Voltydse Bediening | World Challenge

Voltydse Bediening

David WilkersonSeptember 30, 2002

In die vroeë jare van die kerk, het ‘n groot vervolging plaasgevind. Tydens daardie verskriklike periode, was die apostel Johannes gevange geneem en na Rome gestuur. Die Romeinse keiser in daardie tyd (óf Nero óf Diocletianus) het Johannes na die Eliand Patmos verban. Hierdie eiland was ‘n klein, verlate, onbewoonde plek. Die enigste bevolking was ‘n paar gevangenes wat daarheen verban was tot aan die einde van hulle leeftyd. Net soos hulle, was Johannes na Patmos gestuur om te sterf.

Die apostel waarna ek verwys, was dieselfde “geliefde Johannes,” wat Christus so liefgehad het. Hy was die een wat sy kop op Christus se bors by die Nagmaal gelê het. Hy was ook die broer van Jakobus en ‘n seun van Sebedéüs. En hy was die outeur van die vierde evangelie, sowel as die drie Bybelse sendbriewe wat sy naam dra.

Probeer om jou die toneel voor te stel toe Johannes by Patmos aan wal gegaan het. Met die skip se loopplank, betree hy ‘n verlate eiland. Daar is geen bome nie, net sand. Voor hom staan ‘n klein groepie gehawende, geharde, vloekende gevangenes. Hulle het almal ‘n kyk van doem. Hulle weet hulle is hier om te sterf.

Agter Johannes, laai matrose ‘n paar kratte voedselvoorrade af – waarskynlik rys, meel, die uiterste noodsaaklikhede – en gooi dit op die strand af. Toe gaan hulle terug en trek die loopplank op. En stadig, seil die skip weg.

Johannes kyk hoe die skip in die rigting van die horison vaar. Hy weet nie of hy dit ooit weer sal sien nie. Hy is gestrand, verban, verlaat en bestem om sy laaste dae in afsondering deur te bring. Hy sou later skryf, “Ek is verban na Patmos, vir die woord van God en vir die getuienis van Jesus Christus” (sien Openbaring 1:9).

Waarom was Johannes, ‘n nederige dissipel van Jesus, so ‘n vonnis opgelê? Waarom was Rome, die wêreld se heersende mag, desperaat om hom van die samelewing af te skei? Johannes sou maklik op die vasteland aangehou kon word. Waarom wou die keiser hom stilmaak? Duidelik het Rome hierdie man as ‘n bedreiging beskou. Johannes was klaarblyklik beroemd onder beide Jode en heidene. Wat ‘n kragtige invloed en effektiewe bediening moes hy gehad het.

Nou, terwyl Johannes gekyk het hoe die prisoniersboot verdwyn, moes sy eie woorde na hom toe teruggekom het. Hý was die een wat Jesus aangehaal het waar Hy gesê het, “Ja, daar kom ‘n uur dat elkeen wat julle om die lewe bring, sal dink dat hy ‘n diens aan God bewys...Maar hierdie dinge het Ek vir julle gesê, sodat wanneer die uur kom, julle kan onthou dat Ek julle dit gesê het” (Johannes 16:2-4).

Hoeveel koue, nat, bibberende nagte het Johannes op Patmos verduur? Hoe dikwels was hy tot op die been geweek deur die Mediterreense woeste storms? Het hy ooit ‘n skuiling gehad, of ‘n ander stel klere? Hoeveel verkoues en siektes moes hy teen stry? En watter soort diëet het hy gehad? Miskien ‘n paar sakkies rys? Moes hy dit rantsoeneer met die wete dat dit net lank genoeg sou hou totdat die prisoniersboot weer sou terugkeer? Was hy geforseer om slange of akkedisse te vang om sy karige diëet aan te vul?

