Gevangenisse

David Wilkerson

Hoe kan iemand die pyn en skande beskryf van ‘n hele geslag jeug wat wegkwyn van dwelms, alkohol en geweld?

Ouers leef nou in vrees en wonder hoe om hulle kinders te bewaar van hierdie verskriklike plae! Vaders en moeders, van wie sommige bedienaars is, vertel vir my van die skok en ongeloof wat hulle beleef het toe hulle die eerste keer ontdek het ‘n seun of dogter is ‘n dwelmverslaafde.

Vaders huil as hulle seuns gevang word – en ‘n geliefde kind gevoelloos erken, “Dit is waar – ek is verslaaf! Ek is ‘n verslaafde! Moeders word bleek as dogters erken hulle het hulle na prostitusie en diefstal gewend om ‘n gewoonte te onderhou.

Jesus het gekyk na die ouers wat Hom na Gólgota gevolg het – wat geween en gehuil het – en Hy het uitgeroep, “Moenie oor My ween nie, maar ween oor julleself en oor julle kinders” (Lukas 23:28). Jesus het hulle gewaarsku dat daar ‘n dag aan die kom was waartydens baie van hulle eerder dood as lewend sou wou wees. Hulle sou uitroep vir die berge om op hulle te val en hulle te verpletter – omdat lewe ondraaglik sou word. Dit is ‘n tyd om te ween vir ons kinders! Dit is ‘n tyd om te huil oor dogtertjies, sommiges nog nie eens in hulle tienerjare nie, wat hulle liggame verkoop. Hulle rook kokaïene en crack totdat hulle afgestomp en buite hulle sinne is. Hulle het egter nog nie regtig gelewe nie, en reeds is hulle sterwend. Hulle word so gou hard en wreed. Eens sagmoedig en sorgsaam, sal hulle nou selfs Ma, Pa of iemand anders wat inmeng, doodmaak. Amper daagliks nou, staan kinders wat mal is van crack op in ‘n waansin van paranoia en vermoor ouers.

Huil vir tiener seuns wat eens gehoorsame, goeie skoliere en atlete was, wat jou in die donder strate dwaal en die bejaardes beroof – huise plunder – gewere teen die koppe hou van hulle wat by verkeersligte stop en geld eis van almal in die kar.

Ek het die goed wat Len Bais doodgemaak het.

Ween vir kollege studente! Ween oor die atlete; sommige wat daarop aanspraak maak dat hulle Christene is, wat sterf weens oordosering op dwelms. Dwelmsmouse in 42ste Straat in New York Stad adverteer onbeskaamd crack deur te sê, “Ek het die goed van Len Bais” (die basketbalspeler wat gesterf het aan crack misbruik) doodgemaak het. Ween vir duisende kollege studente wat nou eksperimenteer met dwelms – baie wat amper elke nag partytjie hou – baie wat hopeloos verslaaf is aan dwelms en alkohol.

Ween – omdat daar nuwe en sterker dwelms kom om ons jeug te verslaaf en in die tronk te kry: swart teer, China wit, en nuwe ontwerpersdwelms duisende kere kragtiger en verslawend as heroïen en kokaïen.

Ween veral vir so baie Christen jeug wat gevang word in Satan se strik. Hulle val oral, raak so maklik depressief en verslaaf.

Jesaja, die profeet, het ‘n waarskuwing vir ‘n geslag anders as sy eie gehad. “Wie onder julle luister na hierdie dinge? Wie merk op, hoor dit ook vir die toekoms? (Jesaja 42:23). Hoe sal hierdie toekomstige geslag wees? “En tog is dit ‘n beroofde en geplunderde volk; hulle is almal gebonde in kerkers, verborge in gevangenisse; hule het ‘n buit geword sonder dat iemand red, ‘n plundering sonder dat iemand sê: Gee terug” (Jesaja 42:22).

Ons jongmense word beroof van hulle gesondheid, hulle sedes en hulle gesonde verstand! Ons ouers word beroof van die liefde en vreugde van kinders, wat teen hulle draai! So baie ouers treur nou oor hulle verlorenes. Ons jeug word slawe gemaak in gevangenisse van verslaafdheid aan dwelms, seks, alkohol en geweld. Die duiwel spring op hulle soos ‘n waansinnige leeu onder hulpelose skape.

