Die Elia Geselskap

David Wilkerson

Die Ou Testament sluit af met hierdie verstommende profesie van Maleági: “Kyk, Ek stuur julle die profeet Elia voordat die groot en vreeslike dag van die HERE aanbreek. En hy sal die hart van die vaders terugbring tot die kinders, en die hart van die kinders tot hulle vaders, sodat Ek nie hoef te kom en die land met die banvloek tref nie” (Maleági 4:5,6).

Hierdie profesie was in ‘n groot mate vervul met die bediening van Johannes die Doper. ‘n Engel het aan Sagaria verskyn en geprofeteer dat sy seun Johannes baie tot die Here sou bekeer en “hy sal voor Hom uit gaan in die gees en die krag van Elia, om die harte van die vaders terug te bring tot die kinders en die ongehoorsames tot die gesindheid van die regverdiges, om vir die Here ‘n toegeruste volk te berei” (Lukas 1:16,17).           

Jesus het van Johannes die Doper aan Sy dissipels gesê, “En al julle dit wil aanneem: hy is Elia wat sou kom” (Matthéüs 11:14). Hy het bygevoeg, “Wie ore het om te hoor, laat hom hoor” ( Matthéüs 11:15). Ek glo Jesus het hulle gevra om die geestelike betekenis van Johannes se koms te sien soos geprofeteer, in die gees en krag van Elia.

Johannes self het heftig ontken dat hy Elia was wat uit die dood opgewek is. Toe die Jode hom reguit gevra het, “Is u Elia?” het Johannes geantwoord, “Ek is nie...Ek is die stem van een wat roep in die woestyn: Maak die pad van die HERE reguit! soos, Jesaja, die profeet gesê het” (Johannes 1:21-23). Dit is waarom Jesus vir Sy dissipels gesê het dat slegs geestelike oë en ore sou kon verstaan – dat Johannes die Doper van dieselfde bedieningsvorm was as Elia, die profeet. Johannes was ‘n verkondiger van geregtigheid, net soos Elia, gestuur om ‘n volk op te wek tot ‘n reguit en smal weg van heiligheid.

Johannes, gesalf met dieselfde vreeslose Gees en krag wat op Elia was, het uitgevaar teen die sondes van ongehoorsame, gierige en plesierliefhebbende Jode. Christus sou binnekort verskyn en hierdie magtige man van waarheid het skielik op die toneel gekom om ‘n volk vir die Here voor te berei. Hierdie woestynprofeet was gestuur om die harte van die mense te laat terugkeer, wat die beste definisie van bekering is. Johannes het bekering, restitusie, reinheid van hart, geregtigheid en ‘n praktiese wandel van heiligheid verkondig wat ooreenstem met ‘n openlike belydenis van sonde.

‘n Elia Geselskap in hierdie laaste dae

Ek glo die profeet Maleági, sowel as ander Ou Testament profete, praat van ‘n geselskap van heilige mense wat opgewek sal word net voor Christus se tweede koms, wat ook in dieselfde bedieningsvorm van Elia sal wees. Dit is, hulle sal bedien met dieselfde Gees en krag wat op Elia en Johannes die Doper gerus het.

Ek glo die wederkoms van Christus is sekerlik “die groot en vreeslike dag van die HERE,” waarvan Maleági praat. Vreeslik betreffende die toorn van God oor die goddelose en ongehoorsames. Die Hebreeuse stamwoord wat hier gebruik word, is YARE, wat beteken, om bang te maak, om te verskrik. Daar kom werklikwaar ‘n dag wanneer die goddelose sal uitroep vir die rotse en die berge om op hulle te val, “Val op ons en verberg ons vir die aangesig van Hom wat op die troon sit, en vir die troon van die Lam” (Openbaring 6:16). Maar voor daardie vreeslike dag kom, het die Heilige Gees ‘n luide en duidelike stem dwarsdeur die aarde – ‘n Elia geselskap van heilige, geheiligde, onderskeidende heiliges wat vreesloos waarsku teen sonde, geregtigheid en dreigende oordeel.

