Besit Neem van Christus

David Wilkerson

Ek is oortuig dat baie wat hulleself Christene noem, nie tot die einde toe sal volhard nie. Dit word verkondig dat die liefde van baie sal verkoel en sterf as gevolg van eksplosiewe goddeloosheid. Ander sal afvallig word van die waarheid en agter valse leraars en profete aanhardloop wat vir hulle selfsugtige begeertes voorsiening maak en hulle mislei. Daar sal diegene wees wat verlei word deur leerstellinge van duiwels, geestelik blind sal word en op die ou end oorgegee wees aan onbetroubare gedagtes.

As Jeremia die profeet vandag gelewe het, sou hy ontsteld gewees het om so baie louwarm, sonde-liefhebbende, ontroue Christene te sien – wat so roekeloos lewe aan die heel einde van die tyd. Hy sou ween; hy sou treur; en hy sou uitroep, “As jy met voetgangers loop, maak hulle jou moeg: hoe sal jy kan wedywer met die perde? En in ‘n land van vrede voel jy jou veilig: hoe sal jy dan maak in die pronkbosse van die Jordaan?” (Jeremia 12:5).

Die profeet se boodskap is “Tot nou toe, was dit ‘n voetresies – maar nou kom die perderuiters van die Apokalips. As jy moeg en sorgeloos is in ‘n tyd van vrede en voorspoed – as jy nie met God kan wandel wanneer daar geen vervolging is nie – wat gaan jy doen wanneer die sataniese vloed van sonde en vervolging instroom?”

Ek dank God dat ons hoor van so baie wat reageer op ons geskrewe boodskappe. ‘n Honger na God neem toe; daar is wonderlike getuienisse van hoe die Gees van God die soekers opwek vir ‘n lewe van heiligheid; daar is ‘n groot toename van geestelike onderskeiding; baie verlaat afgode, dooie kerke en valse leerstellinge. Ons verwonder ons aan die ontsaglike verandering wat ons net in die afgelope jaar gesien het, waar so baie vir ons vertel hoe die Here hulle deur louterende vure bring. Onder hulle is vele bedienaars van alle gelowe wat ontslae raak van sonde in hulle lewens en wat nou ween vir hulle skape en preek met die ware las van die Here. Vir dit alles, gee ons die Here al die eer. Ons is egter bedroef in die hart omdat diegene wat hulle tot die Here bekeer met alles wat in hulle is, net ‘n veragte oorblyfsel verteenwoordig. Die meeste Christene en herders sluit die geluid van die basuin uit en ignoreer die geroep van die wagte. Die geestelike blindheid van die kerkgaande massa’s moet vir God ondraaglik word, omdat Hy gekies het om te vinnig en openlik op te tree om Sy volk te oordeel. Die Verlosser kom skielik na Sion, met groot verontwaardiging, en Hy sal nie Sy hand van oordeel onttrek totdat elke enkele geldwisselaar en dief uit Sy huis gedryf is nie. Ons het slegs die begin van Sy ontsaglike oordele gesien kom oor die valsheid, die leuens, die misleidings en die verdraaiings van Sy evangelie. DIE SKUDDING HET PAS BEGIN! “Want die tyd is daar dat die oordeel moet begin by die huis van God. En as dit eers by ons begin, wat sal die einde wees van die wat aan die evangelie van God ongehoorsaam is?” (1 Petrus 4:17).

“Waar het ons herders misluk?”

‘n Herder het met goeie bedoelings geskryf, “Jy praat van die mislukkings van herders, maar jy vertel ons nie waar ons misluk nie; ek vra met liefde dat jy dit met waarheid sal ondersteun.” Die waarheid is dat ons as bedienaars nie bly by die een doel om die prys van ware dissipelskap by gelowiges in te skerp nie. Jesus stel ‘n paar baie ernstige, onkompromitterende eise op diegene wat Hom sou volg en Sy heilige Naam bely.

