Waar is al die Kinders Heen? | World Challenge

Waar is al die Kinders Heen?

David WilkersonJanuary 1, 1977

Die apostel Paulus het geskryf, “Die Gees self getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is” (Romeine 8:16).

“Kinders van God.” Ons gebruik dikwels hierdie frase om onsself as gelowiges te beskryf. Maar ek glo ons gebruik hierdie woorde te onverskillig, met min begrip van die krag en diepte van hulle ware betekenis.

Wat beteken dit om ‘n kind van God te wees? Dit beteken bloot om God se afhanklike te wees – dit is “een wat nie kan bestaan of funksioneer sonder hulp nie; een wat beheer word deur ‘n ander.” ‘n Kind van God weet hy kan nie sy eie lewe beheer nie. Hy is nie in staat om te funksioneer sonder die Here se daaglikse hulp nie. Hy leef volkome afhanklik van God vir alles.

Natuurlik praat ek hier van geestelike kinders. Daar is geen sulke “afhanklikes” wat in die wêreld bestaan nie, omdat sondaars selfgenoegsame mense is. Hulle sien hulleself as presteerders, “kan-doen” mense. Hulle verkondig dat dit wat die verstand ook al kan uitdink, bereik kan word – dat met die regte ingesteldheid, ‘n mens enigiets kan doen. Frank Sinatra het die temalied: “I did it my way!” gewild gemaak.

Dit is jammer dat daar deesdae ook baie min kinders in die huis van God is. Die kerk word toegestroom met allerhande selfhelp boeke. Baie van die boeke gaan daaroor om sake in jou eie hande te neem: om jou eie oorwinning oor self, twyfel, vrees en eensaamheid te kry. Maar dit is alles deel van die vlees se geneigdheid om totale afhanklikheid van God te vermy!

Baie mense in die kerk glo vandag dat as jy die regte formule het, kan jy alles self uitwerk en jou eie probleme oplos. Hierdie gesindheid sê, “God, U het vir my ‘n goeie verstand gegee. Ek sal hierdie saak goed bedink. Ek weet dat as ek dit behoorlik doen, kan ek alles laat uitwerk.”

Hierdie selfhelp boodskap word ook van ons kansels af verkondig. Bedienaars belowe, “As jy dit kan dink, kan jy dit doen. As jy jou seën kan opnoem, kan jy dit opeis. Spreek net die woord in wording!” Geliefde, hierdie boodskap is niks meer as humanisme nie – ‘n selfgesentreerde, selfvervullende “evangelie van self!” Predikers by die duisende probeer mense leer hoe om dinge te hanteer – maar dit is onmoontlik om hierdie lewe te kan hanteer sonder die krag van Jesus Christus!

Terwyl ek onlangs in gebed was, het die Heilige Gees vir my gesê, “David, waar is al die kinders heen?” Hy het in wese gesê, “Ek het so min kinders oor, so min afhanklikes. Waar is al die gelowiges wat volkome afhanklik van My leef vandag?”

Jesus het ‘n kindjie tussen sy dissipels laat staan – en die kerk ‘n kragtige insig in sy hart gegee!

Op een stadium, het Jesus sy dissipels gekry waar hulle onder mekaar geredeneer het. Hulle wou weet: “Watter een van ons gaan die grootste in U koninkryk wees? Watter een van ons sal heers in die meeste stede en mees produktief wees? Watter een sal aan U regterkant en aan U linkerkant sit?” “Toe roep Jesus ’n kindjie na Hom en laat hom in hulle midde staan en Hy sê: Voorwaar Ek sê vir julle, as julle nie verander en soos die kindertjies word nie, sal julle nooit in die koninkryk van die hemele ingaan nie!” (Matthéüs 18:2-3).

Wat Jesus gedoen het, was verstommend, skokkend en diepgaande. Hy het in die gesigte van ‘n gemeente, wat reeds bekeerd was, gekyk – ‘n groep wat die woorde van die ewige lewe gesoek het – en Hy het gevra vir ‘n volkome ommekeer in hulle verhouding met Hom. Die frase wat Hy hier gebruik het, “as julle nie verander...nie,” beteken in Grieks, “As julle nie ‘n omwenteling maak in julle denkwyse nie!”

Jesus het in wese gesê, “Vergeet van wie die grootste sal wees! As julle nie heeltemal verander in die manier waarop julle aan My dink nie, sal julle dit nie eens in die koninkryk maak nie!”