Hierdie laaste-dag Elia geselskap van gelowiges sal ag gee op die profesie van Jesaja, “Roep uit die keel, hou nie terug nie, verhef jou stem soos ‘n basuin! En verkondig aan my volk hulle oortreding en aan die huis van Jakob hulle sondes” (Jesaja 58:1). Dit is die wagte op die mure, “wat gedurigdeur die hele dag en die hele nag nie sal swyg nie. Julle wat die HERE herinner aan sy beloftes – moenie rus nie en laat Hom nie met rus nie, totdat Hy Jerusalem bevestig en maak tot ‘n lof op aarde” (Jesaja 62:6,7).

Die ware Elia geselskap soek nie ‘n aardse koninkryk nie, want hulle, soos Abraham, sien uit na ‘n stad wie se bouer en maker God is. Hulle is gebore in die hemelse Jerusalem wat die moeder van al die ware verlostes is. Sion is ‘n heilige volk gereed gemaak soos ‘n bruid wat versier is. “En hulle sal genoem word: die heilige Volk, die verlostes van die HERE; en jy sal genoem word: die begeerde, die stad wat nie verlaat is nie” (Jesaja 62:12).

Hoe blind het die godsdienstige skrifgeleerdes van ons tyd geword deur te fokus op een of ander herkonstrueerde Joodse tempel. Ons Here is besig om Sion te bou sedert Hy aarde toe gekom het as God in die vlees. Nou is die Heilige Stad reeds amper klaar en binnekort sal die poorte gesluit word. Geen diereoffers meer nie, geen aardse tempel met hande gemaak meer nie, geen koninkryk wat van die wêreld is meer nie. Die Elia geselskap is ‘n heilige volk en sit op hierdie oomblik saam met Christus in hemelse plekke. Op hierdie oomblik heers Christus oor hulle as ‘n absoluut soewereine heerser en koning. Hulle is losgemaak van hierdie wêreld en is totaal toegewy aan hulle Here.

Hulle is ‘n woestynvolk na wie die Woord van die Here gekom het.

Ek wil uitroep elke keer as ek hierdie woorde lees – “Tydens die hoëpriesterskap van Annas en Kajafas, het die Woord van God gekom tot Johannes, die seun van Sagaria, in die woestyn” (Lukas 3:2).

Die Heilige Gees het die hele godsdienstige stelsel omseil, die rabbiniese skole, die opgeleide Fariseërs en skrifgeleerdes, en selfs die hoogste amptenare in die kerk – en Hy het die ware woord gestuur na ‘n man van God wat afgesonder was in die woestyn. Die woord het gekom tot Johannes, ‘n man buite alle godsdienstige liggame van daardie dag, na ‘n man opgelei deur die Heilige Gees alleen. Die godsdienstig belangrike mense, daardie vroom kerkamptenare, het nie ‘n enkele woord van die Here gehad nie. Hulle kon vir ure dreun en dooie Skrif uitlê – maar hulle het niks vars en lewegewend van die troon van God gehad nie.

Maar Johannes! Hy was nie materialisties nie, maar afgesonder, met God verteer, en het een visioen gehad – die koms van Christus! Hoe moes sy hart gebrand het in die wildernis terwyl hy van daardie Ou Testament profeet Elia gelees het. Johannes het in die woestyn voor die Here gestaan, het Sy regverdige weë geleer, sy hart gereed gemaak om onwrikbaar te wees teen ‘n korrupte en goddelose samelewing. Johannes se bediening is ‘n bewys dat niemand moet aanspraak maak dat hy vir God praat, of sonde veroordeel nie, tensy hy waarlik die woord wat van God af kom, het.

So was dit met Elia. Hy het skielik op die toneel verskyn te midde van Israel se donkerste uur van goddeloosheid en losbandigheid. Agab het nie net die goddelose Isébel geneem om sy vrou te wees nie, hy het ook “nog meer gedoen om die HERE, die God van Israel, te terg as al die konings van Israel, sy voorgangers” (1 Konings 16:33).

