Wat Het Dan Van Blydskap Geword | World Challenge

Wat Het Dan Van Blydskap Geword

David WilkersonFebruary 1, 1983

Die Heilige Gees smag daarna om God se kinders te laat terugkeer om die Here te dien met vreugde en blydskap. Hoe bedroef moet die hemel wees om te sien hoe die nat kombers van wanhoop en hartseer op menigtes gelowiges geval het. Die Woord van God beveel:

“Juig voor die HERE, o ganse aarde! Dien die HERE met blydskap; kom voor sy aangesig met gejubel (Psalm 100:1-2).

“Die die hoop van die goddelose vergaan... (Spreuke 10:28).

“Maar die regverdiges is bly, hulle juig voor die aangesig van God, en hulle is vrolik met blydskap...” (Psalm 68:4).

“En julle sal water skep met vreugde uit die fonteine van heil... (Jesaja 12:3).

“Maar laat húlle almal bly wees wat by U skuil; laat hulle vir ewig jubel, en beskut U hulle; en laat in U juig die wat u Naam liefhet...” (Psalm 5:12,13).

Jesus het vir sy dissipels gesê, “As julle My liefgehad het, sou julle bly wees...” (Johannes 14:28). Die Psalmis het gesê, “Welgeluksalig is die volk wie se God die HERE is...” (Psalm 144:15).

BLYDSKAP beteken “plesier, vreugde, opgewonde van gees, in ekstase te wees wat veroorsaak is deur hoop.” JUBEL en JUIG beteken “blydskap in die hoogste graad, om intens bly te wees.” WELGELUKSALIG beteken “volkome tevrede, uitgebreide plesier.”

Hoeveel Christene ken jy vandag wat opgewonde, opgewek, intens bly, volkome tevrede en blydskap in die hoogste graad beleef? Luister na die woorde van ons Here:

“... wanneer hulle julle verstoot en beledig en jul naam weggooi soos iets wat sleg is, ter wille van die Seun van die mens. Wees bly in daardie dag en spring op... (Lukas 6:22-23).

As Jesus dit nie gesê het nie, sou dit absoluut verregaande geklink het – maar daar is dit in swart op wit en goddelik: “Wanneer jy verwerp, vervolg, rondgeskop word – spring op en af van opwinding! Laat dit jou die grootste graad van blydskap gee! Verbly jou daarin!”

Toe die Heilige Gees aanvanklik met my begin deel het oor die saak van Hom dien met blydskap, was dit vir my moeilik om die erns van die onderwerp te besef. Ek het God se gesindheid nie volkome verstaan nie. Ek het gewonder hoe belangrik dit kon wees in vergelyking met al die hedendaagse hartverskeurende probleme in die wêreld, soos dwelms, alkohol, egskeiding, geweld en verdorwenheid. Ek het nog nooit veel aandag gegee aan hoeveel vreugde en blydskap ek gehad het nie.

“Wat daarvan?” het ek gedink. “So, ek beleef nie altyd blydskap in my Christelike lewe nie. Ek raak terneergedruk! Die probleme van die lewe kry my dikwels onder. Die toekoms lyk so donker dat dit mens soms depressief en vreesbevange laat voel. Die blydskap is daar – ek dink ek wys dit net nie. Ek is net menslik. God is nie bekommerd oor my af tye nie.”

Dit is nie goed genoeg nie! Hierdie saak van Hom dien met vreugde, blydskap, opgewektheid en opwinding word baie ernstig deur God opgeneem.

Onder die ou verbond kry ons ‘n baie duidelike beeld van presies hoe ernstig God hierdie saak opneem van Hom dien met ‘n jubelende gees. By Berg Ebal, het God ‘n skrikwekkende vloek uitgespreek wat ses tragedies ingesluit het: slawerny; honger; dors; naaktheid; gebrek aan alles; ‘n juk van yster op die nek tot verwoesting!

