Maak Gereed vir die Einde van Alle Dinge | World Challenge

Maak Gereed vir die Einde van Alle Dinge

David WilkersonOctober 6, 2008

In sy eerste brief aan die kerk, praat Petrus van die laaste dae. Hy verklaar openlik: “En die einde van alle dinge is naby; wees dan ingetoë en nugter, om te kan bid. Maar bo alles moet julle mekaar vurig liefhê, want die liefde sal ‘n menigte sondes bedek” (1 Petrus 4:7–8).

Petrus het in sy tweede sendbrief ook die laaste dae genoem. Verder, in daardie brief, verwys hy na sy eie beperkte tyd op aarde. Hy vertel die kerk, “Omdat ek weet dat die alfegging van my tentwoning ophande is” (2 Petrus 1:14). Hy sê, met ander woorde, “God het my gewys dat my tyd op aarde kort is.”

Petrus het geweet dat die Here hom binnekort huistoe sou neem. Voor dit egter sou gebeur, het die Heilige Gees aan hierdie dissipel ‘n woord vir die kerk gegee insake die heel laaste dae. En so, in Petrus se tweede sendbrief, lees ons die laaste woorde van ‘n sterwende herder aan die gelowiges onder sy toesig.

Hierdie goddelike man was ten volle bewus daarvan dat die wêreld nooit sy boodskap oor die eindtye sou glo nie. Duidelik was Petrus se boodskap bedoel vir die Nuwe Testamentiese kerk, beide in die tyd wat hy dit geskryf het en vir elke daaropvolgende geslag van gelowiges. Dit is ‘n waarskuwingsboodskap, aangesien Petrus die volgende geprofeteer het:

“Soos daar onder julle valse leraars sal wees wat verderflike ketterye heimlik sal invoer, en ook die Here wat julle gekoop het, verloën en ‘n vinnige verderf oor hulleself bring...en baie sal hulle verderflikhede navolg...en uit hebsug sal hulle met verdigte woorde voordeel uit julle trek....

“Dit moet julle veral weet, dat daar aan die einde van die dae spotters sal kom wat volgens hulle eie begeerlikhede wandel en sê: Waar is die belofte van sy wederkoms? Want vandag die vaders ontslaap het, bly alles soos dit was van die begin van die skepping af...die wat die vlees in vuile begeerlikheid agternaloop en die heerskappy verag. Vermetel en aanmatigend, skroom hulle nie om die heerlike wesens te belaster nie….

“Maar die dag van die Here sal kom soos ‘n dief in die nag, waarin die hemele met gedruis sal verbygaan en die elemente sal brand en vergaan, en die aarde en die werke wat daarop is, sal verbrand.

“Terwyl al hierdie dinge dan vergaan, hoedanig moet julle nie wees in heilige wandel en godsvrug nie? — julle wat die koms van die dag van God verwag en verhaas, waardeur die hemele deur vuur sal vergaan en die elemente sal brand en versmelt” (2 Petrus 2:1–3, 10; 3:3–4, 10–12).

As Christene, glo ons God se Woord oor die tye wat kom. En ons ontvang vandag Geesgerigte waarskuwings van God se heilige wagte. Ons sien inderdaad die skrif teen die muur.

Steeds ontstaan daar ‘n belangrike vraag vir elke Christen vandag, net soos dit moes ontstaan het vir gelowiges in Petrus se tyd.

Die vraag wat by baie Christene ontstaan, is, “Hoe berei ons voor vir die onstuimige gebeure wat kom?”

Ek dink dit is normaal om te wil weet hoe ons die verskriklike tye wat kom, sal oorleef. Wanneer die storm toeslaan en alle wortels van herstel vernietig word, wat sal ons doen insake ons werk, huise, voedsel en kleding? As ‘n oupa, is ek begaan oor die toekoms van my kinders en kleinkinders en wonder, “Hoe gaan hulle dit maak deur die tye wat kom?” Ek glo dit is ‘n geldige bekommernis vir elke volgeling van Jesus.

