Vrugdra

David Wilkerson

Daar is ‘n gedeelte in die Skrif wat my diep tref. Dit behels ‘n verskriklike groot verantwoordelikheid wat geen ware dissipel van Jesus Christus kan ignoreer nie. Jesus het gesê, “Ek is die ware wynstok, en my Vader is die landbouer. Elke loot wat in My nie vrug dra nie, neem Hy weg; en elke loot wat vrug dra, dié maak Hy skoon, sodat dit meer vrug kan dra...As iemand in My nie bly nie, word hy uitgewerp soos die loot verdroog, en hulle maak dit bymekaar en gooi dit in die vuur, en dit verbrand...” (Johannes 15:1-2,6).

Ek het hierdie kragtige woorde van Christus al oor en oor gelees en kan nie hulle veroordelende krag ontvlug nie. Wat ‘n plegtige bevel, saam met skrikwekkende, onheilspellende waarskuwing hier gegee deur ons Here. Die Heilige Gees het die belangrikheid benadruk om hierdie woorde van Jesus te verstaan, “My Vader is die landbouer...elke loot wat in My nie vrug dra nie, neem Hy weg...”

Hierdie kwessie van Christene wat vrug dra is by God nie opsioneel nie. Hy waak oor Sy wynstok en al die lote wat daarin geënt is met groot jaloesie en sorg. Hy wag geduldig vir die lote om vrug te dra. Hy staan daar langsaan met ‘n snoeiskêr in sy hand, en kyk liefdevol vir die geringste teken van besoedeling, skimmel, roes of siekte wat groei kan belemmer. God verwag vrug van elke loot. Sonder vrug, is dit onmoontlik om God te verheerlik – of ‘n ware dissipel van Christus te wees. Jesus het gesê: “Hierin is my Vader verheerlik, dat julle veel vrug dra; en julle sal my dissipels wees...” (Johannes 15:8).

Om vrug te dra, het alles daarmee te doen om God te behaag – om ons missie in Christus vervul – om ons gebede en smekinge verhoor te kry. Jesus het gesê, “Julle het My nie uitverkies nie, maar Ek het julle uitverkies en julle aangestel om vrug te gaan dra en dat hulle vrug kan bly, sodat wat julle die Vader ook al in my Naam vra, Hy julle dit kan gee” (Johannes 15:16).

Vrug van Vuur

Dit mag hard en liefdeloos vir sommige klink, maar die werklikheid hier is, dra vrug of word in die vuur gegooi! Dra vrug of word van die wynstok afgesny! Dra vrug of word weggeneem om te verdroog en te sterf!

Die leraars van valse sekerheid kan probeer om die direkte waarskuwings wat Jesus hier vir ons gee, weg te praat; maar ek weier om ‘n enkele woord van wat Jesus gesê het te verander. Jy kan nie ons Here se waarskuwings ontwyk nie. Elke loot wat in My nie vrug dra nie, neem Hy weg.” Sommige sou hierdie ernstige boodskap probeer versag deur voor te stel, “Wel, as hulle ooit van die wynstok afgesny word, was hulle nooit werklik daaraan verbind nie! Hulle het voorgegee om in Christus te wees.” Maar Jesus praat van “loot...in My.” Hulle is verbind aan die wynstok. Hulle is deelgenote van dieselfde lewenstroom wat in die wynstok is.

Droë, vrugtelose lote word nie lank verdra nie! Hulle word nie toegelaat om te bly in die wynstok sonder om vrug te dra nie. Hulle word afgesny, nie deur die duiwel nie, maar deur die Hemelse Vader. “...Neem Hy weg; en ...maak Hy skoon...” Jesus het ‘n vyeboom sonder vye gesien en dit vervloek. “En Hy sien ‘n vyeboom langs die pad en gaan daarnatoe; maar Hy het niks daaraan gevind nie as net blare alleen; en Hy sê vir hom: Laat daar uit jou tot in ewigheid nooit weer ‘n vrug kom nie! En onmiddellik het die vyeboom verdroog...” (Matthéüs 21:19). Jesus het gesien wat geen menslike oog kon sien nie – die kankeragtige skimmel onder die blare – siektes onder die bas – die verspreiding van die dood daarin. Hy het nie die ebbende lewe van daardie boom vervloek nie, maar die dood wat aan die werk was daarin.

