Ysterwaens

David Wilkerson

“En die HERE was met Juda, sodat hy die gebergte in besit geneem het; maar die bewoners van die laagte kon hy nie verdrywe nie, omdat hulle ysterwaens gehad het” (Rigters 1:19). “Maar die gebergte sal joue wees – ‘n boswêreld is dit naamlik, en jy moet dit skoonkap; dan sal die uitlopers daarvan joue wees; want jy moet die Kanaäniet verdrywe, al het hy ysterwaens, al is hy sterk” (Josua 17:18).

Waarom word Amerika geteister met VIGS? Waarom is ons strate onveilig om op te loop? Waarom is ‘n hele geslag alkohol- en dwelmmal? Waarom is ons grense weerloos, met smouse wat ons nasie oorstroom met ‘n vloedgolf van dwelms van allerhande soorte?

Jesaja beskryf ons tyd in Jesaja 1:4-7: “Wee die sondige nasie, die volk swaar van skuld, die geslag van kwaaddoeners, die kinders wat verderflik handel! Hulle het die HERE verlaat, die Heilige van Israel verag, hulle het agtertoe weggedraai. Waar wil julle nog geslaan word, dat julle voortgaan met af te wyk? Die hele hoof is siek, en die hele hart is krank. Van die voetsool af tot die hoof toe is daar geen heel plek aan nie, maar wonde en kwesplekke en vars houe! Hulle is nie uitgedruk of verbind of met olie versag nie. Julle land is ‘n wildernis, julle stede is met vuur verbrand, vreemdes verteer julle landerye in jul teenwoordigheid, en dit is ‘n wildernis soos by ‘n omkering deur vreemdes.”

God waarsku Israel dat hulle goddelose begeertes in slawerny sal eindig. “En die HERE sal jou...na Egipte terugbring...en daar sal julle aan jul vyande as slawe en slavinne verkoop word” (Deuteronómium 28:68).

Amerika het ‘n bose, goddelose land geword; en God het ons aan die vyand verkoop. Ons is nou ‘n nasie van slawe. Ons is slawe van begeerters, alkohol, dwelms, televisie, geld, seks, plesier!  Ons was gewaarsku om God se Woord te bestudeer en te leer uit Israel se foute. “Maar al hierdie het julle oorgekom as voorbeelde en is opgeskrywe as ‘n waarskuwing aan ons op wie die eindes van die eeue gekom het...” (1 Korinthiërs 10:11).

‘n Kragtige, gedetailleerde voorbeeld vir ons onderrig, word gevind in Rigters 4 en 5. “Die kinders van Israel [het] weer gedoen wat verkeerd was in die oë van die HERE...Daarom het die HERE hulle verkoop in die hand van Jabin, die koning van Kanaän” (Rigter 4:1,2).

Israel was ‘n eens-heilige nasie, afgesonder tot God, het op Sy krag alleen vertrou, bang vir niks nie! Haar stede was vol gelag en spelende kinders. Haar leiers en herders het gesmag na God se hart. Maar God het Israel in slawerny verkoop weens begeertes en kompromie! Gedurende twintig jaar van slawerny het Israel teruggedeins soos lafaards omdat 900 Kanaänitiese ysterwaens op en af op hulle hoofweë gejaag het. Kinders het in vrees gelewe! Daar was “oorlog in die poorte” omdat hulle hul na nuwe gode gewend het. “In die dae...was die paaie verlate, en die reisigers het langs sypaaie gegaan” (Rigters 5:6).

Wat ‘n jammerte! Hoe skandalig! Daar was ‘n tyd waarop hierdie volk van God enige vyand sou kon uitwis! Geen wapen teen hulle gesmee kon iets uitrig nie. Kyk nou na hierdie lafaards – God se volk – sluip rond, lewe in vrees. Die geluid van die gerommel van die vyand se ysterwaens het vrees in hulle harte ingeboesem. Dit was dieselfde tipe toneel in Tjeggo-Slowakye toe Russies tenks deur die strate gerommel het en Kommunisme afgedwing het. Alle opposisie was verpletter! Israel het uit die dorpe gevlug en in die berge weggekruip. Sonde het die land verander in ‘n lafhartige, kruiperige, magtelose volk.

