'n Verslag Wat Loflik Is

David Wilkerson

“Verder, broeders, alles waar is, alles wat eerbaar is...alles wat loflik is...bedink dit” (Filippense 4:8).

Ons bring vir jou ‘n ware, opregte en loflike verslag van wat die Heilige Gees doen op die strate en in die gemeenskappe van New York Stad. Die somerwerkers keer nou terug huistoe, maar die ontsaglike bediening van die Heilige Gees gaan voort. Nou kom die heel belangrikste werk van opvolg.

Gwen en ek bly nou in hierdie stad en die res van ons bedieningspan is in die proses om hier by ons aan te sluit. Die geestelike verwagting neem toe soos ons nader kom aan die opening van Times Square Kerk – Oktober 1-4.

Ons het reeds talle mense ontmoet wat vir ons sê dat hulle jarelank vas en bid vir so ‘n kerk hier in die hart van Manhattan. Ook is ons bly dat ‘n aansienlik aantal besorgde vriende op ons poslys beplan om saam met ons te wees vir die opening van die byeenkomste. Hulle kom van oral oor die land. Ons glo dit gaan ‘n heerlike tyd wees en die begin van ‘n belangrike sentrum van aanbidding by wat genoem word, “die kruispaaie van die wêreld” – Times Square.

Soveel mense het aan ons geskryf en het belowe om te bid vir hierdie nuwe onderneming vir Christus; en selfs hoewel hulle nie self kan kom om saam met ons te wees nie, het hulle belowe om ons in gebed te dra. Hoe bemoedigend is dit vir ons! Hoe dankbaar is ons!

Uit my dagboek en herinneringe haal ek hier ‘n aantal van die hoogtepunte en wonderbaarlike bekerings tydens die staatbyeenkomste uit. Hierdie byeenkomste was in Manhattan, Harlem, die Bronx en Brooklyn.

Die Bronx [DeKalb en 212ste Straat]

Hierdie week, was twee mense vermoor in hierdie area – beide as gevolg van ‘n dwelmverkope [crack]. ‘n Polisiewa het bygestaan met konstabels om ons te verseker van ‘n vreedsame byeenkoms.

Alkoholis:

‘n Ouerige man wat erken het dat hy ‘n alkoholis was “vir langer as wat ek kan onthou,” het gereageer op my bekeringsoproep en gehuil en bely, “Ek het Jesus nodig! Ek moet verlos word! Ek onthou jare gelede het ek na ‘n Baptiste kerk toe gegaan – dit is net ‘n vae herinnering. Maar net vanaand het ek die geroep van God ervaar – Sy bearbeiding. Asseblief meneer, bid saam met my!” Hy was welsprekend en wou duidelik hulp hê. Hy het sy dogter besoek toe hy ons musiek hoor en het gewag om my te hoor preek, oortuig geword het van sonde, en op die ou end die Here aangeroep het.

‘n Joodse man en ‘n heiden vrou:

My genoot, Bob Philips, en ek was verwonder toe ons genader is deur ‘n Joodse man wat vir ons sy vrou, wat siek was, gebring het. Sy het glad nie Engels gepraat nie, maar deur ‘n tolk, het sy vir ons vertel waarom sy haar maag vasgehou het. Die dokters het twee siste in haar abdomen gevind en sy het baie pyn gehad. Sy het vir ons vertel van ‘n droom wat sy gehad het waarin sy ‘n man van God op die straat ontmoet het en vir haar gewys het hoe om ‘n gelowige in Christus te word. Ook sou hierdie bedienaar op die straat sy hand op haar plaas, vir haar bid en sy sou gesond word. Toe het sy gesê, “Hierdie droom word nou waar.” Sy het gevra dat Christus haar aanneem, haar vergewe en haar genees. Ons glo God het daardie gebede beantwoord.

