Die Brood van God

God gee krag om te oorwin in enige krisis
David Wilkerson

God het ‘n bron van lewe voorsien vir die hele wêreld. Nie net lewensmiddele nie, maar lewe in sy volste mate – Jesus het dit oorvloedige lewe genoem.

God het manna gestuur om lewe te onderhou in die woestyn – Hy het Sy Seun Jesus gestuur om lewe te onderhou in óns tyd. Jesus het gesê, “Want die brood van God is Hy wat uit die hemel neerdaal en aan die wêreld die lewe gee” (Johannes 6:33).

Wat vandag ontbreek in die Christendom, en so nodig is, is lewe! Dit wat baie vandag beleef, kan nie lewe genoem word nie. Jesus Christus is die Brood van God wat, wanneer dit daagliks geëet word, ‘n kwaliteit van lewe gee wat Hy self geniet. Deur Sy eie getuienis, het Jesus gesê Hy het deel aan ‘n lewe wat direk van Sy hemelse Vader af vloei – en wat Hy sê ons ook behoort aan te spoor... “Soos....Ek deur die Vader lewe, so sal hy wat My eet, ook deur My lewe” (Johannes 6:57).

Wat ons in die wêreld en die kerk sien vandag, is die doodgaan van lewe. Hoe verder die mens van Jesus, die bron van alle lewe, af wegdwaal, hoe meer sluip die dood in. Bykans alle godsdienstige stelsels is in die proses om te sterf – en hulle is nie eens bewus van al die tekens van verval en swakheid nie. Waarom verwys ‘n groot gedeelte van die jeug vandag na die kerk as dood? Waarom is daar so ‘n uitroep en ‘n innige verlange in die harte van so baie ontnugterde heiliges van God na ‘n kerk wat ‘n bietjie lewe het? Is dit omdat daar so min uitgedeel word van die Brood van God wat lewe voortbring?

Daar is ‘n hongersnood in die land!

Wat vandag die kerk genoem word, beleef volgens my, die geskiedenis se ergste geestelike droogte. Menigtes verhongerde skape reik uit na hulle herders vir iets om te eet – iets lewegewend wat hulle in hierdie skrikwekkende tye aan die lewe sal hou. Heel dikwels, is daar nie eens ‘n morseltjie geestelike kos nie - en hulle verlaat God se huis leeg, onversadig en word swak en moeg om keer op keer terug te strompel na ‘n leë tafel.

Die profeet Amos het geprofeteer van ‘n dag wat kom wanneer “die mooi jongedogters en die jongmanne van dors beswyk.” Hy het uitgeroep, “Kyk, daar kom dae, spreek die Here HERE, dat Ek ‘n honger in die land stuur, nie ‘n honger na brood nie en nie ‘n dors na water nie, maar om die woorde van die HERE te hoor...” (Amos 8:11,12).

Ek weet dit gee aanstoot vir baie Christene as daar vir hulle gesê word dat God aangekondig het dat Hy ‘n hongersnood van die ware Woord stuur – en omdat die mense sweer by hulle afgode, sal hulle soek maar nie vind nie. Dit is waar, daar is soveel lewenskragtige prediking in die land – baie leringe wat homself openbaring noem. Bybels is meer sigbaar as ooit tevore en menigtes kom bymekaar om te luister na hulle gunsteling predikers en leraars. Sommige sal dit selfs noem die dae van herlewing – heerlike dae van evangelie lig en nuwe waarheid.

Maar as dít wat aangebied word, nie die Brood van God is wat uit die hemel neerdaal nie, is dit nie voedsel nie! Dit sal nie lewe gee nie – in plaas daarvan, sal dit afgryslike geestelike hongersnood veroorsaak. Baie van wat gehoor word van talle kansels af vandag, selfs in Pinksterkerke, is ‘n op sy beste, plesierige vermaak. Jy kan God se huis verlaat en goed voel omdat die diens pret was! Die stories word goed vertel, die toepassings baie algemeen en niemand neem aanstoot nie. Jy kan jou onbekeerde lewensmaat saam met jou neem, met die wete dat hy nie met sy sonde gekonfronteer sal word nie – geen vrees dat warm kole van God se altaar hom sal brand nie – geen vurige pyle van oortuiging van sonde nie – geen uitsprake van oordeel teen skynheiligheid nie – geen hartverskeurende oproep tot bekering nie – geen profetiese vinger wat na hom sal wys en bulder, “Jy is die man!” nie. As daar wel op sonde gehamer word, kan jy seker wees dat die hou versag sal word of ‘n verskoning aangebied sal word.

