Die Vervolging van die Regverdiges

‘n Boodskap oor die Prys van Heiligheid
David Wilkerson

‘n Jong Christen het onlangs hierdie hartseer woorde aan my geskryf, “Vir die afgelope paar jaar het ek gehoor hoe evangeliste, herders en leraars vir hulle gehore sê om alles prys te gee vir Christus. Hulle het my hart aan die brand gesteek en in my ‘n begeerte geskep om die wêreld en alles waarvoor dit staan, te verwerp. Ek was aangesê om Christus eerste te stel in alles, om Sy heiligheid te soek, en om die hele pad met Hom te gaan. So, ek het dit gedoen! Ek hét die hele pad gegaan – ek het alles prysgegee – ek het myself daaraan toegewy om die Woord te bestudeer en om ywerig te bid. Toe het die Here Homself aan my begin openbaar oor die afvallige toestand in God se huis. Ek is heeltemal uitverkoop aan Jesus; Hy is al waaroor ek praat; al wat ek wil hê is om rein en heilig te wees. Maar nou verwerp dieselfde mense my as ‘n fanatikus. Glo hulle nie wat hulle verkondig nie? Waarom word so baie predikers en Christene kwaad vir jou wanneer jy die hele pad met Jesus gaan?”

Sy geval is nie ‘n geïsoleerde geval nie. Ek ontvang ‘n redelike aantal briewe van opgewekte gelowiges wie se lewens ‘n omwenteling ondergaan het deur die Heilige Gees. Hulle het hulle na die Here gewend met hulle hele hart; hulle het hulle afgode verpoeier; hulle het liefhebbers van die waarheid geword, hulleself oorgegee aan gebed en die bestudering van God se Woord. Met die gevolg, dat hulle geestelik toegeneem het en kosbare onderskeiding gegee is. Dit is nie dat hulle voel hulle het die herder of ander Christene ontgroei nie; dit is dat hulle nou deur ander oë kyk. Hulle herken skynheiligheid en vorme van godsaligheid sonder krag. Hulle het waarheid so lief, dat hulle lighartigheid en oppervlakkigheid in God se huis begin verafsku. Hulle het begin ywer vir die eer van die Here. Maar skielik – word hulle deur ander Christene verwerp. Hulle word beskuldig van dat hulle nie onderdanig is nie, arrogant is en verdeeldheid veroorsaak.

“Hulle – sal... jul vervolg...”

Is Sy afskeidsboodskap aan die dissipels, het Jesus hulle gewaarsku oor die sekerheid van vervolging. Hy het gesê, “As hulle My vervolg het, sal hulle jul ook vervolg” (Johannes 15:20). Wie is hulle? Wie is dit wat die intiemste volgelinge van Christus sal vervolg?

Dit is die godsdienstige skare! Diegene met uiterlike vorme van godsaligheid sonder die krag van algehele oorgawe van die hart – hulle sal diegene vervolg wat slegs roem in die Kruis van Christus. Die goddelose, humanistiese Romeine was nie die ware vervolgers van die Meester nie. Sy grootste mishandeling was aan die hande van die diegene wat die meeste verdiep was in die Wet, die hiërargie van die kerk, en die massas wat geroem het dat God hulle Vader was. Al hulle listige energieë was daarop uit om Hom te diskrediteer.

So gaan dit vandag – die grootste, kwaaiste vervolging teen God se heilige oorblyfsel kom vanaf godsdienstig leiers en hulle volgelinge wat die struikelblok van die Kruis van Christus verwerp. Al die vervolging van God se volk sentreer om die Kruis. Paulus sê, “Amal wat ‘n mooi vertoning in die vlees wil maak, dié dwing julle om julle te laat besny net om nie ter wille van die kruis van Christus vervolg te word nie...” (Galásiërs 6:12).

