'n Drankoffer

Verwerp Gierigheid en Omhels Opoffering
David Wilkerson

Dit is verstommend hoe die Woord van God letterlik uitroep teen die manier waarop die meeste Christene vandag leef. Ou Testament profete spandeer baie van hulle tyd om die gierigheid en korrupsie van priesters, valse profete en van die massas te openbaar. Met ‘n gebroke hart het Jesaja gesê, “Hulle wagte is almal blind, hulle merk niks op nie; hulle is almal stom honde...dromerig...lief...om te sluimer...En die honde is gulsig, hulle ken geen versadiging nie...almal loop hulle eie pad, elkeen na sy onregverdige wins, almal saam” (Jesaja 56:10,11).

Sekerlik is nie al die bedienaars soos die gierige honde wat beskryf word deur die profeet Jesaja nie. Tog het godsdiens tóé, net soos nou, blaie korrup geword en beide priesters en gemeentelede was vervul met selfgesentreerdheid en gierigheid. Jeremia het gesê, “Want van hul kleinste tot hul grootste maak hulle almal onregverdige wins, en van die profeet tot die priester pleeg hulle almal bedrog” (Jeremia 6:13). En om die gierige gemeente te verseker dat die luukshede en voorspoed nooit tot ‘n einde sal kom nie, het hulle ‘n baie gerieflike boodskap van vrede en oppervlakkige godsdiens saamgeflans. (Sien Jeremia 6:14).

Die Nuwe Testament profete en apostels staan nét so sterk in hulle verwerping van selfgesentreerdheid en hebsug. Paulus het gesê, “Geen...gierigaard...[het] ’n erfdeel... in die koninkryk van Christus en van God nie” (Efésiërs 5:5). Hy het gewaarsku oor gevaarlike tye wat sou kom waarin mans “liefhebbers van self... gierig...onheilig” (2 Timótheüs 3:1,2) sal wees. Petrus het ons gewaarsku dat valse profete en leraars sou opstaan in die laaste dae en verdoemende ketterye van gierigheid in die kerk sou inbring – deur hulle wie se harte “geoefen in hebsug” is (2 Petrus 2:8-14).

Jesus het ‘n baie godsdienstige volk bedien wat innerlik so verdorwe geword het dat, hulle sonder ‘n tikkie skuldgevoel God se huis kon verander in ‘n spelonk van diewe en rowers. Jesus het duidelik die Fariseërs en skrifgeleerders van Sy tyd verwerp omdat hulle so laag gedaal het om weduwee’s se huise te beroof – in die Naam van God! (Matthéüs 23:14). Weer en weer het Jesus gewaarsku, “Pasop en wees op julle hoede vir die hebsug” (Lukas 12:15).

Gierigheid het die god van hierdie eeu geword. ‘n Wilde gees van hebsug het beide die sekulêre en godsdienstige wêreld beset. Persoonlike wins en sekuriteit het die doel en motivering van die massas geword. Die gierige Wall Street manipuleerders en die predikers van sukses en voorspoed, het almal ‘n dringendheid om “dit alles nou, terwyl dit maklik is,” te kry!

Maar ek hoor die onheilspellende geluide van ‘n ekonomiese storm wat saampak. Skielike weerlig gaan Wall Street tref en ‘n leër van grypende, selfsugtige, geldmal beleggers uitwis. Wat ‘n geween sal daar wees. Los Angeles, New York, Boston, San Francisco en ander groot stede sal binnekort steier as gevolg van finansiële paniek. Die huidige ekonomiese oplewing in sommige van ons groot stede, is ‘n kaarthuis – en dit is op die punt om in duie te stort. Dit word gedryf deur ‘n onversadigbare gierigheid en bedrog wat God nie langer sal duld nie.

In tye soos hierdie – is die boodskap van die Heilige Gees nie van kry nie, maar van gee.

Ek glo Satan self is die oortreder en dryfkrag agter die verheerliking van self wat so populêr geword het in die kerk vandag. Omdat ons so ver van die kruis van Jesus afgedwaal het, prys ons blinde ambisie, selfs in die werk van God. Selfvertroue en sukses het nederigheid en daaglikse sterwe aan die self en die wêreld vervang. Wat ‘n stank in God se neus het dit geword.

Maar terwyl menigtes nou buig voor die goue kalwers van sukses en materialisme – rig God ‘n heilige volk op wat Sy oproep tot selfverloëning en die dra van die kruis gehoorsaam. Jesus Christus gaan terugkeer en vir Homself ‘n bruid neem wat volkome leeggemaak is van self, ambisie, hoogmoed en hebsug. Die Nuwe Jerusalem van daarbo, sal bestaan uit ‘n oorblyfsel liggaam gelowiges wat geleer het om hulleself as ‘n drankoffer uit te giet vir Christus.

