Die Hoë Koste van Barmhartigheid | World Challenge

Die Hoë Koste van Barmhartigheid

David WilkersonAugust 4, 2008

“Maar julle moet julle vyande liefhê en goed doen en leen sonder om iets terug te verwag, en julle loon sal groot wees; en julle sal kinders van die Allerhoogste wees; want Hy self is goedertieren oor die ondankbares en slegtes. Wees dan barmhartig, soos julle Vader ook barmhartig is” (Lukas 6:35-36, kursief myne).

Regdeur die Bybel lui daar ‘n magtige tema: “Want die HERE jou God is ‘n a barmhartige God” (Deuteronómium 4:31, kursief myne). Hierdie tema van barmhartigheid is die kern van die Ou Testament. Ons lees dit keer op keer in Deuteronómium, Kronieke, Nehemía en die Psalms: “Die Here jou God is genadig en barmhartig.” Net so sien ons dieselfde tema van barmhartigheid in elke Evangelie en dwarsdeur die Nuwe Testament: “Wees dan barmhartig, soos julle Vader ook barmhartig is” (Lukas 6:36).

Die Skrif vertel vir ons iets van wat God se barmhartigheid aan ‘n sondige wêreld Hom gekos het.

Die Here het nie moed verloor met hierdie sondige, goddelose, wellus-behepte wêreld nie. Toe Hy afgekyk het na die uitbreek van losbandigheid op die aarde, het Hy nie weggedraai van sy skepping nie. In plaas daarvan, het Hy sy eie Seun na ons gestuur. En in sy teer barmhartigheid, het die Here sy Seun as offer aangebied. Hy het ons almal se ongeregtighede op Hom gelaai.

Dink aan die hoë prys van barmhartigheid wat Jesus betaal het. Die koste van so ‘n prys kan eenvoudig nie bereken word nie. Niemand kan Christus se pyn waarin Hy die sonde van die wêreld op Homself geneem het, meet nie. Tog gee die Skrif vir ons duidelike besonderhede van die prys wat Jesus betaal het vir die barmhartigheid wat Hy hier op die aarde bedien het.

Eerstens, was Jesus verwerp deur die hele godsdienstige wêreld. Die leiers van sy tyd, het teen Hom gedraai met blatante venyn. Verder was Hy eweveel gespot en verag deur rykes en armes, geleerdes en ongeletterdes. En sy boodskap was verwerp deur almal behalwe ‘n paar.

Volgens die Psalms, het Jesus se naam die lied van dronkaards geword. Uiteindelik het die hele samelewing op Hom gespuug, mishandel, aan ‘n kruis gespyker en vermoor.

As die begunstigdes van God se barmhartigheid, weet ek en jy iets van wat die koste vir Jesus was om soveel barmhartigheid aan ‘n verlore wêreld te verleen. Sy deernisvolle barmhartigheid het jou persoonlik in jou sondige slawerny gevind. Hy het jou hart se roepstem gehoor en jou verlos. Hy het jou verander, jou oë oopgemaak en jou met sy Heilige Gees gevul. En Hy het jou ‘n werktuig van eer gemaak om sy evangelie te verkondig.

Moenie ‘n fout maak nie: dit is ‘n duur barmhartigheid wat jy ontvang het. Ons preek dat God se barmhartigheid gratis is, dat dit onverdiend is en daarom het dit geen koste vir ons nie. Die prys daarvoor was heeltemal betaal deur Christus se gestorte bloed. En inderdaad, alles is waar. God is ten volle tevrede met die prys wat Jesus betaal het om sy barmhartigheid aan ons te bring. En nou het ons die hemel as erfdeel ontvang. Sy barmhartigheid voorsien versekering van die ewige lewe aan elke ware gelowige.

Tog is daar ‘n prys aan die menslike kant — ons kant — van God se barmhartigheid. Wat is die koste vir ons Dit is die hoë prys om ‘n ware getuie te word van die krag van die barmhartigheid wat ons ontvang het. In werklikheid, om dieselfde barmhartigheid te bied wat aan ons gegee is, sal ons duur te staan kom op hierdie aarde. Dit is ‘n prys wat ons kan verwag om te betaal in ons alledaagse lewe.