Menigtes Christene bring hulle lewens deur om te dink aan die hemel, hardop daaroor te sing en te verlang om daarheen te gaan.

Maar baie mense sal dit heeltemal mis omdat hulle nie die les geleer het wat Jesus aan sy dissipels hier probeer leer het nie. Ek glo Hy sê, “Moenie jou oë rig op die hemel – om daar te heers, te regeer en groot dinge in die ewigheid te doen nie – voor jy nie eers geleer het hoe in hierdie lewe te wandel nie. Anders sal jy dit nie eens tot daar maak nie!”

“...En soos die kindertjies word” (Matthéüs 18:3).

Hierdie toneel is een van die kragtigste lesse in God se Woord. Maar ons het die belangrikste betekenis daarvan verloor!

Christus openbaar hier ‘n magtige waarheid. Hy sê in wese, “Jy moet weer dink aan jou verhouding met My – jy moet terugkeer na kinderlike weë!”

By die lees hiervan, wil ek beslis nie terugkeer na kinderagtige emosies nie. Ek sien dit in my kleuter kleinkinders: selfsug (“Myne, myne!”), hardkoppigheid (“Nee, nee!”) en jaloesie. Mag God ons help as ons terugkeer na die dinge wat ons in kleuters sien! Dit sou heeltemal gek wees.

Maar as Jesus praat van kinderlik wees, bedoel Hy nie een kinderlike karaktereienskap nie. Hy praat van iets baie groter – en dit is ‘n kind se menslike toestand.

Sommige interpreteer Jesus se boodskap in hierdie gedeelte asof dit oor vertroue gaan. Hulle sê, “Jesus wil hê ons moet vertrou soos ‘n kindjie.” Maar vertroue het min te doen met ‘n kind se menslike toestand.

Byvoorbeeld, my tien maande oue kleinseun, Elliot, kan nie vertrou nie. Hy weet eenvoudig nie wat dit beteken nie. Wanneer hy honger is, het hy net een wapen: ‘n goeie paar longe! Hy kan net huil. Elliot vertrou nie: liewer, hy is volkome afhanklik. Dit is sy menslike toestand. En Hy is afhanklik van sy ouers, of hy nou vertrou of nie.

Jesus het op ons toestand gefokus – ons totale hulpeloosheid – nie op vertroue, geloof of onskuld nie. Die kind wat Hy tussen Sy dissipels laat staan het, sou ‘n spieëlbeeld van hulle eie hulpeloosheid wees – nie net geestelike hulpeloosheid nie, maar ook natuurlike, menslike hulpeloosheid.

Hulpeloosheid is ‘n onvermoë om jouself te verdedig of te help. Jesus het in wese vir Sy volgelinge gesê, “Kyk na hierdie seuntjie. Hy is heeltemal weerloos. Hy kan nie alleen die lewe hanteer nie – hy moet gevoed en geklee word. En hy is ‘n beeld van jou. Jy moet jouself weerloos sien – so hulpeloos soos hierdie seuntjie.”

Ek stem saam dat ons moet leer om God te vertrou, en dat dit sonder geloof onmoontlik is om Hom te behaag. Trouens, ons moet grootword en mans en vroue van geestelike volwassenheid word. Ons moet die dinge van ‘n kind laat staan. Ons moenie langer kinders in ons verstand wees nie.

Maar nooit in ons leeftyd mag ons ons menslike toestand losmaak van ‘n kind se afhanklikheid nie! God wil hê ons moet onsself sien as totaal, absoluut onbekwaam om hierdie lewe te leef deur te probeer om dinge in ons eie hande te neem. Ons moet ons toestand as een van uiterste hulpeloosheid sien!

Hoe anders as hulpeloos sou jy die kinders van Israel by die Rooi See beskryf? Hulle was aan alle kante omring en kon absoluut niks daaromtrent doen nie. Slegs ‘n liefdevolle Vader God kon ‘n onsnappingsroete vir hulle maak. Hulle het nie geloof gehad nie – en hulle het slegs vorentoe gegaan omdat Moses die geloof gehad het om die see te laat oopgaan. Hulle was soos kinders – heeltemal hulpeloos!

Koning Asa en Israel was uiters hulpeloos teen die Kusiete. ‘n Miljoenmanskap leër en driehonderd waens het teen hulle opgemars by Marésa. Die Skrif sê Asa het tot die Here geroep, “HERE, niemand kan help soos U tussen die magtige en die kragtelose nie; help ons, HERE onse God, want op U steun ons, en in u Naam het ons teen hierdie menigte gekom; HERE, U is onse God; laat geen sterfling naas U magtig wees nie” (2 Kronieke 14:11).

