Die Groot Afvalligheid

David Wilkerson

Voor die antichris geopenbaar word, sal daar ‘n verborgenheid van ongeregtigheid wees wat reeds aan die werk is. Die een wat kom, sal verskyn na hewige aktiwiteit van afvalligheid. Satan en al die magte van duisternis sal alles gereed maak – en die geloof van baie vernietig. Omdat sonde meer algemeen sal wees, sal die liefde van talle van God se kinders baie koud word. Daar sal oral skipbreukeling gelowiges wees.

God se grootste bekommernis is nie waarin Christene verval nie – maar waarvandaan hulle wegval! Menigtes van Christene, insluiteinde herders, diakens en allerhande bedieningsmense verloor hulle geloof en vertroue in die krag van Jesus se Naam! Hulle val weg van Christus af as die antwoord op alles. Hulle val weg van ‘n kinderlike geloof in Hom alleen as die oplossing op al die probleme van die lewe. Daar is ‘n grootskaalse wending tot metodes, tot sielkunde, tot menslike kundigheid, tot die filosofieë en leerstellinge van mense.

Al die profete het hierdie laaste groot afvalligheid vooruit gesien. Jesaja was ‘n boodskap van God gegee wat spesifiek handel oor ons dag. Hy het voorspel wat huidiglik gebeur; hy het gewaarsku oor ‘n laaste-dag volk wat “teruggaan na Egipte” vir hulp en wat die Here se hulp as hulle bron van voorsiening sou verwerp.

God het seker gemaak daar sou geen misverstand wees aan wie hierdie profesie gerig was nie. Hy het vir Jesaja gesê: “Gaan nou in, skryf dit op ‘n tafel in hulle teenwoordigheid en teken dit op in ‘n boek, dat dit kan bly vir later dae, vir altyd, tot in ewigheid” (Jesaja 30:8). Die letterlike vertaling is, “Dat dit vir toekomstige geslagte kan wees, vir die laaste dae.” Die 30ste hoofstuk van Jesaja is God se boodskap vir hierdie laaste-dae kerk. Hoe baie akkuraat en waar is dit!

I. Die boodskap begin met ‘n openbaring van God se droefheid oor die oorsaak van die afvalligheid!

“Wee die opstandige kinders, spreek die HERE, wat ‘n plan uitvoer, maar dit is nie uit My nie; wat ‘n verbond sluit, en dit is nie uit my Gees nie, om sonde op sonde te stapel; wat gaan om na Egipte af te trek, en hulle raadpleeg my mond nie, om toevlug te soek onder die beskutting van Farao en om te skuil in die skaduwee van Egipte” (Jesaja 30:1,2).

Waarom noem God hulle wederstrewige kinders? Omdat hulle nou die grootste sonde gepleeg het, en Hom die uiterste smart veroorsaak het! Hier word ‘n sonde bekendgestel wat erger is as owerspel – erger as hoerery, of steel, of lieg, of iemand se eie broer haat. Dit is die grootste sonde van wederstrewigheid en afvalligheid! God noem dit ‘n saamgestelde sonde – sonde word op sonde gestapel!

Dit is ‘n klap in God se gesig – die volslae, uiterste, mees onbeskaamde sonde moontlik vir ‘n kind van God om te pleeg. Dit is om na Egipte te gaan, eerder as om die Here te raadpleeg! Dit was gerig aan die leiers van Israel, onder Hiskia – maar ook aan die kerk van die laaste dae.

Dwelmmisbruik, alkoholisme, owerspel, dobbelary, homoseksualiteit, hoerery, pornografie – al hierdie bose dade is sondes teen die vlees, teen die samelewing en teen die wette en gebooie van God. Maar hierdie sonde is teen die Here self. Dit is ‘n persoonlike belediging teen ‘n Heilige God!

Hou in gedagte – dit is ons bedroefde Here wat praat:

“Jy maak nou jou eie planne sonder om My te raadpleeg!”

“Jy is nou saam in die liga met diegene wat op die arm van die vlees staatmaak en nie die Gees nie!”

“Jy gaan terug na die presiese ding waarvan Ek jou verlos het – terug om hulp te soek by diegene wat eens op ‘n tyd vir jou al jou pyn en slawerny veroorsaak het.”