Toe het haar Joodse man vir ons ‘n verstommende storie vertel. Hy het erken hy was nie ‘n “godsdienstige Jood” nie, maar dat hy dikwels tot die Vader gebid het. Een nag het hy na die kombuis gegaan, die yskasdeur oopgemaak en was geskok toe hy die buitelyne van ‘n man daar in die donker kombuis gesien het. Eers het hy gedink dit was ‘n indringer wat in die woonstel ingebreek het. Hy was te verstom om te reagreer. Maar skielik het ‘n kalm, stil stem gefluister, “Moenie bang wees nie. Ek het gekom om Jesus Christus as Here aan jou te openbaar! Jy moet Jesus volg! Roep Sy Naam aan!”

Ek het hom vertel van Cornelius wat ‘n engel gesien het en van ander mense in die Ou en Nuwe Testamente wat besoek was op so ‘n bonatuurlike manier. Dit was ‘n groot vreugde om saam met hulle te bid en hulle voor te stel aan ‘n lokale herder om hulle op te volg.

‘n Afvallige bedienaar:

Hy het voor my gestaan saam met ‘n vriend en vir gebed gevra. Ek het uitgevind hy was eens ‘n herder van ‘n nabygeleë Metodiste kerk. Bitterheid, verwerping, familie propleme – dit was alles te veel, en hy het Christus nog nooit in Sy volheid geken nie. Maar vanaand, op die strate, in die teenwoordigheid van ‘n Heilige Gees wat hom van sonde oortuig het, het hy Christus waarlik aangeneem en was herstel. Bid asseblief vir hierdie kosbare broer. Ek het hom genooi om ‘n deel van ons gemeente by Times Square Kerk te word. Hy het belowe om vir berading te kom en onder ons prediking te sit todat ‘n diensdeur vir hom oopgaan.

Brooklyn [straataanddiens]

Joslyn:

Sy is net nege jaar oud, met pragtige swart hare en helder blou oë. Sy was een van die eerstes wat vorentoe gekom het vir gebed – al snikkend!

“Bid asseblief vir my pappa; hy is in die tronk. My ma is op ‘n ander plek. Ek bly by my ouma. Maar ek wil hê Jesus moet pappa red en hom ‘n ander mens maak.” Ek het haar omhels, gebid soos sy gevra het, en ek weet Jesus het medelye met haar gebed, haar trane en haar gebrokenheid gehad. So baie klein kindertjies is hartsverskeurd oor dronk, dwelmverslaafde en toegesluite ouers – veral vaders. Bid vir dierbare Joslyn.

‘n Moeder en duiwelbesete huis:

‘n Pinkstermoeder het drie dierbare klein kindertjies vir gebed gebring. Sy het ‘n verskrikte kyk op haar gesig gehad. Sy het vertel van meubels wat geheimsinnig rondskuif, van haar kinders wat skreeuend op en af op die beddens spring in die middel van die nag en dan moeg en senuweeagtig wakker word. Die kinders sou skielik onbeheerbaar bewe.

Ek het uitgevra oor die ouma en was vertel sy was betrokke in heksery en, sy was in werklikheid self ‘n heks.

Ons het vir die moeder en kinders gebid – en alle leuenagtige, demoniese geeste uitgedryf. Toe het ons drie dierbare gelowiges saam met hulle huistoe gestuur om alle demoniese geeste uit die huis te dryf. Daardie geeste was daar as gevolg van die ouma se heksery – en was beveel om te wyk in die Naam van Jesus!

Die moeder het bevryding in haar lewe nodig gehad oor sonde; dit was weens haar eie kompromie dat sy geen gesag oor hierdie bose geeste gehad het nie. Ons glo God het nou ‘n muur van vuur rondom daardie kinders geplaas en daarom sal daar geen verdere onwillekeurige manifestasies wees nie.

Diegene wat spot oor demoniese aktiwiteite in huise of mense wat eens in heksery betrokke was, is eenvoudig blind vir die weë van Satan. Maar Christene wat in bekering wandel, die Woord van God vertrou, hoef nooit te vrees nie! Satan het geen krag, geen houvas, geen plek– wanneer gelowiges op die Woord van God staan.

Manhattan [Lower East Side]

Twee keer gesteekte dwelmverslaafde:

Hy was in en uit die tronk en was op die derde dag nadat hy dwelms net so laat staan het. Hy het met East Side straat afgeloop, haweloos, met net ‘n klein tassie met ‘n paar stukke klere wat hy oorgehad het. Hy was beroof en in die hand gesteek slegs ‘n paar minute voor hy op ons straatbyeenkoms afgekom het.