Volgens enigeen se standaarde, was Johannes ‘n mislukking. Vandag sou baie Christene na hom kyk en sê, “Wat ‘n vermorsing. Waarom sou God toelaat dat een van die mees gesalfde manne van alle tye op hierdie manier geïsoleer word? Waarom sou Hy toelaat dat ‘n toegewyde dissipel aan die elemente blootgestel word en amper sterf van die honger? Ek verstaan nie waarom Johannes nie vir God vir verlossing gevra het nie. Hy het immers geskryf wat Jesus gesê het, ‘Alles wat julle die Vader sal vra in my Naam, sal Hy julle gee...Bid en julle sal ontvang, sodat julle blydskap volkome kan wees”’ (Johannes 16:23-24). Waar was Johannes se geloof?

Stel jou nou voor die reaksie van kerkleiers van vandag. Ongelukkig, sou hulle Johannes opweeg teenoor huidige standaarde van sukses: hy het geen gemeente, geen kerkgebou en geen geld om ‘n struktuur te koop of te huur gehad nie. Hy het geen voertuig gehad om in te reis nie, geen huis en geen behoorlike pak om in te preek nie. Hy het geen bedieningsagenda, geen uitreik na die gemeenskap en geen plan om die nasies te wen, gehad nie. Vandag, sou leiers gou wees om hom af te skryf en te sê, “Hierdie man het niks nie. Dit is klaarpraat met hom. Waarom was hy in die eerste plek geroep tot die bediening?

Hoe verkeerd sou hulle almal wees. Op daardie eerste Sabbat op Patmos, het Johannes ‘n kerk begin. Hy het dit DIE KERK VAN “EK, JOHANNES” genoem. Hy het geskryf, “Ek, Johannes, julle broeder en deelgenoot in die verdrukking en in die koninkryk en lydsaamheid van Jesus Christus...was in die Gees op die dag van die Here” (Openbaring 1:9-10). Johannes het met ander woorde gesê, “Ja, ek is van die samelewing afgeskei. Maar ek het ‘n kerk. En ek bedien die Here hier. Ek het geen broer of suster om saam met my te wees nie. Maar ek is in die Gees.” Ek verseker jou, die lof wat Johannes vanaf daardie afgesonderde eiland gebied het, was so heerlik vir God soos ‘n duisend heilige stemme wat in ‘n duisend verskillende tale aanbid.

Iets ontsagliks het met Johannes gebeur na sy eerste paar dae op Patmos. Hy het ‘n besluit geneem wat ‘n impak sou maak op die hele kerkwêreld vir ewig. Eenvoudig gestel, Johannes het gesterf aan al sy eie planne en gedagtes van bediening.

So ver Johannes geweet het, was sy verbanning op Patmos sy uiteindelike lot. Hy het waarskynlik gedink, “Ek mag hier gestrand wees vir die res van my lewe. Maar ek gaan nie die vuur van God verloor nie. Selfs al is dit net ek hier, gaan ek die Here aanbid. Ek mag dalk geen gemeente hê nie en geen gemeenskap of broers of susters nie. Maar ek gaan in die Gees wandel. En ek gaan myself daaraan toewy om die aangesig van God te soek. Nou het ek tyd om Hom te leer ken soos nog nooit tevore nie.”

Johannes het die Here ten volle gesoek in sy afsondering. Hy het in die Gees beweeg. En hy het homself gegee as ‘n lewende offer. Geliefde, dit is die hart van my boodskap: Johannes was nou in voltydse bediening. Ek bedoel nie in terme van hoe ons normaalweg dink aan so ‘n bediening nie. Dit was voltyds in dié sin, dat Johannes God heeltemal vir homself gehad het.

Jy sien, op Patmos was daar geen behoefte vir fondsinsameling, slagspreuke of bohaai nie. Dit was nie nodig om met ander bedienaars te kompeteer of ‘n groter kerkgebou op te rig nie. En daar was niemand om Johannes te prys, te gelukwens of in hom te roem nie. Sy lewe was gereduseer tot ’n enkele fokus: Jesus Christus alleen. Dit is al wat Johannes gehad het. En hy het in wese gesê, “Dit is al wat ek ooit nodig sal hê: gebed, aanbidding en kommunikasie met die Here.”

