Waarom Nie Net Wegloop Van Dit Alles Af Nie? | World Challenge

Waarom Nie Net Wegloop Van Dit Alles Af Nie?

David WilkersonFebruary 1, 1980

Amper oral waarheen ek deesdae gaan, hoor ek mense sê, “Ek wens ek kon net van alles af wegloop.” Dan na ‘n hartseer ruspose, voeg hulle by, “Maar ek weet nie waarheen om te gaan nie. Ek het nêrens om heen te gaan nie. En ek neem aan ek is te veel van ‘n lafaard.”

Onlangs, terwyl ek my hare laat sny het, het my barbier erken, “Gister, het ek ‘n paar lugrederye geskakel vir inligting oor vlugte na Hawaii. Ek het hierdie skielike wens gehad om alles te verkoop, weg te loop van my besigheid en verpligtinge af, na die warm sonskyn van Hawaii te vlieg en ‘n strandloper te word.” Toe het hy met ‘n swaar sug bygevoeg, “Maar ek kon nie die moed bymekaarskraap nie. Nou sal ek maar aanhou om myself werk toe te sleep en die probleme sal bly.”

Wat van die huisvrou wat wakker word in die oggend en droom om van alles af weg te loop?

Haar huwelik het eentonig geword; sy voel verveeld en rusteloos; en niemand lyk of hulle verstaan waardeur sy gaan nie. Daar is sommige goeie dae, maar meestal is hulle ondraaglik. Sy wonder of dit alles die moeite werd is.

Sy twyfel of sy ooit werklik gelukkig sal wees – en daar is vlugtige oomblikke wanneer sy vir haarself sê, “Soms voel ek om alles op te pak en net weg te gaan – enige plek – net om weg te kom!”

Wat van die man? Hoe dikwels droom hy daarvan om van sy laste en druk te ontsnap?

Hy raak moeg vir die daaglikse roetine – moeg om so hard te werk, terwyl hy net verder agter raak. Hy voel die swaar las van ‘n gesin grootmaak in ‘n baie komplekse eeu, en hy begin dink, “Hoe lank sal ek soveel mense op my rug kan dra? Hoe lank moet ek al die ander se probleme oplos? Almal pluk my en ek het niks oor nie. Ek wil net graag wegkom van dit alles af.”

Eendag kyk die man of vrou, of beide rond, en neem ‘n voorraadopname.

Die huis is mooi, die karre is goed, die leefwyse is gemaklik – maar dit bring nie geluk nie. Daar is ‘n voortslepende leegheid, ‘n onverklaarbare soort verlange na iets meer uit die lewe, uit die huwelik. Hulle onthou beter dae, vorige drome en hoop, en dit alles lyk of dit plek gemaak het vir ‘n saai soort bestaan wat nie is waarvoor hulle gehoop die lewe en die huwelik sou wees nie. Die betowering is weg en die vreugde van samesyn en liefde word nou oorskadu deur probleme en die sorge van die lewe. Die kinders word liefgehê, maar hulle probleme kompliseer dinge nog verder.

Al hierdie dinge het ‘n manier om by ‘n brandpunt uit te kom.

Daar kom ‘n tyd wanneer selfs die geduldigste, liefdevolle, vertrouende Christen ‘n krisis bereik wat die siel dompel in gevoelens van hopeloosheid en wanhoop. Dit is die tye wanneer alles lyk of dit verkeerd gaan, en dit lyk of daar geen einde in sig is aan die swaarkry nie. Dit is dan wanneer hierdie drang om weg te vlug so sterk is. Soos Dawid, die psalmdigter, roep ons innerlik, “Ag, had ek maar vlerke soos ‘n duif, dan sou ek wegvlieg en wegbly”?

Die ware Christen dink nooit daaraan om weg te loop na iets goddeloos of sondig nie.

