Wie se Woord, Wie se Gees Het Uit Jou Gekom? | World Challenge

Wie se Woord, Wie se Gees Het Uit Jou Gekom?

David WilkersonMarch 7, 2016

As iemand ooit ‘n woord van God nodig gehad het, was dit Job. Julle onthou Job se storie: God het die beskermende muur rondom hom weggeneem en Satan toestemming gegee om Job se geloof te beproef. Onmiddellik het chaos in Job se lewe uitgebreek. Al tien sy kinders het gesterf toe ‘n tornado getref het. Al sy materiële besittings is vernietig — sy huis, sy beeste, sy eiendom, alles. Uiteindelik was Satan toegelaat om Job se liggaam aan te val. Die man was getref met swere van kop tot tone.

Toe drie van Job se vriende van sy rampspoed gehoor het, het hulle bymekaargekom om hom te vertroos. “En toe ...het hulle gekom, elkeen uit sy woonplek: Élifas...Bildad... en Sofar” (Job 2:11). Saam met hulle was Elihu, ‘n arrogante jong bedienaar wat gekom het om alles gade te slaan. Toe die mans opgedaag het, het hulle Job skaars herken in sy verminkte toestand. Hy het op ‘n hoop as gesit en sy sere met ‘n stuk gebreekte potskerf gekrap. Die besoekers was so geskok, dat hulle nie kon praat nie. Al wat hulle kon doen, was om te ween. Toe het hulle hul klere geskeur en stof oor hulleself gegooi om hulle rouklag aan te dui. Hulle het vir sewe dae sprakeloos by Job gesit.

Teen die agste dag, kon Job nie meer sy pyn binne hou nie. Hy het ontplof in ‘n angsvolle roepstem uit sy hart, “O, dat ek ooit gebore is. Waarom het ek nie in my moeder se moederskoot gesterf nie? Ek moes nooit die daglig aanskou het nie. Ek verlang na die dood. God het my van alle kante af ingesluit” (sien Job 3).

Job was nie kwaad vir God nie. En Hy het steeds ‘n vaste fondament van geloof gehad. Selfs in sy toestand van ‘n gebroke hart, het Job eerbied aan God betoon. Hy kon steeds sê, “Kyk, al wil Hy my ombring — ek hoop op Hom” (Job 13:16). Ja, volgelinge van Jesus is meer ongelukkig by die hope — depressief, moedeloos, angstig, ontevrede en sonder vrede. Jongmense praat van verveeld wees, selfs met duisende soorte digitale vermaak binne hulle bereik. Aan die einde van die dag, laat dit hulle met innerlike angs.

Maar Job was hoogs gespanne. Hy kon nie verstaan hoe dit kon gebeur met ‘n man wat so getrou, gehoorsaam, honger vir God en vrygewig teenoor ander is nie. Die Skrif beskryf Job as een van mees vrygewige mense wat ooit geleef het. Hy het die armes gevoed, vir die weduwee’s gesorg, vreemdelinge gehuisves en diegene wat koud en naak was, geklee. Maar nou kon hy nie meer God se liefdevolle arms vir diegene in nood wees nie. In plaas daarvan, was sy geloof getoets deur die vure uit die hel.

Ek glo daar is ‘n Job Genootskap wat vandag leef. Menigtes van getroue, toegewyde dienaars van Jesus Christus verduur dieselfde soort angs wat Job gekwel het. Jy sien, dit is dikwels nie fisieke pyn wat ons die meeste teister nie. Die mees vernietigende soort pyniging kan sielkundig wees. Christene oral oor die wêreld ly vandag aan die gebrokenheid van Job: gebroke families, verwoeste harte, finansiële laste, emosionele hartseer en pyn. Hulle beproewings kan so kragtig en oorweldigend wees, dat hulle net soos Job uitroep, “O, Here, waarom het dit oor ons gekom?”

Hoe het God sulke taal hanteer? Was Hy kwaad vir Job? Het Hy geantwoord, “Hoe durf jy My valslik beskuldig, Job? Jy het my Naam oneer aangedoen en ‘n wanvoorstelling van My gegee. Nou het jy te ver gegaan en gaan jy betaal.” Nee! Die Here het Job jammer gekry. Hy het sy dienaar se stryd teen die duiwel se aanslag verstaan. Onder sy deernisvolle oog, was Job se beproewings bedoel as ‘n toets om sy geloof so suiwer soos goud te maak.

In Job se toestand, was dit die ergste moontlike ding om ‘n boodskap gegee te word vanaf iemand met ‘n verkeerde gees.

Ongelukkig is dit presies wat met Job gebeur het. Hy was omring deur vier mans wat die verkeerde boodskap gehad het en hulle het dit in die verkeerde gees oorgedra. Al vier hierdie mans het daarop aanspraak gemaak om ‘n ware woord van God vir Job te hê. En vir vier dae, het hulle hul vriend gebombardeer met ‘n harde, beskuldigende boodskap.

