Versterk Jouself in die Here | World Challenge

Versterk Jouself in die Here

David WilkersonDecember 1, 1983

“...Maar Dawid het homself versterk in die HERE sy God” (1 Samuel 30:6).

Ons begin ons booskap met hierdie bekende woorde: “En Dawid het dit baie benoud gehad” (1 Samuel 30:6). Hy het pas vanaf Gad teruggekeer waar Koning Agis vir hom gesê het, “Ek weet dat jy goed is in my oë soos ‘n engel van God.” Met daardie lofsange wat in sy ore weerklink het, het Dawid en sy manskappe teruggekeer na Siklag, gretig om verenig te word met hulle vroue en kinders. Daar het hulle gevind hulle stad is tot op die grond afgebrand, hulle huise verwoes en hulle kinders en vrouens was weg. Die Amalekiete het Siklag binnegeval toe hulle in Afek was en het alles wat kosbaar was vir Dawid en sy manne gevange geneem.

Wat ‘n verskriklike dag van eerloosheid in die lewe van hierdie gesalfde man van God. “Daarop het David en die manskappe wat by hom was, hulle stem verhef en geween totdat daar geen krag meer in hulle was om te ween nie...” (1 Samuel 30:4).

Die mense het woedend in opstand gekom en daar was gepraat van Dawid stenig weens hulle oorweldigende smart. Dawid self was verskeur met smart en het nie ‘n traan oorgehad om te stort nie. “En Dawid het dit baie benoud gehad” (1 Samuel 30:6). Hulle was raadop, alle hoop was verlore en verswelg in droefheid en wanhoop.

Het al hierdie ellende oor Dawid gekom omdat hy steeds in sonde gelewe het? Het hy van God af weggevlug? Glad nie. In teendeel, Dawid het met God gewandel, maar het nie verstaan waarom die pad deur sulke moeilike tye gegaan het nie.

Samuel het Dawid reeds gesalf as koning oor Israel. Daar was gesê hy is ‘n man na God se hart, uitverkore en afgesonder om God se volk te lei. Na ‘n kort rukkie van aanvaarding in Saul se raad en ‘n glorieryke diens van oorwinning na oorwinning, was hy gedwing om te vlug vir sy lewe. Die reuseslagter moes in ‘n grot gaan wegkruip terwyl hy gewonder het wat hy gedoen het om sulke verwerping en swaakry te verdien. In trane het hy vir Jónatan gevra, “Wat het ek gedoen? Wat is my misdaad, en wat in my sonde voor jou vader, dat hy my lewe soek?” (1 Samuel 20:1).

Die hoëpriester het Dawid “die mees getroue dienaar in die hele koninkryk”genoem. Selfs Saul het sy goedheid en salwing erken en vir hom gesê:

“Jy is regverdiger as ek...Ek weet jy sal sekerlik koning word, en die koningskap oor Israel sal in jou hand stand hou...” (1 Samuel 24:18,21).

Is dit die manier waarop die regverdiges beloon word?

Toe Samuel die horing met olie geneem het en Dawid gesalf het, het “die Gees van die HERE...van dié dag af en verder oor Dawid vaardig geword” (1 Samuel 16:13). Jy moet hier Dawid se verskriklike ontsteltenis by Siklag begin verstaan daardie dag.

Hy het geweet hy was geroep, spesiaal uitverkore, bestem vir die troon. Hy het ‘n daaglikse besoeking van God se Heilige Gees gehad. Hy het ‘n saak gehad, hy het ywer vir die Here gehad, hy was heilig en begaan oor die armes en behoeftiges. Hy het ‘n omsigtige lewe geleef wat veroorsaak het dat selfs sy vyande hom gerespekteer het.

Dink aan wat deur Dawid se gedagtes moes gaan toe hy oor die brandende puin van sy huis gestaan het en nie geweet het of sy familie dood of lewend was nie. Hy moes die vraag gevra het. Waarom? toe hy gedink het aan die afgelope paar jaar tot op daardie oomblik. “As God met my is, waarom het Saul probeer om my dood te maak? Waarom was hy so waansinnig jaloers op my? As ek gesalf is, waarom moes ek vlug na Gad en maak of ek waansinnig is en optree soos ‘n mal dwaas? As God se Gees op my is, my lei, waarom moes ek in grotte wegkruip? As ek ‘n man na God se hart is, waarom moes ek in die woestyn leef en gejag word soos ‘n dier? Is dit die beloning van die gesalfde – slapelose nagte waarin ek vrees vir my lewe, terwyl ek geteister word van oral af en van aalmoese lewe as ‘n uitgeworpene?