“Wee hulle wat na Egipte aftrek om hulp en hulle verlaat op perde, en wat vertrou op strydwaens, omdat daar baie is, en op ruiters, omdat hulle baie talryk is, maar hulle sien nie op die Heilige van Israel en hulle soek nie die HERE nie” (Jesaja 31:1).

Onthou dit gaan alles oor hoe om verlos te word van die vyand! Dit het te doen met verlossing! Hoe verlos ons God se kinders van die woedende vyande! Die Assiriërs is by die poort en dreig met verwoesting. Assirië beteken suksesvolle vyand. Dit verteenwoordig die naderende gety van boosheid wat so suksesvol lyk in ons tyd vandag! Hoe gaan God se leiers – Sy herders – Sy oudstes hierdie formidabele vyand by die poort weerstaan? Hy vee alles voor hom weg; dit lyk asof hy onstuitbaar is.

Israel het paniekerig geword! Hulle het hulle oë op die vyand gehou – hulle het hulle nie met volle vertroue tot die Here gewend nie! Hulle het hulle gewend tot die arm van die vlees. Hulle het ambassadeurs na Egipte toe gestuur, na die regeringsleiers en generaals in Soan en Hanes. Hulle het sake in hulle eie hande geneem.

Jesaja het ‘n lewendige prentjie geskets van die leegheid en angs voor hulle. Deur na Egipte toe te gaan, was hulle op pad na “‘n land van benoudheid en angs, waar leeuin en leeu uitkom, adder en vlieënde draak.” Hulle sal niks ander as leegheid, nietigheid vind nie. “Daarom noem ek dit: Rahab wat stilsit” (Jesaja 30:7).

Rahab hier in Hebreeus is, “Ek noem Egipte, Grootmond wat stilsit.” Ander beskou dit as, “Die grootpraterig volk wat lui is” (Keil, Delitzsch).

Die beeld is verskriklik: Hier is God se volk wat teruggaan deur dieselfde woestyn waaruit hulle verlos is, terugkeer vir hulp na ‘n grootpraterige, roemende wêreldstelsel wat nie ‘n tree kon versit nie! Hulle was gewillig om weereens leegheid, pyn, angs te beleef – in ‘n wildernis, wat na die wêreld kyk vir hulp.

Kyk na die kerk vandag; kyk na sy leërs van opgeleide kundiges; kyk na sy herders en werkers. Waarheen is die meeste van hulle op pad? Terug na die wildernis, terug na Grootmond Egipte! Wegdraai van die Man van Galiléa; weg van die skande van die Kruis; weg van die krag van gebed; weg van geloof; weg van die Woord van God. “Want dit is ‘n wederstrewige volk, leuenagtige kinders, kinders wat die wet van die HERE nie wil hoor nie” (Jesaja 30:9).

Moses het geprofeteer dat presies hierdie ding sou gebeur in die laaste dae! Hy het die groot afvalligheid van God se volk voorspel. “Neem hierdie wetboek en sit dit neer aan die kant van die verbondsark van die HERE julle God, dat dit daar as getuie teen jou kan wees. Want ék ken jou wederstrewigheid en jou hardnekkigheid. As julle, terwyl ek nog vandag by julle lewe, wederstrewig was teen die HERE – hoeveel te meer dan ná my dood! Laat al die oudstes van jule stamme en julle opsigters by my vergader, dat ek voor hulle ore hierdie woorde kan spreek, en teen hule die hemel en die aarde as getuies kan neem. Want ek weet dat julle ná my dood gewis verderflik sal handel en sal afwyk van die weg wat ek julle beveel het, sodat die onheil julle aan die einde van die dae sal teëkom, omdat julle sal doen wat verkeerd is in die oë van die HERE om Hom deur die werk van julle hande te terg” (Deuteronómium 31:26-29).

Hy het gewaarsku, “Julle sal afdwaal – boosheid sal julle oorval in die laaste dae.” Moses het geprofeteer: “Want Ek sal hulle inbring in die land wat Ek aan hulle vaders met ‘n eed beloof het, wat oorloop van melk en heuning, en hulle sal eet en versadig en vet word; dan sal hulle afwyk na ander gode en dié dien, en hulle sal My verag en my verbond verbreek” (Deuteronómium 31:20).