Bildad het vir Job gesê, “Jou kinders was van jou af weggeneem omdat jy gesondig het. God behandel nie ‘n regverdige man op die manier wat jy behandel word nie. Hy help eenvoudig net nie boosdoeners nie.” Sofar het sy sogenaamde woorde van vertroosting bygevoeg: “Job, jy is vol praatjies. Verwag jy van ons om stil te bly nadat jy vir ons gelieg het? Jy kry baie minder as wat jy verdien.” Élifas het raad gegee, “God plaas nie vertroue in sy mense nie. Die mens is gruwelik en vuil. Jy knipoog vir sonde, Job.”

Uiteindelik het Elihu, die arrogante jongman, gepraat, “Job, jou probleem is dat jy met goddelose mense assosieer. God se oë is op jou en sien alles wat jy doen. Jy moet tot die einde toe beproef word, omdat jy goddelose mense verdedig het. Nou het jy rebellie by jou sonde gevoeg.”

Kan jy jouself voorstel om hierdie soort “bediening” te ontvang wanneer jy in so ‘n droewige toestand is? Tog, ten spyte van Job se angstige uitroepe, het hy nooit sy liefde vir God verloor nie. Nou, het hy egter beskuldigings van alle kante af gekry. Hy was verbaal geslaan tot in die grond in. Die laaste strooi vir Job was Bildad se beskuldiging: “Geen mens kan voor God geregverdig word nie. Niemand wat uit ‘n vrou gebore is, is rein in sy oë nie. Nie eens die sterre is suiwer voor sy aangesig nie.”

Op daardie tydstip, het Job standpunt ingeneem. Die Skrif beskryf die toneel: “Maar Job het geantwoord en gesê: Hoe goed het jy die onmagtige bygestaan, die kragtelose arm gehelp? Hoe mooi het jy die onwyse raad gegee en beleid in oorvloed bekend gemaak! Aan wie het jy woorde te kenne gegee, en wie se gees het uit jou uitgegaan?” (Job 26:1-4). Volgens Helen Spurrell se oorsproklike Hebreeuse vertaling, lees hierdie laaste vers, “Van wie het jy jou boodskap gesteel? En wie se gees was dit wat uit jou gekom het?”

Job het hierdie mans in wese vertel, “Julle sê ek is swak met geen krag nie. Maar wat het julle gedoen om my te versterk? Julle noem my ‘n skynheilige en beskuldig my dat ek my aan sonde oorgee. Maar hoe het julle my gehelp? Julle sê ek is dwaas, blind en sonder wysheid. Maar in al julle toesprake aan my, waar was daar een enkele goddelike woord wat my van sonde oortuig en my verlig het? Nie een woord van genesing het van julle lippe af gekom nie. Ek hoor nie ‘n boodskap van die troon van God af nie. Julle las bloot vroom woorde aanmekaar en dit het vir my geen betekenis nie. Julle het net tot my pyn bygedra.”

Toe het Job hulle hierdie vernietigende vraag gevra: “Wie se gees is agter al hierdie preke? Wie dring julle om hierdie woord, wat my verdruk, te bring? Wie gee aan julle so ‘n woord, wat leeg is van enige deernis, vir ‘n man wat oorweldig is met droefheid?”

Vandag word selfs die mees toegewyde gelowiges gedruk tot op hulle perke.

Regdeur God se huis is daar probleme in huwelike, egskeiding is algemeen, families breek op en kinders rebelleer. Mense is vreesbevange oor hulle finansies wat verkrummel, werk wat hulle kan verloor en moontlike terroriste aanvalle. Talle verkeer in ‘n Job-agtige toestand — hartseer, verward, in pyn, raad-op, met geen antwoorde of vrede nie. Sommige vertroetel selfs gedagtes van opgee en wegloop van hulle geloof af. Die mees herhaalde frase wat ek nou onder Christene hoor is, “Ek kan dit nie meer vat nie.”

As bedienaar van die Here, moes ek my hart ondersoek. Ek vra my self voortdurend af, “Watter boodskap is die noodsaaklikste vir God se lydende mense? Hoe benader ek as ‘n getroue herder, sy heiliges met ware raad van die Here? Ek kan nie vir hulle ‘n boodskap bring uit een of ander boek of kommentaar nie. Here, watter woord wil U hê moet ek spreek tot u Job Genootskap?”

Jeremia, die wenende profeet, het vanuit sy eie Job-agtige belewenis geroep en gebid, “Tugtig my, HERE, maar met mate; nie in u toorn, dat U my nie te klein maak nie” (Jeremia 10:24). Spurrell se vertaling van hierdie laaste frase lees, “Nie in U toorn nie, sodat U my nie verpletter tot atome nie.” Die profeet het gesê, “Here, tugtig my, maar doen dit saggies in liefde.”

Toe Paulus die kerk by Korinthe onderrig het, het die mense daar kragtig in die gawes van die Gees beweeg. Die Korinthiërs was magtig in gebed en hulle het milddadig aan die armes gegee. Maar die gemeente was vol sonde. Mense se lewens was vol twis, hoerery, gierigheid, drinkery en bloedskande.

