Weg Met Godsdiens | World Challenge

Weg Met Godsdiens

David WilkersonMarch 1, 1981

In ‘n onlangse meningspeiling, was jongmense die vraag gevra, “Waar is jy die meeste verveeld?” Die nommer 1 antwoord was, “In die Kerk.”

Ek stem saam! Die meeste kerke vandag het glad niks om jongmense te bied nie. Die meeste tieners gaan kerk toe net omdat hulle ouers hulle dwing om te gaan. En baie van die ouers gaan net omdat dit die “godsdienstige ding” is om te doen.

Dit is nie omdat jongmense goddeloos of ongodsdienstig geword het nie. Trouens, nog ‘n onlangse meningspeiling wys dat 84% van Amerikaanse jongmense in God glo en dat Hy persoonlik in hulle lewens betrokke is.

Hulle doen nie weg met God nie, net met godsdiens. Hulle kan nie verstaan waarom daar soveel godsdienste – soveel denominasies – soveel verwarring, stryd en haat – alles in die Naam van God is nie.

Dink aan die godsdienste in die wêreld; om net ‘n paar te noem: Boeddisme, Hindoeïsme, Mohammedanisme, Katolisisme, Islamisme, Judaïsme, Protestantisme, Sjintoïsme, Mormonisme, Unitarisme.

Dit is amper onmoontlik om tred te hou met al die ou en nuwe godsdienstige denominasies, bewegings, groepe en kultusse. Daar is meer as twintig Baptistiese organisasies; meer as vyf-en-twintig verskillende Pinkster denominasies; Metodiste, Presbiteriane; Kerk van Christus; Dissipels van Christus; Lutherane; Episkopale; Christelike Kerk; Verenigde Metodiste; Vrye Metodiste; Broeders; Plymouth Broeders; Christelike Wetenskap; Sewende Dag Adventiste; Jehova Getuies – ensovoorts.

Selfs nog meer verwarrend is al die nuwe godsdienste: Die Moonies, Hare Krishna, Kimbangoeïsme, Zen Boeddisme, Spiritisme, Sciëntologie, ens.

Het jy al gehoor dit word gesê, “Daar mag soveel godsdienste op aarde wees, maar ons aanbid almal dieselfde God”? Dit is wat die Islamitiese Ajatollas verkondig. Hulle maak dood, ontvoer, martel – alles in die Naam van God! Miljoene Iranese en ander Islamiete is gereed om te sterf vir die god van hulle godsdiens.

Iran en Irak het beide Islamitiese godsdienste: dieselfde god, dieselfde leerstellings, en hulle vertel vir die wêreld hulle voer ‘n “godsdienstige oorlog” teen mekaar. Meer mense het al gesterf weens godsdiens as enige ander oorsaak op aarde. In Ierland op hierdie oomblik, maak Katolieke en Protestante mekaar dood in die Naam van God en hulle godsdiens. Kerkgeskiedenisboeke is vol bloedige verhale van godsdienstige oorloë. In die naam van godsdiens, het die wêreld gruweldade van inkwisisies, verbrandings, slae, verdrinkings, massa moorde en volksmoorde gely.

Ek het ‘n Ku Klux Klan leier in ‘n onderhoud hoor sê, “Ons brand kruise in die agterplase van Swartes om vir hulle te wys dat Jesus Christus wit was.” Hierdie kranksinnige man gaan rond en verkondig dat God die Klan opgerig het om die Bybel, sedes, Wittes en moederskap te beskerm. Klan-lede roem daarin dat hulle “baie godsdienstig” is.

Die duiwel het godsdiens uitgedink! Satan is ‘n baie godsdienstige wese. Die woordeboek se definisie van godsdiens is: “’n Geloof in ‘n bonatuurlike mag.” Die Bybel maak dit duidelik dat die duiwel in God glo, soveel so, dat hy bewe by die gedagte daaraan.

“Jy glo dat God één is. Jy doen goed; die duiwels glo dit ook, en hulle sidder” (Jakobus 2:19).