Nou, nadat ek uiteindelik ‘n huis gevind het en ‘n paar maande van vrede beleef het, verkrummel dit alles in ‘n ongelooflike ramp. Siklag is in puin, alles is verlore. Om sake erger te maak, het Dawid se naaste vennote hom geblameer vir die tragedie.

Wat ‘n jammerlike manier vir God om Sy gesalfde dienaar te behandel – ten minste, dit is hoe dit lyk op die oppervlak. Hy is nie langer die reuseslagter wie se lof besing is deur bewonderende skares nie. Hy is nie langer die magtige man van geloof en visie, opgekyk na met respek en liefde nie. Nou is hy in algehele verwerping, op die randjie van gestenig word as ‘n mislukking. Dawid staan alleen, gestroop en verward – in totale wanhoop.

Wat doen ‘n kind van God wanneer moedeloosheid intree in hy voel asof hy nutteloos is, ‘n volslae mislukking, deur God verlaat en verwerp deur hulle wat eens omgegee het? Sy geliefde vriend Jónatan was nêrens in sig nie. Hoe verfrissend sou dit wees om met die een vriend te kon praat wat hy weet hom nooit sou teleurstel nie. Abigail was van hom af weggeneem. Sy ouers was ver weg. Waarheen sou hy gaan vir vertroosting? Na wie sou hy hom wend vir bemoediging?

God het Dawid by hierdie doodloopstraat gebring

Glo dit of nie, God was in die oënskynlike tragedie. As Dawid die man moes word wat God sou gebruik, moes hy gestroop word van alles, insluitend sy reputasie en eiewil. Hy moet die laaste trane van selfbejammering uit sy sisteem uitkry. Hy moet die volle gloed van eensaamheid beleef en dit oorwin. Hy moes uit sy gedagtes kry al die applous en lof vir wat hy bereik het.

Hy moes nie na ander kyk vir leiding, vir vertroosting, vir krag nie – nie familie nie, nie vriende nie, nie vennote nie. Daar sou geen profeet wees om hom te waarsku nie, geen priester om hom te bemoedig nie. Nie eens ‘n kind om sy bewende hand vas te hou nie. Geen dapper soldate om ‘n beker koue water in sy hande te gee nie.

God het ten volle bedoel dat ‘n krisis toegelaat word in Dawid se lewe wat hom sou forseer om ‘n antwoord binne-in homself te soek. Vir sestien maande lank het Dawid by die Filistyne gebly, en hy het ook te swaar op Koning Agis geleun. God wou Dawid die koninkryk gee; hy was op die punt om hom te vestig in Siklag. God sou Dawid hoegenaamd nie toelaat om hom te vestig op ‘n plek waar hy op die vlees sou vertrou vir oorlewing nie. Kon dit wees dat Dawid moeg geword het vir die stryd, sat van so baie oorloë, so baie swaarkry? Het hy gedink hy het die reg verdien tot ‘n makliker leefstyl? Was hy op die punt om sy kroon te verruil vir gemak en sekuriteit?

Dank God Dawid was beter stoffasie gemaak. Daar was iets in hom, wat opgespring het en nuwe hoop en versekering gebring het van God se leiding.

“Maar Dawid het homself versterk in die HERE sy God...”

Dit was die hele tyd God se bedoeling vir Dawid. Dit was die doel agter al die moeilike tye, die eensaamheid, die vreemde leiding van die Here, God wou hê Dawid moes sy oë afhaal van al sy vyande, van al sy vriende – en put uit sy eie krag en versterking wat hy beide nou en die toekoms sou nodig hê. Dawid moes leer om alleen te staan, slegs van God afhanklik te wees en alles wat hy nodig het te kry deur persoonlike kommunikasie en liefde vir die Here.