Sommige van julle wat hierdie lees, mag dalk reeds vra, “Wat is jou punt? Jy gaan sekerlik nie voorstel dat ons Christene vandag verslaaf en lafhartig is nie! Jy sal sekerlik nie al die groot konvensies, seminare, veldtogte en optogte oorsien nie! Wat van al die spesiale bedienings teen aborsie en pornografie? Wat van die mega-kerke, waar duisende nou bymekaarkom in groot lof en aanbiddingsbyeenkomste? Is dit nie herlewing nie? Is God nie met Sy kerk nie?” Ander mag dalk vra, “Kyk na al die besige Christene – tronkwerkers, straatwerkers. Kyk na al die dwelmrehabilitasie programme, al die vele geestelike ontspanningsplekke. En wat van al die massas instrominge van literatuur, Christen radio en televisie? Is dit nie herlewing nie?”

Die antwoord op hierdie vrae lê in Times Square, op 42ste Straat – en in ander dekadente gebiede dwarsdeur ons land. Die antwoord is in die talle crack lêplekke, die beknopte hospitale vol VIGS-pasiënte, die skreeuende, benewelde verslaafdes; die porno-videowinkels wat toeneem dwarsdeur die land, selfs in die kleinste dorpies.

Ons praat oor die duiwel se ysterwaens!

Die duiwel se goddelose ysterwaens jaag steeds op en af met die strate – versprei vrees – gaan onbetwis voort! Die land, die kerk, blyk magteloos te wees om hulle te keer!

Onlangs het ons meer as 500 Christene in New York Stad ingebring om ons te help om Times Square Kerk van stapel te stuur. Die meeste was vrymoedig en vreesloos en het ‘n las vir New York gehad. Maar sommige kon nie wag om terug te kom by hulle veilige gebiede nie. Hulle het weggegaan terwyl hulle sê, “Wat ‘n slykput! Demone is oral in beheer! Hoe verskriklik!” New Yorkers is dieselfde, hoor ek Christene sê, “Ek probeer om uit daardie goddelose gebiede uit te bly! Ek wil nie daar naby gaan nie.” So ons vlug na ons veilige huise en woonstelle, en bly weg van verslaafdes, bly weg van Times Square, bly weg van die armes en die hawelose vroue, bly op ‘n veilige afstand – bang vir hierdie sataniese ysterwaens!

Hoe durf ons waag om daarin te roem dat herlewing gekom het – op enige plek in hierdie land – wanneer Satan se vestings nie uitgedaag word nie! Is dit herlewing, wanneer al die magte wat bestaan, in stad, staat en nasionaal, nie 42ste Straat kan toemaak nie? Wanneer al wat ons regering kan bied, is om op te gaan na die ysterwaens en “net nee sê!”? Is dit herlewing, wanneer al die kerke saam in New York Stad nie in staat is om die duiwel se ysterwaens te keer nie.

Die verslaafdes en koppelaars word meer vrymoedig; homoseksuele kom uit hulle kaste, pornograwe bespot ons wette; Wall Street makelaars plunder en roof helder oor dag! En elke Sondag, kom ‘n paar honderd Christene saam soos lafaards in hulle veilige huise – die meeste van hulle dink niks kan gedoen word aan hierdie ysterwaens nie! Die res sit rustig in hulle gemakstoele en lag vir Bill Cosby of TV.

Die kerk het in der waarheid geskik vir slegs bergtop oorwinnings. Soos die Israeliete in die storie van Rigters 1, “verdryf ons die vyand op die berg.” “En die HERE was met Juda, sodat hy die gebergte in besit geneem het...” (Rigters 1:19). Dit verteenwoordig oorwinning oor gewoontes: vlees, begeertes – die vyand van binne! Israel het haar altare gebou op die hoë plekke en begin om hulle te vestig om te aanbid en lof te bring, en hulle het die res aan die duiwel se skare oorgegee. Hulle het afgekyk op die 900 ysterwaens en gesê, “Die vallei behoort aan die god van hierdie wêreld. Laat die vyand dit maar besit. Laat ons dit vermy! Ons sal hier bo bly en die seën van die bergtop geniet. Wat kan ons doen teen sulke bose magte?”

Deur nie agter daardie ysterwaens aan te gaan nie, het Israel ‘n valse beeld van God aan die heidene gebring. Hulle het God swak laat en hulpeloos laat voorkom. Die ysterwadrywers het gespot, “Hulle god is een van die berge! Hy is net ‘n god van liedere – iemand om oor te sing! Hulle prys Hom so hard maar tree so lafhartig op! Hulle god is net ‘n god vir die lafhartiges, die hulpeloses.”