Dit is verbasend dat Petrus geen raad gegee het oor fisiese of finansiële voorbereidings nie. Hy sê niks oor waar om ons geld te belê of te beveilig nie, niks oor hoe om ‘n behuisingskrisis te hanteer nie en niks oor hoe om aardverwarming of inflasie te oorleef nie. Petrus gaan eenvoudig nie so ver nie. Waarom?

Ek glo dit is omdat Petrus reeds armoede beleef het en deur dit alles het hy God se getrouheid ervaar. Soos Petrus letterlik in Christus se voetstappe gevolg het, het hy sonder geld geleef. Om te eet, moes die dissipels koring op die boere se lande pluk. Op een stadium, toe hulle geld nodig gehad het, het Jesus Petrus beveel om te kyk in die mond van ‘n vis waarin hy ‘n geldstuk gekry het.

Petrus het geweet wat dit beteken om sonder bed of kussing onder die sterre te slaap. Hy het Jesus gevolg sonder ‘n werk of enige bron van inkomste. Hy het ‘n enkele stel klere en een paar sandale besit. Kortliks, Petrus moes elke dag op God se voorsiening vertrou om sy behoeftes aan te spreek. En dag na dag, het Petrus gesien hoe daardie behoeftes getrou aangespreek is.

In sy boodskap oor die eindtye, het Petrus nie gefokus op behoeftes wat aangespreek moet word nie, maar op die belangrikheid daarvan om ons harte voor te berei. Daarom sê hy, “Terwyl al hierdie dinge dan vergaan, hoedanig moet julle nie wees in heilige wandel en godsvrug nie?” (2 Petrus 3:11).

In die lig van alles wat kom, fokus Petrus op karakterkwessies.

Die apostel vra in wese aan ons, “Wat is in jou hart in hierdie laaste dae? Wie word jy soos die eindtye naderkom? Jy weet alreeds dat God in jou fisiese behoeftes sal voorsien. Maar berei jy jouself geestelik voor?”

As dit vir jou ongewoon klink, dink aan wat Jesus te sê gehad het oor voorbereiding vir die laaste dae. Hy het ons ook met baie min raad oor die fisiese voorbereiding vir eindtyd pandemonium gelaat. Soos Petrus, het Jesus gewaarsku dat daar onstuimige tye kom: oorloë, gerugte van oorloë, etniese en stamkonflikte, hongersnood, aardbewings, vervolging, vloedgolwe van ongeregtigheid wat die liefde van baie sal laat verkoel. Hy het ook voorspel dat leërs teen Jerusalem sal opmars, verskriklike verwoesting sal saai en die tempel tot op die grond sal afbreek.

In die lig van hierdie verskriklike onstuimigheid, het Jesus baie min gesê oor hoe om hierdie tye te oorleef. Hy het nie gepraat van hoe om voor te berei wanneer ‘n huis of werk verloor word of hoe om die ineenstorting van die ekonomie te hanteer nie. Hy het eerder beveel, “Daarom moet julle jul nie kwel en sê: Wat sal ons eet, of wat sal ons drink, of wat sal ons aantrek nie? Want na al hierdie dinge soek die heidene; want julle hemelse Vader weet dat julle al hierdie dinge nodig het” (Matthéüs 6:31–32).

Petrus herhaal Jesus se woorde wanneer hy sê, “En die einde van alle dinge is naby; wees dan ingetoë en nugter, om te kan bid” (1 Petrus 4:7). Kortliks sê hy, “Hier is die basiese instruksies om vir die eindtye voor te berei: Wees nugter. En bly kalm, maak nie saak wat gebeur nie. Daar is geen rede tot paniek nie. In plaas daarvan, bid oor alles.”

Hoeveel Christene is tans paniekerig. Mense wat hulle hele lewe lank daarvan getuig het dat God hulle bewaarder is, skarrel nou in vrees rond soos die stormwolke nader kom. Petrus sê baie eenvoudig vir hulle, “Bring al julle natuurlike gevoelens onder beheer van die geloof.”

Volgende vertel Petrus ons om alles in gebed na God te bring: “Om te kan bid” (1 Petrus 4:7). Net deur die Here te soek, sal ons in staat weet om ons angs oor die tye te kan beheer. Volgens Petrus, hoe donkerder dinge word, hoe meer moet ons in die vrede en rus van die Heilige Gees wandel.

