By Die Bad Lê

David Wilkerson

“En daar is in Jerusalem by die Skaapspoort ‘n bad met vyf pilaargange wat in Hebreeus Betésda genoem word” (Johannes 5:2).

Die bad van Betésda was heel ongewoon omdat die Jode daarvan een of ander altaar gemaak het. Die bad was skynbaar gevoed deur ‘n ondergrondse stroom en op seker tye, het die water geroer. Hierdie onverklaarbare roering van die water was toegeskryf aan ‘n onsigbare engel wat die genesende krag in die bad vrygestel het en die eerste ongestelde mense wat daar ingegaan het, was genees.

Die bad het ‘n tipe Joodse Lourdes geword – en menigtes kreupel, verlamde en gebreklike mense het saamgedrom om te wag vir die water om te beweeg, met die hoop hulle sou die gelukkige een wees. Sommige kenners stel voor dat die vyf ingange gebou was om die menigtes te huisves wat daar gekampeer het. Die Woord sê dat om hierdie bad “het ‘n groot menigte siekes gelê, blindes en kreupeles en lammes, wat op die roering van die water gewag het” (Johannes 5:3). Ek glo Johannes noem slegs ‘n tradisie van die Jode as hy skryf, “Want ‘n engel het op bepaalde tye in die bad neergedaal en die water geroer. Die een wat dan die eerste ingaan ná die roering van die water, het gesond geword, aan watter siekte hy ook al gely het” (Johannes 5:4).

Ek glo Johannes het hierdie Joodse tradisie opgeteken net soos die Jode dit geglo het – om sy swakheid en beperkinge te openbaar in vergelyking met die alles-insluitende, absolute genesingskrag van Jesus Christus.

Die roering van die water moes ‘n bendereaksie ontlok het.

Ek dien nie ‘n God wat so ‘n verskriklike toneel van selfsugtigheid en minagtig vir die lydende mensdom sou veroorsaak nie. Moontlik het slegs die sterkes, die ongeskiktes en die selfgesentreerdes hulle pad oopgebeur tot by ‘n plek naaste aan die bad. Die rykes en die belangrikes kon miskien die armes eenkant laat staan het om plek te maak. Mens kan verstaan dat diegene met die sterkste, gesondste vriende, hulle pad kon oopbeur deur die ander arme kreupeles om hulle vriend eerste in die bad te kry. Sekerlik kon slegs die ratstes en waaksaamstes eerste in die water kom.

Ek was so gruwelik ontsteld deur wat ek eenkeer in die parkeerterrein gesien het buite die ouditorium waar Kathryn Kuhlman ‘n genesingsbyeenkoms gehou het. Karoppassers kon die bestuurders wat probeer het om ander uit die pad uit te stoot om een plek voor ‘n ander te kom, nie beheer nie. Sommige modderskerms was ingeduik. Mejuffrou Kuhlman was waarskynlik nooit daarvan vertel nie, want sy sou ontsteld gewees het. Sulke hebsug van sommige – sulke selfgesetreerdheid – om so te op te tree om seker te maak hulle kom voor ander om ‘n goeie sitplek in die genesingsbyeenkoms te kry. Sommige van daardie opdringerige bestuurders moes gedink het die doel heilig die middele – hulle het dit immers ter wille van ‘n baie siek moeder, of ‘n kruppel kind, ‘n sterwende vriend of familielid gedoen.

Die toneel moes seker so gelyk het toe die oproep gekom het, “Die water – nou! Gou – dit beweeg!” Wat ‘n malle gejaag moes dit gewees het waarin die hoop van die swakstes en die mees behoeftiges verpletter was omdat een of ander ratser siel eerste daar aangekom het. Een arme kreuppele het daardie geroep vir meer as 38 jaar gehoor. Hy het geen kans gehad nie, want terwyl hy nog sy kreupel liggaam ‘n paar voet gesleep het, was dit alles verby. ‘n Ander het eerste in die bad ingeloop en daar was geen krag meer oor om hom te help nie.