Niks het die heilige woede van Jesus so uitgelok as leë godsdiens nie. Dit was godsdiens wat die mense weerhou het om Hom te aanvaar as hulle Verlosser. Hulle godsdiens het hulle daarvan weerhou om die Koninkryk van God binne te gaan.

Die godsdiens van die Jode het hulle in geestelike duisternis gehou. Dit het ‘n sterk houvas op die massa’s gehad en het hulle gebind met reëls, regulasies, wette. Dit was ‘n godsdiens van slawerny en vrees. Christus was ‘n bedreiging vir die skrifgeleerdes, Fariseërs en hoëpriesters van godsdiens. Die skrifgeleerdes was wettiese kenners in die Joodse godsdiens. Dit was hulle kundigheid wat die tempel- en sinagogepriesters gehelp het om die mense in slawerny te hou. Die skrifgeleefdes het hulle hele lewens daaraan gewy om hulle godsdiens te bestudeer en vir mense te vertel hoe om godsdienstig te wees. Hulle het later bekend gestaan as rabbi’s.

Dit was godsdienstige leiers wat God se huis in ‘n rowerspelonk verander het. Die tempel van God was veronderstel om ‘n huis van gebed te wees, waar mense wat honger vir die waarheid was, die werklikheid kon vind. Maar Jesus het eendag die tempel binnegestap en ontdek dat die godsdienstige leiers God se huis in ‘n karnaval verander het.

“Toe Jesus in die tempel ingaan, begin Hy om die wat in die tempel verkoop en koop, uit te jaag; en die tafels van die geldwisselaars en die stoele van die duiweverkopers het Hy omgegooi...” (Markus 11:15).

Jesus het ‘n sweep gemaak en met ‘n heilige ywer, het Hy hulle tot buite in die strate gejaag. Kan jy Hom hoor, “Uit – al julle godsdienstige skurke! Uit – julle godsdienstige bedrieërs! Weg met julle godsdiens; weg met julle goddelose vormgodsdiens en tradisies.”

Dieselfde godsdienstige fanatici het die Here Jesus doodgemaak! Hou in gedagte, Jesus was nie doodgemaak deur ‘n mal bende ateïste en agnostici nie. Hy was gekruisig deur hoëpriesters, kerkleiers, yweraars en ortodokse godsdienstige skares. Kerkgangers het Hom doodgemaak.

Hulle het Hom doodgemaak, Hom skaamteloos aan ‘n kruis gehang, op Hom gespoeg en vir Hom gelag – alles in die naam van godsdiens. Die hoëpriesters het gesê dat hulle Hom gekruisig het tot eer van God! Hulle het Hom ‘n indringer genoem.

Mense wat in die kerkbanke sit, gaan hel toe. Hulle is toegewyd, vroom en hulle het ‘n sterk geloof in bonatuurlike krag. Hulle praat baie oor God. Maar godsdiens sonder geestelikheid sal hulle siele verdoem. Christus self het gewaarsku dat baie wat Sy Naam gebruik, verlore sal wees in die Oordeelsdag.

“Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is. Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie?” (Matthéüs 7:21,22).

Met ander woorde, dit gaan baie meer as godsdiens verg om jou in die hemel te kry.

Christus leef ook nie in kerkgeboue nie! Elke kerk wat al ooit gebou was, was tot “eer van God” gewy. Maar God leef nie in ‘n kerk, katedraal of tempel nie.

Soos so baie mense vandag, was die dissipels verstom oor die groot, pragtige tempels en sinagoges. Maar Jesus het gesê:

“En Jesus antwoord en sê vir hom: Sien jy hierdie groot geboue? Daar sal sekerlik nie een klip op die ander gelaat word wat nie afgebreek sal word nie!...” (Markus 13:2).

Steen en sement kan nie die krag en heerlikheid van God kry nie. Die Bybel sê,

“Maar die Allerhoogste woon nie in tempels wat met hande gemaak is nie...” (Handelinge 7:48).

“Weet julle nie dat julle ’n tempel van God is en die Gees van God in julle woon nie?” (1 Korinthiërs 3:16).

Daar is absoluut niks verkeerd met ‘n kerkgebou of tempel nie. Wat ‘n gebou heilig maak, is die twee of drie geestelike mense wat daar in Sy Naam vergader! Hy is daar – in hulle midde! Hulle bring Hom in die gebou in!