Jy sien, Jesus het ons beveel, “Wees dan barmhartig, soos julle Vader ook barmhartig is” (Lukas 6:36). En, soos Christus deur sy voorbeeld gewys het, om barmhartig te wees soos die die Vader barmhartig is, is baie duur. Jesus het die prys van daardie barmhartigheid in sy vlees betaal. En jy en ek kan verwag om dieselfde prys te betaal. Soos Hy, sal ons totale verwerping beleef. As boodskappers van die evangelie, sal ons woorde nie deur die wêreld aanvaar word nie. In werklikheid, hoe meer Christus verhoog word in ons lewens, hoe meer kan ons verwag dat God se barmhartigheid gespot en verwerp sal word.

Die eerste prys van barmhartigheid van Jesus was sy hemelse posisie. Barmhartigheid het Hom na die aarde toe laat kom om mens te word. En uiteindelik het die barmhartigheid wat Hy aan die wêreld gebied het, Hom sy lewe gekos. Jesus se voorbeeld van barmhartigheid is egter ‘n model vir almal wat Hom sou volg. Hy vertel vir ons in wese, “Laat my lewe vir jou die prys van barmhartigheid wys. Dit is algehele verwerping deur hierdie wêreld.”

Paulus het dieselfde hoë prys as Jesus betaal om God se barmhartigheid uit te lewe op die aarde.

Jesus het ons gewaarsku, “Onthou die woord wat Ek vir julle gesê het: ‘n Dienskneg is nie groter as sy heer nie. As hulle My vervolg het, sal hulle julle ook vervolg” (Johannes 15:20). Die apostel Paulus het van hierdie waarheid getuig: “En swoeg ons deur om met ons eie hande te werk. Word ons uitgeskel, ons seën; word ons vervolg, ons verdra dit; word ons belaster, ons troos; soos uitvaagsels van die wêreld het ons geword, die afskraapsel van almal tot nou toe” (1 Korinthiërs 4:12–13).

Wat moet ons doen met hierdie verwerping? Jesus antwoord ons: “Wees bly in daardie dag en spring op, want kyk, julle loon is groot in die hemel” (Lukas 6:23).

Dit is ‘n harde waarheid om te sluk. Hoe kan ons juig en bly wees oor erge vervolging? Geliefde, dit is alles deel van die hoë prys van barmhartigheid. Soos dit was met Paulus, wat as die afskraapsel gesien is, so is dit vir die liggaam van Christus, die kerk. Daar is ‘n prys wat ons moet betaal wanneer ons Jesus en sy barmhartigheid verkondig.

Tog, hierdie hoë prys is nie net verwerping deur ‘n ongelowige wêreld nie. Dit is nie net die afkeuring en verwerping van die ateïstiese liberale media nie. Ons beleef ook veroordeling en minagting van die gekompromitteerde godsdienstige wêreld. Jesus het sy dissipels gewaarsku: “Salig is julle wanneer die mense julle haat, en wanneer hulle julle verstoot en beledig en jul naam weggooi soos iets wat sleg is, ter wille van die Seun van die mens” (Lukas 6:22). Alles wat Jesus hier beskryf het met Hom gebeur deur die hande van die godsdienstige stelsel van sy tyd.

Op ‘n stadium in sy lewe, was die apostel Paulus ‘n kragtige magsmiddel van sulke vervolging. Inderdaad, hoe meer hy “Jesus mense” geteister het, hoe meer het die godsdienstige leiers hom geprys. Met elke gelowige wat Paulus in die tronk gegooi het, het daardie leiers hom toegejuig en sy reputasie het gegroei.

Sy naam was eers Saulus en toe was hy ‘n jong en kragtige yweraar, hy was sonder vlek volgens die Joodse wet en het die lof van hoë ampsdraers in die sinagoge geniet. Wat is eerste kykie van hierdie beginselvaste man in die Skrif? Ons ontmoet Saulus toe hy by gestaan het met Stéfanus se steniging en dit goedgekeur het. Saulus was bekend dwarsdeur daardie gebied van die wêreld as die nommer een vervolger van Christus se kerk. Hy was vasbeslote om Jesus se naam van die aarde af te vee en om die kerk in sy beginstadium te smoor.