Nee, Jesus het geen deel in hierdie wiel-van-geluk-bad nie! Sonder twyfel is talle genees – net soos baie mense genees word by die Lourdes en by altare oral in die wêreld. God het die menslike liggaam so gemaak met wonderlike innerlike genesingskragte – dikwels vrygestel deur hoop en geloof. Sommige kon dalk werklik God geglo het en is wonderbaarlik genees. Daardie mense se genesing word nie in twyfel getrek nie. Maar elke genesing kon slegs meer angs en hopeloosheid verooraak het vir die in die grootste nood wat so lank verniet gewag het. Diegene wat van ver af gekom het, sou eerlikwaar verpletter gewees het.

As die geldmal priesters in die tempel gekoop en verkoop het, kan jy jou indink hoe hulle op daardie hulpelose mense geteer het? Ek glo daar was kossmouse, aandenkingstalletjies, verkopers van komberse en allerhande godsdienstige items. Waar daar ook al ‘n menigte was, was daar godsdienstige diewe en bedrieërs. Dit is dieselfde vandag. Jesus moes ontsteld gewees het oor die gruwel daarvan.

Jesus het pas van die put by Sigar gekom, waar Hy aan ‘n Samaritaanse vrou geopenbaar het dat Hy self die Lewende Water was. Die genesende water van die lewe is nie in ‘n bad nie, maar in die hart deur geloof – “’n fontein van water wat opspring tot in die ewig lewe” (Johannes 4:10-14).

Dit moet begryp word dat elke arme siel wat by daardie bad gelê het, reeds iets beter gehad het as ‘n diskriminerende beweging van water.  Hulle het die kosbare beloftes van ‘n liefdevolle God gehad wat voorsiening gemaak het om hulle almal te genees. Hulle het Moses en die profete gehad, sowel as die glorieryke Psalms van Dawid gehad.

Watter groter belofte as dit wat God deur Moses gegee het: “As jy getrou na die stem van die HERE jou God luister en doen wat reg is in sy oë, en luister na sy gebooie en al sy insettinge hou, dan sal Ek geeneen van die siektes op jou lê wat Ek op Egipteland gelê het nie; want Ek is die HERE wat jou gesond maak” (Exodus 15:26). En van Dawid, die Psalmis: “Loof die HERE, o my siel, en vergeet geeneen van sy weldade nie! Wat al jou ongeregtigheid vergewe, wat al jou krankhede genees” (Psalm 103:2,3). En die profete: “Want ek sal nie vir ewig twis en nie vir altyd toornig wees nie, want die gees sou voor my aangesig versmag en die siele wat Ek self gemaak het. Ek was toornig van weë die ongeregtigheid van hulle hebsug en het hulle geslaan terwyl Ek My toornig verberg het; ewenwel het hulle afkerig voortgegaan op hulle eie weg. Ek het hulle weë gesien, en Ek sal hulle genees; en Ek sal hulle lei en aan hulle weer vertroosting skenk, naamlik aan hulle treuriges” (Jesaja 57:16-18). “Kom en laat ons terugkeer tot die HERE; want Hy het verskeur en sal ons genees, Hy het geslaan en sal ons verbind” (Hoséa 6:1). “Maak my gesond, HERE, dan sal ek gesond word; verlos my, dan sal ek verlos word; want U is my lof” (Jeremia 17:14).

Hierdie lydende menigte was geestelik blind vir God se Woord. Hulle het nie daar gebreklik en kreuppel gelê omdat hulle almal verskriklike sondaars was nie – want toe Christus genader is deur sy dissipels oor ‘n man wat blind gebore was – het hulle vir Hom gevra, “Wie het gesondig, hierdie man of sy ouers, dat hy blind gebore is?” (Johannes 9:2). Jesus het geantwoord, “Hy het nie gesondig nie, en sy ouers ook nie; maar die werke van God moet in hom openbaar word” (Johannes 9:3). Daar is geen twyfel dat sonde siekte en krankheid oor baie van hulle gebring het – maar nie almal nie. God kon groot eer ontvang het as hulle Sy Woord gesoek het met net soveel vertroue in dit wat Hy belowe het, as wat hulle gehad het om eerste in die bad te kom.