Laat ons dit opsom en tot die punt kom wat die profete maak. Wat beteken dit om die Here te verag – om terug te gaan na Egipte? Hoe word dit geïnterpreteer in hierdie laaste dae? God sê in wese, “Toe jy aanvanklik geroep is – toe Ek jou aangeraak het en verlos het van die vyand, wou jy net vir My hê! Jy het oor alles gebid! Jy het ‘n kinderlike vertroue en geloof in My gehad, dat Ek jou sou lei, dat Ek bonatuurlik in al jou behoeftes sou voorsien. Ek was jou blydskap – Ek alleen was jou versadiging. Jy was nie uitgebrand nie; jy het ‘n smagtende hart na My gehad!

“Nou het jy al jou kundiges, jou hoe-om boeke. Jy het moderne metodes, jy het My nie nou nodig om in jou behoefte te voorsien nie. Jy het kundiges om vir jou te sê hoe om geld in te samel, hoe om briewe te skryf, hoe om versoeke te rig. Jy het seminare, opleidingsessies, meer kundiges, meer advies, heelwat van wat die leringe van hierdie wêreld inkorporeer. Jy leer hoe om dinge beter te doen, maar leer My minder ken! Ek is nie in die middelpunt van dit alles nie, jy doen dit in My Naam, is besig, hardwerkend – maar dit laat jou moeg, uitgebrand en leeg, want jy is op pad na Egipte. Jy beweeg in die verkeerde rigting.

Ons kerk het nie meer die krag van God om mense te trek nie. Hulle gaan na Egipte, leen sy musiek, sy gedans, sy vermaak en hoop vir ‘n skare! Geen passie vir siele nie – net skares! Kerkgroei ten alle koste! Kyk na die gemiddelde kerknuusbrief; dit lyk na ‘n teaterkalender. Die kerk wil ry op die vinnige perde van Egipte! Dit is ‘n stank in God se neus.

Selfs die para-kerk bedienings raak afvallig! Werkers lê voor die TV-afgod. Baie lees sielkundige boeke. Terwyl sommige steeds ‘n passie vir siele het, word selfs dit dikwels ‘n wêreldse bohaai en menslike energie”!

II. Daar sal ‘n verwerping van die boodskap van heiligheid, oordeel en bekering volg!

“Wat aan die sieners sê: Sien nie! en aan die profete: Profeteer vir ons nie wat reg is nie; spreek vleitaal vir ons, profeteer bedrieëry” (Jesaja 30:10).

‘n Afvallige kerk wil niks te doen hê met die visioene of profesieë van mense van geregtigheid nie. Hulle wil geen boodskap hê wat onstel, geen omkrap van hulle suksesvolle wêreld nie. Hulle weier enige soort tugtiging. Alles word verskoon onder die banier van liefde. Hulle roep uit vir vermaak! Hulle drom by die duisende saam by konserte, teaterstukke, sosiale byeenkomste, hulle bespot profete. Hulle bespot wat hulle noem die Oordeelsdagpredikers! Hulle lewe met illusies. Hulle wil nie hê ‘n prediker of evangelis moet vir hulle die harde waarheid vertel nie – om die swaard van die Here te voorskyn bring nie. Hulle sê, “Verkondig vir ons mooi dinge! Seën ons! Maak ons gelukkig! Laat ons goed voel!”

Hulle het veral die boodskap van heiligheid en afsondering verwerp. Hulle sê, “Wyk af van die weg, buig af van die pad, laat die Heilige van Israel voor ons aangesig verdwyn” (Jesaja 30:11).

Ek het nooit gedink ek sou die dag sien waarop Assemblie van God pastore vir my skandelike briewe sou skryf en vir my vertel ek bring verwarring en somberheid oor die liggaam van Christus. Hoekom? Verkondiging van heiligheid, oordeel en bekering?

Jeremia was gestuur om te profeteer teen afvallige Jode, die Here se eie volk. God het hom gewaarsku, “En hulle sal teen jou veg...dat my vrees nie by jou [Israel] is nie...My, die fontein van lewende water, het hulle verlaat om vir hulle reënbakke uit te kap” (Jeremia 1,2,3).

Waarom omhels mense die voorspoedsboodskap en verwerp hulle tugtiging en oproepe tot bekering en heiligheid? Dit is weens hulle leefstyle. Voorspoedsverkondiging pas pragtig by hulle suksesvolle leefstyle in. Hulle stroom na daardie leraars, omdat hulle gemaklik wil voel in hulle wêreld van materialisme. Hulle wil niks prysgee, of opoffer nie en hulle wil niks hoor van kruise en verliese nie. Hulle is behep met koop, verkry, geniet en klim. Hulle weier om te luister na die profetiese waarskuwings dat die partytjie binnekort verby sal wees.