Maar die dag het gekom waarin barmhartigheid op Paulus geskyn het. Ek stel my voor die ywerige Farisieër aan die begin van daardie spesiale dag. Hy het vir ‘n vergadering met die Hoë Priester gevra: “Die jongman, wat die Jesus volgelinge vervolg, wil toestemming hê om sy kruistog na Damaskus te neem. Hy het gesweer om hulle almal in die tronk te stop. Hy dink hy is in staat om hierdie Jesus vuur te blus.”

Met die seën van die Joodse owerhede, het Saulus met sy bende mans uit Jerusalem uitgery na hulle volgende sending. Stel jou voor die toneel soos hulle aangepor word deur die Hoë Priester en al die Skrifgeleerdes en Farisieërs. Maar dan, net buitekant die dorpie Damaskus, het barmhartigheid op Saulus geskyn.

Hoe het barmhartigheid op hierdie verlore, misleide man geskyn? Dit het nie probeer om hom te beskaam nie. Dit het hom nie beskuldig nie. Dit het nie probeer om hom te vernietig nie. In plaas daarvan, het die ten volle betaalde, gratis barmhartigheid van die Here Saulus plat op sy gesig op die grond laat val. En ‘n stem het met hom gespreek en gesê, “Saulus, Saulus, dit is Jesus. Waarom vervolg jy My?” (sien Handelinge 9). Christus se boodskap aan hierdie yweraar was duidelik: “Dit is vir My wat jy vervolg, Saul. Met elke Christen wat jy in die tronk gegooi het, het jy dit aan My gedoen.”

Saulus was oorweldig deur hierdie openbaring. Tydelik met blindheid geslaan, was hy gelei na die huis in Damaskus van ‘n biddende, Gees-vervulde man genaamd, Ananías. Daar in ‘n klein kamertjie, het Saulus die naam van Jesus aangeroep. Ananías het vir hom die hoë prys van barmhartigheid, wat hy ontvang het, verduidelik: “Nou, Saulus, gaan jy ly ter wille van sy Naam.”

Dink aan die duur barmhartigheid wat Saulus daardie dag ontvang het. Met sy gewete geprikkel, het hy sekerlik teruggedink aan Stefanus se steniging...en onthou van elke gelowige wat hy in die tronk gegooi het...weer die gesigte van almal, wat hy mishandel het, gesien. O, die duur barmhartigheid wat hierdie man ontvang het.

Herdoop na Paulus, het die apostel die res van sy lewe gespandeer deur te preek en te skryf oor God se genade. En hy het voortdurend getuig van die hoë prys om daardie barmhartigheid in ‘n goddelose wêreld uit te leef. Vir twee milleniums, het Paulus se geskrifte die kerk herinner aan wat Jesus aan ons gesê het: “Mense sal julle haat. Hulle sal hulle van julle onttrek. Hulle sal julle spot en julle naam weggooi as iets sleg. Maar dit is die tyd om te juig en te spring van blydskap!”

Satan vrees, verafsku en haat die krag van God se barmhartigheid.

Dit is barmhartigheid, suiwer en eenvoudig, wat die duiwel se koninkryk op die aarde uitgewis het. Satan het nooit gedink hy kon sy mag verloor oor die verslaafde, die hopelose skuim van die mensdom nie. Maar barmhartigheid het vrylating gebring vir miljoene wat eers gevange gehou is.

Nou het Satan besef dat ons aan die einde van die laaste dae is. En hy is vasbeslote om ‘n hele geslag te verdoof, om hulle ongevoelig te maak vir hulle behoefte vir God se barmhartigheid. Hy wil struikelblokke in die gedagtes van jongmense plaas, sodat God se barmhartigheid hulle nie kan aanraak nie. Daarom het hy demoniese hordes van dwelmkwekers en dwelmvervaardigers losgelaat om hierdie goddeloosheid te bewerkstellig.

Toe ek in die begin na New York toe gekom het in die 1950s, was die plaag meestal dagga en voorskrif medisyne. Heroïen het nie die greep gehad wat dit later gekry het nie. In onlangse dekades, het Satan crack en tik ingebring. Nou het hy nuwe dwelms met groter verslawingsvermoë ingebring: stamme van kokaïen en heroïen van Mexico, Irak, Colombië en Afganistan.

