Om God se Tydsberekening in Gebed te Begryp

Jim Cymbala

Wanneer ons bid, is dit noodsaaklik om tussen vier verskillende riglyne van die Here te onderskei. As ons dit doen, kan dit ons die deurbraak tydsberekening gee wat ons nodig het om sy wil te doen. Vir enige gebed of onderneming in ons lewe, moet ons onderskei of die Here een van hierdie vier dinge sê:

  • Nooit
  • Altyd
  • Op sekere tye
  • Nie nou nie

Die doel van geestelike groei is bloot om soos Jesus te word. Die Bybel sê dat van voor die skepping van die wêreld af, het God vir ons beplan “om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun” (Romeine 8:29). Dit is die geestelike maatstaf waarmee ons ons vordering kan meet: Word ons meer soos Jesus? As ons daardie maatstaf gebruik, begin ons besef dat die mees Christelike persoon nie noodwendig die een is wat die meeste Skrifte gememoriseer het of die sigbaarste in leierskap is nie.

Enigeen wat die lewe van Jesus bestudeer, kan nie anders as om beïndruk te wees met sy onverstoorde vrede en volmaakte geestelike houding nie. Dit maak nie saak wat die situasie is nie, die Here het geweet wat om te sê en wanneer om dit te sê. Hy het geweet wanneer om stil te wees en Hy het altyd die regte ding gedoen. Hy het ook geweet wanneer om van die skare te onttrek vir ‘n tyd van rus en gebed. Jesus se gevoel van wat die oomblik geverg het, was foutloos.

Hierdie skerpsinnige begrip van goddelike imperatiewe en presiese geestelike tydsberekening is die kern van wat dit beteken om volwasse in Christus te wees. Sommige dinge moet nooit gedoen word nie, terwyl ander altyd nagekom moet word. Op sekere tye is ‘n spesifieke aksie die enigste behoorlike koers om in te neem; op ander tye is selfs goeie dinge onvanpas omdat die Here sê “nie nou nie.” Begrip vir God se imperatief en sy tydsberekening – sy nooit, altyd, op sekere tye, en nie nou nie – kan ons help om pynlike slaggate te vermy en ons lei om sy volmaakte wil te doen.

God is altyd ernstig wanneer Hy ons sy riglyne gee. Kyk na Hom vir leiding terwyl jy lewe in gehoorsaamheid aan sy Woord en Hy sal jou in staat stel om ‘n stabiele wandel met Hom te handhaaf.

Jim Cymbala het die Brooklyn Tabernacle begin met minder as twintig lede in ‘n klein bouvallige gebou in ‘n ongure deel van die stad. Hy is oorspronklik van Brooklyn en is ‘n jarelange vriend van beide David en Gary Wilkerson.