Deurbreek

David Wilkerson

Die profeet Miga het ‘n boodskap vir ons dag gelewer wat beide skrikwekkend, maar ook baie hoopvol is. Die belangrikheid van sy boodskap kan gevind word in hierdie woorde: “Hoor tog wat die HERE sê” (Miga 6:1). Miga praat uit die hart van God met mense van alle ouderdomme – met die afvallige Jode van sy tyd, met die oorblyfsel van die laaste dae, en veral met die herders in ons tyd. Hou in gedagte die boodskap van Miga is die las van die Here en Sy beskouing van die kerk en van Sy herders.

I. God het ‘n twis met sy volk! (Miga 6:2,3).

“Hoor, berge, die twis van die HERE! En onwankelbare, grondslae van die aarde! Want die HERE het ‘n twis met sy volk en sal met Israel ‘n regsgeding hou. My volk, wat het Ek jou aangedoen, en waarmee het Ek jou vermoei? Antwoord My.”

Die Here gaan verder deur die berge en heuwels as sy ewige getuies te roep tot Sy getrouheid aan Sy kinders. Hy praat van hoe Hy hulle uit slawerny verlos het; hoe Hy niks van hulle gevra het nie, behalwe om nederig met hulle Here te wandel en te doen wat reg is en om goedertierenheid lief te hê.

Maar die stem van die Here het na Sy volk geroep, “Waar is My vrees nou? Die huis het boos geword; My volk word verneuk! Daar is misleiding – daar is leuens in My huis!”

Toe het die Here die verskriklike oordele beskryf wat op ‘n afvallige volk neergekom het. “Ek sal jou siek maak en neerslaan! Jou sondes sal verwoesting in jou midde veroorsaak! Daar sal geen ware versadiging wees nie, jou geestelike behoeftes sal nie aangespreek word nie! Jy sal van een plek na ‘n ander gaan en werklikheid en sekuriteit soek, maar sal dit nie in besit kan neem nie! Jy sal jou onderskeiding verloor. Dit waarmee jy op die ou end sal sit, met die gedagte dat dit uiteindelik die ware ding is, sal Ek vernietig deur iemand met die ware swaard van die Here stuur” (Miga 6:13,14 parafrase).

Miga was ‘n ware profeet wat die kerk deur God se oë gesien het en dit het veroorsaak dat sy siel geween en getreur het! Hy was nie in staat om die toestand in die huis van God goed te praat nie! Hy het nou in die Gees gesien wat God gesien het – die diepe, afskuwelike sondes van die volk, van herders en leiers. Hy het afgodery gesien! ‘n Hoerkerk wat ‘n hoer se loon gemaak het! “Daaroor wil ek rouklaag en huil, kaalvoet en naak loop. Ek wil klae soos die jakkalse en treur soos die volstruise. Waarlik, haar wonde is ongeneeslik; want dit het gekom tot by Juda, dit reik tot aan die poort van my volk, tot by Jerusalem” (Miga 1:8,9).

‘n Gees van rebellie en goddeloosheid het die poorte bereik – en nou het God se volk, eens heilig, ‘n ongeneeslike siekte! Luister na Miga se klagte: “Omdat onheil neerdaal van die HERE na die poort van Jerusalem...dat die oortredinge van Israel in jou gevind is” (Miga 1:12,13).

II. Wat is die siekte onder God se volk wat ongeneeslik geword het?

Wat het die heilige volk besiel om hulle in so ‘n groot twis met ‘n heilige God te bring?

Wat Miga in die Gees gesien het, is so afskuwelik in God se oë, dat Hy gedwing was om uit te roep, “Daarom...Ek bedink onheil teen hierdie geslag, waar julle jul nekke nie sal kan uittrek nie, en waarby julle nie regop sal kan loop nie; want dit sal ’n tyd van onheil wees” (Miga 2:3). Miga het ‘n ongeneeslike siekte onder God se volk gesien en ‘n onafwendbare oordeel. Kyk na wat God rebellie noem! Hier is die oorsaak van God se twis met hulle:

1.’n Nuwe plan van gierigheid! ‘n Plan beraam deur huursoldaat dienaars van God, wat te doen het met geld, eiendomme en sukses.

