Die Verlorenes Soek

David Wilkerson (1931-2011)

Jesus het in hierdie wêreld gekom om een rede – om verlore siele te bereik en te red. “Want die Seun van die mens het gekom om te soek en te red wat verlore was” (Lukas 19:10). En Hy het dit ook óns sending gemaak toe Hy gesê het, “Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die ganse mensdom” (Markus 16:15).

Toe Jesus hierdie woorde geuiter het, het Hy met gewone, geringe, ongeskoolde mans en vroue gepraat. Hy het die toekoms van sy kerk op hulle skouers geplaas en dit moes nogal oorweldigend vir daardie klein groepie gelowiges gewees het. Probeer jou voorstel die gesprekke wat moontlik plaasgevind het nadat hulle Meester opgevaar het na die hemel.

“Het ek Hom reg gehoor? Ons is platsak en gewone mense. Hoe gaan ons ‘n wêreldwye rewolusie vir Christus begin? Mense behandel ons met volslae minagting en die Romeine slaan ons en maak ons dood. As hulle ons so in Jerusalem behandel, dink net hoe sal hulle ons behandel wanneer ons in Rome kom en begin om te getuig en te preek.”

In daardie tye, het die samelewing nie al die eksotiese versoekings gehad wat óns geslag beleef nie. Daar was geen goddelose televisie, vulgêre films, rekenaartoegang tot alles en nog wat nie. Vandag probeer ons regering wesenlik om God te verban, ons media is so liberaal dat dit aan goddeloosheid grens en Wall Street word toenemend gierig vir meer geld. Die ergste van alles, ons sien hoe die opkomende geslag die Christus, wat ons verkondig, vloek.

As volgelinge van Christus, moet ons om ons rondkyk! Sien die menigtes sonder ‘n Saligmaker en vra God vir ‘n hart om na hulle uit te reik. Jesus het geweet dat die krag, wat aan die dissipels gegee was toe Hy hulle uitgestuur het, meer as genoeg sou wees om elke behoefte en teëstand te kon aanspreek. Net so, gee die Heilige Gees ons leiding en krag om uit te reik na diegene rondom ons met die evangelie. Jy hoef nie na ‘n vreemde land te gaan om siele te wen nie. Jou familielede, mede werkers, diegene wat jy in jou van dag tot dag aktiwiteite teëkom, het almal die Verlosser nodig. Bly sensitief vir die stem van die Heilige Gees en Hy sal jou lei in jou getuienis vir die Meester.