Om God Te Behaag

David Wilkerson

Die Bybel sê toe Jesus in die Jordaan Rivier gedoop is, “en meteens gaan die hemele vir Hom oop en Hy sien die Gees van God soos ‘n duif neerdaal en op Hom kom. En daar kom ‘n stem uit die hemele wat sê: Dit is my geliefde Seun in wie Ek ‘n welbehae het” (Matthéüs 3:16-17).

Is dit moontlik dat God vandag dieselfde ding van sy kinders kan sê? Kyk Hy ooit na my of jou en sê, “Hier is een in wie Ek ‘n welbehae het”? Volgens die Skrif, het dit met Henog gebeur: “Deur geloof is Henog weggeneem om die dood nie te sien nie... want voor sy wegneming het hy getuienis ontvang dat hy God behaag het” (Hebreërs 11:5). Nie een van ons verwag om soos Henog weggeneem te word nie. Maar elke Christus wil graag ons Here by die Oordeel hoor sê, “Jy het ‘n lewe geleef wat my behaag het.”

Christus het gesê, “Omdat Ek altyd doen wat Hom welgevallig is” (Johannes 8:29). My hart word aangeraak as ek hierdie woorde lees en ek wonder, “Wat is die dinge wat Jesus gedoen het wat Hom welgevallig was? Hoe doen ek dit?” Terwyl ek hieraan dink, herinner ek myself aan sy juk wat sag is en sy las wat lig is – met ander woorde die dinge waarvan Hy praat kan nie ‘n swaar juk op ons lê nie. Dit is duidelik dat God ons in staat stel om Hom te behaag omdat Hy ons liefhet.

Sy Woord openbaar duidelik die dinge wat Hom behaag. Al hierdie dinge is moontlik vir enige gelowige. Laat my ‘n paar met jou deel:

Om mekaar lief te hê behaag God.

“En wat ons ook al bid, ontvang ons van Hom, omdat ons sy gebooie bewaar en doen wat welgevallig is voor Hom. En dit is sy gebod, dat ons in die Naam van sy Seun, Jesus Christus, moet glo en mekaar liefhê soos Hy ons ‘n gebod gegee het” (1 Johannes 3:22-23).

Dit is onmoontlik om ander lief te hê totdat jy ten volle verseker is van God se liefde vir jou. Johannes skryf, “En ons het die liefde wat God tot ons het, leer ken en geglo. God is liefde; en hy wat in die liefde bly, bly in God, en God in hom” (1 Johannes 4:16). Ons kan eenvoudig nie ander liefhê totdat hierdie waarheid stewig in ons gevestig is nie: “Ten spyte van al my swakhede en mislukkings, het God my lief.” As ons oortuig is van God se liefde vir ons, sal sy liefde natuurlik uit ons vloei.

“Geliefdes, as God ons so liefgehad het, behoort ons ook mekaar lief te hê” (1 Johannes 4:11). Die liefde vir ons broer wat hier beskryf word, is nie ‘n blote handskud, drukkie of vleiery nie. Nee, dit is die soort liefde wat jou broer se nood sien en iets daaromtrent doen. In werklikheid, volgens Johannes, as ons ons broer in nood sien en niks daaromtrent doen nie, is die liefde van God nie in ons nie.

“Maar wie die goed van die wêreld het en sy broeder sien gebrek ly en sy hart vir hom toesluit, hoe bly die liefde van God in hom? My kinders, laat ons nie liefhê met woorde of met die tong nie, maar met die daad en in waarheid” (1 Johannes 3:17-18). As jy God waarlik wil behaag — as jy liefde vir ander wil ervaar — sal die Here jou oë vir behoeftes oopmaak.

Net so, volgens die Skrif, as ons ‘n wrok teen ‘n broer of ‘n suster hou, het ons nie God se liefde nie. Ons het geen reg om in God se naam te getuig as ons weier om iemand anders te vergewe nie. Buitendien weerhou God sy vergifnis van ons, as ons vergifnis van iemand anders weerhou. Liefde is dus nie net iets om oor te praat nie. Dit is ‘n saak van doen, optree en lewe.

Daar word baie in die kerk gepraat oor eenheid. Maar ek glo nie ons het dit tot dusver verstaan soos God eenheid sien nie. Eenheid is nie net ‘n gesindheid van, “Laat ons almal bymekaar kom en ons arms om mekaar sit. Ons sal ons vooroordele en sektariese leerstellinge eenkant sit en ons sal mekaar liefhê.” Dit is nie eenheid nie; dit is net normale Christenskap.

