Huil vir Julle Herders!

David Wilkerson (1931-2011)

Dit is tyd om te ween en te weeklaag vir die herders wat die Here se skape oppas. Ween vir die herders, die evangeliste, die profete en leraars – omdat God op die punt is om skrikwekkende oordele te stuur oor diegene wat goddeloos, sensueel en blind geword het. Die goddelike herders ween self tussen die pilaargang en die altaar oor die toestand van die kerk, maar die verdorwenes wat selfgesentreerd is, sal die Here self mee afreken.

Hoor die ontsagwekkende profesie van Jeremia: “Wee die herders wat die skape van my weide laat omkom en hulle vertstrooi, spreek die HERE. Daarom, so sê HERE, die God van Israel, aangaande die herders wat my volk oppas: Júlle het my skape verstrooi en hulle verdrywe en hulle nie opgesoek nie. Kyk, Ek besoek oor julle die boosheid van julle handelinge, spreek die HERE” (Jeremia 23:1,2).

Jeremia se hart was gebroke weens die verdorwenheid wat hy gesien het in diegene wat geroep was om God se volk te lei. Die blatante sonde en selfgesentreerdheid onder die bedienaars van sy dag het hom so verpletter, dat hy gebewe het soos ‘n man wat dronk was van wyn. Hy het geroep, “Wat die profete betref – my hart is gebreek in my binneste, my hele gebeente sidder; ek is soos ‘n dronk man en soos ‘n man wat deur die wyn oorweldig is...Want profeet sowel as priester is goddeloos; selfs in my huis het Ek hulle boosheid gevind, spreek die HERE” (Jeremia 23:9,11).

Toe het die profeet hierdie skrikwekkende woorde bygevoeg – “Want die profete van Jerusalem het goddeloosheid in die hele land uitgegaan” (Jeremia 23:15).

‘n Skrikwekkende vloek het oor die land gekom; daar was oral owerspel; God se volk het hulleself op ‘n goddelose roete geplaas en hulle was geestelik droog en depressief. Maar hulle eie herders het geen medelye met hulle gehad nie.

Hulle herders was blind vir die oordeel van almagtige God wat dreigend voor hulle gestaan het. Terwyl vyandige leërs hulle poorte genader het, het die blinde herders ‘n sussende boodskap van vrede en voorspoed verkondig. Hulle het die volk oortuig dat goeie tye nooit tot ‘n einde sou kom nie.

Jeremia het geweet waarom hierde selfgesentreede herders, priesters en profete nie teen sonde gepreek het of die volk gewaarsku het nie. Hy het geweet waarom hulle slegs oppervlakkige genesing vir God se volk verskaf het. Dit was omdat hulle sélf gebind was deur dieselfde sondes – hulle het ook ‘n leuen gelewe.

Luister na Jeremia se beskuldiging teen hulle: “Maar by die profete van Jerusalem het Ek gesien wat afskuwelik is: hulle bedryf owerspel en gaan om met leuens, en hulle versterk die hande van die kwaadddoeners, sodat hulle hul nie bekeer elkeen van sy boosheid nie. Hulle het elkeen vir My geword soos Sodom, en sy inwoners soos Gomorra” (Jeremia 23:14).

Die storm van die Here het reeds losgebars, en God het Sy volk deur heilige profete gewaarsku dat Sy woede nie sou bedaar nie en dat oordeel onafwendbaar was. Maar Jeremia kon skaars glo wat hulle verkondig het. Hierdie herders het voor ‘n volk gestaan wat in hardkoppigheid gewandel het, hulleself oorgegee het aan hoerery en owerspel, onder ‘n vloek gelewe het, en binnekort sou val onder vernietigende oordeel – en hulle het gelieg vir God se volk en ‘n boodskap van valse sekuriteit verkondig. “Hulle sê gedurig aan my veragters: Die HERE het gespreek: Julle sal vrede hê: en aan elkeen wat wandel in die verhardheid van sy hart, sê hulle: Geen onheil sal oor julle kom nie” (Jeremia 23:17).