En watter verskriklike sonde kon Israel gepleeg het wat so ‘n verskriklike vloek teweeg kon bring? ‘n Sonde wat hulle kon vernietig? Eerste was natuurlik ongehoorsaamheid aan die Here se gebooie. Maar ook die volgende:

“Omdat jy die HERE jou God nie met vreugde en vrolikheid van hart weens die oorvloed van alles gedien het nie (Deuteronómium 28:47-48).

Jy vra, “Is God werklik so ernstig oor blydskap in hierdie Nuwe Testamentiese tyd van genade?” Die antwoord is dat God ons nie sal oordeel op wat ons op ons gesigte wys nie, maar op wat Hy sien in ons harte. Dit is moontlik om ‘n afgetrokke, moeë gesig te vertoon en steeds oor te loop van blydskap in die innerlike mens. Maar dit is moeilik om die ware blydskap van die Here weg te steek. Wanneer die heerlikheid van God die siel aanraak, affekteer dit die uiterlike gelaat. In die Ou Testamentiese tye, het die salwing die gesig laat straal!

Die profeet Joël het voorspel dat ‘n dag sou aanbreek wanneer blydskap sou vergaan in die huis van God.

“Want beskaamd is die vreugde, weg van die mensekinders af...blydskap en gejuig weg uit die huis van onse God...” (Joël 1:12,16).

Hierdie opdroog van die vreugde en blydskap in gelowiges is duidelik oral waar jy kyk vandag! So baie van God se kinders lyk hartseer en verslaan, omdat hulle die blydskap van die Here verloor het. Talle Christene lyk net so eensaam, terneergedruk en bang soos die ongelowige. Dit het ‘n skandelike getuienis teenoor die wêreld geword en dit is hoog tyd dat elke Christen homself afvra, Hoe dien ek die Here – met watter gesindheid? Dien ek Hom slegs uit vrees of verpligting? Is dit halfhartige diens? Het ek Hom as vanselfsprekend aanvaar? Besit ek daardie onuitspreeklike blydskap of het my vreugde en blydskap verdwyn? Is ek werklik opgewonde en vol ekstase om Hom te ken? Is ek ‘n waardige getuie vir die verlorenes dat Christus die hart met die hoogste graad van blydskap kan vervul? Of het ek net nóg ‘n depressiewe, bekommerde Christen geword? Is daar genoeg blydskap in my siel wat kan oorloop na my dade en my gesprekke, of het ek ‘n murmureerder en ‘n klaer geword soos die kinders van Israel? Glimlag ek nie meer dikwels nie?

Laat my jou een van die redes gee waarom blydskap verdwyn.

I.Ons het moeg geword vir die weg.

“Dat jy jou vir My sou vermoei [verveel] het nie, o Israel!... maar jy het My oorlas aangedoen met jou sondes, jy het My vermoei met jou ongeregtighede (Jesaja 43:22,24) [my hakies].

Die profeet Maléagi het getreur oor die tragiese toestand van God se huis in sy tyd. God se kinders was verveeld, en die aanbidding het eentonig en gierig geword – “En julle sê: Kyk, wat ’n moeite! En julle verag dit, sê die HERE van die leërskare...” (Maléagi 1:13).

Met ander woorde, “My volk het verveeld geraak met My. Daarom sleep hulle hul voete met eentonige diens by die altaar.” God se kinders het Hom aanbid bloot uit gewoonte. Hulle harte was nie langer daarin nie! Hulle het onwillig offers na die altaar gesleep – siek, swak, kreupel offers. Die priesters wou niks doen sonder betaling nie, nie eens die tempeldeure toemaak of die altaarvuur aansteek nie. Hulle het die bediening gebruik om hulle eie huise te bou.

Wat ‘n jammerlike toestand! Hebsugtige bedienaars van die altaar was niks anders as huurlinge nie! Die tempelaanbidding was ‘n klug! Hoe stadig het hulle beweeg, hoe hartseer het hulle gelyk! Daar was geen lewe – geen opwinding – geen blydskap of plesier nie. Die kore, die musikante, sowel as die priesters en die mense het almal die gevaarlike speletjie van skynheiligheid gespeel!

