Vergewe My, Here, dat Ek U Laat Huil | World Challenge

Vergewe My, Here, dat Ek U Laat Huil

David WilkersonJuly 31, 2006

Lukas 19 gee ons ‘n kragtige beeld waar Jesus Sy laaste intog in Jerusalem maak. Die beeld is van Christus wat die stad op ‘n donkie nader onder die luide applous van lofprysings van ‘n groot skare. Hy het by die Olyfberg begin en hoe nader Hy aan die stadspoort gekom het, hoe groter het die skare geword. Gou het die mense hulle kledingstukke voor Hom neergegooi, en palmtakke gewaai en uitgeroep, “Hy is hier! Die uur het gekom vir die koning van Israel om te arriveer. Vrede het na Jerusalem gekom. Uiteindelik, die koninkryk is hier!” Waarom was daar so ‘n groot vreugde, so ‘n luide hosanna? “Omdat hulle gedink het dat die koninkryk van God onmiddelik moes verskyn” (Lukas 19:11). In die mense se gedagtes was Jesus die voorloper van die aankoms van God se beloofde “koninkryk op aarde.”

Tog beteken dit nie dat hulle Hom as hulle Messias vertrou het nie. Hulle enigste gedagte was dat God se heerskappy begin het: “Totsiens, Romeinse regering! Daar sal nie meer oorloë wees nie, omdat ons koning sal opstaan met ‘n swaard en elke vyand sal afsny. Ons gaan vrede in Jerusalem sien, met geen slawerny meer nie, geen voedsel tekort nie. God het uiteindelik Sy verwagte Koning gestuur.”

Niemand het die dag vermoed wat volgende sou gebeur nie. Soos wat Jesus van die berg afgekom het en die menigtes Sy lof besing het, het Hy oor Jerusalem uitgekyk – en in trane uitgebars. “Toe Hy nog nader kom en die stad voor Hom sien, het Hy daaroor gehuil” (Lukas 19:41). Hier was God in die vlees, en Hy het gehuil!

Die konsep van ‘n weenende God is veragtelik vir die gemoed van die goddelose: “God wat huil? Waarom sal enige iemand ‘n godheid wil aanbid wat swakheid ten toon stel?”

Tog is dit presies wat Jesus hier gedoen het, Hy’t gehuil. Die rede vir Sy trane? Dit was die mense se duidelik ongeloof. U mag dink, “Maar hierdie skare het Sy lof besing, en hosannas uitgeskree. Dit klink nie vir my soos ongeloof nie.” Tog vertel die Woord ons duidelik dat Jesus geweet het wat in die mens se hart is. Die feit is, hierdie selfde skare sou in ‘n kort tyd verhard gewees het met moordadige ongeloof teenoor Hom.

Dit was tydens hierdie ongelooflike oomblik in Israel se geskiedenis dat Jesus in diepe foltering uitgeroep het oor die mense se hardheid: “Jerusalem, Jerusalem! Jy wat die profete doodmaak en die boodskappers stenig wat na jou toe gestuur is, hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak soos ‘n hen haar kuikens onder haar vlerke bymekaarmaak, maar julle wou nie!” (Matteus 23:37).

Onthou, hierdie was dieselfde menigtes wat die ongelooflike wonderwerke wat Jesus in hulle midde gedoen het, gesien het. Blinde oë kon sien, dowe ore kon hoor, die kreupeles kon loop, die dode is opgewek – en die skare het dit alles aanskou. Tog ten spyte van so ‘n duidelik bewys van elke Ou Testamentiese profesie oor die Messias – ten spyte van die profetiese woorde wat die skare veronderstel was om te heilig – sou hulle hulle hart in ongeloof verhard.

In wese het Jesus aan hierdie mense gesê, “Ek het vir julle wonderwerke, tekens en wonders gegee. Ek het in julle behoeftes voorsien, julle siekes genees en het julle op ‘n wonderbaarlike manier gevoed. Ek het aan julle elke voorbeeld van liefde wat die Vader verteenwoordig gegee. Maar julle het daardie liefde verwerp.

Soos Jesus oor die stad uitgekyk het, het Hy die aaklige koste van sulke hardheid van hart vooruit gesien. Tog was Hy nie bereid dat een enkele persoon van die skare moes omkom nie. Hy het hulle nog steeds liefgehad, en ons hoor die liefde in hierdie traangevulde woorde: “Kyk, nou word julle stad as puinhoop aan julle oorgelaat” (Matteus 23:38).