Die regering van Pole het oorlog verklaar teen dwelms en alkohol – en die probleem vererger net. Die Verenigde State se regering het nou oorlog verklaar teen dwelms en ons President vra vir ‘n dwelmvrye samelewing. Miljoene dollars sal verniet gespandeer word. Jesaja het gesê, “Niemand om hulle te verlos of terug te bring nie!”

Daar is geen hoop nie behalwe Jesus Christus, geen verlosser nie behalwe die Lam wat geslag is vir die sondes van die wêreld – sodat Hy die “gevangenes kon vrylaat!”

My groot bekommernis huidiglik, is tweeledig! Een: Om Bybelse waarheid in die verstand en harte van jongmense in te prent – wat die vrees van God in hulle sal vestig en hulle sal bewaar van die strikke en verleidings van die duiwel. Twee: Om diegene wat opgesluit is in die duiwel se gevangenis van verslawing te wys hoe om vry te raak – en vry te bly! Bybelse waarheid alleen, verlig deur die Heilige Gees, maak mense vry!

Simson, ‘n eens magtige profeet van God, het in Satan se gevangenis beland! Hy het begin as ‘n geseënde, uitverkore, Geesgeleide kind van God. “En die vrou het ‘n seun gebaar en hom Simsom genoem; en die kind het groot geword, en die HERE het hom geseën. En die Gees van die HERE het hom begin drywe” (Rigters 13:24,25).

Maar Simson het op die ou end ‘n slaaf van sy begeertes geword, het alles verloor en is in ‘n gevangenis gewerp. “Daarop het die Filistyne hom gegryp en sy oë uitgesteek en hom afgebring na Gasa en met koperkettings gebind; en hy moes maal in die gevangenis” (Rigters 16:21). Simson se val tot in slawerny en gevangenis is ons voorbeeld – om te vrees en van te leer. Paulus het gesê, “Maar al hierdie dinge het hulle oorgekom as voorbeelde en is opgeskrywe as ‘n waarskuwing aan ons op wie die eindes van die eeue gekom het” (1 Korinthiërs 10:11).

Wat God hierdeur sê is dit: “Kyk na Simson se lewe en leer deur sy foute. Die storie is waar; dit is in die Bybel bewaar om jou te leer. Leer waarom ‘n goeie en geestelike jongman op die ou end so jammerlik, blind en hulpeloos geword het!” Hier is ‘n paar van die lesse.

Onderwys en kennis alleen kan niemand van die mag van sonde bewaar nie!

Simson was van geboorte af grootgemaak as ‘n nasireër, wat beteken hy was onderrig en opgelei om enige kontak met enigiets boos of verdorwe te vermy. Hy was opgelei om nie aan enige soort alkohol te raak nie. Hy moes totaal afgesonder wees vir God– afgesonder van enigiets verbind aan die dood. Van kindsbeen af, het sy ouers hom geïndoktrineer aangaande sy goddelike roeping om Israel se slawerny onder die Filistyne te verbreek. Hulle was die vyand – God se vyand! Hy was grootgemaak in die vrees van God, en hy het goed geweet dat hy nie boosheid moes aanraak nie, en veral mag hy nooit gemeng het met die goddelose Filistynse skare nie. Geen jongman was beter opgelei aangaande sy roeping en doel in die lewe nie. Niemand was duideliker gewaarsku oor die gevaar van om te meng met die goddelose nie. Die Gees van God het hom beveel om afgesonder en rein te wees.

Maar steeds het Simson reguit in die vyand se gebied ingeloop en gehoereer met ‘n Filistynse hoer. “En Simson het na Gasa gegaan en daar ‘n hoer gesien en by haar ingegaan” (Rigters 16:1).

Al die jare van opleiding en afsondering – al die waarskuwings oor meng – die baie ure van onderrig – het alles in rook opgegaan deur een hardkoppige daad van wellus! Al sy vorige jare van presiese kennis kon hom nie weerhou van sy smagting na nuwe opwinding nie.