As hulle mense van gebed was, heilig en afgesonder met God – Hom gesoek het met hulle hele hart – sou hulle die veraf gedonder gehoor het, hulle sou onderskei het dat oordeel reeds bepaal was, hulle sou opgewek en verteer wees met ‘n begeerte om God se volk wakker te maak. God het gesê, “Ek het die profete nie gestuur nie, tog het hulle geloop; Ek het nie met hulle gespreek nie, tog het hulle geprofeteer. Maar as hulle in my raad gestaan het, moet hulle my volk my woorde laat hoor en hulle terugbring van hul verkeerde weg en van die boosheid van hul handelinge” (Jeremia 23:21,22).

Jeremia het gebulder – “Luister nie na die woorde van die profete wat vir julle profeteer nie; hulle vervul julle met ydele verwagtinge; gesigte uit hul eie hart verkondig hulle, nie uit die mond van die HERE nie” (Jeremia 23:16). Hy het bygevoeg, “Hulle leen hulle boodskappe van mekaar.” Ook, “Die profete sal wind word; ja, die Woord is nie by hulle nie” (Jeremia 5:13).

Hierdie afvallige herders was so vasgevang in hulle eie drome, dat die misleiding van hulle eie harte die vuur en salwing van die ware Woord vervang het. Daar is baie soortgelyke dromers en plannemakers op ons kansels vandag – manne van die bediening wat rondgaan en sê, “Ek het ‘n droom.” God het gesê, “Ek het gehoor wat die profete sê, wat in my Naam vals profeteer met die woorde: Ek het gedroom, ek het gedroom...Die profeet by wie die droom is, laat hom ‘n droom vertel; en by wie my woord is, laat hom my woord spreek in waarheid. Wat het die strooi met koring te doen? spreek die HERE. Is my woord nie só, soos ‘n vuur, spreek die HERE, en soos ‘n hamer wat ‘n rots vermorsel nie?” (Jeremia 23:25-29).

Selfgesentreerde herders veroorsaak afvalligheid!

Sonder twyfel, het Jeremia geweet waarom God se volk in so ‘n afvallige toestand verval het. Die Woord van die Here het na hom gekom en gesê, “’n Kudde verlore skape was my volk; hulle herders het hulle laat dwaal, hulle weggevoer...” (Jeremia 50:6).

God se volk was in ‘n beswyming, verlore, dwalend sonder rigting. Hulle het nie eens geweet hoe ver hulle van die ou paaie af weggedwaal het nie. Hulle het “...hul lêplek vergeet” (Jeremia 50:6). Jeremia het gesê, “Almal wat hulle kry, het hulle opgeëet...” (Jeremia 50:7). Dit verwys na die demoniese magte van Satan. Wat ‘n beeld van ‘n hedendaagse toestande in God se huis. Menigtes skape word afvallig – hulle is verlore en weet dit nie eens nie. Die magte van die hel val hulle aan, plunder hulle lewens, mors met hulle kinders, bring verwarring en onenigheid in hulle huise en huwelike. Die outydse altaaroproepe waar mense vol berou geween het, ken hulle nie eens nie. Hulle het nog nie die vurige boodskappe van herders met gebroke harte gehoor nie. Hulle is nie eens bekend met die ou weë nie.

Die selfgesentreerde herders word deur God geblameer vir die afvalligheid onder Christene. “Hulle herders het hulle weggevoer...hulle het gemaak dat hulle wegdraai...” Dit is absoluut onmoontlik om hierdie verbysterende beskuldiging te omseil, omdat dit God self is wat praat.

