Die Pad Waarna Hoogmoed Lei

David Wilkerson (1931-2011)

Hoogmoed is heel bo aan die lys van dinge wat God haat, “Want alles wat in die wêreld is – die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe - is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld” (1 Johannes 2:16).

Die meeste Christene sal nie erken dat hulle nog nie is waar hulle moet wees en dat daar gebiede in hulle lewens is wat verbetering nodig het nie, maar min sou hulleself as hoogmoedig beskou. Hoogmoed is onafhanklikheid – nederigheid is afhanklikheid. Hoogmoed is ‘n onwilligheid om te wag op God om op sy eie tyd en op sy eie manier op te tree. Hoogmoed jaag daarna om sake in sy eie hande te neem wanneer dit lyk of God nie vinnig genoeg optree nie.

‘n Voorbeeld van hierdie verskriklike sonde, is Saul se ongehoorsaamheid by Gilgal. Toe Samuel Saul as koning gesalf het, het Samuel “met Saul gespreek op die dak” (1 Samuel 9:25). Hierdie bespreking op die dak het gegaan oor die groot oorlog wat voorgelê het en Samuel het Saul beveel om nie op te tree totdat die hele volk by Gilgal saamgekom het om die Here vir spesifieke leiding te soek nie. Dit sou God se werk wees en syne alleen (sien 1 Samuel 10:8).

Samuel verteenwoordig die stem van God; ‘n werktuig deur wie God sy planne sou oordra. Maar Saul het ongeduldig geword en sake in eie hande geneem. God was besig om hom te toets en hy het misluk weens ongeduld – ondeurdagte hoogmoed!

Nederigheid is volkome afhanklikheid van God. Dit is om God te vertrou om die regte ding te doen op die regte tyd op die regte manier. En Jesus het ons ‘n glorieyke belofte gegee om ons deur die donker dae wat voorlê, te dra. Hy het gesê, “Omdat jy die woord van My lydsaamheid bewaar het, sal Ek jou ook bewaar in die uur van beproewing wat oor die hele wêreld kom en die bewoners om die aarde op die proef te stel” (Openbaring 3:10).