Dank God daar is kerke waar Christus teenwoordig is en mense se behoeftes aangespreek word. Maar neem hierdie Gees-vervulde mense uit daardie gebou uit en jy kan dit net sowel verander in ‘n kroeg of danssaal. Christus leef slegs in die harte van die kerklidmate.

God sal nie een siel na die hel stuur omdat hy nie kerk bywoon nie. Kerktoe gaan kan jou nie meer verander as wat ‘n stal jou in ‘n perd kan verander nie. Ons word beveel om saam met gelowiges te kom en in Sy Naam te vergader! Maar dit kan enige plek wees. As dit in ‘n lewendige, Christus-gevulde kerk is, gaan dan! Maar Christus gaan jou nie oordeel volgens jou kerkbywoning nie, maar liewer of jy Hom soek. Hy verkies dat jy ‘n ware liggaam gelowiges vind en saam met hulle aanbid.

Paulus, die apostel, kon ook uitroep, “Weg met Godsdiens.” Voor sy bekering, was hy bekend as Saulus, die vervolger van Christene. Wat ‘n godsdienstige man was hy. Hy het erken:

“Ek het behoort aan die strengste groep in ons godsdiens. Ek was ‘n Fariseër.”

Hy sê verder,

“En dat ek in die Jodedom vooruitgegaan het bo baie van my leeftyd onder my stamgenote, terwyl ek veral ’n yweraar was vir die oorleweringe van my voorvaders...” (Galásiërs 1:14,15).

Die mees godsdienstige mens in die hele land – hierdie gereelde kerkganger – hierdie rein, sedelike, godsdienstige fanatikus het God liefgehad maar hy het nie Christus, Sy Seun, geken nie. Een heerlike oggend het iets met hierdie godsdienstige man gebeur! Hy het sy godsdiens weggegooi en die Mens, Christus Jesus, ontdek.

“Maar toe dit God behaag het...om sy Seun in my te openbaar” (Galásiërs 1:15,16).

Ek sê soos Paulus, weg met godsdiens! Christus ken is die enigste ding wat tel. Jesus het gesê,

“As julle My geken het, sou julle my Vader ook geken het” (Johannes 14:7).

“As julle My gesien het, het julle die Vader gesien...”

Wat die wêreld die nodigste het, is ‘n nuwe openbaring van die krag van Jesus Christus! Wat het Saulus ‘n lewe van godsdiens laat prysgee om ‘n Mens te volg? Wat het hom laat sê:

“Ja waarlik, ek ag ook alles skade om die uitnemendheid van die kennis van Christus Jesus, my Here, ter wille van wie ek alles prysgegee het en as drek beskou, om Christus as wins te verkry...” (Filippense 3:8).

Wat ‘n verandering! Skielik, was al die godsdiens wat eens soveel vir hom beteken het, niks werd nie; dit is alles drek! Nou het hy realiteit ontdek. In Christus! ‘n Mens wat God geken het – het Christus gevind!

God het Homself nie in en aan Saulus geopenbaar omdat hy godsdienstig was nie. Die ander mans saam met hom, moes ook baie godsdienstig gewees het om op so traumatiese reis te gegaan het om Christene te boei. Hulle was waarskynlik gestuur deur die priesters, gekies vir hulle godsdienstige ywer. Hulle het ook die stem gehoor. As Christus Homself slegs aan mense openbaar wat godsdienstig en ywerig is, sou hulle almal tot bekering gekom het.

God is nie ‘n aannemer van persoon nie, dus kon Hy Saulus arbitrêr “gekies” het, uit die bloute, bo al die manne wat saam met hom gereis het.

Christus verduidelik waarom die openbaring na Saulus gekom het. Sy gees in hom het “teëgeskop.” Daar was onrus in sy siel. Sy gewete het hom gepla. Hy was onder die mes van veroordeling. Openbaring volg oortuiging van sonde. Jy kan nie heelgemaak word totdat jy siekte erken nie. Slegs die siekes het die geneesheer nodig.

