Glo Jy God Sal Jou Deurdra?

David Wilkerson (1931-2011)

Die belangrikste vraag wat God se kinders in hierdie laaste dae moet antwoord, is die volgende: “Glo jy God sal jou deurdra? Glo jy Hy kan alles wat nodig is doen om jou gebede te verhoor en jou behoeftes aan te spreek?” Dit is dieselfde vraag wat die Here vir twee blinde mans, wat Hom om genade en genesing gesmeek het, gevra het. “Glo julle dat Ek dit kan doen? Hulle antwoord Hom: Ja, Here ... En hulle oë het oopgegaan” (Matthéüs 9:28-30).

Die Here vra vir jou, my, die kerk, “Glo jy Ek kan jou lei en rig en my volmaakte wil in jou lewe uitvoer? Glo jy Ek werk steeds om jou onthalwe? Of dink jy heimlik dat Ek jou verlaat en teleurgestel het?” God is nie hoofsaaklik daarin geïnteresseerd dat jy een of ander groot werk vir Hom doen nie; liewer, Hy wil bitter graag hê ons moet Hom net vertrou.

Party rustelose Christene wil “alles laat staan en in een of ander voltydse bediening ingaan.” Trouens, sommiges verkoop hulle huise en besighede en pak op en neem hulle familie na een of ander armmoedige tipe bediening sonder ware leiding van die Heilige Gees. Soms is God betrokke by sulke planne, maar in die meeste gevalle, is Hy nie.

Geliefde, God wil nie enigiets hê wat jy besit nie; Hy is nie agter jou huis, jou grond, jou motor, of enige ander wêreldse besitting aan nie. Nee! Hy wil jou vertroue hê en Hy smag dat jy onwrikbaar gevestig is in jou vertroue in Hom. Hy begeer jou gehoorsaamheid, en die Woord van God is duidelik dat Hy met niks minder as jou geloof tevrede sal wees nie.

“En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ’n beloner is van die wat Hom soek” (Hebreërs 11:6). Staan stil en vertrou op die Here, gevestig en gegrondves in jou vertroue op Hom. Om dit te doen, sal jy rus, vrede en vryheid van vrees geniet. Watter vreugde om die versekering te hê dat jy Hom behaag met jou vertroue.