Gemoedsrus in Hierdie Moeilike tye

David Wilkerson

Jesus sê, “Vrede laat Ek vir julle na; my vrede gee Ek vir julle. Die vrede wat Ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie. Julle moet nie ontsteld wees nie, en julle moet nie bang wees nie” (Johannes 14:27). Christus het hierdie woorde met sy dissipels op die vooraand van sy kruisiging gedeel. Dit was bedoel om hulle te vertroos en gerus te stel gedurende die donkerste uur van hulle geloof. Van daardie dag af het Christene dwarsdeur die eeue heen vertroosting uit hierdié woorde van Jesus verkry wat hulle deur hulle moeilikste beproewings gedra het.
En tog, vandag, het menige Christene harte wat besorgd is en leef hulle in vrees. Ek weet uit die baie briewe wat na ons bediening  gestuur word, dat baie gelowiges in die geheim gekwel word deur paniek, bekommernis en slapelose nagte. Jesus gee egter nog ‘n versekering in dieselfde vers: “Vrede laat Ek vir julle na; my vrede gee Ek vir julle.” Tog vind baie Christene dit onmoontlik om vrede vir die gemoed te vind. Vir baie kom en gaan vrede terwyl hulle bekommerd, rusteloos en voos geslaan word deur spanning.
In Lukas se Evangelie het die profeet Sagaria die volgende van die komende Messias gesê, “Hy sou gee dat ons, gered uit die hand van vyande, Hom onbevrees kan dien in vroomheid en opregtheid al die dae van ons lewe” (Lukas 1:73-75).
Dit is een van die primȇre redes waarom die Here aarde toe gekom het en vir die sondige mensdom gesterf het: sodat ons met God mag wandel sonder vrees terwyl ons sy vrede al die dae van ons lewens geniet. Dit blyk onmoontlik wanneer ons katastrofes, beproewings en diepe smart in die gesig staar, of deur periodes van lyding, toetse en onsekerheid gaan. In sulke tye voel ons oorweldig en vrees gryp ons harte aan. Hoe kan ons in vrede bly as alles buite beheer lyk?
Sagaria het die volgende van die Meester gesê: “om lig te bring aan dié wat in duisternis en in die skaduwee van die dood lewe, om ons voetstappe te rig op die pad van vrede” (Lukas 1:79, kursief myne). Hy het gesê dat Jesus ons op die pad van vrede sal lei — nie na rusteloosheid, leegheid of vrees nie, maar na kalmte en rus. Dit is Sy belofte, maar vir sommige lyk die pad na die teenoorgestelde.
In hierdie wêreld sal ons probleme, vervolging, vurige beproewinge en “van buite onenigheid, van binne sorge,” ondervind soos wat Paulus in 2 Korinthiërs 7:5 sê. Ons sal versoek word en ons sal ly. Maar nog steeds moet ons Hom in geregtigheid, vrede en vreugde in die Heilige Gees dien. Paulus se gebed vir die kerk was vir vrede in alle omstandighede: “Mag die Here, wat vrede gee, julle altyd in alle opsigte vrede gee! Die Here sal by julle almal wees!” (2 Thessalonicense 3:16).
Ware vrede is die resultaat van ons vryspraak deur die geloof.
“God het ons dan nou vrygespreek deurdat ons glo. Daarom is daar nou vrede tussen ons en God deur ons Here Jesus Christus” (Romeine 5:1). Daar moet ‘n vaste fondament vir ons vrede wees. Die Skrif sê die fondament is vryspraak wat ook regverdigmaking genoem word. Ons is by magte om vrede te hê omdat Christus ons voor die Vader vrygespreek het.
Vryspraak behels twee beginsels. Eerstens, sê  dit dat my sondes uitgewis is. Ek is vrygespreek van alle ongeregtigheid deur die bloed van Jesus Christus. Daardie sondes word nie meer teen my gehou nie, omdat  Christus aan die kruis ten volle daarvoor betaal het.
Kortliks, hierdie vryspraak is deur geloof in die Rots en dit is ons fondament van alle vrede in God. Om “vry te spreek” beteken om iemand onskuldig te verklaar. Dit is om te verklaar dat ons skuld ten volle betaal is deur Christus en dat God tevrede is. Jesus is “oorgelewer en Hy is opgewek sodat ons vrygespreek kan word” (Romeine 4:25). Hy is opgewek om ons van alle skuld vry te verklaar.
En tog, om vrygespreek te word beteken meer as net vergifnis. Jesus het my nie net vrygespreek van al my sondes nie; Hy het deur sy offer my ook vir die Vader aanvaarbaar gemaak. Dit is die tweede groot betekenis van vryspraak. Nie alleen is ek onskuldig verklaar nie, maar ek is ook in God se oë heilig verklaar.
