Spanning in die Bovertrek | World Challenge

Spanning in die Bovertrek

Gary WilkersonJune 20, 2016

Wanneer Christene praat van die Bovertrek, praat hulle gewoonlik van Pinkster. Die woord “Bovertrek” dra ‘n blye betekenis vir die kerk en nie net omdat wonderlike dinge plaasgevind het daardie dag nie. Dit was ‘n gebeurtenis wat gevul was met kragtige beloftes vir elke volgeling van Jesus dwarsdeur die eeue.

Die Bovertrek was waar Jesus se dissipels op sy bevel vergader het 40 dae na sy Opstanding. Die Heilige Gees het op daardie vergadering neergedaal net soos Hy voorspel het, met vlamme bokant hulle koppe en ‘n nuwe taal wat vanaf hulle lippe gestroom het. Verbygangers was verbaas oor die gesig en die Heilige Gees het Petrus gelei om vir hulle te preek. Voor daardie dag was Petrus ‘n gebroke man, steeds geteister deur sy verloëning van Jesus. Maar nou was hy gevul met vrymoedigheid. Toe hy die Goeie Nuus van Christus verkondig het aan die skare, het 3,000 mense hulle saligheid ontvang.

Die Bovertrek praat van verkwikking, versterking en vernuwing vir die werk van God se koninkryk. Handelinge 3:19 sê vir ons sulke tye van verkwikking sou kom vir almal wat Jesus volg. Die belofte van die Heilige Gees was ‘n belangrike deel van daardie verkwikking.

Maar die Bybel praat ook van ‘n ander Bovertrek belewenis. Hierdie een het verskeie weke tevore plaasgevind en die dissipels het daar ‘n heel ander soort ondervinding gehad. Daardie Bovertrek was die plek waar die Nagmaal plaasgevind het die nag voor Christus se dood aan die kruis. Op daardie aand het Jesus oor moeilike onderwerpe gepraat – die lyding wat Hy sou verduur, sy naderende dood en die feit dat Hy die aarde en sy naaste vriende, die dissipels, sou verlaat.

Nie een van hierdie dinge was vir hulle maklik om te hoor nie. Trouens, hulle was geskok. Hulle was gewoond daaraan om te sien hoe hulle Meester wonderwerke verrig – op water loop, duisende kos gee met net ‘n paar broodjies en vissies, mense genees wat kreupel was van geboorte af, duiwels uitdryf uit geteisterde mense, selfs ‘n dooie man lewendig maak. Jesus was duidelik die langverwagte Messias wat God se Woord belowe het en gekom het om God se koninkryk op die aarde te vestig. Dink hoe moes dit gevoel het om te hoor dat dit alles verby was. Waarom moes sy wonderlike heerskappy skielik eindig? Toe Jesus hierdie moeilike dinge aan hulle oorgedra het, het die dissipels in ‘n soort ontkenning ingegaan.

Om Jesus te volg, beteken meer as net om seëninge te ontvang en wonderwerke te sien. Dit beteken om teregwysing en selfs bestraffing te aanvaar wanneer dit nodig is. Dit is nie die populêre onderwerp op Sondag-oggende of onder Christen outeurs nie. Om vir mense harde dinge te sê is nie polities of kultureel korrek nie. Maar God is nie die kultuur nie – Hy is ons familie. En net soos enige verantwoordelike ouer, skram Hy nie weg daarvan om sy kinders te rig op die pad van die lewe en weg van dinge wat tot vernietiging lei nie. Soms beteken dit om moeilike dinge te konfronteer.

Dit is wat Jesus in die eerste Bovertrek gedoen het. Toe Hy verklaar het dat Hy na sy dood toe gaan, het Petrus beswaar gemaak en gesê alles was reg. Christus het met verbasende oortuigingskrag gereageer: “Maar Hy het omgedraai en vir Petrus gesê: Gaan weg agter My, Satan! Jy is vir My ‘n struikelblok, omdat jy nie die dinge van God bedink nie, maar die dinge van die mense” (Matthéüs 16:23).