Volgens die Skrif – het hulle vir verkeerde dinge gewag! Hulle was beveel om op slegs die Here – en op Sy Woord alleen te wag. “Ek wag op die HERE; my siel wag, en ek hoop op sy woord. My siel wag op die Here meer as wagters op die môre” (Psalm 130:5,6). “Ja, my siel is stil tot God; van Hom is my heil. Hy alleen is my rots en my heil, my rotsvesting; ek sal nie grootliks wankel nie...Wees maar net stil tot God, my siel, want van Hom is my verwagting! Sekerlik, Hy is my rots en my heil, my rotsvesting; ek sal nie wankel nie” (Psalm 62:2,3,6,7).

Jesus was getrek na ‘n sekere magtelose man wat by die bad gelê het. “En ‘n sekere man was daar, wat agt-en-dertig jaar aan sy siekte gely het. Toe Jesus hom sien lê, terwyl Hy geweet het dat hy al ‘n lang tyd siek was, sê Hy vir hom: Wil jy gesond word?” (Johannes 5:5,6). Hierdie naamlose kreupel man, het baie verskillende gesigte en hy verteenwoordig menigtes magtelose Christene wat in ‘n hopelose toestand is. Jesus het geweet wat was in die gedagtes van elkeen van hierdie arme, hulpelose siele. Net soos Jesus geweet het wat die vrou by die put gedink het – het Hy geweet wat hierdie magtelose man gedink het. “En daar is geen skepsel onsigbaar voor Hom nie, maar alles is oop en bloot voor die oë van Hom met wie ons te doen het” (Hebreërs 4:13). Miskien was hy die swakste en in grootste nood, met die langste blywende ongesteldheid van hulle almal. Jesus was altyd getrek na dié wat die grootste nood gehad het. Ag-en-dertig jaar van verpletterde hoop, ondraaglike lyding en eensaamheid, moet sekerlik sy tol geëis het op hom.

Magteloosheid kom in baie vorme. Dit kan fisiek, geestelik of verstandelik wees – of dit alles op een slag. Verstandelik en geestelik kan jy moontlik daardie man by die bad wees! Hy is in ‘n situasie wat hopeloos lyk – en jy sien geen uitweg nie. Niemand verstaan werlik die diepte van jou lyding nie – niemand lyk of hulle genoeg omgee om te stop en jou te help nie; daar is geen vriend of geliefde met die tyd, liefde of energie om werklik medelye te hê met die seer binne-in jou nie.

Ek dink aan die prostituut in Lower East Side, New York Stad, op ‘n parkbank, wat drukkies gee vir ‘n boemelaarvrou in haar arms. Die boemelaarvrou was siek, het gehuil, en die prostituut wat so hard gelyk het, het haar hare gestreel terwyl trane oor haar gesig gerol het as gevolg van ernstige hartseer – en haar gerus gestel, “Hartjie, dit is alles reg, ons sal oorleef! Ek het jou lief! Moenie huil nie!”

Kyk goed na die magtelose man en dink aan die jare van stryd, die hartseer wat op hom gestapel is deur onvriendelike, onsensitiewe mense. Hoe dikwels moes hy ‘n dor hand oplig na diegene wat by hom verbygejaag het om hulle eie behoeftes aangespreek te kry, terwyl hy uitroep, “Iemand, help! Asseblief! Ek kan dit nie op my eie doen nie!”

Daar is menigtes van Christene wat geestelik hulpeloos en magteloos is, weens ‘n blywende stryd met begeertes of een of ander boesemsonde wat hulle beroof het van geestelike lewe en lewensvatbaarheid. Hulle lê hulpeloos op die bed van depressie en wanhoop en hoop altyd op ‘n wonderwerk, reik altyd uit vir liefde, wag altyd vir iemand om dinge aan te roer en iets te laat gebeur! Hulle bring hulle lewe deur om te wag vir daardie een groot lewensveranderende wonderwerk. Hulle sleep hulleself telkens na byeenkomste, na beradingsessies en seminare – en hulle vertel hulle storie van pyn en lyding oor en oor. Maar niks verander nie.

Waarom het Jesus vir hierdie gebreklike man gevra, “Wil jy gesond word?”