“En die HERE het die Kusiete voor Asa en Juda verslaan, en die Kusiete het gevlug” (2 Kronieke 14:12). Luister na Asa se gebed: “Here, ons is hulpeloos. Ons kan niks doen nie. Die krag is alles U s’n – en ons is dood tensy U ons help!”

Vandag sê die Here vir ons, “Ek het so min sulke kinders oor. Hulle praat van My en sing oor My elke week in die kerk. Maar wanneer hulle hulleself in ‘n moeilike posisie bevind, is hulle nie van My afhanklik nie!”

“En as jou hand of jou voet jou laat struikel, kap dit af ... En as jou oog jou laat struikel, ruk dit uit” (Matthéüs 18:8-9).

Ek het jarelank ‘n openbaring gesoek oor hierdie gedeelte. Ons weet die Bybel is teen selfverminking. En die algemeenste interpretasie is, “As jou hande aan sondige dinge wil vat, of jou voete jou na goddelose plekke neem, stop dit – sny hierdie praktyke uit jou lewe uit. As jou oë met begeerte kyk, stop dit, maak nie saak wat dit kos nie!”

Ek glo dat dit wat Jesus hier noem, soveel meer beteken. Dit het te doen met die les wat Jesus in hierdie konteks leer. Dit is ‘n bestraffing teen eie-poging. Dit gaan alles oor hulpeloosheid!

Hy sê, “As jou hand probeer om self jou probleem op te los – dit is, as jy sake in jou eie hande neem – stop dit dadelik! As jou voete desperaat rondhardloop en jou probleme probeer oplos, hou dan op hardloop! As jou oë na iets of iemand anders kyk vir hulp – ‘n man of vrou wat jy dink die antwoord op jou gebed kan wees – hou dan stellig op om te kyk en ruk daardie manier van dink dadelik uit!”

Ek het gewoonlik presies hierdie dinge gedoen in Teen Challenge. ‘n Man het eens ‘n huis aan ons bediening geskenk, en ons het dit verkoop om te help om ‘n gebou in Brooklyn te koop. Ongeveer ses maande later, was ek in ernstige finansiële moeilikheid – en ons het ongeveer $5,000 nodig gehad. Ek het in my kantoor gesit en gedink, “Wie kan ek skakel?” Skielik het daar in my geestesoog ‘n man se naam verskyn en ek het gedink: Hy het vir ons ‘n huis wat $55,000 werd was gegee!”

Ek het vir my kollega gesê, “Skakel hom op die foon. Ons sal ons $5,000 kry!” Tien minute later het my kollega teruggekom met sy kop onderstebo. Hy het gesê, “Ek was nog nooit so geroskam in my lewe nie.” Toe, in plaas van op my knieë gaan, het ek gesê, “Daar is sekerlik iemand wat sal kan help.” Ek het nie gebid nie – ek het gedink!

O, hoe hartseer maak dit God as ons aanhou om na ‘n mens of iemand anders te kyk om ons probleme op te los! Ons dink, “Dit is my droom. As ek net verby hierdie punt kan kom, sal dit alles oplos!” Ons kan rondgaan met ons hande, voete en oë soekend na antwoorde – maar God sê, “Hou op! Stop dit! Dit gee My aanstoot!”

Jesus maak dit duidelik dat daar ernstige gevolge is wanneer ons probeer om dinge te laat gebeur sonder om op Hom te vertrou. Hy het gesê dat dit ons die ewige lewe sal kos!

“Wat?” sê jy. “Moet ek oor alles bid? Moet ek op God vertrou vir alles?” Ja! Dit is die nederigheid van ‘n kind! Dit beteken om die res van jou lewe deur te bring deur te sê, “Dit is beter om volkome afhanklik te wees van die Here as om in die hel gegooi te word omdat ek dinge op my eie probeer doen!” “Dit is vir jou beter om in die lewe in te gaan, kreupel of vermink, as om twee hande of voete te hê en in die ewige vuur gewerp te word” (Matthéüs 18:8).

Hier is nog ‘n ernstige waarskuwing uit dieselfde gedeelte:

“Maar elkeen wat een van hierdie kleintjies wat in My glo, laat struikel, dit is vir hom beter dat ’n meulsteen aan sy nek gehang word en hy wegsink in die diepte van die see” (Matthéüs 18:6).

