vir Jesus wees nie.

Die Israeliete het na Baäl se kerk van sukses en voorspoed gestroom. En gou was hierdie afvallige kerk vol onuitspreeklike verdorwenheid. Dit is toe dat die Here by Elia geroem het oor die 7,000 wat nie gebuig het nie: “Ek het vir myself 7,000 regverdige heiliges bewaar. Hulle het alle begeerte na roem en sukses weerstaan. En hulle is geheel en al myne.”

Ons moet baie dankbaar teenoor God wees vir die talle groot helde van die geloof: ywerige profete soos Elia, onwrikbare gebedstryders soos Daniël, amptenare wat magtig gebruik is soos Obádja, manne en vroue wat magtige werke gedoen het soos Dawid en Debóra. Ek glo dit is reg vir ons om hulle voorbeelde te bestudeer om die geheime van ‘n goddelike lewe te kan onderskei.

Hoeveel van ons soek egter om daardie 7,000 onbekende dienaars, wie se name nie genoem word nie en geweier het om voor Baäl te buig na te volg? Sulke weggesteekte manne en vroue van geloof is min en skaars. Trouens, ek glo die oorblyfsel wat God vir Homself gereserveer het, is nie so groot as wat ons dink nie. Die Bybel maak dit duidelik dat in elke bose geslag, net ‘n klein oorblyfsel getrou bly staan het. Verder sal die kerk in die komende dae van chaos ‘n groot afval van gelowiges beleef.

Paulus skryf, “Net so is daar dan ook in die teenwoordige tyd ‘n oorblyfsel, ooreenkomstig die verkiesing van die genade” (Romeine 11:5). En Jesus waarsku, “Gaan in deur die nou poort, want breed is die poort en wyd is die pad wat na die verderf lei, en daar is baie wat daardeur ingaan. Want die poort is nou en die pad is smal wat na die lewe lei, en daar is min wat dit vind’ (Matthéüs 7:13-14).

Jy sien, dit was nie Elia se gebede alleen, wat die vuur uit die hemel laat neerdaal het nie. Dit was die roepstemme van die 7,000 weggesteekte, biddende God-liefhebbers. Hierdie mense was weggesluit in ondergrondse byeenkomste, het op die lande gebid, sommige het alleen in Agab se huis gedien, onbekend aan almal behalwe aan die Here. Tog was hulle getrou in hulle roeping om in te tree en God het hulle verhoor.

Sukses in God se oë word heeltemal vervul in bediening aan Hom. Sulke dienaars is nie besig om te probeer om dit “te maak” of om aardse sekuriteit te soek nie. Hulle wil slegs hulle Here ken en Hom bedien.

Dink aan die 100 profete wat deur Obádja weggesteek is. Hulle het ‘n afgesonderde bestaan in grotte gevoer vir ten minste drie tot vier jaar, tydens ‘n erge hongersnood. Hierdie manne het geen bediening na buite gehad nie. Hulle was heeltemal uit die publiek se aangesig en vergete deur die meeste mense. Hulle kon nie eers deel in Elia se oorwinning op die berg Karmel nie. Die wêreld sou hulle sonder twyfel mislukkings noem, nietige manne wat nog niks bereik het nie.

God het egter vir hierdie toegewyde dienaars die kosbare gawe van tyd gegee. Hulle het dae, weke en selfs jare gehad om te bid, te studeer, te groei en die Here te bedien. Jy sien, God het hulle gereed gemaak vir die dag wanneer Hy hulle sou vrystel om sy mense te bedien. Hierdie manne sou herders wees vir diegene wat na God teruggekeer het deur Elia se bediening.

Jare gelede het die Here my geseën met hierdie gawe van tyd. Voor ek ooit ‘n kerk gelei het, het ek na die woude gegaan en vir die voëls en bome gepreek. Ek het geen planne, geen agenda en geen drome gehad nie. Ek wou net God se hart leer ken. Daarom het ek daagliks gebid, die Here gesoek en Hom bedien. En ek het my Bybel van voor tot agter gemerk.