Hy was haweloos, sonder ‘n sent en in baie pyn. Dit het begin reën, maar hy het by my gebly in die reën en vir gebed gevra. Die Here het hom gered en ons het hom na Teen Challenge Sentrum geneem. Bid vir hierdie seun; hy wil werklik verander.

Een van die vuilste mans wat ek al ontmoet het:

Hy was so gehawend, het so geruik, was so onnet, dat ek gedink het, “Dit moet die vuilste man wees vir wie ek al ooit gebid het.” Eintlik het ek ‘n vlietende gedagte gehad dat só ‘n man nie meer gehelp kon word nie – hy was te ver heen. Maar daar het hy gestaan, trane in sy oë, met die begeerte om van sonde verlos te word.

Wat ‘n skok het op my gewag. Die man was ‘n weggesteekte juweel – baie intelligent, ‘n kollege gegradueerde. Hy was eens ‘n direkteur van ‘n ander dwelmrehabilitasieprogram in New York Stad. Hy het self in dwelms verval en sy familie, sy werk en sy selfrespek verloor en het amper moed verloor met die lewe.

Vanaand, het hy weer hoop gekry. Ons hoop om hom te sien in ons Times Square Kerk – ‘n nuwe mens! Dit bewys weereens ‘n mens kan nie oordeel volgens uiterlike voorkoms nie.

Opsomming:

Dit is net ‘n paar van die baie wonderwerke wat ons daagliks in die werk hier sien. Watter groot behoeftes! Hoe deurmekaar het die lewens van soveel mense geword. Dit sou oorweldigend wees as ons nie ‘n almagtige God en ‘n almagtige Verlosser geken en gedien het nie!

Dit was die beste straatuitreik in al ons jare in New York – weens ‘n bonatuurlike bearbeiding van God se Gees in die harte van gebroke mense. Daar is ‘n openheid, ‘n geestelike honger, ‘n geroep om hulp – ten spyte van al die hardheid en arrogansie van sekere groepe.

Daar is meer bedienaars op hierdie behoeftige strate as ooit tevore, meer vrywillige werkers wat van oral oor die land kom. Daar is Christene van oorsee wat kom om hier te getuig en literatuur te versprei. Meer straatveldtoge, meer straatpredikers, meer jong profete. Waarlik, die Here gee hierdie hedendaagse Sodom een laaste wekroep. Oordeel staan voor die deur – maar eers stuur die Here ‘n liefdevolle wekroep tot bekering.

‘n Woord oor die VIGS-plaag

Dit is nou ‘n epidemie – oral. Dit is nie slegs ‘n vloek oor homoseksuele nie – dit is ‘n vloek oor ‘n goddelose, plesiermal samelewing. Dit is is wêreldwyd en strek verder as die Ystergordyn. Miljoene der miljoene sal sterf! Ons het net die begin gesien van wat binnekort ‘n siedende plaag sal wees – totaal buite beheer. Dit word geraam dat meer as 55 miljoen mense van VIGS sal sterf binne die volgende tien jaar [een kwart van die bevolking].

Sal die VIGS-epidemie slagoffers na die Here trek? Sommige voorspel dit sal – maar ek glo nie. Een van ons bekeerde verslaafdes lê sterwend aan VIGS in ‘n New York Stad hospitaal, en in dieselfde saal was nog ‘n terminale VIGS slagoffer. Ons pasiënt het almal bemoedig wat hom besoek het, en hy het nader aan die Here gekom in die laaste dae van sy lewe. Die homoseksuele VIGS slagoffer het gesterf terwyl hy God vloek – hoewel ons Christen pasiënt teenoor hom getuig het. Op die rand van die graf, het hy slegs harder en meer aggressief geword.

As ‘n VIGS-slagoffer ‘n verharde sondaar is, sal hy slegs norser, bitterder en meer hatig teenoor God word soos die siekte sy of haar liggaam oorneem. Die Bybel bevestig hierdie gevolgtrekking:

“’n Man wat baie bestraf is, en sy nek verhard, sal onvoorsiens verbreek word sonder dat daar genesing is” (Spreuke 29:1).