Praat van ongemaklik. Jy was seker al in vergaderings by die werk of rondom die etenstafel waar die atmosfeer skielik gespanne geraak het. Dit is vir niemand ‘n aangename tyd nie. Wat Jesus egter hier gedoen het, was net so kritiek as wat in die tweede Bovertrek gebeur het. Die Bybel sê vir ons waarom: “Kyk, U het ‘n welgevalle aan waarheid in die binneste, en in die verborgene maak U aan my wysheid bekend” (Psalm 51:8).

Hierdie soort pynlike lesse kom in die eerste Bovertrek. Dit gaan daaroor om met God ernstig te wees en die nuus mag dalk nie aangenaam wees om te hoor nie. Maar dit is absoluut noodsaaklik – omdat ons nooit ‘n tweede Bovertrek ondervinding sal hê sonder die eerste een nie.

Die Bovertrek belewenis is nie ‘n eenmalige gebeurtenis nie.

God gebruik die Bovertrek in ons lewens weer en weer, in siklusse. Die eerste Bovertrek – die hart-ondersoek ontmoeting – moet plaasvind voor ons die tweede Bovertrek ondervinding van verkwikking en versterking kan beleef.

My vader het gewoonlik hierdie eerste Bovertrek ondervinding “in die houthuis ingeneem word” genoem. Dit gaan daaroor om dinge in ons lewens, wat God nie veheerlik nie, aan te spreek. In sulke tye sê Hy vir ons, “Daar is ‘n olifant in die kamer en Ek moet dit by die naam noem. Jy dryf van My af weg. Jy het jou liefdes op aardse dinge toegespits en jy het jou eerste liefde vir My verloor. Ek sal nie toelaat dat jy verder gaan sonder om dit aan te spreek nie.”

By die eerste Bovertrek, wou Jesus afreken met die mengsel in die dissipels se harte. Hulle het waarskynlik nie eens geweet sulke dinge was in hulle nie. Die duidelikste voorbeeld is Petrus, wat vir Jesus gesê het hy sou Hom tot in die dood volg. Die Here het hom uitgedaag: “Jesus sê vir hom: voorwaar Ek sê vir jou, in hierdie nag, voordat die haan gekraai het, sal jy My drie maal verloën” (Matthéüs 26:34).

Petrus mag dalk net probeer het om dinge beter te maak as wat dit was. Maar God sal nie toelaat dat ernstige kwessies makliker gemaak word nie. Ons mag probeer om harde onderwerpe met ligsinnigheid weg te praat, maar ons Here het ‘n ernstige agenda: om ons harte in lyn te kry met syne. Dit is die enigste manier om te lewe.

Ondervind jy op hierdie oomblik ‘n eerste Bovertrek? Is daar dinge in jou lewe waarvan jy weet dat dit God nie behaag nie? Johannes 14 maak dit duidelik dat Hy daarmee wil afreken. Hy wil jou weglei van ‘n pad van slapte, middeweg en potensiële vernietiging. Om dit te bereik, sal Hy niks spaar nie. Sy reaksie teenoor Petrus was hard, maar ons weet uit die gevolge daarvan dat dit ‘n daad van liefde was. Jesus het in wese gesê, “Ek weet jy het my lief, Petrus. Maar daar is ‘n agenda in jou hart wat nie God s’n is nie. Ek konfronteer dit nou, want Ek wil nie hê dat dit vir jou aangenaam word nie. Ek het groter dinge vir jou in gedagte.”

Ons het almal dinge waarvan ons moet rekenskap gee teenoor God; dit is deel daarvan om ‘n Christen te wees. En die effek van God se heiligheid is om elke verborge ding aan die lig te bring. As daar enige duisternis in ons is, is dit sy manier om dit te openbaar, konfronteer en aan te spreek voor Hy sy uitstorting van seën bring.