Tans is die sekulêre wêreld desperaat om kalmte in die chaos te vind. Volgens die Wall Street Journal, beroep korporatiewe leiers en ander in spanningsvolle beroepe hulle op joga, mantras en Chinese chants. As Christene, het ons ‘n God wat belowe het om ons in volmaakte vrede te hou, as ons bo alles wat op die aarde aan die gang is, ons gedagtes op Christus rig.

Petrus vertel ons dat ons bo alles oor een ding begaan moet wees in hierdie tye.

Wat moet ons enkele fokus wees? Ons vind dit in die volgende vers, wat die laaste vermaning van hierdie sterwende apostel is. Petrus skryf: “Maar bo alles moet julle mekaar vurig liefhê, want die liefde sal ‘n menigte sondes bedek” (1 Petrus 4:8).

Petrus se opsomming is as volg, “As jy wil weet waaroor oorlewing gaan — om te sien hoe God sy mense deur hierdie tye lei — bewys dan onvoorwaardelike liefde aan jou broers en susters. Dit het alles te doen met die toekoms van die kerk.”

Petrus sê dit is ons belangrikste saak. In die lig van die groot barmhartigheid wat God aan elkeen van ons bewys het — in die lig van sy onvoorwaardelike vergifnis teenoor ons vorige sondes en sy deernisvolle lankmoedigheid teenoor ons — moet ons uitreik met barmhartigheid na diegene wat teenoor ons gesondig het. En ons moet hulle vergewe asof hulle nooit daardie sondes gepleeg het nie.

Jy mag wonder, “Wat het vergifnis met die eindtye te doen?”

Miskien voel jy afgehaal deur die belofte wat in die titel van hierdie boodskap geïmpliseer word, “Maak Gereed vir die Einde van Alle Dinge.”

Miskien het jy toe jy die titel gelees het gedink, “Wonderlik, Pastoor Dave gaan vir ons spesifieke dinge wys oor hoe om moeilike tye te oorleef.” Ek is reeds halfpad deur my boodskap en tog mag jy voel dat jy nie enigiets spesifiek van my gekry het nie.

Dit was die gevoel van ‘n Christen wat onlangs aan ons bediening geskryf het. Hy het gesê, “Jy het ons getrou gewaarsku oor die ekonomiese slagting wat jy sien kom het. Ek glo jy is ‘n regverdige man. Maar sekerlik sal dieselfde Gees van God, wat hierdie dinge aan jou gewys het, ook vir jou wys hoe ons dit moet oorleef. ‘n Goeie God sal ons nie waarsku en dan nie vir ons sê wat ons moet doen om dit deur die storm te maak nie. Gee asseblief vir ons ‘n woord.”

‘n Ander Christen het geskryf, “Ek voel verkul. Ek het jou gevra vir finansiële advies oor waar ek my geld moet belê en hoe om my familie te red wanneer die ekonomie ‘n insinking beleef. Jy het vir my gesê om daaroor te gaan bid en die Heilige Gees vir leiding te vra. Dit was dieselfde ou teologiese verskoning. Ek het spesifieke antwoorde nodig.”

Geliefde, wat ek hier deel, is die Here se spesifieke woord oor die onderwerp. Petrus was verseker ‘n goddelike man en deur hom het die Heilige Gees presies vir ons gewys wat God sê oor hoe om hierdie laaste dae te hanteer. Petrus vertel vir ons baie duidelik, “Hier is die hoofsaak, jou belangrikste voorbereiding: Kry jou hart gereed. As hierdie saak nie hanteer word nie, is alle ander voorbereidings verniet. Laastens, bly kalm. En bly op jou knieë. Bo alles, oefen onophoudelike barmhartigheid en liefde teenoor jou broers en susters. Vergewe en bedek hulle sondes.” “Want die liefde sal ‘n menigte sondes bedek” (1 Petrus 4:8).