Eenheid beteken om jouself te verenig met die nood van iemand wat in die moeilikheid is en hulp nodig het. Die Gees van Christus verenig ons met ander se behoeftes op hierdie manier, en veroorsaak dat ons roep, “Broer, suster, laat my toe om te help. Ek wil saam met jou staan, om saam met jou in jou moeilikheid te wees.” Dit behaag God, en wanneer ons dit doen, beveel Hy sy seën op ons.

Selfsugtige, selfgesentreerde Christene ken nie hierdie soort liefde vir ander nie. Hoekom nie? Die gawe van omgee liefde word net gegee aan wie dit soek en daarvoor bid. Wanneer jy op hierdie manier begin gee en omgee, dan sal God vir jou een persoon na die ander stuur wat in nood is. Dit sal egter nie ‘n las wees nie. In teendeel, dit sal jou verheug, omdat jy in God se eie vreugde sal deel.

Hulle wat “hoop op sy genade” behaag God.

“Hy het geen welbehae in die krag van die perd, geen welgevalle in die bene van die man nie” (Psalm 147:10). Die verwysing na perde en bene verteenwoordig vertroue op die vlees. “Die perd help niks vir die oorwinning en red nie deur sy groot krag nie” (Psalm 33:17).

God het geen behae in hulle wat Hom probeer behaag deur in die vlees te strewe nie. Sulke mense mislei hulleself. Hulle dink hulle kan sonde uitdryf deur hulleself te laat ly. Maar die vlees kan nooit deur menslike krag onder beheer gebring word nie.  Dit sal eenvoudig nie gebeur deur vas of beloftes of selfs deur afsondering op ‘n afgeleë eiland nie.

Ek het ‘n boek in my biblioteek wat talle stories van gelowiges vertel wat deur die geskiedenis probeer het om God in die vlees te behaag. Die outeur skryf: “’n Sekere monnik het vir vyftig jaar in ‘n ondergrondse grot gebly om te probeer om sy liggaam onder beheer van die Gees te bring. Ander het hulleself tot onder hulle nekke in die sand begrawe met die hoop om hulle sonde “uit te brand.”...Al hierdie selfmartelende metodes was uitgevoer deur monnike wat probeer het om ontslae te raak van die bose teenwoordigheid in hulle. Hulle het probeer om daardie deel van hulle wat welllustig agter sonde aan was te vernietig.”

Paulus se leerstellinge weerlê al hierdie dinge. Hy verklaar, “Want ons wag deur die Gees uit geloof die geregtigheid waarop ons hoop” (Galásiërs 5:5). “En mag die God van die hoop julle vervul met alle blydskap en vrede deur die geloof, dat julle oorvloedig kan wees in die hoop deur die krag van die Heilige Gees” (Romeine 15:13).

Die Christen wat God behaag lyk so: dit is die een wat op sy genade vertrou. Gebed, vas en om liefdadigheidswerk te doen is alles goeie dinge en ons word beveel om dit te doen. Maar die psalmis wat daarvan praat om vertroue in perde en vlees te plaas, sê eintlik, “Eerstens moet jy glo dat die Here jou genadig is. Net dan kan jy genade aan ander betoon.”

Die redding van ‘n verlore siel behaag God die meeste.

Wanneer ons uitgaan en verlore siele soek en iemand word vir Jesus gewen, is daar groot blydskap in die Here. Christus gee aan ons hierdie gelykenis:

“Watter man onder julle wat honderd skape het en een van hulle verloor, laat nie negen-en-negentig in die woestyn staan en gaan agter die een aan wat verlore is totdat hy dit kry nie? En as hy dit kry, sit hy dit met blydskap op sy skouers. En as hy by die huis kom, roep hy sy vriende en bure bymekaar en sê vir hulle: Wees saam met my bly, want ek het my skaap gekry wat verlore was. Ek sê vir julle dat daar net so blydskap sal wees in die hemel oor een sondaar wat hom bekeer, meer as oor negen-en-negentig regverdiges wat die bekering nie nodig het nie” (Lukas 15:4-7).