Jesus, het inderdaad die betaaldag van ongeloof gesien aankom. En Hy het aan die skare geprofeteer. “Daar sal dae oor jou kom dat jou vyande vestings teen jou oprig en jou omsingel en jou van alle kante beleër. Hulle sal jou met die grond gelyk maak en jou inwoners uitwis. Hulle sal in jou nie een klip op die ander laat bly nie, omdat jy die betekenis van die tyd toe God gekom het om jou uit te red, nie besef het nie” (Lukas 19:43-44, my kursief).

Christus het geweet dat oor omtrent sewentig jaar, die Romeinse generaal Titus Jerusalem sou inval en die stad tot die grond toe sou afbreek. Sy magtige mure sou kantel en die tempel sou vernietig word, en die nasie geterroriseer. Wat ‘n verskriklike betaaldag sou Israel beleef vir sy blatante verwerping van God se liefde.

Tog kom dieselfde ongeloof vandag voor: Hoe voel Jesus oor die hardheid en gif wat vandag op Hom gemik is? Daar is ‘n wêreldwye houding van rebellie en godslastering wat sê, “Ons sal nie buig onder enige van God se reëls nie.” Ek weet hoe ek persoonlik voel oor so ‘n houding: diepe droefheid gemeng met woede. Ek vra die Here voortdurend, “Hoe kan die wêreld vir so lank daarmee weg kom om U so verskriklik te bespot?”

Dit veroorsaak dat ek wonder: soos Jesus oor Jerusalem gehuil het, het Hy nie ook die wonde gevoel van die verharde wêreld wat aan die kom was nie? Het Hy toe al voorsien dat die groot bevolking van die aarde nog steeds Sy naam sou bespot twee duisend jaar later? Het Hy ook die wonde gevoel van toekomstige gelowiges, wat Hom nog steeds sou verwerp in eeue om te kom? Was die trane wat Hy gestort het oor al die oordele wat sou kom as ‘n gevolg van ongeloof?

Dink net hoe kragtig Sy evangelie voortgaan deur die eeue. Duisende der duisende predikers en sendelinge preek Christus nou regoor die wêreld. ‘n Menigte liefdadigheidsorganisasies doen eindelose werk van erbarming in Sy naam. En ‘n hele aantal mense staan as getuies van Sy liefde ten spyte van die verskriklikste vervolging wêreldwyd. Tog vir ‘n groot gedeelte van die kerk van Jesus Christus, is geloof ‘n eenmalige, een-krisis verskynsel. Wanneer hulle volgende krisis ookal kom – ‘n beproewing met heelwat meer intensiteit – dan wankel hulle geloof, en twyfel tree in.

Regdeur die Psalms en ander wyse geskrifte word ons vertel dat ons ‘n God het wat lag, huil, treur, wie se woede opgewek kan word. Eweneens, vertel die Nuwe Testament vir ons van ‘n Hoë Priester in die hemel wat geraak word deur ons swakhede; dieselfe vlees-en-bloed Persoon wie God was op aarde is nou ‘n verheerlikte Persoon in die ewigheid.

Sonder twyfel, ons God is ‘n God wat voel. En ek moet wonder: hoe kan Jesus nie gewond word deur die groot ongeloof wat vandag regoor die wêreld plaasvind nie?

Dink aan die ongeloof van die dissipels in die boot met Jesus, soos dit deur die rollende branders gevul is. Hoe gewond moes Jesus nie gewees het toe hulle die beskuldigings, en woorde van ongeloof aan Hom gerig het nie: “Meneer, gee u nie om dat ons vergaan nie?” (Mark 4:38).