Jesaja het ‘n verskriklike gesig onder God se volk gesien – demoniese magte wat die skape plunder en verwoesting saai. Daar was geen mure nie, geen besorgde herder nie, niemand om te sê, Genoeg!” nie. Satan kon doen wat hy wil. “Al julle wilde diere van die veld, kom eet! Al julle wilde diere in die bos!” (Jesaja 56:9). Die profeet het bloot ‘n verskriklike situasie onder God se volk beskryf. Dwarsdeur die Skrif, verwys diere na sataniese magte. Die verderwer was onbetwis – het rondgegaan om te vernietig. Waarom? Omdat die herders blind geword het! Die wagte het gedroom van en hulle eie gierige planne nagejaag. Jesaja het gesê, “Hulle wagte is almal blind, hulle merk niks nie; hulle is almal stom honde wat nie kan blaf nie; wat dromerig lê, lief is om te sluimer. En die honde is gulsig, hulle het geen versadiging nie; en herders is hulle wat nie weet om op te merk nie; almal loop hulle eie pad, elkeen na sy onregverdige wins, almal saam” (Jesaja 56:10,11).

Jesaja was bedroef omdat die Here se volk geplunder en gevange geneem is deur die mag van die vyand. “En tog is dit ‘n beroofde en geplunderde volk; hulle is almal gebonde in kerkers, verborge in gevangenisse; hulle het ‘n buit geword sonder dat iemand red, ‘n plundering sonder dat iemand sê: Gee terug” (Jesaja 42:22).

Waar was die herders? Waar was die dienaars van God toe al hierdie plundery plaasgevind het? Hulle was van geen hulp hoegenaamd nie – het blind rondgestrompel, was doof en onsensitief. “Wie is blind buiten my kneg en doof soos my boodskapper wat Ek stuur” Wie is blind soos my boodskapper wat Ek stuur? Wie is blind soos die vertroude vriend, en blind soos die kneg van die HERE” (Jesaja 42:19).

Jeremia het bygevoeg, “hulle wat leuenagtige drome profeteer...grootpratery...vir hierdie volk hoegenaamd geen voordeel bring nie, spreek die HERE” (Jeremia 23:32).

Esegiël het bevestig dat die verskriklike waarheid dat selfdienende herders die oorsaak was van die verwarring en hulpeloosheid onder God se volk. Hy het gesê, “So het hulle dan verstrooid geraak, omdat daar geen herder was nie; en hulle het die voedsel geword vir al die wilde diere van die veld...My skape dwaal rond op al die berge en op al die hoë heuwels...sonder dat iemand na hulle vra of hulle soek. Daarom, o herders, hoor die woord van die HERE: So waar as Ek leef, spreek die Here HERE, gewis, omdat my skape ‘n prooi geword het en my skape as voedsel gedien het van al die wilde diere van die veld, omdat daar geen herder was nie, en my herders na my skape nie vra nie; en die herders aan hulleself weiding verskaf, maar my skape nie laat wei nie...” (Eségiël 34:5-8).

So gaan dit vandag! Daar is ‘n gebrek aan ware en heilige herders om God se volk tot heiligheid te lei. Die geroep van die hongeres is, “Waar kan ek ‘n goddelike herder kry om my siel te voed?” Diegene wat wel ‘n goddelike herder het, behoort baie dankbaar te wees.

God het Eségiël beveel om teen die herders van Israel te profeteer. Wat ‘n skerp boodskap het hy aan God se dienaars verkondig – “Wee die herders van Israel wat aan hulleself weiding verskaf! Moet die herders nie die skape laat wei nie? Julle eet die vet en beklee julle met die wol; julle slag die vettes, maar die skape laat julle nie wei nie” (Eségiël 34:2,3).

Sagaria het dieselfde ding gesê. Nie net was die herders blind en behep met hulle eie drome nie, hulle was nie eens daar waar hulle nodig was nie. Hy het gesê, “Daarom het hulle weggeswerwe soos ‘n kudde; hulle verkeer in verdrukking, omdat daar geen herder is nie” (Sagaria 10:2).

Dieselfde profeet het die manier verag waarop die herders handelsware van God se volk gemaak het – vet en voorspoedig geword het deur die skape uit te buit. “So sê die HERE my God: Wees herder van die slagskape – hulle kopers maak hulle dood, sonder om skuldig te voel; hulle verkopers sê: Geloofd sy die HERE; ek word ryk! En hulle herders het geen medelye met hulle nie” (Sagaria 11:4,5).