2.’n Beklemtoning van self [die mag van die hand]. “Wee die wat onreg uitdink en kwaad smee...want dit is in die mag van hulle hand. Ja, hulle begeer velde en roof dit...huise...erfdeel” (Miga 2:1,2).

3.Verwerping van die profeet se waarskuwings! Die vertel vir die volk dat oordeelsprediking nie van God af is nie, dat dit teenstrydig is met Sy karakter! “Moet nie profeteer nie...Sou die HERE dan ongeduldig wees? Of is dit sy dade? Is my woorde nie vriendelik teenoor hom wat as opregte wandel nie?” (Miga 2:6,7).

Die valse profete en rowende herders het vir Miga gesê om stil te bly! “Moenie so baie oordeel verkondig nie! Hou op met die onheilswaarskuwings! Ons is God se volk; Hy het ons lief – daar sal geen oordeel oor ons kom nie.” Die letterlike interpretasie beteken, “Hou op! Hou op met hierdie boodskap van oordeel teenoor God se volk! Hou op bestraf! Hou op om goeie mense te verwyt! Hou op met al die waarskuwing oor ongeluk, en hou op om die kerk te veroordeel!” “Dit is nie van God af nie,” sê hulle.

Maar luister na Miga se antwoord! “As ’n mens hieroor nie mag profeteer nie, sal die beskimping nie ophou nie!” (Miga 2:6). “Is my woorde nie vriendelik teenoor hom wat as opregte wandel nie?” (Miga 2:7). “Maar reeds vroeër het my volk vyandig opgetree” (Miga 2:8).

Miga het ‘n veragtelike ding onder die herders gesien – ‘n sonde wat dieselfde rowende herders, vyande van God gemaak het! Hy het gesien hoe hebsugtige herders die mantels van geregtigheid van die onskuldige kinders van God se rûe af gesteel het. Hy het gesien hoe diegene wat rus van hulle stryd wou hê, mislei en gestroop was deur valse leerstellings van hebsug. “Julle pluk die mantel af, weg van die kleed van die wat in gerustheid verbygaan, wat afkerig is van oorlog” (Miga 2:8).

Hoe moes die hart van God getreur het oor die onskuldige, niksvermoedende, honger mense wat in die strikke ingeloop het van wêreldsgesinde, ambisieuse predikers van hebsug. Ek was al by seminare en konvensies en het met afsku gekyk hoe jong, onvolwasse Christene beroof word deur geldmal herders! Hulle was gesê hulle sou die geheime van gesondheid, rykdom en voorspoed kry vir minder as $100 – deur bloot sy bandopnames te koop. Om met God te lewe, was gereduseer tot formules.

Ek het die meeste gely vir al die moeders en die kinders! So ook Miga! Hy het gewaarsku: “Die vroue van my volk verdryf julle uit die huis wat hulle liefhet; van hulle kinders neem julle my sieraad weg in ewigheid” (Miga 2:9).

Die heerlikheid van die Here, die lieflike huis – dit is die heiligheid en geregtigheid van God! Hierdie onbedagsame herders preek nie teen sonde nie, hulle verkondig niks anders as vrede en veiligheid nie – hulle bespot die oordeelswaarskuwings van God, en weens hulle lighartigheid, hulle hebsugtige leerstellinge – neem hulle die ontsagwekkende heiligheid van God van die moeders en die jeug af weg! Hulle is die herders wat meer mense uit die koninkryk uit hou as wat al die demoniese magte ooit kon doen.