Wat ‘n triomferende gesig – Dawid wat te midde van die puinhoop van sy lewe staan – hom verheug in God se getrouheid en homself in die teenwoordigheid van die Here versterk. Hy het geleer dat alles wat regtig saak maak in die aangesig van die dood en wanhoop – ‘n persoonlik kennis is van God.

Toe die les geleer is, het God die hemel oopgemaak en direk met Dawid gepraat. Leiding het hard en duidelik gekom. Dawid het gevra, en God het geantwoord. “Jy sal sekerlik inhaal en sekerlik uitred.” Daar was niks wat ontbreek het nie – Dawid het alles teruggekry.

Van toe af kon Dawid terugkyk en in die Here roem, “Die dag toe ek geroep het, het U my verhoor, my moedig gemaak met krag in my siel” (Psalm 138:3).

Na wie wend jy jou vir versterking?

Is ons gewillig om te leer uit Dawid se belewenis? Sal ons die rede vir ons swaarkry besef, sowel as die vreemde leiding van die Here in ons lewens?

Ek daag jou uit om vir my een Christen te wys wat volkome toegewy is aan die Here, wat ‘n maklike, kommervrye lewe het. Wys vir my ‘n Gees-geleide, God-vervulde, gesalfde dienaar van die Here, en ek sal jou een wys wat gejag, getugtig, dikwels verleë en bekend is met diep waters en smeltkroese.

Sê vir my jou Christene lewe laat geen kommer of moeilike tye toe nie nie, en ek sal moet glo God het geen groot doel vir jou lewe nie. Diegene wat die swaarkry wil vermy, kry selde die openbaring van God se volheid. Hulle probeer om geloof te gebruik om hulle kwyt te skeld van krisis, en besef nie hulle beroof hulleself van die grootste geleentheid om uit te vind wat werklik in hulle is nie. Dan, eendag wanneer moeilikheid nie langer vermy kan word nie, stort hulle ineen, omdat hulle geen bewese bron van innerlike krag het nie.

Paulus het geskryf, “Dat Hy aan julle mag gee na die rykdom van sy heerlikheid om met krag versterk te word deur sy Gees in die innerlike mens” (Efésiërs 3:16).

Ons leef in ‘n dag waarin die Here Christene benodig wat nie rondgeslaan word deur elke wind of golf van lering nie, wat nie mee handelgedryf word nie, wat onderskeiding het en nie mislei word nie, wat geen spesiale menslike leraar nodig het met een of ander nuwe openbaring nie; wat nie ‘n menslike herder nodig het om elke tree te lei nie; wat nie op iemand anders moet vertrou vir hulle geluk of geestelike krag nie – maar wat getoets en beproef is en ‘n bewys het dat die lewe van God in hulle is en dat Hy genade en barmhartigheid verskaf om in elke nood te help. Christus is nie net aan hulle geopenbaar nie, maar in hulle. Hulle put uit die krag van hulle innerlike mens volgens die rykdom van Sy heerlikheid.

Miskien kan jy terugkyk na ‘n tyd toe God iets baie besonders in jou lewe gedoen het. Hy het jou vir Homself afgesonder, en jou gevul met Sy Heilige Gees. Hy het jou geroep, jou aangeraak met ‘n salwing om ‘n spesiale taak te verrig. Jy het begin soos Dawid, geseënd, gelukkig en suksesvol. Mense het jou opregtheid en goddelike ywer bewonder. Jy was honger vir die dieper dinge van God en jy was klein in jou eie oë. Jy het jou hart daarop gerig om die Here te soek en begeer om jou volkome aan Sy volmaakte wil te onderwerp. Jy het vriende gehad wat opgekyk het na jou en familie wat jou ondersteun het. Almal het jou as ‘n man of vrou van God herken. In jou veld van onderneming, was jy vrugbaar.

Maar toe begin God jou op geheimsinnige maniere lei. Ten spyte van jou honger na God, het ‘n geestelike droogheid begin posvat binne-in jou. Jy wou bid, maar die hemel het soos koper gevoel. Daar was nie ‘n woord vanuit die hemel nie – kommunikasie was gespanne. Die aanklaer het jou jou hart laat deursoek vir sonde, en jy het introspektief geword en gewonder wat jy gedoen het om die Here te bedroef, en veroosaak het dat Hy onttrek. Jou hart het begin uitroep, “Praat met my, Here! Gee my ‘n nuwe aanraking! Ek voel so nutteloos – so koud!”