Sou almal in daardie treurige toestand nie genees wou word nie? Die Here het sekerlik ‘n goeie rede gehad om so ‘n deurdringende vraag te vra. Uit die vraag kan mens aflei dat die man dalk nie die wil gehad het om genees te word nie. Jesus het geweet hy was jarelank in hierdie jammerlike toestand en dat te veel pogings aangewend is om hulp te soek – maar op hierdie besonderse Sabbatdag, het Jesus vir hom gevra, “Wil jy regtig genees word?”

Daar is ‘n gevaar in langdurige pyn en lyding – en dit is om uiteindelik moed op te gee, die smart te omhels en net doen wat jy kan met dinge soos dit is. Die Puriteine het dit “omhels die pyn” genoem.

Ek het eenkeer ‘n tienerseun gekry wat in ‘n donker, rotgeïnfesteerde kelder gewoon het. Sy bed was ‘n hoop vuil vodde. Hy het soos ‘n wilde hond gelewe en hy was hopeloos verslaaf aan heroïene. Ek het hom na ons dwelmsentrum geneem, vir hom nuwe klere, ‘n skoon bed, goeie kos, baie liefde en die evangelie gegee. Hy was misrabel en het gou teruggekeer na sy kelder. Hy het later vir my gesê, “Jý sien dit as ‘n hool; vir my is dit my tuiste. Ek is gemaklik daar onder; ek het gewoond geraak daaraan. Ek hou daarvan om alleen en vry te wees. Asseblief, moenie probeer om my te verander nie.” Hy het minder as ‘n jaar later aan hepatitis gesterf.

Ek het ‘n ouerige boemelaarvrou in Greenwich Village gevra om my toe te laat om die welsyn te kontak en haar in ‘n tehuis vir haweloses te kry. Sy het in die park gebly, was baie oorgewig, siek en het so verlore gelyk. “Asseblief moenie,” het sy gepleit. “Ek was ingeneem en het ‘n kamer en ‘n bed gehad, maar ek het ellendig gevoel! Ek het op die vloer geslaap. Ek is gewoond daaraan hier buite – ek kom reg. Dankie in elk geval!”

Die Here se vraag het geïmpliseer dat die man nie gereed was om die verantwoordelikheid op te neem wat daarmee gepaardgaan om heelgemaak te wees nie. Luister na die man se onmiddellike reaksie. Eerder as ‘n blye, verwagtende, “Ja, ek wil genees word” – antwoord hy, “Here, ek het niemand” (Johannes 5:7). Ek noem dit die “niemand iemand” sindroom. “Niemand gee regtig om nie.” “Dit is iemand anders se skuld!” Dit klink of bitterheid binne-in hom opgebou het en hoewel dit alles waar was, het dit slegs die probleem bemoeilik. Hy was nie net fisiek gebreklik nie, hy het verstandelik en geestelik agteruit gegaan weens bitterheid. Ek vermoed hy het uiteindelik moed opgegee om te probeer om genees te word.

Dit is so jammer, maar waar, dat talle lydende mense nie sou kon oorleef sonder hulle hartseer en pyn nie. Ek praat nie van die “menigvuldige verdrukkinge van die regverdiges” wat ons almal soms verduur nie. Ek praat van mense wat hulle lewens rondom pyn, verdrukking en lyding bou. Hulle kla en bespreek hulle situasie so dikwels en al vir so lank, dat indien hulle genees sou word, hulle niks sou oor hê om oor te praat nie. Hulle is al vir só lank hartseer en murmurerend, dat dit ‘n verslawing geword het. As hulle genees sou word, sou dit beteken om ‘n heel nuwe manier van lewe aan te leer. Hulle sou ‘n nuwe taal van hoop moes aanleer. Hulle sou die verantwoordelikheid hê om te leer om bly te wees en ander te bemoedig.