Die Groot Geneesheer het reageer op ‘n siek gees. Hierdie man, Saulus, was siek op sy voete. Hy het later gesê dat hy Christene vervolg het “in onkunde,” en dit is waarom hy die openbaring gekry het. Maar Saulus se onkunde het dit nie reg gemaak nie. God reageer nie net op diegene wat in onkunde sondig nie. Die heidene sondig in onkunde en sien nie die Lig nie.

Dit was meer as dit. Saulus het uiterlik een ding gesê en gedoen, maar innerlik iets anders in gedagte gehad.

“Want soos hy in sy siel bereken, so is hy” (Spreuke 23:7).

‘n Mens kan uiterlik ‘n vervolger wees, ‘n blatante verwerper van Christus; ook uiterlik niks te doen wil hê met Christus nie. Hy mag klink soos die ergste Christen-hater op aarde. Maar innerlik is hy siek. Hy is in ‘n stryd! ‘n Oorlog woed!

Selfs nou, is daar mense oral in die wêreld wat praat en optree soos koudhartige sondaars, hoewel hulle net ‘n weerligstraal ver weg is daarvan om Christus as Here te ontdek. Die mens oordeel jou op jou uiterlike voorkoms; God kyk na die innerlike mens. As ‘n mens Christus nie uit sy gedagtes kan kry nie, sal hy Hom nie uit sy lewe hou nie.

Ek hoor tieners oral sê, “Ek het Hom nie nodig nie; wil Hom nie hê nie! Laat almal my tog net alleen los.” Maar die stryd woed innerlik. Die mes van veroordeling deurboor hulle. Hulle dink aan hulle lewe, hulle toekoms en hulle leegheid.

Is dit moontlik om godsdienstig te wees en Christus te vervolg? Ja! Saulus het! Jesus het so gesê! “Saul, waarom vervolg jy My?...” Ander het Hom vervolg. Die priesters, die Fariseërs, Herodus, die Romeinse soldate – maar vir slegs een vervolger het Jesus gevra waarom. Nie, “Waarom vervolg?” nie, maar “Waarom jy?”

“Van alle mense, Saulus, waarom jy? Ek kan die soldate, die priesters, die Fariseërs verstaan. Hulle is almal geestelik blind. Hulle doen dit uit haat. Maar waarom jy? Jy is geestelik honger; jy is anders.”

Christus het probeer om hierdie opregte man te wys hy het geen rede gehad om aan te hou om Hom te verwerp nie! Dit is die vraag wat kom tot alle opregte siele – “Waarom jy?” Die koudhartige verslaafde, miskien! Die blinde ongeëvangeliseerdes, miskien! Maar jy? WAAROM? Wat is die rede?

Jy sien, Christus Jesus was nie vir Saulus ‘n vreemdeling nie! Toe Jesus gevra het, “Waarom vervolg jy My?” het Saulus gevra, “Wie is U – Here?” Daar is die leidraad! Hy het Christus reeds in sy hart ervaar. Dit sou wees soos om te vra, “Wie is jy – David Wilkerson?”

Jy sou Hom nie Here noem sonder om Hom te respekteer nie! Jy noem Hom nie Here – sonder die Gees nie.

“Niemand kan sê dat Jesus die Here is nie, behalwe deur die Heilige Gees” (1 Korinthiërs 12:3).

Die Heilige Gees was aan die werk in Saulus. Hy kon net sowel gesê het, “Is dit U Here? Dus is U die Een wat my so ellendig laat voel?” Hier is ‘n man onder die veroordeling van die Heilige Gees, met ‘n toenemende afkeer vir sy verwerping en wat in sy hart geweet het wat reg was, maar steeds deur die aksies van ‘n verwerper gegaan het.

Christus het Saulus op daardie Damaskus pad ontmoet omdat Saulus gereed was om sy godsdiens prys te gee en werklikheid te vind. Die eerste ding wat hy gedoen het toe die lig tref, was om op sy aangesig te val. Die ander mans het sprakeloos gestaan. Hulle het dieselfde stem gehoor en het nie ‘n spier verroer nie. Hulle het onbeweeglik en blind rakende die betekenis van dit alles gestaan. Saulus het toegegee en met die eerste oproep oorgegee. Hierdie uiterlik harde, berekende vervolger het ‘n teer hart gehad.

