Bewus van die Heilige Gees

Jim Cymbala

Petrus was ‘n vername dissipel en tog het hy die Here drie keer verloën. Na die verloënings, het Petrus in die nag ingeloop en geween. Hy het nie sy verhouding met Jesus op daardie oomblik verloor nie, maar hy het die pyn van sy verraad en die verlies van ‘n innige vriendskap met iemand wat hy innig liefgehad het, akuut gevoel. Die Gees het in hom gewerk om die pyn wat tot bekering en herstel lei te bring.

Paulus het gewaarsku, “En bedroef nie die Heilige Gees van God nie, deur wie julle verseël is tot die dag van verlossing” (Efésiërs 4:30). As die Gees bedroef word, is Hy verontwaardig en hartseer. Hoewel ons weet ons saligheid word nie verloor deur ons sonde nie, word ons ook pynlik daarvan bewus dat daar ‘n demper op ons verhouding geplaas is. Gemeenskap met God word geaffekteer en ons voel ‘n ongemaklike leegheid. Die son is steeds daar en dit skyn, maar ons voel nie meer sy warmte nie. Dit is asof ‘n wolk dit keer.

Die Christelike lewe is ‘n geheimenis. Ons leef die lewe – dit is ons stem, liggaam, en verstand – maar dit is glad nie werklik ons nie. Dit is Christus wat in ons leef deur die Heilige Gees. Johannes, dieselfde apostel wat ‘n brief van bemoediging geskryf het om gelowiges aan te moedig om nie te sondig nie, het ook een van die heel beste beloftes in die Bybel ingesluit: “As ons sê dat ons geen sonde het nie, mislei ons onsself en die waarheid is nie in ons nie. As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig” (1 Johannes 1:8-9).

‘n Stukkie goue waarheid wat ek baie jare gelede gehoor het, is die sleutel daarvan om bewus te wees van en in aanraking te bly met die Heilige Gees: “Om bewus te wees van die Heilige Gees, los 90 persent van ons probleme op.” Ons moet ons gedagtes dissiplineer om bewus te bly van die teenwoordigheid van die Heilige Gees.

Christus se plan was om “my” met “Hom” te vervang deur die Heilige Gees se teenwoordigheid. Dit is soortelyk aan ‘n “liggaamlike oorname” – maar dit lei tot ‘n lewe vol vrede en blydskap.

Jim Cymbala het die Brooklyn Tabernacle begin met minder as twintig lede in ‘n klein bouvallige gebou in ‘n ongure deel van die stad. Hy is oorspronklik van Brooklyn en is ‘n jarelange vriend van beide David en Gary Wilkerson.