Uit die wildernis van Gilead het Elia die Tisbiet gekom om goddelose Agab en afvallige Israel te konfronteer. Wat ‘n kragtige woord van God het hierdie profeet ontvang. Hy het uitgevaar, “So waar as die HERE, die God van Israel, leef, voor wie se aangesig ek staan, daar sal geen dou of reën in hierdie jare wees nie, behalwe op my woord! Toe kom die woord van die HERE tot hom” (1 Konings 17:1,2).

Dit is die bedieningsvorm van die Elia geselskap – die Here leef – voor wie ek staan! Dit spreek van ‘n volk wat afgesonder is met God in die skool van Christus – ‘n liggaam opgewekte heiliges wat weier om besmet en mislei te word deur die leringe en tradisies van ongeestelike en selfgesentreerde leraars en egosentriese herders. Hulle het meestal moed verloor om ‘n ware woord te kry van die godsdienstig hierargie wat gebind is deur eng denominasionele leringe. Hulle het hulleself bevind in ‘n wildernis van verwarring, smagtend na ‘n sielversadigende woord wat getuienis sou hê in die innerlike mens dat dit deur God gestuur was. Daarom het hulle direk na God se Heilige Skrif gegaan om die waarheid te soek. Watter heerlike verligting om vir ‘n tyd lank alle bandopnames af te skakel, alle boeke en literatuur eenkant te laat lê en af te sonder met die Skrif. Hulle het geween, hullle het na waarheid gesoek asof na ‘n onskatbare pêrel. Hulle het die verstommende weë van Jeremia, Esegiël, Jesaja en al die ander profete gehoor – en God se toorn teen sonde en afvalligheid was aan hulle geopenbaar. Hulle het iets geleer van die karakter van God – Sy genade vir die wat hulle bekeer en gehoorsaam is, asook Sy verontwaardiging teen skynheiligheid en meng met die wêreld. En omdat hulle voor God staan, weg van al die skreeuende stemme, het die woord van die Here na hulle gekom met krag en verterende vuur.

Jeremia het behoort aan die Elia geselskap wat voor die Here gestaan het om die ware woord te ontvang. God het vir hom gesê, “As jy terugkeer, sal Ek jou laat terugkeer, sal jy voor my aangesig staan; en as jy voortbring wat edel is, en niks onedels nie, sal jy soos my mond wees...En Ek sal jou ‘n onneembare kopermuur vir hierdie volk maak; en hulle sal teen jou veg, maar jou nie oorweldig nie...want Ek is met jou om jou te verlos en om jou te red, spreek die HERE” (Jeremia 15:19,20).

Onderskeiding – kosbare, noodsaaklike onderskeiding – dit is wat God uitstort op Sy Elia geselskap waar hulle voor Hom staan – buite die kamp – en God se volk die verskil wys tussen die kosbare en die slegte. Die regverdiges is nie trots of arrogant nie – maar eenvoudig so dapper soos ‘n leeu. Hulle verlustig hulle nie in boesemsondes nie, en daar is geen verborge donker plek binne-in hulle nie – en hulle wandel in die vrees van God met die geestelike gesag van Elia. Hulle kom uit die teenwoordigheid van die Here om die regverdige oordele te verkondig van ‘n heilige God teen die sondes van leiers en van die afgodedienaars wat gerus is in Sion. Hulle het ‘n geskiedenis met die Here opgebou, en het ‘n geoefende geestelike verstand, in staat om te onderskei wat van God af is en wat van die vlees af is.

Hulle word “Beroerders” genoem

 Hulle is beroerders wat afvallige godsdienstig leiers en verdorwe Christene kwaad maak. Hulle word gehaat soos Jesus toe Hy teen hulle getuig het dat “sy werke boos is” (Johannes 7:7).

Agab het uitgegaan om Elia op ‘n bepaalde tyd te ontmoet en het spottend gevra, “Is dit jy, jou beroerder van Israel?” (1 Konings 18:17). Verbeel jou hierdie korrupte maat van Isébel wat hierdie heilige profeet beskuldig dat hy tweedrag, moeilikheid en twis onder God se volk veroorsaak. Hy was te verblind deur sy sondes om die profetiese stem van God te herken – vir hom was Elia niks meer as ‘n beroerder nie.