Jesaja die profeet, het van Jesus gesê, “Omdat Hy sy siel uitgestort het in die dood...” (Jesaja 53:12). Die profeet het teruggekyk na drankoffers wat aan die Here geoffer is in die woestyntabernakel. Twee vlekkelose lammers was geslag, op die koperaltaar neergelê en verbrand deur vuur – een in die vroeë oggend, en een in die aand. Dit was om te dien as ‘n voortdurende herinnering vir Israel dat hulle sonde op die onskuldige lam gelê was en aan God gebied was as ‘n offer vir versoening. Dit het gedui op Christus en Sy offerdood aan die kruis.

Saam met die offerlam, moes die offeraar vir die priester ‘n graan (brood) offer bring, wat bestaan het uit meel en geklitste olie – en drie pinte wyn as ‘n drankoffer. Die prosedure word eenvoudig beskryf in die 28ste hoofstuk van Númeri. “Die een lam moet jy in die môre berei, en die ander lam moet jy teen die aand berei; met ‘n tiende van ‘n efa fynmeel as spysoffer, gemeng met ‘n kwart-hin uitgestampte olie...En die drankoffer wat daarby behoort, moet wees ‘n kwart-hin (drie pinte) vir elke lam. In die heiligdom moet jy die drankoffer van sterk drank aan die HERE uitgiet...” (Númeri 28:1-8).

Die drankoffer verteenwoordig ons diens en bediening aan die Here.

“Met die drankoffer wat daarby behoort, moet jy dit berei – ‘n vuuroffer van lieflike geur aan die HERE” (Númeri 28:8).

Die drankoffer beker was gemaak van suiwer goud. Die wyn van die offeraar, was in die goue beker gegiet, en terwyl die lam verbrand was op die altaar, het die priester dit op die grond uitgegooi. Die drankoffer mag nie deur die priester gedrink word nie, maar liewer aan die Here geoffer word as ‘n soet geur.

Baie min word onderrig oor die betekenis van die drankoffer, maar ek glo dit het baie te doen met ons tyd. In ‘n dag van soveel selfhantering, selfvertroeteling, selfverlustiging– moet ons verstaan wat God vir ons sê met die drankoffer. Die Gees van God roep vir die uitgiet van ons lewens as ‘n offer vir Hom. Dit is ‘n uitnodiging om onsself leeg te maak en uitgegiet te word as ‘n lewende offer aan Hom – om op te hou opgaar en te gryp en bymekaar te maak en te kry – om op te hou om al die goedheid van God op onsself te mors – om ons selfsugtige weë om onsself vol te stop en al die seëninge op te suig te verander. Talle het oorvol, oorbeskermd, opgeblase van materialisme geword en steeds verlang hulle na meer.

Wandel in liefde!

Is dit nie omtrent tyd vir God se kinders om begin om meer van hulleself en van wat hulle het te gee nie? Sal hierdie sinnelose soeke na sukses en voorspoed in God se huis nooit ophou nie? Sal miljoene van charismatiese Christene die ewigheid binnegaan terwyl hulle net een skrifvers herhaal, “dat met jou in alles goed mag gaan en dat jy gesond is, soos dit met jou siel goed gaan” (3 Johannes 2)? Sal hulle ooit genoeg kry? Bly die wyn steeds in die beker – of sal dit uitgegiet word vir die Here?

Hoe anders as Christus het ons geword – ons neem soveel vir onsself terwyl Hy Sy alles vir ons gegee het. Hy het só min van die dinge van die aarde geneem – eintlik net wat Hy nodig gehad het om van te lewe. Paulus het geskryf, “En wandel in liefde, soos Christus ons ook liefgehad het en Hom vir ons oorgegee het as ‘n gawe en offer aan God tot ‘n lieflike geur” (Efésiërs 5:2). Jesus het regtig Homself aan die Vader gegee as ‘n offer, en omdat Hy Homself vir die Vader gegee het, het Hy Homself ook vir ons gegee. Net so met ons! Dit is deur onsself heeltemal vir die Here Jesus te gee dat ons onsself die beste aan ander kan gee. Ons is nie geroep om die mensdom te dien nie – ons is geroep om ons lewens as drankoffer aan die Here uit te giet, en uit daardie offer aan Hom, sal ons diens aan die mensdom voortkom.