In hierdie laaste vers word ons beveel om daardie sondes wat teen ons gepleeg is te “bedek” — menende, ons moenie die sondes van ander ontbloot nie. “Namate elkeen ‘n genadegawe ontvang het, moet julle mekaar daarmee dien soos goeie bedienaars van die veelvuldige genade van God” (1 Petrus 4:10). Wie het jou skade aangedoen of seergemaak? Wie het oor jou geskinder? Volgens Jesus, as jy nie daardie sonde vergewe en bedek nie, is jy soos die man wat ‘n groot skuld vergewe was, maar later die man wat hom ‘n paar dollars geskuld het, gewurg het.

Laat my jou ‘n kykie gee waarom hierdie saak van vergifnis so belangrik is in hierdie tye.

Ons het oor die 100 etniese groepe wat Time Square Church bywoon. Christus het baie rasse en etniese groepe hier in een broederlike liefde verenig. Die bord bokant ons kerkdeure lees, “Die Kerk Wat Liefde Bou,” en daardie liefde is Jesus.

Ek besef dat hierdie rasse eenheid ons kerk ‘n teiken vir die hel maak. In ‘n wêreld van rassehaat en stamkonflik, het God ons met ‘n kragtige getuienis geseën. Eenvoudig gestel, Jesus is die bron wat elke hindernis afbreek, insluitende ras.

Verskeie kere in ons kerk se geskiedenis, het ons die woede van demoniese magte teen ons liefdevolle eenheid in Christus gevoel kom. En daar is geen groter wapen wat deur die hel gebruik word as onvergewensgesindheid van mede gelowiges nie.

Jy mag sê, “Maar ek koester nie enige wrok nie. Ek het nie enige bitterheid teenoor enigiemand nie. Ek het net suiwer liefde teenoor my broers en susters. Wanneer iemand teen my sondig, maak ek nooit hulle ongeregtigheid bekend nie. Daarom sien ek nie hoe Petrus se vermaning op my van toepassing is nie. Wat kan hy vir my sê oor hoe om vir die eindtye voor te berei?

In der waarheid, het Petrus se boodskap alles te doen met die toekoms van die kerk van Jesus Christus. Jy sien, God berei sy kerk voor vir ‘n laaste-dag uitstorting van sy Gees. Volgens die profete, sal die Heilige Gees in ‘n groot golf oor die aarde kom, waartydens God se mense met blydskap gevul sal word, terwyl die wêreld oproerig is. Dit sal egter nie gebeur in ‘n kerk waar mense wrokke hou en wonde onopgelos gelaat word nie.

Petrus vra vir ons, “Wil jy regtig gereed wees vir wat kom? Wil jy ten volle voorbereid wees wanneer alle dinge geskud word? Maak dan seker jy het niks in jou hart wat die vloei van God se Gees verhinder nie. Iets wonderliks lê voor. Maak seker jy word nie daarvan uitgesluit nie.”

Waaroor gaan hierdie laaste-dag uitstorting van die Heilige Gees alles?

Die profete — van Jesaja, Jeremia en Esegiël tot die kleiner profete — openbaar dat in die laaste dae God se Gees weereens op voorbereide mense sal val. Hierdie gebeurtenis word verwys na as die “oes reën.” Dit is belowe om groter te wees as die “vroeë reën,” wat die Gees se magtige uitstorting by Pinkster was.

Hierdie profesie van ‘n laat reën verwys na twee reëns wat jaarliks in Israel val. Israel se seisoene was die teenoorgestelde van ons s’n vandag. Die vroeë (of eerste) reën kom in die herfs, waartydens dit die nuut geplante gewasse natmaak. Dit illustreer wat by Pinkster gebeur het toe die “eerste reën” geval het in ‘n groot uitstorting van God se Gees. Daardie reën het die saad van die Woord benat en dit het gegroei en versprei om die wêreldwye kerk, wat ons vandag sien, te word.

Israel se “laat reën” het in die lente gekom en die gewasse ryp gemaak net voor die oes. Sagaría verwys na hierde laat reën, ‘n uitstorting van die Heilige Gees in die laaste dae: “Bid tot die HERE om reën in die tyd van die laat reën; die HERE maak die weerligte, en Hy sal aan hulle ‘n stortreën gee, plante op die veld aan iedereen” (Sagaría 10:1).