Só, niemand gee om nie! Só, ander het jou skade gedoen! Só, dit lyk of jy meer moeilike tye, meer lyding, groter stryd as ander rondom jou het! Volgens God se Woord kan al jou lyding omgekeer word om baie eer aan die Here te bring. Wag op die Here en soek Sy Woord en die krag van die Here sal sekerlik geopenbaar word om jou onthalwe en jou verlossing kan ‘n getuienis wees oor die grootheid van die Here. Maar diegene wat weier om hulle tot God te wend, keer binnewaarts! Lyding het die potensiaal om mense te verander in grommende, selfgesentreerde kreupeles wat in selfbejammering rondrol. Hoe misrabel om saam met so iemand te lewe, omdat hulle jou liefde meet aan jou gewilligheid om voorsiening te maak vir hulle emosionele pyn.

Ek het my liewe vrou sien gaan deur lang stryd met pyn – deur kanker, deur die verwydering van liggaamsorgane, deur ‘n mastektomie. Sy was jarelank oorweldig met beide fisieke en emosionele pyn. Daar was tye dat sy op die randjie van ingee daaraan was – en in ‘n dop van gevoelloosheid te ontsnap. Maar in haar pynlikste tye, sou sy haar tot die Here wend. Sy sou ‘n heerlike belofte gegee word uit die Woord en daaraan vashou. Deur die Here te vertrou, het sy nie gevra, “Waarom ek, Here” nie, selfs na vyf operasies vir kanker. Sy het Hom kosbaar, werklik en altyd naby beleef deur dit alles heen. En dit het haar liefliker, sterker en reiner gemaak.

Hierdie man was heelgemaak omdat hy die Woord van die Here gehoorsaam het!

“Jesus sê vir hom: Staan op, neem jou bed op en loop” (Johannes 5:8). Hy mag moontlik gehoor het van Jesus; hy mag dalk opgewonde gewees het oor stories wat aan hom vertel is van Iemand wat deur hulle land gaan en genees. Hy is waarskynlik vertel van dieselfde man wat die sweep geslaan het in die tempel en al die geldwisselaars uitgedryf het. Volgens Johannes, het alles net voor sy besoek aan die bad van Betésda gebeur. Maar hierdie man het hom sekerlik nie geken nie; hy was glad nie intiem met Jesus nie. Hy het Hom nie herken nie, aangesien hy so vasgevang was in sy ongesteldheid. Maar Jesus het alles van hom af geweet! Jesus het na hóm gekom in sy ellende en smart – en genade was op die punt om voort te spruit! Jesus het hom nie ondersoekende vrae gevra nie; Hy het hom nie bestraf oor sy bitterheid of selfbejammering nie. Die geseënde Here het medelye gehad met die gevoelens van hierdie arme broer se ongesteldheid. Op hierdie stadium het Jesus geen morele vereistes gestel nie. Al wat Jesus vir hom gevra het, was om Sy Woord te glo en daarop te reageer. “Staan op! Neem jou bed! Loop – weg van hierdie toneel af!”

Later, ná sy genesing, sou Jesus hom in die tempel kry. Hy sou die Here se gebod hoor van “Moenie meer sondig nie, sodat daar nie iets ergers met jou gebeur nie” (Johannes 5:14). Hy sou Jesus leer ken en vertrou. Maar nou, waar hy hulpeloos en wanhopig by die bad gelê het, moes hy die grootste besluit van al sy pynlike jare neem. ‘n Woord van opstandingshoop het na hom toe gekom! Hy was uitgedaag: Staan op deur geloof – wees heelgemaak – sluit by die lewendes aan – of lê hier in selfbejammering en sterf stoksiel-alleen!

Wat sou gebeur het as daardie man voortgegaan het om in ongeloof langs die bad te lê, geweier het om te beweeg en gedink het. “Dit sal nie werk nie; ek was alreeds te veel kere teleurgestel. Waarom sou God my wou seën? Ek is nutteloos vir Hom; Ek is waardeloos vir almal! Waarom sou God skielik my uitkies tussen al hierdie lydende menigtes om my te genees? Dankie, Here, vir genoeg omgee om met my te praat – maar ek is bestem om te sterf in hierdie toestand.” Jesus sou hom nie kon help nie. Hy kon hom nie dwing of hom teen sy wil laat opstaan nie. Die man moes glo dat God hier aan die werk was, dat sy geroep verhoor is en dat sy tyd van verlossing aangebreek het. Nou of nooit!