Ek is seker jy ken hierdie gelykenis. Dit gaan oor die herder se omgee vir sy skape. As daardie herder net een van hulle verloor, gaan soek hy daardie skaap en gee nie op totdat hy hom gevind het nie. Dan, wanneer hy die skaap gevind het, straf hy hom nie. Hy tel die gewonde, verwilderde dier saggies in sy arms op en dra dit met blydskap terug na die kraal.

Net so is God se hart bly oor die redding van een verlore siel en dit veroorsaak dat die hemel jubel. Dit alleen moet ons motivering wees om siele te wen: om vreugde en blydskap aan die Here te bring.

Dit is tyd vir die kerk om weer op siele-wen te fokus.

Jou eie gemeenskap is ‘n veld wat gereed is vir die oes. Al wat dit kos is vir jou om uit te gaan. Jy sou nie hierdie nuusbrief lees as ‘n maer, 115-pond prediker van die platteland nie God se roepstem na New York Stad gevolg het nie. Ek was doodbang vir stede. Maar God het my hart gebreek oor verlore siele en Hy het my gelei: “Ek wil hê jy moet na die bendes, die verslaafdes en prostitute gaan en my Woord aan hulle verkondig.”

Terwyl ek in die strate van Brooklyn en Spaanse Harlem geloop het, het ek gebid, “Here, lei my na die verlorenes.” En God het my goddelike ontmoetings gegee oral waar ek gegaan het. Ek het almal van Jesus vertel, terwyl ek voortdurend gebid het, “Here, stuur U Heilige Gees om hulle te oortuig en hulle oë oop te maak.”

Eenkeer het ek ‘n jong man gekry wat onder ‘n trein wat opgelig was, gestaan en wag het vir sy dwelmverkoper. Ek het na hom geloop en gesê, “Iemand bid vir jou.” Die seun het net sy kop geskud en gesê, “My ‘halleluja ma’ het jou seker gestuur, het sy nie?” Ek het gesê, “Nee, ek ken nie jou moeder nie.” Hy het geantwoord, “Elke keer wat ek by haar gaan kuier, praat sy met my oor Jesus. Sy bid al jare vir my. En nou kom jy hier aan.”

Daardie seun se naam was Sonny Arguinzoni. God het Sonny op dieselfde manier aangeraak as vir Nicky Cruz. Dit was een van my grootste vreugdes in die lewe toe ons verskeie jare gelede vir Sonny in Kalifornië gaan kuier het. Ek was sy gas by ‘n Christen byeenkoms wat hy gelei het in ‘n groot tent waar daar 15,000 bekeerde dwelmverslaafdes, alkoholiste en prostitute was..

Jy sien, toe Sonny tot bekering gekom het, het sy lewe die woning van die Heilige Gees geword. En die verandering wat in hom plaasgevind het, was nie net om elke keer kerk toe te gaan wanneer die deure oopgegaan het nie. Nee, hy het homself aan die Heilige Gees onderwerp. En die Gees het hom gelei na waar die hartseer was.

Al hierdie dinge het gebeur omdat God in een bang, maer plattelandse prediker gewerk het. Die Heilige Gees het my ‘n hart vir die verlorenes gegee wat ek nie op my eie te voorskyn kon bring nie. As dit nie vir Sy ondersteunende krag was nie, sou ek nooit deur al die beproewing en swaarkry wat ons klein bediening in daardie dae beleef het, gekom het nie. Dit moes ‘n werk wees wat deur God gedoen was, anders sou ons dit nie uitgehou het nie.

Sonder die Heilige Gees wat die werk doen, kan ons teenoor so veel mense as wat ons wil getuig, maar niks sal gebeur nie. Niemand kan na die Vader kom, behalwe as hulle deur die Gees getrek word nie. Net die Heilige Gees kan die dieptes van die hart aanraak en daarmee praat. En om die verlorenes te wen, moet ons op ons knieë wees, om die Heilige Gees se stem te leer ken. En Hy sal ons die woorde gee om te spreek wanneer ons dit nodig het.

Liewe heilige, al hierdie dinge behaag God. Inderdaad, al “daardie dinge wat Hom behaag” wat Jesus genoem het, is sy hoogste vreugde en plesier: om te sien hoe ons in blydskap na Hom toe kom met die gerwe van ons hemelse oes. Dan deel ons in die hemelse vreugde terwyl die hele leërskare “Halleluja!” roep.