Ja, dit is belangrik dat jy alles weet oor die gevare van dwelms. Jy moet weet, byvoorbeeld, dat crack en die nuwe ontwerperdwelms ‘n middel in die brein genaamd “dopamien” vernietig. Dit is ‘n liggaamschemikalie wat mens daarvan weerhou om depressief te word; dit produseer ‘n sin van welstand. Wanneer dopamien nie geproduseer word nie, skop depressie en paranoia in. Dit is waarom duisende crack-gebruikers dit dag en nag rook – hulle probeer daardie eerste ontsaglike euforie herhaal. Maar, hulle het die liggaam se vermoë om dopamien te maak vernietig en hulle word agtergelaat met ‘n toenemende depressie en vrees.

Die meeste van die jongmense verslaaf aan hierdie dwelms weet dit alles. Hulle het lesings gehoor oor die gevare van dwelms – hulle is gebombardeer met goed gebalanseeerde literatuur oor die gevare van die misbruik van chemiese middele. Dit was geen afskrikmiddel nie; dit was van min hulp, indien enige.

Die Bybel waarsku: Hulle is “trotsaards, grootpraters, uitvinders van slegte dinge, ongehoorsaam aan die ouers...mense wat – al ken hulle die verordening van God goed, dat die wat sulke dinge doen, die dood verdien – dié dinge net alleen self doen nie, maar ook hulle goedkeuring skenk aan die wat dit doen” (Romeine 1:30-32).

Wie weet meer van die gevare van dwelms as dokters? Tog word honderde dokters verslaafdes; sommige van hulle is nou buite op die strate, nadat hulle hulle praktyke, hulle families, en hulle waardigheid verloor het. Kennis is veronderstel om te beskerm. Die hele boek Spreuke is ‘n vermaning om wysheid en kennis na te jaag. Maar dit is die “kennis van die Heilige” (Spreuke 30:3), omdat die wysheid van die wêreld “opgeblase” (1 Korinthiërs 8:1) is.

Wanneer die verstand eers ingestel is op eksperimentering en opwinding, dan sal om die gevare te ken, niemand keer nie! Die Bybel sê so ‘n mens sou nie na rede luister nie al sou sewe mense hulle waarsku. “Die luiaard is wyser in sy eie oë as sewe wat verstandig antwoord” (Spreuke 26:16). Hoe kalm, hoe slim is hulle – elkeen dink hulle is anders as al die ander. Niemand glo regtig  hulle sal die hele pad gaan nie.

Die eerste ontmoeting met die verbode is die gevaarlikste!

Dit is gevaarlik omdat, met ‘n paar uitsonderings, dit werk! Jy kan daardeur gaan sonder dat dit jou aanraak of enigeen skade doen. Jy ontsnap met herinneringe van ekstase, opwinding en ontsaglike plesier.

So was dit met Simson! Hy het sy plesiertjie met die hoer gehad, by die venster uitgekyk en moeilikheid gesien. Die vyand het die hoer se huis omsingel en hulle het beplan om te wag tot die oggend toe en hom dood te maak. Hy was vasgevang.

Maar hoekom het Simson ontsnap. “En Simson het gelê tot middernag; maar teen middernag het hy opgestaan en die deure van die stadspoort en die twee deurposte gegryp en dié met grendel en al uitgeruk en op sy skouers gesit en dit opgedra na die top van die berg wat teenoor Hebron lê” (Rigters 16:3).

Wat van die volgende dag – die dag na die eerste opwinding? Is daar nie veronderstel om spyt te wees nie? Wat is daar om oor spyt te wees? Kyk na Simson die volgende dag. Hy het nie dood neergeslaan onder goddelike oordeel nie. Sy goddelke ouers het nie geweet nie; en wat hulle nie geweet het nie, sou hulle nie seermaak nie, so moes hy gedink het. Dit lyk asof God anderpad gekyk het. God het hom selfs ‘n stuwing van krag gegee om die duiwel se poorte af te breek.

Verbeel jou dat Simson, teen middernag, ná die verbode reis – die duiwel se poorte op die heuwel gesleep en gedink het, “Ek sal die duiwel wys dat hy my nie gevang het nie. Hy kan nie ‘n houvas op my kry en my ‘n gevangene van ‘n hoer maak nie! Ek sal net wegloop en teruggaan na my God en hierdie episodetjie probeer vergeet! Geen skade nie! Dit is ‘n eenmalige ding!”