Hierdie pragtige storie is ‘n ware openbaring van die liefdevolle hart van God vir almal wat ly!

“Jesus het toe geantwoord en vir hulle gesê: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, die Seun kan niks uit Homself doen tensy Hy die Vader dit sien doen nie. Want alles wat Hý doen, dit doen die Seun ook net so. Want die Vader het die Seun lief en toon Hom alles wat Hy self doen. En groter werke as hierdie sal Hy Hom toon, sodat julle verwonderd kan wees” (Johannes 5:19,20). In wese, het Jesus vir die Fariseërs gesê, “My Vader wou hom gesond hê, so Ek het hom genees. Ek doen slegs wat my Vader wil hê.” Dit was God se wil, God se liefde – God se begeerte om hierdie man heeltemal gesond te maak. Dit is so moeilik wanneer jy neerslagtig en swak is om te glo dat God jou steeds liefhet! Wanneer jare verkwis is, wanneer sonde jou liggaam en siel kreupel gemaak het, wanneer jy nutteloos en onbehaaglik voel vir God en jy wonder waarom Hy steeds omgee – dit is dan wanneer dit ‘n kinderlike geloof verg om daardie liefde te aanvaar en uit te stap in geloof en te sê, “Here – op U woord alleen sal ek opstaan – en uit hierdie verlammende swakheid opstaan – en saam met U wandel!”

Jy hoef nie ten volle al die leerstellinge oor bekering, sonde en heiligheid te verstaan nie. Jy mag Jesus dalk nie eens ken op enige diep en betekenisvolle manier nie! Maar daar is tyd daarvoor; dit sal alles bekend gemaak word as jy die eertste stap van gehoorsaamheid neem en opstaan en jou tot die Here bekeer. “As iemand gewillig is om sy wil te doen, sal hy aangaande die leer weet” (Johannes 7:17).

Ek glo God se groot liefde en barmhartigheid word geopenbaar in reaksie op ‘n roepstem vanuit die hart – nie net enige roepstem nie – maar ‘n roepstem tot die Here, ‘n roepstem vir verlossing, ‘n roepstem van nederigheid en hulpeloosheid. Ek glo Jesus het na die man gekom in antwoord op ‘n diepe en pynlike hartsgeroep tot die Vader. Die Bybel het baie te sê oor hierdie hulpgeroep van die hart. “Toe ek benoud was, het ek die HERE aangeroep, en ek het tot my God geroep om hulp; Hy het my stem uit sy paleis gehoor, en my hulpgeroep voor sy aangesig het in sy ore gekom” (Psalm 18:6). “Hy het hulle baiekeer gered; maar hulle was wederstrewig in hulle voorneme. So het hulle dan weggesink deur hulle ongeregtigheid. Nogtans het Hy hulle behoudheid aan gesien toe Hy hulle smeking gehoor het” (Psalm 106:43,44). “Die wat dwase was vanweë die weg van hulle oortreding en weens hulle ongeregtigheid gepynig is – hulle siel het ‘n afsku gehad van elke soort voedsel, en hulle het tot by die poorte van die dood gekom. Toe het hulle die HERE aangeroep in hulle benoudheid; uit hul angste het Hy hulle verlos. Hy het sy woord uitgestuur, dat Hy hulle kon gesond maak en hulle uit hul kuile red. Laat hulle die HERE loof om sy goedertierenheid en om sy wonderdade aan die mensekinders!” (Psalm 107:17-21). Jy kan seker weet dat ‘n hulpgeroep tot God vanuit die hart verhoor sal word deur die voortspruiting van ‘n genesende woord uit die hemel!