Moses het gesê daar is eenvoudig geen oes sonder nog ‘n reën nie. Die Here het deur hom vir Israel gesê, “ As julle dan goed luister na my gebooie...dan sal Ek die reën van julle land gee op die regte tyd, vroeë reëns en laat reëns, sodat jy jou koring en jou mos en jou olie kan insamel” (Deuteronómium 11:13–14).

Laastens gee Joël vir ons ‘n lewendige beeld van hoe dit lyk wanneer hierdie oes reën kom:

“Wees nie bevrees nie, o aarde, juig en wees bly, want die HERE doen groot dinge! Wees nie bevrees nie, diere van die veld, want die weivelde van die woestyn spruit uit, want die bome dra hulle vrugte, die vyeboom en die wingerdstok lewer hulle drag! En julle, kinders van Sion, juig en wees bly, in die HERE julle God, want Hy gee julle die leraar tot geregtigheid en laat op julle neerdaal die reën, die vroeë reëns en die laat reëns, soos voorheen.

“Dan sal die dorsvloere vol koring wees en die parskuipe van mos en olie oorloop. En Ek sal julle vergoed die jare wat die treksprinkaan, die voetganger, die kaalvreter en die afknyper verslind het – my groot leërmag wat Ek teen julle gestuur het. Dan sal julle oorvloedig eet en versadig wees en die Naam van die HERE julle God prys wat wonderbaar met julle gehandel het, en my volk sal in ewigheid nie beskaamd staan nie. En julle sal weet dat Ek in die midde van Israel is, en dat Ek die HERE julle God is, en niemand anders nie; en my volk sal in ewigheid nie beskaamd staan nie” (Joël 2:21–27).

Joël het in wese gesê, “Word wakker, kerk! Kyk rondom jou. Wat jy sien gebeur, was geprofeteer. Dit het begin reën en die Here het die wolke helder en vol water gemaak. Die Gees is besig om alle dinge vir die laaste groot oes voor te berei.”

Satan weet van hierdie laaste reën wat moet kom en die heerlike oes wat sal volg.

Die duiwel weet wat in die God se Woord geskryf staan. En hy is vasbeslote om die groot oes wat hy weet aan die kom is, te verhoed. Hy het ‘n verwoede aanval op die kerk geloods en gebruik elke moontlike wapen om die vrede van God se mense te verwyder. Inderdaad, baie Christene word oorweldig deur die donkerte wat nou die aarde bedek en deur die woede van Satan se aksies in beweging gestel is.

Die somberheid en vrees wat oor elke nasie hang, laat mense hulpeloos voel. Hier in Amerika, het howe wette gemaak wat hulle verlustig in perversies, alles teen die wil van die mense. En dit breek die regverdige siel stuk vir stuk af. Die resultaat is hopeloosheid en spanning wat die gees verswak en selfs fisieke siekte veroorsaak.

In God se huis, is sonde afgegradeer en hel weggegooi. Die Episkopale Kerk skeur in twee oor gay huwelike. In die tussentyd, fokus evangelie kerke — wat veronderstel is om die fakkeldraers van God se Woord te wees — meer op aarde as op die hemel en gebruik al hulle energie in bewegings wat nie Christus-gesentreerd is nie.

Ek hoor goddelike mense vra, “Het ons die dag van genade weggesondig? Sal ons geslag uitgaan net om bekend te wees vir disfunksionele families en dooie, droë kerke? Sal ons verwelk soos Israel in die Ou Testament?”

Volgens die profete is dit nie so nie! God sal opstaan te midde van die duisternis en sy Gees begin neer reën op sy laaste huis.

In Haggai se tyd, was God se mense neerslagtig omdat hulle net op die verlede gefokus het.

In Haggai se tyd, was God se mense terneergedruk oor die nuwe tempel wat hulle aan die bou was. Daardie werk het so nietig gelyk in vergelyking met die heerlikheid van die vorige tempel. Soos hulle teruggedink het aan al God se vorige heerlikhede, het hulle wanhopig geween oor die eenvoudige huis voor hulle. Haggai vra toe vir die mense, “Wie is onder julle nog oor wat hierdie huis in sy vroeëre heerlikheid gesien het? En hoedanig sien julle dit nou? Lyk dit nie net soos niks in julle oë nie?” (Haggai 2:3).