Elia sou nie bewe voor sy gees van wederstrewigheid en hardkoppigheid nie. Hy het Agab dapper in die oë gekyk en geantwoord, “Ek het Israel nie in beroering gebring nie, maar u en u familie, deurdat u die gebooie van die HERE verlaat het en agter die Baäls aan geloop het” (1 Konings 18:18).

Wie is die ware beroerders, diegene wat werklik tweedrag veroorsaak in die huis van God vandag? Dit is nie die Elia geselskap wat sug en uitroep teen die gruwels van die kerk nie. Dit is nie diegene wat sonde ontbloot en getuig teen die goddelose dade van godsdienstige leiers en diegene wat gerus is in Sion nie. Alle tweedrag word veroorsaak deur kompromie! Alle beroeringe in God se huis is die gevolg van afvalligheid en ongehoorsaamheid aan die Here se gebooie. “Want waar afguns en selfsug is, daar is wanorde en allerhande gemene dade” (Jakobus 3:16).

Paulus waarsku die broeders, “hou hulle in die oog wat tweedrag en aanstoot veroorsaak...en vermy hulle” (Romeine 16:17). Maar wie was hierdie wat “aanstoot veroorsaak teen die leer wat julle geleer het”? Hulle was niemand anders nie as ‘n selfgesentreerde afvallige groep onder hulle wat “hulle eie buik” dien (vs 18). Dit bewys dat tweedrag veroorsaak word deur die trotses en arrogantes wat voorsiening maak vir eiebelange. Paulus het gesê, “Hulle verlei deur hul vriendelike en mooi woorde die harte van die eenvoudiges” (vs 18). Daardie predikers wat sag is op sonde en die goddelose dade in God se huis oorsien en uitroep vir eenheid, is die werklike tweedragsaaiers. Hulle lei talle in ‘n valse liefdestrik. Die ware liggaam van Christus was nog nooit en sal nooit verdeeld wees nie. Diegene in heilige eenheid met Christus is reeds in eenheid met mekaar. Sonde is die verdeler!

Paulus en Silas was voor die magistrate van die stad van Filippi gebring, omdat hulle daarvan beskuldig was dat hulle die stad “in opskudding” gebring het (Handelinge 16:20). Hulle was geslaan en in die tronk gegooi as gevolg van die OPSKUDDING wat hulle veroorsaak het. Wat was hierdie verskriklike groot opskudding? Paulus en Silas het ‘n waarsêersgees uit ‘n vrou wat “vir haar eienaars deur waarsêery groot wins ingebring het...En toe haar eienaars sien dat die hoop van hulle wins weg was, het hulle Paulus en Silas gegryp en hulle na die mark voor die owerheid gesleep” (Handelinge 16:16-19).

Wanneer eiebelang bedreig word op enige manier, gaan die oproep uit, “Beroerders! Tweedrag! Bedreiging vir eenheid!” Paulus en Silas het ‘n godsdienstige bedrogspeletjie aan die kaak gestel – ‘n demoniese misleiding onder die dekmantel van godsdiens. Dit was ‘n baie winsgewende skema vir ‘n paar uitverkorenes wat geweet het hoe om skares sonder onderskeidingsvermoë te manipuleer. Wat het die oproep aangeroer, “Verdeeldheid”? Dit was ‘n herlewing van reiniging. Diegene wat Paulus en Silas beskuldig het van tweedrag saai, het bedekte motiewe gehad en hulle het geweier om gehoor te gee aan die oproep om hulle te bekeer en in heiligheid te wandel.

God, gee ons meer beroerders van Israel wat nie bang is om op te staan teen godsdienstige skynheiligheid en ongehoorsaamheid nie! Die Elia geselskap het niks gehad om te verloor nie, omdat hulle reeds “die berowing van julle goed met blydskap aangeneem” het. Dit is ‘n veragte weg – ‘n pad van verwerping, eensaamheid en diepe goddelike hartseer. Dag na dag openbaar die Heilige Gees meer en meer van God se hartseer oor die sondes van sy kinders. Dit kom voor asof Christus self deur jou oë ween oor die gebrek aan heiligheid, waarheid en onderskeiding in die kerk. En hoe meer tyd deurgebring word om voor die Here te staan, hoe duideliker word die boodskap wat kom, totdat ‘n vuur in jou geestelike bene brand en “wee my as ek stilbly.”