Daar is nie genoeg waarskuwings vanaf ons kansels nie en te veel ego en hoogmoed. Hoe min verkondig nou trane en pyn oor die afvalligheid en koudheid onder gelowiges. Hoe tragies is dit dat daar so baie herders is vandag wat die ware salwing van die Heilige Gees verloor het en nou hulleself daaraan toewy om hulle eie reputasies te bou – en nie op die behoeftes van die skape fokus nie, maar daarop fokus om hulle eie duur drome te finansier en te bevorder.

Paulus het ‘n ware herder se hart gehad – ‘n hart wat hom altyd bemoei het met die geestelike groei van die skape. Aan die Korinthiërs het hy geskryf, “Want ek is jaloers oor julle met ‘n goddelike jaloersheid, want ek het julle aan een man verbind om julle as ‘n reine maagd aan Christus voor te stel” (2 Korinthiërs 11:2). Hy het gepraat van die Galásiese skape as, “My kinders, vir wie ek weer in barensnood is totdat Christus in julle ‘n gestalte verkry” (Galásiërs 4:19). Aan die Thessalonicense het hy geskryf, “Terwyl ons nag en dag baie ernstig bid om julle aangesig te sien en te voltooi wat aan julle geloof ontbreek” (1 Thessalonicense 3:10).

Dit breek my hart om te besef hoe ver ek tekort skiet om te wees wat ‘n liefdevolle herder veronderstel is om te wees. Ek het so ‘n gebrek aan die Gees wat Paulus met soveel liefde en sorg vir die kinders van God laat optree het. Hy het gesê, “Want wie anders as julle is ons hoop of blydskap of kroon van roem in die teenwoordigheid van onse Here Jesus Christus by sy wederkoms? WANT JULLE IS ONS EER EN BLYDSKAP” (1 Thessalonicense 2:19-20). Hy het bygevoeg, “Want nou leef ons, as julle vasstaan in die HERE” (1 Thessalonicense 3:8).

Hierdie dierbare man van God bemoedig die skape met briewe wat hulle tot heiligheid en ‘n groot honger vir Jesus Christus aangespoot het. Hy het gesê, “Daarom bid ons ook altyd vir julle...sodat die Naam van onse Here Jesus Christus in julle verheerlik kan word en julle in Hom...” (2 Thessalonicense 1:11-12). Met trane kon hy vir hulle sê, “Maar ons was vriendelik onder julle soos ‘n pleegmoeder haar kinders koester” (1 Thessalonicense 2:7). “Hoe ons, soos julle weet, net soos ‘n vader sy kinders, elkeen van julle vermaan en bemoedig het” (1 Thessalonicense 2:11).

Hy wou nie hulle geld gehad het nie en hy het gesorg dat hy nooit ‘n las vir die skape was nie. Hy het gesê, “Maar ons het met arbeid en inspanning nag en dag gewerk om nie iemand van julle tot las te wees nie” (2 Thessalonicense 3:8). “Toe ons vir julle ‘n las kon wees...” het Paulus instede daarvan geweier om hom skuldig te maak aan “bedekte hebsug,” omdat “die evangelie aan hom toevertrou was.” Hy som sy bediening en sy een doel in hierdie brief aan die Thessalonicense op, “Sodat Hy julle harte kan versterk om onberispelik te wees in heiligheid voor onse God” (1 Thessalonicense 3 :13).

Ek pleit by God dat Hy vir my so ‘n liefdevolle herdershart sou gee. O, dat die Gees herders en evangeliste sou opwek wat geen ander doel in bediening het nie, as om gelowiges in heiligheid te vestig en hulle aan te moedig om CHRISTUS BESIT TE NEEM. Daar is ‘n hartverskeurende geroep in die land vir herders wat al die vermaak en grapmakery sal laat staan – en die Kruis sal verkondig. Dit is tragies dat die bediening die waarheid oor selfverloëning en dood van sonde en self so afgewater het, dat ons ‘n geslag van losbandige, magtelose gelowiges geskep het wat nie eens verstaan wat afsondering van die wêreld beteken nie. Baie van ons kerke is so gemeng met die wêreld, dat Christene nou meer kan sondig as die goddeloses sonder om te bloos. Die wêreld is geskok en kwaad oor die gemors en verdorwenheid in die Christendom.