Menigtes Joodse bekeerlinge het ‘n manier gevind om die struikelblok van die Kruis te vermy. Dit was deur besnydenis te verkondig en te doen. Hulle sou die vlees besny eerder as om dit te kruisig. Paulus het gesê, “As ek nog die besnydenis verkondig, waarom word ek nog vervolg? Dan is die struikelblok van die kruis vernietig” (Galásiërs 5:11). Met ander woorde, jy kan al die lyding en vervolging wat ‘n gevolg is van sterwe vir hierdie wêreld vermy, deur te skik vir hervorming in plaas van opstanding. Jy kan die gemeenskap en goeie wil van die hele godsdienstige stelsel geniet as jy bloot sal voldoen aan hulle vaal, lewelose, middeweg-standaarde. Die hoerkerk verkondig steeds die Kruis as ‘n historiese feit, maar sy eise op die vlees word verwerp. En dieselfde afvallige kerk sal diegene wat verder gaan en hulle persoonlik met Christus se kruisiging identifiseer, slaan en vervolg.

Besnydenis of die kruis

Paulus was heeltyd geteister deur die party van die besnydenis. Hulle was Joodse Christene wat hom oral gevolg het en nuwe bekeerlinge geleer het dat God steeds vereis dat hulle vlees besny moes word, en dat hulle moes voldoen aan die lewelose tradisies en reëls van mense. Hulle het baie skrif gehad om hulle leerstelling te bewys, veral die geskrifte van Moses. Hulle het geweier om die heerlike waarheid te aanvaar dat die Kruis die einde van alle vlees in die oë van God is. Nou is ‘n nuwe opgestane mens – een wat dood is vir die wêreld – die enigste mens met wie God sal werk.

Waarom is daar so ‘n mooi vertoning van die vlees in die kerk vandag? Dit omdat die Kruis verwerp word. Jy kan die Here die mees opregte, toegewyde, opgeknapte vlees moontlik aanbied – en dit sal steeds stink. Dit wat besmet is met die kleinste hoeveelheid vlees, sal nie deur ‘n heilige God aanvaar word nie. Hy het eens en vir altyd die vlees aan die Kruis veroordeel.

As die eise van die Kruis werklik erken sou word deur hedendaagse Christendom, sou die meeste van die godsdienstige aktiwiteite gestop word. Selfs in my eie denominasie, die Assemblies van God, sou baie verwerp word as waardeloos in die oë van die Here. Geoordeel in die lig van die eise van die Kruis, sou God op die meeste van die godsdienstige aktiwiteit moes stempel – ‘Ligsinnig! Betekenisloos!” Dit is omdat die vlees ingebring is en dit die hele deeg laat gis het. Wat eens rein en heilig was, word nou gemeng met die gees en maniere van hierdie wêreld.

Ek weet dat op hierdie uur daar menigtes biddende, Godvresende Christene is wat ween en treur oor die toestand van die kerk. Nie net in die kerk in die algemeen nie, maar hulle huiskerk of liggaam waar hulle aanbid. Óf hulle herder is te sag met sonde, óf hy slaan hulle, óf hy plaas ondraagbare laste op hulle.

Die skape ly

Die laaste tyd het die Here my gebroke in die gees laat raak oor die jammerlike geroep van verlate, beseerde en bloeiende skape – die meeste wat verwerp en misbruik is deur harde, ongevoelige herders. Sommige word werklikwaar uit hulle kerke en gemeentes gejaag en hulle smag daarna om te wees by ‘n ware liggaam van gelowiges wat hulle verlange na meer van Christus sal deel.

Een dierbare broer het geskryf, “In die laaste paar maande het ek so ‘n las gehad vir die treurige toestand van ons kerk, dat ek in die kerk in trane uitgebars het – ‘n onbeheerbare geween. Ek het geween omdat ek die herder liefhet en nie kon verdra dat soveel dwaasheid van die kansel af kom nie. Ek was gevra om te loop as ek nie sou stilbly nie. Ek was besig om die herder en die gemeente te ontstel. Ek moes uitgaan omdat my las groter geword het.”

