Die Leer van Isébel

David Wilkerson

Ek sou hierdie boodskap ‘n subtitel kon gee van “Die gevaar van verlei te word deur valse leer.” Lees Openbaring 2:18-29 en jy sal sien dat Christus self die kerk gewaarsku het teen die leer van Isébel. “Dat jy die vrou Esébel, wat haarself ‘n profetes noem, toelaat om te leer en my diensknegte te verlei om te hoereer en afgodsoffers te eet” (Openbaring 2:20). Die Griekse woord hier vir Isébel is ‘n sinoniem vir valse leraar. Sy verteenwoordig ooglopend valse leringe. Jesus maak dit duidelik deur verder te gaan, “...die wat die dieptes van die Satan, soos hulle dit noem, nie leer ken het nie...” (Openbaring 2:24).

Hier is ‘n groep van God se kinders, vol van goeie werke en liefdadigheid, met ‘n vorm van geloof en geduld. Maar die oë van Jesus verskyn onder hulle, gloeiend met vlamme van vuur. By alles wat goed en prysenswaardig is, is daar iets baie verkeerds aan die gang, iets so misleidend dat Christus waarsku dat Hy oordeel sal stuur en hulle ‘n voorbeeld sal maak vir al die kerke. Sekere lede van die kerk was besig om hulle te verkoop aan Satan. Hulle goeie werk, liefdadigheid, diens, geloof en geduld was so oorskadu deur ‘n misleiding waarin hulle betrokke was, ‘n  misleiding van valse leer. Hulle was onder die betowering van ‘n valse leer, ‘n leer wat vermom was as die ware Woord, maar in werklikheid goddeloos was.

Die Misleiding van God se diensknegte

Christus sê dit was, “my diensknegte” wat verlei word. Bedienaars. Ons het by hierdie gevaarlike toestand uitgekom waaroor Christus gewaarsku het. Daar is menigtes herders, leraars en evangeliste wat heeltemal onder die misleidende betowering van die Isébel gees is. Hierdie misleide leraars produseer op hulle beurt “kinders van misleiding.” Hulle onderrig hoerery en die eet van die voedsel van afgode – dit is geestelike hoerery. Dit is die demoniese kos eet van leringe wat sonde verskoon.

Ek wil dit baie duidelik stel dat dit gevaarlik is om onder die verkeerde lering te sit. Valse leringe kan jou makliker verdoem as al die begeetes van die sonde of die vlees. Valse predikers en leraars stuur meer mense na die hel as al die dwelmsmouse, koppelaars en prostitute saam. Dit is nie ‘n oordrewe stelling nie – ek glo dit. Menigtes blinde, misleide Christene sing en prys die Here in kerke gebind deur valse lering. Duisende sit onder leraars wat die leer van duiwels uitstort – en hulle kom uit en sê, “Was dit nie wonderlik nie.”

Christus neem hierdie saak nie ligtelik op nie. Sy oë dring weer deur die kerk, en Hy het gekom om te waarsku, om te ontbloot en om Sy kinders en diensknegte te red van hierdie verskriklike misleiding. Ons moet liewer ernstig daaroor raak. Dit is ‘n ernstige saak oor waarheen jy kerktoe gaan. Dit is ‘n ernstige saak na wie jy luister. Dit is ‘n ernstige saak, die leer wat jou hart het.

God se kinders verkoop oral uit aan Satan deur hulleself oor te gee in die hande van valse leraars en smouse van valse leringe. Om aan Satan uit te verkoop, bring visioene van uitgebrande dwelmslawe, alkoholiste, van VIGS-geteisterde prostitute en van God-hatende ateïste na vore. Nee. Dit gebeur in die kerk, in evangelie-byeenkomste en konvensies en in groot leerstelselseminare.

