‘n Volmaakte Hart

David Wilkerson

Ek het nou al sestig jaar ‘n pad saam met die Here gestap. Na al hierdie tyd is ek seker dat dit moontlik is om met ‘n volmaakte hart voor die Here te wandel. Jy mag sê, “Niemand is volmaak nie. Die Bybel maak dit duidelik dat ons almal sondaars is.” Die Skrif sê egter vir ons dat dit moontlik is om met ‘n volmaakte hart voor die Here te wandel. Laat my toe om te verduidelik wat dit beteken.

Die Here het vir Abraham gesê, “Ek is God, die Almagtige; wandel voor my aangesig, dan sal jy opreg [volmaak] wees” (Génesis 17:1). God het ook aan Israel gesê, “Opreg [volmaak] moet jy wees met die Here jou God” (Deuteronómium 18:13). Dawid was in sy hart vasbeslote om die gebod om volmaak te wees te gehoorsaam. Hy het gesê, “Ek wil ag gee op regskape wandel... Ek wandel in die opregtheid [volmaaktheid] van my hart, binne-in my huis” (Psalm 101:2). Salomo het egter misluk om gehoorsaam te wees aan God se gebod om opreg te wees: omdat “sy hart nie volkome met die Here sy God was soos die hart van sy vader Dawid nie” (1 Konings 11:4,6).

God se gebod om volmaak te wees, word ook in die Nuwe Testament gevind. Jesus het gesê, “Wees julle dan volmaak soos wat julle hemelse Vader volmaak is” (Matthéüs 5:48). Paulus het geskryf, “om elke mens volmaak in Christus Jesus voor te stel” (Kolossense 1:28). Later het Paulus bygevoeg, “Dat julle volmaak en volkome mag  staan in die ganse wil van God” (Kolossense 4:12). En Petrus het geskryf, “En mag die God van alle genade self, wat ons geroep het tot sy ewige heerlikheid in Christus Jesus, nadat ons ‘n kort tyd gely het, julle volmaak, bevestig, versterk en grondves” (1 Petrus 5:10).

Wat presies beteken dit om ‘n volmaakte hart hê? En hoe verkry God se mense dit? Eerstens, ‘n volmaakte hart beteken nie ‘n sondelose, onberispelike hart nie.

Mense oordeel volmaaktheid deur uiterlike prestasie, maar God oordeel die mens se hart en sy onsigbare motiewe (Sien 1 Samuel 16:7). Daar word gesê dat Dawid ‘n volmaakte hart gehad het, “al die dae van sy lewe.” Tog weet ons dat hy die Here erg teleurgestel het. Sy lewe was vir altyd gebrandmerk deur owerspel en ‘n berugte moord.

Volgens die Skrif, is die definisie van volmaaktheid “volledigheid” of “volwassenheid.” In beide die Hebreeus en Grieks, sluit dit die terme “opregtheid,” “vlekkeloosheid” en “totale gehoorsaamheid” in. John Wesley het aan volmaaktheid gedink as ‘n “aanhoudende gehoorsaamheid.” Met ander woorde, ‘n volmaakte hart is ‘n hart wat reageer. Dit reageer vinnig en volkome op die Here se aanmoedigings, fluistering en waarskuwings. Hierdie hart sê te alle tye, “Spreek, Here, want u dienskneg luister. Wys my die weg waarin ek moet gaan, en ek sal daarin wandel.”

Daar is drie dinge wat so ‘n volmaakte hart wat reageer onderskei.

1. ‘n Volmaakte hart is deursoekbaar.

“Want die Here deursoek al die harte” (1 Kronieke 28:9). Die volmaakte hart roep saam met Dawid uit, “Deurgrond my, o God, en ken my hart; toets my en ken my gedagtes; en kyk of daar by my ‘n weg is van smart, en lei my op die ewige weg!” (Psalm 139:23-24).

God het aan Jeremia gesê, “Ek, die Here, deursoek die hart” (Jeremia 17:10). Die Hebreeuse betekenis van hierdie gedeelte is, “Ek penetreer, Ek soek diep.” Paulus het hiervan getuig deur te skryf, “Want die Gees ondersoek alle dinge, ook die dieptes van God” (1 Korinthiërs 2:10).

In Openbaring 2:24, praat Jesus van die “dieptes van die Satan,”  dit is om af te gaan in die dieptes van die sonde. Hy vertel ons dat boosheid diep in die siel ingaan en die wortels daarvan strek tot diep in die hel. Inderdaad, Dawid sê van die goddeloses, “Ja, ‘n man se binneste en onpeilbare hart” (Psalm 64:7). Hierdie gedeeltes is heilige waarskuwings. Ons word vertel, “Jy weet nie hoe diep hierdie verbintenis met boosheid jou affekteer nie. Dit sal jou tot in die hel in aftrek.”

