Wat Breek die Hart van God

David Wilkerson (1931-2011)

Jesus het by die graf van Lasarus geween alhoewel Hy geweet het Hy sou hom binnekort opwek. Trouens, Hy het na Betanië gekom, spesifiek om hierdie rede. “Jesus het geween. Die Jode sê toe: Kyk, hoe lief Hy hom gehad het! En sommige van hulle sê: Kon Hy wat die oë van die blinde man geopen het, nie maak dat hierdie man ook nie gesterf het nie?” (Johannes 11:35-38).

Hoewel Jesus die droefheid van sy dierbare vriende Maria en Martha oor die dood van hulle broer diep gevoel het, was sy dieper droefheid veroorsaak deur die ongeloof van die mense wat gevra het waarom Hy nie Lasarus se dood verhoed het nie. “Jesus sê vir haar: Het Ek nie vir jou gesê, as jy glo, sal jy die heerlikheid van God sien nie?” (11:40).

Net soos in Jesus se tyd, word die hart van God gebreek vandag wanneer Christene sy liefde vir hulle bevraagteken. Hoe kan ‘n God van liefde nie ween wanneer sy eie kinders sy natuur in twyfel trek nie?

Christene bedroef die Here in baie erger sake as diegene gedurende sy tyd op aarde. Ons staan op ‘n hoër berg en sien meer as wat hulle ooit kon sien. Ons het ‘n volledige Bybel met ‘n volle en gedetailleerde rekord van God se betroubaarheid. Ons het die geskrewe getuienisse van eeue se Christene, geslag na geslag van goddelike vaders wat aan ons die onwrikbare bewys van God se liefde oorgedra het. Ons het ook ontelbare persoonlike belewenisse wat getuig van God se innige liefde vir ons.

God openbaar sy hart vir sy mense in sy Woord:

  • “Want ons het nie ’n hoëpriester wat nie met ons swakhede medelye kan hê nie, maar een wat in alle opsigte versoek is net soos ons, maar sonder sonde” (Hebreërs 4:15).
  • “Want Hy het gesê: Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie” (Hebreërs 13:5).
  • “Want God het sy Seun in die wêreld gestuur nie om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word” (Johannes 3:17).

Dierbare geliefdes, God se hart is vol genade en vergifnis, en sy Woord is vol beloftes van seën. Hy verklaar sy liefde vir jou oor en oor, en Hy wag net om van jou te hoor. Maak jou hart vandag vir Hom oop en beleef alles wat Hy vir jou het.