Die Oomblik van Waarheid het Aangebreek

David Wilkerson

“Want die waarheid struikel op die mark, en wat reg is, kan nie binnekom nie. Ja die waarheid word vermis; en wie afwyk van die kwaad, word geplunder. Toe het die HERE dit gesien, en dit was verkeerd in sy oë dat daar geen reg was nie” (Jesaja 59:12-15).

Die profeet Jesaja het gesê, Die waarheid word vermis – die deur word toegemaak vir heiligheid – en diegene wat die Here voluit wil volg, word slagoffers van sagte prediking.

Die profeet waarsku dat opregte, jong gelowiges skady ly omdat hulle leiers nie die waarheid van heiligheid verkondig nie. Hy het gesê, “Hulle wat boosheid laat staan, word die slagoffers...” Dit is omdat, “Daar is niemand wat aanklaag in geregtigheid en niemand wat ‘n regstryd voer in waarheid nie” (Jesaja 59:4)

Esegiël is selfs duideliker oor hoe sommige van God se bedienaars die waarheid vertrap en lewens vernietig deur hulle eie selfsugtige belange: “’n Sameswering van sy profete is in hom...skatte en kosbare dinge neem hulle weg...Sy priesters verkrag my wet en ontheilig my heilige dinge; tussen heilig en onheilig maak hulle geen onderskeid nie, en die verskil tussen onrein en rein gee hulle nie te kenne nie...En sy profete pleister vir hulle met los kalk deur bedrieglike gesigte te sien en vir hulle leuens te voorspel met die woorde: So sê die Here HERE – terwyl die HERE nie gespreek het nie” (Esegiël 22:25-28).

God het na een onder hulle gesoek wat sou staan vir die waarheid. Misleiding en kompromie het die mure van beskerming laat omval. “En Ek het onder hulle ‘n man gesoek wat ‘n muur kan bou en voor my aangesig in die bres kan staan vir die land, sodat Ek dit nie wou verwoes nie; maar Ek het niemand gevind nie” (Esegiël 22:30).

Jeremia het gesê sy oog was “’n fontein van water,” omdat die volk van God oorgegee was aan hebsug – hulle het owerspelers geword, ‘n vergadering van verraderlike mense. Sy smart was veroorsaak deur al die leuens wat verkondig was aan sulke mense deur valse profete en selfgesentreede priesters. Hy het van hulle gesê: “En nie volgens waarheid is hulle magtig in die land nie...en praat nie die waarheid nie” (Jeremia 9:2,3,5).

Hoséa het gewaarsku dat God ‘n twispunt het met Sy volk, omdat die waarheid in die grond in vertrap was: “Want die HERE het ‘n regsaak met die inwoners van die land, omdat daar geen trou en geen liefde en geen kennis van God in die land is nie. Hulle sweer en lieg en moor en steel en pleeg owerspel; hulle breek in, sodat bloedbad aan bloedbad raak” (Hoséa 4:1,2).

Hoe meer God Sy volk geseën het, hoe sondiger en meer verdorwe het hulle geword. Sonde het algemeen onder hulle geword en diegene op die kansels het hulle sondige begeertes gevoed. Kansel en kerkbank was ewe verdorwe. “Hoe meer hulle vermenigvuldig het, des te meer het hulle teen My gesondig, Ek sal hulle heerlikheid in skande verander. Hulle lewe van die sondoffer van my volk, en na dié se ongeregtigheid verlang hulle siel. Daarom sal dit met die priester gaan soos met die volk – Ek sal by hom besoeking doen oor sy weë en hom vergeld na sy dade” (Hoséa 4:7-9).

Onegte kinders

Die kansels was so tegemoetkomend teenoor sonde, so kompromie-makend, dat hulle geboorte gegee het aan onegte kinders! Hoséa het geprofeteer, “Met hulle kleinvee en hulle beeste sal hulle heengaan om die HERE te soek, maar Hom nie vind nie. Hy het Hom aan hulle onttrek. Hulle het troueloos gehandel teen die HERE, want hulle het onegte kinders verwek...” (Hoséa 5:6,7).