Ek glo daar is nuwe dieptes van sonde in hierdie laaste dae. Dit het sterker, dieper wortels ingeneem. Ons kinders word gekonfronteer met die dieptes van sonde wat ons nooit geken het nie en nooit sal ken nie. Versoekings kom na hulle toe in ‘n meer subtiele vorm as ooit te vore in enige geslag. Maar ‘n volmaakte hart is dieselfde in elke generasie. Dit verlang dat die Heilige Gees die dieptes van die innerlike mens ondersoek — om alles wat nie soos Christus is nie uit te vind, bloot te lê en te openbaar.

Ons harte verlang daarna om suiwer en volmaak voor die Here te wees. Dit is ‘n ware kenmerk van die Gees. Maar oppervlakkige preke doen nie veel om die harte diep genoeg te deursoek nie. En diegene in die kerkbanke wat geheime sondes wegsteek, sal enige ondersoek vermy. ‘n Groot menigte Christene van vandag wil ‘n bloed bedekking hê, maar nie ‘n bloed reiniging nie.

‘n Volmaakte hart soek meer as net ewige sekuriteit of ‘n bedekking vir die sonde. So ‘n hart verlang om in God se teenwoordigheid te wees en om gemeenskap met Hom te geniet. Gemeenskap beteken om met die Here te praat, om soete geselskap met Hom te hê en sy aangesig te soek. Dit is waarom Dawid so ywerig uitgeroep het, “Deursoek my, O God!” Hy wou gemeenskap met God geniet.

Hierdie volgorde word weerspieël in die Ou en Nuwe Testament: bedekking, reiniging, oorgawe, gemeenskap. Baie Christene van vandag wil egter niks meer hê as om bedek te word en veilig te wees onder Christus se bloed nie. Hulle begeer ‘n vinnige kaartjie na heerlikheid, sonder pyn, geen kruis en geen reiniging nie. Hulle word aangemoedig deur ander predikers wat verklaar, “Al hierdie selfondersoeke bring net skuld en veroordeling. Al jou sonde is onder die bloed!

Die Gees se ondersoeke is egter nie veroordelend nie, maar verlossend. Sy doel is nie om ons te veroordeel deur een of ander ou oortreding weer aan te roer nie. Dit is daar om ons voor te berei om in sy heilige teenwoordigheid in te gaan om soete gemeenskap met Hom te geniet. “En wie mag staan in sy heilige plek? Hy wat rein van hande en suiwer van hart is...Hy sal seën wegdra van die Here” (Psalm 24:3-5).

2. ‘n Volmaakte hart vertrou.

Die Psalmis het gesê, “Op U het ons vaders vertrou; hulle het vertrou, en U het hulle uitgered. Hulle het U aangeroep en het ontvlug; op U het julle vertrou en nie beskaamd gestaan nie” (Psalm 22:5-6). Oor en oor het Dawid getuig, “By die Here skuil ek” (Psalm 11:1). “My God, op U vertrou ek” (Psalm 25:2).

Die Hebreeuse woord vir “vertrou” beteken “om jouself van ‘n afgrond af te gooi.” Dit is soos ‘n kind wat haar vader hoor sê, “Spring!” en sy gehoorsaam in vertroue en gooi haarself van ‘n hoogte af tot in sy wagtende arms

Vergelyk dit met Christene wat voel dat hulle ‘n slaansak vir die duiwel is. Niks kan verder van die waarheid af wees nie! Die vyand is nie in staat om aan enige gelowige te raak sonder dat God dit toelaat nie. Hy het nie vrye toegang om ons te teister nie. Watter soort vader staan opsy en laat toe dat ‘n boelie vrye toegang het om sy kind enige tyd te terroriseer?

Satan kon nie vir Job aanraak sonder toestemming van God nie. Die Here moes die muur rondom hom laat sak voordat die duiwel toegang tot hom gehad het en dit was ook net tydelik. Dit het in Paulus se lewe ook gebeur. ‘n Boodskapper van die Satan het hom geteister, maar net omdat God dit toegelaat het. Hoekom? Die Here wou nie toelaat dat Paulus, as gevolg van die groot openbaring wat hy ontvang het, homself deur hoogmoed sou verhef nie.

Die Here is altyd in beheer. Nie vir een oomblik was Satan buite die krag van God se Woord nie. Daarom sê die hart wat vertrou altyd, “Al my treë word deur die Here gerig! Hy is my liefdevolle Vader en Hy het ‘n ewige plan en doel met alles wat ek verduur.”

3. ‘n Volmaakte hart is ‘n gebroke hart.