Baie evangelieprediking vandag het geen Kruis daarin nie, geen leerstelling van lyding, geen tugtiging, geen bekering, geen haat vir sonde, geen eise vir afsondering of reinheid, geen oproep tot onvoorwaardelike oorgawe aan die Heerskappy van Christus, geen daaglikse sterf aan die vlees, geen kruisiging van die begeertes van die vlees, geen selfverloëning, geen verwerping van die self-lewe en geen waarskuwings van vervolging en naderende oordeel nie. Die tragieste van alles is dat baie Christene nou verkies om te hoor van hulle REGTE IN CHRISTUS, en SY EISE OP ONS te ignoreer!

Die koste daarvan om van Christus besit te neem

Menigtes het Jesus gevolg, maar Hy het geweet dat slegs ‘n paar regtig sou verder gaan om werklik van Hom besit te neem en ware dissipels sou word wat Hy met blydskap aan die Vader kon voorstel. Die Jode wou vashou aan Moses sowel as Christus en hulle tradisies en dooie rituele behou, terwyl hulle daarop aanspraak gemaak het dat hulle Sy volgelinge was. Jesus wou niks te doen hê met hulle dubbelhartigheid nie. Hy het ‘n onmiskenbare streep getrek en hulle gedwing om te kies.

Jesus het gesê, “Niemand kan twee Here dien nie; want óf jy sal die een haat en die ander liefhê, óf hy sal die een aanhang en die ander verag. Julle kan nie God én Mammon dien nie” (Matthéüs 6:24).

Jesus openbaar die paradoks van ‘n verdeelde hart. Hy skeur die fasade van skynheilige dissipelskap af – en Hy sê vir ons wat gebeur met diegene wat probeer om twee meesters terselftertyd te dien. Ons durf nie ons Here se duidelike waarskuwing hier mis nie. Die betekenis is – SONDE WAT NIE LAAT STAAN IS NIE, SAL JOU LEI TOT IN DIE ERGSTE SKYNHEILIGHEID MOONTLIK. Jy sal sê jy het die Here lief en dat jy die duiwel haat. Maar deur vas te hou aan die geheime begeerte, afgodery, bitterheid, wederstrewigheid – is jy in werklikheid besig om die Here te verag en aan satan vas te hou. Jy hou heimlik vas aan die een wat jy sê jy haat – terwyl jy lippediens gee aan valse liefde vir Hom wie jy sê jy liefhet.

Aan sulke skynheiliges het Jesus gesê, “Hierdie volk nader My met hulle mond en eer My met die lippe, maar hulle hart is ver van My af. Maar tevergeefs vereer hulle My deur lering te leer wat gebooie van mense is” (Matthéüs 15:8,9).

Die Here sê, “Jy kan nie daarmee wegkom om te getuig dat Ek die Een is wat jy liefhet, terwyl jy die hele tyd My verag deur jou bose dade nie.” Die Griekse betekenis van die woord verag, is OM NIE ERNSTIG OP TE NEEM NIE. Om die Here te verag is OM NIE SY WOORD TER HARTE TE NEEM NIE. Dit is om Sy eise op jou te minag, asof dit nie bindend is nie. Laat my sommige van die eise opnoem wat Christus het op diegene wat van Hom besit neem en Sy ware dissipels is.

I. DAAR IS ‘N OPROEP OM HOM SO PASSIEVOL LIEF TE HÊ, DAT ALLE ANDER DINGE VOORKOM AS HAAT IN VERGELYKING DAARMEE

“As iemand na My toe kom en hy haat nie sy vader en moeder en vrou en kinders en broers en suster, ja, selfs ook sy eie lewe nie, kan hy my dissipel nie wees nie” (Lukas 14:26).

