VERANDER NA SY BEELD

David Wilkerson (1931-2011)

Die Skrif maak dit duidelik dat dit moontlik is vir elke ware volgeling van Jesus om die heerlikheid van God te sien en te verstaan. Trouens, ons Here openbaar sy heerlikheid aan almal wat ernstig daarvoor vra en daarna soek. Ek glo God se heerlikheid sal sy kinders toerus om die gevaarlike dae wat voorlê te kan verdra.

Die heerlikheid van God is nie ‘n fisiese manifestasie of ‘n ekstatiese gevoel wat jou oorval nie. Dit is ook nie ‘n bonatuurlike aura of stralende engelagtige lig nie. Eenvoudig gestel, God se heerlikheid is ‘n openbaring van sy natuur en sy eienskappe!

Wanneer ons bid, “Here, wys ons u heerlikheid,” bid ons eintlik, “Vader, openbaar aan my wie U is.” Die Here wil aan ons openbaar hoe Hy geken wil wees. Die Here het Moses gestuur om Israel te verlos sonder om hom ‘n volle openbaring te gee van wie die God van Israel was. Die Here het bloot vir hom gesê, “Gaan, en sê, EK IS het jou gestuur.” Maar Hy het geen verduideliking gegee van wie “EK IS” was nie.

Ek glo dit is waarom Moses uitgeroep het, “Laat my tog u heerlikheid sien” (Exodus 33:18). Moses het ‘n knaende honger gehad om te weet wie die groot EK IS was – om sy natuur en karakter te ken. En die Here het sy gebed verhoor. Eerstens, het Hy Moses beveel om homself in ‘n skeur van ‘n rots weg te steek waar God na hom gekom het in ‘n eenvoudige openbaring - geen donderweer, weerlig of aardbewing nie.

“Here, Here, barmhartige en genadige God, lankmoedig en groot van goedertierenheid en trou; wat die goedertierenheid bewaar vir duisende, wat ongeregtigheid en oortreding en sonde vergewe” (Exodus 34:6-7).

God het toegelaat dat Moses sy heerlikheid sien, sodat hy verander kon word deur die aanskouing daarvan. En dieselfde is waar vir ons vandag. God openbaar sy heerlikheid aan ons sodat ons, wanneer ons dit sien, verander kan word na sy eie beeld.