Voltydse bediening beteken nie eenvoudig om ‘n kerk se herder te wees nie. Dit beteken ook nie om as evangelis te reis of herlewingsbyeenkomste te hou nie. Voltydse bediening word nie bepaal deur ‘n diploma, of ‘n sertifikaat van ‘n Bybelkollege, of ‘n aanstelling van kerkamptenare nie. In werklikheid kan jy ‘n herder van ‘n groot, suksesvolle kerk wees en steeds nie in voltydse bediening staan nie. Jy kan honderde boodskappe preek en skares van duisendes lok. Maar nie een van hierdie dinge maak jou ‘n voltydse bedienaar in God se oë nie.

Mense vra my dikwels vir gebed, dat die Here hulle in voltydse bediening sou stuur. Dit is meestal gemeentelede met werke of loopbane. Sommige glo waarlik dat God hulle tot voltydse bediening geroep het. Maar ander is eenvoudig onvervuld of verveeld met hulle werk. Die idee om ‘n leefbare inkomste betaal te word om God se werk te doen, vind ingang by hulle.

Ander is deeltyds betrokke in God se werk, maar het ‘n dringende begeerte om voltyds te bedien. In die meeste lande, moet bedienaars in werklikheid sekulêre poste beklee, omdat hulle gemeentes hulle nie kan onderhou nie. En diegene wat wel ‘n salaris ontvang, word onderbetaal. Hulle is oortuig hulle sou meer effektief in die bediening wees as hulle genoegsame ondersteuning daarvoor gehad het. So, vir jare pleit hulle by God, “Wanneer sal die deur vir my oopgaan?”

Ek glo God begeer dat elke gelowige betrokke moet wees in voltydse bediening. Die Skrif sê ons is almal geroep as priesters vir die Here. Eerstens moet ons egter dit uit ons gedagtes kry dat voltydse bediening ‘n betaalde posisie of loopbaan is. In die Here se oë is voltydse bediening, bediening tot Homself.

Eenvoudig gestel, jy kan soos die apostel Johannes wees, alleen gestrand op ‘n eiland en betrokke wees by voltydse bediening. In werklikheid beskou ek Johannes as een van die mees suksesvolle bedienaars in die Bybel. Hier is hoe jy sal weet dat jy gereed is om ‘n voltydse bedienaar te wees:

Jy het nie meer menslike applous nodig nie. Jy het nie ‘n aanstelling of ‘n plan nodig nie en jy het nie nodig om betrokke te wees in een of ander groot werk nie. Jy het nie nodig om onderskrywing of getuigskrifte te hê nie. Jy benodig nie gemeente of ‘n kerkgebou nie. Die enigste bediening wat jou siel versadig, is jou gebed en aanbidding tot die Here. Jy sal liewer alleen met Jesus wees en Hom met jou lofprysing voed, as om ‘n groot bedienaar te wees. Jy weet jou hele bediening van ander vloei uit jou bediening van Hom. So, jy het jouself heeltemal oorgegee aan een ding: “My een roeping op hierdie aarde is om die Here te bedien.” Dan sal jy gereed wees vir wat God sien as voltydse bediening.

Ek ken predikers wat ‘n salaris ontvang, maar nie die Here bedien nie. Hulle het geen las van Hom nie. Hulle soek Hom nie ywerig in gebed nie. En hulle kry nie hulle preke van Hom nie. In plaas daarvan, leen hulle hul boodskappe van ander predikers. Sulke bedienaars is blote huurlinge en kry ‘n regmerkie, omdat hulle eenvoudig ‘n werk doen. Hulle is biddeloos met geen vars woord uit die hemel nie.

Ek ken ook gemeentelede wat baie dieper in hulle kennis van Christus is as die mans wat hulle bedienaars is. Hierdie mense ontvang nie ‘n sent vir hulle bediening aan die Here nie. Maar hulle word in die hemel geken as voltydse bedienaars. Hulle is intersessors, honger vir waarheid en dien God heelhartig. En hulle is oorgegee aan gebed en sonder hulleself af in gebed tot Christus. Hierdie mense is ware bedienaars wat hul herder lank gelede reeds verby gegroei het. Hulle herder mag inderdaad ‘n indringer wees, glad nie ‘n bedienaar van God nie.