Die Ou Testamentiese offers en offergawes het God nie behaag nie, omdat dit ‘n hartelose ritueel vir die Israeliete was. Dit was Jesus wat blydskap en plesier vir die Vader gebring het toe Hy Sy lewe uitgegiet het as ‘n drankoffer. Dit was nie ‘n skaduwee nie, maar dit was wat God nog altyd wou hê. Hou wou diegene hê wat, uit hulle hart, Sy wil sou doen in alles. Paulus skryf, “Brandoffers en sondoffers het U nie behaag nie. Toe het Ek gesê: Kyk, Ek kom....om u wil te doen, o God” (Hebreërs 10:6-9). Jesus het die patroon vir ons almal uitgelê – ‘n uitgestorte lewe van diens aan God, om Sy wil te doen.

Aan die Filippense het Paulus gesê, “Maar al word ek as ‘n drankoffer uitgegiet oor die offer en bediening van julle geloof, verbly ek my, ja, verbly ek my saam met julle almal...” (Filippense 2:17,18). Aan die einde van sy bediening, net voor hy huistoe gegaan het, kon hy sê, “Want ek word alreeds as ‘n drankoffer uitgegiet, en die tyd van my heengaan is naby” (2 Timótheüs 4:6).

Paulus, die apostel van opoffering en selfverloëning, het voor sy Here gestaan in die laaste dae van sy bediening as ‘n leë kruik. Toe hy daarvan gepraat het dat hy ‘n goeie stryd gestry het, het hy eintlik gesê, “Ek is uitgegiet vir my Here!” Paulus het die wêreld en al sy betekenislose dinge prysgegee – dit as drek beskou – sodat hy sy liefdes op die dinge daarbo kon rig.

Paulus kon vir die Korinthiërs sê, “Ek sal julle nie lastig val nie, want ek soek nie julle goed nie, maar julle self...Ek ek sal baie graag uitgee, ja, myself weggee vir julle siele, al word ek, terwyl ek julle oorvloediger liefhet, minder bemin” (2 Korinthiërs 12:14,15).

Ek kyk terug na my bediening en my hart breek. Ek roep uit, “O Here, ek het soveel tyd en geld op myself gemors. Ek het so min van my tyd deurgebring om uitgestort voor U te wees as ‘n lewende offer. Ek was ook té begaan oor my eie sekuriteit – té vasgevang in my eie strewes en behoeftes – té lui en onbesorg om my alles vir U te gee.” Ek is hartseer omdat dit my so lank geneem het om op ‘n persoonlike manier te weet dat jy jouself vind slegs deur jouself te verloor – in Sy wil.

Ons drink Sy wyn.

Wyn is ‘n tipe geluk, menslike vreugde en blydskap. “...dat wyn die mense se hart kan bly maak...” (Psalm 104:15). Jesus, hoewel vol goddelike blydskap en plesier, het die vreugdes en plesiere van hierdie wêreld verwerp. So ook Paulus en al die apostels van ons Here. Hulle blydskap het bestaan om die wil van God te doen.

Maleági, die profeet, het gevra, “Mag ‘n mens God beroof? Want julle beroof My...In die tiendes en die offergawe...” (Maleági 3:8). Ons beroof God van sy drankoffer. Eerder as om ons lewens voor Hom uit te giet, en aan ander, gebruik ons dit op ons eie begeertes. Selfs ons gebede het selfsugtig geword. ‘n Groot charismatiese kerk adverteer op die radio, “Gebed het die land se grootste kerke geproduseer. Gebed het ons een van die vinnigste groeiende kerke in Amerika tot stand laat kom. Kom, sien wat gebed vir jou kan doen.” Dit beroof God van sy drankoffer.

Die huidige verslawing aan gemak en luuksheid, is om Sy drankoffer te drink. Ons beroof God van tyd – ons sit voor ‘n TV vir ure aaneen en verwaarloos Hom dag vir dag. Ons hoor van miljoene haweloses in hierdie land wat in die strate slaap, maar ons haal dit uit ons gedagtes - en jaag agter dinge aan. Miljoene sterf dwarsdeur die wêreld en gaan hel toe omdat die las vir sending besig is om te sterf – maar ‘n vet, oorversadigde Christendom is tevrede om in die kerk te sit en te juig in sy sekuriteit. Ons drink Sy wyn.