Die Griekse woord haat soos hier gebruik word, beteken, OM IN VERGELYKING MINDER LIEF TE HÊ. Jesus vra vir ‘n liefde van ons af wat so alles-insluitend, absoluut en vurig is dat alle aardse liefdes sal lyk soos haat in vergelyking daarmee. Daar is so min passievolle, vurige liefde vir Christus vandag. As ons liefde vir Hom rooiwarm, alles oorweldigend, intens en vol blydskap is – sou dit nie nodig wees nie vir opsommings en diagramme en instruksies oor hoe om te bid nie. Ons sou bid omdat ons harte aan die brand is met liefde vir Hom is. Daar sou geen verveling wees nie, geen poging om ‘n uur vol te maak deur reg om die wêreld te bid nie. Hy sou die onderwerp van ons gebede wees; dit sou ‘n kosbare tyd agter geslote deure wees om uitrdrukking te gee aan die oorvloedige bewondering en innige liefde wat ons harte oorstroom.

Deur Sy Woord te lees, sou nooit moeite wees nie – en weer sou ons geen formules nodig hê oor “Hoe om deur die Bybel te gaan in een jaar” nie. Dit is vir baba’s wat nie volwasse genoeg is om die voorregte en eise van liefde te verstaan nie. Diegene wat Christus met passie liefhet, word soos ‘n magneet getrek deur Sy Woord om meer oor Hom te leer. Hulle soek nie koue, historiese feite nie; hulle is nie vasgevang in eindelose geslagsregisters en eindtyd spekulasies nie. Al wat hulle wil hê, is om Hom beter te ken – om meer van Sy skoonheid en heerlikheid te sien – sodat hulle meer soos Hy kan word. Hulle wil meer as ‘n leerstelling, of ‘n lering of inligting hê – hulle wil Jesus in Sy volheid sien.

Het ons Hom werklik lief, of gebruik ons Hom net? Weet ons ooit hoe dit is om in Sy heerlike teenwoordigheid in te kom, niks te vra nie, maar slegs uit te reik na Hom met dankbaarheid en danksegging omdat Hy ons so volkome liefhet? Het ons nie so selfsugtig en selfgesentreerd geword in ons gebede nie? Ons sal bid om Amerika van oordeel te red. “Spaar ons – moenie ons oordeel nie,” smeek ons. “Gee vir ons – kom ons tegemoet – help ons – seën ons – gebruik ons – beskerm ons” – en dit mag alles skriftuurlik wees, maar die fokus is steeds op ONS.

Ons wend ons na Sy Woord vir antwoorde op ons probleme, vir leiding, vir vertroosting – en dit is ook prysenswaardig en reg. Maar waar is die liefde-gemotiveerde siel wat die Skrifte ywerig sal ondersoek, net om meer en meer oor sy Geliefde te ontdek?

Selfs in ons werk vir Hom het ons selfsugtig geword. Ons hê Hy moet ons diens aan Hom seën om te bewys dat ons geloof eg is. Ons wil beskou word as ywerig, bekwaam, suksesvol – as ‘n teken van SY seën op ons. In my eie hart roep ek uit, “O Here, is my eie bediening meer belangrik vir my as U? Is my enigste motief liefde vir my Saligmaker – of wil ek iets sigbaar sien wat ek vir U gedoen het?” Geliefde, ons Here is meer geïnteresseerd in wat ons word in Hom, as wat Hy is in wat ons vir Hom doen.

Een of ander dierbare leser leef onder slawerny omdat deure van bediening gesluit is. Daar kan ‘n gevoel wees van “op die rak sit.” Sommige dink hulle sou meer bruikbaar vir die Here wees in een of ander behoeftige sendingveld. Maar ek sê vir jou JY KAN NIE MEER BRUIKBAAR VIR DIE HERE WEES NIE AS OM HOM MET LIEFDE TE BEDIEN IN DIE AFGESONDERDE BINNEKAMER VAN GEBED.  Wanneer jy die Here in gebed soek, wanneer jy Sy Woord ondersoek om Hom te ken, is jy op jou hoogtepunt van bruikbaarheid. Jy kon nie méér doen om Hom te seën en tevrede te stel as om saam met Hom af te sonder in liefdevolle kommunikasie nie; en wat Hy ook al aan jou openbaar om by die huis of oorsee te doen, sal moeiteloos uit kommunikasie met Hom vloei. Die Here is meer geïnteresseerd om alles van my te win, al my liefde – as om die wêreld vir Hom te wen. Om die verlorenes in te win, is die natuurlike uitvloeisel van toewyding aan Hom.