Jy kan hard werk om oorwinning te behaal oor elke boesemsonde. Jy kan foutloos wees, beheer verkry oor elke gewoonte, jou humeur beteuel, sondige gedagtes oorwin of alle sondige gesprekke verwerp. Tog deur dit alles kan jy nog steeds besig wees om op die verkeerde fondament te bou. Hoekom? Want jou vrede kan nie kom van dit wat jy doen of hoe jy voel nie.
Ek erken ek het soms so gelewe. Tydens daardie kort tydperke het ek in my hart geweet ek is deur genade gered en dat my goeie werke my nie kon red nie. Tog het ek soos baie ander verwag dat God my moet seën volgens my prestasies. My vrede het gekom en gegaan; mislukking van enige aard het my wanhopig laat voel en ek het my vrede verloor.
Miskien het jy ook hierdie worstelstryd gehad. Jy wil so graag die Here behaag. Maar jy oordeel jou stand by God deur “hoe goed en wat jy doen” in plaas van wat Jesus reeds vir jou gedoen het. Jy oordeel jou innerlike vrede en selfs jou redding deur jou werke. Mag dit nooit so wees nie! Jy kan jouself nie deur enige menslike middele regverdig nie. En jy kan nie God se vrede deur Christus ken voordat jy nie sy fondament verstaan nie. Dit kom slegs deur te weet dat jy in God oë reg is deur Jesus se gestorte bloed. Dit is alleenlik om hierdie rede dat jy “in die Geliefde aanvaar is.”
Die kinders van God moet vrede op ‘n heel ander manier najaag en dit is deur in te tree in die waarheid van wat Christus vir ons gedoen het. Sy Woord sê, “En die vrede wat Christus gee, moet in julle lewens die deurslag gee. God het julle immers geroep om as lede van een liggaam in vrede met mekaar te lewe. Wees altyd dankbaar” (Kolossense 3:15).
Jesus sal ons bly vryspreek totdat ons Hom in die ewigheid ontmoet. En ons geloof in Hom sal aanhoudend in ons ‘n heiligmakende krag opwek. “Deur in My te glo, sal hulle sondes vergewe word en sal hulle deel word van die volk van God” (Handelinge 26:18).
Ons weet ons is deur Hom aanvaar, want Hy nooi ons om met vrymoedigheid na sy troon te kom.
Hoekom sal God jou na sy troon nooi as Hy kwaad is vir jou? Jy mag jouself veroordeel omdat jy ‘n slegte dag gehad het of omdat jy weet jy het die Heilige Gees bedroef. Maar wat vra die Woord ons om te doen in sulke tye? Jy moet na die Here toe hardloop en uitroep, “Jesus, ek het ‘n berou met my hele hart. Ek weet U kan al my ongeregtigheid uitwis.”
Die Vader het nie sy rug op jou gedraai nie. Tog lewe baie Christene asof Hy het. Hulle lewe met ‘n voortdurende angs en dink die een oomblik hulle is gered en dan weer dat hulle nie gered is nie. Hulle leef met onnodige verwardheid omdat hulle nie hierdie fondament het nie. “Ek is geregverdig in die oë van God en deur die bloed van die Lam. En nie alleenlik is ek in sy oë geregverdig nie, ek is ook deur die Vader as heilig aanvaar. Ek het die reg om in sy teenwoordigheid in te gaan.”
Dit is waaroor die storie van die Verlore Seun eintlik gaan. Nie net is hierdie groot sondaar vergewe, op die nek gesoen, ‘n nuwe kleed en ‘n ring gegee nie, hy is ook genooi om by sy vader se tafel te sit en die fees te geniet. Dit is die ware beeld van regverdigmaking: Ons word nie gelos om God te probeer behaag en onsself in sy guns in te werk nie. Hy het dit alles vir ons gedoen.
Satan staan op hierdie oomblik voor God en kla jou aan van allerlei sondes: troueloosheid, leuens, oneerlikheid en tekortkominge. Hy het ‘n lang lys van elke verkeerde ding wat jy onlangs gedoen het. “Die aanklaer van ons medegelowiges …. hy wat hulle dag en nag voor ons God aangekla het.”  (Openbaring 12:10). Die Duiwel sê vir God, “Hoe kan daardie een gered word na alles wat ek hom gesien doen het? Ek wil geregtigheid hȇ! U kan nie ‘n regverdige God wees as U hom daarmee laat wegkom nie.”