God help die prediker van die evangelie wat so ingestel is op sy eie gierige drome, dat hy sy Swaard neerlê en ‘n vleier of ‘n intimideerder word. Kerke is gebou op die geestelike geraamtes van onskuldige vroue en jeug! Daar kom eerder drome en planne van die kansel af as ‘n oproep tot heiligheid en afsondering. Watter gruwelike intimidering is daar vandag in die huis van die Here, deur herders wat hulle drome afdwing.

Ek het gesien hoe ‘n jongman wit word van verdriet en woede toe hy in ‘n byeenkoms gesit het waar waarheid en geregtigheid verkondig was. Hy het vir my gesê, “Waarom het ek dit nie vantevore gehoor nie? Ek gaan na ‘n Bybelskool wat niks anders leer as om voorspoedig en suksesvol te wees nie. Ek word mislei! Ek is kwaad!”

III. Miga het gewaarsku dat Sion soos ‘n land omgeploeg sou word en soos ‘n puinhoop sou word – omdat profete die mense mislei.

“So sê die HERE aangaande die profete wat my volk verlei...Daarom sal Sion om julle ontwil soos ’n land omgeploeg en Jerusalem puinhope word” (Miga 3:5,12).

Daar is iets baie bekend aan die huursoldaat profete waaroor hy gepraat het! Hulle is oral rondom ons vandag – die kerk is reeds tot oorlopens toe vol van hulle! Miga het van hulle gesê, GEE VIR HULLE JOU GELD. DOEN WAT HULLE VIR JOU SÊ OM TE DOEN – EN HULLE SAL VIR ‘N MOOI BOODSKAP GEE! Hulle sal jou seën! Vir jou goeie dinge profeteer! “Wat as hulle maar iets het om met hulle tande te byt, vrede verkondig” (Miga 3:5).

Maar moenie vir hulle planne val nie, moenie hulle items koop nie, moenie hulle help nie – en hulle sal jou net vervloek! “Maar teen hom wat niks in hulle mond steek nie, verklaar hulle ’n heilige oorlog!” (Miga 3:5).

Een Charismatiese fondsinsamelaar het gedreig met kanker vir almal wat geweier het om ‘n groot offerhande te gee. Herders, evangeliste – luister na hulle gebulder teen die mense, dreigemente en mooipraat! “Gee vir my, gee vir my saak – en God sal jou seën, jou genees, jou alles gee wat jy begeer. As jy nie gee nie, as jy nie vir my opoffer nie, sal alles rondom jou verkrummel! God sal die vensters van die hemel vir jou toemaak! Jy sal verantwoordelik wees dat ek moes sluit.” Watter oorlogagtige dreigemente!

Hulle steek hulle leerstellings van hebsug weg deur te sê, “Die Here is met my!” “Sy priesters gee onderrig vir loon, en sy profete is waarsêers vir geld. Nogtans steun hulle op die HERE en sê: Is die HERE nie in ons midde nie? Geen onheil sal ons wedervaar nie” (Miga 3:11).

Die Here was nie in hulle midde nie – maar hulle het dit nie onderskei nie. God het verklaar Hy neem alle onderskeiding van goddelikheid weg; Hy neem alle kennis van Sy teenwoordigheid weg, soos ‘n oordeel teen selfgesentreerdheid en hebsugtige praktyke en leerstellinge. “Daarom sal dit nag word vir julle, sonder ’n gesig, en duister vir julle, sonder waarsêery; ja, die son sal oor die profete ondergaan, en die dag oor hulle verduister word. En die sieners sal beskaamd staan, en die waarsêers [die wat sê, Die Here het my gesê] sal bloos...omdat daar geen antwoord van God kom nie” (Miga 3:6,7).

Miga maak dit baie duidelik dat onder hulle het onderskeiding verdwyn; daar is nou geen ware woord van die Here nie; en leerstellinge van die duisternis word verkondig – omdat die Woord verdraai is! “Julle wat...al wat reg is, verdraai” (Miga 3:9).

