HUISGODSDIENS

David Wilkerson (1931-2011)

‘n Klagte onder Christene dwarsdeur die wêreld is, “Ek kan nêrens ‘n goeie kerk kry nie! Ek het ‘n plek nodig waar my gesin bedien kan word en waar my kinders kan grootword en ware geregtigheid leer ken.”

Te veel herders probeer voortdurend nuwe dinge in die kerk – nuwe metodes van evangelisasie, nuwe musiek, nuwe “herlewingbewegings.” Daar is soveel bohaai en ligsinnigheid – allerhande soorte dinge wat die aandag van die evangelie aflei.

Waarna soek jy in ‘n kerk? Ware gemeenskap? ‘n Plek vir jou kinders om te floreer? Goeie lof en aanbidding? ‘n Plek waar innige behoeftes in jou lewe aangespreek kan word? As enige van hierdie sake op jou van toepassing is, het ek ‘n baie moeilike vraag vir jou: Om hierdie behoeftes aan te spreek, het jy jou hart deursoek om ‘n priester vir jou huisgesin te wees? Jy sê dat jy nie ‘n goeie kerk – een wat jou aanraak en aanmoedig en jou kinders bedien – kan vind nie. Maar het jy die priesterlike werk gedoen van bemiddeling vir jou geliefdes voor die Here?

Ek het grootgeword in ‘n familie wat huisgodsdiens gehou het. My vader het geglo dat die vers in Hebreërs wat Christene beveel om nie die gesamentlike byeenkomste te versuim nie, ook vir gesinne bedoel was (sien Hebreërs 10:25). Wanneer die tyd aangebreek het vir huisgodsdiens in ons huis, het my sibbe en ek ingekom van ons aktiwiteite en saam met ons ouers vergader vir gebed. My vader het met blydskap die rol van priester en herder in ons huis opgeneem.

Wat van jou? Het jy jou hart deursoek om ‘n priester vir jou gesin te wees? Wanneer jou huis ‘n kerk word, sal al jou diepste behoeftes aangespreek word deur jou Vader in die hemel. Dan sal jy na enige kerk toe kan gaan, maak nie saak hoe dood dit dalk mag lyk nie. Waarom? Omdat God jou daar tegemoet sal kom – en Hy kan jou selfs verbind met ander soekers wat honger is om Jesus beter te leer ken.