Later, as ‘n jong, maer, onervare prediker, het ek ‘n klein gemeente in ‘n klein dorpie in Pennsylvanië gelei. Ons het dienste gehou in ‘n onopvallende gebou met ‘n gelapte dak. Ons gemeente het hoofsaaklik bestaan uit plaasboere en steenkoolmyners. En ek was heeltemal onbekend. Te danke aan die voorbeelde van my biddende pa en oupa, het God my reeds ‘n man van gebed gemaak. En vandag kan ek eerlik sê, dat elke seëning wat ek sedertdien ontvang het, vanuit daardie kosbare, vroeë tyd saam met die Here kom.

Ek was weggesteek, nie deur iemand gesien nie. Maar God het die hele tyd my adres geken. En ek het my tyd wyslik gebruik. Vandag dring ek by elke jong bedienaar aan om dieselfde te doen. Ek hoor gereeld van jong predikers van oral oor die land wat desperaat is, omdat hulle nie ‘n nis in die bediening kan kry nie. My raad is, “Hou op om na bediening te kyk. Bring eerder jou tyd deur om God te soek. Hy weet waar om jou te kry. Hy sal jou roep wanneer Hy sien jy gereed is.”

“Vergeet van wat ander doen. Dit mag lyk of hulle jou verbygaan met groot werke. Maar in der waarheid, kan jy geen groter bediening hê as gebed nie. Strewe om ‘n sukses voor God se troon te wees. As jy die Here bedien en vir ander bid, is jy reeds ‘n sukses in sy oë. Alle ware bediening word deur gebed gebore.

Ons weet deur die hele Bybel heen, dat die getal sewe vergelyk word met God se ewige doel. Daarom glo ek die getal 7,000 wat God vir Elia genoem het, doodeenvoudig bestaan uit elkeen wat deel is van sy oorblyfsel. Die mense wat Hy vir Homself afgesonder het, kan 70 of 7 miljoen wees. Wat saakmaak is dat hulle heeltemal aan Hom oorgegee is.

So, wat is die eienskappe van hierdie oorblyfsel? Hier is drie kenmerkende punte:

  1. ‘n Onveranderlike toewyding om aan die Here vas te hou. Elke oorblyfsel gelowige het ‘n doelgerigte keuse om teen die gety van boosheid te swem. Die 7,000 in Elia se tyd, het getrou gebly, ten spyte van Israel se groot afval. Hulle samelewing het mal geword van sensualtiteit. Selfs hulle familiede en vriende het in die rigting van afgodery beweeg. Tog, ten spyte van die kragtige verleidings van die tyd, was die 7,000 in staat om teen die gety te staan. Hulle het skande, ontbering en vervolging beleef, met geen Bybels, prediking of die samesyn van buitestaanders nie. Trouens, hoe meer walglik hulle samelewing geword het, hoe meer regverdig het hulle geword. Elia het geweet die massas was dubbelhartig en dat hulle ‘n mate van beide God en die wêreld wou hê. En hy het hulle gekonfronteer en gesê, “En Elia het nader gekom na die hele volk en gesê: Hoe lank hink julle op twee gedagtes? As die HERE God is, volg Hom na; en as Baäl dit is, volg hom na!” (1 Konings 18:21). Het jy reeds jou stand vir Jesus ingeneem? Miskien is jy bang om weg te breek van jou ou vriendekring. Jy wil Christus hê, maar jy wil ook ‘n deel van jou ou lewe hê. Ek sê vir jou, dit sal nie werk nie. Jy word net weer teruggetrek na jou ou weë. Jy kan nie voor sondaars getuig as jy saam met hulle drink of lag vir hulle vuil stories nie.

    Paulus waarsku, “Daarom, gaan onder hulle uit en sonder julle af, spreek die Here; en raak nie aan wat onrein is nie” (2 Korinthiërs 6:17). Op ‘n stadium, moet jy jouself toewy en verklaar, “Ek gee nie om wat ander sê of doen nie. Ek is die Here s’n. En ek sal nie toegee aan die bose gees van hierdie tyd nie.”