Geliefde, dieselfde vraag is vandag van toepassing. Jy mag onthou van vorige groot herlewings, waarin die Gees kragtig neergedaal het met menigtes wat gered is. Vertel vir my, sien jy die lewe van die kerk vandag as niks in vergelyking met daardie vorige tye? Miskien is jy mismoedig oor hoeveel God se huis verwelk het in krag en getuienis gedurende jou leeftyd.

Ek vertel vir jou, die woord wat God aan Haggai vir sy kerk gegee het, is vir ons vandag bedoel: “My Gees sal in julle midde bestendig bly...Die toekomstige heerlikheid van hierdie huis sal groter wees as die vroeëre, sê die HERE van die leërskare; en op hierdie plek sal Ek vrede gee” (Haggai 2:5, 9).

Petrus was teenwoordig toe die “vroeë reën” by Pinkster geval het.

By Pinkster, het die Heilige Gees neergedaal op die mense, wat “eendragtig bymekaar” was” (Handelinge 2:1). So, wat beteken dit dat die mense “eendragtig” en eensgesind was? Eenvoudig gestel, barmhartigheid het deur hulle gevloei. Laat my verduidelik.

Beskou diegene wat op die toneel by Pinkster was, mense wat ons vandag respekteer as kerkvaders. Sommige van hierdie manne het gruwelik teen die Here en teen hulle broers gesondig. Hulle moes almal vergewe word en hulle sondes bedek word of die kerk sou nooit kon voortgaan met die werk wat die Gees op die punt was om te doen nie.

Beskou Petrus. Hy het vreeslik gelaster en Jesus, sowel as die ander dissipels, seergemaak. Daardie kerk het Petrus vergewe en hulle het hom bedek, sodat sy verlede nooit weer teen hom gehou sou word nie. Dink ook aan Jakobus en Johannes, die “seuns van die donder.” Hulle het ook swaar gesondig en hulle mede dissipels aanstoot gegee toe hulle voorgegee het om belangriker te wees as die res. Hulle was ook vergewe en bedek.

In der waarheid, enigiemand wat op daardie dag teenwoordig was, kon gesê het, “Wag, Petrus. Wie het jou die leier hier gemaak? Jy het Christus verloën.” Niemand het dit egter gedoen nie, omdat hulle harte voorberei was deur barmhartigheid. En hulle was gereed om die Gees te ontvang toe Hy in die groot uitstorting by Pinkster gekom het.

Geliefde, dit is waarom Petrus in sy sendbriewe gefokus het op die kwessies van die hart. Hy het eerstehands geweet dat al hierdie dinge uitgedryf en vergewe moes word, anders sou die Gees se werk verhinder word deur ‘n bietjie vlees. Dieselfde is vandag waar vir Christus se kerk, ons wat sy magtige oes reën gaan ontvang. Sal ons die werk van die Gees verhinder deur te misluk om te vergewe? Of sal ons voorbereid wees deur toe te laat dat barmhartigheid deur ons na ander vloei?

Soos die uur nader kom, wil ek nie enigiets in my hart hê wat God se werk sal verhinder nie. Hy berei sy mense voor om hierdie laat reën te ontvang. En ek is vasbeslote om hierdie laat reën te ontvang. En ek is vasbeslote om aan te hou doen soos Petrus beveel het: “Wees nugter. Dra alles in gebed op. Bewys barmhartigheid aan almal.” Ek dring by jou aan om dieselfde te doen. Bid vir reën in hierdie tyd van God se laaste huis!

Ek laat jou met hierdie laaste magtige beeld: “Daar was ‘n wit wolk en een soos ‘n Menseseun wat op die wolk sit, met ‘n goue kroon op sy hoof en in sy hand ‘n skerp sekel. En ‘n ander engel het uit die tempel gekom en met ‘n groot stem geroep na Hom wat op die wolk sit: Slaan u sekel in en maai, want die uur het vir U gekom om te maai, omdat die oes van die aarde oorryp geword het” (Openbaring 14:14–15). So is dit!

Download PDF