Niemand is té ver heen, té goddeloos of té hopeloos – as daar na God uitgereik word in Nederigheid nie. Die storie van die goddelose Koning Manasse bewys dit! Die Bybel stel hom voor as een van die mees goddelose Konings van Israel. Hy is die soort afvallige, geestelik magtelose mens. Wat ‘n ontsaglike goddelose man was hy. “En hy het gedoen wat verkeerd was in die oë van die HERE, volgens die gruwels van die nasies wat die HERE voor die kinders van Israel uit verdrywe het. En hy het die hoogtes weer gebou wat sy vader Hiskía verniel het, en altare opgerig vir Baäl en ‘n heilige boomstam gemaak, soos Agab, die koning van Israel, gemaak het, en hom gebuig voor die hele leër van die hemel en hulle gedien...ook sy seun deur die vuur laat deurgaan en met goëlery en verklarings van voortekens omgegaan en dodebesweerders en waarsêers aangestel; hy het baie gedoen wat verkeerd was in die oë van die HERE om Hom te terg...Maar hulle het nie geluister nie; en Manasse het hulle verlei om meer kwaad te doen as die nasies wat die HERE voor die kinders van Israel uit verdelg het…Omdat Manasse, die koning van Juda, hierdie gruwels gedoen het—erger as alles wat die Amoriete gedoen het wat voor hom was, en selfs Juda laat sondig het deur sy drekgode — daarom, so sê die HERE, die God van Israel: Kyk, Ek sal ‘n onheil oor Jerusalem en Juda bring, waarvan elkeen wat dit hoor, se twee ore sal tuit. En Ek sal oor Jerusalem die meetsnoer van Samaría span en die skietlood van die huis van Agab, en Jerusalem wegvee soos ‘n mens ‘n skottel uitvee: hy vee dit uit en keer dit onderstebo...En Manasse het ook vreeslik baie onskuldige bloed vergiet totdat hy Jerusalem van end tot end daarmee gevul het, behalwe sy sonde waarmee hy Juda laat sondig het om te doen wat verkeerd was in die oë van die HERE” (2 Konings 21:2-16). “Maar Manasse het Juda en die inwoners van Jerusalem verlei om meer kwaad te doen as die nasies wat die HERE voor die kinders van Israel uit verdelg het. En die HERE het met Manasse en met sy volk gespreek, maar hulle het nie geluister nie” (2 Kronieke 33:9,10).

Kan God steeds so ‘n goddelose man liefhê en vergewe? Is daar hoop vir een wat so ver van God afwyk, so besete is deur goddeloosheid en duisternis? Ja! As hy God sou soek, homself sou verneder en hom bekeer en dinge regmaak.

Uiteindelik beland hy geboei met kettings as ‘n gevangene in Babel. Wat ‘n duidelike beeld van die loon van sonde, of wat gebeur wanneer die Here verlaat word en Satan inbeweeg. Hy word op die ou end so hopeloos, net soos die man wat by die bad lê. Maar in sy verdrukking het hy uitgeroep en God het hom verhoor, vergewe en herstel.

God het ‘n man vergewe en genees wat ek baie moeilik vind om te vergewe vir wat hy gedoen het. “Maar in sy benoudheid het hy die aangesig van die HERE sy God om genade gesmeek en hom diep verootmoedig voor die aangesig van die God van sy vaders en tot Hom gebid; en Hy het hom verhoor en na sy smeking geluister en hom na Jerusalem in sy koningskap teruggebring. Toe het Manasse erken dat die HERE God is….En hy het die vreemde gode en die afgodsbeeld uit die huis van die HERE verwyder, ook al die altare wat hy op die berg van die huis van die HERE en in Jerusalem gebou het, en dit buitekant die stad gegooi...En die verdere geskiedenis van Manasse en sy gebed tot sy God en die woorde van die sieners wat tot hom gespreek het in die Naam van die HERE, die God van Israel, kyk, dit is in die Geskiedenis van die konings van Israel. En sy gebed en hoe hy verhoor is en al sy sonde en sy ontrou en die plekke waar hy hoogtes gebou en die heilige boomstamme en gesnede beelde opgerig het voor sy verootmoediging, kyk, dit is beskrywe in die Geskiedenis van Hósai” (2 Kronieke 33:12-19).

Die woord van hoop, vergifnis, genade, liefde en herstel het na jou gekom deur hierdie boodskap. Roep hardop uit! Luister na sy Woord, bekeer jou, staan dan op – wandel saam met die Here – en word heelgemaak!