‘n Stem in die Woestyn

David Wilkerson (1931-2011)

Johannes die Doper het sy bediening kort en onomwonde gedefinieer. Hy het gesê, “Ek is die stem van een wat roep in die woestyn” (Johannes 1:23). Hierdie dienskneg van die Allerhoogste wat, volgens die Skrif, die grootste was “onder die wat uit vroue gebore is” (Matthéüs 11:11), was die beste, mees geseënde van al die profete en ‘n gerespekteerde prediker van geregtigheid.

Die skares het saamgedrom om sy snydende boodskappe te hoor en talle is gedoop en het sy dissipels geword. Sommige het gedink hy was Christus en ander het hom beskou as Elia wat uit die dood uit opgestaan het. Maar deur dit alles heen, het Johannes geweier om verhef of bevorder te word. Hy was ontledig van selfsug en hy het voortdurend weggedeins van die kollig af.

In sy eie oë, was hierdie grootste van alle profete, nie waardig om ‘n man van God genoem te word nie – slegs ‘n stem. ‘n Woestynstem, trouens, beskeie, ingetrokke en glad nie begaan oor eer nie. Hy het homself onwaardig geag om selfs sy Meester se skoene aan te raak. Sy hele lewe was toegewy aan “die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem” (Johannes 1:29). Watter magtige teregwysing vir ons in hierdie eeu van die bevordering van persoonlikhede, die najaag van invloed, egotisme en soeke na eer. Johannes kon dit alles gehad het, maar hy het uitgeroep, “Hy moet meer word, maar ek minder” (Johannes 3:30).

Die geheim van Johannes se blydskap was dat sy vreugde nie in sy bediening of in sy werk was nie, ook nie in sy persoonlike bruikbaarheid of verreikende invloed nie. Sy enigste blydskap was om te staan in die teenwoordigheid van die Bruidegom, en homself in sy stem te verbly.

Oral hoor ek Christene sê, “Ek wil hê God moet my gebruik. Ek wil hê my lewe moet iets beteken vir die Here. Ek wil Hom dien in ‘n voltydse kapasiteit.” Hoewel dit baie prysenswaardig is, moet dit kom met die gewilligheid om blydskap en vervulling te vind in toegewyde gemeenskap met die Here, sowel as in diens.

Wy jouself toe aan die hoë roeping van God in Christus op jou lewe, leef getrou vir Hom en vertel ander van die Lam van God. Die grootste belonings sal waarskynlik gaan aan diegene wat verborge en onbekend is en die Here verheerlik met hulle eenvoudige getuienis van sy getrouheid.