Laat ons teruggaan na Johannes op Patmos. Daar is geen rekord dat Johannes met iemand op die eiland kontak gehad het nie. (Ek glo die paar kriminele daar, het geen begeerte gehad om in die geselskap van so ‘n goddelike man te wees nie.) Johannes het niemand gehad om mee gemeenskap te hou nie. Hy het geen goddelike raadgewers en geen stem om na hom te luister, gehad nie. Al wat hy gehoor het, was die dreuning van die branders en die gekrys van die meeue.

Enigeen kan sy kop verloor in daardie soort situasie. Maar Johannes het nie. In plaas daarvan, het hy geleer om afhanklik te wees van die stem van die Heilige Gees. Hy het vasgehou aan Hom vir daardie vertroosting en beskerming. Toe Johannes getuig het, “Ek was in die Gees” (Openbaring 1:10), het hy in wese gesê, “Ek was heeltemal oorgegee aan die Heilige Gees. Ek het Hom vertrou. En ek was deur Hom onderrig. Hy is die Een wat my gewys het op die verdorwenheid in die kerke van Asië, waaroor ek geskryf het in Openbaring. En hy het vir my alles gewys wat oor die aarde gaan kom.”

In sy voltydse bediening was Johannes inderdaad ‘n openbaring van die heerlikheidheid van die verhewe Christus getoon: “’n Geopende deur in die hemel, en die eerste stem...het gesê: Kom op hierheen, en Ek sal jou toon wat ná hierdie dinge moet gebeur. En dadelik was ek in die Gees, en kyk, daar staan ‘n troon in die hemel en Een sit op die troon” (Openbaring 4:1-2).

‘n Deur na die hemel is ook vir ons geopen. Net soos Johannes, word ons ook geroep om “op te kom.” Die Skrif sê, “Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word” (Hebreërs 4:16). Hierdie oproep om na die troonkamer te kom, word meestal geïgnoreer deur herders en gemeentelede. Enkele gelowiges ken waarlik God se stem. En enkele bedienaars spreek as sy spreekbuis.

Ek glo wat die grootste behoefte in die kerk vandag is, is manne en vroue wat ‘n Patmos belewenis op hulleself sal lê.  Vandag maak Christene tyd om TV te kyk, inkopies te doen of die Internet te swerf, maar bitter min kom ooit op na God se troon. Die Here belowe egter, “As jy hiernatoe opkom, sal Ek my barmhartigheid en genade aan jou openbaar. Ek sal jou dinge wys wat jy nog nooit voorheen gesien het nie, omdat jy My soek.”

So, waar is die voltydse bedienaars wat elke vleeslike stem en program van mense sal uitsluit? Wie sal wegdraai van alle selfsugtige ambisie om beheer en gelei te word deur die Heilige Gees alleen? Wie sal toelaat dat ander volgens menslike standaarde by hulle verbygaan, omdat hulle hulself gereduseer het tot ‘n enkele fokus van bediening: om in die Gees te lewe en te wandel?

Johannes se afsondering was op hom afgedwing deur goddelose manne. Maar die Here is bly wanneer ons onsself gewillig onderwerp aan so ‘n “verbanning” met Hom. Dit beteken nie ons stel ons uiterlike bediening opsy nie. Dit beteken nie ons gee ons werk, ons familie en ons getuienis prys nie. Dit is inderdaad moontlik om ‘n besige persoon te wees en ‘n Patmos ervaring te hê. Wat saak maak is dat ons elke stem, aktiwiteit en ding, wat ons verhinder om van die Here te hoor, uitsluit. En ons bemoei onsself met een fokus: luister ek na mense of na die Heilige Gees?

Wanneer Christus ons enkele fokus word, is ons in staat om onderskeiding en leiding van bo te ontvang.

Jesus vertel vir ons dat in die laaste dae, mense se harte sal beswyk van vrees (sien Lukas 21:26). Ek glo daardie tyd kom gou. Ek voorsien dat menigtes in Amerika en regdeur die wêreld hulle harte en gedagtes sal afstomp oor die komende verskrikking. Hulle sal probeer om hulleself te mislei, sodat hulle nie die selfs meer vreesaanjaende nuus hoef te beleef nie.