‘n Afvallige kerk verdra bloot die profetiese stem. Hulle lag dit af met ‘n neerhalende glimlag. En dit is erger as direkte verwerping. “En hulle kom na jou toe soos ‘n volk saamstroom en sit voor jou as my volk en hoor jou woorde, maar hulle doen dit nie; want hulle maak liefdesverklaringe met hulle mond, maar hulle hart gaan agter hulle onregverdige wins aan. En kyk, jy is vir hulle soos ‘n minnelied, soos een skoon van stem, wat goed op die snare speel: hulle hoor jou woorde, maar hulle doen dit nie” (Esegiël 33:31,32).

Vir te veel Christene, selfs hulle wat opreg is, wat hulleself “Sy mense” noem, is die oproep om ontslae te raak van die TV-afgod in hulle huise, om ruk en rol en musiek van die duiwels te verwerp, om ernstig te raak oor algehele oorgawe, alles ‘n nuwe boodskap. Dit is vir hulle so ‘n bietjie vermaaklik – hulle hou daarvan om dit te hoor – om dit te “Amen,” maar dit raak hulle nie aan nie. Hulle volg die begeertes van hulle harte. Jy sien, hulle is vrygemaak, nie onder die wet of wettiesheid nie en weier dat die Heilige Gees hulle innerlike mens deursoek oor insypelende verdorwenheid in hulle lewens en huise.

Volgens die profesie van Jesaja, sal die afvallige kerk van die laaste dae die oproep tot bekering heeltemal verwerp! “Want so sê die Here HERE, die Heilige van Israel: In terugkeer en rus lê julle heil, in stil wees en vertroue bestaan julle krag; maar julle wou nie en het gesê: Nee” (Jesaja 30:15,16).

God se boodskap aan die kerk is nou: “Jou een laaste hoop, jou enigste oorblywende krag, is om terug te keer na My met jou hele hart; bekeer jou – Vertrou My Net! Draai weg van Egipte, die wêreld!

Sê dit vir die multi-miljoen dollar TV-bedieninge! Sê dit vir die besige, voorspoedige herders! Sê dit vir die geldmal skares! Sê dit vir hulle dat hulle enigste verlossing nou in bekering en heiligheid is! Hulle het nie eens die tyd om na te dink oor die vraag nie, nog minder om dit te antwoord. Jesaja sê hulle sal die boodskap van bekering verwerp; die gedagte aan stil wees, rus en eenvoudige vertroue verwerp – hulle is te besig om op vinnige perde te jaag, vlugtend – en hulle eie drome na te jaag.

Jesaja het ‘n skielike ineenstorting voorspel van daardie individue en bedienings wat die boodskap van bekering verwerp.

“Daarom, so sê die Heilige van Israel: Omdat julle hierdie woord verwerp en vertrou op verdrukking en slinksheid en daarop steun, daarom sal hierdie skuld vir julle wees soos ‘n los stuk wat wil val, wat oorhand in ‘n hoë muur, waarvan die instorting heeltemal onverwags kom. Ja, Hy sal dit verbreek soos die kruik van ‘n pottebakker verbreek word, wat sonder verskoning stukkend geslaag word” (Jesaja 30:12-14).

Daar kom ‘n skielike, oornagse, genadelose verplettering – ‘n ineenstorting van bedienings, kerke, lewenstyle – van die wat gerus is in Sion! Ek sien wat Jesaja gesien het! Daar kom binnekort ‘n ekonomiese ramp, so skielik, so onverwags – dat die geldvloei sal ophou! TV-bedienings sal bankrot speel een na die ander. Baie kerke wat oorlaai is met skuld, sal bankrot verklaar word.

Diegene wat voorspoed eksklusief verkondig sal die mees gehate predikers in die land word. Reeds ontvang ons pos van diegene wat in daardie kamp was, maar nou in diep finansiële moeilikheid is – en die wat skade ly draai teen hulle leraar en skree, “Jy het my mislei! Waarom werk jou goed nie nou nie?” Die leraars self sal vreesbevange wees, en die ineenstorting aanskou – oornag!

Glo my, dit gaan alles verpletter word! Lieg Jesaja? Luister na hom: “Omdat jy hierdie woord van heiligheid, bekering en profetiese waarskuwings verwerp het, sal jou hoë muur ‘n los stuk ontwikkel; dit sal skielik val – dit sal oor en verby wees binne een oomblik!”