In Hebreeus beteken die woord oneg soos dit hier gebruik word, om weg te draai – om owerspel te pleeg – om anderkant toe te draai! Ek is lief vir hierdie geslag jongmense en God het ‘n heilige oorblyfsel onder hulle – maar ek kan nie aan ‘n beter beskrywing dink vir baie van hulle as hierdie een van Hoséa nie: “Hulle het onegte kinders geword.” Ek bedoel hiermee, vervreemd van die regverdige weë van die Here. Die sag-op-sonde prediking wat so heersend is vandag, het geboorte gegee aan ‘n geslag jeug wat so gemeng is met die suurdeeg, dat hulle vervreemd geword het van waarheid en heiligheid. Hulle kan Bybels dra na goddelose rock konserte. Die Stryper [Christen?] rock groep kan hulle hande teen hulle heupe vryf in sensuele, suggestiewe bewegings teenoor die meisies – en dan hulle Bybels vir hulle gooi.

Waarom is hierdie geslag so blind vir die waarheid van afsondering van die wêreld? Waarom het so baie Christen meisies buite-egtlike kinders? Waarom is duisende van ons Christelike kinders so verward, deurmekaar, en gebruik dwelms? Waarom drink duisende van hulle nou? Waarom betower heavy metal en puk rock groepe so maklik die harte van ons kinders?

Hoséa was reg – daar is verraad op die kansel! Daar is so min wat dapper staan vir die waarheid! So min sonder “die gees van hoerery” op hulle! So min mans en vroue van God wat in die waarheid wandel, wat God se kinders die verskil sal wys tussen wat heilig en wat onheilig is.

Hoséa het gesê die profete het vangnette en strikke geword – “Hulle het baie, baie verkeerd gedoen...” Hy het gebid dat God vir hulle ‘n kinderlose moederskoot sou gee sodat hulle geen vrug sou dra nie. “Gee hulle, o HERE – wat sal U gee? – gee hulle ‘n kinderlose moederskoot en uitgedroogte borste...hulle dra geen vrug meer nie” (Hoséa 9:14-16).

Wat my die meeste bekommer, is dat hierdie geslag onegte kinders alle tugtiging weier! Hulle bewe nie vir God se Woord nie. Hulle plak die Naam van Jesus oor al hulle sondes. Tugtiging word totaal verwerp – hulle word verhard in hulle eie weë – en hulle word aangetrek tot ‘n herder of leraar wat hulle kompromie bedek. “’n Ontsettende en afskuwelike ding het in die land gebeur: die profete profeteer vals, en aan hulle sy oefen die priesters mag uit, en my volk wil dit graag so hê. Maar wat sal hulle doen aan die einde daarvan?” (Jeremia 5:30,31).

Jeremia het bygevoeg, “Dit is die nasie wat na die stem van die HERE hulle God nie geluister het nie en die tugtiging nie aangeneem het nie; die opregtheid het verdwyn en is uitgeroei uit hulle mond” (Jeremia 7:28).

Die profete het voorspel dat Christus sou kom om ‘n heilige tabernakel te herbou, gevestig op die waarheid!

“So spreek die HERE: Ek keer terug na Sion en sal midde-in Jerusalem woon; en Jerusalem sal genoem word: Die stad van Trou, en die berg van die HERE van die leërskare: Die Heilige Berg” (Sagaria 8:2,3).

Christus het gekom om ‘n volk vir Homself op te rig wat die waarheid sou liefhê en in sy lig sou wandel en dit in sy volheid verkondig. Sy heilige berg waarop die Nuwe Jerusalem gebou is, sal slegs behoort aan diegene wat oordeel uitoefen op afgodery en alle verborge sonde. Sagaria het geprofeteer, “Dit is die dinge wat jule moet doen: Spreek die waarheid met mekaar; beoefen waarheid en ‘n regspraak van vrede in julle poorte” (Sagaria 8:16).

In hierdie laaste dae rig ons Here ‘n heilige volk op wat vry is van misleiding en oneerlikheid! Hulle begeer om te lewe in die heilige vrees van God! Hulle weier om saam met skynheiliges of bedrieërs te gaan. Hulle is lief vir goddelike tugtiging en is gewillig om onder die soeklig van die Heilige Gees te kom. Jesaja het geprofeteer, “En opgerig is deur goedgunstigheid ‘n troon, en daarop sit een in getrouheid in Dawid se tent, ‘n regter wat die reg soek en gou is in geregtigheid” (Jesaja 16:5).