Die kenmerk van ‘n misleide Christen is dat hy “rondgeslinger” word, soekend na een of ander nuwe, verskillende, vreemde lering. Die Bybel waarsku, “Moenie rondgeslinger word deur allerhande en vreemde leringe nie” (Hebreërs 13:9). Moenie heen en weer gedryf word en van een plek na ‘n ander geneem word nie. Dit spreek nie van daardie rare tye wanneer ‘n volwasse gelowige gaan luister hoe ‘n ware man van God Christus en bekering verkondig nie. Dit spreek van een plek na ‘n ander jaag, van seminaar tot konvensie, kerk tot kerk, wonderwerkbyeenkoms na genesingsbyeenkoms, met geen wortels nie. Hulle wil altyd in die gehoor gestreel wees om iets nuuts te hoor, iets sensasioneel, iets vermaaklik, iets behaaglik vir hulle vlees. Ons kry hulle by Times Square Kerk – vaebonde, menslike rolbosse wat die winde van leerstellings ry. Hierdie soort kom nie terug nie omdat ons weier om die gehoor te streel. Hulle wil gestreel word, nie bestraf word nie. Daarom hardloop hulle terug na hulle leraars – die paaiers, die gelukkige positiefdenkers. Hulle stem ooreen met die Atheners wat “vir niks anders tyd gehad [het] as om iets nuuts te sê en te hoor nie” (Handelinge 17:21). Paulus het Timótheüs gewaarsku, “want daar sal ‘n tyd wees dat hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ‘n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede” (2 Timótheüs 4:3).

Die leer van Christus

Die kenmerk van ‘n volwasse gelowige is ‘n weiering om “geslinger en heen en weer gedryf [te] word deur elke wind van lering...” (Efésiërs 4:14). Sulke gelowiges kan nie gemanipuleer word deur enige leraar nie. Hulle hoef nie rond te hardloop nie, omdat hulle van die Rots drink. Hulle groei in Christus. Hulle vier fees in groen weivelde. Hulle het hulle ore besny, en hulle meet elke leraar, elke leer, aan hoeveel dit voldoen aan Christus se heiligheid. Hulle kan alle leerstelsels wat vals is onderskei, en hulle word afgestoot deur al die vreemde, nuwe leringe. Hulle het Christus geleer ken. Hulle sal nie vasgehou word deur musiek, vriende, persoonlikheide of wonderwerke nie, maar deur ‘n honger vir die Woord. Daar is slegs twee leringe. Húlle leer van Christus en die leer van Isébel. Paulus het gesê, “...sodat hulle die leer van God, ons Verlosser, in alles kan versier” (Titus 2:10). Wat is Christus se leer? Die genade van God leer ons “om die goddeloosheid en wêreldse begeerlikhede te verloën, ingetoë en regverdig en vroom in die teenwoordige wêreld te lewe” (Titus 2:11,12). Die leer van Christus sal jou verander na die beeld van Christus. Dit sal elke verborge sonde en elke bose verlange openbaar.

Bestraf jou leraar met gesag, spreek en vermaan hy jou om sonde te laat staan en om al die afgode neer te lê soos hy ons beveel in Titus 2? Leer jy om sonde passievol te haat? Of verlaat jy die kerk sonder om diep oortuig te word van sonde? Kan jy uitgaan en aan boesemsondes vasklou? Die boodskap van die leer van Christus is, “Terwyl ons dan hierdie beloftes het, geliefdes, laat ons ons van alle besoedeling van die vlees en die gees reinig, en laat ons die heiligmaking in die vrees van God volbring” (2 Korinthiërs 7:1).

So baie mense skryf vir ons en sê, “Ons herder hou aan sê, ‘Ek is nie hier om teen sonde te preek nie; ek is hier om Jesus te verhoog.’ Of, ‘Geen van daardie oordeelsprediking van hierdie kansel af nie – ek is hier om die vrees en depressie van my mense te verlig.’” Selfs met Pinksterpredikers is daar twee uiterstes. Sommige skreeu ‘n harde wettiese evangelie sonder liefde, een van werke; terwyl ander teen sonde preek soos lafhaards, en dit alles terugtrek in dieselfde boodskap. Valse liefde en krokodiltrane.

Die leer van Christus is ‘n leer van goddelikheid en heiligheid. “As iemand iets anders leer en nie instem met die gesonde woorde van ons Here Jesus Christus en met die leer wat volgens die godsaligheid is nie, dié is verwaand en verstaan niks nie, maar het ‘n sielike sug na twisvrae en woordestryd waaruit ontstaan afguns, twis, lastering, bose agterdog, nuttelose stryery” (1 Timótheüs 6:3-4). Sommige sê vir ons, “My leraar praat van heiligheid.” Maar ek bedoel nie om bloot die woorde “heilig” en “goddelik” te gebruik nie; ek bedoel, om dit te verkondig met gesag. Die prediking van Christus se leer sal jou seën, versterk en bemoedig, maar dit sal jou ook so diep oortuig van sonde dat jy nie daaronder kan sit en steeds aan ‘n geheime begeerte vasklou nie.