Daar is baie van “So sê die Here!” Baie van “God het vir my gesê!” Baie praat oor nuwe openbaring! Baie van grootpratery, “God is waarlik met ons!” Baie op getalle, groei en groot sukses leun – as bewys dat die Here met hulle is, maar die profete noem dit DUISTERNIS – ‘N VERLEENTHEID VIR GOD – SKANDE!

Hierdie herders het bloed op hulle hande! Hulle is skuldig in God se oë aan ‘n gewelddadige soort onreg! “Julle wat Sion bou met bloed en Jerusalem met onreg!” (Miga 3:10). Dit beteken dat ‘n herder bloed op sy hande het as sy leerstelling of lewe iemand weghou van die volheid van Christus. Dit is gewelddadige onreg vir herders om met begeertes en sonde wat aan hulle klou te bedien, want niks verdoem ‘n siel sekerder as ‘n onheilige bediening nie! Die bou van groot kerke, aanvaarding van publieke bedienings, sonder die salwing! Sonder die verterende vuur van God daarop! Sonder Heilige Gees oortuiging! Met ‘n evangelie van vrede en veiligheid! Deur die raad van wederstrewigheid – die kwaad vlei, en kwaad goed noem!

Wat kan ‘n groter gewelddadige onreg wees vir ‘n herder van die Here as om siele gerus te stel en vrede te gee op die randjie van oordeel en hulle almal te verdoem tot ‘n ewige hel deur die waarheid terug te hou? Hoeveel herders sal voor Christus se geregshof staan met die bloed van verblinde gelowiges op hulle hande? Hulle self sal nie in die heiligheid en volheid van Christus ingaan nie; en hulle verhinder ook die skape om in te gaan. Dit is nie die harde gebabbel van ‘n oordeelsdag profeet nie, dit is die woorde van die Here – Sy beskouing van toestande onder Sy volk!

Ons het leusepraters geword. Bybelse leuse soos HERNUWING, HERSTEL, HERBOU heers. Ek hoor hedendaagse profete sê, “Die kerk was nog nooit meer lewendig nie – daar was nog nooit meer lofsange nie – nog nooit soveel byeenkomste nie.” Maar die Here sê, “Staan op en gaan heen! Want nie hiér is die rusplek nie” (Miga 2:10).

Die oorspronlike Hebreeus lees: “O my heerlikheid! Staan op en gaan weg vir ewig! Want dit sal nie jou rusplek wees nie: weens sy besoedeling, is dit bestem tot droewige weeklag.” Dit is nie die ware Sion nie! Gaan van hierdie besoedelde ding af weg! Maar wat van al die gedans, die lofsang, die gelukkige menigtes wat hande klap en so hard sing? Wat van die groot en manjifieke geboue, die superkerke (wat almal aanspraak maak op die vinnigste groei in die land)? Wat van al die seminare, konvensies, plegtige byeenkomste?

Luister na die profesie van Miga: “As iemand wind nawandel en bedrieglik lieg en sê: Ek sal vir jou profeteer by wyn en sterk drank — dan sou hy vir hierdie volk ’n profeet wees!” (Miga 2:11)

Hierdie volk wil FLIKFLOOIER PROFETE hê, wat flikflooi vir hulle eie sensuele begeertes. Wyn en sterk drank in Miga se tyd het TYDELIKE SEËNINGE en MATERIËLE VOORSPOED verteenwoordig! Hulle het die seëninge van Deuteronómium 28:11 verkondig: “En die HERE sal die goeie aan jou oorvloedig gee.” Maar hulle weier om die res van Deuteronómium 28 te verkondig: “As as jy nie luister na die stem van die HERE jou God, om sorgvuldig te hou al sy gebooie...dan sal al hierdie vloeke oor jou kom en jou inhaal...Die HERE sal jou slaan met kranksinnigheid en blindheid en sinsverwarring” (Deuteronómium 28:15,28).