Die Bybel het gesê: “Omdat die oordeel oor ‘n verkeerde daad nie gou voltrek word nie, daarom is die hart van die mensekinders in hulle vol om kwaad te doen” (Prediker 8:11). Soms sal ‘n eerste keer gebruiker ‘n oordosis neem en sterf. Maar die meeste van die tyd, is daar geen duidelike oordeel nie. Geen polisie nie! Geen agterdogtige ouers nie. Geen duidelike skade aan die brein nie. Dit is dan wanneer die duiwel kom as ‘n engel van die lig – met sy groot leuen! Hy oortuig sy slagoffers om dit net nog een keer te probeer! Hy laat die gewete ontspan.

Op hierdie punt, gebeur ‘n verskriklike ding. Die verstand word geprogrammeer! Die Bybel noem dit vol! Dit beteken – bevestig, vasbeslote om dit weer te probeer. Dawid het geskryf, “In die binneste van my hart sê die oortreding aangaande die goddelose: Daar is geen vrees van God voor sy oë nie. Want dit vlei hom in sy oë in die verband met die uitvind en haat van sy skuld. Die woorde van sy mond is onreg en bedrog: hy laat ná om verstandig te wees, om goed te doen. Hy bedink onreg op sy bed; hy gaan staan op ‘n weg wat nie goed is nie; wat slegs is, verfoei hy nie” (Psalm 36:1-4).

Wat dit beteken: Een wat vasbeslote is om terug te gaan en dit weer te doen, vlei homself dat hy nie ontdek sal word nie. Hy verloor alle vrees en haat vir hierdie spesifieke sonde. Eerder dat die verbode sonde ‘n gevreesde en gehate ding word, word dit ‘n afgod wat realiteit verblind. “Hy beplan boosheid op sy bed – hy is nou vas op die afdraende pad na slawerny en gevangenskap – hy haat nie meer dit wat boos is nie.”

Alle sin van gevaar is weg. Wat daarvan as Elvis Presley ‘n oordosis geneem het? Wat daarvan as beroemde atlete doodgaan van dwelms? Wat daarvan as tieners mal word van crack en ouers vermoor? Wat daarvan as duisende hoërskool en kollege studente roof, sakkerol, steel en prostitusie bedryf om oorweldigende gewoontes te onderhou? Wat daarvan as die tronke vol is van jong verslaafdes? Wat daarvan as hulle vermoor word in crack hole? Hulle is nou so mislei deur Satan, hulle kan heelnag beplan hoe om weer hoog te word! Hulle is mislei deur te dink hulle is spesiaal! Hulle sal aanhou ontsnap. God sal hulle eksperimentering oorsien.

Diegene wat hulle daarop instel om kwaad te doen, word vinnig deur demoniese magte beset en gedrewe!

Satan se doel is om jou kragte, al jou geestelike en fisiese weerstand af te breek, en jou te verslaaf. Hy beplan om van jou ‘n slaaf te maak – ‘n gevangene.

Dit het presies so met Simson gebeur. Hy het een nag uitgegaan net om dit “Nog een keer ”te probeer. Die hoer se naam was Delila, wat in Hebreeus beteken, “Ontspan; los raak; om verslaaf te raak; om leeg, droog en uitgedor te word.”

Sy het demoniese wellus vergestalt, ‘n werktuig van Satan om Simson so ver te kry om homself aan haar mag oor te gee. “Haal hom oor en vind uit waardeur sy krag so groot is, en waardeur ons hom kan oorweldig en hom kan bind om hom te bedwing...” (Rigters 16:5). O as jongmense kon sien en verstaan dat Satan vasbeslote is om hulle af te breek – om van hulle besit te neem – net sodat hy hulle kan verdruk.

Drie keer het Simson teruggegaan na ‘n duiwel – ‘n besete vrou wat hy geweet het hom probeer vernietig het! Sy het aanhou smeek, “Vertel my tog waardeur jou krag so groot is en waarmee jy gebind kan word om jou te bedwing” (Rigters 16:6,10,13). Waarom het hy teruggegaan om met so ‘n gevaar te flankeer? Omdat hy dit nie nou nie meer kon help nie. Hy was nie in beheer nie – die duiwel het hom gedryf om terug te gaan, om verder te gaan en dieper. Elke keer het hy ontsnap, hy was vreemd teruggedryf tot in die arms van die dood. “In sy ongeluk word die goddelose omgestoot” (Spreuke 14:32).