In die tussentyd, het die duiwel ‘n oseaan van alkohol op jongmense losgelaat. Kollege en hoërskool kampusse word oorstroom met ‘n partytjie gees, met vaatjies vol bier, wyn en drank wat dronk feesviering aanblaas. Tieners by dosyne betree sekulêre rehabilitasieklinieke, terwyl ander vasgevang bly in verslawing. Al hierdie dinge is die duiwel se laaste wanhopige poging om massas te verslaaf en hulle te “immuniseer” teen Jesus se boodskap van barmhartigheid.

Maar die barmhartigheid van God het wonderbaarlike krag om te verlos.

Barmhartigheid het die kettings gebreek van alle verslawings en het menigtes oorgeplaas van die koninkryk van Satan na die koninkryk van Christus.

Daar was ‘n tyd, met miljoene dwarsdeur die wêreld bedwelm, het Satan gedink dat hy oorwin het. Inderdaad, die woord het versprei regdeur die wêreld dat wanneer die duiwel jou bind, jy vir altyd hopeloos is.

Maar in elke geslag, het God sy Heilige Gees na die hoofweë en agterstrate gestuur. En hy gaan direk na die hartjie van Satan se terrein: in stedelike krotbuurte, in crack-huise, bo-op dakke waar verslaafdes in stupors lê. En barmhartigheid het geskyn op die swakste, die afskraapsel, diegene wat die meeste deur dwelms lamgelê is en op diegene, wat vergete en weggegooi is deur die samelewing as ‘n hopeloos verlore.

Die eerste heroïen verslaafde wat gered en verlos is deur die Teen Challenge bediening, was Sonny Arguinzoni. Sonny dien nou wêreldwyd as ‘n biskop van meer as 600 kerke, wat bestaan uit vorige dwelmverslaafdes. By verlede jaar se konferensie van hierdie kerke, het 1,000 vorige prostitute ‘n koor gevorm om God se lof te besing oor sy verlossingskrag.

Nicky Cruz, die bekende voormalige bendelid en gegradueerde van Teen Challenge, het die barmhartigheidsevangelie aan veelvoudige miljoene oor die wêreld verkondig, met menigtes was vrygemaak en verlos is.

Die hele wêreld behoort op te staan en God te dank vir sy reddende verlossing en vir die herstel van diegene wat eens verlore en weggegooi was deur die mensdom.

Die samelewing kan ten minste God dank vir die redding van dronk vaders en hulle hereniging met hul vroue en kinders. Maar, ek verseker jou, dit sal nooit gebeur nie. In elke geslag, het die wêreld Jesus se krag om mense se lewens te verander, verwerp, selfs wanneer ons duidelike bewyse het wat die teenstelling bewys. Ek het dit keer op keer in die vroeë dae van Teen Challenge gesien gebeur.

Jare gelede was ek genooi na ‘n mediese konferensie in New York Stad, toe Nelson Rockefeller goewerneur was. Sy multimiljoendollar dwelm program het misluk om ‘n kuur vir dwelmverslaafdes te bring. Ek het sommige van ons gegradueerdes van ons Teen Challenge program na die konferensie saamgeneem. Hulle was dwelmvry vir langer as twee jaar en het Bybelskool bygewoon of gestudeer om in maatskaplike werk in te gaan, sodat hulle ander kon help net soos wat hulle gehelp is. Twee van die jongmanne het hulle getuienis vir daardie vergadering van dokters en kenners gegee en hulle vertel hoe Jesus hulle vrygemaak het en dat hulle geen begeerte vir dwelms meer gehad het nie.

Die sielkundige wat volgende opgestaan het, het gepraat asof hy alles wat my jongmanne gesê het, geïgnoreer het. Sy eerste woorde was, “Na alles wat ons gedoen het, weet ons dat daar geen bekende kuur vir die dwelmverslaafde is nie.” ‘n Nie-godsdienstige dokter wat langs my gesit het, was daaroor verbaas. Hy het vir my gefluister, “Was daardie man nie in die vertrek toe jou jongmanne gepraat het nie?”

In werklikheid sal die wêreld nooit Jesus as die antwoord aanvaar nie. As Christus die begin van alle vrymakende barmhartigheid is — as die barmhartigheid van die Kruis die oorsaak van wonderwerke is — sal dit altyd weggegooi word as onsinnigheid.