Hulle liefde vir God is sterk, en hulle sal nie, vir ‘n oomblik, die Heilige Gees bedroef nie. Maar steeds vind hulle hulleself ingehok. Daar is sekere dinge waaroor hulle gebid het en hulle dring aan op ‘n antwoord, of ‘n wonderwerk. Hulle is oortuig God is getrou en dat Hy vir Sy Kinders omgee en gebed verhoor. Maar om een of ander onverklaarbare rede, word hulle gebed nie verhoor nie – ten minste nog nie. So hard as wat hulle probeer, verander hulle huwelik situasie nie. Die kinders gaan voort in hulle dwaasheid en die daaglikse probleme hoop op. Dikwels, raak die finansiële druk stadig maar seker erger. Net wanneer een krisis verby is, kom daar nog een. Hulle begin te wonder of die lewe net een reeks laste en probleme na die ander is. En die grootste ding wat hulle nie verstaan nie, is die volgende: “As ek gebid het, met ware geloof, en ek is nie verhoor nie – is dit ek? Doen ek iets verkeerd? Stel ek die Here teleur, of blokkeer sonde die antwoord?” Of hulle begin ‘n subtiele wrok teen God koester omdat Hy hulle in hul uur van nood geïgnoreer het.

Ons sou almal verras wees, indien nie geskok nie, oor die groot getalle goeie Christene wat heimlik tydelike gedagtes koester om weg te loop van dit alles af.

Amper almal ly op een of ander manier. Een keer het Oral Roberts vir my vertel, “Daar was tye waarop ek daarvan sou gehou het om weg te loop van alles af. Soms raak die laste oorweldigend maar wegloop los nooit iets op nie.” Oorlede Kathryn Kuhlman, daardie magtig gebruikte genesingsevangelis wat duisende bedien het, het my eens in haar vertroue geneem, “David, meer as een keer het ek gedink om net weg te loop van dit alles af. Hoe lekker sou dit wees om wakker te word sonder al die verantwoordelikhede en laste.”

Ek het ook al hierdie oomblike gehad wanneer ek op ‘n vliegtuig wou klim na een of ander stil, onbekende plek en wegkom van alles af. Nog nooit in my lewe het ek al ooit gespeel met een gedagte om weg te hardloop van God of my geloof nie. Ek het nog nooit gedink aan wegloop van my gesin of my bediening nie. Meestal, soos so baie ander, wil ek wegloop van die eise en die besigwees wat geneig is om te verstrik en te verslaaf – en geen tyd laat om te groei nie.

So baie mense wat sou ontsnap het, is soos die vrou in Dallas, Texas, wat bely het, “Ek sou lankal weggegaan het, maar ek het nêrens om heen te gaan nie. Waarheen gaan ‘n 45-jarige vrou? En wat sou ek doen wanneer ek daar kom? Ek neem aan ek is hier vas vir die res van my lewe.”

Een ware heer het geskryf, “Ek het weggeloop – vir een week! Dit was al wat ek kon verdra. Die eensaamheid en wanhoop het net erger geword. Om alleen te wees het glad nie gehelp nie. Ek het ellendig gevoel, en ek het besef ‘n mens kan nooit weghardloop van enige probleem nie – jy moet bly en dit uitwag.”

Dit is die getuienis van die oorgrote meerderheid van diegene wat wel weggeloop het. Hulle vertel van gevoelens van skuld –  vrees – leegheid – baie erger as enigiets wat hulle beleef het voor hulle weggeloop het. En die tragiesste belydenisse kom van diegene wat wou teruggaan – maar nie kon nie. Dit is nooit dieselfde wanneer jy teruggaan nie. Dinge verander drasties wanneer jy wegloop van familie, van verpligtinge, van die werk af. Selfs al twyfel jy en besluit om terug te gaan en “weer te probeer” – verander ander. Situasies verander. En net soos dit met Esau gebeur het, word jou geboortereg uit jou hande gevat en aan ander gegee. As jy wegloop, moenie verwag om terug te gaan en alles dieselfde te vind nie. Jy sal nooit dieselfde wees nie; iets sal verlore wees wat nooit vervang kan word nie.

Wanneer mense dink hulle het misluk, is hulle eerste impuls om weg te hardloop.

As daardie mislukking vir hulle skande bring, as hulle beskaamd voel op enige manier en nie langer iemand in die oë kan kyk nie – dink hulle net aan weghardloop. Dit is hulle manier om hulleself te straf, so asof hulle sê, “Ek is nikswerd nie. Ek is ‘n las. Die beste ding vir my is om uit almal se pad te kom. Ek is ‘n moeilikheidmaker, so ek sal weggaan en niemand in die skande steek nie. Ek kan nie nou liefgehê word nie; ek kan nie my kop omhoog hou nie; so ek kan netsowel weggaan.”