‘n Woord van waarskuwing

Die ware Elia geselskap is nie ‘n verwoestingspan wat rondgaan en diegene wat nie opweeg teen hulle konsep van heiligheid en reinheid, vloek en dreig nie. Baie skade word gedoen in kerke vandag deur pseudo-profete wat rondgaan en bedienaars en gemeentelede roskam en vir hulle preek oor wat genoem word, “’n openbaring van God omtrent iets in jou lewe.” Ek word soms oorstroom met sulke openbarings en profesieë. Een so ‘n “profetes” het gewaarsku dat my lewe in gevaar is as ek teruggaan na New York Stad toe om te bedien. Ek het haar vriendelik vertel dat ek reeds dood was vir hierdie wêreld en dat dit ‘n groot eer sou wees indien dit sou gebeur. Ek was gevloek, gedreig, tereggewys en veroordeel deur baie opregte, oorywerige selfaangestelde profete en profetesse. Ek ontvang rieme profesieë – en almal van hulle begin met “So sê die Here.” Sommige daarvan getuig in my hart dat God werklik gespreek het, maar baie daarvan is betekenisloos.

Elia se haat vir die sondes van Israel spruit uit sy baie groot liefde vir God se volk. Hy was nie ‘n mensehater nie – slegs ‘n sondehater. Hy was nie ‘n man van wraak nie, maar liewer ‘n man wie se hart gesmag het na Israel se terugkeer na die Here. Om die Gees en krag wat op Elia was, te verstaan, moet jy sy hartverskeurende geroep op Berg Karmel hoor, “Antwoord my, HERE, antwoord my, sodat hierdie volk kan erken dat U, HERE, God is, en dat Ú hulle hart tot U laat terugkeer...Daarop het die vuur van die HERE neergeval...En toe die hele volk dit sien, het hulle op hul aangesig geval...” (1 Konings 18:37-39).

Elia was glad nie geïnteresseerd om bekragtig te word as ‘n profeet nie. Hy wou slegs die eer van God herstel sien en die afvalliges in hart laat “terugkeer na die Here.” Ware profete, hoewel hulle so ongenaakbaar teen sonde mag klink, is in hulle harte genadig, vriendelik en geduldig. En wanneer hulle ware Bybelse bekering sien, is hulle bouers en restoureerders van oortredings.

Ek wil vir die rekord sê, dat ek glo dat daar vandag ‘n Elia geselskap van ware herders bestaan. Nie alle predikers is afvallig of selfdienend nie. Ek hoor van ‘n toenemde aantal heilige herders wat seergemaak en verwerp is deur onbedagsame skape. Sommige word letterlik uit hulle kerke uitgedryf omdat hulle heilige standaarde verkondig. Maar die wreedste van alles, is die sogenaamde profesieë en veroordelings van harde “profetiese stemme” wat geen genade of verlossende kwaliteite in hulle het nie.

As jy ooit ‘n “profeet” hoor wat vloeke oor enigeen spreek – kan jy seker wees hy wandel nie in die Gees van Christus nie. Hy is dikwels ‘n trotse, selfverklaarde Elia, vol arrogansie en begeerte. Die Woord sê baie duidelik, “Seën en moenie vervloek nie” (Romeine 12:14). Diegene wat rondgaan en praat van vervloek, behoort te bewe oor hierdie waarskuwings: “Ja, hy het die vloek liefgehad en – dit het oor hom gekom; en hy het geen welbehae gehad in die seën nie en – dit het ver van hom af gebly. Hy het die vloek aangetrek soos ‘n kleed en – dit het soos water in sy binneste gekom en soos olie in sy gebeente” (Psalm 109:17,18).