‘n Gebroke vrou het geskryf, “Ons Pinksterkerk raak so vinnig afvallig dat ek dit skaars kan glo. Ons herder hou rock konserte om die kinders te lok. Laasnag, tydens een van daardie konserte, het een van die kunstenaars sy broek laat sak. Die helfte van die mense het saam met ons uitgeloop. Die herder het gelyk of hy nie omgee nie. Ek kan nie teruggaan daarheen nie – dit is só wêrelds, só sensueel – maar waarheen gaan ek?”

‘n Ander suster het geskryf, “Ons het pas ‘n kerk verlaat waar alle pogings aangewend was om die gemeentelede te mislei en te melk en hulle te beroof van hulle vertroue, sowel as hulle besittings. Sedert ons weg is, voel ons ons het soveel slawerny ontvlug. Maar wat my hart breek, is al die verwarde mense wat in so ‘n verdraaide misleiding bly. Hulle word gedwing om onder so ‘n gesaghebbende onderwerping aan die herder te bly. Enigeen wat iets bevraagteken, word bespot, en as jy weggaan, word jy gebrandmerk as ‘n ‘rebel.’ Dit is so goed asof jy verban word uit daardie liggaam. Die herder het die mense gewaarsku om van ons af weg te bly, anders sou hulle ook verban word. Ons het hom vergewe, maar wat gaan gebeur met die dierbare bekeerlinge as hulle óók ontdek hulle was mislei?”

“Waar is jou genade vir skape wat ly?”

Dit was ‘n eerlike (en liefdevolle) vraag aan my gestel in ‘n onlangse brief van ‘n broer wat homself tel onder die skape wat “alle aardse herders verloor het” en wat soms ‘n gevoel van wanhoop kry van al die mishandelings.

Hy het geskryf, “Ek sien oordeel en bestraffing oral waar ek kyk – selfs van jou, dierbare Mr. Wilkerson, wat ek waarlik liefhet. Ek hoor oordeel en bestraffing, maar nie baie genade en geregtigheid nie...”

“Wat ek sê, broer, is dat daar ‘n nasie van gebroke, verslae, nederige en vernederde, steierend van mishandelings, verraaide, gemanipuleerde, misleide, en verwarde skape ontstaan het. Talle gaan geestelik dood. Hierdie skape wat afgesny word van die trop, dikwels deur die trop, of die herder – ly honger, is verlam, siek, alleen en word deur die wolwe agtervolg...

“Waar is die goddelike herders? Ek het hulle nog nie gesien nie. Ek wag met verlange...

“In jou nuusbrief, het jy gesê hierdie skape sal berispe word. Dis waar – maar hierdie skape het hulle reeds bekeer, blameer hulleself vir toestande waarvoor hulle nie verantwoordelik is nie, vir situasies waarin hulle die slagoffers geword het, selfs al het hulle reeds diegene vergewe wat hulle vermink het, hulle uitgegooi het en hulle vir dood agtergelaat het. Hoe sal hulle die stem van hulle Herder hoor deur daardie herders wat hulle berispe?

“Ek glo, Mr. Wilkerson, dat hulle ‘n ware herder sal ken, omdat hulle sy sagte geroep vir hulle sal hoor, terwyl hy na hulle soek in die duisternis, in die wildernis, in die strik waarin hulle slagoffers is. Hulle sal die sagte hand van hulle liefdevolle Vader ken, deur ‘n mens, wat hulle wonde verbind, hulle lamheid herstel en met liefde die vuilheid op hulle jasse skoonmaak. Hulle sal die trane uit hulle oë sien loop, sy trane wat met hulle s’n gemeng is – trane gebore uit die gebroke hart van God oor verlore, gewonde skape....

“Ons het waarheid nodig – maar ons was vertel ons kry al die waarheid. Maar dit het nie gewerk nie. Dit het nie genees nie. Dit het nie gered nie. Wat nou nodig is, is waarheid in liefde! Hierdie skape kan nie weer geslaan word nie. Die ware skape ‘kom uit, om nie deel te hê aan hulle sondes en oordele nie.’ Of, heel moontlik, uitgeskop, uitgedryf, geskeer van alle wol, koud en verward. Hulle is nie skape wat met selfbejammering lewe nie – hulle wil werklik Christus alleen hê.”