‘n Oordeelsdag kom oor die valse herders!

Die profete het voorspel dat ‘n dag van skielike oordeel gaan kom oor die herders en bedienings wat God se volk mislei. Daar kom ‘n tyd wanneer God nie langer die gierigheid, die selfgesentreerdheid, die verkondiging van valse vrede, die arrogansie van bedienings wat die koppige, vleeslike Christene sterk in hulle hardnekkige maniere sal duld nie. God bars skielik los en Hy wek ‘n groot storm op. “...’n groot storm word opgewek uit die agterhoeke van die aarde...” het Jeremia gesê (Jeremia 25:32).

Volgens die profete, sal vinnige en kwaai oordele kom oor bedienings en oor hulle werke – en ‘n geskreeu en geween sal gehoor word wanneer alles in duie stort. “Huil, o herders, en skreeu, en wentel julle in die as, julle maghebbers van die kudde; want vol is julle dae om geslag  te word, en Ek sal julle verbrysel, en julle sal val soos ‘n kosbare voorwerp. Dan sal daar geen toevlug wees vir die herders en geen ontkoming vir die maghebbers van die kudde, omdat die HERE hulle kudde verwoes” (Jeremia 25:34-36).

Ons het weereens gekom by hierdie selfde flitspunt van goddelike oordeel oor herders en bedienings. Dit sal nie die duiwel wees wat oppervlakkige, misleidende bedienings sluit nie – dit sal God wees! God sal hulle voorsiening van geld toestop; skuld sal ophoop, moeilikheid sal oral uitbreek. Van binne en buite sal daar onrus, vervolging, vrees en verskrikking wees – alles deur God toegelaat om ‘n einde te maak aan daardie bedienings en herders wat voorsiening maak om die vlees te behaag. God het genoeg gehad van karnival Christenskap, vermaaklikheidsevangelie en goedkoop, afbrekende geldmakery – alles in die Naam van Jesus. God het gesê, “Julle sal val soos ‘n kosbare voorwerp...” Dit spreek van die duur, kosbare, waardevolle bedienings – erken as kosbare voorwerpe – maar op pad om te val.

Sagaria het ook geprofeteer van God se toorn teen handeldrywende herders. God het deur hom gewaarsku, “Teen die herders het my toorn ontvlam...” (Sagaria 10:3).

God het dit baie duidelik gemaak dat Hy uiteindelik die kansels van die herders en bedienings sal wegneem wat hulleself voed terwyl hulle die skape mislei. “So sê die Here HERE: Kyk, Ek het dit teen die herders! En Ek sal my skape van hulle hand eis en maak dat hulle geen skape meer oppas nie, sodat die herders aan hulleself nie meer weiding sal verskaf nie; en Ek sal my skape uit hulle mond uitruk, sodat dit hulle nie as voedsel sal dien nie” (Eségiël 34:10).

God, deur Sy heilige profete, het ‘n jaar van straf teen die bose herders aangekondig. Jeremia het gepraat van hierdie bepaalde tyd van oordeel – “Want die profeet sowel as priester is goddeloos; selfs in my huis het Ek hulle boosheid gevind, spreek die HERE. Daarom sal hulle weg vir hulle wees soos glyerig plekke in die donkerheid; hulle sal neergestoot word en daarin val. Want Ek sal onheil oor hulle bring in die jaar van hulle besoeking, spreek die HERE” (Jeremia 23:11,12).

Maak gereed! Christene sal binnekort meer as ooit tevore gebombardeer word met vreeslik desperate en hartseer pleidooie vir geld van bedienings wat op die punt is om te val. Watter verskriklike pleidooie – watter skuld en druk sal van alle kante af kom. Dit is die doodsgeratel van sterwende bedienings wat onder goddelike oordeel val.

Die behoefte vir herders na God se hart

Daar is ‘n desperate behoefte vir heilige, Godvresende herders – omdat die volk van die Here geneig is om afvallig te word. Sonder gesalfde herders om hulle op te wek en wakker te maak, sal hulle voortdurend terugkeer na die wêreld en goddeloosheid.