Dit was bedoel om baie meer as ‘n simboliese boodskap aan Israel te wees; dit is ‘n waarskuwing aan elke Christen van elke kerkeeu! Jesus het gesê Hy het slegs gedoen wat Hy Sy Vader sien doen het – en het slegs Sy Vader se wil gedoen. Sy Vader het gesien dit sou nie meer help om die vyeboom te snoei of om dit te red nie, omdat verdorwenheid en dood geheers het. Sy takke was vervloek tot ‘n verdrooge dood – om in die vuur te beland. Hier het ons Here weer die erns van vrudra gewys. Jesus het gekom om vrug te soek. So is dit ook nou, ons Here kom daagliks na ons toe en die vraag is, “Waar is die Vader se vrugte? Waar is die veel vrug wat jy tot Sy eer moet dra?”

Toe ek begin sien hoe ontnugterend hierdie saak van vrugdra is – het ek met die Heilige Gees geredeneer: as vrugdra sinoniem is met ware dissipelskap – as vrugdra eer aan God bring, en baie vrug selfs nog meer eer aan Hom bring – as om droog en vrugteloos te wees die snoeiskêr van die landbouer op my laat neerkom – as geen vrugdra daartoe kan lei dat ek weggeneem word, weggegooi word soos ‘n loot, en my verdroog en geestelik dood kan agterlaat – dan wil ek weet wat hierdie vrug is! Ek wil alle veranderings nodig in my lewe maak om dit te dra! Ek wil hê elke hindernis moet verwyder word! Ek wil die hê die Heilige Gees moet my reinig van alle tekens van geestelike roes, apatie en verdorwenheid!

Gemotiveer deur vrees of liefde?

Word ek deur vrees opgewek – plaas hierdie woorde van Jesus ‘n skrik in my? My antwoord is dat ek beide deur die vrees van God se Woord en deur Sy oorweldigende liefde opgewek word.

As ek my hart ken, wil ek soveel vrug dra vir my hemelse Vader, want Hy word daardeur verheerlik, en my hart smag daarna om Hom te behaag. Ek wil weet dat die vrug wat Hy wil hê, in my voortgebring word; ek wil vreugde en blydskap vir Hom bring. Ek wil waarlik die Vader verheerlik.

Maar ek het ook die skrik en vrees van ‘n heilige God in my – ‘n Vader wat onveroordeelde skynheiligheid en geveinsdheid nie sal verdra nie. Sommige dink die vrees van God is niks anders as ‘n bron van verstomming en verwondering nie. Dit is baie meer as dit. Jesaja het ‘n visioen gehad van onuitspreeklike heiligheid van God. Die deurkosyne van die tempeldeur het gebewe met die geluid van Sy majestieuse stem. Serafs kon nie eens kyk na sy vreeslike heerlikheid nie; hulle het hulle oë met hulle vlerke toegemaak. Om in die teenwoordigheid van Sy wonderbaarlike heiligheid te wees, het Jesaja oorweldig. Hy het uitgeroep, “Wee my, ek is verlore!” (Jesaja 6:3-6).