II. JY KAN NIE TWEE HERE DIEN EN BESIT WAT DIT VERG OM KLAAR TE MAAK NIE!

“Want wie van julle wat ‘n toring wil bou, gaan nie eers sit  en die koste bereken, of hy die middele het om dit uit te voer nie? – sodat as hy die fondament gelê het en nie in staat is om dit te voltooi nie, almal wat dit sien, nie miskien met hom begin spot en sê: Hierdie man het begin bou en kon nie klaarkry nie” (Lukas 14:28-30).

Jesus spreek hierdie woorde naby die afsluiting van Sy bediening op aarde met die doel om sy volgelinge te waarsku dat goeie bedoelings nie genoeg is om hulle deur die moeilike tye te dra nie. Baie volgelinge sou nie besit wat dit verg om hulle deur te dra nie – HULLE SOU OMDRAAI – HULLE SOU NIE DIE RESIES KLAARMAAK NIE!

Laat my vir jou vertel wat ek glo die tragieste toestand moontlik op aarde is – dit is, EEN WAT BEGIN HET OM VAN CHRISTUS BESIT TE NEEM – GROEI TOT ‘N VOLWASSE DISSIPEL EN MEER EN MEER SOOS JESUS WORD, REG TOT OP DIE DOOD OF DIE EINDE – DAN STADIG WEGSTERF, WEGDRYF, EN KOUD EN ONGEËRG WORD TEENOOR HOM WAT HULLE EENS LIEFGEHAD HET. Dit is die een wat ‘n fondament gelê het en kon nie klaarmaak nie, omdat hy nie eers die koste bereken het nie. Sy hulpbronne het opgeraak; hy het so ver gegaan en toe moed opgegee.

God het ons opgewek en ons laat verstaan dat on almal VERANDER. Daar is nie so ‘n ding soos stilstaan nie; jy verander daagliks of in Christus se beeld, of jy verander terug na jou ou vleeslike maniere. Vir diegene wat vasbeslote is om Christus in besit te neem ten alle koste, wat hulle kruis opneem, hulleself verloën en verder gaan met Hom, sê Paulus dat terwyl, “...ons almal met onbedekte  gesig soos in ‘n spieël die heerlikheid van die Here aanskou, word ons van gedaante verander na dieselfde beeld, van heerlikheid tot heerlikheid, as deur die Here wat die Gees is” (2 Korinthiërs 3:18).

Wat ‘n vreugde om hulle wat DIE RESIES KLAARMAAK te ontmoet. Hulle groei in die wysheid en kennis van Christus; hulle word meer en meer afgesonder van hierdie wêreld en sy plesiere; hulle word toenemend hemelsgesind. Hulle geestelike sinne is hoogs geoefen en hulle onderskeiding oor wat van God of die vlees is, neem altyd toe; en hoe ouer hulle word, hoe hongerder word hulle vir meer van Christus. Hulle sny alle aarde verbintenisse; en met groeiende intensiteit, verlang hulle om saam met Hom in Sy heerlikheid te wees. Vir hulle, is om te sterf wins – die uiteindelike prys is om in Sy teenwoordigheid geroep te word om vir altyd aan Sy sy te wees. Dit is nie die hemel wat hulle soek nie – maar Christus in heerlikheid! Christus het die vreugde van hulle lewe geword – hulle alles in alles.

