Soek die Here voor Jy Besluit

David Wilkerson (1931-2011)

“Maar wanneer Hy gekom het, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei” (Johannes 16:13).

Ons weet dat Jesus heeltemal afhanklik van die Vader was en Hy is ons voorbeeld van oorgawe en vertroue. Trouens, Hy maak dit duidelik dat so ‘n lewe vir ons moontlik is. As ons dit werklik uitgeleef het, sou God teen hierde tyd die Kaptein van ons siele gewees het. Maar is Hy? Dikwels, sodra ons volgende krisis opduik, kla en bevraagteken ons God se getrouheid en gee ons toe aan twyfel en vrees en vertrou ons op ons vernuf om ‘n uitkoms te vind.

 Baie Christene lees die Bybel gereeld en glo dit is God se lewende, geopenbaarde Woord vir hulle lewens. Hulle lees wat God herhaaldelik vir sy volk in vorige geslagte gesê het. Dieselfde Christene lewe egter asof God vandag nie meer met sy kinders praat nie.

‘n Hele geslag gelowiges het geleer om besluite heeltemal op hulle eie te neem, sonder om te bid of God se Woord te raadpleeg. Baie besluit eenvoudig self wat hulle wil doen en vra dan vir God om hulle dade te onderskryf. Hulle beweeg kragtig vorentoe en hulle enigste gebed is, “Here, as dit nie U wil is nie, keer my dan.”

Malcolm Gladwell het ‘n topverkoper boek geskryf, genaamd: Blink: The Power of Thinking Without Thinking. Die teorie wat voorgestel word, is, “Vertrou jou instinkte. Blitsige besluite is bewys om die beste te wees.” Dink aan al die gejaagde “blitsige taal” wat ons elke dag hoor: “Dit is die aanbod van die eeu! Jy kan oornag ‘n fortuin maak! Maar jy het net ‘n kort tydjie waarin jy dit kan doen, so doen dit – nou!” Die dryfkrag daaragter is, “Gou-gou, gou-gou, gou-gou!”

Die vraag wat ons onsself behoort te vra, is, “Het ek daaroor gebid? Het ek die wysheid van die Here oor die saak gesoek? Het ek goddelike raad gekry?”

Wat is jou gewoonte? Hoeveel belangrike besluite het jy geneem waar jy die saak eerlik na God geneem en opreg gebid het? Die rede waarom God volle beheer oor ons besluitneming wil hê, is om ons van rampe te red – wat presies is waar die meeste van ons “blitsige besluite” in elk geval beland.

God het belowe om sy wil duidelik te maak aan almal wat Hom soek. Wanneer jy Hom volle beheer van jou lewe gee, sal jy sy stem hoor sê, “Dit is die pad, geliefde. Loop nou daarin met vertroue want Ek het alles onder beheer.” Hoe wonderlik om so ‘n liefdevolle Vader te hê!