Het Jesaja uit daardie belewenis gekom met slegs ‘n sin van verstomming? Nee! Baie meer! Hy het van daardie dag af, ‘n vrees en skrik vir Sy regverdige en heilige oordele gehad! Van mense het Jesaja gesê, “Julle mag nie bevrees wees vir wat hulle vrees, of verskrik wees nie” (Jesaja 8:12). Maar van God het hy gesê, “Hom moet julle heilig, en laat Hy julle vrees en Hy julle verskrikking wees...” (Jesaja 8:13). Jesaja het gesê, “Hoor die woord van die HERE, julle wat vir sy woord bewe..” (Jesaja 66:5). Hy het ook hierdie woorde van die Here verkondig, “Maar op hierdie een sal Ek let: op hom wat arm is en verslae van gees, en wat bewe vir my woord” (Jesaja 66:2).

By die brandende bos, toe God aan Moses verskyn het, het hy “begin bewe en nie gewaag om dit te bekyk nie...” (Handelinge 7:32). Die Hebreeuse woord wat hier gebruik word dui op verskriklik bewe!

Jakob het ‘n droom gehad waarin ‘n leer opgestel was om die hemel te raak en engele van God het op- en afgeklim. Hy het die Here bokant dit alles gesien en Hom groot beloftes gehoor uiter. Toe hy wakker word, was sy eerste woorde: “Waarlik, die HERE is in hierdie plek, en ék het dit nie geweet nie.” Hy was oorweldig met die vrees van God en het uitgeroep, “Hoe vreeslik is hierdie plek! Dit is niks anders as ‘n huis van God nie, en dit is hier die poort van die hemel” (Génesis 28:10-17).

Daniël was ‘n biddende man. Hy het God baie intiem geken, en die hemel se geheime is aan hom getoon. Hy was ‘n man wat sy “aangesig tot die Here God gerig [het] om met vas, en in roukleed en as, my aan gebed en smekinge te wy” (Daniël 9:3). Luister na Daniël se beskrywing van God: “En ek het tot die Here my God gebid en belydenis gedoen en gesê: Ag, Here, grote en gedugte God...” (Daniël 9:4).

Dawid het gesê: “Die HERE is Koning; laat die volke bewe!...Laat hulle u grote en gedugte Naam loof! Heilig is Hy!” (Psalm 99:1,3).

Ek het die skrik en vrees van God en die bewe vir Sy Woord beklemtoon, omdat dít is wat kortkom in die kerk in hierdie laaste dae. As ons bewe vir Sy Woord – as ons waarlik Sy regverdige oordele gevrees het – as ons geglo het Jesus het bedoel wat Hy gesê het – sou ons nie hierdie saak van vrugdra uit ons gedagtes kon haal nie! Hierdie geslag beskou God te dikwels as een of ander welwillende, bewonderende oupa-tipe wie se enigste doel van bestaan is om te pamperlang en te seën. Hulle sien Hom as een wat sonde oorsien, wat niks meer as hulle beste pogings verwag nie, en wat sekere sondes oorsien en die vorige oortredinge vergeet. Daar is nie so ‘n God nie! God is liefdevol en genadig – goedhartig en sagmoedig! Maar Hy is ook heilig. Hy besoek ongeregtigheid met oordeel; en wanneer die Woord sê Hy is die landbouer met ‘n snoeiskêr, wat snoei en sny, beter ons dit glo!

Wat is die vrug wat die loot moet dra?

Die antwoord is in Filippense: “Vervul met die vrug van geregtigheid wat daar is deur Jesus Christus tot heerlikheid en lof van God...” (Filippense 1:11). Hier help Paulus die gedeelte in Johannes – dit is geregtigheid waarna God soek in sy kinders! Heiligheid is die vrug wat die Vader verheerlik! Hoe verskil dit van ons konsep van vrugbaarheid! Ons is laat glo dat vrug sukses, resultate, meer bekeerlinge, groter kerke, en toenemende finansies en oneindige voorspoed is.

Eintlik het vrugdra te doen met wat ons word, eerder as bloot wat ons doen. Die Bybel maak dit baie duidelik dat baie, groot resultate sal hê – duiwels suksesvol uitdryf, die siekes genees, groot wonderwerke in Sy Naam doen. Maar God sien dit as onvrugbaarheid en vrugteloosheid wanneer sonde en hoogmoed in die hart heers.