In die lig hiervan, as een wat homself beskou as ‘n profeet probeer om jou te vervloek, doen soos wat Jesus beveel het en “seën die wat vir julle vervloek” (Matthéüs 5:44). Glimlag en loop weg sonder vrees, omdat hulle vloeke skadeloos is, behalwe vir hulleself.

Die Elia geselskap is ‘n wenende volk – en enige profetiese boodskap wat van hulle lippe af kom, is gewas in trane. Hulle het ‘n kykie na die ontsaglike heiligheid van Christus gekry en hulle eie vorige sondes het hulle verpletter. Nou, in gebrokenheid en goddelike berou, wandel hulle in bekering – hulle verkondig dit en sal nooit wegdeins om God se volk op hulle afvallighede te wys nie. Hulle weier om sonde oor te sien en hulle vrees geen mens of duiwel wanneer dit kom by die opstaan vir die eer van Christus nie.

Die woord wat na die Elia geselskap kom, is Christus-gesentreerd!

Jesus het vir Petrus, Jakobus en Johannes op ‘n hoë berg geneem en was voor hulle verheerlik. Skielik het Elia en Moses verskyn en hulle “was in gesprek met Jesus” (Markus 9:2-4). Lukas sê vir ons hulle het “van sy uitgang gespreek wat Hy in Jerusalem sou volbring” (Lukas 9:31).

Petrus het pas uit die slaap wakker geword en “hy het nie geweet wat hy sê nie,” en het uitgeblaker, “Meester, dit is goed dat ons hier is; laat ons dan drie hutte maak, een vir U en vir Moses een en een vir Elia” (Lukas 9:33). En selfs terwyl hy hierdie woorde gespreek het, was hulle oordek met ‘n wolk wat hulle laat bewe het. “En daar kom ‘n stem uit die wolk wat sê: Dit is my geliefde Seun; luister na Hom. En nadat die stem gekom het, was Jesus daar alleen...” (Lukas 9:35,36).

God het ‘n verklaring vir Sy kerk gemaak wat nie verkeerd geïnterpreteer moet word nie. Hy het vir Petrus en vir almal wat ore het om te hoor, gesê, “Geen Joodse tempel met sy mure van skeiding meer nie, geen onderskeid tussen Jood en heiden meer nie, geen bloedvergieting van bulle en bokke meer nie – dit gaan nou alles oor Christus! Geen teruggaan na tipes en skadu’s meer nie; Christus, die werklikheid het gekom! Geen geboue gemaak met hande meer nie, geen aardse koninkryk en ‘n aardse Jerusalem meer nie, geen bou op Moses meer nie – die huis behoort nou aan Christus! Geen futurisme meer nie – die koninkryk is nou – nie een of ander Joodse duisendjarige eeu nie, maar Christus is nou Koning. Nou regeer en heers Hy in die harte van Sy dienaars. Elia se profesieë is vervul; My Seun is die bouer van die huis van Dawid wat omgeval het. Die koninkryk het gekom; Christus Jesus is die tempel; Hy bou nóú al Sy heilige stad – luister na Hom!”

Wat ‘n beeld! Moses en Elia verdwyn en daar staan Jesus alleen! En God se mandaat het in hulle ore gelui, “Luister na Hom!” Wat beteken dit vir die Elia geselskap van hierdie laaste dae?

Ek glo die onderskeidende kenmerk van die Elia geselskap vandag is: Hulle het oë om te sien – ore om te hoor – en ‘n rein hart om alles te gehooraam wat die Here gespreek het. Daar is ‘n heilige volk wat nou opgewek word wat die eise van Christus hoor, hulle gryp Sy kosbare gebooie vas, en hulle behae is in die Wet van die Here.