Dit is die eerste reaksie van ‘n man of vrou wat in owerspel betrap is. Die geopenbaarde party ween, huil en bied dan aan om weg te gaan. “Okei, ek weet wat ek gedoen het. Ek is vuil, nikswerd, nutteloos. Jy verdien beter. Ek weet jy en God sal my nooit vergewe nie, so ek sal net my tasse pak en weggaan.” In baie gevalle, gaan die skuldige party wel weg, en vertel dan vir almal, “Ek is uitgeskop. Ek het my bes gedoen om te versoen, maar my huweliksmaat het my onteien.”

Jongmense dink daaraan om weg te loop om verskeie redes

Meisies loop dikwels weg wanneer ‘n kêrel hlle hart breek. ‘n Gebroke hart is vir ‘n jongmeisie die wreedste en mees traumatiese belewenis van alles. Sonder God se hulp, is dit amper onmoontlik vir sommiges om te oorwin. Daarom vlug hulle, en hou aan vlug –van God, van gevoelens van minderwaardigheid en van hulle innerlike hartseer af weg. Jongmans loop weg van werk en loopbane wat ‘n doodloopstraat is. Amper daagliks, ontvang ek briewe van jonges wat voltydse werk soek “in een of ander bediening.” Hulle erken hulle voel hulle bereik niks met hulle lewens nie. Hulle voel om weg te hardloop en nie te stop nie – totdat hulle een of ander werk kan vind wat hulle behoefte vir vervulling bevredig. Dit is waarom ek glo die meeste van ons wegloop-jeug vandag nie soseer weghardloop van iets nie maar hulle probeer na iets hardloop wat die moeite werd is. Hulle is soekend, meer as vlugtend.

Klink ek te pessimisties? Klink dit asof ek dink die meeste Christene is rusteloos, vasgevang in wanhoop, ongeloof en wil weghardloop? Laat ek dit klink asof daar geen oorwinning in Christus is nie – geen lewe van blydskap – vrede en geluk nie? Laat ek dit klink of die meeste huwelike eentonig geword het en dat die meeste mans en vroue kop wil uittrek?

Dit is nie die bedoeling van hierdie boodskap nie. Dank God vir al die gelukkige, goed aangepaste, gevestigde Christene wat geen probleme, pyn, of teenspoed het nie. Dank God vir diegene wat huwelike vry van laste en ongerief het. Dank God vir die Christene wat leef, asem haal en geloof en oorwinning praat. Dit is die doel wat Christus vir ons daargestel het – ‘n lewe van algehele vertroue, kinderlike geloof en oorwinning oor al die mag van die vyand. Maar sommige van ons gaan steeds deur stryd. Sommige van ons bid steeds ernstig vir dinge wat nog nie vervul is nie. Sommige van ons, gevul met geloof en oorwinning, het steeds familiedruk, siekte, hartseer en beproewings. Ons het ook die Here lief en het vrede met God. Maar ons kan nie lieg oor ons ware gevoelens nie en ons kan steeds nie wegkruip van die stryd wat om ons woed nie. So moenie dink ons is tweedeklas Christene as gevolg van daardie tye wat ons roep soos Jesus, “Here, waarom het U me verlaat?” nie. Moenie dink ons is lasteraars of twyfelaars omdat ons hierdie verbygaande gedagtes kry oor om van die stryd te ontsnap nie. Moenie ons beskuldig van onvolwasse of swak wees bloot omdat ons nie die hele Woord van God verstaan – of hoe om al die beloftes toe te eien – of hoe om elke gebed verhoor te kry nie. En moet asseblief nie vir diegene van ons wat steeds ween en huil en hartseer is as gevolg van pyn, lyding en misverstand vertel dat ons moet lag, altyd gelukkig en suksesvol wees nie. Selfs daardie heilige apostel Paulus het gepraat van “dat ons dit bo ons krag uitermate swaar gehad het, sodat ons selfs aan ons lewe gewanhoop het.”

God verstaan volkome die mens se impuls of weg te vlug in tye van swaarkry en krisis.

Dit is waarom Hy vir Israel vrystede beskik het, waar mense in krisisse heen kon vlug vir skuiling en beskerming. Ses stede is opsy gesit sodat enige Israeliet wat “onverhoeds” met ‘n probleem oorval is, na “een van hierdie stede kan vlug en in die lewe bly” (Deuteronómium 4:42).

Vandag het ons selfs iets beter. God het vir ons ‘n Sterk Toring verskaf waarheen ons kan vlug en gehelp word in tye van nood.