As ons egter eerlik is, sal ons instem dat ons geneig is om ons duister areas verborge te hou. Ons is skaam om daardie areas teenoor ‘n ander persoon te openbaar. Maar soms is dit presies wat ons moet doen om te help dat sonde sy greep op ons verloor. Hierdie soort intieme belydenis vereis ‘n betroubare vriend – iemand wat saam met ons kan stap, ons kan help om ons las te dra en saam met ons te staan in gebed. Jakobus beskryf die seën wat saam met hierdie praktyk kom: “Bely mekaar julle misdade en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word. Die vurige gebed van die regverdige het groot krag” (Jakobus 5:16).

Die tweede Bovertrek kom slegs na diegene wat toelaat dat hulle harte herstel, genees, verander en getransformeer word deur die krag van God se Woord. As jou hart bekeerd is – as jy wegdraai van sonde en jou lewe in lyn met sy Woord bring – sal Hy jou herstel tot sy volheid. Jy sal Pinkster, die uitstorting van sy Gees in ‘n gereinigde hart, beleef. En jou blydskap vir die lewe sal vernuwe word, omdat jou hart versterk word deur sy heiligheid eerder as wat dit verswak word deur sonde.

Te midde van die spanning, het Jesus ‘n woord van lewe tot die dissipels gespreek.

“Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie in My glo – die werke wat Ek doen, sal hy ook doen; en hy sal groter werke doen as dit, omdat Ek na my Vader gaan” (Johannes 14:12). Baie is al oor hierdie vers geskryf. Wat bedoel Jesus wanneer Hy sê dat ons groter werke sal doen as wat Hy gedoen het?

Ons vind ‘n sleutel in die laaste frase: “omdat Ek na my Vader gaan.” Wat presies het gebeur omdat Jesus na die Vader gegaan het? Ons vind dit gou uit in die toneel net na sy dood: die Skrif sê dat die aarde letterlik gebewe het. Grafte het oopgegaan en die dooies het lewend daar uitgekom. Ons word vertel dat Jesus die goeie nuus verkondig het aan die dooies in die doderyk. Laastens, toe Hy na die Vader opgevaar het, het Hy die volgende vir ons versoek: “En Ek sal die Vader bid, en Hy sal julle ‘n ander Trooster gee om by julle te bly tot in ewigheid” (Johannes 14:16). Deur na die Vader te gaan, sou Jesus almal red wat Hom aanroep. Hy sou die opstandingslewe verskaf. En Hy sou sy volgelinge vul met sy eie teenwoordigheid deur die Heilige Gees. Hierdie werke was nog nooit tevore gedoen terwyl Jesus op die aarde was nie. Van alles wat Hy in die kort tyd gedoen het na sy dood, het dit tot die volgende gelei: Hy het ons een met God gemaak. Dit kon slegs gebeur “omdat Ek na my Vader gaan” (Johannes 14:12).

Dit verklaar die groter werke wat Christus gesê het ons sou doen “omdat Ek na my Vader gaan.” In ons vlees is ons geneig om te dink aan “groter werke” op dieselfde skaal as Jesus se ontsagwekkende wonderwerke: deur groot skares met ‘n bietjie oorskiet kos te voed, op water te loop en verstommende demonstrasies van genesende krag. Maar met hierdie een frase – “en hy sal groter werke doen as dit, omdat Ek na my Vader gaan” – het Jesus vir ons gewys wat daardie werke is: om die lig van sy evangelie te bring – die reddende, verlossende, lewensveranderende evangelie – na die wêreld.