Jeremia het gesê, “En die profete sal wind word; ja, die Woord is nie by hulle nie” (Jeremia 5:13). Jeremia kon die leuengees van hierdie profete nie peil nie. “Toe sê ek: Ag, Here HERE, kyk, die profete sê vir hulle: Julle sal geen swaard sien en geen hongersnood hê nie; maar Ek sal julle ’n duursame vrede gee in hierdie plek. En die HERE het vir my gesê: Die profete profeteer vals in my Naam; Ek het hulle nie gestuur en hulle geen bevel gegee en met hulle nie gespreek nie; hulle profeteer vir julle ’n leuengesig en nietige waarsêery en bedrieëry van hulle hart” (Jeremia 14:13,14).

Weer, sê die profeet Jeremia, “die profete profeteer vals, en aan hulle sy oefen die priesters mag uit, en my volk wil dit graag so hê. Maar wat sal julle doen aan die einde daarvan?” (Jeremia 5:31).

Dit is nie die ware woord van die Here wat in die land gehoor word vandag nie! Slegs ‘n paar verkondig waarheid en bekering. Dit is ‘n ligsinnige, lighartige, sensuele, wellustige evangelie. Die gedans is nie daardie spontane reaksie van ‘n bekeerde hart op die ware beweging van die Heilige Gees nie – dit is die gekoreografeerde dans van self en trots. Jy kan nie leer om in die Gees te dans nie – en wat ek vandag sien, fokus op die vlees. Dit is die ark op ‘n NUWE WA! Dit sal nie by Sion uitkom nie!

Ek kyk rond vandag en ek hoor die Gees vir my sê, “Hierdie is nie dit nie! Dit is nie jou rus nie! Dit alles is op pad na verwoesting! Dit is vermaak! Dit is applous! Dit is gefokus op self, trots, ambisie, materialisme! God het reeds van dit alles af weggeloop.”

IV. ’n Heilige oorblyfsel gaan deurbreek uit hierdie afvalligheid!

Miga bring een van die mees glorieryke van alle Ou Testament profesieë onder ons aandag. Hy profeteer van ‘n volk wat die Here na nuwe weivelde sou volg. “Gewis sal Ek jou geheel en al versamel, o Jakob! Gewis sal Ek vergader die oorblyfsel van Israel; almal bymekaarbring soos skape in ’n kraal, soos ’n kudde in sy weiveld; en dit sal dreun van mense. Die deurbreker sal optrek voor hulle uit: hulle sal deurbreek en deur die poort intrek en daardeur uittrek; en hulle koning sal voor hulle uit gaan, en die HERE heeltemal vooraan” (Miga 2:12,13).

Miga het ‘n volk van God gesien wat vrygelaat is, ‘n volk wie se harte as een geklop het, ‘n volk so deur die Gees gelei, dat hulle die uitgeworpenes deur die afvallige kerk genoem sou word. “In dié dag, spreek die HERE, wil Ek versamel die wat kreupel is, en bymekaarmaak wat verdryf was, en die wat Ek kwaad aangedoen het. Dan sal Ek die wat kreupel was, tot ’n oorblyfsel maak en wat ver verwyder was, tot ’n magtige nasie. En die HERE sal koning wees oor hulle op die berg Sion, van nou af tot in ewigheid” (Miga 4:6,7).

Uit wie bestaan hierdie heilige oorblyfsel? Nie die trotses, die selfgesentreerde bedienings, die gepoleerde, toegejuigde sterre nie – NEE! Dit is ‘n beproefde volk; hulle was in die vure van beproewing; hulle sluit in die onbekendes, die uitgeworpenes van denominasies, diegene wat verlam beskou word in vergelyking met die hoë en magtige gevestigde kerk, en diegene wat hulle stemme verhef teen verdorwenheid in God se huis.