Ek het so ‘n lang stuk uit hierdie spesifieke brief aangehaal, omdat dit so duidelik uitlig wat ek hoor van letterlik duisende wat aan ons skryf. Ook het dit bevestig wat God klaarblyklik vir my sê in die afgelope weke – “Bemoedig die heilige oorblyfsel. Vertroos diegene wat vervolg en beswadder word omdat hulle die Here heelhartig volg.”

‘n “Simson Sosiale Funksie”

‘n Assemblies van God suster het vir my geskryf met groot smart en droefheid, oor ‘n Simson Sosiale funksie geborg deur haar kerk. Paartjies het geklee gekom as karakters van daardie Bybelstorie – die vrouens het meestal geklee gekom as prostitute en Delila. Die jong paartjies het gedrink; hulle was meer geïnteresseerd om partytjie te hou as om God te soek. Heiligheid en afsondering was prontuit bespot as wettiesheid. Die dierbare suster onthou die dae waartydens dieselfde kerk altaar oproepe en gebedsbyeenkomste gehad het waarin gelowiges voorbidding gedoen het vir hulle ongeredde families. Sy onthou hoe herders met vuur en heilige salwing gepreek het en uitgevaar het teen die sonde en kompromie. Nou is al wat sy van die kansel af kry, ‘n “evangelie van pret,” met geen veroordeling, geen gebrokenheid nie – maar grappies en selfs vulgêre verwysings na Dolly Parton se anatomie.

My kantoor kry nou talle briewe van bejaarde heiliges van God wat vir my in soveel woorde sê, “Ek kan nie glo hoe afvallig, hoe wêrelds ons kerk geword het nie. Ek kan nie glo wat gebeur nie. Die Heilige Gees werk nie meer in ons midde nie – die herder is altyd besig om een of ander nuwe onderwerp te probeer inbring. Die jeugleier is behep met rock, skaatspartytjies – ek kan nie eens verstaan wat aan die gang is nie.”

‘n Jeugbedienaar, wat ek as goddelik ken, het my geskakel uit ‘n Assemblie van God se bedienaarsvergadering wat hy pas bygewoon het. Die onderwerp bespreek was, “waarom heiligheidsverkondiging waansinniges vorm!” Heiligheidspredikers was bespot omdat hulle skuldgevoelens by Christene veroorsaak. Die jeugbedienaar was gebroke. Hy het vir my ‘n transkripsie van die vergadering gestuur, en ek kon skaars glo dat Pinksterpredikers so blind kon wees.

Ek veroordeel nie die Assemblie van God beweging nie. Dit is omdat ek tans georden is by hulle dat ek praat teen wat in hierdie denominasie gebeur. Dit is die grootste Pinkster denominasie in die wêreld, maar hulle staan by die kruispad. Tensy daar ‘n vinnige terugkeer is na heiligheid – tensy die gebroke, bekommerde, bedroefde herders en evangeliste opstaan en ‘n oproep maak vir herlewing en bekering – sal God sy geledere verlaat en Íkabod op sy deure skryf. Die meeste van die leiers is nou op hulle aangesigte voor God – en ek glo hulle is goddelike manne wat ‘n ware skudding en reiniging deur die Heilige Gees wil sien. Maar tensy beide die herders en die gemeentes nou terugkeer na die altaar om te ween, te treur en God aan te roep met berou – sal die Heilige Gees aanbeweeg en ‘n nuwe volk vind wat in die ou weë sal wandel.

Dit geld vir alle Pinkster denominasies, sowel as Charismatiese gemeenskappe en bedienings. Ek profeteer die laaste paar jaar dat God bedienings, dit wat van die vlees is, gaan neerbring. Binnekort – baie gou – sal die aandelebeurs in ‘n vrye val ingaan; daar sal oral ekonomiese paniek wees. Kerke en bedienings wat groot skuld gemaak het, sal bankrot gaan. Die onlangse ontblotings van bekende bedienaars, is nie dit wat hulle gaan neerbring nie – dit sal ‘n ekonomiese ramp wees!