Wanneer God “groot hael...uit die hemel” stuur om op die mensdom te val in die laaste oordele, sal hulle hul nie tot God bekeer nie, maar liewer, “God ...laster weens oor plaag van die hael, omdat sy plaag ontsettend groot” (Openbaring 16:21) sal wees.

Die verskriklike plae wat op Egipteland uitgestort was, het Farao se hart slegs meer verhard. Dit het sy bose besluit slegs versterk. Toe hy uiteindelik Israel laat trek het, het nóg hy, nóg die Egiptenaars hulle tot die ware God gewend – hulle het hulle ook nie bekeer nie! Na ‘n kort tyd, het Farao hulle agtevolg in ‘n poging om hulle terug te kry.

Johannes, die openbaarder praat van die konings van die aarde en hulle leërs wat saamkom “om oorlog te voer teen Hom wat op die perd sit [Christus], en teen sy leër” (Openbaring 19:19). Hierdie hardvogtige leër wat voortgaan om teen God oorlog te voer, kom uit groot en verskriklike oordele, plae en weë. Oordeel deur plae verhard net die goddeloses.

Wat ek neem as afdoende bewyse dat oordeel mense se harte nie versag nie, word gevind in die verhaal van die homoseksuele aanval op Lot se huis, waar ‘n wilde bende perverse mans probeer het om hulself af te dwing op twee besoekende engele – deur God gestuur om hulle goddeloosheid te evalueer.

Hierdie seksmal Sodomiete het probeer om “die deur oop te breek” (Génesis 19:9). Die engele het die “manne wat by die ingang van die huis was...met blindheid [geslaan], sodat hulle tevergeefs na die ingang gesoek het...” (Génesis 19:11).

Waarom het hulle nie die boodskap gekry nie? Verbeel jou, as jy kan, ‘n menigte van wellustige manne, met blindheid getref, oor mekaar struikel, en almal, “klein en groot,” wat uitroep: “Wat gebeur? Ek is blind!” Hulle het geweet hulle was almal blind; hulle het almal rondgetas, sonder vrees.

Het hulle hul bekeer? Het hulle selfs erken hulle was onder oordeel? Hoe kan ‘n hele bevolking mans blind word op een slag en nie besef iets bonatuurlik het gebeur nie?

Hoewel met blindheid geslaan, het hulle “tevergeefs na die ingang gesoek” (Génesis 19:11). Hulle het hulleself moeg gemaak om te probeer om hulle begeertes te bevredig – selfs al het oordeel op hulle neergedaal.

So gaan dit vandag – so sal dit wees wanneer die VIGS-plaag miljoene lewens vernietig. Terwyl God se kinders Sy hand daarin sien as oordeel en afrekening, en terwyl hulle hulself verneder voor Sy majesteit, sal die goddeloses voortgaan om hulle begeertes na te jaag, God te bespot, Sy oordele te ontken en hulle harde nekke styf te maak.

Die doodsengel se skaduwee val op hierdie land en op die hele aarde. Die vloeke van Deuteronómium word nou reeds voor ons oë vervul [Deuteronómium 28:59-63]. Ontsaglike, langdurende plae – met hongersnood, koors, inflammasie, verwoenstende brande – alles “vanweë die boosheid van jou handelinge, dat jy My verlaat het” (Deuteronómium 28:20). Sien ook Daniël 9:11.

Saam met die VIGS plaag kom ‘n groot en massiewe verharding van harte. Die verdruktes gaan “die Seun van God weer kruisig en openlik tot skande maak” (Hebreërs 6:6).

Die opgewekte oorblyfsel van hierdie laaste dae gaan nie wakker gemaak word deur plae of allerhande oordele nie – hulle word wakker gemaak deur die bearbeiding van die Heilige Gees. Hulle lewe sonder vrees, met die wete dat hulle aan Hom behoort, lewe of dood! Hulle kan op hierdie heerlike belofte van hulle Geliefde staan:

“Die Allerhoogste het jy jou beskutting gemaak. Geen onheil sal jou tref en geen plaag naby jou tent kom nie” (Psalm 91:9-10).