Hulle was vasgevang in ‘n godsdienstige groef. Hulle het hulle halfhartige liedere gesin, hulle halfhartige offergawes gegee, geluister na ‘n halfhartige woord van ‘n halfhartige bedienaar – en gejuig by die gedagte daaraan om klaar te kry. Hulle het hulle gehaas na hulle laaste Amen en vinnig uit die huis van God gevlug.

Hierdie mense was hartseer en verveeld want hulle het toegegee aan ‘n gevoel van nutteloosheid en hulpeloosheid!

“Julle het gesê: Dit is tevergeefs om God te dien, en wat baat dit ons om sy verordening te onderhou en in rouklere voor die aangesig van die HERE van die leërskare te wandel? (Maléagi 3:14).

In ons terminologie, sê hulle in wese, “Wat is die nut? Wat help dit om so hard te werk om God te behaag en te doen wat reg is wanneer dit lyk asof dit nie betaal nie? Waarom offer, vas en bid; waarom so rigied en godsdienstig wees? Dit is nutteloos – dit is vervelig! Niks verander nie. My gebede word nie verhoor nie...ek word steeds oorval met probleme.”

Aangesien daar geen lewe was in God se huis nie, en omdat die altare so eentonig was, het die mense bloot opgegee! Hulle het dit slegs uit gewoonte gedoen omdat hulle bang was vir God se toorn. Hulle het voortgegaan om kerk toe te gaan omdat dit die ding was om te doen. En hulle het elke oomblik daarvan gevrees.

Wat ‘n toonbeeld van toestande vandag! Van dwarsoor die land skryf mense en vertel my van die jammerlike toestand van hulle kerk. Hulle vertel van herders sonder ‘n las, wat nie kan preek nie. Hulle kla oor dooie, droë aanbiddingsdienste wat eentonig en vervelig is. Hulle kerke is dood. Tog gaan hulle aan uit gewoonte! Hulle gooi ‘n bietjie geld in die mandjie! Die koor sing treurig voort. Die kerk funksioneer en programme gaan voort. Maar daar is geen vreugde nie – geen opwinding nie – geen blydskap nie. Geen uitroep van oorwinning nie!

Ek glo een van die skaarste dinge in die wêreld vandag, is ‘n rooiwarm, blye kerk met ‘n man op die kansel wat iets die moeite werd het om te sê. So dikwels hoor ek die volgende: “Ek het moed opgegee om ‘n kerk te vind wat werklik my en my gesin se behoeftes aanspreek. Ek staan elke Sondag op en vrees die gedagte om deur nog ‘n vervelige aanbiddingsdiens te sit. Waar, o waar, kan ek ‘n kerk kry wat aan die brand is?”

En hiervan kan jy seker wees: waar daar ook al ‘n kerk is wat die blydskap en vryheid van die Gees het – sal Satan besig wees om te probeer om daardie kerk en sy herder onder een of ander wettiese, droewige binding te plaas. Satan sou graag by so ‘n kerk uitkom en die blydskap en geluk doodmaak!

So belangrik as wat die rol van die kerk is – is om die Here te dien met vreugde en blydskap ‘n persoonlike verantwoordelikheid!

“En laat ons nie moeg word om goed te doen nie (Galásiërs 6:9).

God sal nie een van ons toelaat om ons verlies aan vreugde en blydskap toe te skryf aan ‘n vervelige prediker of ‘n swak kerk situasie nie. Dit is ons voorreg en verantwoordelikheid om die blydskap van die Here te kry en te behou deur ons eie persoonlike gemeenskap met Hom. God sal geen verskonings aanvaar oor hierdie saak nie!

Paulus moes alleen staan op talle geleenthede. Toe hy vir Timótheüs geskryf het, het hy gesê:

“In my eerste verdediging het niemand my bygestaan nie, maar almal het my verlaat. Mag dit hulle nie toegereken word nie! Maar die Here het my bygestaan en my krag gegee...(2 Timótheüs 4:16,17).