God se Woord is duidelik teen mishandeling van kinders. Maar Jesus praat nie hier van kindermishandeling nie. In hierdie konteks sê Hy weer dat dit vir God ‘n misdryf is as iemand onderrig dat ons selfgenoegsaam is. Hy waarsku weer teen valse leraars wat jong gelowiges te na sou kom met ‘n evangelie wat plek maak vir selfliefde en eiewil.

Herders sou vandag Christene maak wat nie op die arm van die vlees vertrou nie. Maar in plaas daarvan, keer hulle kinderlike harte weg van volkome afhanklikheid van God – en na selfmotivering en selfvertroue! Jesus het gesê dit sou beter vir hierdie manne wees as hulle nooit gebore was nie.

Die leraars van die hedendaagse voorspoedsboodskap kom ‘n hele geslag te na. Hulle stel struikelblokke voor duisende gelowiges en moedig hulle aan om al die goedheid en seëninge van ‘n sorgsame Vader te soek – maar sê niks van die verpligting van ‘n dissipel, die roede en die vermanings wat saam met ‘n liefdevolle kind gaan nie.

As jy ‘n ouer is, sorg jy vir jou kinders deur vir hulle goeie dinge te gee – maar jy sorg ook vir hulle deur hulle te tugting en te dissiplineer. My vader het altyd gesê, “Dit maak my seerder as vir jou.” Hy het van die fisieke realm gepraat. Maar in die geestelike realm, was sy dissipline die redding van sy kinders!

Op hierdie oomblik, is jy dalk onder die roede van die Here se dissipline. Maar as jy is, is dit nie omdat jy gesondig het nie – dit is omdat God jou liefhet. Sy liefde motiveer dit alles!

Langs die kind het die God van die heelal gestaan!

Die dissipels het Jesus liefgehad. Hulle het teenoor Hom bely, “Ons glo U is die Seun van die lewende God.” Maar ons moet wonder of daardie waarheid hulle werklik aangegryp het voor Jesus se opstanding.

Die Heilige Gees deel met my terwyl ek hierdie boodskap voorberei het. Hy het vir my gevra, “Na Wie toe bid jy so baie? Oor Wie sing jy so baie? Wie se kind is jy?”

Ek het gesê, “Dit is U, Here. U is die God van die heelal.”

Hy het geantwoord, “Moenie dit vergeet nie.”

Dierbare heilige, dit het my getref! En ek het ontdek dat dit die sleutel is tot volkome afhanklikheid! As jy hierdie sleutel kan begryp, sal jy nie ‘n kontrolelys nodig hê om te weet, “Vertrou ek soos ek moet? Volg ek werklik Sy Woord?” nie.

Dit moet in jou gedagtes en siel registreer: “Ek is werklik ‘n hulpelose kind. Máár ek is God se kind! Die ewige, Skepper God is my Vader – Hy beheer die heelal. Ek is die kind van ‘n Vader wat alles weet en alles beheer.

Dit is waar die bediening van die Heilige Gees so glorieryk is: Hy getuig eers saam met ons gees dat ons kinders van God is. Maar dan gaan Hy verder en openbaar ook dat ons “erfgename van God en mede-efgename van Christus” (Romeine 8:17) is.

Terwyl jy hierdie boodskap lees, het jy dalk geen probleem om ‘n toestand van hulpeloosheid te erken nie. Miskien is jy werkloos. As jy na die toekoms kyk, lyk alles hopeloos. Jy mag geredelik identifiseer met ‘n hulpelose kind. Jy kan sê, “Ja, dit is ek – ek kan nie my skuld hanteer nie, my hande is afgekap, ek kan niks laat gebeur nie!”

Maar by die kind tussen die dissipels, was daar nog Iemand – Iemand met ‘n hand op daardie kind se skouer. God het daar gestaan – God in Christus! En ek het geen twyfel dat daardie kind op die Meester se skoot geklim het en Hom met volkome rus en vrede omhels het nie. Jy sien, kinders het Jesus maklik herken vir wie Hy was – hulle het hosanna’s tot Hom gesing!

Ons is almal werklik hulpelose kinders – maar ons is kinders van die almagtige God, die Skepper van die heelal!

Afhanklikheid is nie net om te erken hoe hulpeloos jy is nie – dit is ook om te beleef hoe magtig jou Vader is!

Afhanklikheid van God beteken drie dinge:

1.Om jouself aan God se absolute mag toe te vertrou.