Dit is dan wanneer ons by onsself dink, “Hierdie droë tyd, hierdie koudheid, hierdie stilte uit die hemel – kan nie God wees nie. Daar moet iets verskrikliks verkeerd wees in my lewe. God moet bedroef wees oor my.” Dit maak alles net moeiliker as jy nie sonde kan kry nie. Jy kan slegs met eerlikheid sê, “Waarom Here? Noem my sonde! Wys dit vir my! Waar het ek gefaal? Ek het gedink ek het U werklik behaag. Waarom maak ek nie vordering nie? Waarom kan ek nie deurbreek nie?

Wat gaan jy doen? Hoe sal jy van jou geestelike neerslagtigheid wegkom en terugkeer daarna om te juig in God se liefde? Sal jy doen wat Dawid gedoen het – jouself versterk in die Here? Jy kan dit doen slegs nadat jy God se hand raaksien in alles waardeur jy gaan. Moenie die duiwel of demoniese aktiwiteit blameer nie. God het harde tye toegelaat sodat jy jouself heeltemal op Hom kan werp. Om jou te speen van al jou vertroue in die vlees, om jou te help om jou oë af te haal van mense, van boeke en preke, van goedbedoelende vriende en vennote – en jou oë te plaas op die krag van God wat in jou werk.

“En aan Hom wat mag het om te doen ver bo alles wat ons bid of dink, volgens die krag wat in ons werk...” (Efésiërs 3:20).

Ons moet leer om onsself in die Here te versterk weens die swaar tye wat voorlê

Skrikwekkende, donker dae lê voor. Kinders van God kan reeds die warm asem van God se toorn voel teen die goddelose. Vrede sal binnekort verpletter word oral op die aarde. Ek kan geen Skrifgedeelte in die Bybel vind wat bewys dat hierdie land immuun sal wees teen kernbomme nie. Sou God die vuur op die Sodomiete van Sodom stuur en die homoseksuele massas van Amerika oorsien?

Elke dag word die nuus erger, ‘n klein bietjie meer onheilspellend. Daar is ‘n toenemende gevoel dat iets op die punt is om ‘n wêreld konflik te ontketen. Mense is senuagtig, vreesbevange en ontsteld.

Waarheen gaan die massas vir vertroosting? Wie sal die goddelose versterk? Vir hulle is daar geen vertroosting, geen hoop, geen bemoediging wanneer die laaste ellendes begin nie.

Wat as alle radio en televisie evangeliste stilgemaak word? Wat as vervolging of rampsoed dit onmoontlik maak om saam te kom by vriende of gelowiges? Wat as ons almal alleen in een of ander toestand van puin en verwerping beland soos Dawid? Sal jy in ‘n posisie wees om jouself in die Here te versterk? Sal jy in staat wees om te juig en vrede te hê selfs wanneer alles rondom jou uitmekaarval?

Broers, susters in Christus – Ek dring by jou aan in die Naam van die Here, om jou oë te open vir die magtige krag van God wat aan die werk is in jou, en om die volheid en volmaaktheid van die Here Jesus Christus toe te eien. Dit maak nie saak in watter vuuroond ons gegooi mag word nie, ons oppermagtige Here sal saam met ons daardeur gaan.

Die profeet Hábakuk was ontstel deur die visioen wat hy ontvang het van die naderende toorn van God oor Juda. Wat hy sien kom het, het sy ingewande laat bewe, sy lippe laat tril en sy bene het bederf (Hábakuk 3:16).

Hy het ‘n tyd sien kom wanneer al die bome gestroop sou wees, werk sou ophou, daar sou geen beeste meer wees nie en die weivelde sou sonder gras wees. ‘n Warrelwind sou verslind, en die aarde sou getref en verteer wees. Hábakuk het gesê, “Hy maak my voete soos dié van herte, en Hy laat my tree op my hoogtes” (Hábakuk 3:19).