Op hierdie oomblilk, veral in New York Stad en Israel, is daar massas mense wat aan slaaploosheid ly. Klinieke het regdeur die stad geopen, omdat duisende wakker gehou word deur ‘n gevoel van vrees. En volgens die Skrif, is die ergste steeds aan die kom. Waneer die Ou Testament profete ook al ‘n kykie op ons dag gekry het, het hulle gesidder.

Ek glo die ekonomiese ineenstorting het reeds begin. Oor die laaste twee jaar, is meer as $7 triljoen op die aandelebeurs verloor. Daar mag ‘n opwaartse neiging wees, maar dit sal nie hou nie. Die inkopie geboemel sal eindig. En kredietkaartskuld sal miljoene bankrot maak. Daar sal geween en gehuil wees aan alle kante weens vorige spandering.

Die eiendomsborrel gaan ook bars. Die mark sal vol verkopers wees, maar geen kopers nie. Selfs nou word duur huise te koop aangebied deur eienaars wat amper bankrot is weens dalende aandele. ‘n Bouer in New Jersey het my vertel van nuutgeboude, naby-miljoen-dollar huis met geen meubels binne-in nie, omdat die eienaar finansieel so hard getref is.

Die mees vreesaanjaende van alles is, dat ek sien dat oorlog op die punt is om uit te breek. Die wêreld sal gou wankel op die rand van verskrikking van ‘n waterstof-oorlog. Dit sal leiers reg rondom die wêreld laat sidder.

Ek probeer niemand bang maak nie. Maar die liggaam van Jesus Christus moet die waarheid hoor oor hierdie tye. ‘n Duiwelse gees is op die punt om op die aarde vrygestel te word. En soos skrikwekkende gebeurtenisse toeneem, gaan gelowiges hulleself verstomp teenoor vrees. Sommiges sal hulleself selfs, soos heidene, bedwelm met alkohol en dwelms. Ander sal hulleself oorgee aan sensualiteit van allerhande soorte. Satan het hulle reeds voorsien met ‘n massiewe spyskaart van vullis deur TV en die Internet. Dit sal alles lei tot ‘n verharding onder God se mense.

In Openbaring 16:9, beskryf Johannes ‘n verskriklike, skroeiende hitte wat oor die aarde kom: “Em die mense is geskroei met ‘n groot hitte, en hulle het die Naam van God gelaster...en hulle het hul nie bekeer nie om Hom heerlikheid te gee nie.” Hierdie lyers sal so gevoelloos wees, dat hulle verlossing sal weier. In plaas daarvan, sal hulle die hel verkies.

Sommige van hierdie lasteraars, sal Christene wees. In die komende dae, sal louwarm gelowiges ‘n toeskroei van hulle gewetens beleef. Dit sal nie ‘n verharding teenoor God wees nie; hulle sal vashou aan ‘n vorm van goddelikheid en glo dat hulle veilig is. Maar die tyd sal kom wanneer hulle hoegenaamd geen gevoel sal oorhê nie. En daarby, sal hulle geen vrees, skok of bekommernis oor die ewigheid hê nie. Hulle sal ophou groei in Christus. En hulle sal maklike teikens vir Satan word.

Paulus beskryf wat gebeur met diegene wat weier om in Christus op te groei: “Mense wat verduisterd is in die verstand en vervreemd van die lewe van God deur die onkunde wat in hulle is vanweë die verharding van hulle hart; wat ongevoelig geword het en hulle oorgegee het en aan die ongebondenheid om in hebsug allerhande onreinheid te bedrywe” (Efesiërs 4:18-19). Die letterlike betekenis hier is, “Hulle het apaties geword, sonder emosie, sonder oortuiging van sonde, dood.” Kortliks, hulle het gemaklik geword oor die dinge van God. En hulle ignoreer alle oproepe om wakker te word en Hom te soek.