Dit mag ons diep sny, maar die waarheid is: God se volk was van die begin af geneig tot die wêreld en sy afgodery. Die Israel van Christus is net so hardnekkig soos die Israel van Moses. God het Israel uit Egipte geroep om Sy eie eiendom te wees. Hy wou ‘n afgesonderde volk hê wat Hom sou liefhê en dien met ‘n hart vol oorgawe. Hy het gesê, “Ek [het] julle met arendsvlerke gedra en julle na My toe gebring...julle [sal] my eiendom uit al die volke wees...’n koninkryk van priesters en ‘n heilige nasie” (Exodus 19:4-6).

Moses het die geneigdheid van hulle harte geken. Hy het vir hulle gesê, “Jy is ‘n hardnekkige volk...van die dag af dat jy uit Egipteland uitgetrek het, totdat julle by hierdie plek gekom het, was julle wederstrewig teen die HERE...Wederstrewig was julle teen die HERE van die dag af dat ek julle ken” (Deuteronómium 9:6,7,24).

Moses het bygevoeg, “Want ék ken jou wederstrewigheid en jou hardnekkigheid. As julle terwyl ek nog vandag by julle lewe, wederstrewig was teen die HERE – hoeveel te meer dan ná my dood?” (Deuteronómium 31:27). Ook, “Want ek weet dat julle ná my dood gewis verderflik sal handel en sal afwyk van die weg wat ek julle beveel het, sodat die onheil julle aan die einde van die dae sal teëkom, omdat julle sal doen wat verkeerd is in die oë van die HERE...” (Deuteronómium 31:29).

Die mense het vir hulle herder gehad, die nederigste, mees toegewyde man op die aarde op daardie stadium. Hy het gespreek as die woord van God en hy het in Sy heerlikheid gewandel. Maar selfs toe Moses hulle moes waarsku, mooipraat, oordeel en aanmoedig om verder te gaan met God – het hulle vasgehou aan hulle boesembegeertes en afgodery. En Moses het iets oor die natuur van God se volk geweet – Hy het geweet dat wanneer die vrees van God verlore gegaan het, wanneer die gebulder teen hulle sondes opgehou het – sou hulle heeltemal afvallig word en terugkeer na hulle ou hardnekkige weë. En dit het gebeur net soos Moses geprofeteer het.

Hoor wat God gesê het oor die natuur van Sy kinders, “Waarom is dan hierdie volk, Jerusalem, afkerig met ‘n aanhoudende afkerigheid? Hulle hou vas aan bedrog, hulle weier om terug te keer” (Jeremia 8:5). “Want my volk dwing om van My afvallig te word...” (Hoséa 11:7). “Ek het met jou gespreek in jou sorgelose rus, maar jy het gesê: Ek wil nie luister nie. Dit was jou weg van jou jeug af, dat jy na my stem nie geluister het nie” (Jeremia 22:21).

Is hierdie alewige afvalligheid slegs ‘n Ou Testamentiese verskynsel? Skaars! Aan die einde van die kerkeeu, kry mens Christus wat oordeel aankondig oor die Laodicense kerk – afvallig, blind en verdorwe – sonder dat hulle dit weet. ‘n Grootpraterige, hardkoppige volk wat daarin geroem het dat hulle soveel het – maar wat die Here in werklikheid naar gemaak het.

Paulus het die Nuwe Testament kerk gewaarsku dat handelaars onder hulle sou inkom, leraars wie se god hulle maag sou wees – wat sou onderrig en preek vir goddelose wins.

Afgodiese herders vir afgodliefhebbende skape

Diegene wat weier om hulle afgode te laat staan en nie hulle struikelblokke eenkant toe wou skuif nie, sal mislei word deur besoedelde bedienaars wat vir hulle sal gee wat hulle wil hê.