So gaan dit vandag! Watter beeld het die wêreld van die kerk? Dit is wat hulle sê, “Dit is ‘n swak, fanatiese spul ou tannies en megafoon straatpredikers wat ‘n stuk literatuur in jou hand stop. Kerk is vir die siekes, die swakkes, die magteloses – diegene wat ineenstort! Daardie mense maak geen verskil hoegenaamd nie. Hulle is al jarelank hier, maar niks verander nie. Dit word net erger!” “Hulle is soos die geldgrypende TV predikers. Hulle het ‘n rekenaar Jesus. Hulle het geen waagmoed, geen mag nie. Hulle praat baie van krag, maar die enigste demone waarteen hulle stry, is binne-in die kerk. Hulle is bang vir die regte duiwel daar buite.”

Daar kan geen ware herlewing wees nie, totdat God se volk uitgaan in geloof om die duiwel se ysterwaens uit te daag – op sy eie grondgebied! Waarom moet daar ‘n herlewing van heiligheid wees? Omdat dit die enigste herlewing is wat haat vir sonde na vore bring. Daar moet ‘n heilige woede wees teen die duiwel se ysterwaens! Wanneer die herlewing wat God wil hê hier is, is geen demoon veilig nie! Daar sal geen samesyn met goddeloosheid wees nie. Geen owerheid of mag is immuun teen geestelike gesag nie, omdat die visioen van Christus se heiligheid ‘n aktiewe haat en woede teen sonde skep! Die duiwelbesetenes word beveel om vry te wees! Die afgodmakers roep uit, “Ons lewensbestaan is op die spel” – Die goddelose boeke word verbrand. Die verleiers wat lieg vir die Heilige Gees val dood neer. Die magistrate sidder, tronkbewaarders val op hulle aangesigte neer en word bekeer, en die stede word vol van die wete dat dit God se dorp is!

Tydens die groot Walliese herlewing onder die bediening van Evan Roberts, het tieners gebid! Hulle het moeg geword vir alkoholiste pa’s wat moeders slaan. Hulle het die kroeë toe gebid! Die Polisie het geween en by die lofsange aangesluit – en die misdaad het feitlik gestop.

Voorbidding: Die enigste manier om die herlewing wat God wil hê te bewerkstellig!

“En die kinders van Israel het die HERE aangeroep....” (Rigters 4:3). Dit is selfs sterker gestel in die oorspronklike Hebreeus, “Hulle het saam tot die Here uitgeroep!” Gesamentlik, in desperaatheid, het hulle God aangeroep!

Te midde van al die goddeloosheid, het God ‘n getuie van Sy heiligheid in die land gehad – ‘n profetes genaamd Debóra. Terwyl alle ander lafhartig, droog en onvrugbaar was, was Debóra in Berg Efraim afgesonder met God, waar sy Sy hart leer ken het, Sy las gedra het, geleer het om Jehova te vertrou vir oorwinning oor al die vyand se mag. Debóra het begin om ‘n suiwer woord aan die kerk van die Here te bring wat onder die palmboom by die berg Efraim was. Daar was ‘n boodskap van heiligheid en bekering en oorwinning in daardie verborge kerk! Die mense het gekom – stadig aan die begin! Ryk en arm! Die hoë klas [“wat op wit eselinne ry...” Rigters 5:10] het na Debóra gekom om te hoor en te bid. God het sy mense onder die rykes. Tydens Finney se herlewing, was die rykstes in die dorp aan die hart van dit alles. Hulle almal het na Debóra geluister en hoe het hulle harte binne-in hulle gebrand. Hulle ook het begin insien die ysterwaens moes wyk!

Die middelklas het gekom [“...wandelaars...” Rigters 5:10]. Wat nie op die wit eselinne ry nie – vandag verteenwoordig dit diegene wat bus ry, die duikweë ry, die blouboortjie werkers. Daar was geen voorkeur klas nie, want almal het gekom om dieselfde woord te hoor.

Die armes het gekom. “die boogskutters tussen die drinkplekke [water]...” (Rigters 5:11). Hulle moes veg om te oorleef; hulle was altyd in gevaar, het van een trek na die volgende geleef. Maar hulle het ook na Debóra se palmkerk gekom!