Ek is oortuig dat die mees voor die handliggende wegkruipplek vir die vlammende oë van ‘n heilige God vandag, is binne ‘n dooie kerk. En so liefdevol as wat ek dit kan sê, ek is bang dat baie predikers van die evangelie eerder vlagdraers as apostels van die lewe is.

Aan die ander kant, is uitgelate lofprysing nie altyd ‘n teken van lewe nie. Lofprysing van onrein lippe is ‘n gruwel vir God. Lofprysing wat vloei uit harte vol owerspel, wellus of trots, is niks meer as klinkende koper en luidende simbale nie. Dit kan ‘n doodsdans rondom nuut opgerigte goue altare wees. Wapperende vlae, hoog gehou deur sonde bevlekte hande, is ‘n arrogante, windmakerige vertoon van wederstrewigheid. Ek hoor die stem wat Johannes van die troon af gehoor kom het, “...Prys onse God, al sy diensknegte, en julle wat Hom vrees, klein en groot” (Openbaring 19:5). Slegs hulle wat hulleself gereed gemaak het om Sy bruid te wees, kon bly wees en jubel en eer aan God gee (vers 7).

Dit is die waarheid – dit is ‘n verpletterende ding om Christus se liggaam te eet en Sy bloed te drink. Jesus het gesê, “My vlees is waarlik spys, en my bloed is waarlik drank” (Johannes 6:55). Christus se rein en almagtige lewenskrag, wanneer volkome ingespuit is in die geestelike mens, is daarop uit om alles wat van die vlees en van die duiwel is, uit te dryf en te vernietig. Niks kan die kanker van sonde meer effektief uit ons verdryf as ‘n vloedstroom van goddelike lewe nie. Die infeksies van sonde word uitgedryf deur die suiwer lewe van Christus in ons – deur die Brood uit die Hemel te eet.

Ek het ‘n bedienaar onlangs gehoor “profeteer” dat die tyd binnekort sal aanbreek wanneer byeenkomste sal bestaan uit 90% lofprysing en 10% vir die res. Dit laat my wonder of dit beteken hy het by die plek gekom waar Israel gekom het toe hulle gekla het, “Maar nou is ons siel dor; daar’s glad niks nie: net die manna voor ons oë” (Númeri 11:6). Raak sommige verveeld om by die tafel van die Here te sit en die Brood van die Woord te eet? Sal hulle nie geestelik swak word as hulle skree, maar nie eet nie?

Daar is ‘n heilige oorblyfsel in die land vandag wat waarlik die Here loof en aanbid in Gees en in waarheid. Maar hulle sluit slegs diegene in wat daagliks na die Here se tafel kom om van Christus te eet en te drink. Hy het hulle enigste voedsel geword! Hy is hulle enigste bron van lewe. Hulle is meer verlief op Hom as op Sy seëninge en gawes. Hulle prys Hom met rein hande en suiwer harte omdat die Heilige Gees aan hulle geopenbaar het dat Christus se liggaam nooit aangebied word as voedsel vir die onreines nie. Waar daar ook al hardnekkige greep is op begeertes en afgodery, sal die Heilige Gees nie die voortbring van die BROOD VAN GOD toelaat nie. Dit is tragies dat baie mense by die tafels van demone eet, en dan poog om na die Here se tafel te kom en dit saam met die regverdiges te vier. Maar dit lei slegs tot geestelike ongesteldheid en dood omdat hulle nie werklik die ware Brood van God onderskei nie. Ware lof is die dankbare reaksie van ‘n hart wat oorloop met die lewe van Jesus Christus. Daardie fontein van lewe moet daagliks volgemaak word deur Christus te eet. Jubelende lofprysing wat aanvaarbaar is, moet vloei vanuit suiwer harte. Enigiets anders is bloot waardelose geraas.

Die Brood van God behoort ons enigtste voedsel te wees!

 Dit is waar – ons is wat ons eet. Jesus het gesê Sy vlees is ons voedsel – “As julle nie die vlees van die Seun van die Mens eet en sy bloed drink nie, het julle geen lewe in julleself nie” (Johannes 6:53). Die Jode kon nie so ‘n gedagte verstaan nie – en “hieroor het baie van sy dissipels teruggegaan en nie meer saam met Hom gewandel nie” Hulle het gesê, “Hierdie woord is hard, wie kan daarna luister?” (Johannes 6:60).