2.Om jou aan sy wil te onderwerp.

3.Om vir Hom te wag om op te tree op Sy tyd en op Sy manier.

Ken jy ‘n Christen wat in ‘n angstige toestand verkeer? Veronderstel jy vra hom, “Glo jy God het die mag om jou te red?” Sy antwoord sou waarskynlik wees: “Ja – God het al die mag wat nodig is. Niks is vir Hom onmoontlik nie.”

Dan vra jy: “Glo jy dat Hy vir jou sorg en jou liefhet?” Sy antwoord is dalk, “Ek is nie die beste Christen nie. Ek het foute gemaak. Maar, ja – ek glo God het my lief, dat Hy omgee oor wat met my gebeur.”

Laastens vra jy: “As jy glo dat Hy al die mag het, en dat Hy vir jou sorg – waarom is jy dan altyd so bekommerd, vol angs en vrees?”

Jou vriend sal antwoord, “Omdat niks gebeur nie! Dinge raak erger en ek is op die randjie van ‘n volslae ramp! Hulle wat daarvan praat om God te vertrou, het werk. Hulle is nie in my posisie nie – hulle weet nie hoe dit is nie! Ek raak hoopvol, dan stort alles in duie. Alles wat ek probeer lei tot niks!”

Dit is waarom so baie mense hoop verloor – omdat hulle van hulpeloosheid na hopeloosheid gaan sonder om die ander Individu in hierdie storie raak te sien – die Een wat Sy hand op daardie kind se skouer gehad het!

In hierdie lewe, sal ons swaarkry beleef. Dit is nie net die goddelose wat ly nie, maar “Menigvuldig is die teëspoede van die regverdige” (Psalm 34:20). En deur sulke beproewings, sal jy op die ou end God begin haat of jouself volkome aan sy sorg oorgee.

Geliefde, die Heilige Gees het gekom vir presies sulke tye. Hy het nie gekom om jou net rein te hou nie, maar om jou van ellende te red. Hy is gestuur om jou te lei deur alle beproewings, krisisse en hopelose situasies.

“Pas op dat julle nie een van hierdie kleintjies verag nie; want Ek sê vir julle dat hulle engele in die hemele altyd die aangesig sien van my Vader wat in die hemele is” (Matthéüs 18:10).

Ons het amper hierdie vers gerelegeer na ‘n Sondagskoolliedjie: Elke kind het ‘n beskermengel. Ek twyfel nie dat dit waar is nie. Maar Jesus sê soveel meer hier! Hy sê, “Moenie hulle, wat soos kinders opgehou het om te probeer om alles uit te werk nie, verag nie. Hulle het hulleself volkome aan My sorg toevertrou. En hulle Vader het ‘n leërskare engele wat enigiets om hulle onthalwe sal doen!”

Die Heilige Gees sal jou geloof in God se getrouheid aanwakker!

God neem ons nie altyd op die maklike pad nie. Soos dit waar was vir die gelowige Hebreërs, sluit die weg baie swaarkry en lyding in. “Maar onthou die vorige dae waarin julle, toe julle verlig geword het, ‘n groot lydensworsteling deurstaan het” (Hebreërs 10:32).

Is dit waar van jou lewe? Jy het voluit gegaan vir Jesus, en ‘n volkome oorgawe gemaak – en Sy lig in jou was aangeskakel! Toe skielik het jy ‘n tyd van groot lyding betree. Jou probleme en beproewings het erger geword!

“Omdat julle...’n skouspel geword het” (Hebreërs 10:33). Jy het ‘n skouspel geword vir die hele wêreld, ‘n beeld van lyding, en ‘n voorbeeld van verdrukking. Die wêreld rondom jou het gewonder waar jou God was, en waarom jy soveel gely het.

“Julle het die berowing van julle goed met blydskap aanvaar” (Hebreërs 10:34). Dink daaraan: Die Hebreeuse Christene was in die tronk gegooi, en hulle mede gelowiges was gevange geneem. Hulle het hulle mooi huise, al hulle meubels en klere, al hulle aardse goed verloor.

Ons mag binnekort by daardie plek uitkom in Amerika. Sal jy dit kan hanteer soos die Hebreeuse Christene gedoen het? Die Skrif sê hulle het dit nie net verdra nie – maar hulle het dit met blydskap verdra! Wat het die Hebreërs gedoen wat hulle gehelp het om vreugdevol te bly in sulke beproewings? Die antwoord staan in vers 34: “Omdat julle geweet het dat julle in julself ‘n beter en blywende besitting in die hemele het!”