Jeremia het geprofeteer, “Selfs in my huis het Ek hulle boosheid gevind, spreek die HERE. Daarom sal hulle weg vir hulle wees soos glyerige plekke in die donkerheid; hulle sal neergestoot word en daarin val...” (Jeremia 23:11-12).

Hy het van afvallig Israel gesê: “Israel is ‘n rondgejaagde skaap wat die leeus weggedrywe het...” (Jeremia 50:17). Satan is die brullende leeu wat menigtes tot in slawerny dryf. Hy is so vrypostig dat hy nie eens sy planne wegsteek nie. Prontuit, deur Delila, het hy vir Simson gesê, “Ek beplan om jou krag te tap, jou vas te bind en ‘n dwaas van jou te maak!”

Voor die duiwel jou in sy gevangenis kan toesluit, kom daar ‘n uur van waarheid. Dit is die treiter-uur! Satan se laaste hindernis na algehele mag oor jou, is om jou hart te wen! Hy wil hê jy moet niks van hom af terughou nie – geen blywende gedagtes van waarheid en geregtigheid nie. Hy moet die laaste hoop op God uit jou uitwring.

Simson het sy treiter-uur bereik! “Toe sê sy vir hom: Hoe kan jy sê: Ek het jou lief! Terwyl jou hart nie met my is nie? Drie maal het jy my nou al bedrieg en my nie meegedeel waardeur jou krag so groot is nie. En omdat sy hom met haar woorde aldae afgepers en by hom aangedring het, het hy so ongeduldig geword, dat hy kon sterf. En hy het sy hele hart aan haar bekend gemaak...” (Rigters 16:15-17).

Simson het sy hele hart aan Delila gegee! Hy was nou in haar mag, liggaam en siel! Satan het alles van hom gehad. Hy het moed verloor en gaan lê om te slaap in die duiwel se skoot.

Hy kon gevlug het! Hy moes net opgestaan het, God om hulp geroep het, en vir daardie duiwelse vrou gesê het: “Nee! Nooit! Ek is anders – ek behoort aan God! Ek hoort nie hier nie. Genoeg is genoeg! As ek jou my hart gee, is alles verby! My laaste hoop is om my geheime krag te bewaar!”

Jongmense, hou jou hart smagtend na Jesus! God sal al die magte van die hemel stuur om ‘n hart te red wat uitroep om hulp. ‘n Hart wat uitreik na die Here is jou laaste hoop! Jesus is die Een wat Sy Woord in jou hart gesaai het; moenie dat die Bose dit steel nie! Jesus het gesê die eerste en grootste gebod is: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand...” (Matthéüs 22:37).

Wanneer jy eens opgesluit is in Satan se gevangenis, is die enigste uitweg om te sterf!

Wat ‘n jammerlike einde vir Simson. Hy het nie eens geweet dat God hom verlaat het nie. “Daarop het die Filistyne hom gegryp en sy oë uitgesteek” (Rigters 16:21). Simson se oë was uitgesteek deur die vyand. Hy kon niks meer sien nie! Hy kon homself nie sien nie, dit wat sonde aan hom gedoen het. Hy kon nie sien waarheen hy op pad was nie. Hy was afhanklik van die duiwel se barmhartigheid.

Hy was eens ‘n magtige man van God, vol hoop, krag en gelei deur die Gees. Kyk nou na hom – blind en hulpeloos! Wat ‘n duidelike beeld van wat Satan aan hierdie geslag doen. Hy verblind hulle vir die gevare. Hy verblind hulle oor hulle toestand.

Onderskeiding is die eerste ding wat jy verloor wanneer jy die Here in jou hart verlaat. Jy kan nie sien hoe hopeloos en verslaaf jy is nie.

Roep Simson, dat hy ons kan vermaak.

Die duiwel het grappies gemaak met Simson in sy blindheid! “En die vorste van die Filistyne het vergader om ‘n groot offer te bring aan hulle god Dagon en om vrolik te wees; en hulle het gesê: Ons god het ons vyand Simson in ons hand gegee. En toe die volk hom sien, prys hulle hul god; want hulle het gesê: Ons god het ons vyand en die rinneweerder van ons land, wat ook baie van ons laat sneuwel het, in ons hand gegee. En toe hulle hart vrolik was, sê hulle: Roep Simson, dat hy vir ons speel; en hulle het Simson uit die gevangenis geroep; en hy het voor hulle gespeel, en hulle het hom tussen die pilare laat staan” (Rigters 16:23-25).