Selfs vandag, verstaan diegene, wat die eet van die Here relegeer tot die nagmaaltafel alleen, nie wat Jesus bedoel het nie. Die Here se nagmaal is om ons en die wêreld te herinner dat Hy ons bron van lewe deur die dood geword het. Dit is nie net simbolies nie. Ons moet dikwels, daagliks van Hom eet en drink. Hoe meer ons van Hom eet, hoe meer sal geestelike lewe sal in ons gedemonstreer word. Ons het ‘n oop uitnodiging om na Sy tafel te kom, te eet en versterk te word.

Waarom is daar vandag so baie geestelik swak en siek Christene – verslaan, ontnugter, moeg en ongelowig? Waarom soveel wanhoop en geloofloosheid onder diegene wat erfgename van so baie groot en heerlike beloftes is? Waarom soveel magteloosheid, soveel ontevredentheid en rusteloosheid – selfs op die kansels vandag?

Die huurling herders is deels te blameer. Wanneer die skape nie gevoed word nie, word hulle maer en swak, maklike prooi vir die vyand. Maar ek sien in die land die voortkom van ‘n heilige Levitiese priesterskap – ‘n oorblyfsel bediening bestaande uit diensknegte en diensmaagde wat herders word na die Here se eie hart. Hulle sonder hulle af met die Here, gestroop van trots en wêrelse ambisie, verteer met die ywer van heiligheid, wat die Gees gesalf het om ‘n afgesonderde volk voort te bring wat hulle sal volg tot in die volheid van Christus. Hulle getalle is min, maar dit groei. Hulle het geen ander voedsel as Christus nie – geen ander bron van lewe nie! Hulle bars van lewe omdat hulle so dikwels en so pligsgetrou by die tafel van die Here is. Hulle het slegs lief volgens die waarheid; en hulle is vreesloos! Hulle veroordeel sonde sonder verskoning – hulle breek afgode en vestings af – maar slegs om vryheid te bring en ‘n verlange na werklikheid tot stand te bring.

Dit is jammer dat terwyl ‘n heilige oorblyfsel smag na die ware Brood, daar baie skape is wat geestelik so swak en siek geword het deur sonde, dat hulle nie vaste kos kan eet nie. Hulle verkies die waterbakke van paaibeleid – die kaf van gehoorstrelende leringe. Dit is waarom hulle lighartigheid en vermaak verkies. Geestelike aptyte het vervelig geword as gevolg van te veel gemorskos eet. Te dikwels, word gemors en onsin verkies bo die Brood van God.

Wat is sekulêre televisie vandag anders as ‘n septiese tenk? ‘n Onlangse radionetwerk advertensie het vir kykers gevra om in te skakel en “Dallas” te kyk om ‘n goeie dosis gierigheid, wellus en passie in te kry – net soos jy daarvan hou!” Noem dit wat jy wil, die produksieleiers noem dit by die werklike naam – ‘n fontein van wellus! Maar, letterlik miljoene Christene sit voor hulle afgod dag vir dag, uur na uur – en drink en eet by die tafel van duiwels.

Is ek liefdeloos om beswaar te maak teen hierdie afgodery onder God se kinders? Sou enige van die outydse profete stilgebly het voor so ‘n pronkerige verontwaardiging teen ‘n heilige God? Noem my wetties of enige naam wat jy wil – maar ek kan nie stilbly oor hierdie saak nie, omdat ek God se toorn voel teen hierdie verslawing – ek voel die Heilige Gees se droefheid oor so baie geestelike blinde gelowiges wat weier om Sy innerlike ingewings te gehoorsaam om op te hou drink uit hierdie vuil waterbak. As Jeremia die hartseer skouspel van miljoene van God se kinders vandag kon waarneem, elke Sondagaand – in plaas van om in God se huis sit om die Brood van God te eet – voor die TV lê en wellus, misdaad en gierigheid inneem – sou hy huil en ween. Hy sou uitroep, “Maar my volk het sy heerlikheid verruil vir wat geen voordeel bring nie...My, die fontein van lewende water, het hulle verlaat om vir hulle reënbakke uit te kap, gebarste reënbakke wat geen water hou nie” (Jeremia 2:11,13).