Hierdie selfde gelowiges was gewaarsku om “in alles...opgroei in Hom wat die Hoof is, naamlik Christus” (Efesiërs 4:15). Paulus wou hê hulle moes toegerus wees met die innerlike bronne, wat nodig is om staande te bly tydens Satan se laaste aanval op die kerk. Maar hulle het geen vloei van lewe in hulle gehad nie. En hulle het verkies om hulle gedagtes met losbandigheid te bedwelm. Deurdat hulle verkies het om in onkunde te wandel, het hulle hul harte verblind vir hulle gevaarlike toestand.

En in hulle blindheid, kon hulle geen vreesaanjaende nuus hanteer nie. Hulle kon nie die skrik wat gou op die aarde geval het, konfronteer nie. So, in plaas daarvan om na Jesus te hardloop, het hulle hul oorgegee aan elke denkbare soort sensuele plesier, gierigheid en boosheid. Eenvoudig gestel, hulle kon nie genoeg kry nie.

Soos Paulus, dring ek by elke jong gelowige aan: as jy louwarm en apaties teenoor Jesus geword het, word wakker. Moenie dat die vuur van die Heilige Gees uit jou lewe weggaan nie. Hoor die Gees se basuingeskal en soek die Here. Word ‘n voltydse bedienaar tot Hom, soek Hom met jou hele hart. Dan sal jy die krag van Christus hê om die dae wat voorlê te kan hanteer.

Paulus maak dit absoluut duidelik: jy moet óf opgroei in Christus en jou alles vir Hom gee, óf jy sal opeindig soos wat Paulus beskryf. As jy in onkunde voortgaan, sal jy sonder gevoel wees. Jy sal nie meer enige bekommernis oor die dinge van God hê nie. En jy sal een van die ergste sondaars op aarde word en allerhande booshede, wat jy nooit gedink het moontlik was nie, doen.

Ek sien reeds tekens van hierdie gevoelloosheidsproses onder Christene. Sommige gaan op malle inkopiegeboemel met kredietkaarte. Sommige koop huise wat hulle nie kan bekostig nie. En baie val dieper en dieper in die skuld. Hulle redenasie is soos die wêreld s’n: “As alles op die punt is om vernietig te word, dan sal ons almal saam ondergaan. Ek moet dit geniet terwyl ek kan.”

Nee, nooit. Hulle herken nie die tye nie. Op die huidige oomblik, beleef een derde van Amerika droogte toestande. Vure het groot gebiede aarde in verskeie state verskroei. Vloede het uitgestrekte gebiede geteister, insluitende groot stede in Texas. Ons sien onvoorspelbare verandering in die weer. Tog kry baie Christene steeds nie die boodskap nie.

Mag God elke voorspoedsprediker, elke gekompromitteerde herder, wat sy gemeente omkoop met ‘n oppervlakkige evangelie sonder bekering, genadig wees. Mag God sulke mense help wanneer alles ineenstort. Mense gaan na hulle preekstoele storm en ‘n verduideliking eis: “Wat gebeur, pastoor, dominee? Jy het gesê alles gaan goed. Jy het ons laat dwaal.” Kerke sal toemaak, gelowiges sal uitmekaarspat. En God sal daardie bedienaars verantwoordelik hou vir elke ontnugterde siel wat homself verstomp weens hulle valse lering.

Mense het hulle na die kerk gewend in die nadraai van die terroriste aanvalle. Maar hulle het geen hoop daar gevind nie. Hulle het nie ‘n woord uit die hemel gehoor nie en ook nie salf vir hulle hartseer siele gevind nie. Baie van die herders wat vir hulle gepreek het, was net so onkundig oor God as wat hulle was. Die meeste was biddelose manne, wêreldse herders en glad nie ware bedienaars nie.

So, die mense het weggeloop. En hulle sal nie teruggaan wanneer die volgende verskrikking plaasvind nie. Hulle sal besef hulle was die eerste keer verkul. So, die volgende keer wanneer hulle nie kan verstaan wat aangaan nie, sal hulle nie hoop soek nie. In plaas daarvan, sal hulle hulself bedwelm. Hulle sal hulle na wilde sensualiteit wend om hulle gedagtes te verdoof.