Die Bybel is vol heerlike stories van diegene wat vreugde en blydskap gehandhaaf het deur al hulle beproewings heen – selfs wanneer alle ander moed verloor het! Die hele Israel het gemurmureer en gekla – behalwe twee manne van God, Josua en Kaleb. Hulle het nooit een keer in hulle geloof en blydskap getwyfel nie, selfs nie toe almal rondom hulle toegegee het aan ‘n droewige wanhoop nie.

Toe die leiers van al die nasies, saam met die kerkleiers en gemeentes, neergebuig het voor Koning Nebukadnésar se goue beeld -  het Daniël en die drie Hebreeuse jongmanne gejuig in die Here, onwrikbaar in geloof! Sadrag, Mesag en Abednégo het gespring van blydskap deur die vuuroond heen! Laat alle ander neerslagtig wees en sê, “Jy kan nie die stelsel baklei nie, jy kan nie die gees van die eeu weerstaan nie.” Maar nie hierdie jongmanne nie! “Wat ons betref,” het hulle verklaar, “Ons sal ons God dien met vertroue, vreugde en blydskap!” Daar was geen verveeldheid of eentonigheid vir hulle nie!

Selfs vandag het die Here ‘n volk wat nie sal buig nie! Hulle hef hulle hoofde op, deur allerhande vervolging en beproewings heen, en hulle verbly hulle in die Here! Hulle skyn soos pragtige voorbeelde van hoe die blydskap van die Here moontlik is tydens enige beproewing. Hulle is die Here se beste getuienisse van Sy getrouheid. God sê van hulle, “Hulle vertrou My; dit is waarom hulle soveel vreugde en blydskap het.”

Ons vreugde en blydskap moet die gevolg wees van een groot fundamentele waarheid: ONS IS ONDER SY BESKERMENDE VLERKE!

“Want U was ’n hulp vir my, en in die skaduwee van u vleuels sal ek jubel...(Psalm 63:9).

Geen wonder Paulus kon sê, “Ek loop oor van blydskap in al ons verdrukking” (2 Korinthiërs 7:4). Hoe kan iemand onder God se beskermende vlerke toelaat dat hulle vreugde en blydskap kwyn? Dit is ‘n belediging vir God, en ‘n belediging vir Sy getrouheid. En dit is slegs omdat ons nie langer Sy beskerming en sorg vertrou nie dat ons toelaat dat wanhoop en hartseer ons blydskap en vrede vervang.

II.Blydskap word verloor wanneer vrees wortelskiet!

“Daar is geen vrees in die liefde nie; maar die volmaakte liefde dryf die vrees buite, want die vrees sluit straf in, en hy wat vrees, het nie volmaak geword in die liefde nie (1 Johannes 4:18).

Die resultaat van ongehoorsaamheid en skynheiligheid is altyd vrees. Dit is sonde, wat nie laat staan is nie, wat die volk van God laat bewe in Sy teenwoordigheid, en alle blydskap en vrede verloor. Jesaja het gesê, “Die sondaars in Sion [die kerk] bewe, siddering het die roekelose aangegryp...” (Jesaja 33:14) [my hakies].

Lukas sê vir ons die onbekeerdes is bang, en hulle harte beswyk van vrees – ontsteld oor die verskriklike dinge wat oor die aarde kom (Lukas 21:26). Maar die vrees wat die Christen ontstel, is die direkte gevolg van ‘n boesemsonde herberg!

“Maar as jy kwaad doen, vrees dan... (Romeine 13:4).

Toe Adam gesondig het, kon hy God nie meer in die oë kyk nie. Hy het weggekruip en sy liggaam met sweet en trane beklee! Wat ‘n hartseer dag toe sonde die mens se hart binnegaan het. Blydskap was verloor!

Om die Here met vreugde en blydskap te dien, is onmoontlik as sonde by die deur van die hart lê. Paulus het gewaarsku,

“Verdrukking en benoudheid oor die siel van elke mens wat kwaad doen, oor die Jood eerste en ook oor die Griek... (Romeine 2:9).