Ek wonder soms of enigeen luister! Wil ons nie hoor nie – sluit ons al die waarskuwings uit omdat ons siek en sat is vir al die slegte nuus? Maar of ons daarvan hou of nie – die waarskuwings van oordeel sal voortgaan. God lag nie! God sal nie bespot word nie. Sommige van hierdie bedieninge wat nou onder goddelike oordeel is, het die waarskuwings van God se heilige profete en wagte bespot!

Miljoene skape is beseer, verward en verstom gelaat – deur helde-herders – helde-evangeliste – mense wat miljoene kosbare dollars op selfsugtige drome en ego-strelende koninkryke vermors het. O heiliges van God – luister na my! Hierdie bouers van koninkryke was duidelik gewaarsku. Hulle het oproepe, briewe en profesieë ontvang – in liefde afgelewer – wat hulle waarsku oor die presiese maand waarin hulle geoordeel sou word, tensy hulle sou ophou om te bou, te mors en ‘n vermaaklikheidsevangelie te verkondig. Hulle was gesmeek, met trane, om hulle te bekeer en terug te keer na die eenvoudige verkondiging van die Kruis.

Ek ween vir hierdie manne! Ek huil daagliks, “O, God – bring al hulle koninkryke neer, maar red U dienaars. Verlos hulle van hierdie monsters wat hulle geskep het. Wees hulle en hulle ‘families’ genadig.” Ek weet ek het hulle waarlik lief – maar hoe kan enigeen van ons wat die Naam van Jesus liefhet, stilsit en toelaat dat al hierdie dwaasheid voortgaan?

Diegene van ons wat waarsku oor die komende oordele, word bespot, geterg, uitgelag en “liefdeloos en verdelend” genoem. Die Gees van God wek letterlik duisende skape op wat almal dieselfde basuingeluid hoor – hulle onderskei hoe laat die uur is – hulle weet God is gereed om die kerk te oordeel – hulle probeer om hulle leiers te waarsku – hulle probeer, met gebroke harte, om gemeentes te waarsku – maar hulle word verwerp. Daar word selfs nou op hulle neergekyk as fanatici en malkoppe – ongebalanseerd, stug, hartseer, behep met oordeel en heiligheid. Maar dit is op die punt om te verander.

Die volgende ding op God se kalender van oordeel, is Wall Street – die hele ekonomie! Voorspoedspredikers – maak gereed! Ek het ‘n ieder en ‘n elk van hulle lief in die Here – maar binnekort sal daar paniek in hulle geledere wees as God die geldbronne afsny. God sal vir Sy eie mense sorg – maar ‘n tyd van groot lyding en swaarkry staan voor ons almal se deur.

Rowerspelonk

Jesus het eendag in die tempel ingeloop met ‘n sweep in die hand, en al die handelaars uitgedryf. Hy het gebulder, “Daar is geskrywe: My huis moet ‘n huis van gebed genoem word. Maar julle het dit ‘n rowerspelonk gemaak” (Matthéüs 21:13).

Wat sou Jesus vandag sê as Hy hier in die vlees was en alles aanskou het wat in Sy Naam gedoen word? Hoe lank dink jy sal Hy toelaat dat Sy Vader se Naam besoedel word? Hoe lank sou Hy die vermorsing, die mengsel, die oppervlakkigheid, die verdraaiing van Sy waarheid verduur? Hoe lank sou Hy oordeel teen miljoene Christene terughou wat honderde duisende dollars stuur om vermaaklikheidskomplekse en goud-vergulde torings te bou – terwyl meer as helfte van die wêreld hongersnood ly?

Jesus sou dit sê soos wat dit is! Nie mense se reputasies beskerm nie. Geen beskerming van valse eenheid nie! Die werklikheid is – hierdie drome, hierdie projekte, het nie hulle oorsprong in God nie – dit is planne van leuengeeste! Sommige het gesê, “God het vir my gesê” toe dit glad nie God was nie. Dit was ‘n leuengees wat gestuur was om te mislei. Ons is mislei, gemanipuleer. Owerspel? Dit kan vergewe word! Herstel van gevalle herders? Absoluut! Maar om dobbelaars se geld te neem om sogenaamd God se werk te doen – nooit! Om voor te gaan om God se geld te vermors op vermaak en ontspanning, as so baie haweloos op ons strate dwaal? Nee! Red die sterwende drome van TV evangeliste, terwyl sendingvelde roep om hulp? Nooit!