“Die HERE is naby die wat gebroke is van hart, en Hy verlos die wat verslae is van gees” (Psalm 34:19).

Die lig sny reg deur ons godsdiens om Christus te openbaar. “Skielik het die lig geskyn.” Hierdie lig was ’n skielike openbaring – nie aangaande die krag of liefde van Christus nie, maar ‘n openbaring van wat hy aan Christus gedoen het. Skielik het dit hom getref, so hard, so traumaties; dat hy letterlik blind geword het! Hy het ook sy aptyt verloor. Toe hy skielik tot die besef kom, kon hy dit nie verdra nie. “Om te dink,” het Paulus geredeneer, “my godsdiens het my amper in duisternis gehou. Ek was besig om die Een wat al my behoeftes kon aanspreek te verwerp. Ek was so blind. Dit is wat ek al die tyd wou gehad het. Die hele tyd was dit Hy. Hoe kon ek so blind gewees het? Hoe kon ek so lank uitgehou het? Waarom het ek dit nie voorheen gesien nie?”

Saulus was bloot in die greep van bekering! Dit was sy siel wat uitgeroep het, “Dit is genoeg! Ek kan nie langer uithou nie. Ek het Hom genoeg skade berokken! Ek het Hom nodig! Ek het genoeg gehad van dooie godsdiens.”

Bekering is nie net berou oor sonde nie! Dit is berou oor Sy liefde verwerp, berou oor Hom eenkant skuif vir so lank! Bekering sê, “Here, ek het U uitgesluit vir te lank. Ek het U nou nodig.”

Die lig het nie in Jerusalem getref nie. Die Gees het nie gewag todat Hy al die Christene bymekaargekry het en hulle tronk toe gelei het nie. Sou dit nie meer aanskoulik gewees het nie, ‘n groter getuienis, om hom te tref voor die oë van al daardie getuies, voor die priesters en voor al Sy Christen gevangenes nie? Sou dit nie kragtiger gewees het as ‘n duisend van sy Christen gevangenes hom sou sien neerval op sy knieë en tot bekering kom nie?

Nee! Geen bedienaar! Geen Christelike getuies! Geen smekende beraders! Geen ander menslike stem nie! Hy was heeltemal alleen voor sy eie skare. Sy vriende, sy genote, moes die eerstes wees om te sien en te weet van die wonderwerk in sy lewe. 

Hy sou daardie klomp Christen haters moes verlaat. Hy sou van sy skare af moes wegloop en alleen loop vir ‘n rukkie! Hulle het gesien hoe hulle beste vriend geestelik word, eerder as godsdienstig.

“Arme Saulus,” moes hulle seker gesê het. “Hy het sy verstand verloor; mal geword. Niemand sal ooit weer van hom hoor nie. Hy het alles prysgegee waarvoor hy gewerk het. Arme man.”

As jy met Christus saamgaan, moet jou ou vriende die eerstes wees wat jou verlaat, selfs al moet jy alleen loop!

Die godsdienstige Saulus het die geestelike Paulus geword – en ‘n hele nuwe wêreld het vir hom oopgegaan. In plaas van leë godsdiens, was hy “Vervul met die Heilige Gees.” Waar hy eens met bitterheid, haat en blindheid gevul was, het die krag van God nou in hom gewoon! Hy het nou die krag gehad om die lewe te leef soos wat dit veronderstel was om geleef te word. Hy was krag gegee. Hy het nuwe vriende ontdek – “die dissipels van Damaskus!” Diegene wat hy eens gehaat het – het hy nou liefgehad. Daardie “fanatiese” Christene was nou sy beste vriende! Hy het ontdek hy het nou alles in gemeen met hulle gehad.

Die belangrikste van alles – hy was die opstandingslewe gegee. Hierdie eens dooie godsdienstige Fariseër het lewend in Christus geword! Dit is wat ons kry in plaas van godsdiens! Ons kry lewe – soos dit veronderstel was om geleef te word! Lewe in hemelse plekke in Christus!

Download PDF