Hulle het nie hulle vertroue in God verwerp toe alles gebeur het nie. In teendeel, hulle het dieselfde beloftes gehad – en hulle het vertrou.

“Maar onthou die vorige dae” (Hebreërs 10:32). Die outeur van Hebreërs het hierdie gelowiges gevra om terug te kyk en die Here se verlossing te onthou!

‘n Dierbare Christelike vrou het onlangs vir my vertel hoe haar man tien jaar gelede sy florerende besigheid verloor het. Die paartjie was naby vyftig jaar oud toe hulle alles verloor het. Laat in die lewe, moes hulle oor begin, met amper niks. Dus het hulle in ‘n klein woonstel ingetrek – en hulle het saam gebid en in die Here toegeneem.

Sy het getuig, “Nog nooit in die afgelope tien jaar het die Here ons teleurgestel nie. En dit was tien van die gelukkigste, mees produktiewe jare van ons lewens. God het al die swaarkry gebruik om ons bymekaar uit te bring, terwyl baie van ons vriende se huwelike verbrokkel en hulle geskei het.

“Ons spandeer nie baie nie, omdat ons nie baie het nie. Maar dit is nou beter as toe ons alles gehad het. Daar was tye wat ons $10,000 nodig gehad het en God het daardie behoefte aangespreek. Ons kyk terug en ons kan God se getrouheid sien. Hy het ons deugedra!”

Dierbare heilige, God dra altyd Sy kinders deur! Ek sê nie jy sal nie deur moeilike tye gaan en selfs miskien ‘n werk of ‘n huis verloor nie. Ons moet almal reg wees daarvoor. Maar die Bybel sê vir ons, “Werp dan alle vrymoedigheid, wat ‘n groot beloning is, nie weg nie” (Hebreërs 10:35).

“Want julle het lydsaamheid nodig, om, nadat julle die wil van God gedoen het, die belofte te verkry. Want nog ’n klein tydjie, en Hy wat kom, sal kom en nie versuim nie. Maar die regverdige sal uit die geloof lewe; en as hy hom onttrek, het my siel geen welbehae in hom nie” (Hebreërs 10:36-38).

Dit maak nie saak hoe moeilik dit raak nie, omdat dit nie baie lank sal duur nie; Jesus gaan weer kom! En of Hy tydens jou beproewing kom of nie, Hy belowe om jou te red.

Hier is die enigste manier waarop jy en ek dit gaan maak:

Ons moet ons God vertrou om vir Sy afhanklikes te sorg

Diegene wat terugdiens met vrees en ongeloof, sal op die ou end vernietig word: “Maar by ons is daar geen onttrekking tot verderf nie, maar geloof tot behoud van die lewe” (Hebreërs 10:39). God het geen behae in hulle nie. Hulle sal val, en hulle sal in duisternis en verwarring beland.

Ek sien soveel terugdeinsing vandag. Hulle het geen geloof nie; hulle verlaat hulle nie op God se sorgsaamheid nie. Hulle sien hulleself as hopeloos, versaakte en verlate kinders. Hulle het hulleself nog nie aan die Here oorgegee en gesê. “Ja, ek is hulpeloos – maar ek is ‘n kind van die Almagtige God!”

Geliefde, ek het ‘n liefdevolle Vader wat my nooit sal faal nie. En ek sal Hom nie beskuldig dat Hy my teleurstel nie! Hy sal my op een of ander manier deurdra. Ek mag dalk nie die leefstyl hê waaraan ek gewoond is nie. Maar as Hy alles rondom my in duie laat stort, en ek my geloof behou, sal ek blydskap, geluk, vrede en alles wat ek nodig het, hê!

Terwyl jy hier lees, mag jy ‘n onseker toekoms in die gesig staar. Jy mag dalk nie weet wat vir jou voorlê in jou loopbaan of vir jou gesin nie. Jy mag in ‘n situasie wees wat jou vra om die onmoontlike te beleef.

Op hierdie oomblik, roep die Heilige Gees jou om ‘n kinderlike afhanklikheid van jou Vader te hê. Hy dring jou om jouself op Hom te werp in uiterste hulpeloosheid. En Hy roep jou om te onthou: Jy is ‘n kind van die Almagtige God!

Download PDF

DAILY ENCOURAGEMENT IN YOUR INBOX

Sign up now to receive our Daily Devotional or E-newsletter.

SUBSCRIBE