Wat van die tye toe Jesus op ‘n wonderbaarlike manier die skare van 5,000 en later 4,000 mense met slegs ‘n paar vissies en brode gevoed het? Hy het die kos wonderwerk twee maal bewerk, en sodoende ‘n totaal van 9,000 mense gevoed, dit was sonder die vrouens en kinders by die verskillende geleenthede. Tog na die ongelooflike werke, was Jesus se eie dissipels nog vasgeval in ongeloof. Na een so ‘n wonder van kosgee, het Christus met hulle gepraat oor die suurdeeg van die Fariseërs, en “hulle het toe vir mekaar gesê dit is omdat hulle nie brood het nie” (Mark 8:16).\

Jesus moes geskok gewees het deur hulle woorde. Hy het sopas op ‘n wonderbaarlike manier brood vir die massas vermeerder, voor die oë van sy dissipels. Dit was duidelik dat hy gewond was toe Hy hulle antwoord, "Waarom praat julle daaroor dat julle nie brood het nie? Begryp en verstaan julle nog nie? Is julle nog steeds so traag van begrip? Julle wat oë het, sien julle dan nie? Julle wat ore het, hoor julle dan nie? Onthou julle dan nie, toe Ek die vyf brode vir die vyf duisend gebreek het, hoeveel mandjies vol stukke brood julle oorgehou het nie? … Verstaan julle dan nog nie?” (Mark 1:17-19, 21).

Het Jesus dalk nodig gehad om op daardie oomblik ‘n traan uit Sy oog te vee? Het Hy gehuil oor hulle ongeloof terwyl hulle enkele oomblikke gelede gesien het dat Hy die onmoontlike kan verrig? Het Hy gehuil omdat Hy besef het dat, ten spyte van Sy wonderwerkende liefde, hulle Hom nog steeds nie vertrou het nie?

Wat van na die Opstanding, toe Jesus aan twee dissipels verskyn het op die pad na Emmaus? Onthou u hoe terneergedruk die twee was, toe hulle nog steeds nie besef het wie saam met hulle gestap het nie? Jesus het gevra wat hulle kwel, en hulle het geantwoord, “Is u dan die enigste vreemdeling in Jerusalem dat u nie weet van die dinge wat in die afgelope dae daar gebeur het nie? …

“Ons het so gehoop dat dit Hy is wat Israel sou verlos… En nou het ‘n paar vroue uit ons kring ons ook nog ontstel. Hulle was vanmôre vroeg by die graf en kon sy liggaam nie kry nie. Hulle het kom vertel dat hulle ‘n verskyning gesien het van engele wat gesê het Hy lewe. Sommige van ons mense het ook na die graf toe gegaan en dit net so gekry soos die vroue gesê het, maar Hom het hulle nie gesien nie” (Lukas 24:18, 21, 23-34).

In kort, toe die dissipels Jesus nie by die graf kon kry nie, het hulle nie meer geglo nie. En hulle het die getuienis van die vrouens wie die verslag van die engele oor die Opstanding gebring het, verwerp.

Hoe moes dit Jesus nie gewond het nie! Selfs die kerk in Sy tyd het nie in Sy opstanding geglo nie. Dit was toe, op die pad na Emmaus met die twee ongelowige dissipels, dat Jesus hulle berispe het: “Wat ‘n gebrek aan begrip en wat ‘n traagheid van gees! Glo julle dan nie al die dinge wat die profete gesê het nie? Moes die Christus nie hierdie dinge ly om in Sy heerlikheid in te gaan nie?” (24:25-26).

Sy eie volgelinge het nie die woorde wat Hy vooraf oor Sy dood, begrafnis en opstanding met hulle gedeel het, onthou of geglo nie. Ons sien dieselfde gewonde reaksie in Christus toe Hy aan die hele groep verskyn het: “Later het Jesus aan die elftal self verskyn terwyl hulle aan tafel was. Hy het hulle verwyt oor hulle ongeloof en hardheid van hart omdat hulle die wat Hom na sy opstanding gesien het, nie geglo het nie” (Mark 16:14). Die woord “verwyt”, beteken hier om te berispe.

Sommige van ons lesers mag dalk wonder waarom ons sagmoede medelydende Here so hard met Sy dissipels gepraat het. Tog maak die Evangelies dit hier oorvloediglik duidelik: Christus was diep geraak deur hulle ongeloof. Hierdie manne was Sy naaste vriende, Sy binne-kring, diegene wat Hy met die hand uitgesoek het om as pilare in die kerk te dien. Tog was dit duidelik, toe Jesus die bo-vertrek betree, Hy hulle hoor praat het asof daar geen opstanding was nie, geen lewende Christus nie – en hulle hardheid van hart het trane in Sy oë gebring.

Die diepste wonde kom van ons binne-kring: die mense naaste aan ons, die wat die mees intiemste betrokke is by ons harte, vriende in wie ons ons vertroue geplaas het.