Dit is geen wonder dat so baie mense altyd depressief en hartseer is! Wys vir my ‘n bedienaar met onafgelegde sonde in sy lewe, en ek sal vir jou een van die hartseerste, mees ellendige mense op aarde wys. Sy sonde vernietig sy blydskap! Wys vir my enige gelowige met ongehoorsaamheid in sy lewe, en ek sal vir jou ‘n bondel senuwees wys – geteister deur skuldgevoelens, veroordeling, skande en smart! Vreugdeloos! Hartseer!

Kan dit wees dat ons verveeld en vreesagtig is – omdat ons oneerlik is met God?

Nog ‘n rede waarom vrees wortelskiet, is weens die aanwesigheid van ‘n onopgeloste verdrukking of smart.

Soos Dawid, is daar talle Christene wat uitroep,

“Benoudheid en angs het my getref, maar u gebooie is my verlustiging (Psalm 119:143).

Hoe pynlik om te aanskou hoe ‘n pragtige kind ly! Hoe hartseer om hulpeloos te staan en toekyk hoe ‘n geliefde wegteer van kanker of een of ander soort verskriklike siekte! Of erger, om hulle bitter teenoor God te sien word!

Hoe onstellend om na ‘n onseker toekoms te kyk. Een persoon het ‘n huis nodig; ‘n ander moet dringend een verkoop. Sommige is werkloos; ander lewe in voortdurende onsekerheid en wonder of hulle volgende afgedank gaan word.

Oral, is daar probleme. Gesondheidsprobleme, kommer oor besigheid, huise, werke, opvoeding – alles wat saamsweer om die kinders van God te beroof van hulle vertroue in die Here, en van hulle vreugde en blydskap.

Ons word gewaarsku daarteen om na te laat om te juig in tye van lyding. Ons moenie toelaat dat ons pyn ons van Christus se blydskap beroof nie!

“Geliefdes, verbaas julle nie oor die vuurgloed van vervolging onder julle wat tot julle beproewing dien, asof iets vreemds oor julle kom nie; maar namate julle gemeenskap het aan die lyde van Christus, moet julle bly wees, sodat julle ook by die openbaring van sy heerlikheid met blydskap kan jubel (1 Petrus 4:12-13).

Paulus gaan verder: “...as bedroefdes, maar altyd opgeruimd...” (2 Korinthiërs 6:10).

En self nader aan die punt: Daarin verheug julle jul, al word julle nou — as dit nodig is — ’n kort tydjie bedroef onder allerhande beproewinge, sodat die beproefdheid van julle geloof, wat baie kosbaarder is as goud wat vergaan maar deur vuur gelouter word, bevind mag word tot lof en eer en heerlikheid by die openbaring van Jesus Christus; vir wie julle, al het julle Hom nie gesien nie, tog liefhet; in wie julle, al sien julle Hom nou nie, tog glo en julle verbly met ’n onuitspreeklike en heerlike blydskap... (1 Petrus 1:6-8).

Hierdie is ernstige sake! Dit word geskryf aan diegene wat tans ‘n tydperk van droefheid en angs beleef! As dit nodig is...treur... vir ‘n rukkie! Kry dit uit jou sisteem uit! Maar – jy word getoets deur hierdie vurige beproewing. Jy kan nie hartseer bly nie! God se plan en begeerte vir jou is dat Sy vreugde en blydskap jou krag is, nóú.

“Die blydskap in die HERE – dit is julle beskutting” (Nehemía 8:11).

As jy God net kan vertrou, glo dat Hy presies weet wat gebeur en dat Hy uit dit alles heerlikheid sal bring – dan keer blydskap terug!

Gelowiges – ons almal gaan in die vuuroond in!

Die Bybel skets ‘n treurige beeld vir die laaste dae. Ons het nog niks beleef in vergelyking met wat kom nie. Die toekoms, menslik gesproke, is hopeloos. Christus het gewaarsku oor geweld, oorlog, aardbewings oral, hongersnode, pestilensies, skrikwekkende gesigte en groot tekens in die hemel. Daar sal vervolging, verraad, haat en verslaendheid oral wees.

“Mense se harte beswyk van vrees en verwagting van die dinge wat oor die wêreld kom. Want die kragte van die hemele sal geskud word (Lukas 21:26).