‘n Hart soos Dawid s’n!

“In die dag sal die HERE die inwoners van Jerusalem rondom beskut, en die struikelende onder hulle sal in dié dag wees soos Dawid, en die huis van Dawid soos ‘n hemelse wese, soos die Engel van die HERE voor hulle uit” (Sagaria 12:8).

Die profete het gesê Christus sou Sy tabernakel herbou soos in die dae van Dawid. Wat dit beteken is dat God in hierdie laaste dae ‘n volk sal hê wat dieselfde soort hart sal hê wat Dawid gehad het – ‘n hart van waarheid – op God gerig! ‘n Hart met geen donker gedeelte nie – geen verborge sonde nie – geen geheime begeerte nie.  En soveel waarheid in die innerlike mens dat, wanneer sonde ontdek of geopenbaar word, word dit vinnig bely en laat staan.

Dawid het gesê, “Kyk, U het ‘n welgevalle aan waarheid in die binneste, en in die verborgene maak U aan my wysheid bekend...Skep in my ‘n rein hart, o God, en gee opnuut in die binneste van my ‘n vaste gees...” (Psalm 51:8,12). Ook, “Die HERE is naby almal wat Hom aanroep, almal wat Hom aanroep in waarheid” (Psalm 145:18,19).

Op sy sterfbed, het Dawid sy seun Salamo beveel om in sy voetstappe te volg om met die Here te lewe in waarheid met sy hele hart! “As jou seuns ag gee op hulle weg deur voor my aangesig getrou te wandel met hulle hele hart en met hulle hele siel, dan sal daar nie vir jou ‘n man op die troon van Israel ontbreek nie” (1 Konings 2:1,4).

Nie al die demoniese magte van die hel – nie al die owerhede en magte in hoë plekke – kan God se plan keer om vir Homself ‘n heilige volk te hê wat voor Hom wandel in waarheid met hulle hele hart nie.

Die toorn van God is gereserveer vir diegene wat die waarheid besoedel deur aan sonde vas te hou!

“Want die toorn van God word van die hemel af geopenbaar oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense wat in ongeregtigheid die waarheid onderdruk, omdat wat van God geken kan word, in hulle geopenbaar is, want God het dit aan hulle geopenbaar” (Romeine 1:18,19).

Wat ‘n tragedie dat terwyl Christus vir Homself ‘n heilige stad bou, wat op die waarheid gevestig is – is daar menigtes, insluitende bedienaars van Christus se evangelie, wat die waarheid vir ‘n leuen verruil! “Hulle wat die waarheid van God verruil het vir die leuen en die skepsel vereer en gedien het bo die Skepper wat geprys moet word tot in ewigheid” (Romeine 1:25).

Wanneer die Heilige Gees sonde in ‘n lewe openbaar – is dit die WAARHEID van God se heiligheid wat op die hart aanspraak maak. Keer op keer sal die Heilge Gees vra vir algehele oorgawe en die laat staan van wellus en boesemsondes. Hy sal nooit ophou om die waarheid en geregtigheid in die innerlike mens te vereis nie!

Wanneer die veroordeling van die Heilige Gees geïgnoreer word en die hart koppig vasklou aan ‘n begeerte en boesemsonde, is dit moontlik om so verhard te word dat God die hart oorgee aan ‘n leuen! Paulus het gewaarsku, “En met allerhande verleiding van ongeregtigheid in die wat verlore gaan, omdat hulle die liefde tot die waarheid nie aangeneem het om gered te word nie. En daar om sal God hulle die krag van die dwaling stuur, om die leuen te glo, sodat almal geoordeel kan word wat die waarheid nie geglo het nie, maar behae gehad het in die ongeregtigheid” (2 Thessalonicense 2:10-12). Hulle het die veroordeling van sonde verwerp, die waarheid verag – hulle plesiere liefgehad en hulle oorgegee aan hulle passies. “Daarom het God hulle ook in die begeerlikhede van hulle harte oorgegee aan onreinheid” (Romeine 1:24).