Elke verslaafde, elkeen wat gevang en verslaaf is, is ‘n voorwerp van bespotting en vermaak vir die duiwel en sy bose hordes. Demone lag, die magte van die duisternis spot en maak grappe met al die jongmense wat nou veg vir hulle lewens weens ‘n gewoonte.

Pret? Opwinding? Partytjies? Goeie tye? Kyk weer na Simson – en leer daar uit! Luister na die beledigings en bespotting van daardie demoniese here: “Kyk na hom – blind, stom, dwaas! Hy het geen oë in sy kop nie! Slaaf! Vermaaklik!”

Dit is hoe dit alles eindig, jongmense! Met Satan wat jou teister met depressie, vrees, siekte en eensaamheid. Dan, wanneer jy verslaaf en gebind is, maak hy jou belaglik. Hy lag vir God wanneer hy jou jammerlike toestand sien. Hy sê, “God het geen krag nie – kyk wat het ek aan hom of haar gedoen! Ek het ‘n kind van God verander in ‘n swak, hulpelose gevangene.”

Maar daar is ‘n uitweg uit Satan se gevangenis! Jy moet sterf! “Toe roep Simson die HERE aan en sê: Here, HERE, dink tog aan my en versterk my tog net hierdie keer, o God, dat ek my oor een van my twee oë op die Filistyne kan wreek! En Simson slaan sy arms om die twee middelste pilare waar die huis op gerus het, die een met sy regter- en die ander met sy linkerhand, en leun teen hulle aan. En Simson sê: Laat my sterwe saam met die Filistyne! En hy buig hom met krag, sodat dit huis inval op die vorste en op al die mense wat daarin was. So was dan die dooies wat hy by sy sterwe gedood het, meer as die wat hy in sy lewe gedood het” (Rigters 16:28-30)

Jy moet sterf!

Duisende op duisende dwelmverslaafdes, alkoholiste, en andersins hulpelose jeug ontsnap van die duiwel se gevangenis. Hulle hardloop na Jesus Christus toe – sterf aan sonde – en hulle word opgewek in ‘n nuwe lewe in Hom. “Maar iemand sal sê: Hoe word die dode opgewek, en met hoedanige liggaam kom hulle? Dwase mens! Wat jy saai, word nie lewendig as dit nie gesterf het nie” (1 Korinthiërs 15:35,36).

Jy moet sterf aan jou gewoonte! Dit sal nie sterf nie – jy moet! “Want as ons met Hom saamgegroei het deur die gelykvormigheid aan sy dood, sal ons dit tog ook wees deur dié aan sy opstanding; aangesien ons dit weet dat ons oue mense saam gekruisig is, sodat die liggaam van die sonde tot niet gemaak sou word en ons nie meer die sonde sou dien nie. Want hy wat gesterf het, is geregverdig van die sonde. As ons dan saam met Christus gesterf het, glo ons dat ons ook saam met Hom sal lewe, omdat ons weet dat Christus, nadat Hy opgewek is uit die dode, nie meer sterf nie. Die dood heers oor Hom nie meer nie. Want die dood wat Hy gesterf het, het Hy vir die sonde eens en  vir altyd gesterwe; maar die lewe wat Hy leef, leef Hy vir God. So moet julle ook reken dat julle wel vir die sonde dood is, maar lewend is vir God in Christus Jesus, ons Here” (Romeine 6:5-11).

Jy moet oortuig wees dat Jesus gekom het om alle gevangenes vry te maak! Is jy in Satan se gevangenis? Hoor dan wat Sy bediening is:

“So sê die HERE: In die tyd van die welbehae het Ek U verhoor, en in die dag van heil het Ek U gehelp; en Ek behoed U en gee U as ‘n verbond van die volk...om te sê aan die gevangenes: Gaan uit! aan hulle wat in duisternis is: Kom te voorskyn” (Jesaja 49:8-9).

“Dit sal vir die volgende geslag opgeskrywe word, en die volk wat geskape gaan word, sal die HERE loof; omdat Hy van sy heilige hoogte neergesien het, die HERE uit die hemel op die aarde gelet het, om die gekerm van die gevangene te hoor, om los te maak die kinders van die dood” (Psalm 102:19-21).