Verder moet ons waaksaam wees vir daardie magte van die wêreld wat kom fluister, “Laat ons help.” In baie gevalle, is wêreldse aanbiedinge om bedieninge te help dikwels Satan-geïnspireerd. Hulp mag aangebied word deur regeringsfondse of programme. Dit is gevaarlik vir enige Christus-gesentreerde bediening om afhanklik te wees van regeringsfondse.

Uiteindelik, wanneer ‘n bediening op wêreldse bronne vertrou, sal dit net nog ‘n liefdadigheid word met ‘n gebrek aan die krag van Christus om waarlik vry te maak. Verder, droog regeringsfondse uiteindelik op wat veroorsaak dat ‘n werk, wat as die Here s’n begin het, maar afhanklik van die wêreld geword het om te opereer, toemaak.

Ek bied ‘n waarskuwing aan elke Christen-geleide bediening: wees voorberei, omdat die druk erg gaan word. Elke siel-wennende uitreik en dissipelmakerkerk sal gou onder vervolging en laster deurloop. Die wêreld gaan jou werk ‘n bedrogspul noem.

Maar jy moet onthou wat Jesus vir ons vertel het: “Salig is julle wanneer die mense julle haat, en wanneer hulle julle verstoot en beledig en jul naam weggooi soos iets wat sleg is, ter wille van die Seun van die mens” (sien Lukas 6:22-23).

Om die Here se barmhartigheid uit te leef, sal jou ‘n lewensveranderende konfrontasie insake die liggaam van Christus kos.

God het met my gedeel insake sy geestelike liggaam. En die volgende is wat Hy vir my gewys het: die manier waarop die meeste Christene vandag lewe en bediening doen, bewys dat ons nie ten volle verstaan wat Jesus se verhouding tot sy liggaam is nie.

Dink aan Saulus se angs by Damaskus toe Jesus hom gekonfronteer het met die realiteit van sy liggaam. Die Here het vir Saulus gesê, “Ek is Jesus. En jy vervolg My.” Saulus het gedink hy het eenvoudig met individue te doen gehad, tewyl hy God se werk gedoen het om Joodse ketters uit te roei. Hy het nie geweet dat hy die Here se eie liggaam aangeval het toe hy die kerk vervolg het nie.

Nou was Saulus geskud met die waarheid: “Jesus het ‘n geestelike liggaam. Hy is die Hoof in die hemel. En sy liggaam — sy kinders hier op aarde — is aan die Hoof verbind. Dit is een liggaam wat bestaan uit gelowiges wat vlees van sy vlees is. En enigiemand wat teen een van hulle kom, kom eintlik teen Hom.” Elke “Jesus mens” wat Paulus vervolg en in die tronk gegooi het — alles wat hy gesê het en teen hulle gedoen het — was persoonlik deur Christus gevoel. Saulus se konfrontasie met hierdie waarheid, het sy lewe verander.

As Paulus, die apostel, het hy gegroei in sy begrip van hoe diep God sy kerk liefgehad het. Hy het begin besef dat die kerk in God se oë ‘n kosbare pêrel was. Dit was ook ‘n vlekkelose bruid vir sy Seun — een gesamentlike, onsigbare liggaam wat bestaan uit bloed-gekoopte kinders uit elke stam en nasie op die aarde.

Ek is oortuig dat ons hierdie waarheid nie so ernstig opneem soos wat ons moet nie.

As ons ten volle hierdie waarheid oor sy liggaam verstaan, sal dit die einde beteken van alle wrokke in die kerk...die einde van alle bitterheid...die einde van alle vooroordeel, vleeslike kompetisie, hoogmoed, geskinder en verdeeldheid.

Die wêreld het nou ‘n lewende voorbeeld van die duur barmhartigheid van Christus nodig. Spanning was nog nooit groter nie. Vir dekades in Afrika nasies, veg stam teen stam. Hierdie stamgevegte het armoede, siektes, en opgebreekte families veroorsaak en het ‘n verwoede haat in nuwe geslagte opgewek. In die tussentyd, in Europa en die Verenigde State, versprei rassespanning tussen die samelewing en sluip selfs in die kerke in.