Stéfanus het daardie profesie bewys tot op die letter. Hy het voor ‘n mal bende fanatici gestaan met klippe in hulle hande, gereed om hom dood te maak. Die einde was vir hom naby. Binnekort sou hy verheerlik word en sy werk afgehandel wees. Skielik het hy opgekyk en ‘n oop hemel gesien, en die Mens, Christus Jesus sien staan by die regterhand van die Vader. Hy het geen ander versterking nodig gehad nie. Hy het geen ander apostel nodig gehad om hom by te staan nie. Hy het die Here daarbo gesien en nou was hy verhewe bo al die toestande op aarde. Die klippe kon hom nie beroof van sy visioen nie. Hy was die voete van herte gegee – en hy sou reguit tree na sy hoë plek in Christus Jesus.

Dit maak nie saak hoe donker en hopeloos die toekoms lyk nie, God se kinders moet hulleself versterk in die Here en rus in Sy groot en kosbare beloftes. Ons moet die profesie van Hábakuk opeis, en ons hemelse plek inneem deur geloof. Laat ons hardloop soos ‘n hert en oor al die hindernisse spring – na ons hemelse plek in Christus.

“Maar God...het ons...saam opgewek en saam laat sit in die hemel in Christus Jesus...” (Efésiërs 2:4-6).

“Maar die wat op die HERE wag, kry nuwe krag; hulle vaar op met vleuels soos die arende; hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle wandel en word nie mat nie” (Jesaja 40:31).

Gevolgtrekking

Dawid kon homself toegelaat het om verpletter en oorweldig te word deur sy benoudheid. Hy kon bitter en kwaad geword het vir God. Daar was ‘n moontlikheid van geloof verloor en nooit regkom nie.

Maar het hy reggekom! Hy het alles teruggekry en gou sy volle erfenis ontvang. Toe die hemel geopen het, het God gespreek en hy was terug op die voorste linie van geestelike oorlogvoering.

Is jy tans benoud en het jy ernstig ‘n vars salwing nodig? Verwerp alle sataniese leuens, lê alle wanhopige gevoelens neer – kyk op en juig – eis die beloftes van God se teenwoordigheid en getrouheid op – aanvaar Sy liefde – en word omhels deur jou liefdevolle Here.

Dit is die woord van die Here aan almal wat versterking soek – Word omhels! Jy sal – alles – terugkry!

DIE OPPERGESAG VAN CHRISTUS! D.R.W.

Wanneer ons praat van die heerskappy van Jesus Christus, praat ons van oppergesag – hoogste in gesag, rang, mag en heerskappy. Hy kan nie waarlik die Here van ons lewens wees nie, totdat ons verstaan en erken dat Hy alle mag in die hemel en op aarde het. Om dit te doen, moet ons gelyktydig glo dat alle ander magte in die hemel, aarde of hel, oorwin, verslaan en oneffektief gemaak is voor die ontsagwekkende heerskappy van die Here Jesus Christus.

Ons lewe verslane lewens, nie weens Satan nie, maar weens onkunde aangaande Christus se oppergesag!

“Dit sê en betuig ek dan in die Here, dat julle nie meer moet wandel soos die ander heidene ook wandel in die verdwaasdheid van hulle gemoed nie — mense wat verduisterd is in die verstand en vervreemd van die lewe van God deur die onkunde wat in hulle is vanweë die verharding van hulle hart...Maar julle het Christus nie so leer ken nie...” (Efésiërs 4:17-20).

Paulus adresseer die Efésiese Christene en waarsku hulle nie om leë, verwarde lewens te leef nie. Hy maak dit baie duidelik dat die leegheid en duisternis in hulle nie veroorsaak was deur demoniese aktiwiteit nie, maar dit was eerder die gevolg van onkunde betreffende God se groot voorsiening aan hulle. Hulle het nog nie die oppergesag van Christus leer ken nie.

Paulus het gesê, “Ons het Christus nie so leer ken nie.” Met ander woorde, “Ek het ‘n algenoesame, almagtige, volmaakte Christus verkondig.” Hoe min het dit egter verstaan. Talle word steeds rondgedryf deur elke wind van lering; sommige gee steeds plek vir die duiwel; ander het bitterheid en boosheid gehad; sommige was betrokke by hoerery, hebsug en allerhande onreinheid. Ons weet dit is waar omdat Paulus hulle moes waarsku teen presies hierdie dinge.