As ek dink aan die wat die “Da Vinci Code” bevorder en “The Judas Gospel” … wie probeer om wette te maak om God uit ons gemeenskap te verwyder… wie Christus bespot en vervloek … besef ek nie een daarvan kan ons Here en Verlosser wond nie. Sulke goddelose mense se ongeloof en hardheid kan verwag word. Jesus self het gesê, "Die kinders van die duiwel doen wat hulle vader hulle vertel om te doen.” Hulle aksies is eenvoudig net ‘n bewys van hulle instruksies van die hel. Ek dank God vir elke verdediger van die geloof wat rustig die pen opneem en Satan se leuens blootstel.

Dit is die ongeloof van ‘n menigte ongevoelige kerkgangers wat ons Here wond. Hoe moet dit Hom nie seermaak om te sien dat Sy mense Hom prys, en van sy goedheid en krag getuig, aandoenlike preke oor geloof preek – tog weet God dat dit net huigelary is. In tye van krisis, val baie van hierdie mense weg van die geloof, en dink hulle dat God nie omgee nie.

Tog is dit ook nie hierdie mense wat Jesus die meeste wond nie. Sy diepste wonde word toegedien deur Sy naaste, mees intiemste vriende. Ons weet uit die Woord dat God nie die een mens bo die ander stel nie, Hy trek niemand voor wanneer dit by redding kom nie; almal word gered deur geloof alleen. Tog het Christus ‘n binne-kring van naby vriende gehad, mense wie Hy spesiaal vertrou het. Ons sien in werklikheid menslike vrienskappe met God in beide Testamente: wanneer die Here Abraham Sy “vriend” noem… wanneer Moses gekies is om met die Here van aangesig tot aangesig te praat … en dwarsdeur die Evangelies.

Wie was in Jesus se binne-kring? Die evangelie skrywers sê oor en oor dat Christus se sirkel bestaan het uit Petrus, Jakobus en Johannes. Hierdie was die enigstes wat Jesus saam met Hom geneem het toe hy ‘n jong dogter uit die dood opgewek het. Hulle was ook met Christus tydens die glorieryke oomblik op die Berg van Verheerliking. En hierdie drie was die laaste dissipels saam met Jesus in Getsemane, toe Hy hulle gevra het om saam met Hom te waak en te bid. Dit is duidelik dat hier ‘n binne-kring was wat naby aan die Here was.

Tog in Betanië, het Jesus ‘n meer intieme sirkel gehad. Dit het bestaan uit Marta, Maria en hulle broer, Lasarus. Die familie se huis het as Jesus se skuilplek gedien weg van die drukkende skare, met Marta wat maaltye voorberei het, Maria ‘n toegewyde volgeling, en Lasarus ‘n dierbare vriend wie Jesus kon vertrou. Johannes se evangelie stel dit duidelik, “Jesus het vir Marta en haar suster en Lasarus liefgehad” (Joh 11:5).

Hier was ‘n huis waar Jesus vertrouie is ‘n bekende een. Lasarus het ernstig siek geword, en sy susters het ‘n dringende boodskap na Jesus gestuur: “Here, hy vir wie U lief is, is siek.” Maar Christus het gewag totdat Lasarus gesterf het voordat Hy na hulle gegaan het. Waarom? “… het Hy gesê: ‘Hierdie siekte sal nie op die dood uitloop nie maar op die openbaring van die mag van God sodat die Seun van God daardeur verheerlik kan word” (Joh 11:3-4).

Ons weet dat Jesus eenvoudig net ‘n woord kon spreek en Lasarus sou gesond gewees het. Eweneens, kon Jesus na Lasarus se siekbed gegaan het en hom daar gaan genees het. In plaas daarvan, sê Christus, “en om julle ontwil is Ek bly dat Ek nie daar was nie sodat julle in My kan glo. Maar kom ons gaan na hom toe” (Joh 11:15).

Dit is een ding om te glo in die genesing van ‘n siek man, en heeltemal ‘n ander om te glo dat ‘n dooie man uit die dood kan opstaan. In hierdie toneel, was Jesus besig om ‘n geleentheid te skep vir Sy binne-kring van vriende om te glo in wat absoluut onmoontlik was. In wese het Hy vir Marta en Maria gesê, “Ek is bly dat Ek nie daar was toe dinge sleg gelyk het nie. En Ek is bly dat ek nie vroeër opgetree het nie. Ek het toegelaat dat die situasie by alle moontlikhede verbygegaan het, alle menslike hoop, omdat Ek wou hê dat julle My opstandings krag moes aanskou.”