En die skrifgeleerdes het gekom. “Uit Sébulon die wat met die werwerstaf uittrek” (Rigters 5:14). Alle herlewings het dit – ‘n verborge oorblyfsel van skrifgeleerdes, gewillig om ysterwaens met hulle gawes te bestry! Ek profeteer dat talle opgerig sal word in die media in die dae wat voorlê. Hulle sal ‘n kragtige woord hê! Biddende skrywers, beide manlik en vroulik sal aansluit in hierdie laaste oorlog!

Dit was mans en vroue – wat saamwerk! Daar was Debóra en Barak, saam aan die bedien. Daar is niks macho oor ware Heilige Gees herlewing nie. Dit is God wat diensmeisies bearbei; dit is God wat mans dring om op te tree! Hoe anders was Barak se gesindheid van dit wat ons vandag sien. Hy was gesê dat as Debóra saam in die oorlog ingaan, sou ‘n vrou die krediet van die wen van die oorlog kry. Barak het glad nie omgegee vir krediet of eer nie! Hy wou die profetiese gesag en die biddende krag van hierdie profetes saam met hom hê. So sal dit vandag wees! Wanneer ware herlewing kom, staan niemand uit nie! Niemand se ego’s sal gestreel word nie! Geen gaan luister na “my gunsteling prediker” nie. Daar sal nie meer gesê word, “O, het Hy nie so ‘n groot krag nie!” In plaas daarvan, sal dit gesê word, “Jesus is daar! Dit is heilig daar! God spreek daar!”

Die oorwinning was regtig gewen teen die ysterwaens op Berg Efraim onder die palmboom. Dit was ‘n ondergrondse beweging van God. Die boodskap in hierdie kerk was, “Nie ‘n duim vir die vyand nie! Geen ysterwaens meer nie! Dit is nou oorlog!” Almal wat na hierdie verborge plek gekom het, het vertrek met hulle harte aan die brand. Barak, die kryger, [“man van weerlig”] was daar! Wat het hy by Debóra gehoor? “Wanneer sal julle opstaan en mans wees? Wanneer sal julle glo dat God die mag het om hierdie ysterwaens uit te wis? En die prinse, die leiers en die skrifgeleerders het die woord ontvang wat voortgekom het dat God op die punt was om oorlog te voer: “Liewer betrokke raak in die stryd! God gaan Sy Naam verdedig! Hy sal verheerlik word voor die oë van die goddeloses!”

Uit die voorbidding het baie duidelike leiding gekom. “Gaan, trek na die berg Tabor, en neem tienduisend man van die kinders van Náftali en van die kinders van Sébulon met jou saam” (Rigters 4:6). Dit kon nie baie duideliker gestel gewees het nie! Hoe spesifiek was dit – gaan na berg Tabor en maak 10,000 mans bymekaar! Die vyand sal teen julle kom met ysterwaens by die spruit Kison – God sal die ysterwaens en die hele leër in jou hande oorgee!

Debóra het geweet wanneer om te op te trek en hoe om op te trek. Op daardie presiese dag het sy van God gehoor! Vir haar, was daardie 900 ysterwaens reeds wrakke! Toe “het Sisera al sy strydwaens, negehonderd ysterwaens, en al die manskappe wat by hom was, uit Hasóret van die heidene na die spruit Kison bymekaargeroep. Daarop sê Debóra vir Barak: Maak jou klaar, want dit is die dag waarop die HERE Sisera in jou hand gee. Trek die HERE nie voor jou uit nie? Toe trek Barak van die berg Tabor af, en tienduisend man agter hom aan” (Rigters 4:13,14).

Waarom is dit dat soveel wat ons doen in die Naam van God sonder resultate, verwarrend, onbevredigend, en geen uitdaging vir die duiwel se ysterwaens bied nie? Waarom is ons leiding nie so presies, so duidelik, as wat Debóra ontvang het wat geleef het in ‘n tyd van minder lig nie? Dit is omdat ons nie afgesonder is met God nie! Ons bid slegs om self bevredig te word! Ons weier die dissipline van afgesonderde gebed en gesamentlike gebed!

