Is Jy ‘n Gereelde by die Here se Tafel?

David Wilkerson (1931-2011)

Dawid het van sy Here gesê, “U berei die tafel voor my aangesig teenoor my teëstanders” (Psalm 23:5). Jesus het gesê, “En Ek beskik vir julle ‘n koninkryk soos my Vader dit vir My beskik het, sodat julle kan eet en drink aan my tafel in my koninkryk” (Lukas 22:29,30).

Die een ding wat ons Here bo alles verlang van Sy dienaars, bedienaars en herders, is gemeenskap by sy tafel. Eenheid rondom Sy hemelse tafel – ‘n plek en tyd vir intimiteit en ‘n voortdurende kom na Hom toe vir kos, krag, wysheid en gemeenskap.

Baie mense het egter ‘n beperkte openbaring van Christus en, ten spyte van al die prediking, die lofsange, die eindelose gepraat oor Hom, het min ‘n ware waardering vir die Here se tafel. Hulle ken nie die heerlikheid en die majesteit van so ‘n hoë roeping in Christus Jesus nie.

Verbintenis met Hom sal veroorsaak dat ons ‘n toenemende openbaring van sy grootheid sal soek. In plaas van te bid vir dinge en seëninge, moet ons vra vir ‘n groter openbaring van sy heerlikheid want ‘n basiese kennis van Christus sal nie genoeg wees in hierdie laaste dae nie. Ons moet na sy tafel gaan en die Heilige Gees Hom aan ons laat openbaar.

Is jou visie van Christus te klein? Paulus was verbind tot ‘n toenemende openbaring van Jesus. Alles wat hy van Christus gehad het, het gekom deur openbaring, is aan hom geleer by die Here se tafel en waar gemaak aan hom deur die Heilige Gees. Hy het voortdurend gebid vir die genadegawe om die “onnaspeurlike rykdom van Christus” (Efésiërs 3:8) te verstaan en te verkondig.

God het ‘n koninklike tafel vir jou gedek en jou Gasheer wag op jou teenwoordigheid. Aanvaar die groot eer daarvan om by Hom te sit en deel te hê aan die brood van die lewe.