Wat is hierdie leuen waaraan God hulle oorgegee het? Dit is ‘n ontaarde, onbetroubare verstand wat blind is vir alle oordeel. Dit is ‘n hart so verhard deur sonde, dat dit immuun is teen die vrees van God! Dit is die verlies van alle geestelike onderskeiding. “Mense wat – al ken hulle die verordening van God goed, dat die wat sulke dinge doen, die dood verdien – dié dinge nie alleen self doen nie, maar ook hulle goedkeuring skenk aan die wat dit doen” (Romeine 1:32).

In Pilgrim’s Progress, toe Christen op pad was om die Tolk se huis te verlaat, was hy aangesê om te “Bly...totdat ek vir jou ‘n bietjie meer gewys het en daarna kan jy vertrek.” Wat was hierdie gesig wat Christen moes gesien het voor hy toegelaat was om sy reis voort te sit? Dit was die Mens van Wanhoop wat in in ‘n ysterhok gesit het. Christen het gevra, “Hoe het jy in hierdie toestand beland?” Die gevange Mens van Wanhoop het geantwoord, “Ek het opgehou waak en nugter wees; ek het my oorgegee aan my begeertes; ek het gesondig teen die Lig van die Woord en die goedheid van God; ek het die Gees bedroef, en Hy is weg; ek het die duiwel versoek en hy het na my gekom; ek het my hart so verhard dat ek myself nie berou kan hê nie.”

Wie is die mens van wanhoop wat toegesluit is in ‘n ysterhok? Hy is die man of vrou van God wat poog om voort te gaan om die wil van God te doen en terselftertyd ‘n geheime verdorwenheid in die hart het. Die ysterhok is die vloek van ‘n innerlike verharding op dienaars van God wat die kalm, sagte stem stilgemaak het en wat nou voortgaan om te bedien as owerspelers en skynheiliges – sonder ‘n sin van skaamte. Hulle weet nie meer hoe om te bloos nie. Die ysterhok simboliseer die toestand van “verby gevoel te wees” – ‘n oordeel van ‘n heilige God teen almal wat hulleself oorgegee het aan die drywende begeerte van hulle vlees.

Daar is ‘n vergeldende mag van heiligheid.

Daar is ‘n plegtige, skrikwekkende soort vergelding wat wag vir elke dienaar van God wat die waarheid uitdaag deur toe te gee aan wellustige passie. Elke dienaar van God wat die heiligheid van God voor die oë van die mense sal verdraai, sal vergeld word.

Jy sien die vergeldende mag van heiligheid op die Berg Nebo, waar Moses deur God gesê is, “Klim op...en sterwe op die berg ...en word versamel by jou volksgenote...omdat julle onder die kinders van Israel ontrou teen My gehandel het by die twiswaters van Kades, in die woestyn Sin, omdat julle My nie geheilig het onder die kinders van Israel nie. Want reg voor sal jy die land sien, maar jy sal daar nie inkom, in die land wat Ek aan die kinders van Israel sal gee nie” (Deuteronómium 32:49-52).

Moses het op so ‘n manier voor die volk opgetree dat die waarheid van God se opperste heiligheid ‘n slag beleef het. Hy het gemaak dat God voor die volk minder heilig voorgekom het as wat Hy was. Dit was omdat Moses bekend en gerespekteer was vir sy nederigheid en heiligheid wat die vergelding so ernstig gemaak het. Talle jong Israeliete het in die beloofde land ingegaan hoewel hulle gesondig het op baie erger maniere. Maar God vergeld diegene wat geroep is om Sy heiligheid te verhef. Aan wie veel gegee is, word veel van verwag. “Dooie vlieë laat die salf van die apteker stink en bederwe; ‘n bietjie dwaasheid weeg swaarder as wysheid, as eer” (Prediker 10:1).

Die vergeldende mag van heiligheid word duidelik geopenbaar in die tragedie van die twee jong priesters van die Here, Nadab en Abíhu. Hulle was saam met Moses, Aäron en die sewentig ourderlinge op die berg. “En hulle het die God van Israel gesien, en onder sy voete net soos ‘n vloerwerk van saffiersteen en so helder soos die hemel self...en hulle het God aanskou; daarop het hulle geëet en gedrink” (Exodus 24:9-11).