Ek is persoonlik moeg vir al die leë, nuttelose aktiwiteite. In die afgelope 30 jaar, het ons tonne en tonne literatuur versprei. Ons het voor die mense gestaan, soos kinders wat op die strand staan en hande op hou vir ‘n vloedgolf en skree, “Stop!” ‘n Traktaatjie is niks anders as ‘n papierswaard nie – tensy dit vergesel word met die Heilige Gees! Dit is soos om op te gaan na die ysterwaens en uit te roep, “Tot hier toe en nie verder nie,” dan papierswaarde rond swaai. Dit is die letter wat doodmaak, tensy dit ondersteun word met baie gebed en trane! Deur gebed verander God daardie papierswaard in rapierstaal! Straatbyeenkomste sonder Heilige Gees krag met geestelike gesag, is nutteloos. Blote vermaak met geen veranderde lewens nie. Slegs deur gebed en vas kan ons hierdie vestings teëstaan!

Hulle het ‘n reënstorm afgebid – en dit was reën wat die ysterwaens nederlaag laat ly het! “Uit die hemel het die sterre geveg, uit hulle bane het hulle teen Sisera geveg; die spruit Kison het hulle afgedrywe, die spruit van ontmoeting, die spruit Kison! Tree op, my siel, met mag! Toe het die perdepote geklap van die gejaag, die gejaag van hulle geweldiges” (Rigters 5:20-22). Die Kisonspruit het nooit sy walle oorstroom nie. ‘n Groot moeras het ontstaan. Die vyand het opgestaan, op hulle waens geklim, en die wiele het al dieper en dieper in die modder getol. Die waens was nou ‘n las! Waardelose stukke yster. Kyk hoe Barak se leër opgewonde oor daardie onbeweeglike waens klim en wiele verpletter, die harnasse stukke breek. Weet jy nie hulle het na daardie nuttelose, modderige, vasgevalde waens gekyk en gesê, “Ons was bang hiervoor?” “Die HERE het Sisera met al die waens en die hele leër deur die skerpte van die swaard in verwarring gebring...” (Rigters 4:15).

Wanneer die reën van die Heilige Gees kom in antwoord op gebed, laat God die vyand vassit op sy eie gebied. Oornag word Satan se mag geopenbaar as nutteloos. God se kinders sal nie verpletter word nie. Die vallende reën maak die vyand magteloos.

Dit is gevaarlik om selfvoldaan te wees gedurende God se bepaalde dag van ontwaking!

Terwyl die ontwakende bende uitgegaan het om in God se Naam beheer oor te neem, het ander geweier om betrokke te raak. Ysterwaens het hulle nie aangegaan nie, want hulle was te besig met hulle eie probleme en lewe.

Die Rubeniete het geweier om betrokke te raak. “Waarom het jy tussen die veekrale bly sit en luister na die fluitspel by die troppe vee? In die afdelings van Ruben was die voornemens van die hart groot. Gliead het rusting oorkant die Jordaan gebly; en Dan, waarom vertoef hy by die skepe? Aser het bly sit aan die seekus en aan sy baaie rustig gebly” (Rigters 5:16,17).

Die Rubeniete is steeds met ons! Hulle is nou besig om nog ‘n “Hoe om” seminaar te beplan of te hou. Hulle vergader by konvensies, konferensies en deel groot gedagtes mee oor hoe om die verlorenes te win. Hoe om beheer oor te neem. Hoe om ‘n regverdige koninkryk te vestig. Hulle teken grafieke. Hulle laat hulle rekenaars getalle uitvoer – hoe die wêreld gered kan word in 90 dae as 3.5 Christene getuig teenoor 6.2 heidene.

Watter groot hartsondersoeke! Hulle ween selfs oor hulle belangeloosheid. Hulle is lief daarvoor om na byeenkomste te gaan om grootliks oortuig te word van sonde. Hulle maak groot voornemens. Komitee’s word gevorm. Hulle beplan, en vra altyd, “Wat is jou strategie om jou stad te win?” “Wat is jou wedstrydplan.” My antwoord is, “Ons enigste plan is om op ons knieë te bly totdat God presies vir ons sê hoe en wanneer om op te tree.” Hulle is nog steeds aan die praat wanneer die stryd reeds gestry en oorwin is. Dit is hulle wat boeke skryf vir toekomstige geslagte – “16 Stappe Om Ysterwaens te Oorwin.” Die Rubeniete was mense van geen aksie nie – geen toewyding – geen vuil hande – geen opgaan na die berg om saam met Debóra te bid nie! Hulle moes net by die hulle volgende konferensie uitkom.