Die ontmoeting was nie soseer oor Lasarus se dood, as wat dit oor Christus se eie dood was nie. Dink daaroor na: wanneer die tyd gekom het vir Jesus om die kruis in die oog te staar, hoe sou Sy volgelinge ooit kon glo dat Hy weer opgewek sou word? Daar was net een manier hoe hulle sou glo. En dit was vir Jesus – daar, in Betanië, met Sy geliefde vriende – om die mees onmoontlikste situasie binne te tree en Sy doel te bereik in die gesig van die menslik onmoontlike.

Ek is oortuig daarvan dat Jesus nie die ondervinding aan enigiemand buite Sy binne-kring sou toevertrou het nie. Sulke dinge was gereserveer vir diegene wat intiem by Hom betrokke was, wie nie gedink het soos die wêreld gedink het nie. U sien, dit is slegs in sulke vriende – mense wie Christus se hart geken het en Hom volkome vertrou het – wat Hy ‘n geloof kan voortbring wat nie geskud kan word nie.

Die feit is, Jesus het geweet van al die toekomstige ontberinge wat in die lewens van hierdie dierbares sou plaasvind. Hy het geweet van elke siekte en tragedie wat hulle sou tref. Hy het ook geweet van die verwoesting wat op Jerusalem sou kom. En Hy wou in hulle ‘n geloof sien wat sou glo in Sy sorg ten spyte van watter rampe hulle ook al sou tref. Hy het geweet dit is die enigste iets wat hulle deur dit wat nog sou kom, kon dra.

Toe Jesus uiteindelik aangekom het, was Marta se eerste woorde aan Hom, “Here, as U hier was, sou my broer nie gesterwe het nie. Maar selfs nou weet ek dat God U alles sal gee wat U van Hom vra.” Hierdie woorde mag vol geloof geklink het aan Marta se kant. Maar toe Jesus daarop reageer, “Jou broer sal uit die dood opstaan,” was Marta se antwoord ‘n openbaring: “Ek weet hy sal met die opstanding op die laaste dag uit die dood opstaan.” Met ander woorde: “Dit is alles oor, Jesus. U is te laat.”

Jesus antwoord: “Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe, al sterf hy ook, en elkeen wat lewe en in My glo, sal in alle ewigheid nooit sterwe nie. Glo jy dit?” (Joh 11:21-22, 23-24, 25-26).

Met ander woorde, Christus het eintlik vir haar gesê, “Nee Marta, Ek is die opstanding en die lewe. Glo in My, en jy sal nooit sterwe nie.” Hy het weereens nie net oor Lasarus gepraat nie, maar oor Sy eie dood en opstanding. Vir Hom was Lasarus se opstanding reeds ‘n gevestigde saak: “Marta, glo jy nie dat Ek selfs in die graf kan ingaan en die ontmoontlike vir jou en Maria kan doen nie, al die dae van julle lewe?”

Op daardie stadium het Marta “weggegaan” (11:28). En dit is wat die meeste van ons in sulke situasies doen. Ons maak die saak met Jesus nie vas nie, en soek Hom nie in geloof nie, “O, Here, help my ongeloof.” In plaas daarvan, loop ons eenvoudig net weg, terug na ons ongeloof en vrese. En dit maak die Here seer. Blykbaar, het Marta nie verstaan dat Jesus meer van haar wou gehad het as net geloof vir die een krisis nie. Christus wou gehad het dat sy al haar ongeloof neigings moes stop, en dat sy moes begin met ‘ n lewenslange vertroue in Hom wat haar deur enige beproewing sou dra.

Jesus het toe vir Maria geroep. “Toe Maria daar aankom waar Jesus was en Hom sien, het sy by Sy voete gekniel en vir Hom gesê. ‘Here, as U hier was, sou my broer nie gesterwe het nie.’” Selfs die toegewyde Mara het dieselfde ding vir Jesus gesê, as wat haar suster gesê het. Wat was Sy reaksie? “… het Hy geweldig bewoë geword en Hom ontstel” (11:32,33).

Marta se ongeloof moes Hom erg genoeg gewond het. Ek is oortuig dat Jesus meer van Maria verwag het. Maar toe Hy haar so hartseer sien huil, sonder hoop, het Hy in sy gemoed “gekreun” – ‘n woord wat “verontwaardiging” beteken. Eweneens, die woord “onrus” beteken “misnoeg”.