Jy kan seker wees dat wanneer Christus terugkeer, sal Hy ‘n heerlike kerk hê, wat bestaan uit diegene wat so na Sy beeld verander het, wat so losgemaak geword het van hierdie wêreld en so verenig is met Hom, dat om van die verganklike na die onverganklike te gaan, die laaste stap sal wees – soos om deur dun sneespapier te breek – nadat hulle so naby gekom het in hierdie lewe.

Wat ‘n tragedie egter om te sien dat so baie Christene van heerlikheid verander na verdorwenheid. Paulus het hiervan gesê, “Alhoewel hulle God geken het, Hom nie as God verheerlik of gedank het nie...en hul onverstandige hart is verduister. Terwyl hulle voorgee dat hulle wys is, het hulle dwaas geword...hulle wat die waarheid van God VERANDER het vir die leuen en die skepsel vereer en gedien het bo die Skepper” (Romeine 1:21-25).

Wat ontsaglike duisternis daal neer op diegene wat begin het, maar wat verlei is deur skepsel-begeertes. Hulle het geen Woord van God in hulle harte om hulle te dra nie; hulle bid nie vir Heilige Gees krag om satan te oorwin nie; hulle het plesiere meer lief as Christus – so hulle maak hulleself weer oop vir die dierenatuur. Hoe vinnig verander hulle! Hoe blind word hulle! “Soos ‘n hond wat na sy uitbraaksel teruggaan, is ‘n dwaas wat sy sotheid weer oplaai” (Spreuke 26:11).

Ek weet hierdie spesifieke boodskap gaan in die hande val van baie wat in die proses is om TERUG TE VERANDER NA ‘N LEUEN! Dit mag dalk net een klein stappie weg van Christus af wees, so subtiel, miskien nie met voorbedagte rade nie – maar dit kan jou lei tot in ‘n vinnige verderf, weg van Sy liefde af. Een of ander leser mag selfs nou baie ver wees van wat jy eens in Christus was. Die Heilige Gees roep jou die hele pad terug – terug na selfverloëning en onderworpenheid. Tyd is nou ‘n groot faktor! As jy ooit beplan om van Christus besit te neem – doen dit nou.

III. JY SAL ÓF STRY OM VAN CHRISTUS BESIT TE NEEM, ÓF OP DIE OU END AAN SATAN OORGEE.

“Of watter koning wat optrek om teen ‘n ander koning slag te lewe, gaan nie eers sit en beraadslaag of hy in staat is om met tienduisend die een te ontmoet wat met twintigduisend teen hom kom nie? Anders stuur hy ‘n gesantskap as die ander een nog ver is, en vra vredesvoorwaardes? So kan dan ook niemand van julle wat nie afsien van al sy besittings, my dissipel wees nie” (Lukas 14:31-33).

Ons is konings en priesters vir die Here en ons verteenwoordig die tienduisend wat gaan om oorlog te voer teen satan se leër. In Judas word dit gesê dat Henog geprofeteer en gesê het, “Kyk, die Here het gekom met sy heilige tienduisendtalle” (Judas 14). Dit staan geskryf, “Groter is Hy wat in ons is, as hy wat in die wêreld is” – maar vir die vleeslike oog, kom dit voor of satan ‘n groot mag versamel het.

Satan gee glad nie om oor die vleeslike, afvallige godsdienstige stelsel nie; sy oorlog is teen die heilige oorblyfsel wat hy grootliks vrees. “En die draak was vertoornd op die vrou, en hy het weggegaan om oorlog te voer teen haar ander nakomelinge WAT DIE GEBOOIE VAN GOD BEWAAR EN DIE GETUIENIS VAN JESUS CHRISTUS HOU” (Openbaring 12:17).

As jy jou hart daarop ingestel het om Christus in besit te neem, is jy die duiwel se teiken in hierdie laaste konflik. Alles wat in die hel is, sal teen jou gebring word! Want jy maak dat die owerhede en magte van duisternis bewe wanneer jy INGESTEL IS OP CHRISTUS – ONVOORWAARDELIK EN ALGEHEEL!

Is jy gereed vir wat kom? Is jy gereed om jou lewe in geestelike oorlogvoering uit te leef, met die wete dat ‘n stroom van ongeregtigheid gerig is teen die kinders van God?