Ek dra vrug wanneer niks die stroom van die lewe van Christus in my verhinder nie! Dit is wat Jesus bedoel het toe Hy gesê het, “Julle is alreeds rein deur die woord wat Ek tot julle gespreek het” (Johannes 15:3). Hy sê in wese, “Omdat julle my woord geglo het, daarvoor gebewe het, dit elke boesemsonde laat openbaar het, elke donker ding na die lig gebring het, die Woord van God toegelaat het om julle te reinig – is al die hindernisse weg!

Dit is waarom ek nie ‘n TV in my huis sal toelaat nie. Nie omdat om daarvan ontslae te raak verdienstelik is nie, nie omdat die afwesigheid daarvan my enigsins heiliger sal maak nie – maar omdat dit ‘n hindernis is tot die lewenstroom van Christus die wynstok. Dit is ‘n roes, ‘n saad van kanker wat geestelike dood kan bring en kan veroorsaak dat ek onvrugbaar word. Dit is ook die rede waarom ek weier om my te verlustig in drank, teater, disko’s of klubs – of enigiets te doen wat van die gees van hierdie wêreld is. Dit is omdat al hierdie dinge geestelike groei verhinder! Dit bring dood – dit is gevaarlik omdat dit my die vermoë om regverdige vrug te dra kan kos!

Iemand sal sê, “Deur al hierdie onthouding en al hierdie afsondering, probeer jy nie jouself regverdig maak nie? Is geregtigheid nie alles van Christus nie? Is ons werke nie soos ‘n besoedelde kleed nie? Waarom so fanaties wees oor soveel prysgee? Waarom nie God bloot vertrou, jou geloof in Christus se geregtigheid plaas en vry wees in Hom nie?” Dit is waar – “Net soos die loot geen vrug kan dra van homself as dit nie in die wynstok bly nie, so julle ook nie as julle in My nie bly nie...want sonder My kan julle niks doen nie” (Johannes 15:4,5). Maar daar is baie meer!

Die waarheid van in Christus bly

Daar is menigtes van herders wat lieg vir hulle skape oor wat dit beteken om in Christus te bly. Miljoene gaan hel toe terwyl hulle glo hulle is in Christus en bly in Hom deur geloof. Daar word baie gepraat oor geloof – min gepraat oor vrug! Met die gevolg dat talle gelowiges oortuig is dat eenkeer in die wynstok, altyd in die wynstok is. Hulle glo dat, maak nie saak hoe verstop en siek die loot is nie, die lewe van Christus steeds deur hulle vloei en dat hulle kosbare vrug dra tot eer van God.

Dit is onmoontlik! Luister na Hom! “As julle my gebooie bewaar, sal julle in my liefde bly, net soos Ek die gebooie van my Vader bewaar en in sy liefde bly” (Johannes 15:10). Jesus het getrou elke gebod van Sy Vader gehoorsaam! En Hy het dit bly genoem! Hy het dit aan gehoorsaamheid verbind!

Dit is verstommend hoe Christene vandag dink hulle kan kies en keur watter gebod van Christus hulle kan gehoorsaam! As julle nie hou van wat gebied word nie, kan hulle hul ongehoorsaamheid nie bloot ignoreer of wegpraat nie, “Ek sien dit net nie so nie – ek glo nie so nie.” As die Gees ‘n herder bearbei en hy God se oproep tot heiligheid, afsondering en selfverloëning noem – en die gemeentelede hou nie daarvan nie, dan pak hulle hul beursies en hulle lidmaatskapkaarte op, en gaan soek ‘n herder wat die positiewe sal beklemtoon. Dit is waarom daar so ‘n verskriklike plaag van apatie in godsdiens versprei vandag. Ons is so bang vir werke – so geïrriteerd met wettiesheid dat ons gehoorsaamheid ‘n slegte naam gegee het. Die kerk het die hoogtepunt van afvalligheid bereik wanneer dit gehoorsaamheid wettiesheid noem.

