Geroep tot sy Teenwoordigheid

David Wilkerson (1931-2011)

“Wie mag klim op die berg van die HERE? En wie mag staan in sy heilige plek? Hy wat rein van hande en suiwer van hart is” (Psalm 24:3-4).

Van die heel begin af, het God heilige mense geroep na die berg van sy teenwoordigheid om uit die hemel te hoor. Hy het Abraham na ‘n berg geroep om hom te toets en hom in noue gemeenskap met Homself te bring (sien Génesis 22:2). Abraham het die kennis van wie God was ontvang net toe hy die mes teen sy eie seun se keel gedruk het – God het die ram voorsien in plaas van Isak: “En Hy sê: Moenie jou hand na die seun uitsteek nie ... En toe Abraham sy oë opslaan, sien hy meteens ’n ram wat agter in die bos met sy horings vasgeraak het” (Génesis 22:12-13).

Moses was deur God getrek na die berg Horeb, waar hy sy roeping ontvang het om Israel uit slawerny te lei. En Moses is teruggeneem na die berg elke keer wat God met sy volk wou praat: “Maar Moses het opgeklim na God toe, en die HERE het hom van die berg af toegeroep” (Exodus 19:3).

Petrus was op die berg, in die teenwoordigheid van God, toe hy die stem van die Here gehoor het. “En hierdie stem het ons uit die hemel hoor kom toe ons saam met Hom op die heilige berg was” (2 Petrus 1:8).

Die bergtop word nie maklik bereik nie. Jy gaan deur die binnekamer en jy bly daar, gewillig om alles op die spel te plaas om alleen in God se heilige teenwoordigheid te wees tot jou siel aan die brand is. Dit word bereik deur elke dag terug te kom, hoër te gaan elke keer, oor klippe en afgronde van teëstand – en daar is geen omdraai totdat die kruin bereik is nie. Niemand kom by die kruin van God se teenwoordigheid uit met een-uur oordenkings nie. Dit moet ‘n leefwyse word.

Die openbaring van Christus is te groot om ooit ten volle verstaan te word. Maar diegene wat met God afsonder in gebed ontvang toenemende begrip van Christus soos die Heilige Gees Hom in die hart openbaar. Gaan terug na die binnekamer en word vernuwe deur die Here se heerlike teenwoordigheid. Jy kan ‘n “bergtop belewenis” hê waar jou blydskap herstel word en jou lewe nuwe doel en rigting inneem.