Al die profete het hierdie dag gesien en geprofeteer van die bymekaarmaak van ‘n afgesonderde heilige volk wat groot begrip sou hê vir die Woord van die Here. Daniël het groot dinge van God gehoor, maar “nie verstaan nie” (Daniël 12:8). Maar hy het ‘n dag sien kom waarop ‘n gereinigde, beproefde en getoetste oorblyfsel sou verstaan. Dit is ‘n laaste-dag geselskap wat wysheid en onderskeiding in die dinge van God het. “Baie sal gereinig en gesuiwer en gelouter word, maar die goddelose sal goddeloos handel; en geeneen van die goddelose mense sal verstaan nie, maar die verstandiges sal verstaan” (Daniël 12:10).

Jesaja het die geestelike blindheid van afvallige Israel verafsku. Hy het gesê, “...hulle waggel...hulle wankel as hulle gesigte sien, hulle waggel by die regspraak” (Jesaja 28:7). Die bietjie onderskeiding wat hulle eens gehad het, was vernietig deur hulle begeertes. Maar Jesaja het geprofeteer van ‘n dag waarop “die dowes Skrifwoorde hoor, en uit donkerheid en duisternis sal die oë van blindes sien...sal hulle my Naam heilig; ja, hulle sal die Heilige van Jakob (Christus) heilig en vir die God van Israel met ontsag vervul wees; en hulle wat dwalende van gees is, sal insig verkry, en die murmureerders sal lering aanneem” (Jesaja 29:18-24).

Ek glo die laaste-dag herlewing wat soveel verkondig, ‘n herlewing van reiniging is. As dit die werk van die Heilige Gees is om die wêreld van sonde, geregtigheid en oordeel te oortuig – dan is dit seker dat daar in ‘n groot Heilige Gees uitstorting oor die mensdom, kragtige golwe van oortuiging van sonde sal wees en ‘n sorgelose, bedorwe kerk geskud en geforseer sal word om hulle sondes te erken.

Terwyl menigtes Christene agter tekens en wonders aanjaag – en vir hulleself leraars van sukses en voorspoed versamel – en ander saamdrom om die sussende preke van die skarebehaers te hoor – roep God ‘n “woestynvolk” wat uit Babel uitgekom het en verteer word met ‘n honger vir meer van Christus. Hulle kan nie langer saam meer die ongebondes, die plesierliefhebbers en die slapendes lewe nie. Terwyl die blindes die blindes lei, is húlle oë op Christus alleen gefokus en hulle hele liggaam is vol lig – wat Heilige Gees onderskeiding is.

O ja – daar kom ‘n tans ‘n glorieryke Elia geselskap na vore in die land! Ek hoor daagliks van baie van hulle – en hoe seën hulle my hart. Eendag het God net begin om hulle harte aan te roer. Hulle het ontnugter geword met al die skynheiligheid en skande. Hulle het die Woord van God begin bestudeer en self gesien wat Sy uiteindelike planne is, hulle het hulle afgodery en halfhartighed gestaak, hulle het die dade van die vlees gekruisig. Hulle het Christus se mantel van geregtigheid en vryspraak deur geloof aangetrek, hulle het hulle onderwerp aan die eise van Christus, hulle het besluit om alleen te lewe indien nodig, om totaal aan Hom gehoorsaam te wees. Hulle het sonde begin verafsku en het vol geword van die Here se ywer teen goddeloosheid. Hulle het hulleself daarop toegespits om te hoor en te verstaan wat die Here se wil is. Hulle het dinge in die Gees begin sien en was gemaak om te verstaan dat die einde van alle dinge naby is. Aan diesulkes, kom die Woord van die Here!

En daardie boodskap word hard en duidelik verkondig – “Christus kom! Christus moet ‘n rein en vlekkelose bruid hê, gereed en versier! Bekeer jou, want die dag van die Here is naby! Laat staan elke boesemsonde en rig jou liefde op die dinge daarbo! Vlug vir Babel! Kom weg van die kompromiemakers af – moet geen deel aan hulle hê nie. Moenie deelgenote wees van die koninkryke en drome van mense nie. Laat staan dit alles en gaan uit om Hom te ontmoet. Dit is middernag – kyk, Hy kom!”

Die Elia geselskap sal voortgaan met genoeg olie – die olie van toewyding aan Christus! Hulle lampe sal helder brand, en dit sal hulle pad verlig en alle struikelblokke openbaar.