Wie kan dit glo? Vandag, vloei miljoene dollars vrylik! Hulle bou; hulle koop; hulle verkoop; hulle voer hulle drome uit asof dit nooit sal eindig nie! Maar die dag lê voor – binnekort, kom ‘n ontsagwekkende ineenstorting! So genadeloos! So verpletterend! So skielik! Wie sou die skrikwekkende ineenstorting van die oliemark kon voorsien? Wie sou kon glo dat ons ruimtetuig sou ontplof?

Duisende afvallige herders en hulle hulpelose gemeentelede sal bewe van skande en angs! “Eenduisend van julle sal vlug vir die oorlogsgeroep van een enkele, vir die oorlogsgeroep van vyf, totdat julle oorbly soos ‘n vlagpaal op ‘n bergtop en soos ‘n banier op ‘n heuwel” (Jesaja 30:17).

Dit beteken dat vrees hulle sal oorwin. Hulle sal heen en weer gejaag word, geen wegkruipplek, geen rus, geen stille vetroue, geen innerlike krag nie – geterroriseerd! Hulle sal ‘n skaduwee word van wat eens was!

Die koninkryk van self, van hoogmoed, van ambisie, stort in duie! Die waarskuwings van Jesaja, sal nie na geluister word nie – my waarskuwings sal bespot word! Wanneer dit kom, en dit sal, watter nut sal hulle boodskap dan wees? Wie sal luister? Hulle drome en illusies sal weggevee word! Hulle verhoë van vermaak sal verwoes wees! Selfs die goddelose sal sê, “Hoe kan dit wees? Waarom het God dit aan hulle gedoen?”

Hierdie waarskuwings sal nie daardie Christene onstel wat afgesonder is met God nie. Die waarskuwings van Jesus was sterker as die waarskuwings wat pas gelees is – maar vir diegene wat vertrou het Hy gesê, “Moenie bang wees nie.” Lees verder heiliges – daar is ‘n heerlike kant aan dit alles!

III. Uit die afvallige kerk sal ‘n heilige, bekeerde volk kom wat sal smag na die Here!

Hoe smag ons Here daarna om ‘n volk te hê wat slegs Hom soek! Hy is bedroef oor die afvalligheid, maar Sy deernis sal ‘n volk voortbring wat terugkeer, wat hulle bekeer – wat slegs vir Hom wil hê! “En daarom sal die HERE met ongeduld daarop wag om julle genadig te wees, en daarom sal Hy Hom verhef om Hom oor julle te ontferm; want die HERE is ‘n God van die gerig. Welgeluksalig almal wat op Hom wag” (Jesaja 30:18).

Jesaja het nou ‘n nuwe volk van die toekoms aangespreek! Hy het gepraat met ‘n volk wat die geestelike Sion sou uitmaak – Jerusalem, wat nooit kan val of in duie stort nie. Dit is ‘n heilige volk wie se belangrikste eienskap hulle smagtende harte na God is!

Wat was die kenmerk van die afvallige volk? Hulle het nie gesmag na die Here nie, maar na Egipte, die wêreld, die vlees, die aardse. Dit is die hartseer gebrek van die kerk vandag! Daar is so min van hierdie diep verlange na Christus. So min van afgesonder wees met Hom, Hom begeer as die volheid van die lewe. Ons het ‘n geslag wat vir Hom sal werk, wat sal getuig, die armes voed, die haweloses help, en menslike behoeftes bedien. Maar so min bring hulle dae deur smagtend na Hom. God het gesê, “Maar my volk het My vergeet, dae sonder getal” (Jeremia 2:32).

Terwyl almal sal in duie stort en ween – sal hierdie volk nie ween nie! God gaan hulle geroep hoor en hulle gebed verhoor! “Want ‘n volk sal op Son, in Jerusalem, woon; jy sal nie meer ween nie; sekerlik sal Hy jou genade bewys op jou hulpgeroep; sodra Hy hoor, antwoord Hy jou” (Jesaja 30:19).

Daar sal gebrek wees! Daar sal verdrukking wees van Satan, van die wêreld, van omstandighede, maar God sal geopenbaar word onder sy volk. Die teenwoordigheid van die Here sal vir hulle kosbaar wees. “Die Here gee julle wel brood van benoudheid en water van bedruktheid, maar jou leraars sal hulle nie langer verberg nie – maar jou oë sal jou leraars sien” (Jesaja 30:20).