Goedbedoelende herders kan skuldig wees aan die steel van God se wyn meer as al die ander. Deur te bou, die siekes te besoek, betrokke te wees by kerkaktiwiteite – besig te bly – hulle wat self nie “uitgegiet is voor die Here” nie. Die drankoffer kan slegs uitgegiet word in die afgesonderde binnekamer, waar die hart ontledig word van die hele self en alle aardse ambisies, en die siel van die mens van God kaal is voor Sy heilige oë. Dit behoort slegs ‘n “uitgestorte” mens te wees wat agter die heilige kansel staan – en so onverstop, so gewillig te wees om homself vir die skape te gee, dat hy ‘n werktuig word wat vloei met ‘n voortdurende stroom van nuwe wyn.

Die profeet Hábakuk praat van oortreding deur wyn. Hy waarsku nie net diegene wat alles op hulleself spandeer nie, maar hulle wat die bottel teen hulle naaste se lippe sit. “En bowendien, die wyn is ‘n bedrieër...wat sy keel wyd oopmaak soos die doderyk...so onversadiglik...hy vergader vir homself...maak vir hom...bymekaar...Wee hom wat vuil gewin maak...Wee hom wat aan sy naaste drank gee...en hulle ook dronk maak om hulle naaktheid te aanskou...” (Hábakuk 2:5,9,15).

Sonder enige kwade bedoelings en sonder om snaaks te wees, sê ek vir diegene wat die boodskap van voorspoed en selfvertroue verkondig – “Waarom moet jy jou bottel aan die mond van jou naaste sit?” As jy kies om in luuksheid te lewe, rykdom bymekaar te maak en sukses en eieprestasie te bevorder, die mens se applaus te aanvaar, doen dit dan net. Waarom moet jy ‘n leerstelling skep om dit te regverdig? Waarom ander van jou wyn laat drink? Sal jy ander dronk van sukses maak? Hoeveel van God se kinders moet wentel in ‘n dronkbeswyming van selfgesentreerdheid voordat die waarheid aan die lig kom dat God besig is om beroof te word van Sy drankoffer?

Paulus het gewaarsku, “Moenie dronk word van wyn nie – daarin is losbandigheid; maar word met die Gees vervul” (Efésiërs 5:18). Met ander woorde – moenie die wynoffer drink nie – wees uitgestort, en uitgegiet deur die Heilige Gees. Hierdie wyn is diens en bediening. Moenie jouself dien nie. Moenie dronk word deur jou eie behoeftes – jou eie selfsugtige begeertes - te dien nie. Net soos in die dae van Lot, met oordeel voor die deur, “eet en drink” menigtes sonder om versigtig te wees. Hulle drink Sy drankoffer – mors alles op self.

Sommige giet Sy drankoffer uit vir afgode

Jeremia het teen die Joodse bannelinge in Egipte geprofeteer wat besig was om “vir die hemelkoningin...drankoffers uit te giet” (Jeremia 44:17). Weens hulle goddeloosheid het God Juda vernietig en Jerusalem in puin laat lê. Nou, terug in Egipte, terwyl hulle die vloek en die straf van goddelike oordeel dra – soek hulle ‘n manier om voorspoed en oorvloed terug te kry. Eerder as om hulle nederig tot God te bekeer – word die self verhef. Hulle wend hulle harte tot owerspel en verwerp die woorde van die profeet. “’n Groot menigte, en die hele volk wat in Egipteland, in Patros gewoon het, het Jeremia geantwoord en gesê: Aangaande die woord wat u ons in die Naam van die HERE verkondig het – ons sal na u nie luister nie. Maar ons sal stellig alles doen wat uit ons mond uitgegaan het – om vir die hemelkoningin...drankoffers uit te giet soos ons gedoen het...Maar vandag ons opgehou het om vir die hemelkoningin...drankoffers uit te giet, het ons aan alles gebrek gehad...” (Jeremia 44:15-19).

Dit is een van die heel duidelikste voorbeelde van hardnekkigheid onder God se volk in die hele Bybel. Dit bewys dat nie eens die ergste van goddelike oordele mense kan los skud van hulle slawerny aan die leerstelling van eiewil nie. ‘n Mens sou kon dink dat kinders van God wat gestroop was van alles en onder die roede van oordeel geval het, wakker sou skrik en hulle behoefte van afhanklikheid aan die Here sou besef. Hulle het alles wat God vir hulle gegee het vermors en mee gespog, en Hy het dit weggeneem. In hulle armoede en wanhoop, het hulle hul harte en ore oopgemaak vir die woorde en waarskuwings van heilige profete? Nee! Hulle draai hulle beslis en arrogant weg van God se ware dienaars en versin hulle eie evangelie van gemak. Op die ou end, gee hulle al hulle tyd en energie aan afgodery – aan ‘n vorm van goddelikheid sonder die krag van heiligheid.