God sê, “Ek sal hulle saamsit!” Alle menslike pogings om God se dienaars te probeer bymekaar uitbring, is tevergeefs. God moet dit doen – en die een ding wat hierdie oorblyfsel saambring, hulle eensgesind maak, is ‘n bekeerde hart in eenheid met Christus. Hulle word na een kraal aangetrek – ‘n kraal uit die hoerkerk geroep! Die Septuagint sê, “Hulle sal uitspring vanuit mense.”

Jerome beskryf hierdie soort mense as “daardie kinders van God wat bekeerd is en wat bokant wêreldse dinge uitstyg en streef na die hemel.” Dit is ‘n hemelsgesinde volk, moeg vir lighartigheid en kompromie. ‘n Volk wat smag na heiligheid in God se huis. Ek sê vir jou daar is nou reeds ‘n heilige oorblyfsel wat uit hulle voortkom. Elke man en vrou van God wie se hart gebroke is oor die sonde en verdorwenheid in God se huis kan hierdie sprong van die Gees ervaar! Daar is ‘n uitkoms, ‘n deurbraak net voor ons!

“Die Deurbreker gaan voor hulle uit.”

Die “DEURBREKER” was ‘n titel goed bekend aan die Jode. Dit was een van hulle titels vir die Messias! Dr. Driver het gesê, “Die Deurbreker gaan voor hulle uit, breek deur die poorte van die gevangenis waarin die mense vasgevang is: hulle volg, marsjeer triomfantlik vorentoe deur hierdie oop pad; hulle koning met Jehova aan sy sy, lei die seëvierende optog. Hulle het deurgebreek; hulle het deur die poorte gegaan.”

Daardie triomfantlike deurbraak was die opstanding van Jesus Christus ons Here! Daar, het Hy die gevangenes gevange geneem vir Homsef. Van daardie dag van tot vandag, het Hy ‘n heilige oorblyfsel gehad.

Hoe arrogant het ons geword! Ons het tot die slotsom gekom dat die enigste dag van herstel in ons tyd is! Dat die oorblyfsel slegs in hierdie laaste dae bestaan! NEE! Petrus het op Pinksterdag gestaan en verkondig, “Dit is die laaste dae – dit is dit wat deur Joël belowe is in die laaste dae.” Ons is al in die laaste dae vir amper 2,000 jaar.

Die Here het ‘n herstelde, heilige oorblyfsel gehad, selfs gedurende die donker eeue. Die Waldenses, daardie heilige stam wat die lig van die evangelie brandend gehou het vir jare toe die kerk verdorwe en wreed was! Die Morawiërs, die Broeders – gedurende elke tyd van afvalligheid, het die Here ‘n heilige volk gehad wat deurgebreek het! ‘n Volk wat hulle Here gevolg het tot in die nuwe koninkryk van heiligheid en geloof!

Wat ons vandag sien, is die sluitsteen op die oorblyfsel! Die laaste oorblyfsel! Ons het ons gevoel van geskiedenis verloor! Ons dink God bestaan slegs vir ons tyd, dat al die beloftes, alles wat God gemaak het – slegs vir ons is! Maar ons is nie ‘n volmaakte oorblyfsel sonder al diegene wat voor ons deurgebreek het nie. Hulle is ook nog nie volmaak nie, want hulle wag totdat die huis klaar is. “Sodat hulle nie sonder ons volmaak sou word nie” (Hebreërs 11:40).

“Hulle breek deur; hulle gaan deur die poort, en gaan uit...”

Is jy gewillig om deur te breek, deur hierdie afvalligheid te gaan, daaruit te gaan en saam met Hom tot “buitekant die poort” te gaan? Wat as die Heilige Gees vir jou vra om deur jou denominasionele stelstel te breek? Is jy gereed om deur te breek en die Lam te volg waar Hy ook al lei? “Daarom het Jesus ook, om die volk deur sy eie bloed te heilig, buitekant die poort gely. Laat ons dan uitgaan na Hom toe buitekant die laer en sy smaad dra. Want ons het hier geen blywende stad nie, maar ons soek die toekomstige” (Hebreërs 13:12-14).