  2. “n Gewilligheid om met die armes te identifiseer. Terwyl die samelewing die neiging het om met die rykes en suksesvolles te assosieer, sluit jy jouself by die lydende klas in. Soos Obádja, mag jy ‘n mate van sukses of statuur hê. Hoewel daardie goddelike man ‘n goewerneur in Isébel se huis was, was hy vasbeslote om God alleen te vrees. En hy het bewys dat sy hart by die armes gelê het deur daardie 100 gehawende, lydende profete te versorg.

    Ek dank God vir elke gelowige wat suksesvol is. Ons bediening is geseënd deur ruim offergawes van sekere baie suksesvolle gelowiges, wat daarvan hou om met die behoeftes van die armes te identifiseer. My vraag vir jou is egter, kan jy jouself herken in die volgende vers?  “Maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies...sodat geen vlees voor Hom sou roem nie” (1 Korinthiërs 27-29). Daar is eenvoudig nie baie ryk mense in die kerk van Jesus Christus nie. Jesus self het gesê, “Hoe beswaarlik sal hulle wat goed besit, in die koninkryk van God ingaan” (Lukas 18:24). Waarom is dit so? Dit is omdat baie min ryk mense gewillig is om met die veragtes van hierdie wêreld, wat God geroep en gekies het, te assosieer. Ek dink aan verskeie ryk besoekers wat ons aanbiddingsdienste by Time Square Church geniet, maar nie wil hê hulle vriende moet weet hulle woon dit by nie. Ons dienste sluit te veel armes, te veel rasse en te veel onverwagse dinge wat gebeur in. Uiteindelik kies daardie mense om meer sosiaal aanvaarbare kerke by te woon. Ek dink ook aan ‘n geliefde vrou in ons kerk, wat traktaatjies van die evangelie naby ons kantore uitdeel. Sy praat gebroke Engels en sy trek nie aan volgens die nuutste modes nie. Toe ek haar onlangs op die straat raakgeloop het, het die Here my gedring om vir haar ‘n klein offergawe te gee. Maar toe sy die geld in my hand sien, het sy geglimlag en gesê, “O nee, ek sal my tiendes môre bring.” Sy het gedink ek wou haar herinner om haar tiende te betaal! Hier was sy, reeds besig om die Here se werk te doen, maar die belangrikste in haar gedagtes was om by die kerk te wees om haar tiende te bring. Sy het vinnig bygevoeg, “Die Here onderhou my, pastoor.” Sy tel onder God se oorblyfsel en sy weet dit waarskynlik nie eers nie. Ek het verskeie goedgeklede besoekers aan ons kerk hoor opmerkings maak, “Daardie vrou gee ‘n slegte indruk van die kerk. Sy is swak geklee en sy kan skaars Engels praat.” Ek sê vir hulle, “As julle wil deel wees van God se heilige oorblyfsel, moet julle liewer in hierdie vrou se teenwoordigheid wíl wees op hierdie aarde. Anders sê Jesus, sal julle ook nie toegelaat word om saam met haar in heerlikheid te wees nie. Sy is reeds ‘n skitterende ster daar.”

  3. ‘n Vertroue op hoop. Die 7,000 in Elia se tyd het verdra weens hulle hoop op ‘n komende dag van verlossing. Net so vandag, is die kerk se geseënde hoop die spoedige wederkoms van Jesus. Met die blaas van een ramshoring, sal alle boosheid eindig. Ons Here sal wegdoen met alle doodmaak van baba’s, alle blatante perversies en alle etniese volksmoorde. Natuurlik moet ons evangeliseer, bedien en werk terwyl dit steeds dag is. Maar die hele tyd, moet ons lewe in die hoop dat Koning Jesus kom. En Hy bring ‘n nuwe wêreld saam met Hom, waar Hy sal heers vanaf sy ewige troon. Kenmerk hierdie drie punte jou as deel van God se heilige oorblyfsel? Indien wel, dan roem God in jou, “Hierdie een het sy hart vir My gegee. Hy is op My gefokus. En hy is geheel en al Myne!”
Download PDF

DAILY ENCOURAGEMENT IN YOUR INBOX

Sign up now to receive our Daily Devotional or E-newsletter.

SUBSCRIBE