Dink aan die menigtes Christene vandag wat verslaan, moedeloos en gebroke in liggaam, verstand en gees leef. Hulle bely dat Christus hulle Here is; maar steeds is hulle leeg, vreesbevange, en onseker. Hulle het geen blydskap, geen vonk, geen uitbundigheid in die Here nie.

Is dit omdat die duiwel mag gewen het? Het die demoniese magte die koninkryk van almagtige God binnegedring? Het die owerhede en magte van duisternis daarin geslaag om God se uitverkorenes te mislei? Ek sê nee. Die duisternis is in ons eie gedagtes. Dit is die gevolg van ons eie geestelike blindheid omdat ons nog nie ons harte oopgemaak het vir die oppergesag van Christus nie. Ons is vervreemd van die lewe van God weens die onkunde wat in ons is. Ons het voor ons ‘n Bybel vol heerlike waarhede oor God se heerskappy en volheid belê in Christus, maar ons het dit nog nooit verstaan nie en nog minder eien ons dit toe. Dit is nie wat Satan aan of in ons doen nie, maar liewer wat ons weier om te glo oor Christus.

Ons behoort al ons studietyd deur te bring om te ondersoek wat die Woord sê oor Christus se oorwinning, sy heerlikheid, Sy absolute mag en gesag. Andersins, kan ons opeindig as kenners van satan se mag en steeds vervreemd wees van die lewe van God deur onkunde van Christus se heerskappy.

Dit is waarom Paulus gefokus het op geen ander waarheid nie, maar op die heerskappy en regering van Christus. Hy het gesê, “dat die God van onse Here Jesus Christus, die Vader van die heerlikheid, aan julle die Gees van wysheid en openbaring in kennis van Hom mag gee, verligte oë van julle verstand, sodat julle kan weet wat die hoop van sy roeping en wat die rykdom van die heerlikheid van sy erfdeel onder die heiliges is; en wat die uitnemende grootheid van sy krag is vir ons wat glo, na die werking van die krag van sy sterkte” (Efésiërs 1:17-18).

Ons het nie nuwe openbaring oor satan se mag nodig nie, ons hoef nie duisternis of demone te bestudeer nie. Ek glo soos Paulus, dat ons ‘n nuwe en bevrydende openbaring van die rykdom van Christus, die heerlikheid van Christus, die grootheid van Sy mag, Sy absolute heerskappy oor alles desperaat nodig het. Ons sal nooit onkundig oor satan se planne wees wanneer ons oë geopen is vir die oppergesag van Christus nie. Deur van Christus se heerskappy te leer, herken ons makliker die swakheid van die vyand. Soek jy die gees van wysheid en openbaring in die kennis van Christus of van iets anders?

Christus is bo alles want Hy het Satan en elke ander hoë ding, wat homself verhef het teen Hom, neergewerp

“Nadat Hy die owerhede en magte uitgeklee en hulle in die openbaar tentoongestel en daardeur oor hulle getriomfeer het” (Kolossense 2:15).

“Nou sal die owerste van hierdie wêreld buitentoe gedryf word” (Johannes 12:31).

“...Sodat Hy deur die dood hom tot niet kon maak wat mag oor die dood het — dit is die duiwel —” (Hebreërs 2:9-17).

Christus het die krag van die duiwel vernietig. Die Griekse woord hier beteken “om van geen effek te maak” of “nutteloos.” Waarom sou enige Christen senuagtig of geïntimideer wees deur die fiktiewe magte van die een wat gestroop is en totaal oneffektief gemaak is? Christus het satan van alle mag gestroop – Hy het hom neergewerp en tot openlike skande gebring.

Die “god van hierdie wêreld” is lamgelê en ons durf nie sy mag oorskat nie. Die kinders van die Here is nie van hierdie wêreld nie. Hulle is nie onder enige heerskappy van sonde of satan nie. Christus het die sleutels van die dood van satan af weggeneem en ons verlos van die slawerny van die vrees daarvoor. Nou, deur die oorwinning van die Kruis, vrees ons nie die dood, sonde of die duiwel nie. Ons verheerlikte Christus het gesê, “Ek het die sleutels van die doderyk en die dood.” (Openbaring 1:18).