Die leer van Isébel

Laat ons kyk na hierdie leer van duiwels en kyk of jy in gevaar is om jou aan Satan te verkoop. Daar is drie onderskeidende kenmerke van die Isébel leer. Dit word alles gevind in die Isébel van die Ou Testament, die moeder en die beliggaming van valse leringe. Jesus het haar naam sinoniem gemaak met valse lerlinge. Dit is ‘n leer wat onderrig dat iets goddeloos goed kan wees, dat die onheilige rein kan wees.

Isébel, in Hebreeus, beteken “rein, deugsaam, sonder afgodery.” Verbeel jou. Die mees goddelose, mees afgodiese, konkelende, hatige vrou in die hele Bybel word deugsaam, sonder sonde genoem. Iets baie sleg word goed genoem. Maar ironies, is dit “rein?” – met ‘n vraagteken. Hoe? Wanneer? Waar? Hoe het sy rein geword? Wanneer? Waar?

En kyk na Agab. “En Agab, die seun van Omri, het gedoen wat kwaad is in die oë van die HERE, meer as al sy voorgangers. En dit was nog die minste dat hy in die sondes van Jeróbeam, die seun van Nebat, gewandel het: hy het Isébel, die dogter van Et-Baäl, die koning van die Sidoniërs, as vrou geneem, en Baäl gaan dien en voor hom neergebuig” (1 Konings 16:30-31). Agab beteken “een soos vader” of “gestempel met die natuur van sy vader.” Isébel verteenwoordig valse leer en Agab is die slagoffer. Die Bybel verklaar dat dit nie genoeg was dat Agab ‘n hart gehad het wat geneig was tot sonde, afgodery en kompromie nie. Hy bring in sy lewe ‘n sataniese invloed in wat hom in sy sonde sal versterk. “Waarlik, daar was niemand soos Agab wat homself verkoop het om te doen wat verkeerd is in die oë van die HERE nie, omdat sy vrou Isébel hom verlei het” (1 Konings 21:25).

Die boodskap is dat die geneigdheid van Christene wat ‘n boesemsonde en begeerte hou, is om ‘n valse leer te omhels en daarmee te trou wat hulle net sal opwek en versterk in hulle sondes. Die laaste ding wat Agab nodig gehad het, was ‘n Isébel. Hoe gevaarlik. Sy het die slegste in hom na vore gebring, dit vergroot en hom vernietig. So is dit met valse leer. As daar enige sonde, begeerte of wêreldsheid in jou is, is die laaste ding wat jy nodig het, ‘n leer wat die slegste uit jou sal bring. Toe Dawid met Batséba gesondig het, het hy nie ‘n valse profeet nodig gehad met ‘n paaiende boodskap om vir hom te sê hoe lief God hom het nie. Hy het die onwrikbare profeet, Natan, nodig gehad, wat met ‘n gepunte vinger uitgeroep het, “Jy is die man.” Diegene wat die leer van Christus verkondig, toon die mense die tussen kwaad en goed. Daar is geen mengsel op hulle lippe nie. “En hulle moet my volk die onderskeid leer tussen wat heilig en onheilig is, en hulle bekend maak die onderskeid tussen wat onrein en rein is” (Eségiël 44:23). Eségiël het hierdie valse profete, wat hulleself verryk het deur ‘n boodskap te bring wat sonde verskoon, veroordeel. “’n Sameswering van sy profete is in hom, soos ‘n leeu wat brul, wat prooi verskeur; hulle eet die siele op; skatte en kosbare dinge neem hulle weg; die weduwees vermeerder hulle daarin. Sy priesters verkrag my wet en ontheilig my heilige dinge; tussen heilig en onheilig maak hulle geen onderskeid nie, en die verskil tussen onrein en rein gee hulle nie te kenne nie... ja, Ek word onder hulle ontheilig...En sy profete...voorspel: So sê die HERE – terwyl die HERE nie gespreek het nie” (Eségiël 22:25-28).