Hierdie moeilikheid wat kom oor die aarde is ‘n strik! ‘n Vangstrik! “Want soos ‘n strik sal hy kom oor almal wat op die hele aarde woon...” Dit is in hierdie strik, hierdie begin van smarte, dat talle van God se mense onvoorbereid gevang sal word. Hulle sal val as swakkelinge voor die aanslag van kommer en smart!

As ons geen blydskap het nie – het ons geen sterkte nie! En glo my, broers en susters, ons gaan baie sterkte nodig hê om hierdie bose dae teë te staan. Dit is waarom die Gees van God ons roep om die blydskap van ons verlossing te vernuwe.

III.Blydskap kwyn omdat ons onkundig is oor die heerlike vryheid van die kinders van God!

“Waar die Gees van die Here is, daar is vryheid. (2 Korinthiërs 3:17).

Min Christene het die kennis van die waarheid oor vryheid en die lewensvrymakende offer op Gólgota! Hulle het nooit toegelaat dat die Kruis hulle vrymaak van alle vrees en slawerny nie. Ons kan ons nie verbly en uitermatig juig in ons verhouding met die Here as ons ‘n swak of beperkte kennis het van wat aan die Kruis gebeur het nie.

Paulus het die heerlike openbaring gesien van ‘n vrymakende Kruis! Dit beteken vir hom vryheid:

“Want julle is tot vryheid geroep, broeders...Staan dan vas in die vryheid waarmee Christus ons vrygemaak het, en laat julle nie weer onder die juk van diensbaarheid bring nie...” (Galásiërs 5:1,13).

Dit is nie net waaruit ons gered is wat gejubel veroorsaak nie – dit is waarin ons gebring is!

“In die hoop dat ook die skepping self vrygemaak sal word van die slawerny van die verganklikheid tot die vryheid van die heerlikheid van die kinders van God” (Romeine 8:21).

Vryheid beteken “vrygemaak of vrystelling van slawerny.” Dit beteken krag om te kies, onafhanklikheid van alle onderdrukkende magte! In Jesaja lees ons dat die Gees van die Here op Christus was “om vir die gevangenes ’n vrylating uit te roep en vir die geboeides opening van die gevangenis” (Jesaja 61:1).

Nie langer beheer Satan jou wil nie! Ons kan nie langer sê, “Ek kan dit nie help nie!” Nee! Ons is vry om elke boesemsonde te laat staan! Alle slawerny, ná bekering, is self-toegedien.

Blydskap is weg want ons aanvaar nie ten volle Christus se volkome en onverdiende genade nie! Dit voel meer heilig om voort te aan om te berou te toon en te bely...berou te toon en te bely...te werk en te sloof om ons liefde vir Hom te bewys! Dit lyk of ons vergeet het dat ons eens ons sondes bely het, “As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig” (1 Johannes 1:9).

Ons kan bloot nie die waarheid begryp dat God nie kwaad is vir Sy belydende kinders nie. Ons kan net nie glo “die HERE het ’n welbehae in sy volk...Laat die gunsgenote juig in heerlikheid...” (Psalm 149:4,5) nie.

Ja, daar is ‘n tyd om jou te berou te hê. Maar daar is ook ‘n tyd om te juig oor vergifnis! Dit word duidelik gedemonstreer by Esra se Waterpoort! Dit is reg – “Water-gate!” Esra en Nehemía het die taak opgeneem om Jerusalem te herbou en wet en gehoorsaamheid in Israel te herstel. Jerusalem lê in puin, sy poorte afgebrand met vuur en sy mure afgebreek en aan die verkrummel.

Die mense het wetteloos, ongehoorsaam en goddeloos geword. Die rykes het hoë rentes gevra en die land onder slawerny en skuld gebring. Die ergste van alles, hulle het gemeng met afgodedienaars en het heidense vroue getrou.

God was op die punt om Sion te laat herlewe. ‘n Gees van smart en ware hartsberou sou binnekort op die mense uitgestort word.