God het pas die laaste skudding begin! Hy gaan die hele wêreld laat weet dat Hy nie in die vermaaklikheidsbesigheid is nie. Hy laat nie toe dat evangeliste Hom voorstel aan die wêreld as ‘n harde slawedrywer wat Sy slawe oor ‘n gebrek aan kontant doodmaak nie. Dit is alles verby! Dit gaan alles val! Hulle wat die ontblotings oorleef, sal in die ekonomiese wurggreep val.

Ons het vandag evangeliste wat in die tempel sou instorm om Jesus te bestraf omdat Hy ‘n sweep het en omdat Hy geldmal godsdienstige leiers rowers noem. Hulle sou magte in die naam van eenheid saamroep en vir die Here sê – “Moenie oordeel nie! Genade! Medelye!” Hoe verskriklik vir hulle om hierdie harde woorde te hoor – “Julle het My huis verander in ‘n rowerspelonk!”

Mag God ons genadig wees! Gee vir ons medelye – help ons om elke gevalle broer of suster wat hulle werklik bekeer, te herstel. Maar waarom – o waarom – is ons nie so besorgd oor die eer van Christus as wat ons is oor die reputasies van predikers nie? Waarom probeer so baie om “broers” te beskerm teen die regverdige roede van die Here, as dieselfde roede hulle enigste redding is?

Die laaste vervolging van die oorblyfsel

Satan gaan in die vleeslike kerk inbeweeg – om ‘n eenheidsbeweging te bevorder wat bestaan uit bedienaars, bedienings en godsdienstige organisasies wat die eise van die Kruis van Christus verwerp. Wat ‘n kompromie-makende skare sal dit wees! Die eienskappe van hierdie diaboliese bewegings, sal godsdienstige teater, kuns, drama en sosiale en politieke betrokkenheid wees. Hulle sal roem in ‘n nuutgevonde sedelike vryheid, ‘n evangelie van geen bestraffing, geen oordeel, geen skuld nie!

Egskeiding sal nie meer as ‘n sedelike kwessie beskou word nie – maar bloot ‘n sosiale fout. Sensualiteit sal amok maak in hulle geledere. Drank, pornografie en hoerery sal nie veroordeel word nie. Dit sal bloot geïgnoreer word en die predikers onder hulle, sal wil hê hulle skuldgevoelens moet vertroetel word.

Dit is die bron van die laaste vervolging van ‘n heilige oorblyfsel. Nie die Kommuniste, of die humaniste, of die liberale, of die sekulêre pers nie! Satan sal ‘n afvallige, begeerte-deurspekte, mensgesentreerde, godsdienstige eenheid gebruik om diegene te vervolg wat hulle kruis opneem en Christus volg met algehele onderwerping aan Sy wil.

Ek vra jou – onderskei jy hierdie tye? Sit jy terug en treur oor die sondes van die beroemdes, of oordeel jy jou eie sondes voor Sy heiligheid? Is jy gewillig om met ‘n regverdige oordeel te oordeel en ‘n heldhaftige stand in te neem om Sy Naam te verdediging? Is jy gereed om, indien nodig, alleen te lewe om die skande van ‘n afgesonderde lewe van heiligheid te dra? Stuur jy steeds geld na bedienings en mensgemaakte koninkryke wat onder God se heilige oordeel kom? O, hoe nodig het ons onderskeiding!

Die bruid van Christus sal te voorskyn kom uit groot vervolging – maar seëvierend, sonder smet of rimpel! Is dit nie die tyd om te ween tussen die pilaargang en die altaar – om bedroef te wees oor sonde – om onsself te verneder en die ware Woord van God te soek nie?

Ek sê weer – God het alles onder beheer!