Die gevolg is dat, ons ‘n hele geslag van kinders met emosionele en sielkundige probleme het wat nie eens kwaad kan herken as hulle dit sien nie. Valse profete het hulle mislei. Hulle noem dit goed wanneer persgekleurde hare rockers, geklee as sado-masogiste, seksueel pronk en rondtol op die kansel, en hulle rock en roll uitblaas. Hulle word vertel dat seks buite die huwelik goed is, solank dit in liefde is en solank jy werklik die ander persoon respekteer. Predikers en leraars het die grootste verdedigers van sonde in die land geword.

Die leer van Isébel bevorder hebsug

“Die woord wat Nabot, die Jisreëliet, met hom gespreek het, naamlik: Ek mag nie die erfdeel van my vaders aan u gee nie. En hy het op sy bed gaan lê en sy gesig omgedraai en geen brood geëet nie. Daarop kom sy vrou Isébel by hom en sê vir hom: Waarom is jou gees dan so verbitterd dat jy geen brood eet nie?...Toe sê sy vrou, Isébel vir hom: Oefen jý nou die koningskap oor Israel uit? Staan op, eet brood, en laat jou hart vrolik wees: ek sal jou die wingerd van Nabot, die Jisreëliet gee” (1 Konings 21:1-7).

Luister na die leer van Isébel, “Jy is koning. Nommer een. Jy het regte. Laat niks jou keer om te kry wat jy wil hê nie.” Sy het vir Agab gesê, “Wees vrolik. Wees bly. Juig. Ek sal dit vir jou kry.” Dit is die voorspoedsevangelie in ‘n neutedop. “Moenie bekommerd wees nie. Moenie hartseer of veroordeel voel deur daardie begeertes wat jou verteer nie. Ek sal dit vir jou kry.” Vir eeue lank het die kerk opoffering verkondig en hebsug veroordeel en dit ‘n sonde genoem om materiële dinge na te jaag. Maar daarmee saam het Isébel leringe gekom wat sê, “Ek sal dit vir jou kry.” Soos die misleidende metodes wat Isébel gebruik het, verdraai en misbruik hierdie leer die Skrif.

Die grootste misleiding in die moderne kerk, is die saak van God se Woord gebruik om ‘n stempel van goedkeuring op hebsug te plaas. Die Isébel leer werk oppervlakkig. (Sien 1 Konings 21:14-16). Dit het vir Agab gekry wat hy wou hê. Hy het sy regte gehad, want as ‘n man gestenig was vir hoogverraad teen die koning, is al sy regte na die koning oorgedra. Dit word geensins bevraagteken dat vir baie hierdie leer van voorspoed werk. Soos Agab, geniet hulle hul besittings.

Maar Agab kon dit nie geniet nie, weens ‘n orige profeet van God. “Maar die woord van die HERE het tot Elia, die Tisbiet, gekom en gesê: Maak jou klaar, gaan af Agab, die koning van Israel, wat in Samaria is, tegemoet; kyk, hy is in die wingerd van Nabot, waarheen hy afgegaan het om dit in besit te neem. En jy moet moet hom spreek en sê: So sê die HERE: Het jy doodgeslaan en ook in besit geneem?...Op die plek waar die honde die bloed van Nabot gelek het, sal die honde ook jou eie bloed lek. Daarop sê Agab vir Elia: Het jy my gekry, my vyand? En hy antwoord: Ek het u gekry, omdat u uself verkoop het om te doen wat verkeerd is in die oë van die HERE” (1 Konings 21:17-20).

Verbeel jou Agab loop deur hierdie nuwe eiendom en sê, “Is die lewe nie lekker nie? Ag, Isébel. Ek mag dalk nie saamstem met haar metodes nie, maar sy kry dit reg.” Maar die profeet agtervolg hom in al sy treë. Agab draai om, geskok. Hy het geweet wat kom. Sy gewete het vir hom gesê, “Jy het my gekry, O my vyand.”

So gaan dit vandag. God stuur sy profete deur die land, hulle skreeu hardop en konfronteer die Isébel leer van materialisme, en maak dit so ongemaklik vir Christene om hulle speelgoed en aanwinste te geniet. Hulle het hulself uitverkoop. Hulle kan dit nie raaksien nie, maar sonde is agter dit alles. Elke keer wat ek uitroep teen die voorspoedsleer, voel ek die gees en krag van Elia op my. Jy sal meer en meer ontbloting van hierdie Isébel leer hoor. Oral, sal profetiese stemme hard en duidelik gehoor word en uitroep, “Sonde. Jy besit deur uitverkoop te wees aan sonde.”