As ‘n apostel van die Here, het Paulus die vermaning in Spreuke ernstig opgeneem: “Hy wat die goddelose regverdig verklaar en die regverdige skuldig verklaar, hulle altwee is vir die HERE ‘n gruwel” (Spreuke 17:15). Paulus het besef, “Ek kan nie vertroosting gee aan mense wat in sonde wandel nie. Ek kan hulle nie in hulle ongeregtigheid gerusstel nie. Dit sou ‘n gruwel wees. Tog kan ek nie voor regverdige mense in Korinthe staan en hulle onder skuld en veroordeling plaas nie. So, watter boodskap bring ek? Hoe kan ek hulle teregwys, maar hulle ook versterk?”

Paulus het aan die gemeente oor sy dilemma geskryf: “Wat wil julle hê? Moet ek met die roede na julle kom of met liefde en in die gees van sagmoedigheid?” (1 Korinthiërs 4:21). Hy het die hele saak eenvoudig aan hulle gestel: “’n Mens hoor waarlik van hoerery onder julle, en hoerery van so ‘n aard as wat selfs onder die heidene nie bekend is nie: dat iemand die vrou van sy vader het” (1 Korinthiërs 5:1). Paulus het hier van bloedskande gepraat. Hy het die Korinthiërs vertel, “Julle het ‘n reputasie dat julle so losbandig is, dat julle bloedskande toelaat. Julle maak daarop aanspraak om ‘n heilige kerk te wees wat in die Gees beweeg, maar almal weet van bloedskande wat daar plaasvind.”

Hier is hoe Paulus gekies het hoe om die situasie te benader: “En ek self, Paulus, bid julle by die sagmoedigheid en vriendelikheid van Christus” (2 Korinthiërs 10:1). Hy het dieselfde benadering met die Thessalonicense gehad: “Maar ons was vriendelik onder julle soos ‘n pleegmoeder haar kinders koester” (1 Thessalonicense 2:7). “Hoe ons, soos julle weet, net soos ‘n vader sy kinders, elkeen van julle vermaan en bemoedig het en betuig het dat julle waardiglik moet wandel voor God” (2 Thessalonicense 2:11-12).

Waarom het Paulus hierdie gesindheid gekies? Hy verduidelik, “En ons gereed hou om elke ongehoorsaamheid te straf wanneer julle [eie] gehoorsaamheid volkome is” (2 Korinthiërs 10:6). Die apostel het hierdie punt baie duidelik gemaak: “As julle ‘n suksesvolle stryd teen sonde in iemand anders wil voer, maak eers seker van julle eie gehoorsaamheid aan God.”

Wat is die ware, effektiewe, kragtige gees wat lewe bring en die hart aanraak?

Paulus beskryf hierdie gees as hy aan die Korinthiërs skryf, “Ek het die gevoel dat wanneer ek kom, sal ek twis en konflik onder julle vind. Wanneer ek egter diegene, wat hulle nie bekeer het nie, sien — waar hulle steeds in groot sonde en misleiding lewe — sal ek waarskynlik nie in staat wees om ‘n woord uit te kry nie. In plaas daarvan, sal ek net kan ween en huil. Julle mag dalk nie daarvan hou wat uit my kom nie, maar dit sal God wees wat vanaf sy troon my nederig maak en my ‘n gebroke gees gee” (sien 2 Korinthiërs 12:20-21).

Die enigste manier waarop ‘n boodskap enigeen kan verander, is wanneer dit in deernis gebring word. Dit is God se hart jeens sy mense. Jesus het hierdie punt by sy dissipels benadruk. Hy het Jakobus en Johannes vooruit gestuur na verskeie dorpe om die weg voor te berei vir sy reis na Jerusalem. Maar toe die broers by Samaria kom, het die mense hulle weggewys. Jakobus en Johannes het die plek woedend verlaat. Hulle het vir Jesus gevra, “Here, wil U hê dat ons vuur uit die hemel roep op daardie dorp?”

Jesus het hulle bestraf: “Maar Hy draai Hom om en bestraf hulle en sê: Julle weet nie van hoedanige gees julle is nie; want die Seun van die mens het nie gekom om die mense se lewens te verderf nie, maar te red” (Lukas 9:55-56).

Jakobus en Johannes het gedink hulle het vir God gepraat. Maar Jesus het dit duidelik gemaak dat hulle deur ‘n heeltemal ander gees gedring was. Mag God ons daarvan bewaar om dokters van geen waarde te wees nie. Voor ons preek, praat, onderrig of enigeen teregwys, moet ons altyd eers ons eie gees op die proef stel.

Ken jy ‘n broer of suster wat ly? God het aan jou hulle las gegee. En jy moet slegs daardie woorde, wat Hy vir jou gee, aan hulle bring – woorde van deernis in liefde gelewer. Ken die gees waarin jy spreek en maak seker dit is Syne. Deur jou eie gees te toets, mag sy genesende salf magtig deur jou vloei na almal wat ly. Amen!

Download PDF