Die Skrif sê die engele het na ons afgekyk en was verwonder oor die gawe wat aan ons gegee is. Dink daaroor: Dit is een ding om fisieke genesing te bied aan iemand – dit is ‘n heeltemal ander saak om verlossing te bied vir die hele ewigheid en ook oorvloedige lewe vir hierdie wêreld. Jesus gee vir ons al die bronne van die hemel om hierdie Goeie Nuus in waarheid en krag te bring: “En wat julle ook al in my Naam mag vra, dit sal Ek doen, sodat die Vader in die Seun verheerlik kan word. As julle iets in my Naam vra, sal Ek dit doen” (Johannes 14:13-14).

As ons hierdie vers lees, dink ons weereens aan die verstommende skaal van Jesus se ontsaglike wonderwerke. Maar Jesus praat hier van koninkryk aktiwiteit – redding, verandering, lewe in oorvloed. Wanneer Hy sê, “Wat julle ook al in my Naam vra,” sal ons versoek openbaar wat in ons harte is. Vra ons vir wonderwerke omdat ons dink dit sal God sigbaar verheerlik? Of vra ons vir resultate in die koninkryk maak nie saak hoe klein die skaal is waarop dit plaasvind nie? Jakobus waarsku, “Julle bid en julle ontvang nie, omdat julle verkeerd bid, om dit in julle welluste deur te bring” (Jakobus 4:3).

Volgens Jesus is daar slegs een kwalifikasie om die groter werke, waarvan Hy praat, te doen: “wie in My glo – die werke wat Ek doen, sal hy ook doen” (Johannes 14:12, klem myne). Elke Christen glo. Dit beteken dat ons almal in staat is om die groter werke te doen waarvoor Jesus ons aangestel het om te doen.

Maar om daardie werke te doen, moet ons ‘n rein hart hê. Die daaropvolgende ding wat Jesus sê is, “As julle My liefhet, bewaar my gebooie” (Johannes 14:15). Ons moet sy Woord gehoorsaam. En as ons harte gereinig is, sal daardie gehoorsaamheid nie teësinnig wees nie, maar dit sal ‘n daad van liefde wees, soos Christus sê.

Is dit vir jou moeilik om God se Woord te bewaar? Hier is Jesus se kroon belofte aan jou: “En Ek sal die Vader bid, en Hy sal julle ‘n ander Trooster gee om by julle te bly tot in ewigheid: die Gees van die waarheid” (Johannes 14:16-17). Let op die woord “Trooster” hier. Jesus gee vir ons die hulp wat ons nodig het om Hom te gehoorsaam, deur sy Heilige Gees, wat ons raadgee op ons pad.

Ek wil iets subtiel uitwys in hierdie vers wat ek dink belangrik is. As Johannes praat van die Gees, gebruik hy ‘n woord wat verskil van die ander evangelieskrywers. Hulle gebruik die Griekse woord pneuma, wat ‘n betekenis naby aan die woord “asem” het. Maar Johannes gebruik die woord hagios, wat manlik is en vertaal kan word as “Sy-asem.” Jesus sê in wese, “Die Gees wat ek vir julle stuur is nie ‘n mis of ‘n wasem nie. Hy is ‘n ware persoon – ‘n ander Ek.”

“In dié dag sal julle weet dat Ek in my Vader is, en julle in My, en Ek in julle. Wie my gebooie het en dié bewaar, dit is hy wat My liefhet; en wie My liefhet, hóm sal my Vader liefhê, en Ek sal hom liefhê en My aan hom openbaar” (Johannes 14:20-21).

Wat meer het ons nodig as dit? Christus het ons gevul met sy eie teenwoordigheid. En Hy manifesteer Homself in ons as ons die werke doen wat Hy voor ons gestel het. Ek moedig jou aan om saam met my te bid: “Here, ek is gewillig – bring my na u eerste Bovertrek. Spreek tot my hart; moet my nie ongekorrigeerd in my weë los nie. Maak u Woord weer vir my kosbaar, sodat ek die werke mag doen wat U begeer. Doen wat U ook al moet om my te lei in die volheid wat U vir my lewe begeer. U is my blydskap. Amen!”

Download PDF