Dieselfde priesters wat die onuitspreeklike heerlikheid en teenwoordigheid van God gesien het, het vreemde vuur voor die Here geoffer. Met die oë van die hele Israel op hulle, het hulle die waarheid en heiligheid van God bespot – en hulle het die oordele en waarskuwings van ‘n heilige God ligtelik opgeneem en “Daarop het daar vuur van die aangesig van die HERE uitgegaan en hulle verteer, en hulle het gesterwe voor die aangesig van die HERE” (Levitikus 10:1,2).

Moses het hulle vader Aäron herinner dat God hulle gewaarsku het oor die vergeldende mag van Sy heiligheid. “Toe sê Moses vir Aäron: Dit is dit wat die HERE gespreek het deur te sê: In die wat naby My is, wil Ek My as die Heilige laat ken, en voor die oë van die hele volk wil Ek My verheerlik” (Levitikus 10:3).

Geliefde, God het nie verander nie! Ons is Sy priesters – ons moet vir Hom wys om heilig voor die volk te wees of ons sal ook die vergeldende mag van Sy heiligheid beleef! Ons lewe in ‘n dag van genade. Maar te veel mense dink die Nuwe Testament is vol welwillende barmhartigheid – God wat boesemsondes sal oorsien. Hy sal nie!

Ananías en Saffíra het onder die bedekking van genade geleef. Maar onder genade, kyk God na die hart en vergeld die misleiding wat daar gehuisves word. Hulle het die Heilige Gees versoek deur te dink hulle kon ‘n leuen by Sy alsiende oog kon laat verbyglip. Hulle het dood neergeslaan in ‘n Nuwe Testament Pinksterkerk waar genade en barmhartigheid verkondig is. God het Sy heiligheid vergeld. Hierdie paartjie was op die punt om ‘n suurdeeg in die kerk in te bring wat die hele deeg kon laat gis. God sou nie toelaat dat een paartjie in daardie kerk ‘n leuen lewe, om Hom te aanbid en te dien met ‘n demoniese boesemsonde in hulle harte nie. Die Gees sou hulle nie toelaat om in tale te praat, te getuig, en in die wêreld in te gaan en Christus se evangelie te verkondig, die heilige maatstaf dra, terwyl hulle vasklou aan ‘n boesemsonde nie!

Paulus is baie duidelik oor die saak van die vergeldende mag van God se heiligheid. Hy sê, “Want dit is die wil van God: Julle heiligmaking; dat julle jul moet onthou van die hoerery; dat elkeen van julle moet weet om sy eie vrou te verky in heiligheid en eer...nie in hartstogtelike begeerlikheid...dat niemand sy broeder in hierdie saak moet bedrieg en benadeel nie, omdat die Here ‘n wreker is oor al hierdie dinge, soos ons aan julle ook vantevore gesê en betuig het” (1 Thessalonicense 4:3-6).

Wanneer die waarheid verwerp word – sluip bedrog in.

Ons moet liewer nie hierdie plegtige waarskuwing van die vergeldende mag van heiligheid ligtelik opneem nie. Dit word aan die broeders gerig; en Paulus voeg by, “Daarom, hy wat dit verwerp, verwerp nie ‘n mens nie, maar God wat ook sy Heilige Gees aan ons gegee het” (1 Thessalonicense 4:8).

Paulus draai nie doekies om nie! Die dienaar van God wat verslaaf is aan wellus, wat gedryf word deur goddelose passie, wat betrokke is by enige soort seksuele onsedelikheid – is ‘n oortreder en ‘n bedrieër! ‘n Misleier! ‘n Bedrieër is een wat mislei deur ‘n valse voorwendsel van vroomheid! ‘n Bedrieër wat probeer om te steel wat hy begeer!

‘n Assemblie van God bedienaar het sy pastoraat van 20 jaar en sy vrou van 25 jaar verlaat en ingetrek by ‘n vrou in sy kerk. Sy het twee tieners, wat nie kan verstaan waarom die prediker, wat hulle gedink het so heilig is, by hulle ma kan bly nie – en dit terwyl hy nie eens geskei is nie! Hy het daardie kinders bedrieg! Hy het die heiligheid van God  belaster voor al die mense! Hy beleef die vergeldende mag van God se heiligheid omdat hy die waarheid in die grond ingetrap het.