“Die Naam van die HERE is ’n sterk toring; die regverdige hardloop daarin en word beskut” (Spreuke 18:10).

Vriend, daar is geen plek om na te vlug nie – behalwe na die Here toe.

Dawid het in tye van probleme, gevlug na die Rots. Jesus nooi ons uit om te vlug na die skuiling van sy vleuels. Toe baie van Sy dissipels Hom verlaat het, het Jesus na die twaalf gedraai en vir hulle geva, “Wil julle nie ook weggaan soos die ander nie?” Petrus het Hom geantwoord, “Here, na wie toe moet ons gaan? U het die woorde van die ewige lewe.” Petrus was oortuig dat Jesus die enigste plek was om weg te kruip – die enigste plek van rus.

Dink aan die arme, moedelose homoseksueel wat pas ‘n “ware liefde” verloor het. Hy drink om sy skuldgevoelens en wanhoop te verdoof. Hy lewe in vrees en konstante marteling, eensaam en vreesbevange. Hy het nêrens om heen te vlug nie – omdat hy geen Christus het nie.  Hy het geen beskermende vleuels nie, geen skuiling teen die storm nie.

Dink aan al die verwarde mans en vroue wat vasgevang is in ‘n hopelose huwelik – nie in staat om te kommunikeer nie, nie in staat om die gaping tussen hulle te oorbrug nie. Hulle drink; hulle is ontrou; hulle leef in pyn en wantroue. Hulle sien geen hoop nie, daarom vlug hulle weg van mekaar af. Hulle soek tydelik verligting van hulle probleme op enige moontlike manier – pille, alkohol, ontrouheid – maar dit maak hulle net meer depressief. Hulle het geen Verlosser om na te gaan nie. Hulle het geen sterk toring om van die magte van die bose te ontsnap nie. Wat ‘n jammerte!

Maar dit is nie so vir die kind van God nie! Ons het ‘n plek waarna ons kan vlug! Daar is geen plek op hierdie aarde waar ons ons probleme en druk kan ontsnap nie – Hy alleen het wat ons nodig het. Na wie toe sal ons gaan? Na Hom! Kan jy Hom nie hoor roep nie, “Kom, vlug na My toe, julle almal wat moeg is vir probleme en swaar gelaai is met laste – en Ek sal julle rus gee”?

Moenie probeer verstaan waardeur jy gaan – in jou lewe – jou huis – jou huwelik – of jou werk nie.

Jy sal dit nooit in ‘n miljoen jaar verstaan nie. Wanneer die vyand kom soos ‘n stroom, jou probeer oorlaai en jou met vrees probeer laat vlug, vlug na die binnekamer van gebed en stort jou hart uit voor die Saligmaker. Gee Hom jou klagtes, gee jou ernstige redes, soos Jesaja voorstel en laat dit alles uitkom voor Sy teenwoordigheid. Huil ‘n rivier van trane as dit kom. As jy geen trane oor het nie, gee bloot oor en laat Hom dit alles oorneem. Staan dan stil en sien die verlossing van die Here.

Moenie dat die duiwel jou probeer mislei met die idee dat jy goddeloos, onwaardig of duiwelbesete is nie. 

As jy misluk het, as jy gesondig het – bely dit! Bekering is bloot om desperaat te wil verander! Jy kan vlug na die vergewende arms van Jesus en volkome heelgemaak word en sterker en reiner voortgaan as ooit tevore.

En moenie luister na daardie leuens van Satan wat voorstel dat jy in ‘n hopelose situasie is nie. Daardie vurige beproewings waardeur jy gaan is algemeen by alle Christene en God sal nie toelaat dat jy deur meer sal gaan as wat jy kan verdra nie.

Hier is God se boodskap van hoop:

“Geliefdes, verbaas julle nie oor die vuurgloed van vervolging onder julle wat tot julle beproewing dien, asof iets vreemds oor julle kom nie; maar namate julle gemeenskap het aan die lyde van Christus, moet julle bly wees, sodat julle ook by die openbaring van sy heerlikheid met blydskap kan jubel” (1 Petrus 4:12,13).

“Geen versoeking het julle aangegryp behalwe ‘n menslike nie; maar God is getrou, wat nie sal toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; maar Hy sal saam met die versoeking ook die uitkoms gee, sodat julle dit kan verdra” (1 Korinthiërs 10:13).

Download PDF