‘n Stem van Vertroosting

Carter Conlon

“’n Lofsang tot eer van God. Baie sal dit sien en vrees en op die HERE vertrou” (Psalm 40:4).

Wanneer mense die krag van God in jou sien as jy deur dieselfde probleme gaan as hulle, sal hulle in verwondering terugstaan en dink, “Daar moet sekerlik ‘n God wees! Ons gaan deur dieselfde waters, maar dit wat my laat verdrink, lyk of dit hom verkwik. Hy het ‘n innerlike krag wat ek nie het nie.” Paulus het dit op hierdie manier gestel: “Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus, die Vader van ontferminge en die God van alle vertroosting, wat ons troos in al ons verdrukking, sodat ons die wat in allerhande verdrukking is, kan troos deur die vertroosting waarmee ons self deur God getroos word” (2 Korinthiërs 1:3-4).

Paulus sou nooit die feit wegsteek dat daar beproewings in die Christelike lewe sou wees nie. Later in daardie gedeelte van die Skrif sê hy, “Want ons wil nie hê, broeders, dat julle onbekend moet wees met ons verdrukking wat oor ons in Asië gekom het nie” (1:8). Paulus het ons daaraan herinner dat ons deur beproewings sal gaan, maar dat God ons sal vertroos. En met die vertroosting wat ons ontvang, sal ons ander kan vertroos wat hulleself in hartseer en verwarring bevind.

Ek glo baie Christene sal die troos van die Here moet beleef in die komende dae. Dit is waarom ons nie ons broers en susters in Christus alleen moet laat nie, maar liewer by hulle moet staan. Baie mense neem leringe aan van predikers wat hulle oortuig dat om na Jesus te kom, beteken hulle sal vrygestel word van alle lyding en beproewings. Sonder ‘n duidelike begrip van waaroor die Christelike lewe gaan, word hulle oop teiken vir die vyand. Hy kom in en werp twyfel op die getrouheid van God en sy beloftes en veroorsaak dat moedeloosheid inskop.

Die wêreld sal jou voorbeeld sien, maar jy kan dalk ook ‘n medegelowige teëkom wie se geloof geskud word deur swaarkry. Jy kan die Skrif oopmaak en ondersteuning bied. “Kyk, my vriend, jy en ek dien dieselfde Jesus, so laat ons saamstap.” Die Heilige Gees sal jou in staat stel om ‘n bemoedigende stem en ‘n voorbeeld te wees van wat dit beteken om met oorwinning en stabiliteit tydens moeilike tye te leef.

Carter Conlon het aangesluit by die pastorale personeel van Times Square Church in 1994 op uitnodiging van die stigterspastoor, David Wilkerson en was aangestel as Senior Pastoor in 2001.

Tags