Vee Met Jou Vingers Deur Jou Hare

David Wilkerson (1931-2011)

Christus het die laaste dae as ‘n verontrustende en vreesaanjaende tyd beskryf. Wat het Hy ons gegee om ons voor te berei op hierdie rampspoed? Wat was sy teenmiddel vir die vrees wat gaan kom?

Hy het ons die illustrasie gegee van ons Vader wat oor die mossie waak, van God wat die hare op ons hoofde tel. Hierdie illustrasies word nog meer betekenisvol as ons kyk na die konteks waarin Jesus dit gegee het.

Hy het hierdie illustrasies vir sy twaalf dissipels vertel toe Hy hulle uitgestuur het om die stede en dorpe van Israel te evangeliseer. Hy het hulle pas die mag gegee om demone uit te dryf en allerhande kwale en siektes te genees. Dink aan watter opwindende oomblik dit vir die dissipels moes wees. Hulle is mag gegee om wonders en wonderwerke te doen! Maar toe kom hierdie vreesaanjaende waarskuwings van hul Meester:

“Julle sal nie geld in julle sakke hê nie. En julle sal nie ‘n huis hê nie, nie eens ‘n dak om onder te slaap nie. In plaas daarvan, sal julle ketters en duiwels genoem word. Julle sal in sinagoges geslaan word, voor regters gesleep word, in die tronk gegooi word. Julle sal gehaat en verag word, verraai en vervolg word. Julle sal van stad tot stad moet vlug om te verhoed dat julle gestenig word.'

Tog het Jesus op dieselfde toneel drie keer vir hierdie geliefde vriende gesê: “Moenie vrees nie!” (Mattheus 10:26,28,31). En Hy het hulle die teenmiddel vir alle vrees gegee: “Die Vader se oog is altyd op die mossie. Hoeveel te meer sal dit altyd op julle, sy geliefdes, wees?”

Jesus sê in wese: “'As daar twyfel kom – wanneer jy raadop is en dink niemand sien wat jy deurgaan nie – is dit hoe jy rus en versekering kan vind. Kyk na die voëltjies buite jou venster. En vee met jou vingers deur jou hare. Onthou dan wat Ek vir jou gesê het: hierdie skepseltjies is vir jou Vader van groot waarde. En jou hare moet jou daaraan herinner dat jy vir Hom baie groter waarde het. Sy oog is altyd op jou gerig. En Hy wat elke beweging sien en hoor, is naby. ”

Dit is hoe ons Vader vir ons sorg in moeilike tye.