“En toe... het die hele volk soos een man op die plein voor die Waterpoort bymekaargekom en aan Esra, die skrifgeleerde, gesê om die boek van die wet van Moses, wat die HERE Israel beveel het, te bring...

“En Esra, die skrifgeleerde, het op ’n houtverhoog gestaan...En Esra het die boek oopgemaak...en toe hy dit oopmaak, het die hele volk opgestaan...En hulle het uit die boek, uit die wet van God, duidelik voorgelees en dit verklaar, sodat hulle verstaan het wat voorgelees is(Nehemía 8:1-9).

Die Woord van God het uitgegaan, die mense het met blydskap gehoor – hulle het verstaan! Hulle het bely! Die Skrif sê, “Die hele volk het geween toe hulle die woorde van die wet hoor...” (Nehemía 8:10).

Hulle het gerou oor hulle sonde! Hulle het geween oor hulle afvalligheid! Hulle het getreur en was bedroef tot bekering. En selfs hoewel daar steeds ander tye sou wees om te ween, en hoewel daar steeds baie was wat die Heilige Gees moes doen om hulle by ‘n plek van volkome gehoorsaamheid te bring – het hulle werklik berou gehad in hulle harte en was gewillig om die hele pad met God te loop. Hulle het gesmag na heiligheid en reinheid.

Na bekering – is dit tyd om te juig en bly te wees!

Nehemía en Esra het voor daardie wenende, treurende kinders van God gestaan en ‘n dag van vreugde en blydskap afgekondig.

“Hierdie dag is heilig aan die HERE julle God; treur nie en ween nie...want die blydskap van die HERE – dit is julle beskutting (Nehemía 8:10-11).

Geen depressie meer nie! Geen droefheid meer nie! Geen skuld of veroordeling meer nie! Hulle het hulle werklik bekeer. Nou was dit tyd om te sing, te juig en sterk te wees in blydskap. Nou was die tyd om vergifnis te aanvaar en uitermatig bly te wees:

“Toe het die hele volk weggegaan om...groot vreugde te bedrywe; want hulle het ag gegee op die woorde wat aan hulle bekend gemaak is” (Nehemía 8:13).

Ons blydskap en geluk moet ook kom van begrip van God se boodskap van vryheid. Jy hoef nie al die leerstelling van boetedoening, versoening, soenoffer, genade, heiligmaking ens. te verstaan nie. Al wat jy nodig het om te weet om met blydskap voor die Here te lewe, is hierdie een fundamentele waarheid:

God was volkome tevrede met Christus se offer aan die Kruis!

Jy hoef dit nie te verduidelik, of heeltemal te verstaan nie. Maar jy moet verstaan dat dit genoeg was. Dit was al wat nodig was! God vergewe nou gewillig – met blydskap – vergewe Hy almal wat hulle bekeer. Ons is versoen! Christus het vrede gemaak! Hy het God se toorn teen sonde wat bely is, weggeneem.

Om jou nie te verbly in Christus se vergifnis nie, is om Sy volle betaling van ons sondes in twyfel te trek! Dit is ‘n erger sonde. Laat die Gees jou ‘n begrip gee van hierdie waarheid – ons is geroep tot vryheid. God wil hê ons moet oorvloedige blydskap hê. ‘n Blydskap wat volkome en volmaak is. Ingedruk en tot oorlopens toe vol!

God se Woord maak dit baie duidelik dat Hy smag om geniet te word deur Sy heiliges –

“Sodat hulle my blydskap volkome in hulle kan hê... (Johannes 17:13).

“En die losgekooptes van die HERE sal teruggaan en na Sion kom met gejubel, en ewige vreugde sal op hulle hoof wees; vreugde en blydskap sal hulle verkry, maar kommer en gesug vlug weg... (Jesaja 35:10).

Asseblief – moenie die genade van God verag nie! Aanvaar jou vergifnis. Moenie probeer om nuwe dinge uit te dink waaroor jy berou moet hê nie. Dit is tyd om te geniet wat Christus vir ons gedoen het. JUIG!

Download PDF