Soek jy na ‘n aardse koninkryk, ‘n aardse Sion – of ‘n hemelse koninkryk? “Maar julle het gekom by die berg Sion en die stad van die lewende God, die hemelse Jerusalem en tienduisende engele, by die feestelike vergadering en die gemeente van eersgeborenes wat in die hemele opgeskrywe is, en by God, die Regter van almal, en by die geeste van die volmaakte regverdiges, en by Jesus, die Middelaar van die nuwe testament, en die bloed van die besprenkeling wat van beter dinge spreek as Abel” (Hebreërs 12:22-24). “Daarom, omdat ons ’n onwankelbare koninkryk ontvang, laat ons dankbaar wees, en so God welbehaaglik dien met eerbied en vrees. Want onse God is ’n verterende vuur” (Hebreërs 12:28-29).

Hy skud reeds alles wat geskud kan word. Die waarskuwings van Jesaja is voor ons deur. God verlaat die afvallige, hoerkerk; en Hy sal dit in sy vervalle toetstand los. “Nou dan, inwoners van Jerusalem en manne van Juda, oordeel tog tussen My en my wingerd. Wat is daar meer te doen aan my wingerd wat Ek daar nie aan gedoen het nie? Waarom het Ek verwag dat dit druiwe sou dra, en dit het wilde druiwe voortgebring? Laat My julle dan nou te kenne gee wat Ek met my wingerd gaan doen: Ek sal sy doringheining wegneem, sodat dit verwoes word; Ek sal sy muur stukkend breek, sodat dit vertrap word. En Ek sal dit ’n wildernis maak: dit sal nie gesnoei of omgespit word nie, maar opskiet met dorings en distels; en Ek sal die wolke gebied om nie daarop te reën nie” (Jesaja 5:3-6).

Ek glo wat God vir Miga gesê het, waar is. Die aardse Sion, die hoerding, sal puin wees, geploeg soos ‘n land – dit sal ‘n puinhoop word. Dan sal die hemelse Sion buite die laer uitrys! Sion is ‘n volk, ‘n bloedgewaste, geheiligde, afgesonderde volk. ‘n Volk wat sug en huil oor die gruwels van die land. God noem hierdie volk DIE NUWE JERUSALEM – DIE JERUSALEM VAN BO. Dit is uit hierdie Heilige Jerusalem, ‘n heilige afgesonderde volk, van wie Woord sal uitgaan. “En aan die einde van die dae sal die berg van die huis van die HERE vasstaan op die top van die berge en verhewe wees bo die heuwels, en die volke sal daarheen toestroom. En baie nasies sal heengaan en sê: Kom, laat ons optrek na die berg van die HERE en na die huis van die God van Jakob, dat Hy ons in sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel. Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van die HERE uit Jerusalem” (Miga 4:1,2).

Voel jy die kraampyne van heilige Sion? Die “Deurbreker” het na Babel gekom om Sy volk uit te lei. “Krimp inmekaar en bring voort, o dogter van Sion, soos een wat baar! Want nou sal jy die stad verlaat en op die veld gaan woon; en jy sal in Babel aankom — dáár sal jy gered word, dáár sal die HERE jou verlos uit die hand van jou vyande” (Miga 4:10).

“Nou sal jy die stad verlaat – jy sal in Babel gered word.”

Laastens, ons moet deurbreek uit die hoerstelstels uit, slegs om die Lam te volg waar Hy ook al lei. Ons moenie ons in iemand anders se laer gaan vestig nie. Geen ander leerstellige laer vir hierdie verloste volk nie, omdat hulle die UITBREKER na Sy bruidskamer volg. Geen toewyding aan een of ander ster prediker of evangelis vir hierdie afgesonderde volk nie, want hulle het slegs oë vir hulle Here. Hulle is in hierdie wêreld, maar nie langer deel daarvan nie.