Dit is tyd om te kyk na satan soos God hom sien – verslaan, nutteloos, sonder mag of krag. Satan het soos weerlig uit die hemel geval en het nog nooit mag teruggekry nie. Wanneer ons besef dat die vlees sy bondgenoot is, sal ons meer tyd deurbring om die krag van die Kruis te soek of oorwinning te behaal in daardie area’s en minder tyd deurbring deur behep te wees met demoniese aktiwiteit. Ons haat dit om te erken dat ons vlees inherent boos is en in staat is tot ernstige sondes. Dit is baie minder vernederend om dit op demoniese aktiwiteit te blameer.

“Waarvandaan kom oorloë en vegterye onder julle? Kom hulle nie hiervandaan, van julle welluste wat in julle lede stryd voer nie?” (Jakobus 4:1).

Ek vrees dat baie goedbedoelende mense mag aan die duiwel toeskryf wat hy nooit self toegeëien het nie. Satan is nie alomteenwoordig (oral op dieselfde tyd) nie. Geen skepsel was al ooit so goddelik gemaak nie. Hy het nie daardie mag gehad toe hy die gesalfde gérub was nie. Het hy soveel mag gekry nadat hy neergewerp is? Nee!

Ek verkies om te praat van die oppergesag van Christus en die algehele nederlaag van satan. Die Gees-vervulde Christen kan saam met Christus sê, “Satan kom en het aan my niks nie.” Christus is nie vas in ‘n dodelike stryd met satan nie. Die oorlog was gewen by die Kruis. Ons vyand, die duiwel, is ‘n onttroonde teenstander. Om tes suggereer dat daardie onttroonde mag kan woon in ‘n tempel van die Heilige Gees is vir my ondenkbaar. Die Bloed van Christus het nog nooit sy krag verloor nie, en satan sal nooit in staat wees om daardie streep oor te steek nie.

Ander mag kies om betrokke te raak in ‘n oorlog met satan, maar ek, ek maak aanspraak op die oorwinning van die Kruis en reken my vlees dood deur geloof in Sy opstandingskrag. Nou, deur geloof sit ek saam met Christus Jesus in hemelse plekke waar geen duiwel of demoon durf om binne te gaan nie. Dit is alles ‘n saak van openbaring. Dit is ‘n saak van die oorwinning van die Kruis en ons Here se oppergesag oor satan te begryp. Ek glo dit as die Here vir my sê dat geen wapen teen my gesmee sal iets kan uitrig nie; dat ek meer as ‘n oorwinaar is; dat ek vry is van vrees vir die vyand, selfs die dood self; dat ek deur die voorhangsel gegaan het wat Sy vlees is waardeur geen demoon kan volg nie; dat ek ‘n lid is van Sy liggaam met Sy lewe wat deur my vloei; dat God, Christus, en die Heilige Gees hulle woning in my gemaak het – en deurdat Hy dit gedoen het, durf geen demoniese mag binnekom nie; dat die Heilige Gees oor my gekom het, en my die krag oor al die mag van die vyand gegee het; dat ek in die Vader se hand is, ‘n plek waaraan geen demoon deel kan hê nie; dat die lig in my alle duisternis uitgedryf het; dat geen owerheid of mag my kan skei van die liefde van God nie; en die beste van alles, is dat geen demoon of duiwel of heerskappy of mag enigsins naby ‘n gereinigde, bloedgewaste, Gees-vervulde, opgestane, hemelse mens wat aan die regterhand van die Vader sit, kan kom nie. Kon God enige beter beskerming as dit gee?

Ons moet liewer vinnig terugkom na die Kruis en ons oë oopmaak vir die oppergesag van Christus. Andersins sal ons die dood in plaas van die lewe bedien.

Download PDF

DAILY ENCOURAGEMENT IN YOUR INBOX

Sign up now to receive our Daily Devotional or E-newsletter.

SUBSCRIBE