Hoe is dit moontlik vir ‘n loot in Hom om nie in Hom te bly nie? Jesus het gesê: “As iemand in My nie bly nie, word hy uitgewerp soos die loot en verdroog, en hulle maak dit bymekaar en gooi dit in die vuur, en dit verbrand” (Johannes 15:6). Kan dit enigsins duideliker weer? Bly sluit rus en verantwoordelikheid in. Dit is moontlik om in Hom te wees, verbind aan die wynstok, en nie te bly nie – nie die stroom van lewe te hê wat vrug dra nie. Bly het te doen met algehele gehoorsaamheid aan die gebooie van Christus, omdat elke loot ‘n vrye wil het – dit het ‘n lewenskrag daarin! Die loot is nie passief nie; dit moet die lewe uit die wynstok trek! “As julle in My bly en my woorde in julle....” (Johannes 15:7). Dit dui daarop dat die Woord die Vader se snoeiskêr is. Hoe kan enige loot vrug dra as die Woord van die Here geïgnoreer word, onbekend is en verwaarloos word?

Ons sien die vrug van droogheid oral opspring in die Here se wingerd – die musiek van duiwels, owerspel, hoerery, dronkenskap, dwelms – omdat die snoeiproses gestop het by so baie. Die Woord van God is Sy snoeiskêr – ‘n twee-snydende swaard. Die meeste Christene vandag lees nie, ken nie en beplan nie om die Woord van God te lees nie. Hulle het ure en ure om te sit en die drek en gemors op TV in te drink – maar geen tyd en geen begeerte om ontbloot en ondersoek te word deur die Woord nie.

Dit is onmoontlik om die vrug van geregtigheid te dra sonder Sy Woord wat in jou bly! Verwaarlosing van die Woord veroorsaak onvrugbaarheid – dit bring ‘n verskriklike verdroging by God se kinders.

Die gelowige wat bly is een wat God liefhet en vrees, wat Sy regverdige oordele vrees, wat honger is vir die Woord en bewe voor Sy krag van oortuiging van sonde. Dit is een wat hom daarin verheug dat die Woord alle hindernisse wegsnoei, wat bid dat dieselfde lewe en gelykenis van Christus altyd in hom sal toeneem, en wat meer en meer volwasse word in gehoorsaamheid en liefde!

Die verskriklike gevolge van afgesny te wees van die wynstok

Elke loot dra kleiner lootjies; en die lootjies op hulle beurt, dra die kwessie van lote wat altyd groeie en uitbrei. Byvoorbeeld, mans en vrouens is een loot, want dit staan geskryf, “Die twee sal een wees.” Wat geestelik met my gebeur, affekteer my vrou, my vier kinders, hulle maats, my kleinkinders. Ek is die lasdraende loot, en as daar geen hindernisse in my is nie, kan lewe onverhinderd vloei na elke loot, elke klein spruitjie. Lewe produseer lewe!

As ek God se Woord verwaarloos, as ek die Here in my daaglikse lewe ongehoorsaam is, sal ek droog word. Ek sal begin verdroog; Ek sal van die snoei-stadium na die sny-stadium vorder. My geestelike vervreemding van God, kan dood dwarsdeur my hele familielote versprei! Dood produseer dood! Geestelike verdorwenheid en siekte in my, kan soos kanker deur die geestelike lewens versprei van almal wat aan my verbind is.