Sommige van die oudstes van Israel het na Eségiël gekom om by die Here te raad te vra. God het vir die profeet gesê, “Mensekind, hierdie manne het hulle drekgode in hulle hart opgeneem en die struikelblok tot hulle ongeregtigheid voor hulle aangesig neergesit – sou Ek My dan werklik deur hulle laat raadpleeg? (Eségiël 14:3).

God het in wese gesê, “Ek sal afgodiese, verdorwe lewe met afgodiese, verdorwe boodskappe antwoord. Hulle is so gefokus op hulle afgode, so verslaaf, so vasbeslote om my te volg terwyl hulle hul vlees behaag, dat Ek vir hulle leraars sal gee om hulle in die gehoor te streel. Ek sal onder hulle herders instuur wat hulle sal gebruik en misbruik – hulle sal die afgodery in hulle harte dien – dit in hulle bevestig.” “Elke man uit die huis van Israel wat sy drekgode in sy hart opneem en die struikelblok tot sy ongeregtigheid voor sy aangesig neersit en na die profeet toe kom – Ek, die HERE, sal hom daarvolgens, volgens die menigte van sy drekgode, antwoord gee...En as die profeet hom laat verlei om ‘n woord te spreek – Ek, die HERE, het dié profeet verlei, en Ek sal my hand teen hom uitstrek en hom verdelg uit die midde van my volk...soos die ongeregtigheid van die vraer, so sal die ongeregtigheid van die profeet wees...” (Eségiël 14:4-10).

Ons het die musiek van duiwels in God se huis ingebring omdat die jeug daarop aangedring het – die ouers het nie langer omgegee nie – die herders het bloot toegegee en vir die kinders gegee wat hulle wil hê. ‘n Ryk, oorvoed kerk het verslaaf geword aan luukshede en wentel nou in die afgodery van materialisme – daarom antwoord God daardie afgodery met silwertong leraars wat vir hulle ‘n teologie gee om dit te regverdig.

Herders na God se hart

Terwyl God selfgesentreerde herders oordeel, rig Hy terselftertyd herders na Sy eie hart op. Hierdie selfde profete wat die val van gierigheid, verdorwe herders en bedienings voorspel het, het ook geprofeteer van die oprigting van heilige herders en goddelike pastore wat die skape in geregtigheid sal oppas. God gaan vir Homself bedienaars aanstel wat uit Sion – God se heilige berg – kom. “Keer terug, o afkerige kinders, spreek die HERE, want Ek is heer oor julle; en Ek sal julle neem, een uit ‘n stad en twee uit ‘n geslag en sal julle in Sion bring. En Ek sal aan julle gee herders na my hart, wat julle sal oppas met kennis en verstand” (Jeremia 3:14,15).

Dit begin met die mense in die gemeente – een hier, twee daar – ‘n honger, opgewekte oorblyfsel wat Hy daar uit roep. God het gesê, “En Ek sal hulle ‘n hart gee om My te ken, dat Ek die HERE is: En hulle sal vir My ‘n volk wees, en Ek sal vir hulle ‘n God wees, want hulle sal na My terugkeer met hul hele hart” (Jeremia 24:7).

Wanneer die volk van God hulle lewens en hulle huise skoonmaak van alle afgode, en wanneer die Heilige Ges hulle opwek tot heiligheid en reinheid – wanneer hulle harte desperaat honger raak vir waarheid en werklikheid – sal God vir hulle ‘n nuwe hart gee. Hulle sal nie langer tevrede wees om onder die herder te sit wat ligsinnig en dwaas is nie. Hulle sal vinnig onderskei watter herders waar en vals is. Hulle sal gelei word na die kraal van ‘n ware herder wat hulle honger siele sal voed. Hulle sal tereggewys word en dit liefhê – omdat dit in hulle ‘n haat vir sonde sal produseer. Jeremia het geprofeteer, “In dié dae en in dié tyd, spreek die HERE, sal die kinders van Israel kom, hulle met die kinders van Juda saam; onder geween sal hulle voorttrek en die HERE hulle God soek. Hulle sal na Sion vra; op die pad hierheen sal hulle aangesig gerig wees; hulle sal kom en by die HERE aansluit in ‘n ewige verbond wat nie vergeet sal word nie” (Jeremia 50:4,5).