Die angsvolles, bekommerdes en wanhopiges, sal in werklikheid ‘n verbond met die dood self sluit. Ons vind hierdie verbond in Jesaja 28, waar die profeet ‘n sidderende Efraim onder oordeel beskryf: “Efraim...wee die blom wat verwerk...soos ‘n haelstorm, ‘n storm vol verwoesting...oorlopende waters wat teen die grond gooi met krag...priester en profeet wankel deur sterk drank...want al die tafels is vol walglike uitbraaksel, sodat daar geen plek is nie...Omdat julle sê: Ons het ‘n verbond met die dood gesluit, en met die doderyk het ons ‘n verdrag aangegaan” (Jesaja 28:1-15).

Hier is die bedwelming waarvan ek praat. Hierdie mense het in wese gesê, “Ons het onsself oorgegee aan die hel. Ons sien onsself as reeds daar.” Waarom sou hulle so ‘n ding sê? Hulle het hulleself gevoelloos gemaak teen enige skrikwekkende nuus van oordeel. Jesaja het gewaarsku, “En dit sal net verskrikking wees om so ‘n openbaring te verneem” (Jesaja 28:19).

Die angswekkende gebeure wat ons sal beleef, sal bokant ons begrip wees. Wat sal mense dan doen? Soos Efraim, sal hulle hulself bedwelm en die hel as hulle bestemming aanvaar. Jy mag vra, “Maar wat van Christene?” Let op wie Jesaja in hierdie paragraaf beskryf: hy praat van gelowiges, volgelinge van Almagtige Jehova. Waarom sou hierdie mense ‘n verbond met die hel sluit? Hulle het afvallig geword, besmet deur die vullis van die wêreld. En weens hulle sensualiteit, het hulle geestelik blind geword. So, toe oordeel gekom het, was hulle so gevoelloos dat hulle hel as hulle lot aanvaar het.

“Daarom, so sê die Here, HERE: Kyk, Ek lê in Sion ‘n grondsteen, ‘n beproefde steen, ‘n kosbare hoeksteen wat vas gegrondves is; hy wat glo, sal nie haastig wees nie” (Jesaja 28:16). Terwyl die wêreld paniekerig raak van skrik en onsekerheid, sal God se voltydse aanbidders rustig wees. Die Here sal hulle vesting in die storm wees, ‘n onwrikbare rots. En al diegene wat hulleself versteek in Hom, sal veilig teen gevaar wees.

In daardie dag, sal Christus self alles vir sy mense wees: Kosbare Verlosser, Beskermer, Bewaarder, Hoop te midde van die storm. En terwyl die wêreld ‘n verbond met die hel het, sal ons ‘n verbond met Jesus hê. As oordeel rondom ons val, sal ons vrede hê, omdat ons onsself as alreeds in die hemel sien.

“Hy wat glo, sal nie haastig wees nie” (Jesaja 28:16). Die Hebreeuse betekenis hier is, “Hy sal nie beskaam of oorbluf wees nie.” Niks sal in staat wees om ons te skud nie, omdat ons weet dat ons God aan die werk is. Ons sal weet Hy dra ons, net soos Hy Israel in die woestyn gedra het.

Laat my afsluit met hierdie stukkie goeie nuus: een dag op Patmos, het Johannes die skip sien terugkom na die eiland. Toe dit aanland, was Johannes vertel dat die Romeinse keiser gesterf het. Die apostel was nou sy vryheid gegee. So, hy het aan boord geklim, weggeseil van sy plek van verbanning en homself in Éfese gevestig. Van daar af, het sy geskrifte ‘n gesalfde lig vir die wêreld geword. Jy sien, dit was na Patmos dat Johannes sy drie sendbriewe aan die kerk geskryf het oor die onderwerp van liefde. Dit is wat God sy toegewyde dienaar geleer het tydens die moeilike tye: om lief te hê.

Sal Christene ly in die komende dae? Ja, ons sal. Maar so seker as wat Satan nie vir Johannes kon vernietig nie, so sal God nie die vyand toelaat om sy heilige oorblyfsel te vernietig nie. Hy is besig om ‘n kerk op te rig van voltydse bedienaars, wat in Hom staande sal bly deur elke storm.

Download PDF