Ongelukkig, gebeur dieselfde dinge daagliks oral om ons. ‘n Bedienaar gaan deur ‘n middeljarekrisis en wend hom na iemand anders as sy vrou vir ondersteuning. Hy pleeg owerspel en loop weg met ‘n ander vrou. Hy vernietig die respek wat sy liefdevolle vrou vir hom gehad het. Bitterheid neem van haar besit en sy word geestelik koud en onverskillig teenoor God. Twee tieners wat geglo het dat pa die goddelikste man in die wêreld was, wend hulle nou tot goddelose vriende. Die geestelike dood in pa, het sy bose krag deur die hele familie versprei. Die gemeente ontslaan hom en gaan verder deur hul geestelike waaksaamheid te verslap. Hulle begin om die Woord te betwyfel; hulle is agterdogtig oor ander bedienaars en wil nou nie goddelike teregwysing aanneem nie! Nie net is die bedienaar afgesny van die stroom van Christus se lewe van die wynstok nie – hy het die stroom van lewe wat eens so vrylik gevloei het na almal wat aan hom verbind was, afgesny. Hy is nou ‘n bedienaar van dood. Hy is droog en sy lewe bring nie langer lof en eer aan die Vader nie. Oral waarheen hy hom wend, is daar dood en verdorwenheid. Hy mag homself bekeer en herstel word, maar hy kan nie al daar die kosbare klein lootjies wat hy vernietig het, terugkry  nie.

‘n Moeder sit voor haar TV-afgod, drink ure van demoniese gemors in. Haar kinders en haar man sien haar nooit die Woord van God lees nie. Sy word nooit gehoor huil of bid of enige bewys in die huis toon van ‘n diensmeisie van die Here wees nie. Sy word so droog; sy lewe in ‘n fantasie-wêreld. Sy verloor heeltyd haar humeur en stry. Sy verlang heimlik daarna om uit haar huwelik te kom, om weg te kom van al die verantwoordelikhede. Sy verdroog geestelik. Die landbouer moet haar afsny en haar oorgee aan afgodery. Daar is geen vrug nie – net leë onvrugbaarheid – geen Christus gelykenis nie! Sy vernietig haar huis omdat sy ‘n bedienaar van dood is. Sy het geen stroom van goddelike lewe nie. Sy het elke pad van die lewe so verstop, dat dit onmoontlik is vir haar om vrugbaar te wees. Haar kinders word net soos sy – geestelik dood! Haar man kan nie enige geestelike krag van haar tap nie. Sy verdroog aan die wynstok en moet afgesny word. Sy kan haar steeds bekeer en herstel word; maar sy kan nie die gees van dood wat sy deur haar huis versprei het, terugroep nie. Sy mag eendag ween oor hierdie verlore siele; sy mag huil oor haar slegte voorbeeld van die verlede; maar sy kan nie al die skade ongedaan maak nie.

Elke Christen wat waarlik die Here liefhet, moet stop en hierdie woord laat insink! Hoe meer vrug van heiligheid in ons gesaai word – hoe meer van Christus se volheid word in ons geopenbaar – hoe meer hemels ons gedagtes word – hoe meer van Christus se lewe sal almal aanraak met wie ons verbind is.

Ek het eens ‘n hele woud van siek, bruin, wurmgeïnfekteerde bome gesien. Maar hier en daar, te midde van al die dood, het ek ‘n groen, gesonde boom gesien. Wat het sommige van hulle groen gehou, terwyl daar verdroging oral rondom hulle was? Dit was ‘n oorvloedige bron van lewe! Lewe het die dood oorkom. Elke wurm wat ‘n blaar aangeval het, was afgestoot deur die krag van lewe. Daar was niks dood in die groen bome nie; daar was geen plek vir siekte om vashouplek te kry nie.

Ek wil so wees – groen, vol van Sy lewegewende vrug – ‘n kanaal van lewe vir almal binne my kring van bediening en invloed. Die Woord sê, “dat jou vrug kan bly...” Dit beteken – dat jy altyd mag vrugdra! Jy sal bly in die stroom van Christus se lewe – met geen hindernissse nie! Dit beteken dat almal wat saam met jou is, sal voortgaan om in Christus te groei.