Ek sê – Genoeg van al die optogte, die spesiale TV-programme, die massabyeenkomste, die papierplanne, die strategievergaderings, die groot gedagtes van groot denkders, die aansporings, die gebedel! Dit is tyd om te bid! Dit is tyd om alles eenkant te sit en uit te roep tot die Here vir krag en leiding!

Gílead, Aser en Dan was te besig om geld te maak! Soekend na sukses en voorspoed. Te verslaaf aan gemak en gerief! Lees Rigters 5:17 weer. Hulle “het rustig...gebly” – heeltemal opgevang in hulle eie klein wêreldjie van nood. Besig met klein oorloggies van hulle eie! Hulle “bly in hulle skepe” – roei hulle eie boot.

Daar is diegene teen wie Amos geprofeteer het! “Wee die gerustes in Sion...Wat op bedde van ivoor lê en uitgestrek lê op hulle rusbanke, en lammers van die kleinvee en die kalwers uit die stal eet! Wat liedjies sing met begeleiding van die harp, wat net soos Dawid vir hulle musiekinstumente uitdink! Wat uit offerkomme wyn drink en hulle met die beste soorte olie salf, maar hulle nie oor die verbreking van Josef bekommer nie...”

Hulle was “nie oor die verbreking van Josef bekommerd nie!” Hulle “wat die die dag van on heil veraf stel” – “wat op bedde van ivoor lê” – “gerus!” “Uitgestrek lê op hulle rusbanke” – “liedjies sing.” Hulle het nuwe maniere uitgedink om die lewe te geniet.

Dit was gesê dat iemand een oggend A.B. Simpson se kantoor binnegekom het en daardie groot sendingprediker op die vloer gekry het waar hy ‘n aardbol vasgegryp het – en geween het oor die verlorenes.

Die vloek van Meros

Die Merosiete het nie omgegee nie! En hulle was deur God vervloek vir hulle selfvoldaanheid! “Vloek Meros, sê die Engel van die HERE; ja, vervloek sy inwoners, omdat hulle die HERE nie tot hulp gekom het nie, die HERE tot hulp onder die helde” (Rigters 5:23). Die vloek van Meros is een van die ernstigste sake in die hele Woord van God. Dit was ‘n vloek reguit uit die hemel – en het God se gesindheid oor selfvoldaanheid duidelik geopenbaar! Ruben, Gad, Gílead en Aser het nie betrokke geraak nie – maar hulle was nie vervloek soos Meros nie! Waarom die skrikwekkende vloek op Meros?

Dit was ‘n bitter twispunt wat God met Meros gehad het! Ek glo dit was omdat Meros teen die lig gesondig het. Hulle het die basuingeluid gehoor en gemaak of hulle doof is. Hulle het Debóra se hartsgeroep gehoor en gespot! Merosiete, glo ek, was so naby die stryd, so naby die ysterwaens en tog so ver daarvandaan om betrokke te wees of om te gee. Die dae is lank reeds verby waarop Christene so naby die stryd kan wees, soveel rondom hulle sien, en hulle daarvan afsluit en sê, “Ek sonder myself af, bid, groei in Jesus op my eie. Ek het niemand nodig nie – dis net ek en die Here!”

Nee! Die regter sal ons almal tot verantwoording roep. “Ek was honger – jy het My nie gevoed nie! Naak, in die tronk – en jy het niks gedoen nie! Jy het nie op die strate en gangetjies gegaan en hulle gedwing om in te kom nie! Jy het jouself toegesluit – jou talent in ‘n doek toegedraai en gewag vir die Here se koms! Jy het jou talent begrawe!”

Meros het probeer wegkruip van die onrus en die veilige en maklike pad gevat. Hulle sou die res van God se kinders teen die ysterwaens laat veg, terwyl hulle veilig opgekrul was voor hulle snoesige kaggels. Maar God het hulle selfvoldaanheid verag en ‘n vloek oor hulle uitgespreek. Die vloek van Meros is die ergste soort van almal – om oorgelaat te word aan eie belang, gestroop van alle geestelike visie en energie, om bloot te verdwyn tot in ‘n sinnelose vergetelheid.

Maar vir my, gee vir my Debóra se vonk en vuur – gee vir my haar Heilige Gees ruggraat, haar onbeperkte geloof en vertroue, en haar onwilligheid om te bewe voor God se vyande. Laat die kerk van Jesus Christus oorlog verklaar teen alle Sataniese ysterwaens en die oorwinnig neer bid!