Daar is ‘n soortgelyke reaksie vandag teen profetiese boodskappe onder diegene in die kerk wat sukses en voorspoed begeer. Vir hulle, is profete niks anders as lasposte nie – doemprofete wie se waarskuwings oor bekering en naderende oordeel nie ooreenstem met Nuwe Testamentiese barmhartigheid en genade nie. As die profetiese stem verwerp word, word afgodery algemeen. Mensgesentreerde prediking neem dan oor. Onder hierdie soort prediking word Christene behep met eie behoeftes, selfvervulling en selfliefde. Op die ou end beland hulle in ‘n hardnekkige verwerping van Christus se evangelie van lyding en selfverloëning.

Wie is die koningin van die hemel aan wie so baie hulleself oorgee – aan wie die drankoffer uitgegiet word? Haar naam is self-verlustiging. Haar gees het ons hedendaagse samelewing vasgevang en sy is nou vasbeslote om haar troon in God se huis op te rig. Sy het reeds ‘n menigte van volgelinge: koud-in-hul-liefde-vir-Jesus Christene wat nou net vir hulleself lewe. Hulle harte word gevange geneem deur die plesiere, die begeertes en luukshede en die die trots van hierdie wêreld. Hulle dien hulle eie afgode – en hulle sal vir God en menslike behoefte slegs gee wanneer die allesverterende behoeftes van hulle eie afgodery versadig is. Daar is min oor om voor God uit te giet, omdat dit reeks geoffer is aan een of ander afgod.

Ons is nou in ‘n tyd van laaste geleenthede.

Die gordyn is op die punt om toe te gaan en die kerk kry sy laaste oproep om hom te bekeer, sy selfsugtige weë te laat staan en terug te keer na die heiligdom en uitgegiet te word as ‘n offer. ‘n Oorblyfsel is nou reeds besig om diep aangeraak te word deur die Gees van God.

God het my teruggeroep na New York Stad om ‘n drankoffer te wees tot Sy eer. My een groot gebed is nou, “O God – laat my myself heeltemal aan U oorgee – laat ek uitgegiet word in trane, in gebrokenheid, in smekinge en voorbidding vir die verlorenes en hopeloses. Aanvaar al my tyd, al my energie, al my liefde, my hele wil – as ‘n lewende offer. Laat my die leegheid en nietigheid van alle aardse dinge sien. Laat my alle eie ambisie en selfliefde verwerp. Laat die bediening wat U vir my gegee het, as wyn uitgegiet word voor U, Here – en laat my eendag voor U Oordeelstroon staan, leeg – heeltemal uitgegiet!”

Dit weet ek is my laaste geleentheid om ‘n drankoffer te wees – ‘n lieflike geur vir Hom. Roep die Gees jou ook? Word jy ook gespeen van hierdie wêreld? Voel jy Sy magnetiese trek om alles vir Hom te gee? Gee dan jou liggaam heeltemal aan Hom as ‘n lewende offer – wees uitgegiet – dit is ons redelike offer aan Hom.

Jona

Jona het ‘n hutjie gebou,

Teen die hitte was dit ‘n skuiling.

‘n Rankplant het gegroei en hom beskerm

Teen die wind se verwaaiing.

 

Jona het gejuig, baie bly

Oor hierdie die rankplant se gerief -

Veral omdat hierdie gemak

Voorsien was deur die Here so lief!

 

“Ek dank U, Here,

U is nog altyd goed,

Vir my liewe vrou en ek;

Ons is bly ons bly in ‘n land met vrede

En van groot voorspoed op hierdie plek.

 

Dit laat ons so goed voel –

Hierdie klein chalet -

Die kombuis, die sitkamer

Die mat, so sag, weet jy.

 

Ons het ons kinders elkeen lief;

Vir God hou ons hulle tuis:

Die vaderland het hul nét so nodig

Soos sendingvelde ver van die huis.

 

En fundamentaliste is ons,

My kinders, vrou en ek-

So dankbaar, deur genade gered,

Veilig tot ons uit die lewe vertrek!

 

Wat het U gesê?

O-Nineve?

Wel, dit is ‘n ander ding.

Nou wil ons eers ons God prys

Onder Sy vlerk is ons beskerming!”

 

Dus, fundamentele Jona’s

Besing God se lof.

Hulle sing, “Ons is salig en tevrede,”

Tot Nineve byt in die stof!

  • Ted Laskowski