Die duiwel is reg met baie van sy beskuldigings. Jy het dikwels gefaal. Die heerlikheid van God het jou ontbreek. Jy het dinge anders gedoen as wat Jesus sou doen. Maar ons Regter is onwrikbaar en word nie deur enige aanklagtes beïndruk nie. Hy vertel aan ons aanklaer, “Jy het geen saak nie, vader van die leuens. Jy bring aanklagte teen iemand wat alreeds vrygespreek is. Gaan nou weg!”
Ons hoef nie vir ons Regter bang te wees nie. Hy is aan ons kant en het al ons oortredinge uitgewis: “U het al my sondes vergewe” (Jesaja 38:17). “En tog is dit Ek wat jou opstandigheid vergewe. Ek is getrou aan Myself, Ek dink nie meer aan jou sondes nie” (Jesaja 43:25). Ek sien die Koning van glorie wat staan voor ons aanklaer en vra, “Wie kan die uitverkorenes van God aankla? God self spreek hulle vry” (Romeine 8:33).
Terwyl jy hier lees, leef jy miskien sonder om jou voorregte ten volle te benut. Jy dra ‘n las van skuld en bekommernis wat jy nie hoef te dra nie. God wil hê dat jy weet hoe rein jy in die hemel is en dat jy selfs nou reeds reg is vir die heerlikheid. En Hy wil hê dat jy die vrede wat reeds joune is vir jouself toe-eien.
In sy tweede sendbrief praat Petrus van ‘n finale vernietiging van die wêreld deur vlamme. Selfs te midde van so ‘n grusame tyd in die wêreld se mees ontstellende uur, word ons geroep om vrede in ons gemoed te hȇ: “Aangesien al hierdie dinge so aan hulle einde gaan kom, …die dag waarop die hemel in vlamme sal vergaan en die hemelliggame sal brand en wegsmelt…. Daarom, geliefdes, terwyl julle hierdie dinge verwag, moet julle julle daarvoor beywer om vlekkeloos en onberispelik voor God, en in vrede met Hom, te lewe” (2 Petrus 3:11-12, 14).
Op daardie dag wanneer ons voor ons God staan, sal ons kyk na sy spyker-deurboorde hande en besef dat die Bron van ons regverdiging meer vir ons gedoen het as wat ons in ‘n leeftyd van boetedoening of werke ooit sou kon doen. Geliefdes, God wil hȇ dat ons nou sy vrede in besit sal neem. Ons Vader wil hê dat ons in staat sal wees om na Jesus se wonde te kyk en aan die duiwel te verklaar, “Dit is die betaling vir my sondes. Jy kan my nie meer van daardie dinge aankla nie, Satan. Jesus bepleit my saak vir my. En deur Hom is ek in God se oë geregverdig.”
Onlangs het ek gebid, “Here, ek wil ten alle koste U vrede hȇ. Ek sal nie langer na die duiwel se leuens luister nie. Ek weet my redding kom nie deur my werke nie. Nee, Jesus, U alleen pleit vir my saak. Ek rus in wat U vir my gedoen het.” Kan jy dieselfde in geloof sê? Dat jy nie gaan probeer om jou weg oop te werk na God se goeie boekies toe nie? Dat Jesus al jou sonde op Hom geneem het en dat jy daarom bevoeg is om deur Hom in God se teenwoordigheid in te gaan?
Die werklikheid is dat wanneer God na jou kyk, dan sien Hy Christus. Hy sien nie die “ou man” waarna Paulus verwys nie, maar ‘n nuwe mens in Christus. Soos Jesus in heerlikheid is, so is ons in hierdie wȇreld: verlos, vrygekoop en vrygemaak.
So, is jy bekommerd of bang? Veroordeel jy jouself? Jy hoef nie meer in skuld en angs te lewe nie.  As jy jou sonde bely het en op die bloed van Jesus vertrou, dan is daardie sondes weg en totaal uitgevee. Jy is geregverdig.
“Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie” (Romeine 8:1). In werklikheid sê God, “Ek het jou nie hierdie vrees of veroordeling gegee nie. Die duiwel het dit op jou geplaas. Raak ontslae daarvan deur in geloof te sê, “Ek is skoongewas en gereinig deur my geloof in Jesus. En ek weet God is lief vir my.”
As jy dit gedoen het, is die Here baie tevrede met jou. Jy gee Hom groot vreugde! Dit is hoekom Hy sê , “Kom met vrymoedigheid in My teenwoordigheid, maak jou versoeke aan My bekend en vra vir groot dinge sodat jou vreugde volmaak kan word.” Dit is ware vrede!