Moenie mislei word om te dink dat ‘n president hierdie probleme kan oplos nie. Die duur barmhartigheid wat nodig is deur die wêreld, kan net kom van diegene wat sulke barmhartigheid vir hulleself gesmaak en ontvang het. En dit is die duur roeping van die kerk van Jesus Christus. Dit is om ‘n barmhartigheid, wat die self neerlê ter wille van ‘n broer of suster, te bied — en, soos Jesus gedemonstreer het, selfs vir ‘n vyand.

Ek vermaan jou om hier te stop en hierdie waarheid te konfronteer.

Gaan nie verder in jou lewe of bediening in nie — stop al jou planne en goeie werke — todat jy die implikasies konfronteer van wat dit beteken om ‘n lid van Christus se liggaam te wees. Die Here verklaar van sy kerk, “Dit is my pêrel van groot waarde, die bruid van my Seun.” Dink aan wat ‘n wonderwerk dit is om deel van so ‘n liggaam te wees. Dink aan die geweldige roeping van hierdie liggaam om barmhartigheid te bewys aan ‘n onbarmhartige wêreld.

Toe Paulus aan die Korinthiërs geskryf het, was dit aan ‘n kerk wat teen hom gedraai het. Tog, toe Paulus aan hierdie kerk in Christus se liggaam gedink het, het hy geskryf, “Julle het vir my baie dierbaar geword. Julle het my hele hart. Ek het julle lief en waardeer elkeen van julle.”

Eenvoudig gestel, barmhartigheid het verby foute en mislukkings gekyk en verby selfregverdiging. As ons waarlik glo ons maak Christus persoonlik seer wanneer ons ‘n broer of ‘n suster seermaak — dat wat ons sê en doen teen ‘n enkele lid van sy liggaam, soos Jesus sê, “teen My” is — sal ons dag en nag werk om alles reg te maak. En ons sal nie daar ophou totdat ons van alles gereinig is nie.

In werklikheid, kan ons egter ander mishandel. Ons kan onsself van ‘n broer of suster afskei. Ons kan iemand seermaak. Ons kan rasse woorde sê en dink. Ons kan maklik van ander ‘n wanvoorstelling gee. En ons kan dink dit is “net tussen God en ek.” Dan bely ons dit voor die Here en ons bekeer onsself en gaan dan aan terwyl ons dink alles is oukei. Tog dink ons nooit daaraan hoe ons Jesus seergemaak het nie — of ons broer — in die proses. Ons het nie net ‘n broer seergemaak nie, ons het dit aan die hele liggaam gedoen, want as een seerkry, kry almal seer.

Tog, is die openbaring wat ons gegee word as volg: “Ek behoort aan die liggaam van Christus! En so ook my broer en suster. Ons is almal een. Dit los alle geskinder, alle spanning, alle wrokke op, omdat ons aan die Hoof verbind is.”

Ek laat jou met dieselfde boodskap wat Paulus aan sy medewerkers gegee het.

  • “Moenie iets doen uit selfsug of uit ydele eer nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself. Julle moet nie elkeen na sy eie belang omsien nie, maar elkeen ook na die ander s’n” (Filippense 2:3–4).
  • “Ek vermaan (julle)...om eensgesind te wees in die Here” (Filippense 4:2).
  • “Beklee julle dan, as uitverkorenes van God, heiliges en geliefdes, met innerlike ontferming, goedertierenheid, nederigheid, sagmoedigheid, lankmoedigheid. Verdra mekaar en vergewe mekaar as die een teen die ander ‘n klag het; soos Christus julle vergeef het, so moet julle ook doen. En beklee julle bo dit alles met die liefde wat die band van die volmaaktheid is” (Kolossense 3:12–14).

Dit is hoe Paulus dit alles opsom. Inderdaad, dit is barmhartigheid wat ten volle uitgeleef word: “Want julle het vir ons dierbaar geword” (1 Thessalonicense 2:8). Ek vra jou: is al jou broers en susters in Christus vir jou dierbaar? As die lewe vloei vanaf ons Hoof na ons, die lede van sy liggaam, begin ons om nie net mekaar lief te hê nie, maar selfs ons vyande.

Here, laat ons barmhartig wees, soos wat U aan ons barmhartig is!

Download PDF