Daar sal ‘n rein, duidelike en heilige woord voortkom. God sal sy volk voorsien met ware openbaring. Hulle sal sien wat niemand anders gesien het nie! Hulle sal stap vir stap gely word deur die Here! Daar sal dan geen hongersnood wees van die ware Woord wees nie, geen nodigheid meer vir preekopnames of afgeleë seminare nie. Die Here het reeds ‘n reeks van heiligheids- en bekeringspredikers gereed, wagtend op die uur waarop Christene gereed sal wees om te luister. Hulle sal nie meer gelaster en verstoot word nie – hulle sal in die bresse tree en die heilige en rein woord van die Here verkondig aan ‘n bewende nasie. “En jou ore sal ‘n woord agter jou hoor wat sê: Dit is die weg, wandel daarop! wanneer julle regs of wanneer julle links wil gaan” (Jesaja 30:21).

Hierdie volk sal al hulle afgode afbreek! Hulle sal so smag na die Here, dat al die afgode moet wyk! “En julle sal verontreinig die oortrekstel van jou gesnede beelde van silwer en die beslag van jou gegote beeld van goud; jy sal dit weggooi soos iets wat besoedel is. Weg daarmee! sal jy daarvan sê” (Jesaja 30:22).

Hulle sal hulle grootste bediening geniet wanneer vrees, mislukking en verpletterende ineenstortings oral is. “Dan sal Hy reën gee vir die saad waarmee jy die grond besaai, en broodkoring wat die grond voortbring, en sal smaaklik en voedsaam wees; jou vee sal in dié dag wei op ‘n uitgestrekte weiveld” (Jesaja 30:23).

Prys God! Hierdie smagtende oorblyfsel sal ‘n heerlike oes hê in die dag van puin en rampspoed! Hulle sal nie vlug of wegkruip nie! Hulle het die geklank van die ramshoring gehoor en gereed gemaak. Hulle het hulleself verberg in Christus, die skeur van die rots.

Vir die laaste paar jaar, en nou in groter intensiteit, berei God ‘n volk voor wat Hy sal oproep in die dag van slagting! Hulle sal nie bewe wanneer alles geskud word deur God nie. Hulle sal daardie stille rus en krag hê; vertroue in Hom!

Hulle sal nie uitbrand nie! Hulle sal nie moedeloos of terneergedruk wees nie! Daar sal geen verwarring in hulle wees nie! Hulle sal weet God het hulle voorberei vir hierdie uur. Hulle sal uit goddelike strome water drink! “En op elke hoë berg en op elke verhewe heuwel sal strome wees, waterlope, op die dag van die groot slagting as die torings val” (Jesaja 30:25).

Glo jy dit? In die dag waarop God al die vestings omgooi waarop mense en die afvallige kerk vertrou het, wanneer die groot slagting van mensgesentreerde bedienings begin, sal hulle stil drink uit strome van bonatuurlike water!

Die beste van alles, hierdie gekneuse, maar vertrouende, smagtende heiliges, sal die grootste, helderste openbaring van Jesus Christus ontvang wat ooit aan die mensdom gegee is. “En in die lig van die maan sal wees soos die lig van die son, en die lig van die son sal sewevoudig wees, soos die lig van sewe dae, op die dag as die HERE die breuk van sy volk verbind en die wond gesonde maak wat aan hulle geslaan is” (Jesaja 30:26).

Elke oorblywende dag voor Christus se wederkoms – sal hierdie bekeerde, vertrouende, smagtende volk Hom aanskou met toenemde lig! Hierdie liggaam sal ‘n openbaring van Jesus Christus geniet wat sewe keer meer intens sal wees as vorige openbarings. Ons sal Hom ontmoet, as Sy bruid, geklee in helderheid.

As hierdie boodskap jou bang of bekommerd maak – beter jy jou hart ondersoek! Dit is nie ‘n boodskap van donkerheid of oordeel vir oorwinnaars nie. Diegene wat die Here ten volle vertroue sal juig – want ons dag van verlossing kom nader!

Ek is een van die mees opgewonde predikers in die wêreld! Ek kan skaars my blydskap inhou – omdat God op die punt is om alles wat van die wêreld en die vlees is, om te gooi en uitmekaar te skud!  Heiliges – juig saam met my!