Wat daarvan om God net soveel tyd te gee – sal dit voldoende wees? Bid een uur vir elke uur wat jy deurbring om films en TV in te neem – sou dit nie ‘n gebalanseerde Christelike gesindheid wees nie? Glad nie! Paulus het gesê, “Julle kan nie die beker van die Here drink en ook die beker van die duiwels nie. Julle kan nie deel hê aan die tafel van die Here en ook aan die tafel van duiwels nie” (1 Korinthiërs 10:21). Dan voeg Paulus by, “Of wil ons die ywer van die Here opwek” (vers 22). Die Grieks ag, dit: “Jaloesie van ‘n wederhelf.” Met ander woord, “Sal jy God uitlok met hoerery?” Hoe jaloers maak ons die Here, as ons ons tyd so rojaal deurbring deur te sit by die tafel van Sy vyande en dit ignoreer dat ons Sy tafel verlaat. Hoe graag sou Hy daardie tyd wou hê om jou die ware Brood te voed.

Word wakker, gelowiges! Ons het reeds ‘n tyd van groot bewing en verwoesting betree. Die Wêreldgesondheidsorganisasie het pas voorspel dat daar by 1990 meer as 100 miljoen VIGS slagoffers  in die wêreld sal wees. Nie eens die kenners kan voorspel hoe vernietigend hierdie vloek van God uiteindelik sal word nie. Die vloedstroom is reeds op ons – en blinde Christene kan nie, of wil nie erken dat goddelike oordele tans van oral af kom nie. My vraag is: Sal jy sterk genoeg in die Here wees om die goddeloosheid in hierdie dae te oorwin?

Dit is tyd om die tafel van die duiwel in jou lewe om te gooi! Dit is tyd om jou binnekamer binne te gaan en aan die ware Brood van God te smul! Dit is tyd om jou lewe en huis skoon te maak van alles wat jou geestelike denke besmet en besoedel. Waar sal jy eet – by watter tafel sal jy sit – wanneer die Verlosser skielik na Sion kom?

God het voorsiening gemaak om Sy mense te versterk om enige krisis te oorkom!

Ek het weke voor die Here deurgebring, geween en uitgeroep tot Hom vir ‘n boodskap van vertroosting en hoop vir al die lydende gelowiges wat aan ons geskryf het en hulle diepe hartseer meegedeel het. Soveel pyn, soveel innige hartseer, smart en probleme oral! Watter boodskap kan ek stuur aan hulle in sulke ernstige nood? Wat is die woord van die Here? Hy gee sekerlik om en sal die waarheid wat vry maak voortbring.

Daar kan slegs een antwoord wees – God het ‘n manier verskaf om elke kind van Hom sterk te maak om die vyand te weerstaan! Hierdie krag kom van die Brood eet wat God uit die hemel gestuur het. Ons geestelike gesondheid en krag hang daarvan af dat ons die Brood van God in ons kry. Hoor versigtig die woorde van Jesus: “Soos ...Ek deur die Vader lewe, so sal hy wat My eet, ook deur My lewe” (Johannes 6:57). Jesus was in so ‘n noue eenheid met die Vader, so toegewyd daaraan om slegs die Vader se wil te doen – dat die Vader se woorde Sy voedsel en drank geword het! Hy was daagliks onderhou deur te sien en te hoor wat die Vader wou hê. Dit was die resultaat van baie tyd alleen saam met Hom deurbring.

Hy het eenkeer vir Sy dissipels gesê, “Ek het voedsel om te eet waar julle nie van weet nie...My voedsel is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het en om sy werk te volbring” (Johannes 4:32,34). Jesus het gesê, “Moenie werk om die spys wat vergaan nie, maar om die spys wat bly tot in die ewige lewe, wat die Seun van die mens julle sal gee” (Johannes 6:27). Ons durf hierdie geheim van krag mis nie – selfs soos Christus deur die Vader gelewe het, so moet ons ons lewe kry deur op Hom te voed.

Aan die dierbare 86-jarige ou broer wat vir my geskryf het dat hy so swak probeer om sy gebreklike vrou te versorg en na haar te kyk – te arm om ‘n sorgsentrum te kan bekostig – bekommerd dat hy mag sterf, en niemand agterlaat om vir haar te sorg nie – sê ek: “Moenie wanhopig word nie! Kyk op! En drink Sy teenwoordigheid in! Laat die Heilige Gees jou die manna uit die hemel voed. Roep Hom aan; Hy hoor selfs die sagste uitroep – Hy self sal jou voed! Hy sal jou innerlike binnekom met nuwe lig en lewe. God kan nie lieg nie! Hy het gesê Jesus is ons Brood van die Lewe – waarvandaan ons lewe en ons krag kry, Christus sal jou krag gee!