God het gesê, “En Ek sal herders onder hulle verwek wat hulle sal oppas; en hulle sal nie meer bevrees of verskrik wees of vermis word nie, spreek die Here” (Jeremia 23:4).

God het die belofte om in die laaste dae herders met die hart en eienskappe van Dawid op te rig. “Daarom sal Ek my skape red, sodat hulle nie meer ‘n prooi sal wees nie; en Ek sal oordeel tussen skape en skape. En Ek sal een enkele herder oor hulle verwek, en hy sal hulle laat wei, naamlik my kneg Dawid; hy sal hulle laat wei, en hy sal vir hulle ‘n herder wees” (Eségiël 34:22,23).

Dit praat van Christus, die een enkele groot Herder uit al die uitverkorenes – maar ook van daardie herders wie se harte soos Dawid s’n is – berouvol, God-vresend en jaloers vir Sy heiligheid.

Watter heerlike beloftes het God vir ons gegee aangaande gevoed en opgepas te word in hierdie laaste dae, “Ek self sal my skape oppas, en Ek self sal hulle laat lê en rus...Die wat verlore is, sal Ek soek, en wat weggedryf is, sal Ek terugbring, en wat gewond is, sal Ek verbind, en die siekes sal Ek versterk...” (Eségiël 34:15,16).

“Hy sal sy kudde laat wei soos ‘n herder; Hy sal die lammers in sy arm vergader en aan sy bors dra; die lammerooie sal Hy saggies lei” (Jesaja 40:11).

“Want die Lam wat in die middel van die troon is, sal hulle laat wei en hulle na lewende waterfonteine lei, en God sal alle trane van hulle oë afvee” (Openbaring 7:17).

Gevolgtrekking

Laat geen ontevrede, wederstrewige predikerhater of -veragter vertroosting deur hierdie boodskap vind nie. Wat ek verkondig, is die boodskap van die profete, maar met innige en opregte liefde en medelye met alle hartseer, bekommerde bedienaars. Dit is met liefde waarmee hierdie streng boodskap gebring word, nadat dit eers my eie hart deurdring het. God sal nie toelaat dat brommende, ontevrede Christene Sy gesalfdes kwaad aandoen nie – veral nie terwyl hulle in die loutervure is nie.

God is so geduldig, so teer teenoor al sy bedienaars. Trouens, die herders wat werklik gesalf en aangeraak is deur die heerlikheid en die vuur van God het deur baie loutering gekom. Baie was eens mislei, selfsugtig, kompeterend, het gestrewe om aanvaar of gerespekteer te word en was vasgevang in aardse drome. Maar God het iets in hulle gesien wat Hy liefgehad het – ‘n berouvolle, honger hart, ‘n verlange na die dieper dinge van God. En diegene wat geduldig met hulle was en vir hulle gebid het, hulle lief genoeg gehad het om te wag totdat God tyd gehad het om hulle terug te bring na Hom toe – hulle was, op hulle beurt, so geseënd omdat hulle nou waarlik gelei word deur ‘n herder wat deur die vuur gekom het. Hulle het nou ‘n man van God onder wie hulle in Christus groei; en hulle is nou deel van die liggaam wat heeltemal aan die Hoof geheg is.

Ween vir julle herders! Ween met liefde, met droefheid, maar met hoop! God het Sy ware herders vandag, hoewel min in getal en meestal onbekend, wat nie kompromieë sal maak nie en wat genoeg omgee vir die skape om hulle sondes te openbaar en hulle tot bekering te roep. Bid vir jou herder – hy word getoets soos nog nooit tevore nie. Bid vir al die evangeliste en alle bedienings. Jy hoef nie herders te volg wat hulle salwing verloor het nie – maar moenie hulle kwaad aandoen nie. Dit is ‘n saak waarmee God persoonlik sal handel.