Dit was toe dat Jesus gesê het, “Waar het julle hom begrawe?” (11:34). Toe Marta hoor dat Hy beveel dat die steen weggerol moet word, het sy geprotesteer, “Maar, Here, hy ruik al, want dit is al die vierde dag.” Hier was nog meer ongeloof. Dit is hier waar ons lees: “Jesus het gehuil” (11:35).

Daar moet omtrent ‘n duisend definisies wees wat die redes waarom Jesus gehuil het beskryf. Maar vir my, het die gedeelte ‘n persoonlike een geword. Soos ek daaroor nagedink het, het ek gebid, “Here, ek wil nie weet wat die een of ander leerstelling daaroor sê nie. Ek wil voel wat U gevoel het.”

Jesus sê vir ons om te huil met die wat huil, en Hy het dalk gehuil oor die hartseer wat die dag rondom Hom plaasgevind het. Maar die feit is, Jesus het reeds geweet dat Lasarus binnekort uit die graf sou loop. Sy trane moes dus oor iets anders ook gewees het.

Hebreërs sê die volgende, “En van wie het God vir veertig jaar lank ‘n afkeer gehad? Was dit nie van hulle wat gesondig het … die wat ongehoorsaam was?” (Hebreërs 3:17,18, my kursief). Soos ek terug gaan na die toneel by Lasarus se graf, begin ek iets voel van Jesus se stukkende hart. Dink daaroor na: dit het gelyk asof niemand op aarde op daardie oomblik Christus volkome geglo het nie. Die Jode het Hom nie aanvaar nie. Selfs die pilare van Sy kerk was ongelowig. Nou het hierdie binne-kring van Sy vriende ook geen geloof getoon nie. Jesus het geweet dat Hy binnekort die aarde sou verlaat, wat moes Hy dus in die oomblik gevoel het?

Nou moet ek u vra: is dinge enigsins anders vandag? Wie in hierdie wêreld glo dat Jesus die God van die onmoontlike is? As die Seun van die mens op die aarde afkyk, vind Hy nog geloof?

Ek het onlangs ‘n “gebeds wandel” geneem, met besorgdheid oor die gesondheid van ‘n hele aantal familie lede. Soos ek oor die Skrifgedeelte nagedink het, het ek myself skielik in trane bevind en gebid: “Here, hulle het U laat huil. Het ek U ook laat huil, deur my ongeloof? Ek het al kosbare tye saam met U gehad oor die laaste vyftig jaar, Jesus. Ek het U lief, en ek weet U het my lief. Maar onlangs het ek getwyfel. Ek het gewonder waarom sommige gebede nog nie geantwoord is nie.”

Van toe af, het ek Sy soet, stil stem gehoor, “Ek sal jou altyd liefhê, David. Ek sal jou daarvan weerhou dat jy val, en ek sal getrou wees om jou onberispelik aan die Vader te bied. Maar, ja, Ek is gewond deur jou tye van ongeloof en wankelende geloof.”

Daarom, liewe heilige: is jy op die oomblik in die middel van ‘n oorweldigende beproewing? Het jy gebid, gehuil en gepleit vir hulp, tog lyk dinge steeds hopeloos? Miskien het jou situasie buite alle menslike moontlikhede gegaan, en jy dink. “Dit is te laat.”

Ek wil vir jou sê, jy is toevertrou met jou krisis. God kon op enige tyd inbeweeg het, maar dit is Sy geleentheid om in jou die onwankelbare geloof voort te bring wat jy nodig het. Hy is op die uitkyk vir vertroue in Hom nie net vir wat jy nou in die gesig staar nie, maar vir elke onmoontlike probleem van nou totdat jy eendag na Hom toe gaan. Maak nie ‘n fout nie: Hy verheug Hom oor jou. Tog het Hy jou genoeg lief om ‘n geloof in jou te bou wat jou sal deurdra.

Bid saam met my: “Vergewe my, Here, dat ek U laat huil het. Help my ongeloof nou.” Maak dan hierdie vers jou eie: “As ‘n mens nie glo nie, is dit onmoontlik om te doen wat God wil. Wie tot God nader, moet glo dat Hy bestaan en dat Hy die wat Hom soek, beloon” (Hebreërs 11:6).

Download PDF