Hy is ‘n bedrieër wat op die kansel staan, genade en barmhartigheid verkondig, terwyl hy rondsluip in sy privaatheid om sy siel te vul met pornografie!

Hy is ‘n bedrieër wat staan op die kansel Sondag oggend – selfs ween – en die kerk laat dink hy is ‘n heilige mens – terwyl sy hart heetlyd verraderlik is. Hy is verraderlik teenoor sy vrou! Hy bedrieg die man van die vrou by wie hy betrokke is! Hy bedrieg sy eie kinders, sowel as die kinders van sy geheime minnaar. Hy bedrieg die kerk, die stad, die huishouding van geloof. Hy neem die waarskuwings van God se heilige vergelding ligtelik op.

Sy is ‘n bedrieër wat voor die mense kom as ‘n lieflike, getroue, rein vrou van God – maar in haar hart is daar ‘n fontein van begeertes. Sy huur vuil films en gee haar oor aan haar begeertes. Of, sy gaan voort met wat sy verskoon as “’n skadelose verhouding.”

Menigtes van God se volk word bedrieërs voor die wêreld omdat die begeertes en goddelose passies van hierdie wêreld ingesluip het om hulle harte en gedagtes te besoedel en te bederf. Hulle stroom na teaters om die mees goddelose en vulgêre films te kyk – en soos loerders, hulle oë vul met demoniese tonele wat die hart met allerhande verdraaiings besoedel. Daardie verdraaiings word dikwels bekendgestel in die huise van Christene en nou eksperimenteer talle met verbode en gevaarlike praktyke. Dan kom hulle na die huis van God vir lofprysing en aanbidding, met opgehefte hande. Sommige dans! Dit is louter bedrog! Paulus noem dit “broeders bedrieg!”

Die ergste bedrog van alles, is die bedienaar wat sag op sonde in die kansel is, weens die begeertes wat in sy eie hart heers! Hy noem predikers wat uitroep teen sonde oordeelsdagpredikers. Hy sal gryp na elke preek, elke boek oor genade en barmhartigheid. Hy sal vir jou vertel van al die sondes en mislukkings van die groot manne van God – en vertroosting daarin vind.

‘n Goddelose verandering volg verwerping van die waarheid!

Paulus sê Satan was verander in ‘n engel van die lig. So dit is moontlik vir bedienaars wat die waarheid verag en wat oorgegee is aan die boosheid van hulle harte om verander te word in profete en sataniese engele van die lig. “Want sulke mense is valse apostels, bedrieglike arbeiders wat hulleself verander in apostels van Christus. En geen wonder nie! Want die Satan self verander hom in ‘n engel van die lig. Dit is dus niks besonders wanneer sy dienaars hulle ook voordoen as dienaars van geregtigheid nie. Maar hulle einde sal wees volgens hulle werke” (2 Korinthiërs 11:13-15). Hierdie veranderde bedienaars is diegene wat ‘n ander evanglie bekendstel, ‘n ander Jesus. Ek glo sulkes word die engele van lig wat kom om te mislei. Hulle word die wonderwerkers wat uitroep Here, Here, maar werkers van ongeregtigheid is. Paulus waarsku teen hierdie soort misleiding. Hy het vir die Korinthiërs geskryf, “...Maar ek vrees dat, net soos die slag Eva deur sy listigheid bedrieg het, julle sinne so miskien bedorwe kan raak, vervreemd van die opregtheid teenoor Christus. Want as iemand kom en ‘n ander Jesus verkondig as wat ons verkondig het, of as julle ‘n ander gees ontvang as wat julle ontvang het, of ‘n ander evangelie as wat julle aangeneem het, laat julle jul dit goed geval” (2 Korinthiërs 11:2-4).

Dit is waar, wanneer dit gesoek en omhels word, maak dit ‘n mens vry. Heeltemal vry! Maar wanneer die eise van waarheid geïgnoreer word, word die hart uiteindelik so hard soos klip en God moet hulle “oorgee” aan hulle begeertes. Niks kan dan die algehele verandering in ‘n kind van die duiwel keer nie. Daar is geen groter oordeel op aarde nie!