As jy daarop ingestel is om van Christus besit te neem – is jy onsigbaar, jy is gewaarborg van oorwinning oor al die mag van die vyand. As jy vasklou aan die Here, het jy die hele leër van die hemel wat vir jou veg.

Moses, wat namens God praat, het vir Israel gesê dat hulle “geen afgode maak nie...my gebooie hou en dit doen...” en in ruil daarvoor – “Julle sal jul vyande agtervolg, en hulle sal voor julle val deur die swaard. Vyf van julle sal honderd agtervolg, en honderd van julle sal tienduisend agtervolg; en julle vyande sal voor julle val deur die swaard...” (Levitikus 26:1,3,7-8).

Josua het die Here se leër met hierdie woorde bemoedig – “Een man uit julle het duisend agtervolg; want die HERE julle God, Hy het vir julle gestry...Neem dan terdeë in ag ter wille van julle siele, om die HERE julle God lief te hê” (Josua 23:10,11). Soos hulle die Here liefgehad het en in gehoorsaamheid gewandel het, was hulle belowe, “Geen mens sal in staat wees om voor julle te staan nie...”

Maar Moses het Israel gewaarsku wat sou gebeur as hulle met die wêreld sou meng en probeer het om twee meesters te dien. “Hoe kan een dan duisend agtervolg en twee tienduisend op die vlug jaag, was dit nie dat hul steenrots hulle verkoop en die HERE hulle oorgelewer het nie!” (Deuteronómium 32:30). Wanneer jy nie meer aan die Rots (Christus), vashou nie, word jy lafhartig en vreesbevange voor die vyand. Sonde, koudheid en louwarmheid – dit besteel die Christus van mag en vertroue – en diegene wat hulle eerste liefde verlaat, sal op die ou end in vrees weghardloop van die teistering van die duiwel.

Hierdie tienduisend, as hulle aan Christus vashou en in onderdanigheid lewe aan Sy Heerskappy, kan maklik die twintigduisend demoniese magte wat teen hulle kom, verslaan. Geen wapen teen hulle gesmee sal iets uitrig nie (sien Jesaja 54:17). Maak nie saak hoe erg die stroom van ongeregtigheid woed nie, dit kan nie hierdie seëvierende liggaam van klewende soldate van die Kruis skade doen nie.

Maar wat gebeur met diegene wat weier om boesemsondes en verborge begeertes te laat staan? Hulle probeer om met die duiwel te onderhandel. Hulle stuur hulle gewetes uit om die vyand te ontmoet om ‘n wapenstilstand te onderhandel. Hulle soek VOORWAARDES VAN VREDE. Hulle wil uitgaan om die liefde van die Here op te eis, maar hulle wil nie daardie laaste vesting, daardie een boesemsonde prysgee nie. Hulle weet die duiwel sou hulle kon insluk as hulle voortgaan om met hulle sonde te flankeer. Daarom soek hulle ‘n plek van kompromie.

Jy kan nie met die duiwel onderhandel nie! Jy kan nie in die minste met sonde ‘n kompromie maak nie! Dis ‘n volskaalse oorlog – nederlaag vir die vyand en oorwinning oor al sy aansprake op ons! Die kerk is vol skeepswrakke wat veroorsaak word deur kompromie en sonde wat nie laat staan word nie.

Mag God meer Heilige Gees veglus in ons gee, sodat ons ons harte op Christus kan rig en vir die wêreld en die hordes van die hel kan skree – “Niemand sal ons skei van die liefde van Christus – verdrukking of benoudheid of vervolging of honger of naaktheid of gevaar of swaard” (Romeine 8:35).

Diegene wat Christus in besit neem, kan hierdie lied sing, “Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefgehad het. Want ek is versekerd dat geen dood of lewe of engele of owerhede of magte of teenwoordige of toekomende dinge of hoogte of diepte of enig ander skepsel ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, ons Here, is nie” (Romeine 8:37-39).