Dawid het gesê, “Die Here is naby die wat gebroke is van hart, en Hy verlos die wat verslae is van gees” (Psalm 34:19). Hy het ook gesê, “Die offers van God is ‘n gebroke gees; ‘n gebroke en verslae hart sal U, o God, nie verag nie” (Psalm 51:19).

Gebrokenheid beteken meer as net om te ween, hartseer te wees, ‘n gebroke gees te hê of nederig te wees. Ware gebrokenheid stel in die hart die grootste krag van God vry waarmee Hy ‘n mens mee kan toevertrou, die krag wat bouvalle kan herstel. Hierdie soort krag bring ‘n spesiale heerlikheid aan God wanneer Sy mense moeilike tye beleef.

God assosieer die mure van Jerusalem met ‘n gebroke hart. “Die offers van God is ‘n gebroke gees; ‘n gebroke en verslae hart sal U, o God, nie verag nie. Doen goed aan Sion na u welbehae; bou die mure van Jerusalem op” (Psalm 51:19-20). Nehemia was geroep om Jerusalem se mure weer op te bou.  In die donker van die nag, het Nehemia “die muur besigtig” (Nehemía 2:15). Die Hebreeuse woord shabar, wat hier gebruik word, is dieselfde woord wat in Psalm 51 gebruik word vir “gebroke hart.”

Sommige mense sal dink dat Nehemía gebroke geraak het toe hy “gesit en ween” het “en ek het dae lank getreur; en ek het gevas en gebid voor die aangesig van die God van die hemel” (Nehemía 1:4). Sy geween en skulderkentenis was maar net die begin van ‘n gebroke hart. Die profeet se hart was nie ten volle gebreek totdat hy na Jerusalem gegaan het,  die bouvalle gesien het en besluit het om iets daaraan te doen nie. Die gerug het ver en naby versprei “dat iemand gekom het om vir die kinders van Israel iets goeds te soek” (Nehemía 2:10).

Nehemia het al aan die buitekant op ‘n donkie gery terwyl hy die “muur besigtig” het.” In Hebreeus is die betekenis, “Sy hart was besig om in twee stukke te breek.” Dit het eerstens met angs “gebreek” oor die verwoeste mure — maar dit het ook “gebars” met die hoop van herstel! Dit is kenmerkend van ‘n gebroke hart: So ‘n hart is een wat sien dat die kerk en families in ‘n gebroke toestand is, dit ervaar die Here se angs en dit begeer om iets daaromtrent te doen.

So ‘n hart treur oor die smaad wat op die Here se naam gekom het. Dit kyk diep na binne en sien sy eie skande en mislukking. Maar al hierdie gebrokenheid lei tot iets anders: hoop. Die ware gebroke hart het van God gehoor, “Ek sal genees, herstel en bou. Laat ons ontslae raak van al die rommel en laat ons aan die werk spring om die breuk heel te maak.”

Jare gelede, toe ek deur Time Square geloop en ween het, het ek getreur oor al die boosheid wat ek in die strate gesien het. Ek het teruggegaan na my huis in Texas en vir meer as ‘n jaar het ek aangehou ween en treur. Toe het God gesê, “David, gaan en doen iets omtrent daardie bouvalle.” Ek het gekom en net vernietiging gesien. Maar ek was nog nie ten volle gebroke totdat ek gedring is deur hoop om die mure te begin herbou nie.

Het jy “begin kyk na die bouvalle” in jou lewe? Wanneer jy Christus in al sy heerlikheid sien, sal die gesig jou in stukke breek. Gebrokenheid beteken die totale verbrokkeling van alle menslike krag en vermoë. Dit beteken egter ook die volgende: “Gaan staan op jou staanplek, want ek is nou na jou gestuur” (Daniël 10:11). Dit is die diepe versekering dat alle dinge gaan verander — dat genesing en herstel sal kom. Liewe leser, jou bouvalle gaan weer vir God opgeëis word.

Totdat jy hierdie hoop vasgryp, sal jy nie ophou treur nie. Jou lewe mag steeds lyk of dit ‘n hoop bourommel is met talle gebreekte plekke wat herstel nodig het. Maar jy het God se werktuie in jou hand. En bokant jou, is daar ‘n groot teken wat deur die Here se eie hand geskryf is en lees: “GOD AAN DIE WERK. Vyande wees gewaarsku!”

Bid hierdie saam met my: “God, ek weet dat U besig is om in my te werk tydens al my beproewings. Daarom het die Satan geen houvas op my nie. Ek gaan nie in my vertroue afneem nie. Ek weet ek sal nie misluk nie. My sonde is smartlik, maar ek het dit bely. Nou is die tyd om op te staan en te herbou.” Amen!