Aan die boer se vrou in Montana, kwaad en verward, raadop – omdat hulle plaas op die punt is om bankrot te speel. Dit lyk alles so duister en hopeloos; niemand lyk of hulle omgee nie; en haar man het so hard probeer. My geliefde suster, bly by die Here se tafel! Gaan terug na jou bron van lewe en krag! Paulus het kinders van God geken wat “die berowing van julle goed met blydskap aanvaar, omdat julle geweet het dat julle in julself ‘n beter en blywende besitting in die hemele het” (Hebreërs 10:34). Ek kon saam met Paulus sê, “Werp dat julle vrymoedigheid, wat ‘n groot beloning het, nie weg nie” (Hebreërs 10:35). Moenie die tafel van die Here verlaat en jouself gaan jammer kry in een of ander donker kamer van wanhoop nie. By Sy tafel is alles wat jy nodig het vir lewe en goddelikheid. Wag op Hom totdat jy volkome versadig is. Niemand kan daardie ewige Lewensbrood van jou af wegneem nie! Lewe deur Hom! Eet Christus en oorwin!

Aan die geskeides, die werkloses, die eensames, die ouers wat treur oor verlore kinders, aan die sondeverslaafde wat vry wil wees – raak ontslae van jou afgode, hou op om op die verkeerde plek te kyk, en doen wat jy weet jy moet doen – vlug na die Here se teenwoordigheid! Soek Hom met jou hele hart. Keer terug om die regte geestelike kos te eet! Gooi al die gemors en vullis weg. Daar is krag en sterkte – alles wat jy nodig het – in Sy lewe wat na jou toe kom deur die Brood van God.

Hoewel ek juig saam met die wat juig, ween saam met die wat ween, is daar tye wat ek dink ek hoor die Gees vir my fluister – “Moenie treur saam met sekere Christene nie. Moenie oor hulle ween nie. Moenie dat hulle probleme jou belas nie – nie diegene wat die Here se tafel verlaat het nie! Hulle lees nie die Woord van God nie – hoewel hulle ure het om sorgeloos op hulleself te mors. Hulle vergeet My dag na dag. Hulle ly skade en sal voortgaan om skade te ly – en jy kan hulle nie help nie – totdat hulle terugkeer en die Brood eet wat God voorsien het om hulle te genees en te versterk.”

Aan die ander kant, ons kry nou briewe van diegene wat groot verdrukking verduur, en te midde van die beproewing, word hulle sterker en vol van God se heerlikheid – omdat hulle met hulle hele hart teruggekeer het na Hom! Hulle lewe van Christus! Hulle het bewys dat Hy ‘n magtige bron van krag is. In hulle probleme, het hulle die Here gesoek, en Hy het hulle hulpgeroep gehoor en hulle honger siele versadig. En, Hy het vir hulle gegee wat nodig was om deur die moeilike tye te kom. Hulle sal eendag uitkom as suiwer goud, gelouter in die vuur. Hulle word gesuiwer van self en trots – en nou, soos Christus, is hulle enigste begeerte om die wil van God te doen en Sy werk te volbring. Deur hulle te verander, het God hulle bokant hulle probleme uitgelig, en om Christus te ken het gou belangriker geword as verligting.

Die Brood van God, soos Israel se manna, word daagliks uitgedeel. Die Bybel sê God het vir Sy volk manna gegee om hulle “nederig te maak” [Deuteronómium 8:16). Nie omdat dit die arm man se kos was nie, trouens, dit was in werlikheid “brood van die engele” [Psalm 78:25]. Hulle was nederig gemaak deur dit op ‘n daaglikse basis te soek, en hulle te laat weet dat God die sleutel tot die koskas het. Hulle was gedwing om op Hom te wag en voortdurend te erken dat Hy en Hy alleen die bron van hulle behoefte was. Ons word op dieselfde manier nederig gemaak – omdat dit wat ons gister van Hom geëet het, nie die behoefte van vadag sal voorsien nie. Ons moet erken dat ons geestelik sal sterf en swak en hulpeloos sal word sonder ‘n vars daaglikse voorsiening van hemelse Brood. Besluit self – daar sal nooit ‘n tyd in jou lewe kom waar jy meer as ‘n dag se voorsiening van krag sal hê nie. Christus het bedoel toe Hy gesê het, “Jy sal deur My lewe.” Dit is – een dag op ‘n slag.

Daar is een seker plek waar die voorsiening van Brood nooit ophou nie – dit is die binnekamer. Die Gees wag daar om hierdie kosbare Brood vir jou te bring – om jou heeltemal te versadig – en jou sterk te maak en in staat te stel om die wêreld en die duiwel te weerstaan. So laat ons die maaltyd onderhou!