Isébel haat God se profete en Goddelike profesieë

“En Agab het aan Isébel meegedeel alles wat Elia gedoen het, ja, alles – hoe hy al die profete met die swaard gedood het. Daarop stuur Isébel ‘n boodskapper na Elia om te sê: Mag die gode so doen en so daaraan toedoen – sekerlik sal ek môre sulke tyd jou siel maak soos die siel van een van hulle” (1 Konings 19:1-2).

Christene gebind deur die Isébel leer het hoegenaamd geen agting vir God se heilige profete nie. Hulle is ongevoelig, nes Isébel, onbeweeglik, terwyl Agab in die besonderhede ingegaan het oor die bonatuurlike vertoning van bonatuurlike gesag op die Berg Karmel. Luister na Agab, “Maar Isébel, miskien moet ons luister. Ek het dit met my eie oë gesien. Ons profete het gedans en geskreeu vir ure lank, maar daar was geen krag nie. Elia het net God se woord gespreek en vuur het geval. Mense was oral op hulle aangesigte het hulle bekeer. Hulle het hulle bekeer van afgodery. God het ‘n herlewing van heiligheid gestuur.” Maar Isébel was nie beïndruk nie. Al wat dit gedoen het, was om haar kliphard te maak in haar besluit.

So gaan dit nou. Die leraars van die Isébel leer en diegene soos Agab wat sy slagoffers is, is nie oop vir die Heilige Gees se veroordeling nie, en ook nie vir die boodskap van bekering en heiligheid nie. Hulle hoor dit, gaan dan hulle eie pad meer vasbeslote as ooit in hulle leer. Daar is geen vrees van God voor hulle oë nie.

Die sekerste teken van ‘n valse leraar en ‘n Isébel leer, is die verwerping van profetiese waarskuwings en die weiering om van oordeel te hoor. Hulle noem dit onheil en swartgalligheid. Hulle lag, spot en terg. Hulle het geen respek vir enige negatiewe waarskuwings nie. Jeremia sê sulke herders is blind en dom. Die Here gesê, “Luister na my stem...Maar hulle het nie geluister en geen gehoor gegee nie, maar gewandel in wat hulle in die verharding van hul bose hart beraadslaag het, en hulle het agteruitgegaan en nie vooruit nie” (Jeremia 7:23-24).

Diegene wat die Isébel leer onderrig, maak daarop aanspraak om profete te wees. Maar daar is ‘n toets van ware en valse profete. Isébel profete profeteer slegs goeie dinge, slegs vrede en voorspoed. “Maar by die profete van Jerusalem het Ek gesien wat afskuwelik is: hulle bedryf owerspel en gaan om met leuens, en hulle versterk die hande van die kwaaddoeners, sodat hulle hul nie bekeer elkeen van sy boosheid nie. Hulle het almal vir My geword soos Sodom, en sy inwoners soos Gomorra. Daarom, so sê die HERE van die leërskare aangaande die profete: Kyk, Ek laat wilde-als eet en laat hulle gifwater drink; want van die profete van Jerusalem het goddeloosheid in die hele land uitgegaan. So sê die HERE van die leërskare: Luister nie na die woorde van die profete wat vir julle profeteer nie: hulle vervul julle met ydele verwagtinge: gesigte uit hul eie hart verkondig hulle, nie uit die mond van die HERE nie. Hulle sê gedurig aan my veragters: Die HERE het gespreek: Julle sal vrede hê; en aan elkeen wat wandel in die verharding van sy hart, sê hulle: Geen onheil sal oor julle kom nie” (Jeremia 23:14-17). Hulle keer mense nie weg van goddeloosheid nie. Hulle praat van drome en tree dwaas op in die preekstoel. Hulle is grapmakers.

Agab se verbond met die wêreld

Agab het hom bekeer op die prediking van Elia. Elia se boodskap het hom diep geaffekteer. Hy het sy klere geskeur en het ‘n rukkie in nederigheid gewandel. God noem dit bekering, “Het jy gesien dat Agab hom voor my aangesig verneder het?” (1 Konings 21:29). Van daardie dag af kon hy terugkyk en sê, “Bekering? Ja. Onder die prediking van daardie groot profeet van God, Elia, in my tuin in Jisreël...” Vir hom was dit ‘n eenmalige belewenis, nie ‘n daaglikse wandel nie. Dit het nie baie lank geduur nie. Die probleem was dat hy ‘n verbond gemaak het met die wêreld. Hy was in ooreengekom met sonde. Hy het ‘n broer en ‘n vriend van die wêreld geword. “Broer” hier beteken “affiniteit, een net soos ek, een wat ek respekteer.” Hy was in verbond met wat God vervloek het. En net so vandag, is daar ‘n oppervlakkige, maar ware, bekering. Maar jy sal teruggaan as jy nie jou verbond met die wêreld breek nie.

Agab het daarop aanspraak gemaak om die waarheid  lief te hê, maar diep binne-in, het hy bestraffing gehaat. Agab en Jósafat sou gaan oorlog voer teen die Siriërs. Vierhonderd valse profete het sukses verkondig: “Maar Miga sê: So waar as die HERE leef, voorwaar, wat die HERE vir my sê, sal ek spreek! Toe hy by die koning kom, sê die koning vir hom: Miga, sal ons na Ramot in Gilead trek om te veg, of sal on dit laat staan? En hy antwoord hom: Trek op, en u sal voorspoedig wees, en die HERE sal dit in die hand van die koning gee, En die koning sê vir hom: Hoeveel maal moet ek jou besweer dat jy niks as die waarheid in die Naam van die HERE tot my moet spreek nie?” (1 Konings 22:14-16). Maar in sy hart, wou hy dit nie hoor nie; hy het dit gehaat. Daarom het hy die profeet in die tronk gegooi.

Herders, leraars en diegene in die gemeente sê almal vandag, “Ons wil die waarheid hê. Verkondig dit net soos dit is. Gaan voort. Stort dit uit. Maak nie saak hoe seer dit is nie.” Maar in hulle harte kook hulle, “Te veel somberheid. Te moeilik. Ek kan dit nie meer verdra nie.”

Agab was blind vir die verskriklike feit dat hy deur leuengeeste gelei was. Hierdie leuengees was nie van God nie, maar onder Sy bevel. Bose, leuengeeste moet kom en gaan op Sy Woord. Hulle is nie van God nie, maar word deur God gestuur. “Die HERE het ‘n leuengees in die mond van al hierdie profete van u gegee” (1 Konings 22:22-23).

Hierdie leuengees het veroorsaak dat Sedekía, ‘n valse profeet, geroem het dat die Gees van God op hom was. Die leuengees in hom kon eerlik verklaar, “Die Here het my gestuur.” Leuengeeste is baie oortuigend – “Jy sal oorhaal” (1 Koning 22:22). Agab was nou ten volle oortuig dat hy God se stem gehoor het en dat hy seëvierend sou terugkeer.

Christene gebind deur die Isébel leer is 100% seker hulle is reg. Hulle kan nie die misleiding raaksien nie. Agab het nie opgegaan en gedink, “Miga is reg; hy het God se gedagtes nie. Die 400 is vals; hulle het geen woord van God nie.” Nee. Hy het opgegaan ten volle oortuig – heeltemal mislei – totaal verlei. Hy was oortuig Miga was verkeerd en die 400 was reg.

Waarom val sommige Christene in sulke verleiding?

“Kyk, julle vertrou op bedrieglike woorde wat nie baat nie. Sal julle steel, doodslaan en owerspel bedrywe en vals sweer en vir Baäl offerrook laat opgaan en agter ander gode aan loop, wat julle nie ken nie, en dan kom staan voor my aangesig in hierdie huis waaroor my Naam uitgeroep is, en sê: Ons is verlos! – om al hierdie gruwels te doen?” (Jeremia 7:8-10). Daar is die antwoord. ‘n Vasklou aan een of ander boesemsonde, een of ander geheime afgod in die hart. ‘n Regverdiging van sonde. ‘n Wandel met die wêreld. ‘n Broederskap met die wêreld. Dan kom hulle God se huis binne en roem, “Ek word nie veroordeel nie.” Dít is ‘n oop uitnodiging vir leuengeeste.